In die gesin van God het elkeen sy eie verantwoordelikheid!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2012-11-25
Teks: 
1 Thessalonicense 2:7-13
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – 1 Thessalonicense 2

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Veronderstel jy gaan hierdie Desember-vakansie Kaap toe. Jy kom op ‘n Sondag daar in ons sustergemeente, en iemand vra ná die diens vir jou: “Hoe gaan dit met die kerkraad van Maranata? Doen die ampsdraers getrou hulle werk?” Hoe gaan jy reageer? Gaan jy die vraag bevestigend kan beantwoord, of gaan jy helaas moet sê dat die ampsdraers eintlik nie getrou hulle besoeke doen nie, dat hulle nie goeie voorbeelde vir die gemeente is nie, en dat hulle die gemeente nie voed met die Woord van die Here nie? Kom ons draai die situasie om… Jy kom as ampsdraer by ons sustergemeente, en iemand vra vir jou: “Hoe gaan dit met die geméénte van Maranata? Neem hulle die Woord aan as Woord van God? Is hulle navolgers van Jesus Christus?” Hoe gaan jy daarop reageer? Gaan jy antwoord: “Ja, ons kan die Here dank vir ‘n gehoorsame en getroue gemeente?” Of gaan jy moet sê: “Nee, ons merk ongelukkig baie ongehoorsaamheid en ‘n wêreldse lewenstyl?”

Moeilike vrae om gebalanseerd te beantwoord, want dit is waarskynlik nie nét ‘ja’, of nie nét ‘nee’ nie. Die Bybel praat ook nie so oor die gemeentes van Christus nie. In Paulus se briewe (en ook in Johannes se briewe aan die sewe gemeentes in Openbaring 2 en 3) vind ons daarom selde ‘n ongekwaliseerde ‘ja’ of ‘nee’ oor ‘n spesifieke gemeente. Dit is altyd ‘n mengsel van ‘ja’ en ‘nee’; dit is altyd ‘n kombinasie van dankbaarheid én vermaning, van mooi dinge én moeilike dinge. So gaan dit immers in die kerk van Jesus Christus.

 

En tog wil dit voorkom asof die eerste brief aan die gemeente in Thessalonika ‘n uitsondering op die reël is. Ons vind naamlik baie weinig vermaning in hierdie brief. Inteendeel, dit lyk selfs asof Paulus die gemeente van Thessalonika as model-gemeente aan ander gelowiges voorhou; kyk maar na hoofstuk 1:7: “sodat julle voorbeelde geword het vir al die gelowiges in Macedonië en Achaje.” Dit is ‘n besondere getuienis! Daar is dus alle rede om God te dank vir die gemeente van Thessalonika – iets wat Paulus dan ook herhaaldelik in hierdie brief doen (1:2, 2:13, 3:9). Nou, broers en susters, sonder om die gemeente van Thessalonika as die perfekte kerk te wil voorhou – iets wat trouens nie bestaan nie – kan ons op ‘n dag soos vandag tog ons wins doen met Paulus se gunstige beoordeling van hierdie gemeente. Ons kan van hulle leer, sodat, wanneer ons weer ‘n slag in ‘n sustergemeente gevra word hoe die kerkraad funksioneer of hoe dit met die gemeente gaan, ons op ‘n goeie manier daarop sal kan antwoord.

Tema: In die gesin van God het elkeen sy eie verantwoordelikheid!

