Belydenis van geloof

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-11-18
Teks: 
I Petrus 1 : 3-2 : 10
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – 1
Petrus 1:3-2:10

 

Geliefdes in die Here,

God het in Jesus Christus,
ons Here, die verbond van genade met ons en ons kinders opgerig. As kinders en
erfgename het ons deel aan die volle rykdom van die weldade van hierdie
verbond, maar word ons ook tot gehoorsaamheid aan en aanvaarding van die verbond
geroep. Daarom moet verbondskinders, wanneer hulle tot die nodige insig gekom
het, hulle geloof openlik in die midde van die gemeente bely, asook hulle
voorneme om deur die krag van die Heilige Gees die verbondsgemeenskap met God
te onderhou. Gelei deur die Gees van God en sy Woord het hierdie suster en
broeders die kerkraad gevra om hulle geloof hier openlik te bely. Nadat hulle
behoorlik onderrig en onderva is, is die kerkraad daarvan oortuig dat elkeen
van hulle toegerus is om tot sodanige persoonlike belydenis te kom. Derhalwe
word aan elkeen van hulle nou afsonderlik die geleentheid daartoe gebied.

 

Herken julle hierdie woorde? Ja, dis reg, dit is die inleidingswoorde
tot die formulier vir die aflegging van belydenis van geloof. Maar wat sê dit
nou eintlik? Dit sê dat God met jou ‘n verbond gesluit het, dat Hy ‘n liefdesverhouding
met jou aangegaan het – daarvan is die doop die sigbare teken en waarborg. Nou,
hierdie liefdesverhouding is God se inisiatief. Jy het nie daarvoor gevra nie, dit
was nie jou hartsbegeerte nie, die besluit het nie van jou af gekom nie. Nee,
dit was God se keuse! En hierdie liefdesverhouding is vir Hom so baie werd dat
Hy alles daarvoor sal gee; Hy het selfs sy eie, liewe Seun gegee om hierdie
verbond – hierdie verhouding – met jou moontlik te maak. En binne in die verhouding
mag jy geniet van die volle rykdom van sy weldade.

Dit is in kort wat die eerste deel van die inleiding tot die
formulier beteken. Maar nou – en dit is die tweede deel! – is die vraag: aanvaar
jy ook hierdie verhouding? Of meer persoonlik: wil jy ook binne hierdie
liefdesverhouding met God lewe? Dit is wél wat God van jou vra. Die óntstaan
van die verbond is eensydig (van God se kant af), maar die vóórtbestaan daarvan
is tweesydig (God en jy sáám!). Hý het die inisiatief geneem, dis waar, maar jou
gelowige antwoord op sy liefdesverklaring mag nie uitbly nie. Nou, om jou toe
te rus om die antwoord van die geloof te kan gee, en om jou te leer wie die God
is met jy in die verbond lewe, het julle deur die jare onderrig ontvang – van
julle ouers, moontlik by die skool, en veral ook deur middel van die kerklike
kategese. En die Heilige Gees het julle sover gebring – treetjie vir treetjie, dag
vir dag, jaar na jaar – sodat julle vandag hier openlik wil sê: ek wil met die
Here lewe, ek wil sy liefde beantwoord met ‘n lewe van liefde en gehoorsaamheid.
Geliefdes (só vervolg die formulier),
julle kom nou hier voor die aangesig van
God en in die midde van sy gemeente om julle geloof te bely. Daarom versoek ek
julle om in alle opregtheid op die volgende vrae te antwoord.

 

1. In die eerste plek, glo jy in
die enige ware God: Vader, Seun en Heilige Gees, in wie se Naam jy gedoop is?

Nou, ons voorvaders het baie goed geweet wat hulle doen toe hulle hierdie vraag
heel eerste in die formulier geplaas het. Want is dit nie maar die hart van ons
belydenis nie? Die Drie-enige God! Hierdie vraag is as’t ware die kern en die
bron vanwaaruit al die ander vrae van die formulier vloei. Sonder geloof in die
Drie-enige God het dit geen sin om verdere vrae te stel oor dinge soos sonde,
verlossing, heiligmaking en kerklidmaatskap nie. As ons oor hierdie hekkie
struikel, is die wedloop van die geloof gedoem tot mislukking.

