Sondag 27(2) : Wat doen die doop met ons?

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-11-04
Teks: 
I Korinthiërs 6 : 1-11
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – HK, Sondag 27; lees 1
Korinthiërs 6:1-11

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Wat doen die doop met ons?

Hierdie vraag kan natuurlik baie maklik omgedraai word na: wat doen
ons met die doop? By hierdie laaste vraag gaan dit oor hoe ons na die doop kyk,
watter dooprituele ons in die kerk het, en wat ons dogmatiese standpunt rondom
die doop is. Dus, wat doen óns met die dóóp – nie ‘n onbelangrike vraag nie! Maar
ek het die vraag vir vandag omgedraai. Nie: wat doen ons met die doop nie, maar
wat doen die dóóp met óns? Nou is ons in ‘n totaal ander sfeer, broers en
susters. Nou is ek nie meer die handelende persoon wat moet regstaan met my
opinie oor die kinder- of die geloofsdoop nie; nou is ek nie meer die een wat
moet sê of ons een keer of drie keer water op die babatjie se kop moet gooi
nie; nou word van my geen uitspraak gevra oor besprinkeling of onderdompeling
nie. Nee, nou is ek passief. Nou word daar iets áán my gedoen. Die dóóp doen
iets met my!

Vir stoere gereformeerdes is dit dalk ‘n tikkie dramaties. Dit is
mos nie asof ‘n bietjie kraanwater iets aan my doen nie? Nee, daarvoor is ons
darem te nugter. En jy’s reg. Maar die Kategismus leer ons om verder te kyk as
die handjievol water, want in hierdie gewone kraanwater het ons ten diepste te
make met ‘bloed’ en ‘Gees’. Bloed en Gees? Ja, gaan vat ‘n pen by die huis en
dan onderstreep jy in Sondag 26 en 27 al die kere waar die woorde ‘bloed’ en
‘Gees’ gebruik word. As jy mooi kyk, sal jy dit in elke vraag en antwoord van
Sondag 26 en 27 vind – óf in die vraag, óf in die antwoord, óf in altwee. Bloed
en Gees – dáárin lê uiteindelik die krag van die doopwater. Dus, as ons vra:
wat doen die doop met ons?, dan vra ons in wese: wat doen die bloed van Christus
met ons? En wat doen die Gees van Christus met ons? Weereens: stoere
gereformeerdes hou nie baie van hierdie vraag nie, want dit maak hulle passief,
dit laat hulle hulpeloos voel dat iets áán hulle gedoen word. Mooi so! Dan is
ons waar ons moet wees – passief en hulpeloos, sodat die doop iets met ons kan
doen, sodat die doop ons kan verander. Of nog beter: sodat Christus se bloed en
sy Gees ons kan verander. Dít is waaroor dit vandag gaan. Vergeet daarom vir ‘n
oomblik – net vir ‘n oomblik! – van alle diskussie oor die dogma rondom die
doop. Hoe belangrik ook al, hierdie diskussie raak leeg en oppervlakkig as die
doop – as die bloed en die Gees – nie ons léwens verander nie. Eers wanneer ons
gelowig leer antwoord het op die vraag: wat doen die doop met ons?, dan kan ons
verder praat oor die vraag: wat doen ons met die doop? Kom ons maak dit dan ook
die tema vir die preek:

Tema: Wat doen die doop met ons?

  1. Dit bring verandering
  2. Dit bring skeiding
  3. En dit van jongs af

 

1. In sy eerste brief aan die Korinthiërs raak Paulus ‘n klomp verskillende
sake aan wat in die gemeente van Korinthe geleef het. Hy praat onder andere oor
die huwelik, oor die tug, oor die gawes van die Gees… En dan wy hy ook nog ‘n
gedeelte aan ‘n sekere praktyk wat blykbaar onder die Korinthiërs kop
uitgesteek het, naamlik om mekaar voor die gereg te sleep, om mekaar hof toe te
vat. Dus, broers in die gemeente het bepaalde geskille gehad (heel moontlik oor
finansies), en die uiteinde daarvan was dat hulle mekaar gedagvaar het. Dit is
waaroor ons Skrifgedeelte gaan.

