Sondag 31 : : Die kerk ontvang die sleutelmag van die Here!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-12-02
Teks: 
Lukas 3 : 1-20 en Hand 4 : 32-37 en Hfst 6 : 1-7
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Sondag 31; lees

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Hoekom praat Jesus in Mattheus 16, en die Kategismus in Sondag 30 en
31 van sleutels in die meervoud? En hoekom is dit so dat, wanneer daar
vir ons gevra word hoeveel sleutels daar in die koninkryk is, die meeste van
ons sal sê dat daar twéé sleutels is:
die verkondiging van die evangelie én die kerklike tug? As jy jou voordeur wil
oop- of toesluit, dan gebruik jy mos ook nie verskillende sleutels – een om oop
te sluit en ‘n ander om toe te sluit nie? Hoekom praat ons dan van twee
sleutels in die koninkryk van die hemele? Wel, gemeente, ons kan dit waarskynlik
die beste só verklaar dat daar verskillende aspekte is aan die bediening van
die sleutelmag, verskillende kante – en daarom word daar van sleutels
in die meervoud gepraat. Maar uiteindelik is al die verskillende aspekte, al
die verskillende kante, tog die bediening van die één sleutel! Uiteindelik is
daar net een sleutel wat pas op die slot van die hemelse koninkryk, en dit is die
bediening van die Woord, die verkondiging van die evangelie.

 

En as ons dít verstaan, broers en susters, as ons verstaan dat dit
gaan oor die verkondiging van die evangelie – of die bediening van die
versoening, soos wat Paulus so pragtig in 2 Korinthiërs 5 daaroor praat – dan sien
ons ook dat die bediening van hierdie sleutel na sy wése beteken om óóp te sluit. O ja, natuurlik word daar ook soms toegesluit, dit is
die keersy van dieselfde muntstuk, en ons gaan daarvan ook hoor. Maar onthou, enige
muntstuk het ‘n duidelike voor- en agterkant, of ‘n kop en ‘n stert soos wat
ons dit soms noem wanneer ons by ‘n sportwedstryd die loot moet beslis. Op
dieselfde manier is die óópsluit van
die koninkryk die voorkant van die munstuk, die kop. Die toesluit-aksie is die agterkant, die stert. Na sy diepste wese gaan
die bediening van die sleutelmag daaroor om vir sondige mense die koninkryk óóp te sluit. Die kerk wat die
sleutelmag ontvang het, is nie daarop uit om toe te sluit nie. Ja, soms moet
ons, maar dit is nie ons eerste taak nie. Ons eerste taak is om in die Naam van
Jesus Christus oop te sluit en mense binne te nooi: Kom, almal wat vermoeid en
belas is! Want dit is presies wat God met ons gedoen het!

 

Tema: Die kerk ontvang die sleutelmag van die Here!

  1. Die sleutelmag van die Woord
  2. Die sleutelmag in ons dade
  3. Die sleutelmag by die ongeloof

 

1. In Lukas 3 sien ons Johannes die Doper aan die werk. Hy tree op as
die wegbereider van die Messias; hy is die herout van die komende Koning. En
wat het ‘n herout gedoen? ‘n Herout se taak was om die Koning se koms vir die
volk aan te kondig, en om die volk gereed te kry vir die koms van die Koning.
En hoe doen Johannes dit? In watter lig plaas hy die koms van die Koning? Wel,
hy kondig die koms van die Koning aan as ‘n tyd van begenadiging van sondaars. Deur
berou en bekering moes die volk hulleself voorberei om die vergewing van sondes
van die Koning te ontvang. In ‘n baie kragtige tipering vat Lukas die werk van
Johannes die Doper saam, wanneer hy in vers 3 sê: “hy het die doop van bekering
tot vergifnis van sondes verkondig.” Ja, die Here kom met sy heil, en daardie
heil bestaan uit die vergifnis van sondes. Johannes verkondig dus goeie nuus!

