Mark 1 : 1-8 : As Israel sy Koning wil ontmoet, moet hy sy geskiedenis oordoen!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-12-16
Teks: 
Matthéüs 3 : 1-12; Lukas3 : 1-9
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Mattheus
3:1-3; lees Mattheus 3:1-12, Markus 1:1-8, Lukas 3:1-9

 

Geliefde gemeente,

Veronderstel hier kom ‘n predikant op die preekstoel wat op
‘n baie subtiele maar tog onmiskenbare manier vir jou kom vertel dat jy sekere
gedeeltes van jou lewensgeskiedenis moet oordoen. Jy moet as’t ware teruggaan
in die tyd en verskillende fases van jou lewe opnuut deurloop. Want daar is
sekere kritieke aspekte van jou lewe, waarvan jyself moontlik gedink het dat jy
dit reg en goed gedoen het, maar waarvan uiteindelik blyk dat dit tog nie so
goed was nie. Jy moet, byvoorbeeld, jou openbare geloofsbelydenis oordoen, want
dit was toe nie so eg en suiwer soos wat jy gedink het nie. Of jou huwelik moet
opnuut bevestig word, want jou ‘ja’ was toe nie so opreg soos wat almal gedink
het nie. Of dalk moet jy ‘n sekere tyd in jou lewe toe jy in sonde geleef het,
oordoen.  

Of veronderstel daardie selfde predikant kom vertel vir
ons as gemeente dat ons dele van ons kérklike geskiedenis moet oordoen. Want
die Vrymaking was toe nie so suiwer en heilig soos wat ons voorouers dit vir
ons ge-‘Schilder’ het nie. Of die stigting van die Vrye Gereformeerde Kerke in
Suid-Afrika was toe nie so ‘n besondere daad van gehoorsaamheid soos wat vir
ons voorgehou is nie. Of die samespreking met die Gereformeerde kerke is toe
nie so welbehaaglik voor die Here soos wat ons gedink het nie.

 

Hoe sou jy reageer wanneer so ‘n oproep aan jou gerig word? En hoe
sou óns reageer wanneer so ‘n oproep aan ons, as gemeente, gerig word? Wel, broers
en susters, dit is presies die oproep wat Johannes die Doper aan die volk Israel
gerig het. As Israel sy Koning wou ontmoet, dan moes hy teruggaan op sy historiese
voetspore; in voorbereiding op die koms van die Koninkryk van die hemel, moes Israel
sy geskiedenis oordoen. Skokkend vir ‘n volk wat homself juis in sy geskiedenis
beroem het, aardskuddend vir Israeliete wat trots daarop was dat hulle kinders
van Abraham genoem is. Maar volgens die Wegbereider van die Koning was daar
geen ander keuse nie.

Gemeente, in hierdie adventstyd kan ons ons wins doen met hierdie
boodskap. Kersfees is nie ‘n tyd van goeddoen, van medemenslikheid en van geskenkies
nie. Nee, tydens Kersfees word ons herinner aan die ontmoeting met ons groot
Koning, en word ons herinner aan wat moet gebeur om sy Koninkryk te kan
binnegaan. En daarom is die aanbidding van die wyse manne, wat die ster gevolg
het, méér gepas as die soetsappige Kers-nostalgie van ons dae. Wees daarom
voorbereid, en ontmoet so die Koning van jou lewe.

Tema: As Israel sy
Koning wil ontmoet, moet hy sy geskiedenis oordoen!

  1. Die woestyn
  2. Die Jordaan
  3. Die beloofde land

 

1. Johannes die Doper het tot die volk Israel gekom as ‘n woestynprofeet. Ons lees naamlik in
Lukas 1:80 dat hy in die woestyne gebly het tot op die dag van sy vertoning aan
Israel. Dus, vanaf jeugdige leeftyd alreeds bly Johannes in die woestyn, tot op
die dag van sy amptelike aanstelling deur die Here. En presies dáár – in die
woestyn – so leer Lukas ons verder in hoofstuk 3:2, het die woord van die Here dan
ook uiteindelik tot Johannes gekom. Maar in plaas daarvan om die woestyn
vervolgens te verlaat om die woord van die Here in die stede en dorpe te gaan
verkondig, bly Johannes net daar in die woestyn. Jerusalem en die hele Judea en
die hele omtrek van die Jordaan – so lees ons in Mattheus 3:5 – het uitgegaan
na hóm toe. Natuurlik moes Johannes wel na die Jordaan-rivier gaan om daar die volk
te doop, maar sy verblyf in die woestyn was so tiperend van sy optrede dat
Markus in hoofstuk 1:4 sommer kortweg kan sê dat Johannes “in die woestyn
gedoop het”. 