Die geloof in die Drie-enige God is dan ook Petrus se vertrekpunt in
sy brief aan die uitverkore vreemdelinge in die verstrooiing (verse 1-2). Hulle
totale bestaan as uitverkorenes vloei voort uit die werk van die Drie-enige
God. Hulle is immers vooraf gekies volgens die plan van God, die Vader (vers 2;
die eerste Persoon van die Drie-eenheid); dus, voor die grondlegging van die
wêreld alreeds het die Vader mense as sy kinders bestem en bestempel. God, die
Heilige Gees (die derde Persoon van die Drie-eenheid), het vervolgens in die
tyd gekom om mense heilig te maak, vir God af te sonder. Hierdie afsondering
beteken dat mense vreemdelinge vir die wêreld word, maar tuis is in die hemelse
Koninkryk. Deur die heiliging word mense gehoorsaam aan God, en word hulle
besprenkel met die bloed van Jesus Christus (die tweede Persoon van die
Drie-eenheid). Die beeld van die besprenkeling herinner ons aan die wyding van
die priesters in die Ou Testament waartydens hulle liggame en klere met die bloed
van ‘n offerdier besprenkel is – só is hulle geheilig vir hulle dienswerk. Net
so is Petrus se lesers, deur die besprenkeling met die bloed van Christus,
ingewy vir hulle spesiale diens aan God; deur die doop word ons verseël as
priesters in diens van God.

 

Gemeente, hierdie werk – of dalk nog beter: hierdie werklikheid –
van die Drie-enige God is die grond vir die geloof van die uitverkore
vreemdelinge aan wie Petrus sy brief rig. Op verskeie plekke in die volgende
verse praat Petrus oor hulle geloof. Vers 5: deur die geloof. Vers 7: die
beproefdheid van julle geloof. Vers 8: in wie julle, al sien julle Hom nou nie,
tog glo. Vers 9: die einddoel van julle geloof. Vers 21: julle wat deur Hom glo
in God wat Hom uit die dode opgewek het en Hom heerlikheid gegee het, sodat
julle geloof en hoop op God kan wees. Hoofstuk 2:6: die wat in Hom glo, sal
nooit beskaam word nie. Nou, dáárdie geloof vind sy bron en inhoud en
vervulling in die Drie-enige God. Petrus praat oor die geloof van die
uitverkorenes in die lig van die werk van die Drie-enige God.

En in die Naam van daardie God is jy gedoop! Sy Naam is oor jou
uitgespreek. Jy staan nou op sy Naam, Hy het jou vir sy rekening geneem. Gaan
lees maar weer die doopsformulier om te sien wat dit alles behels: “As ons in
die Naam van die Vader gedoop word, verklaar en verseël die Vader aan ons… En
as ons in die Naam van die Seun gedoop word, verseker die Seun aan ons… Net so
ook as ons in die Naam van die Heilige Gees gedoop word, verseker die Heilige
Gees ons…” Dus, deur jou doop kan jy nie meer ontkom aan die Naam van die
Drie-enige God nie. Jy is ondergedompel in die onuitwisbare ink van daardie
Naam; jy is gestempel met sy onuitwisbare eiendomsmerk. En nou is die vraag:
glo jy in daardie Naam? Glo jy in die Drie-enige God? Dit is die hart van ons
belydenis! As jy hierop ‘nee’ moet antwoord, of selfs twyfel aan jou antwoord,
dan moet jy my nou stop. Want dan moet ons eers voortgaan met onderrig, dan is
die katkisasie nog nie klaar nie. Maar as jou antwoord ‘ja’ is, kom ons bely dan saam ons geloof in
hierdie Drie-enige God met die sing van Skr. 27:1 en 4.