  1. Die moeder en die vader
  2. Die broers en susters

 

1. Die eerste brief aan die Thessalonicense is ‘n baie persoonlike brief; Paulus en sy medewerkers is intens betrokke by hulle lesers. En binne hierdie persoonlike brief is hoofstuk 2 waarskynlik die mees persoonlike deel. Wat maak hierdie hoofstuk so persoonlik? Wel, dit is so persoonlik omdat daar ‘n persoonlike aanval op Paulus en sy medewerkers gedoen is. Dit wil voorkom asof daar mense was – moontlik ongelowige Jode, moontlik ander ongelowige stadsgenote – wat ‘n verdagmakingsveldtog teen Paulus en sy medewerkers begin het nadat hulle uit die stad vertrek het. En in ‘n kultuur waarin allerhande rondreisende filosowe en valse profete volop was en baie skepties bejeën is (juis omdat hulle daarop uit was om hulleself te verryk), het hierdie verdagmaking van Paulus en sy kollegas waarskynlik ‘n gevoelige snaar by die gelowiges in Thessalonika geraak. Nou, om hierdie verdagmaking te ontsenu, kyk Paulus in hoofstuk 2 as’t ware terug op sy verblyf in Thessalonika, en analiseer hy hoe hy en sy medewerkers hulleself in daardie tyd gedra het.

En dan kom hy tot die konklusie: ons het onsself in elk geval nie soos die rondreisende filosowe en valse profete gedra nie. Kyk maar na vers 3: “ons vermaning was nie uit dwaling of uit onsuiwerheid of uit bedrog nie.” Dwaling, onsuiwerheid, bedrog – hierdie drie terme is tipies terme wat die optrede van die valse profete gekenmerk het. Só was Paulus-hulle nie, God ken hulle harte (vers 4). Verder, sê Paulus in verse 5 en 6, het ons ons nooit met vleitaal opgehou of met bedekte hebsug nie… en nooit het ons die eer van mense gesoek nie. Weereens, dit was tipies die soort twyfelagtige metodes wat in daardie tyd algemeen gebruiklik was, maar waaraan Paulus-hulle nie deelgeneem het nie. Geen vleiende woorde, soos wat die filosowe gebruik het om mense vir hulleself te wen nie. Geen bedekte hebsug (die verlange na finansiële gewin), soos wat by die reisende predikers ‘n rol gespeel het nie. Geen soeke na eer, waardeur filosowe en predikers probeer het om ‘n goeie reputasie by mense af te dwing nie. Dus, Paulus se modus operandi – sy werkswyse – was in elk geval nie dieselfde as dié van die filosowe en predikers van sy dae nie. Maar goed, hoe was sy optrede dan wél?

 

Die eerste wat Paulus sê, is: ons was by julle soos ‘n moeder. Lees maar vers 7: “ons was vriendelik onder julle soos ‘n pleegmoeder haar kinders koester.” Letterlik staan hier vir ‘pleegmoeder’ ‘n woord wat ons kan vertaal met ‘voedster’. Nou, ‘n voedster hoef natuurlik nie die eie ma te wees van die babatjie wat sy voed en versorg nie, maar in hierdie geval is dit wel die eie ma. Hier word immers duidelik gepraat van ‘háár kinders’. Dit gaan oor ‘n ma wat vriendelik – of selfs beter: sagmoedig / sag / teer – haar kindjie voed. Sy neem haar babatjie in haar arms, sy koester hom teen haar lyf, en sy laat hom drink. In hierdie vers word die moeder-figuur dus spesifiek in haar rol as voedster beklemtoon, as die een wat die kos gee.

Nou, die beeld van ‘voedster’ en veral van ‘voeding’ word in die Bybel dikwels gebruik om die belangrikheid van Skriftuurlike onderrig te beklemtoon. Die gelowige word gevoed deur die wyse woorde van die Skrif! Dink maar aan die pragtige beskrywing in Spreuke 9 [lees Spr. 9:1-6]. Hier sien ons hoe dít wat die Wysheid aanbied, vergelyk word met brood en wyn. Wysheid is kos vir die siel! En dink ook aan 1 Petrus 2:2 wat ons verlede week gelees het: “verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord.” Die moeder-figuur gee dus aan haar kindertjies die regte voeding, sy versorg hulle op ‘n sagte en liewe manier met die gesonde voedsel van die Woord! En dít, sê Paulus aan die Thessalonicense, is presies die manier hoe ons onder julle te werk gegaan het.

