Sondag 28(2) : Jesus Christus hou ‘n maaltyd, en ons is die gaste!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-11-11
Teks: 
Johannes 6 : 47-59 en 1 Kor. 11 : 23-29
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten

 

Preek – HK, Sondag 28

 

Geliefde
gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ná die
behandeling van die doop in Sondae 26 en 27 gaan ons vervolgens, enkele weke
lank, luister na wat die Skrif ons leer oor die nagmaal. Drie Sondae, om
presies te wees. Maar is dit nou regtig nodig om in ons dae nog so lank en
uitgebreid oor die nagmaal te praat? Ja, natuurlik verstaan ons hoekom die
Kategismus so uitgebreid oor die nagmaal praat – dit kom uit ‘n tyd van
kerklike twis oor die nagmaal. Maar ons het vandag mos niks meer met Rome te
doen nie? En wie van ons het nog enige stryd met Lutherane? Die nagmaal is mos
‘n eenvoudige, simboliese handeling van eet en drink!? ‘n Mens moenie alles so
presies wil probeer uitpluis nie; dit gaan oor die gesindheid van die hart. Dit
gaan daaroor dat ons ons rig op die offerande van Jesus Christus – die res los
ons vir die teoloë.

En tog,
gemeente, moet ons versigtig wees met so ‘n redenasie. Dit is opmerklik hoe dwarsdeur
die geskiedenis, sodra die kerk duidelik begin formuleer waaroor dit presies in
die nagmaal gaan, dat dan byna altyd ook die stryd ontbrand. Reeds in die Bybel
sien ons dit gebeur. Nadat Jesus naamlik in Johannes 6 opdrag gegee het om sy
vlees te eet en sy bloed te drink, hoor ons hoe baie van sy dissipels sê:
“Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister?” (Joh. 6:60), en dan begin
hulle Hom een vir een verlaat. Jesus se preek oor die eet van sy vlees en die
drink van sy bloed dien tot sifting van sy volgelinge. En sedertdien het dit
nog nie verander nie. Ons sien dieselfde stryd in die vroeë kerk, ons sien dit
in die tyd van die Reformasie, en ons sien dit ook vandag nog. Rondom die
nagmaalstafel, die tafel van die eenheid van die liggaam van Christus, begin
dikwels ook die verdeeldheid. Laat ons daarom die uitgebreide behandeling van
die nagmaal ter harte neem, ook al kom dit uit ‘n ver verlede.

Tema: Jesus Christus hou ‘n maaltyd, en ons is die gaste!

  1. Christus se beloftes
  2. Ons deelname

 

1. Gemeente,
in ons tyd stel ons gesamentlike maaltye as gesin dikwels nie meer so baie voor
nie. Die spoed waarteen ons lewe en die vol program van elke lid van die gesin,
beteken dat ons nie meer baie tyd aan maaltye kan spandeer nie. Ons heg ook nie
geweldig baie waarde aan ons gesamentlike maaltye nie – dit is iets wat ons
moet doen en agter die rug kry. Daar is altyd iemand wat weer haastig êrens
heen oppad is. Ons gesamentlike maaltye het daarom dikwels nog maar weinig
inhoud. Maar wanneer die Here ons na sy maaltyd nooi, dan is dit anders – die
nagmaal is ryk aan inhoud! Ons lees in antwoord 75: “Christus het ons beveel om
van die gebreekte brood te eet en van die beker te drink.” Goed, ons gaan dus
eet. Máár, “daarby het Hy beloof…” A ha, die Here se maaltyd bevat beloftes!
Nou, ek weet nie van julle nie, maar ons maaltye bevat nie regtig beloftes nie –
behalwe miskien dat, as jy jou groente opeet, jy nagereg gaan kry. Maar wanneer
ons by die Here se maaltyd aansit, dan kry ons ryk beloftes – kom ons kyk saam
na hierdie beloftes…

 