Ons gaan verder na vraag 2…

 

2. Glo en bely jy dat al is jy
in sonde ontvang en gebore en nog steeds tot alle boosheid geneig, jy tog in
Christus geheilig is, deur die Vader tot sy kind aangeneem is en deur die
Heilige Gees tot ‘n nuwe gehoorsaamheid opgewek is?
Terloops, hier sien ons
weer die Drie-eenheid aan die werk… Maar ons moet mooi luister! Die vraag is
nie in die eerste plek: glo jy dat jy in sonde ontvang en gebore is, en nog
steeds tot alle boosheid geneig is nie? Nee, ons sondigheid – sowel die aangebore
sonde as die sonde wat ons nog daagliks doen – is in die formulier eenvoudig ‘n
gegewe. My sondigheid is gewoon ‘n feit, ‘n hartseer werklikheid. Maar die
vraag is eerder: lê jy jouself neer by hierdie gegewe, of glo jy dat daar nog
‘n groter werklikheid in jou lewe is? Glo jy dat jy, ten spyte van jou
sondigheid, nogtans in Christus geheilig is, deur die Vader tot sy kind
aangeneem is en deur die Heilige Gees tot ‘n nuwe gehoorsaamheid opgewek is?

Nou, dit is ook die werklikheid vanwaaruit Petrus sy brief skryf. Ná
sy groet, begin hy immers om God te prys: “Geseënd is die God en Vader van onse
Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid aan ons die wedergeboorte
geskenk het” (1:3). Uiteraard impliseer wedergeboorte ‘n dood-wees in die sonde,
anders was wedergeboorte nie nodig nie; natuurlik is sonde die aanleiding vir
God se grote barmhartigheid, anders was barmhartigheid oorbodig. En ons mag
daardie agterliggend werklikheid nooit ontken of negeer nie, anders word die
genade goedkoop. Maar Petrus wys sy lesers op die werklikheid van Christus se
opstanding uit die dood, wat die werklikheid van ons dood-wees in die sonde by verre
oortref! Daar is iets groters as ons sondigheid, hoe groot jou sonde ook al is.
Daar is ‘n groter werklikheid as my gebrokenheid, hoe pynlik ek hierdie
gebrokenheid ook al ervaar in my daaglikse lewe. En die vraag is: glo jy
daardie núwe werklikheid vir jou
lewe? Glo jy dat jou status deur God verander is? Jy wás onrein – glo jy dat jy
deur Christus geheilig is? Jy wás ‘n slaaf van die Satan – glo jy dat jy deur
die Vader tot sy kind aangeneem is? Jy wás ongehoorsaam – glo jy dat die Gees
jou opgewek het om ‘n lewe van gehoorsaamheid te gaan lei?

 

Weereens moet ons mooi luister! Die vraag is nie: doen jy altyd
hierdie dinge nie? Die vraag is nie: lewe jy elke oomblik volgens jou nuwe
status nie? Daardie aspek kom in die vierde vraag aan die orde. Nee, die vraag
is eerder: glo jy dat Gód ‘n verandering in jou lewe gewerk het en steeds werk?
Aanvaar jy dat Gód jou status verander het? Hierdie vraag fokus nie op jou werk
nie, hierdie vraag fokus op die werk van die Vader, die Seun en die Heilige
Gees! Dit is pragtig om te sien hoe Petrus in hierdie brief die fokus plaas op
die werk van God in die lewens van die gelowiges. God se werk is die vertrekpunt:
Hy het aan ons die wedergeboorte geskenk (1:3); julle is losgekoop (1:18); julle
is wedergebore (1:23); julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n konklike priesterdom,
‘n heilige volk (2:9).

Met die verbondsluiting is dít wat God ons gemáák het. En ek weet,
ons sien nog maar min daarvan, ons beleef dit nog nie elke dag nie. Vir ons
gevoel is die werklikheid anders. Maar God vra: “Glo jy in werklikheid?! Ek het jou gevat nog voordat jy iets kon doen of
sê, Ek het aan jou die teken van my liefdesverhouding gegee, en Ek het jou iets
gemaak wat jy nie was nie.” Dit is soos ‘n aantreklike jongman wat ‘n vaal,
onaansienlike meisie vat en sê: ek maak jou my meisie. As daardie meisie in die
spieël kyk, dink sy waarskynlik by haarself: dit is nie moontlik nie. En tog is
die werklikheid anders – hy het immers so gesê! Aan Hom wat ons liefgehad het
en ons van ons sondes gewas het in sy bloed en ons gemaak het konings en
priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle
ewigheid (Openb. 1:5-6). Dit is die werklikheid, want Hy het so gesê. As julle dít glo, kom ons bely dit dan saam
met die sing van Skr. 25:4.

Dan vraag 3.