 

Gemeente, dink bietjie aan hierdie beeld van die apostels as moeder-figure – dink daaraan dat hierdie apostels gesag en mag van Jesus Christus ontvang het om siekes gesond te maak, om duiwels uit te dryf en om die Woord te verkondig. Dink aan Efesiërs 2:20 wat vir ons vertel dat die kerk gebou is op die fondament van die apostels en die profete. Die apostels was dus magtige steenblokke waarop Christus sy kerk gebou het. Ons kan sê dat, toe Jesus na die hemel opgevaar het, die apostels die magtigste manne op aarde was. Hulle het mag en gesag gehad wat God aan niemand anders gegee het nie. En tog sê Paulus: ons was onder julle soos ‘n tere moeder. Merkwaardig, nie waar nie? Magtige apostels, gesante van die Koning van hemel en aarde, is soos moeders onder die gelowiges. Maar wat het hierdie moederskap presies behels?

Kom ons lees verder. Vers 8: “Terwl ons so na julle verlang het, was dit ons aangenaam om aan julle nie alleen die evangelie van God mee te deel nie, maar ook ons eie lewe, omdat julle vir ons dierbaar geword het.” Is dit nie wat moeders doen nie, gemeente? Hulle gee hulleself, hulle offer hulleself op vir hulle kinders. Moeders sal alles doen om te verseker dat hulle kinders goed versorg is, hulle sal selfs hulleself verwaarloos om te sorg dat daar genoeg is vir die kinders. Dus, broers, saam met die bediening van die evangelie gaan ook die aflê van jou eie lewe ter wille van die lidmate. Die amp word dikwels geassosieer met mag en posisie en aansien, maar niks is verder van die waarheid af nie. Ampsdiens beteken eerder om jou eie lewe af te lê. Jy moet iets gee wat jy nie sal terugkry nie – jou lewe. En die rede? “Omdat julle vir ons dierbaar geword het” – omdat jy die lidmate van hierdie gemeente van harte liefhet.

En dan ook nog vers 9: “Julle onthou tog, broeders, ons arbeid en inspanning; want terwyl ons nag en dag gewerk het om niemand van julle te beswaar nie, het ons die evangelie van God aan julle verkondig.” Elke moeder ken hierdie inspanning, elke moeder ken hierdie selfopoffering. Daar is nooit genoeg slaap nie. Jy ontspan nooit heeltemal nie, want jy is altyd besig om te luister en te wonder of dit met die kinders goed gaan. So moederlik was Paulus in sy versorging van die Thessalonicense. Hy het alles moontlik gedoen om hulle te voed met die evangelie, en om te sorg dat sy eie behoeftes nie vir die gemeente ‘n las word nie.

 

Ampsdraers van Christus se kerk behoort gekenmerk te word deur hierdie moederlike eienskappe. Ek weet, dit is teen die tydsgees. In vandag se samelewing word daar baie waarde geheg aan sterk leiers, leiers wat hulleself kan laat geld, leiers wat vir niks en niemand terugstaan nie. Regte manne! En tog sê Jesus van Homself in Mattheus 11: “Ek is sagmoedig…” En tog vergelyk Jesus Homself in Mattheus 23 met ‘n moederhen wat haar kuikens onder haar vlerke bymekaar maak. Nou, as Jesus dit van Homself sê, en as die apostels Hom daarin nagevolg het, dan behoort dit vir vandag se ampsdraers geen verhindering te wees nie. En daarmee hoef iemand nog nie ‘n ‘sissie’ te wees nie – immers, dieselfde Jesus wat kindertjies omhels het, het met ‘n sweep die tempel skoongemaak; dieselfde Jesus wat sag en teer met die sondaar gewerk het, het die sonde hard aangespreek. Sagmoedigheid het niks te make met swakheid nie, broers en susters. Nee, sagmoedigheid is om jouself deur God te laat beheers, en daardeur die vermoë te ontwikkel om jouself te gee om dié wat seer het te koester en te versorg.