Die eerste
belofte is, dat sy liggaam so seker vir my aan die kruis geoffer en gebreek en
sy bloed vir my gestort is as wat ek met my oë sien dat die brood
van die Here vir my gebreek en die beker aan my gegee word – dit is die ‘ten
eerste’ van antwoord 75. Dus, broers en susters, hierdie eerste belofte vra van
ons om met ons oë te kyk! Die betekenis van die nagmaal is nie slegs in
die eet en die drink nie, maar heel eerste in die kyk – en dit is iets wat
álmal van ons kan doen, nie net die belydende lidmate nie. Seuns en dogters,
julle mag miskien nog nie aansit om te eet of te drink nie, maar julle kan ook
kyk na wat hier voor gebeur, en julle kan ook nadink oor die betekenis van wat
hier voor gebeur, en julle kan ook die betekenis van die nagmaal op julle lewens
toepas.

Nou
goed, wat sien ons dan as ons so kyk? Wel, ons sien die voorganger wat die
brood breek. En as jy mooi kyk, sal jy sien dat ek dit baie bewustelik doen: saam
met die woorde “die brood wat ons bréék”, gaan ook die aksie om die stuk
brood in twee te breek. Hoekom doen ons dit so? Is dit maar iets wat die kerk
self uitgedink het? Nee, gemeente, ons volg daarin die Here Jesus na, wat dit
ook gedoen het. Hy het tydens die laaste paasmaaltyd die brood geneem, en nadat
Hy gedank het, het Hy dit gebreek en aan sy dissipels gegee. Goed, maar was dit
nie maar die algemene gebruik in daardie tyd om die brood te breek nie? Hulle
het mos nog nie gesnyde brood geken, soos ons vandag nie? Dit is mos ook wat
Jesus gedoen het toe Hy die skare met die vyf brode en die twee vissies gevoed
het – Hy het eenvoudig die brood gebreek. In ‘n tyd sonder elektriese
broodsnyers word die brood gebreek, of hoe?

Nie so
vinnig nie! Want in 1 Korinthiërs 11, waar Paulus die geskiedenis van die
laaste Paasmaaltyd deurvertel soos dit aan hom oorgelewer is, wys die Here dat
dit nie maar net ‘n gewone maaltyd-gebruik was nie. Daar sit meer hieragter!
“Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die
Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; en nadat Hy
gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir
julle
gebreek word
…” Wanneer die voorganger, in navolging van die Here
Jesus, die brood breek, dan neem ons nie maar net ‘n ou gebruik oor nie; nee,
dan wys dit vir ons iets van die offer van die Here Jesus aan die kruis. Wanneer
ons sien hoe die brood gebréék word, dan moet ons dink aan hoe Jesus Christus
sy liggaam gegee het om gebréék te word onder die las van die sonde en die
toorn van God; dan moet ons dink aan die spykers deur sy hande en sy voete en
sy sy, dan moet ons dink aan sy koorsige liggaam in die warm middagson daar aan
die kruis op Golgota. Sy liggaam is gebreek vir ons!

 

En ‘n
gebreek liggaam het tot gevolg dat daar bloed vloei – dit is die ander sigbare
teken wat in die nagmaal vir ons gegee word: die beker met die wyn. En ook wat
die beker betref, kan ons almal saam kyk, jonk en oud. Ons kan almal sien hoe
die voorganger vanuit die kan ‘n beker vol wyn gooi, en ons kan almal sien hoe
daardie beker sirkuleer tussen diegene wat hier voor sit. En wanneer ons dit
sien, dan kan ons almal dink aan die Here Jesus wat sy bloed vir ons gestort
het; dan kan ons almal dink aan hoe daardie bloed by sy wonde uitgesypel en
stadig teen die kruispaal afgeloop het, dan kan ons almal dink aan hoe die
doringkroon bloed by sy gesig laat afloop het, dan kan ons almal dink aan hoe
die bloed op sy gegeselde rug begin verdroog het en vlieë aangetrek het.