 

3. Glo en bely jy dat die Ou en
Nuwe Testament die Woord van God en die volkome leer van die saligheid is, soos
dit ook in die Belydenisskrifte van Gereformeerde Kerke uitgedruk en in die
kerk hier geleer word?
Hierdie vraag vloei eintlik noodwendig voort vanuit
die vorige vraag. God skenk ons die wedergeboorte – daar lê die wortel van ons
nuwe posisie voor God! Maar, sê Petrus ‘n bietjie later, hierdie wedergeboorte
is nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende Woord
van God wat tot in ewigheid bly (1:23).  Dus,
met behulp van die lewende en blywende Woord het God nuwe lewe gewek, ‘n lewe
wat wesenlik anders is as by ‘n natuurlike bevrugting. By natuurlike bevrugting
ontstaan verganklike lewe, maar deur sy Woord plant God onverganklike lewe
voort.

Uiteraard weet ons dat ons, na ons menslike natuur, steeds
verganklik is. “Alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens
soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af.” Dit is die
werklikheid waarmee ons daagliks te make het, soms van baie naby wanneer siekte
of dood ons tref. Die menslike liggaam is ‘n kwesbare plant. Maar God se Woord
bly vir ewig; God se Woord het, deur die werking van die Heilige Gees,
lewe-wekkende krag! En Petrus se lesers is die bewys daarvan. Die lewende,
onverganklike Woord het sy lesers tot lewe gewek. Hulle het geluister na die
prediking, hulle het begin glo. Hulle lewe het ‘n nuwe rigting en ‘n nuwe
posisie gekry toe hulle die waarde van die gepredikte Woord ontdek het. Ja, die
oes van die verkondiging bestaan nie uit ‘n verlepte veldruikertjie of uit
vergeelde gras nie. Nee, wanneer God se Woord gehoor vind, bloei die lewe op!

 

Julle is, net soos Petrus se lesers, die bewys van die krag van die
Woord. Die feit dat julle vandag hier staan om julle geloof te bely – hoe
skugter en skaam ook al – getuig daarvan dat die Woord van God lewend en kragtig
is. Deur jare se onderrig vanuit die Woord – in die huise, in die eredienste,
in die skool, in die katkisasieklas – het julle uiteindelik hierdie dag bereik.
Is julle ouers so besonders? Is die dominee se onderrig so besonders? Nee!
Julle is weergebore uit onverganklike saad. En daarom is hierdie derde vraag
van die formulier, wat dalk effens akademies in die ore mag klink, nie onvanpas
nie. Hierdie vraag wil by jou weet of jy erken dat in die Woord – in die Bybel
– God se krag werksaam is tot jou saligheid. En implisiet wil die vraag weet:
gaan jy daarom ook die Woord bly lees? En gaan jy die verkondiging van die
Woord bly opsoek? Petrus noem dit in hoofstuk 2:2 nie verniet die onvervalste
melk van die Woord waardeur ons kan opgroei nie. Dus, selfs ná die
wedergeboorte van sy lesers roep hy hulle steeds op om soos pasgebore
kindertjies na daardie melk te verlang. Want wie eenmaal gesmaak het dat die
Here goedertieren is, verlang altyd na meer!

Maar wat dan van die belydenisskrifte waarvan hierdie vraag praat?
Verlang gerus ook daarna! Die belydenisskrifte is nie die onvervalste melk nie
– dit mag ons nie sê nie. Maar hulle help ons wel om die smaak van die
onvervalste melk te leer ken, en om die onvervalste melk te kan onderskei van
die suur melk van die dwaling. Gebruik die belydenisskrifte gerus – hulle is
uiteindelik niks anders nie as die salige inhoud van jou ‘ja’ vandag. Kom ons bely die belang van die Woord met
die sing van Skr. 43:4.

Dan wil ek nou ook die
vierde vraag aan julle stel…

 

4. Is dit jou voorneme om deur
die genade van God in hierdie leer tot die einde van jou lewe standvastig te
volhard, die verbondsgemeenskap met God te onderhou, Hom van harte lief te hê
en in gehoorsaamheid aan sy Woord te dien, van die wêreld en sy begeerlikheid
af te sien, jou lewe en saligheid buite jouself in Christus te soek en so
hierdie belydenis van jou met ‘n godvresende lewe te bevestig?
Ja, nou is
ons by die punt waarheen ons – effens te haastig – by vraag 2 alreeds wou beweeg
het. By daardie vraag moes ek eers leer dat God ons iets maak wat ons nie uit
onsself is nie; daar moes ek eenvoudig leer glo wat God oor my uitgespreek het:
wedergebore, kind van God, koning en priester. Maar nou wil God by my weet: is
dit jou voorneme om ook volgens jou nuwe status te gaan lewe?

