Joh1 : 29b : Johannes wys vir ons die Lam van God aan.

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-12-02
Teks: 
Johannes 1 : 15-34
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek –
Johannes 1:29

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die vorige dag nog het hulle Johannes met vrae gepeper: Wie is u? Is
u Elia? Is u die profeet? Wat sê u van uself? Waarom doop u dan as u nie die
Christus of Elia of die profeet is nie? Johannes se antwoorde op al hierdie
vrae was vir die grootste deel in die negatiewe vorm gestel: “Ek is nie die
Christus nie; ek is nie Elia nie; nee, ek is nie die profeet nie.” Maar slegs ‘n
dag later (vers 29) mag Johannes hierdie negatiewe antwoorde opvolg met ‘n
positiewe antwoord: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld
wegneem.” Met die koms van Christus word Johannes se belydenis skielik gevul
met positiewe, reddende inhoud, en dit is ‘n belydenis wat op hierdie
nagmaalsondag ook óns belydenis mag wees. Kom ons kyk saam na die inhoud van
hierdie belydenis…

Tema: Johannes wys vir ons die Lam van God aan.

  1. God voorsien (lees ekstra Gen. 22:6-14)
  2. Die skuld word oorgedra (lees ekstra Lev. 16:20-22)
  3. Dit het universele betekenis (lees ekstra DL, hfst. 2.3 en 2.5)

 

1. Gemeente, dit is interessant watter positiewe belydenis Johannes
uiteindelik wel uitspreek. In direkte antwoord op die vrae van die leiers (Is u
die profeet? Is u die Christus?) kon hy, toe hy Jesus sien aankom het, baie eenvoudig
geantwoord het: dáár is die Profeet! Of: dáár is die Christus! Maar Johannes gebruik
nie die benamings van die leiers nie; nee, hy kies vir ‘n nuwe naam: dáár is
die Lám.
Nou kan ons spekuleer oor hoekom hy juis vir hierdie naam gekies het, maar ons
kan in elk geval seker wees dat die beeld van die lam beslis iets wakker gemaak
het onder sy luisteraars.

Die lam… – die volk was goed bekend met hierdie dier, daardie
onskuldige en weerlose dier wat ontelbare kere gedurende die eeue deur
Israeliete na die heiligdom gebring is om geslag te word. Die volk het geweet
van lammers; hulle het geweet van offerlammers. Hulle is immers daagliks daaraan
herinner – buiten die jaarlikse pasga-lam, moes daar ook élke oggend en élke
aand ‘n lam geslag en geoffer word. Jaar in, jaar uit was daar ‘n konstante
stroom van bloed op die perseel van die heiligdom. Dag vir dag was hierdie
offers ‘n lewende én ‘n sterwende herinnering vir die Israeliete dat hulle
sonde ‘n straf het – die dood. Hulle moes hierdie offerritueel aanskou met die
wete dat dít is wat húlle verdien het. Hulle sonde het die toorn van God en die
doodstraf verdien. Na regte was dit húlle bloed wat daar moes gevloei het. Maar
God het lammers voorgeskryf, die Israeliete moes lammers na die heiligdom bring
as simbool van ‘n plaasvervangende dood. En wanneer die Israeliet na die dooie
lam gekyk het, moes hy sy eie sonde daarin sien – sy haat en woede, sy
liefdeloosheid en ongehoorsaamheid, sy
kleingeloof, sy diefstal, sy moord, sy egbreuk.

 

Nee, van lammers kon jy die Israeliete nie veel vertel nie. Dit was so
deel van hulle godsdiens deur alle eeue, hulle was al so gewoond aan hierdie
gebruik dat… ja, dat hulle amper vergeet het “dat die bloed van stiere en bokke
onmoontlik die sonde kan wegneem”, soos wat die Hebreërskrywer daaroor praat in
hoofstuk 10:4. Die lammers van Israel het gedreig om mak te word, die volk het
vir ‘n groot deel nie meer besef waarvan hierdie lammers simbole moes wees nie.
Die volk het gedink dat hulle met hulle lammertjies iets vir die Here kon
aanbied; hulle het gedink dat hulle Hom sodoende kon sus, sy toorn kon stilmaak.
Dit is daarom nie verniet dat die Here dikwels in die Ou Testament sy volk
verwyt oor hulle offerandes nie; dit is nie verniet dat Hy dikwels vir hulle
sê: “Ek het geen behae in slagoffer of spysoffer nie; Ek het geen behae in die
bloed van stiere of lammers of bokke nie. Gaan weg met julle veragtelike offerandes
waarmee julle dink dat julle iets by My kan presteer.” Nie omdat die Here sy
eie instelling verag het nie, maar omdat die gebruik daarvan onder die volk gewoonte
en bygelowigheid geword het.