Nou, gemeente, hierdie woestyn-optrede van Johannes was uniek. Die
mense van daardie tyd het wel geweet van rebelle-leiers en sogenaamde profete
wat die volk saam met hulle die woestyn ingeneem het om daar een of ander
optrede voor te berei, maar dan was dit altyd ‘n tydelike verblyf. Maar hier is
‘n profeet wat in die wildernis wóón
– met klere en kos was pas by so ‘n woestyn-verblyf (Mt. 3:4, Mk. 1:6). Hier is
‘n profeet wat geen moeite doen om die mense in die stede te gaan opsoek of uit
hulle huise te gaan haal nie, maar wat hulle na hóm toe laat kom. Dit was iets
nuuts, iets wat die volk nie geken het nie. En daarom weet die volk en die
leiers ook nie hoe om Johannes te plaas nie. Eers wanneer ‘n ondersoekskommissie
uit Jerusalem, bestaande uit priesters en Leviete, ten einde laaste vir hom vra
wie hy is, eers dan gee Johannes ‘n verklaring vir sy verblyf in die woestyn:
“Ek is die stem van een wat roep in die woestyn: maak die pad van die Here reguit,
soos Jesaja, die profeet, gesê het” (Joh. 1:23).

 

Johannes verklaar dus sy woestyn-verblyf vanuit die profesie van
Jesaja. Jesaja 40, om presies te wees. Hierdie profesie is as’t ware Johannes
se paspoort om vir die volk te wys: dis wie ek is, en dis hoekom ek in die
woestyn bly. Ja, hy is die stem van een wat roep in die woestyn. Maar dan bly
die vraag: hoekom in die woestyn? Wel, gemeente, as ‘n mens Jesaja 40 nagaan,
dan sien jy dat die woestyn in daardie gedeelte ‘n beeld is van die haglike en verlate
toestand van die volk Israel, wat vanweë sy skuld uit die beloofde land weggevoer
word in ballingskap. Deur hierdie wegvoering beland die volk in feite weer
terug by die tyd vóór die intog in die beloofde land, dus die tyd van die
woestyn. En dit is nou presies hierdie gedeelte waarna Johannes teruggryp, want
dít is waarheen hy die volk van sy dae weer wil terugbring: in die woestyn.

Natuurlik is dit so dat, in die tyd tussen die ballingskap en die optrede
van Johannes die Doper, die Here sy volk weer na die beloofde land laat
terugkeer het, en die tempel weer laat herbou het. Dus, in die periode tussen
die ballingskap en Johannes die Doper was daar weer ‘n Joodse vestiging met ‘n
eie kultus in die beloofde land. Máár deur sy optrede in die woestyn, wys
Johannes dat die skuld daarmee nog nie betaal is nie, en dat die volk in feite
nog steeds die reg van verblyf in die beloofde land verbeur het. En juis dáárom moet die volk nou hulle huise en hulle
woonplekke verlaat en op simboliese wyse terugkeer na die verlatenheid van die
woestyn. Israel moet sy eiendomme en besittings en sy hele trotse geskiedenis prysgee;
alles wat hulle opgebou het, tot die tempel toe, moet hulle agterlaat en agter
die stem in die woestyn aangaan. Só moet die volk, arm en behoeftig, hulleself
tot God in die woestyn wend.

 

En die eerste woorde van die stem in die woestyn pas presies hierby:
“Bekeer julle” (Mt. 3:2). Dit is die houding wat Johannes van die volk eis! Bekeer
julle, keer terug na die tyd van afhanklikheid van die Here in die woestyn! Dit
moes ‘n skokkende boodskap vir die volk gewees het: bekering is nodig, ook vir
die Jode! Die Jode met hulle roemryke geskiedenis en hulle asemrowende tempel –
hulle het bekering nodig! So neem Johannes alle grond onder die voete van die
volk weg. Hulle kan nie meer vertrou op wat hulle opgebou het nie. Hulle kan
selfs nie meer vertrou op hulle afkoms van Abraham nie (Mt. 3:9), want God kan
uit die klippe kinders vir Abraham verwek! So skud Johannes die volk tot op sy
diepste fondamente. ‘n Aardbewing vanuit die woestyn ontneem alle gelowiges in
Israel hulle selfvertroue. Daar is niks meer waarop hulle kan staatmaak nie. En
op dié manier word hulle voorberei op die koms van die Koning!