Broeders, gee uself aan die gemeente soos moeders. Voed hierdie gemeente met die gesonde leer, met die Woord van die evangelie. En – luister mooi! – doen dit met sagtheid, met teerheid, met groot deernis. Die nederlandse kultuur, waaruit baie van ons kom, word dikwels ervaar as hard en reguit en nugter: “Niks nonsens nie, dit is hoe dit is!” Daaraan is positiewe kante, maar daarin skuil ook die gevaar dat ons ons moeder-instink verloor. En ampsdraers mág dit nie verloor nie, want die lewe is nie so swart-wit nie, die menslike siel sit nie so eenvoudig inmekaar nie. Die lewe en die siel vereis soms moederlike begrip en teerheid en koestering. Leer daarom van die Here Jesus, leer van die apostel Paulus, leer selfs van die moeders in die gemeente, en wees in hierdie gemeente soos moeders.

 

 

Maar, broers en susters, Paulus laat dit nie net by die moeder-beeld nie. In verse 10-12 verskuif hy die fokus vanaf die moeder na die vader. En die vader kry by Paulus ‘n heeltemal ander funksie – komplementêr tot dié van die moeder, maar tog anders. Paulus sê in vers 10 dat hy en sy medewerkers heilig, regverdig en onberispelik onder die Thessalonicense opgetree het. Heilig – dit verwys veral na die lewe voor God se aangesig, dat iemand aan God toegewy is. Regverdig – dit wys veral na die lewe te midde van die mede-mense, dat iemand reg teenoor sy naaste optree. En onberispelik – dit is eintlik maar die samevatting van heilig en regverdig.

 

Nou, gemeente, dit is die basis van enige vaderlike optrede – hy moet onberispelik wees. Hierdie Griekse woord beskryf letterlik ‘n kledingstuk sonder enige kreukels. En dit is wat vaders moet wees. ‘n Vader moet daarna streef om onkreukbaar te wees in sy voorbeeld aan sy kinders. Natuurlik, dit is wat almal van ons moet wees, maar die vaders in die besonder. Want dit is hulle wat leiding aan elke kind moet gee. Dit is hulle wat deur hulle heilige voorbeeld die gesin moet voorgaan. As ‘n pa nie heilig en regverdig lewe nie, dan verloor hy enige geloofwaardigheid om sy kinders daartoe op te roep. As ‘n pa se taalgebruik sleg is, wie is hy dan om sy kinders daaroor te vermaan? As ‘n pa se lewenstyl veel te wense oorlaat, hoe kan hy dan sy kinders oproep tot ‘n regte lewenstyl? As ‘n pa nie bybelstudie doen nie, hoe kan hy sy kinders daartoe oproep?

 

Nou, dit is hierdie beeld van ‘n onberispelike vader wat Paulus gebruik om sy eie optrede onder die Thessalonicense te beskryf. En juis omdat hy onberispelik onder hulle was, kon hy, soos ‘n vader, die Thessalonicense vermaan, bemoedig, en betuig dat hulle waardiglik moet wandel voor God. Vermaan, bemoedig en betuig…

Vermaan – die woord wat hier gebruik word, is presies dieselfde woord wat vir die Heilige Gees gebruik word wanneer Hy die Parakleet / die Trooster genoem word (Joh. 14-16). Hierdie woord het dus nie nét die betekenis van vermaan, soos in ons vertaling weergegee nie. Nee, dit het eerder die dubbele betekenis van vermaan én vertroos. En dit is belangrik dat hierdie twee altyd saamgaan. ‘n Vader tugtig nie sy kind, sonder om hom daarna ook te troos nie. Vermanings word hard as daarmee nie die troos van die evangelie gaan nie. As ampsdraer moet u ook soms vermaan, maar moet dit nie doen sonder om die kind van die Here ook te troos met die liefde van Christus nie. Tugtig met vrymoedigheid, maar doen dit met liefde, want liefdetug dié laat geen wonde (Ps. 141:5 ber.).