 

Nou, broers en susters, dit is in hierdie konteks van ‘n volk wat
verdienste-lammertjies na God toe gebring het, dat ons vir Johannes die Doper
hoor sê: “Dáár is Gód se Lam!” Vir eeue lank het die volk offers gebring, maar
nou het die tyd aangebreek dat God sê: “Hou maar op daarmee; hier is Lam vir júlle.” Want mense bied nie lammers vir God aan as versoening van
hulle sondes nie; nee, God kies sy Lam uit en Hy stel Hom tot beskiking van
sondaars. So voorsien die Here in ‘n nood wat nooit verby sou gegaan het nie,
ook al sou die volk vir ‘n duisend jaar daarna nog lammers aangedra het tempel
toe. Ons voorsien nie vir die Here nie; hoor maar wat sê die Here self in Psalm
50: “Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie…” Nee,
gemeente, God voorsien vir ons.

‘n Gedeelte waarin dit pragtig na vore kom, is Genesis 22 [lees Gen. 22:6-14]. In hierdie
gedeelte sien ons dat die Here self die Een is wat die offer skenk; dit wat ons aan Hóm skuld, daarin voorsien Hy! Ook as jy vandag hier aan die
nagmaalstafel kom sit, dan vra die Here nie van jou ‘n offer nie; die Here vra
nie dat jy iets vir Hom kom aanbied voor jy van die brood mag eet en van die
beker mag drink nie. Nee, die Here sê eenvoudig vir jou: “Kyk, hier is die Lam
van God, vir jou! Neem, eet, Ek voorsien in jou behoeftes!”

En, broers en susters, Abraham wys vir ons ook nog hoe ons op
hierdie weldaad van God behoort te reageer. Want Abraham kon in geloof reeds
voor die tyd vir sy seun Isak sê: “God sal vir Homself die lam vir ‘n
brandoffer voorsien, my seun” (Gen. 22:8). En dit is in daardie geloof dat
Abraham kon gaan doen wat die Here van hom gevra het, ook al was dit die
opoffering van sy eie seun. In dieselfde geloof – daardie totale en hartlike
oorgawe van Abraham – mag jy vandag hier kom sit. Nie in spanning omdat jy niks
het om te bied nie, omdat jou sondeskuld so groot is, omdat jou las so swaar
is. Nee, in geloof. Kom daarom, want God voorsien!

In die tweede plek let ons daarop
dat die skuld oorgedra word.

 

2. Dáár is die Lam van God wat
die
sonde wegneem. Die woord
‘sonde’ staan hier in die enkelvoud, nie omdat daar slegs een sonde begaan is
nie. Nee, die gebruik van die enkelvoud dui daarop dat al die menslike
mislukkings – al joune, en joune, en joune, en myne – al hierdie sondes word gesien
as een groot kompleks van skuld, ‘n warnet van ongeregtigheid. Dit is die totale
lewenslas van die mensheid, waaronder ons ewig moes versink, soos wat die
nagmaalsformulier dit stel. Nou, dít word – volgens Johannes – deur die Lam op
homself gelaai en weggedra – dit is wat letterlik daar staan. Of soos wat ons
lees in 1 Petrus 2:24: “wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het…” Die Lam is in staat om
hierdie ondraaglike las voor God se aangesig weg te dra. Pragtig sien ons hoe hierdie
‘wegdra van die sonde’ in die Ou Testamentiese offerwetgewing versinnebeeld
word – kom ons lees daaroor in Levitikus 16 [lees Levitikus 16:20-22].

Hier sien ons dat Aaron beide sy hande – normaalweg was dit slegs
een hand, dus met die twee hande word die erns beklemtoon – dat hy beide sy
hande op die bok se kop moes plaas. So is al die ongeregtighede van die kinders
van Israel en al hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees, simbolies
op hierdie bok gelê. Die diepte en die breedte en die totale omvang van die
sondes van die volk word met hierdie drie woorde (ongeregtighede, oortredinge,
sondes) beklemtoon. Maar daarmee saam word ook die wonder van die versoening
beklemtoon! Die lewendige bok word die draer van al die sondes van die hele volk,
en as draer daarvan word hy vervolgens in die woestyn gestuur – weg van die
verbondsvolk, weg van die heiligdom, in totale isolasie, alleen. Daar sal hy
sonder twyfel omkom – óf deurdat ‘n wilde dier hom vang, óf deur ‘n gebrek aan
kos en water. En só word die sondes weggedra na die woestyn, as’t ware die
speelplek van die duiwel; laat die sondes dáár bly.   