Gemeente, is dit nodig om die relevansie hiervan vir ons vandag te
verduidelik? Want ook ons moet voorberei word op die ontmoeting met die Koning,
ook ons fondamente moet geskud word. Ook ons moet leer dat ons die Koning nie
vanuit ons selfopgeboude koninkryke kan ontmoet nie. Ons ontmoet die Koning nie
vanuit die veiligheid van ons eie kerklike geskiedenis en tradisie nie. Ons
ontmoet die Koning nie vanuit ons gemaksone nie. Want al hierdie dinge skep ‘n
verkeerde beeld van ons egte toestand. Hierdie dinge skep die indruk asof ons
deur die loop van die tyd iets moois opgebou het, asof ons iemand besonders is.
Maar die Wegbereider leer ons iets anders: terug na die woestyn! Terug na wie
julle werklik is! Want niemand kan die Koning ontmoet in selfgenoegsaamheid en
tevredenheid nie; niemand kan Kersfees tegemoet gaan met ‘n gees van
selfvoldaanheid nie. Arm en hulpbehoewend, dít is hoe die Here ons wil ontmoet.
Nee, gemeente, ons hoef vandag nie fisies terug na die woestyn te gaan nie,
maar van ons word wel gevra om te luister na die stem wat roep in die woestyn. En
sy roepstem moet ons houding bepaal. En dit is nie in die eerste plek ‘n
houding van: “Kom alle getroues, vrolik en vol vreugde” nie. Nee, dit is heel
eerste ‘n houding van “Ek, ellendige mens! Sonder my Koning is die woestyn die
werklikheid van my lewe.”

Maar ons moet nog verder
gaan, en daarom let ons nou in die tweede plek op die Jordaan.

 

2. Die volk het inderdaad, in antwoord op Johannes se roep, hulleself
op grootskaal bekeer en belydenis van skuld gedoen. Nou, hierdie bekering het
gepaardgegaan met ‘n doop-handeling, met ‘n onderdompeling in die Jordaan. Baie
is al oor hierdie doop-ritueel gesê en geskryf. Baie het al probeer om Johannes
se doop terug te voer tot bestaande doop-praktyke uit daardie tyd. Maar uit die
bynaam – “die Doper” – wat al sommer gou aan Johannes gegee is, kan ons aflei dat
sy doop-ritueel iets nuuts was. So ‘n bynaam sou hy sekerlik nie gekry het as
hy eenvoudig gedoen het wat elders ook gebruiklik was nie. Johannes se doop was
dus uniek. Maar wat het dit dan so besonders gemaak?

Wel, broers en susters, as ons ‘n goeie beeld wil kry van Johannes
se doop-handeling, dan moet ons aandag gee aan die plék waar hy gedoop het. Johannes doop immers nie maar net met water
nie; nee, hy dompel onder in die Jordaan.
Waar die christelike doop ‘n doop in die naam van ‘n persoon (Jesus Christus)
is, is die onderdompeling van Johannes ‘n onderdompeling in ‘n spesiale rivier.
Die mense is nie ondergedompel in die naam van Johannes nie, maar hulle is
ondergedompel in die Jordaan (Mt. 3:6, Mk. 1:5). Nou sal die kinders sekerlik
kan onthou wat so belangrik was aan die Jordaan-rivier… Dit is reg, die Jordaan
is die rivier van die intog, waardeur God destyds sy volk met droë voete
heengelei het om hulle in die beloofde land te laat woon. En nou kom Johannes
die Doper, en hy dwing die volk nie net om die beloofde land agter te laat deur
terug te keer na die woestyn nie, maar hy laat hulle vervolgens ook nog ondergaan
in hierdie grensrivier. Waar hulle eeue gelede dróógvoets deur die Jordaan-rivier
die land binnegetrek het, word hulle hierdie keer nie gespaar nie: hulle moet
ondergaan in die waters van die Jordaan-rivier.

 

Immers, die onderdompeling (baptizein
is die Griekse woord wat hier gebruik word) dui op ‘n handeling waarby iets
heeltemal onder die water gedruk word en nie weer daaruit opgetrek word nie.
Dit gaan hier dus oor ‘n verdrinking; die volk word in die Jordaan-rivier
verdrink! En ook al bly dit net by ‘n simboliese verdrinking, tog spreek
hierdie ritueel die dodelike taal van ‘n ondergang in die rivier. Abraham se
kinders moet sterf op die grens van die beloofde land; hulle is soos burgers
wat hulle paspoorte moet ingee en op die grens doodgeskiet word! En daardeur
word hulle soos asielsoekers in hulle eie land, vreemdelinge wat amnestie soek
by die komende Koning.