Kyk met
jou oë na hierdie dinge, elke broer en elke suster, van die jongste tot die
oudste. Wees baie bewus van die breking van die brood en die skink van die wyn
in die beker. En sien daarin hoe Jesus sy liggaam geoffer en gebreek het, en hoe
Hy sy bloed gestort het… tot vergifnis van sondes (soos Hy self in Mt. 26:28 sê).
Reeds in die sigbare gebeure rondom die nagmaal, selfs nog voordat ons enige iets
geëet of gedrink het, kom hierdie belofte na ons toe.

 

En dan
die tweede belofte wat die Here aan sy maaltyd gee, naamlik “dat Hy self my
siel met sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed net so seker vir die ewige
lewe voed en verkwik as wat ek die brood en die beker van die Here as
ontwyfelbare tekens van Christus se liggaam en bloed uit die hand van die
bedienaar ontvang en met die mond geniet” – dit is die ‘ten tweede’ van
antwoord 75. Dus, nadat ons gekýk het – en reeds daarin groot waarde
gevind het! – mag ons nou ook uit die hand van die bedienaar ontváng. Hierdie
laaste woorde verwys na ‘n tyd in gereformeerde kerke toe mense in een lang ry
gestaan het, en een vir een na vore gegaan het om ‘n stukkie brood en ‘n slukkie
wyn van die bedienaar te ontvang – ‘n soort lopende nagmaal wat ons vandag weer
in sommige kerke van gereformeerde belydenis terugvind.

En
hoewel ons dit hier by ons anders doen, bly die feit steeds dieselfde: ek
ontvang die brood en die beker van die Here, deur middel van die bedienaar wat
dit rondstuur. Ek vat ‘n stukkie brood van die bord af, ek kan voel hoe sag
daardie stukkie brood tussen my vingers is, en ek sit dit in my mond. En dan
voel ek met my tong die tekstuur van die brood, en ek kan die smaak daarvan
proe. Dieselfde geld vir die beker – ek ontvang die beker, ek bring dit na my
lippe, ek ruik die aroma van die wyn, en ek voel hoe die wyn deur my mond gaan
en by my keel afgly. Dit is goed moontlik dat ons hierdie sensoriese belewing
selfs geniet. In elk geval weet jy dat dit ég is – jy beleef dit dan
eerstehands! En dit is nou presies waaroor die sakramente gaan: dit gee vir ons
‘n eerstehandse, lewensegte, fisiese ervaring om daarmee ons aandag te rig op
‘n gééstelike werklikheid!

En die
geestelike werklikheid waarop die Here ons in hierdie tweede belofte wil rig,
is die feit dat ons in die nagmaal gevoed en verkwik word. Net soos ons die
brood en die wyn ontvang en met die mond geniet, net so word ons gevoed met die
liggaam en bloed van Jesus Christus. Ons word in ons siele gevoed tot die ewige
lewe met Christus se gekruisigde liggaam en uitgestorte bloed. Christus belowe
in die nagmaal vir ons dat ons besig is om onsself met Hom te voed, en dat ons
in Hom versterk word. Dit is net so werklik as die smaak en die gevoel en die
reuk van brood en wyn. En hoekom het ons dit nodig, gemeente? Wel, hoekom het
jy nodig om elke dag te eet en te drink? As jy soggens opstaan en nie jou
ProNutro of jou broodjie eet nie, hoe voel jy teen middagete? Op ‘n goeie dag
voel jy dalk bietjie swak en honger, op ‘n slegte dag is jy sommer knorrig.
Dieselfde gebeur met ons geestelike lewe. As ons nie deur ons Verlosser gevoed
word nie, dan word ons geestelik swak. Dan het ons nodig om weer gevoed en
versterk te word. En dit is wat die Here in hierdie tweede belofte vir ons
aanbied. Die Here belowe, so seker soos wat jy die brood en die wyn eet en
drink, dat Hy jou aan die nagmaal sal voed, sodat jy die krag en die lus kry om
verder te gaan om as sy kind te lewe.