 

Nou, hierdie beeld kan ons voor ons sien wanneer Johannes sê dat die
Lam van God ons sonde wegdra. Ons sien ons eensame Sondedraer, Jesus Christus. Van
God en mense verlate – totaal alleen – het Hy die las van jou en my sonde
weggedra toe Hy op Golgota gehang het. Die las van al jou ongeregtighede, van
al jou oortredings, van al jou sondes. Ken jy hulle? Al jou ongeregtighede?
Weet jy van al jou oortredings en sondes? O, ons weet van baie sondes, ons weet
ook van sondes waarvan niemand anders weet nie, maar dan is daar ook sondes
waarvan ons onsself nie bewus is nie. En nogtans het Christus dit alles
weggedra, die bewustelike sowel as die onbewustelike sondes. Die klein
sondetjies sowel as die groot oortredings. Ook daardie sonde waaroor jy so
huiwer om dit voor die Here te bring, wat soos ‘n muur tussen jou en jou God
staan omdat jy dit net nie oor jou lippe kan kry om dit te bely nie; daardie
verborge sondes waarvan jy hoop dat niemand dit ooit moet uitvind nie.

Die totale kompleks van menslike sondes word deur Jesus Christus op
Homself gelaai en weggedra. Ons hoef nie meer die ondraaglike juk van eieverdienste
te dra nie, ons kan Jesus se sagte juk op ons neem, die sagte juk van die
geloof. Kom daarom, almal wat vermoeid en belas is, en kom ervaar hier aan die
nagmaalstafel die bevryding! Vir wie in geloof hulle sondes op Christus gelaai
het, is daar die versekering: dit is weg.
Die skuld is betaal. Troos, troos my volk, sê die Here!

Ons let ten slotte daarop dat
dit universele betekenis het.

 

3. Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Die wêreld? Maar het Christus dan vir alle
mense gesterf? Glo ons in ‘n alversoening – dus, dat alle mense gered word? Nee,
dit nie. Ons bely wel in die Dordtse Leerreëls, hoofstuk 2, paragraaf 3: “Sy
dood is van oneindige krag en waarde, oorvloedig genoeg om die sondes van die
hele wêreld te versoen.” Die waarde van Christus se werk is oorvloedig genoeg
vir alle mense, vir alle sondes. Maar daarmee word nie gesê dat dit vir alle
mense bedoel is nie; Christus het immers nie vir alle mense gesterf
nie, Hy het slegs vir die uitverkorenes gesterf. Maar hoe moet ons Johannes dan
verstaan wanneer Hy sê dat die Lam die sonde van die wêreld wegneem? Wel, ons
kan dit dalk die beste so verstaan wanneer ons sê dat Christus se
versoeningswerk katoliek is – daarmee
bedoel ons dat dit nie beperk is tot ‘n sekere tyd in die geskiedenis, of tot
‘n sekere volk of tot ‘n sekere plek nie. Dwarsoor die wêreld en deur alle tye
eggo Johannes se woorde. En dit is dan ook presies wat die Dordtse Leerreëls
vervolgens in paragraaf 5 van hoofstuk 2 sê: “dit is die belofte van die evangelie
dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, nie verlore sal gaan nie maar
die ewige lewe sal hê. Hierdie belofte moet aan alle volke en mense aan wie God
na sy welbehae die evangelie stuur, sonder enige onderskeid verkondig en bekend
gestel word, met die eis tot bekering en geloof.”

 

Niemand, wat die belofte van die evangelie glo, is uitgesluit van
die werk van Christus nie. Nie gestremdes nie, nie armes nie, nie blankes of
swartmense nie. Ook jy wat in die verlede dalk ver van die Here gelewe het –
ook jy is nie uitgesluit nie. Met een groot, wêreld-omspannende swaai van sy
arm sê God: julle almal word opgeroep tot geloof. God maak advertensie vir die
hele, wye wêreld, in die verlede en in die hede en in die toekoms. En waar jy
vandag, in 2012, lewe, klink dieselfde oproep: glo wat God sê! Moenie na
jouself kyk om te weet of jy deel mag wees van die nagmaal nie; kyk na die
Here! Luister na sy lokkende uitnodiging. En kom dan, saam met ‘n ontelbare
skare in die hemel, en ‘n ontelbare skare hier op aarde. En hoor die stem van
die Vader wat op alle plekke weerklink: dit is my geliefde Seun, in wie Ek ‘n
welbehae het!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie
(oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 47

Votum: sing Ps. 121:1

Seën: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here
Jesus Christus.
 

Sing Ps. 108:1, 2 en 4

Kort gebed

Lees: Johannes 1:15-34

Teks: Johannes 1:29

Preek

Sing Skr. 8:1 en 2

·        
Lees formulier + wet

·        
Na lesing van die wet, sing Ps.
99:4 en 5

  • Vervolg lesing van formulier
  • Terwyl die tafel in gereedheid
    gebring word, sing Ps. 81:1
  • Viering van die nagmaal
    • Eerste tafel – Ps. 81:3
    • Tweede tafel – Ps. 81:11
    • Derde tafel – Ps. 81:12
  • Voltooi formulier & dankgebed

Kollekte

Slotsang Skr. 8:4 en 5

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)