En weer moet ons fyn luister – die vraag is nie óf jy dit altyd doen
nie, die vraag is of jy die voorneme
het om dit te doen. Leef daar in jou die begeerte om ‘n godvresende lewe te
lei? Dit is presies die vraag en antwoord van die Kategismus aan die einde van
die behandeling van die tien gebooie: “Kan dié wat tot God bekeer is, hierdie
gebooie volmaak gehoorsaam? Nee, want selfs die allerheiligstes het, solank
hulle in hierdie lewe is, nog maar ‘n geringe begin van hierdie gehoorsaamheid,
maar tog so dat hulle met ‘n ernstige
voorneme
begin om nie alleen volgens sommige nie maar volgens al die
gebooie van God te lewe.” Dáár begin dit – by die wil en die voorneme! Jy
beantwoord hierdie vraag dus nie deur uiterlik
‘n mooi lewe te lei nie, maar jy beantwoord dit slegs deur ‘n gewillige hart.

 

En vanuit daardie gewillige hart, wat trouens ‘n werk van die Gees
is, vloei dan ook die sigbare vrugte. Dan rig ons nie meer ons lewe in volgens
die begeerlikhede van die wêreld nie (1:14), maar dan word ons hele
lewenswandel hoe langer hoe meer heilig (1:15). Dan groei daar die
gehoorsaamheid tot ongeveinsde broederliefde (1:22). Dan begin ons alle
boosheid en bedrog en geveinsdheid en afguns en kwaadpratery aflê (2:1). En Petrus
begrond hierdie oproep tot heiligheid in die heiligheid van die Here; vandaaruit
kry dit vervolgens gestalte in baie konkrete vorms.

Gaan dus terug na die eerste vraag: glo jy in die Drie-enige God,
Vader, Seun en Heilige Gees? Ken jy Hom? Ken jy Hom in al sy heiligheid? En wek
dit in jou die begeerte om ook só te wees? Wek dit in jou die begeerte om die
verbondsgemeenskap met God te onderhou, om Hom van harte lief te hê, om volgens
sy Woord te lewe, om van die wêreld en sy begeerlikhede af te sien? En ek weet:
die begeerte en die werklikheid verskil nog so dikwels van mekaar. Paulus het
ook daardie stryd geken: “die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat
ek nie wil nie, dit doen ek” (Rom. 7:19). Daardie stryd bly! Maar vra die Here
vir ‘n opregte hart, vra Hom vir ‘n hart wat onverdeeld aan Hom behoort. En as
jy struikel, gaan soek dan jou saligheid buite jouself in Christus! En vanuit
sy werk in jou hoef jy nie moed op te gee nie, maar kan jy jouself opnuut gaan
oefen in die godsaligheid. Om ons daarin
die rigting te wys, kom ons luister op hierdie punt na die wet van die Here, en
dan sing ons direk daarna uit Ps. 25:2.

En dan die laaste vraag…

 

5. Beloof jy, terwyl die volle
gemeenskap met die kerk van Christus nou vir jou ontsluit word, om as ‘n
lewende lid van die kerk die bediening van Woord en sakramente ywerig te soek,
jou gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede en
tot uitbouing van die koninkryk van God aan te wend, en dat jy jou aan die
Christelike vermaning en tug sal onderwerp as jy in leer of lewe jou misgaan?