Ja, soos wat die volk eenmaal droogvoets deur die Jordaan gelei is,
so word die volk nou simbolies verdrink in dieselfde water. En so wil Johannes
die volk – wat eers alles agtergelaat het, en wat met hierdie ‘verdrinking’ die
lewe self verloor het – so wil hy hulle gereed maak vir die amnestie wat daar
te vinde is in die koninkryk van die hemele. En juis daarom word Johannes se
doop ook die ‘doop tot vergewing van sondes’ genoem (Mk. 1:4, Luk. 3:3). Nie
omdat die doop in die Jordaan-rivier sélf een of ander reinigende werking het
nie, maar omdat die volk deur hierdie doop voorberei word op die amnestie vir
skuldiges wat oppad is. Die komende Koning sal almal wat voorbereid is, doop
met die Heilige Gees. So louter en heilig Hy sondaars!

 

Gemeente, om die nuwe lewe van die Koning te kan ontvang, moet ons
sterf aan die ou lewe. Om die beloofde land te kan ingaan, moet ons in die
Jordaan-rivier sterf. Of ander gestel: om die Koninkryk van die hemele te kan
binnegaan, moet ons eers doodgaan! Nadat ons alreeds alles afgelê het – alles
wat sekerheid gee, soos wat ons in die eerste punt gesien het – moet ons nou ook
nog die lewe self aflê. Ons moet sterf! Klink dit dalk vreemd? Is dit ‘n harde
Kers-boodskap? Wel, sê Paulus in Romeine 6, weet julle dan nie dat ons almal
wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Doop is doodgaan! En
dan vervolg Paulus: “ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood,
sodat net soos Christus uit die dode opgewek is…  ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.” As
ons die Koning van Kersfees wil volg op die weg van die nuwe lewe, dan moet ons
onsself daarop voorberei. En hierdie voorbereiding beteken dat ons aan onsself
moet sterf. Soos wat Paulus elders in sy briewe sê: Ons moet die ou mens met sy
werke aflê, ons moet doodmaak die lede wat op die aarde is, en ons moet onsself
beklee met die nuwe mens. Dit is die Jordaan waarin ons moet ondergaan, dit is
die dood wat ons moet sterwe as ons weergebore wil word. Ek weet, dit is nie
die soort Kersboodskappe waarvan ons hou nie, maar Johannes die Doper het die
volk ook nie kom voorberei met soetsappige boodskappe nie. ‘n Dodelike soort
voorbereiding was nodig om die volk gereed te kry vir die komende Koning en sy
Koninkryk.

En dit is waarop ons ten
slotte let: die beloofde land.

 

3. Die bekering en boetedoening van die volk het alles te make met die
feit dat die koninkryk van die hemele naby gekom het. Dit is wat Johannes sê in
Mattheus 3:2: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.”
Dus, Israel word ná hulle doop nie maar net oor die grens, terug na Palestina,
gestuur nie. Hulle gaan nie maar terug na die ou bekende – na hulle eie huise
en tempel nie. Nee, Israel se aandag word gevestig op ‘n nuwe werklikheid – die
koninkryk van die hemel. Dít is waarop Johannes hulle voorberei het! Deur hulle
simboliese terugkeer na die woestyn en sterwe in die Jordaan, is Israel gereed om
die ‘nuwe’ beloofde land binne te gaan – die hemelse koninkryk! Johannes het
Israel nie voorberei vir die oue nie, maar vir die nuwe! Die nuwe Koninkryk! En
daardie nuwe ryk kom na hulle toe in die Persoon van die Koning, Jesus
Christus. Gelowige Israeliete mag die ‘nuwe’ beloofde land binnegaan deur
geloof in Hom, deur Hom te volg! Ja, hulle is deur Johannes voorberei op sy
koms, nou mag hulle Hom ook ontmoet – die Koning van Israel!

Maar, let wel, Hy is ook: ‘n Koning op sandale… Johannes verkondig
immers van hierdie Koning dat hy nie waardig is om sy skoenrien los te maak nie
(Mk. 1:7). En presies daar het skoen gewring: want die volk het Jesaja 40
geken; hulle het geweet van die stem in die woestyn wat die weg voorberei vir die
heerlikheid van die HERE – Jahwe! – wat geopenbaar sal word. Maar Jahwe op
sandale?! Gemeente, hier word vir die eerste keer die sluier gelig oor die
menswording van die HERE, die vleeswording van die Seun. Die Koning van Israel
is God en mens in een Persoon. En dít was vir baie in Israel ‘n struikelblok.