Maar dan moet ons vervolgens daarop let, gemeente, dat hierdie goeie
nuus nie in die lug bly hang nie. Die goeie nuus is nie ‘n lugkasteel waarmee
die volk niks kan maak nie. Nee, die goeie nuus vra gelowige ontvangs, dit vra
bekering, dit vra vrugte wat by die bekering pas. En dít maak Johannes
vervolgens baie konkreet teenoor drie verskillende groepe onder die volk. Eers
is daar die skare in die algemeen. Vir hulle leer Johannes mededeelsaamheid –
as jy klere en kos in oorvloed het, dan moet jy daarvan uitdeel aan diegene wat
nie het nie. Daarna is daar die tollenaars. Vir hulle leer hy om nie méér te
vra as wat deur die owerheid vasgestel is nie. En ten slotte is daar die
soldate. Vir hulle leer hy dat hulle hul medemens nie kwaad mag aandoen nie,
maar dat hulle tevrede moet wees met hulle soldate-salaris, sonder om te
plunder of te intimideer.

 

Sien u wat hier gebeur, gemeente? Sien u wat Johannes besig is om te
doen? Inderdaad, hy vermaan die verskillende groepe voor hom. Maar is dit al?
Nee, ons moet sien dat hy deur middel van hierdie vermaninge besig is om die
volk voor te berei vir die Koning wat oppad is om vergifnis te kom bring; in
die vermaninge is hy besig om vir die volk die koninkryk oop te sluit! In die
vermaninge is hy steeds besig om die goeie nuus te bring – kyk maar na die
merkwaardige formulering van vers 18: “Hy het dan ook met baie ander vermaninge die evangelie – die goeie nuus! – aan die volk verkondig.” Nou, presies
hier het ons ons taak as kerk van Christus. Ons taak is om konkreet die goeie
nuus van Jesus Christus te bring. En ek sê doelbewus ‘konkreet’, want die
gevaar is baie groot dat die goeie nuus van Jesus Christus ‘n soetsappige
sweef-boodskappie word, een wat ons vir ‘n oomblik hier in die kerk goed laat
voel, maar sonder om werklik enige verskil aan ons lewens te maak. Maar as dít
is wat van ons prediking geword het, dan bedien ons nie meer die sleutelmag
nie; nee, dan het ons bouers van lugkastele geword. Jy gryp vol verwagting daarna,
maar dis weg… Dit is nie wat ons mag doen wanneer ons die Woord bedien nie.

 

Wanneer ons die Woord van die Here bedien, dan spreek ons konkreet
die Woord tot God se volk en tot elkeen persoonlik in sy of haar eie omstandighede.
Paulus is daarom heeltemal reg wanneer hy vir Timotheus sê: “Die hele Skrif is
deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot
onderwysing in die geregtigheid…” ( 2 Tim. 3:16) Die Woord van die Here het in
alle omstandighede iets te sê waardeur die koninkryk vir ons oopgesluit word. En
dit moet in die prediking na vore kom – in lering, weerlegging, teregwysing en
onderwysing moet die koninkryk oopgesluit word. Dit moet in die huisbesoeke na
vore kom – wanneer die ampsdraer op huisbesoek kom en nie vanuit die Woord die
koninkryk vir u oopsluit nie, vra hom daarna! Hy het immers nie gekom om u
opinie oor die laaste kerklike verwikkelinge te hoor, of om u lys met probleme
aan te hoor nie. Hy kom om vir u oop te sluit! Maar, gemeente, dit moet ook in
ons onderlinge gesprekke na vore kom. Ons is immers nie vir mekaar gegee om vir
mekaar van ‘n liewe Jesus te vertel nie; ons is ook nie vir mekaar gegee om
maar net te dweep met ‘die Woord, die Woord’, sonder om die Woord konkreet in
die omstandighede te laat spreek nie. Nee, in ons onderlinge omgang moet die
Woord konkreet gebruik word sodat ons mekaar in ons omstandighede kan bemoedig,
kan leer en kan vermaan. Ek moet die Woord konkreet as sleutel gebruik sodat,
of ek nou vermaan of bemoedig of leer, die ander persoon met verwondering kan
sien dat in Jesus Christus die koninkryk vir ons oopgaan.