 

Dus,
gemeente, die nagmaal is belofte-maaltyd! In die eerste belofte – deur
eenvoudig te kýk na die brood wat gebreek en die wyn wat geskink word – word ek
verseker van die werklikheid van Christus se gebreekte liggaam en uitgestorte
bloed. En in die tweede belofte – deur daardie brood en wyn te voel en te ruik
en te proe – ontvang ek Christus se lyding baie persoonlik vir die versterking
van my geloof. Broers en susters, dit is wat in hierdie skynbaar eenvoudige
handelinge vir ons belowe word. Inteenstelling tot ons maaltye, waar dit
dikwels ‘n kwessie is van hap-sluk-weg, neem ons die tyd aan die maaltyd van
die Here, en gebruik ons al ons sintuie om hierdie ryk beloftes van die Here
ons eie te maak. En daarom sal jy ook by ons nagmaalsviering sien dat, wanneer
die laaste persoon ‘n stukkie brood geneem het, ek altyd nog ‘n rukkie wag
voordat ek oorgaan tot die volgende handeling. Dit is nie maar net ‘n kwessie
van: almal het gekry, dus ons gaan verder nie. Nee, elkeen wat hier aan tafel
sit – ook die laaste een wat ‘n stukkie brood of ‘n slukkie wyn vat – moet die
tyd kry om al sy sintuie in te span om die geestelike werklikheid te kan
beleef. Christus se belofte daarin is geweldig groot! Genoeg rede om saam ‘n
lofsang te sing, soos wat Jesus en sy dissipels gedoen het (Mt. 26:30). [sing
Ps. 116:2 en 3]

In die tweede plek let ons op ons
deelname
.

 

2. Dus,
jy het nou ‘n stukkie brood gevat en geëet, en jy het ‘n slukkie wyn gedrink.
Dit is beide tekens en seëls (let maar op die woorde ‘wys’ en ‘verseker’ in
vraag 75) daarvan dat jy Christus se gekruisigde liggaam eet en sy uitgestorte
bloed drink. Máár, is vraag 76 se vraag, wat beteken dit nou regtig om die
gekruisigde liggaam van Christus deur die geloof te eet en sy bloed wat vergiet
is, deur die geloof te drink? Wel, net soos in die geval van antwoord 75, is ook
antwoord 76 tweeledig…

 

In die
eerste plek beteken dit dat ek met ‘n gelowige hart die hele lyding en sterwe
van Christus aanneem en daardeur vergewing van sondes en die ewige lewe verkry
(dit is die eerste deel van antwoord 76). Dus, met die daad van eet en drink, wys
ek dat ek glo dat Jesus Christus vir gely en gesterf het. As ek Jesus
Christus in die nagmaal eet en drink, dan aanvaar ek dat sy liggaam vir my
gebreek en sy bloed vir my gestort is. Dit is toeëiening van die werk van Jesus
Christus! Só ontvang ek vergewing van sondes en die ewige lewe. Gemeente,
waarmee ons ten diepste hier te make het, is die regverdiging (of: die
regverdigmaking)! Onthou maar hierdie bybelse begrip. Regverdiging beteken dat
God sê: “Omdat jy glo in wat die Here Jesus gedoen het, en omdat jy gelowig sy
werk aanvaar vir jou lewe, daarom is jou verhouding met My weer herstel!” Dinge
met God is weer reg, Hy sal ons nie meer veroordeel nie – nie op grond van ons
werk nie, maar op grond van Christus se werk! Ons het die sekerheid dat ons in
Christus as God se kinders aangeneem is, en daardeur deel het aan die ewige
lewe: “Ek is die brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie
brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid” (só sê Jesus in Joh. 6:51).

Dus,
met ons deelname aan die nagmaal vier ons in feite die fees van ons
regverdiging. Hoewel ons dit totaal onwaardig is, verbly ons ons in die feit
dat God, die Regter, deur middel van ‘n wetlike uitspraak, ons waardig verklaar
het. Daarom mag ons seker wees, só sê die nagmaalsformulier, dat geen sonde of
swakheid wat teen ons wil in ons oorgebly het, kan verhinder dat God ons in
genade aanneem en waardig máák om deel te hê aan hierdie hemelse voedsel
en drank nie. Nagmaalstyd is feestyd, want dan gedenk ons hoe Christus ons
bevry het van die sonde en die dood sodat ons nou aan God kan behoort! Die
nagmaal is nie ‘n dodemaal nie, maar ‘n feesmaal!