 

En tóg, as hulle die koninkryk van die hemele wou ingaan, as hulle
die ‘nuwe’ beloofde land wou beërwe, dan het dáár die keuse geval. Elkeen wat sou
glo in die Koning-op-sandale, sou deur Hom gedoop word met die Heilige Gees om
goeie vrugte vir die Koninkryk te kan dra; elkeen wat in Hom sou glo, sou Hy
soos koring in sy skuur saambring. Maar wee elkeen wat nie wou glo nie – want
sy skop is in sy hand, Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak, en die kaf
sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand (Mt. 3:12). Die byl lê al teen die
wortel van die bome – elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en
in die vuur gegooi (Luk. 3:9). Dit is die teenstelling. Jy kon as getroue Jood in
Palestina bly woon, daardie stuk grond wat maar net ‘n heenwysing was na ‘n
beter vaderland, die stuk grond waaroor daar tot vandag toe nog bloed vergiet
word. En jy kan jou lewe gee vir daardie stuk grond. Maar sonder geloof in
Jesus Christus sal jy die Koninkryk misloop.

Dit is waar vandag ook vir óns die keuse val, broers en susters. Aan
ons word ‘n basishouding voorgehou – arm en hulpbehoewend in die woestyn,
sterwend in die water van die doop. En só mag ons ons Koning tegemoet gaan. Maar
wanneer jy hierdie Koning, in teenstelling tot jou verwagting, teëkom in die
krip in Betlehem – God wat mens geword het – buig dan in geloof voor Hom neer.
Hy is jou Koning en jou Heer. ‘n Koning in doeke, ‘n Koning op sandale – dit
stry teen ons gevoel van alles wat koninklik is. Maar presies daar lê jou
toegang na die beloofde land, die Koninkryk van die hemel. Moenie val vir wat
in ons tyd en in ons wêreld as koninklik aan ons voorgehou word nie – dit gee
maar net ‘n tydelike vaderland. Maar vir wie soek na die beter vaderland, is
daar net een keuse: kniel in geloof neer om jou Koning se sandale vir Hom los
te maak. Dan mag jy ingaan in die Koninkryk wat bly tot in ewigheid!

 

Broer en susters, jy moet jou persoonlike geskiedenis oordoen; gemeente,
ons moet ons kerklike geskiedenis oordoen. Dit is die boodskap van die stem in
die woestyn. In voorbereiding op die koms van die Koning word ons opgeroep tot
boetedoening – tot bekering en skuldbelydenis van ons sondige verlede. Nee, dit
beteken nie dat ons volmaak heilig moet wees om die Koning te kan ontmoet nie,
maar dit beteken wel dat ons ons eie onheiligheid voor God leer ontdek en bely.
Slegs op dié manier sal ons hierdie Kerstyd ‘n oop deur na die Koninkryk vind.
Want dit is ‘n ryk van skuldvergewing en heiligmaking, dit is ‘n ryk van genade
en nuwe lewe. Maar wie homself nie as sondaar ken nie, word deur hierdie ryk
verpletter. Sy boom word afgekap, en soos kaf in die vuur gegooi. Kom ons berei
onsself voor om ons Koning te ontmoet. Kom ons leer ken onsself vir wie ons
werklik is: ellendige mense, verlore sondaars. Johannes die Doper is ook vir
ons die stem in die woestyn. Kom ons volg hom in die gees na die woestyn en tot
in die waters van die Jordaan. En dan mag ons vervolgens ook sing: “Kom alle getroues,
vrolik en vol vreugde! o Kom in die gees nou na Betlehem.” En dan sing ons ten
slotte van die koninkryk van die hemel, die nuwe beloofde land: “Jerusalem,
Jerusalem, sing nou ‘n loflied saam. Hosanna, in die hoogste! Hosanna, prys sy
Naam!”

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie
(oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 111:1,
    2, 4 en 5

Votum – sing Ps. 124:4

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en
wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus,
die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die
konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 92:1 en 2

Wetslesing

Sing Skr. 20:4, 5, 7 en 8

Gebed

Lees:    Mattheus 3:1-12

            Lukas 3:1-9

Sing Skr. 22:3-5

Teks: Markus 1:1-8

Preek

Amenlied Ps. 136:10, 14 en 17

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 2:4 en 5

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
/
Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn
en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy
vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)