 

En, gemeente, dieselfde geld vir die bediening van die tug. Die tug
is niks anders nie as bediening van die Woord en het as die doel die opening
van die koninkryk en die behoud van die sondaar! Die tug is nie om mense uit
die koninkryk weg te jaag nie. Nee, ons is die kerk van Christus wat daarna
soek om die sondaar te red. En daarom begin
ons die christelike tug heel eerste deur oop te sluit! Wanneer jy iemand in die
gemeente vermaan oor sy leer of lewe, dan begin jy mos nie deur aan hom te
verkondig dat hy geen deel aan die koninkryk het nie. Nee, jy begin deur hom
terug te roep van sy verkeerde weg, en jy verkondig aan hom vergifnis in die
sterwe en opstanding van Jesus Christus. Jy sluit vir hom die koninkryk oop,
sodat hy kan ingaan! Dít behoort ons strewe te wees by die bediening van die
tug… wat uiteindelik niks anders is nie as bediening van die Woord.

Dus, gemeente, dit is die eerste aspek van die sleutelmag – die
bediening van die Woord! In die Woord het die Here vir ons ‘n baie kragtige
sleutel gegee. Ons het iets gekry wat niemand anders in hierdie wêreld het nie.
En daarby het die Here die gemeente, en in besonder die ampsdraers, bedienaars
van daardie sleutel gemaak. Ons het iets om vir mekaar en die wêreld te bied.
Laat ons dit nie verspeel nie! Sluit oop die koninkryk met die Woord van die
Here!

Ons let vervolgens op die
sleutelmag in ons dade.

 

2. Tydens Jesus Christus se bediening op aarde, is dit opmerklik om te
sien dat sy prediking – sy bediening van die Woord – altyd gepaard gegaan het
met tekens en wonders. Let maar ‘n bietjie daarop wanneer u weer die evangelies
lees. Enersyds het Jesus daardeur sy prediking bevestig en bekragtig, maar andersyds
het Hy daardeur ook gewys wat die ware betekenis van die evangelie van die
koninkryk is. Die evangelie is nie maar net woorde sonder effek nie; nee, die
evangelie bring nuwe lewe, en daarom is dit gerig teen alles wat die lewe op
aarde bedreig en beskadig; die evangelie is daarop uit om elke siekte en kwaal,
alle ellende en gebreke te verdryf. Of positief gestel: die evangelie is daarop
uit om die lewe te herstel en te vernuwe. En daarom kon die Here Jesus sy
bediening nie slegs by woorde laat nie, maar wou Hy dit ook met die daad
bevestig. Hy het verkondig dat Hy gekom het om lewe te gee, en Hy het dit
vervolgens ook bewys deur dooies op te wek, deur siekes te genees, en deur besetenes
van bose geeste te bevry.

 

Nou, toe Jesus by sy hemelvaart aan sy apostels die sleutel van die verkondiging
van die evangelie toevertrou het, het Hy daarmee saam ook híérdie aspek van sy
werk aan hulle toevertrou. En ons sien vervolgens hoe dit op ‘n pragtige manier
in die vroeë kerk uitgewerk is. Kyk maar na Handelinge 2:42-46: onder die leer
van die apostels – dit wil sê, onder die verkondiging van die evangelie – het daar
‘n gemeenskap ontstaan, en hierdie gemeenskap was sigbaar en tasbaar tydens die
gemeenskaplike maaltye en in die gemeenskaplike vreugde oor die heil, asook in
die verdeling van die gawes. Ons sien dus dat die apostels tegelykertyd besig
was met én die prediking én die diens van die barmhartigheid op allerhande
maniere. En só moes dit ook wees, want ons het reeds by Jesus gesien dat hierdie
twee bymekaar hoort; die verkondiging van die evangelie vra vir diensbetoon.