In ons tyd is hierdie seker een van die moeilikste vrae om met ‘n eerlike
gewete te kan antwoord. Want mense wil wel in die Drie-enige God glo, hulle wil
hulle lewe aan Jesus Christus wy, maar die verpligting om daarmee saam ook deel
van sy liggaam te wees… - dit is dikwels een te veel. Om jou lewe nie net aan
die Here te wy nie, maar ook aan sy gemeente – dit is vir baie mense vandag
iets vryblywends. En tog, broers en susters, is dit ‘n natuurlike uitvloeisel
van die voorafgaande vrae. Dit is ‘n logiese gevolg van my geloof in Jesus
Christus. Hy is immers die Hoof van die liggaam, Hy is die Herder van die
kudde, Hy is die hoeksteen van die gebou…

 

Ja, hierdie laaste is die beeld wat Petrus in hoofstuk 2 van sy
brief ook gebruik. Jesus Christus is die steen, die hoeksteen, wat deur God
verkies is. En ons word in vers 4 opgeroep om na Hom toe te gaan. Maar as ons
dit doen, moet ons ook die konsekwensies dra: “Kom na Hom toe… én laat julle [dan] ook soos lewende
stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike
offers te bring.” As ons ons lewens op die hoeksteen wil bou, dan word ons
vanselfsprekend ook ingemessel in die geestelike huis van die gemeente. En,
broers en susters, in hierdie huis mag daar nie dooie stene wees nie – ek is
nie maar net deel van die gemeente nie, my naam staan nie maar net op die
lidmate-register nie. Nee, in sy huis soek die Here lewende stene wat geestelike offers bring. En vraag 5 van die
formulier maak duidelik wat daardie offers onder andere behels: ek soek ywerig
na die bediening van Woord en sakramente – ‘ywerig’ beteken dat ek nie maar net
hier is nie, maar dat ek myself ook deeglik voorberei op die eredienste en die
nagmaalsviering, en dat ek aktief deelneem! Verder: ek wend my gawes (en elkeen
het gawes ontvang!) tot nut en saligheid van die ander lede aan – want ek het
jou nodig, en jy het my nodig; jy mag nie jou gawes vir jouself hou nie, want
dan berokken jy die gemeente en die koninkryk skade. En dan belowe jy ook nog
om aan jou aan die tug te onderwerp wanneer dit nodig sou wees – ja, lewende
stene laat hulleself vermaan, laat hulleself teregwys. Dit is geestelike
kerklidmaatskap!

 

Gemeente, vandag word daar dikwels sinies gepraat oor
kerklidmaatskap. ‘n Groot deel van ons land se burgers noem hulleself
christene, maar die kerklidmaatskap verminder teen ‘n skrikwekkende tempo. Hoe
is dit moontlik – die getal christene groei, maar die kerke word kleiner? Hoe
kan ons die Hoof, Christus, losmaak van sy liggaam? Daarom moet jy goed weet
wat jy doen as jy vandag ‘ja’ antwoord. Daarmee verbind jy jouself tot ‘n
lewende lidmaat van hierdie gemeente. En dit het baie praktiese konsekwensies. Jy
word opgeroep om daardie konsekwensies ook getrou na te kom. Jy is immers deel
van ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk om te
verkondig die deugde van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot sy
wonderbare lig. Gaan lewe dan ook in die lig!

Om te wys dat julle dit
wil doen, kry julle saam met ons almal nou die geleentheid om ons gawes aan die
Here te gee, wat bestem is vir die diens van barmhartigheid en vir
hulpbehoewende kerke. En dan sing ons daarna van die vreugde van die broeder-
en susterskap in die gemeente van Christus uit Psalm 133:1.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie
(oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 9:1, 3,
    5, 7, 10

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en
wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus,
die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die
konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 150

Lees: 1 Petrus 1:1-2:10

Gebed

Preek

  • Lees ‘inleiding’ tot die formulier vir die aflegging van
    belydenis van geloof
    • Preek – deel 1
  • Lees vraag 1 van die formulier…
    • Preek – deel 2
    • Sing Skr. 27:1 en 4
  • Lees vraag 2
    • Preek – deel 3
    • Sing Skr. 25:4
  • Lees vraag 3
    • Preek – deel 4
    • Sing Skr. 43:4
  • Lees vraag 4
    • Preek – deel 5
    • Lees die wet
    • Sing Ps. 25:2
  • Lees vraag 5
    • Preek – deel 6
    • Kollekte
    • Sing Ps. 133:1
  • Antwoord op die vrae (staande): jy het nou die vrae, asook die
    toeligting vanuit die Woord van die Here, gehoor. Wat is hierop jou
    antwoord…
  • Voltooi formulier + seën
    • Sing Ps. 134:4 (staande)

Gebed

Slotsang Ps. 63:1, 3 en 6

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy
aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor
jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)