Bemoedig – hierdie woord beteken om langs iemand te gaan staan wat worstel, en om daardie persoon vooruit te help. ‘n Vader wat saam met sy kind ‘n wedloop hardloop en sien hoe die kind kort voor die einde dreig om te struikel, gaan mos nie net aanhardloop nie. Nee, as vader gaan jy stop, jou arm om hom sit, en hom tot by die einstreep ondersteun. Selfs al moet dit beteken dat jy nie eerste in die wedloop kom nie. Jou eie voordeel word opsy geskuif ter wille van die welstand van die ander. En dit is presies wat Petrus in 1 Petrus 5:1 aan die herders opdra: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik, nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid. Ons doen nie die ampsdiens vir ons eie voordeel nie, maar ons bemoedig die lidmate sodat hulle die eindstreep kan behaal.

En ten slotte: betuig – hierdie woord het die betekenis van uitdaag en oproep. Voortdurend moet die uitdaging en die oproep uitgaan om te volhard in die wedloop.

 

Dus, gemeente, soos ‘n vader wat self die goeie voorbeeld aan sy kinders stel, en hulle vervolgens elkeen afsonderlik vermaan en vertroos, en bemoedig en uitdaag om die regte ding te doen, so het Paulus die Thessalonicense vermaan en vertroos, bemoedig en uitgedaag om waardiglik te wandel voor God wat hulle tot sy koninkryk en heerlikheid geroep het.  Dit is die taak van vaders om hulle kinders daarin voor te gaan en op te roep. En bý die moederlike taak is dit dan ook u vaderlike taak as ampsdraer. U moet ‘n voorbeeld wees vir die lidmate, u moet onberispelik wees, en dan kan u met die Woord ook vrymoediglik oproep en vermaan en bemoedig tot ‘n heilige lewenswandel.

 

Soos ‘n moeder en soos ‘n vader het Paulus die Thessalonicense voorgegaan. Albei is nodig. As ampsdraers slegs hulle moederlike taak nakom, dan word dit koestering sonder inhoud. As hulle slegs hulle vaderlike taak nakom, word dit vermaning sonder liefde. Saam vorm vader en moeder ‘n twee-eenheid om die gemeente op te bou. Broers, volg Paulus daarin na, sodat as iemand weer vra: hoe gaan dit met die kerkraad van Maranata, die lidmate kan antwoord: hulle voed en koester ons soos moeders, en hulle vermaan en bemoedig ons soos vaders.

In die tweede plek let ons nog kortliks op die broers en die susters.

 

2. Want ja, in ‘n gesin is daar nie net ‘n pa en ‘n ma nie, maar ook kinders, broers en susters. En as pa en ma hulle taak nakom, as die ma moederlik voed en koester, en die pa vaderlik lei en vermaan, wat behoort dan die reaksie van die kinders te wees? Wel, Paulus wys met groot dankbaarheid vir ons hoe die Thessalonicense gereageer het. Hy sê in feite in vers 13: “Toe ons, met moederlike teerheid en vaderlike leiding en vermaning, die Woord van God aan julle verkondig het, het julle dit ontvang en aangeneem, nie as die woord van mense nie, maar as die woord van God.”

Sien u hoe Paulus dit stel: julle het die woord ontvang, maar julle het dit vervolgens ook aangeneem – ‘ontvang’ dui hier op die eksterne aanvaarding van die Woord, die uiterlike aanhoor van die Woord; ‘aanneem’ dui egter baie meer op die interne aanvaarding, die gelowige verwerking van die Woord. En Paulus is veral oor hierdie laaste baie dankbaar! Dankbaar teenoor God, want dit is sy werk! Hy het gewerk dat die Thessalonicense besef het dat hulle hier nie met mensewoord te make het nie, maar met God se Woord – en dit dwing hulle tot ‘n totaal ander reaksie as wanneer dit maar net ‘n mens was wat ‘n toespraak sou gehou het. Dit dwing hulle op hulle knieë voor die sprekende God!