En ons sien dit op ‘n besondere manier in Handelinge 4, wat ons saam
gelees het. In vers 32 lees ons eers dat die gemeentelede alle besittings
gemeenskaplik gehad het; niemand het gesê dat iets sy eie was nie. Direk daarna
word in verband hiermee gesê dat die apostels met groot krag getuienis gegee
het van die opstanding van die Here Jesus, net om in vers 34 te vervolg: “want
niemand onder hulle was behoeftig nie.” Sien u hoe nou die verkondiging met die
diensbaarheid verweef was. Dus, om die materiële sake te reël en te verdeel was
nie maar net ‘n ekstra takie wat die apostels verrig het, ‘n soort buitemuurse
aktiwiteit nie. Nee, dit was ‘n regstreekse gevolg van hulle verkondiging. Met apostoliese
volmag sorg Petrus daarom vir die verdeling van die materiële gawes, en waak hy
teen vervalsing en korrupsie – soos wat sigbaar word in die geskiedenis van
Ananias en Saffira (Hand. 5:1-11). Daarin tree hy op as verteenwoordiger van
die Gees en in die krag van die opgestane Christus.

 

En wanneer later blyk dat die getalle te groot raak vir die apostels
om alles te hanteer, dan stel hulle hiervoor ‘n eie, besondere diens in – ons
het daarvan gelees in Handelinge 6. En tog bly die apostoliese verkondiging en
die diakonale versorging baie nou op mekaar betrokke. Apostels en diakens is
baie intense kollegas. En wanneer dit gaan oor die bediening van die sleutelmag,
dan moet hierdie twee vandag nog steeds baie nou saamwerk. In die bediening van
die sleutelmag gaan dit sáám met die
verkondiging van die Woord óók oor die praktiese diensbetoon – die onderlinge
diensbetoon, die sorg en omsien na mekaar, maar in besonder gaan dit ook oor
die diensbetoon van die diakens.

God gee in sy genade aan sy volk die beskikking oor middele om die
swakhede en die gebreke van die lewe in Christus se Naam terug te dring, en
sover moontlik uit te dryf. En as ek praat oor die swakhede en die gebreke van
die lewe, dan bedoel ek daarmee armoede, siekte, eensaamheid en ander sorge,
wat ook opgenoem word in die formulier vir die bevestiging van ampsdraers. En die
diakens is geregtig en word geroep om namens Christus op die benodigde middele
aanspraak te maak – hulle mag dit van u eis! – en dit vervolgens as gawes van
God se liefde uit te deel aan diegene wat dit nodig het. Hierin tree die
diakens op as goeie versorgers van die huis van God. Ons kan hier praat van ‘n
amptelike volmag wat deur Christus aan die diakens verleen word. As diakens mag
hulle namens die Koning die koninkryk oopmaak vir die armes en die siekes en
die eensames in die gemeente. Want in die koninkryk van Jesus Christus is dit
onaanvaarbaar dat mense ongetroos onder die druk van armoede, siekte, ouderdom en
eensaamheid moet lewe.

 

En daarom word die diakens opgeroep om hierdie taak na te kom. Hulle
is nie maar net ‘n aanhangsel by die ouderlinge nie, hulle is nie maar net
halwe ampsdraers nie. Hulle is gevolmagtigdes in die Naam van Jesus Christus.
Sy aan sy met die ouderlinge bedien hulle die sleutels van die koninkryk! Vir
u, gemeente, geld die opdrag om sorg te dra dat die diakens oor die middele
beskik om hierdie sleutelmag te bedien. En vir u, broeders diakens, geld die
opdrag om vrymoedig hierdie diensbetoon te verrig. Woord én dáád gaan saam in die bediening van die
sleutelmag!

Ten slotte let ons nog op
die sleutelmag by ongeloof.

 

3. Ja, dit is die ander kant van die munt. Ek het dit doelbewus vir
laaste gelos, want dit het nie eerste prioriteit nie. Eerste prioriteit is die óópsluit van die koninkryk – in woord en
in daad. Maar die kerk sluit nie oop vir mense om vryblywend daarmee om te gaan
nie, die kerk sluit nie oop sodat mense maar net op die bloed van Christus kan
trap nie. Omdat Christus geloof en gehoorsaamheid eis, daarom moet die kerk dit
in sy Naam óók doen. En wanneer daar geen gloof is nie, dan moet daar
toegesluit word. Wanneer die sondaar onbekeerlik in sy sonde volhard, of dit
nou in leer of in lewe is, dan word die geestelike dissipline toegepas. En as
hy hom op lang termyn daarteen verset, dan word hy uiteindelik uit die
koninkryk uitgesluit.