 

Maar,
gemeente, ons moet nog ‘n treetjie verder gaan. Want om Christus se gekruisigde
liggaam te eet en sy uitgestorte bloed te drink, beteken nog meer. Dit is
waaroor die tweede deel van antwoord 76 gaan: “Dit beteken boonop om deur die
Heilige Gees, wat tegelyk in Christus en in ons woon, al hoe meer so met sy
geseënde liggaam verenig te word dat ons vlees van sy vlees en been van sy
gebeente is… Dit wil sê dat ons deur een Gees – soos die ledemate van die
liggaam deur een siel – ewig lewe en geregeer word.” Hier gaan ons dus nog ‘n
treetjie verder as die regverdiging – hier gaan dit oor ons vereniging (ons
eenwording) met Christus, die feit dat ons ‘in Christus’ is. Dit is presies wat
Jesus van Homself sê in Johannes 6:56: “Wie my vlees eet en my bloed drink, bly
in My en Ek in hom.” Deur gelowige nagmaalsviering word ons opgeneem in die
Persoon van Jesus Christus, en daardeur in die bestaan van die Drie-enige God! Dit
beteken nie dat ek God word of op een of ander manier vergoddelik word nie,
maar dit beteken wel dat God Homself oopmaak vir my, en my in Hom opneem. My
bestaan is nou nie meer uit die aarde aards nie, maar ek voer nou ‘n bestaan
wat vanuit die hemel gevoed word. Dit is ‘n onbeskryflike dog heerlike
werklikheid, broers en susters; dit is ‘n geheimenis waaroor ons maar net al stamelend
kan praat, ‘n geheimenis wat ons beter kan beleef as wat ons dit kan beskryf. En
tog bly dit ‘n werklikheid – die diepe eenheid met Jesus Christus. Ek word
opgeneem in sy Persoon. Ek het gemeenskap met God – Hy in my, en ek in Hom!

 

Máár,
gemeente, moenie dat hierdie misterieuse eenwording verander in een of ander
mistiek nie. Dit is ‘n misterie, dit is ‘n geheim, ja, maar daarmee is dit nog
nie mistiek wat bo ons werklikheid sweef nie. Nee, die geheim van ons
eenwording met Christus het baie praktiese implikasies vir ons daaglikse lewe. En
antwoord 76 sê dit ook! Die Gees verenig ons nie slegs met die geseënde liggaam
van Christus nie, maar Hy regéér ons ook! Ek word nie meer deur die
luste en begeertes van die vlees regeer nie, maar deur die Gees van Jesus
Christus. Iemand anders as die duiwel het nou bevel oor my lewe. En dit lei tot
die geestelike oorlogvoering wat almal van ons veronderstel is om in ons lewens
te ervaar – in hierdie oorlog moet die ou natuur hoe langer hoe meer doodgemaak
word, en moet die nuwe mens hoe langer hoe meer opstaan. Gemeente, waar ons
sopas met die regverdiging te make gehad het, het ons hier met die heiliging te
make. Heiliging is die proses waardeur die ou mens in ons hoe langer hoe meer
afsterf, en ons hoe langer hoe meer vir Jesus Christus begin lewe.

 

En ons kan hierdie laaste stukkie van wat dit beteken om Christus se
vlees te eet en sy bloed te drink, nie sommer net weggooi as onbelangrik nie.
Inteendeel, dit is noodsaaklik! Jou en my heilige lewenswandel wys of ons
werklik gemeenskap met God het – só leer Johannes ons in hoofstuk 1 van sy eerste
brief. Ons kan nie sê dat ons gemeenskap met God het – dat Hy in ons is, en ons
in Hom – en intussen in die sonde bly lewe nie; ons kan nie sê dat ons deel het
aan die goddelike natuur, en dan intussen in die duisternis bly wandel nie; jy
kan nie jouself daarbuite presenteer as ‘n christen en intussen die lewe van ‘n
heiden lei nie. Dan lieg ons, dan doen ons nie die waarheid nie!