 

Nou, hierdie gemeente ontvang gereeld die Woord, elke Sondag tweemaal. Hierdie gemeente ontvang die Woord tydens huisbesoeke, in die kategese-klasse, en op talle ander maniere en by talle ander geleenthede. Ons ontvang dit, dit word vir ons gegee, dit kom na ons toe in oorvloed… maar neem ons dit ook werklik aan? Is daar ook ‘n hartlike en gelowige verwerking van daardie Woord? As dit ons ore en ons verstand getref het, sak dit dan ook ‘n voet dieper af na die hart? Nee, die vraag is nie of jy van elkeen van die dominee se preke hou nie – dit hoef nie, dit kan ook nie. Die vraag is wel: kan jy in die gebrekkige woorde van die mensgemaakte preek, en agter die persoon van die prediker, en tussen die krom en skewe formulerings jou God ontmoet en jouself in geloof en gehoorsaamheid voor Hom neerbuig? Die vraag is ook nie of jy mal is oor jou ouderling of diaken nie. Nee, die vraag is: hoor jy in die gebrekkige huisbesoek waarin ampsdraers soms onder groot spanning hulle werk verrig, hoor jy daarin nog dat die Here met jou praat? Ervaar jy die moederlike koestering van broeders wat geroep is om te troos? Aanvaar jy die vaderlike vermaning van broeders wat geroep is om die regte pad te wys? Raak dit jou nog?! Of het ons dalk swaar van ore en oë geword, het ons dalk immuun geword vir die Woord van God wat in erdekruike na ons toe kom, sodat ons kyk en kyk, en tog nie sien nie; en hoor en hoor, en tog nie verstaan nie? – soos wat Jesus in Markus 4:12 van die volk Israel gesê het.

 

Broers en susters, Paulus en die apostels is ‘n voorbeeld vir elke ampsdraer om na te volg – moederlik en vaderlik. Maar terselfdertyd is die gemeente van Thessalonika ‘n voorbeeld vir die gemeente van Maranata. Moenie die Woord van God as mensewoord beskou waaraan jy jou nie hoef te steur nie, maar aanvaar dit soos dit waarlik is: as Woord van God! Jy is dalk in kennis en lewenservaring ver bo en ver voor jou ouderling of diaken, maar hy kom ook nie na jou toe omdat hy meen dat hy jou meerdere is nie – hy kom met die swaard van die Woord! Wee jou, as jy daarna nie luister nie! Wee jou, as jy agter die gebrekkige mensewoord nie meer die Woord van God aanvaar nie! Kom ons wees gehoorsame kinders in God se gesin, kom ons buig ons voor Hom wat die Vader van hierdie gemeente is – God in die hemel. Sodat, as iemand weer vra: hoe gaan dit met die gemeente van Maranata, die ampsdraers kan antwoord: ons dank die Here vir ‘n gehoorsame en getroue gemeente, wat navolgers van Jesus Christus wil wees.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 132:8-11

Votum Ps. 124:4

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. Sing Ps. 87:1 en 5

Wetslesing + HK v/a 127

Sing Ps. 83:1 en 4

Gebed

Lees: 1 Thessalonicense 2:1-16

  • Kollekte
  • Sing Ps. 104:8, 9 en 20

Teks: 1 Thessalonicense 2:7-13

Preek

Amenlied Skr. 19:3-7

  • Lees bevestigingsformulier
  • Sing Ps. 134:2 (gemeente) en 3 (ampsdraers)
  • Voltooi formulier

Gebed

Slotsang Ps. 122:2

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)