Maar, gemeente, ons moet baie goed bly peil waaroor dit in die tug
gaan. Die tug is nie ‘n instrument naas die Woord nie; in die tug is ons nie
besig met ‘n heksejag nie, ons is nie soos die Roomse Inkwisisie nie. Dit is
nie éérs die Woordbediening, en as dit nie werk nie, dan gryp ons na die sambok
van die tug. Nee, die tug is Woordbediening. Die tug is die hantering van die
tweesnydende swaard van die Woord. Ja, die Woord sny altyd twee kante toe. Dit
bring altyd die skeiding tussen Lig en duisternis, tussen goed en kwaad, tussen
geloof en ongeloof. En dit is die enigste snit wat ons met die Woord mag en
moet maak. As jy iemand vermaan – en onthou: dít is waar die tug begin, en nie
by die kerkraad nie! – as jy iemand vermaan, dan sê jy mos nie: ek gaan jou nou
tugtig nie. Nee, dan sê: ek bedien aan jou die Woord van die Here. Hier en hier
moet jy jou leer of lewe verbeter, want só sê die Here! En as die kerkraad tug
moet toepas, dan doen ons dieselfde. Om toe te sluit, beteken om baie konkreet
die konsekwensies uit die Woordbediening te trek. Net so konkreet soos wat die
oopsluit was, so konkreet is ook die toesluit.

 

Maar laat ons dit altyd in nederigheid doen. As ons toesluit, dan
doen ons dit op grond van wat ons met ons menslike beperktheid kan sien. En dit is inderdaad beperk! God
weet wat in die harte leef, en dit moet ons dan ook aan Hom oorlaat. In die
besef van ons eie swakheid, tugtig ons eenvoudig na aanleiding van wat iemand openlik
leer of hoe iemand openlik lewe. As iemand uiterlik ‘n suiwer leer handhaaf en
suiwer lewe, maar ek het dalk ‘n vermoede dat dit nie opreg is nie, dan het ek
geen gronde om iemand te vermaan of te tug nie. Dan moet die oordeel van die
liefde vir ons genoeg wees. Dan laat ons dit aan God oor om op sy tyd die
oordeel oor so iemand te fel.

Maar as dit duidelik blyk dat iemand in leer of lewe hom misgaan en
daarin volhard, ja, dan dra God ons op om toe te sluit. Maar ook in ons
toesluit moet ons terughoudend wees. Ons sluit immers nie finaal toe nie; ons
gooi nie die sleutel weg nie. Want wie verbetering beloof en bewys, word weer
as lede van Christus en sy gemeente aangeneem. Laat ons dus hierdie ander kant
van die munt baie versigtig en met wysheid hanteer; laat ons oppas om nie op
God se regterstoel te gaan sit nie. Hy gee ons ‘n tug-opdrag, beslis, maar
altyd binne ons menslike vermoë.

 

Gemeente, God soek nie die dood van die sondaar nie, maar dat die
sondaar hom bekeer en lewe. Laat daar in ons dieselfde gesindheid wees as wat
in God is. In diepe erkentlikheid teenoor die God wat ons lewe gesoek en bewerk
het, soek ons ook die lewe vir mekaar. Sluit dan met blydskap oop in Woord en
daad! En treur wanneer daar toegesluit moet word.

Amen

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 143:4-6, 8-10

Seëngroet: Ons hulp is in die
Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus
Christus. Amen.

Sing Ps. 48:4 en 5

  • Lees kort formulier
  • Terwyl tafel voorberei word, sing Geloofsbelydenis
  • Voltooi formulier
  • Sing Ps. 65:2 en 3

Lees:    Lukas 3:1-20

            Handelinge
4:32-37 & 6:1-7

Teks: HK, Sondag 31

Preek

Amenlied Ps. 72:1 en 2

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 72:10 en 11

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)