Om gemeenskap met God te hê, beteken in die praktyk van ons lewens
om dan ook in sy heilige lig te wandel. As ons besef dat God lig is, en in Hom
géén duisternis is nie, dan besef ons ook dat die gemeenskap met Hom in
dáárdie lig móét geskied
. Duisternis is nie deel van daardie lig nie;
dus, dan kan duisternis – die sonde – ook nie meer deel van ons lewenswandel
wees nie. Ja, dan is daar nog wel baie duisternis rondom ons; ons lewe
immers in ‘n wêreld vol duisternis, ‘n wêreld vol sonde en die gevolge van die
sonde; maar dan lewe ons nie meer in daardie duisternis nie. Nee, dan
word elke christen soos iemand wat op ‘n donker verhoog in die helder lig van
die kollig loop; hy beweeg stadig vorentoe sodat hy in die lig kan bly, sonder
om te verdwaal of te struikel; en terwyl hy in die lig wandel, doen hy die
dinge wat pas by daardie lig, tree hy op soos ‘n kind van die lig, en lê hy alle
werke van die duisternis af. 

 

Gemeente, laat ons in daardie lig wandel. U wat uself ‘n christen
noem, lewe ook soos ‘n christen, doen die werke van die lig! En
as ons in God se lig wandel, dan is ons nie alleen nie, ons is nie enkelinge op
die pad nie. Nee, ons ontmoet ander wandelaars in die lig, mede-gelowiges, die
mense wat hier in die kerk om u heen sit, die mense saam met wie ons aan die
maaltyd van die Here sit. Hulle is mede-wandelaars in die lig! U mag, nee, u
moet met hulle gemeenskap beoefen; wandelaars in die lig wys mekaar nie af nie,
laat mekaar nie alleen nie. Ons hou ons nie in hoogmoed afsydig van ons
mede-wandelaars nie. Nee, ons vind mekaar juis in die besef dat ons almal, een
vir een, reiniging van sonde nodig het in die bloed van Jesus Christus. Ons
vind mekaar rondom die nagmaalstafel. En dan sê of dink ons nie: o, jy is die
een wat dit of dat aan my gedoen het nie. Nee, dan sê ek vir jou: “Ek,
ellendige mens, lewe van die vlees en bloed van Jesus Christus, en ek het die
begeerte om vir Hom te lewe.” En dan sê jy: “Dit is wonderlik, ek ook!” En só
ontmoet ons mekaar om die nagmaalstafel – wandelaars in die lig.

 

Sjoe, dit is ‘n mondvol wat die nagmaal alles beteken! Heelwat meer
as wat ons dikwels daarvan maak, of hoe? ‘n Maaltyd propvol beloftes vir nou en
vir die ewigheid; ‘n maaltyd met betekenis vir my lewe hier en nou. Binnekort
kyk ons verder na wat die Kategismus, en daardeur die Skrif, ons nog meer wil
leer!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie
(oggend)

 

  • VOORPSALM Skr. 19:3-7

Votum Ps. 124:4

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en
wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus,
die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die
konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 113 (by die viering van die Pasga onder God se volk, is
daar altyd ook sekere liedere

gesing, in besonder die sogenaamde hallel-psalms – Psalm 113-118. By ons behandeling van die nagmaal
vandag, wil ons ook uit hierdie psalms saam sing.)

Voor die wetslesing sing Ps. 114

Wetslesing + 1 Johannes 1:5-2:2

Gebed

Lees:    Johannes 6:47-59

1 Korinthiërs 11:23-29

Sing Ps. 115:6-8

Teks: HK, Sondag 28

Preek

  • Tydens die preek: Ps. 116:2 en 3
  • Amenlied Ps. 117

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 118:13 en 14

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
/
Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn
en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy
vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)