Maar… wat het dit nou met die doop te make? Alles, gemeente, solank
ons maar net by die regte plek begin. En dit is in hierdie geval nie by die
begin van hierdie gedeelte nie (nie by vers 1 nie), maar by die einde van
hierdie gedeelte (by vers 11). Want in vers 11 wys Paulus wat die begronding is
van sy voorafgaande betoog. Paulus het in die eerste tien verse betoog dat dit
onbegryplik is dat gelowiges hulle regsake voor onregverdiges (vers 1) of
ongelowiges (vers 6) moet bring. En daarom vra hy in vers 9: “Maar weet julle
dan nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie?” Ja
nee, dít het die Korinthiërs wel geweet. Maar hoekom, vra Paulus, laat julle
dan toe dat koninkryksburgers deur onregverdiges beoordeel word? Wil julle weet
hoe lyk hierdie onregverdiges? En dan gee Paulus in vers 10 ‘n lys van tien
kenmerkende sondes in die ongelowige maatskappy van daardie dae. Dít is die
onregverdiges, sê Paulus, en hulle sal die koninkryk van God nie beërwe nie.

En dán, in vers 11, kry ons die kontras! Julle was ook so, sê
Paulus, julle het ook in een of meerdere van hierdie sondes gelewe. Máár nie meer nie! En dan wys Paulus
vervolgens drie maal, elke keer vanuit ‘n ander invalshoek, dat die Korinthiërs
anders geword het: “En dit was sommige van julle, máár julle het jul laat
afwas, máár julle is geheilig, máár julle is geregverdig in die Naam van die
Here Jesus en deur die Gees van onse God.” Kom ons kyk gou na elkeen van hierdie
drie veranderings…

 

Dus, in die eerste plek het die Korinthiërs hulle laat afwas – hulle
het ‘n wassing ondergaan. En die werkwoord wat hier gebruik word, is só
saamgestel dat dit dui op ‘n volledige afwasssing. God het die bekeerde
sondaars in Korinthe se skuldrekord volledig skoongevee! Hier word dieselfde
werkwoord gebruik as wat in Handelinge 22:16 gebruik word, waar Paulus vertel
hoe Ananias jare gelede vir hom gesê het: “Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas…” Dus, baie
waarskynlik dat dieselfde Paulus met die gebruik van dieselfde werkwoord hier
óók na die doop verwys. Die doop skets / simboliseer dus vir ons ‘n volledige afwassing
van ons sondes. Dit is hoe die doopsformulier dit ook verwoord: “as ons in die
Naam van die Seun gedoop word, verseker die Seun aan ons dat Hy ons in sy bloed
was en reinig van al ons sondes.” En
net ‘n entjie verder in die formulier word van die Heilige Gees gesê dat Hy tot
ons eiendom maak wat ons in Christus het, naamlik die afwassing van ons sondes en die daaglikse vernuwing van ons lewe.

Dus, in hulle doop is die Korinthiërs gewas – volledig gereinig –
van die sondes wat hulle vroeër gedoen het; al daardie sondes wat in vers 10
opgenoem word: hoerery, afgodsdiens, egbreuk, wellustigheid en sodomie (beide is
vorme van homoseksualiteit), diefstal, gierigheid, donkenskap, skinder en roof.
Van dít alles is die Korinthiërs volledig skoongewas. Al was hulle sondes soos
skarlaken, dit het wit geword soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit het
soos wol geword (om maar Jesaja se woorde te gebruik). Dit is die belofte van
die doop, gemeente. Soos water die vuilheid van die liggaam wegneem, so neem
die bloed en die Gees van Christus ons sondes weg (antw. 73).

 

Vervolgens is die Korinthiërs ook geheilig – reeds in hoofstuk 1:2
van sy brief het Paulus vir die Korinthiërs gesê dat hulle in Christus geheilig
is. Almal wat in Jesus Christus glo, word in Hom geheilig. En dit beteken dat hulle
in Christus vir God apart geplaas word, hulle behoort nou aan Hom om vir Hom te
lewe. Dit is eintlik ook wat ons bely in Sondag 1 as ons enigste troos: dat ek
na liggaam en siel, in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my
getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al
my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos.
Sien u: ek het eers aan die duiwel behoort, sodat ek van nature geneig was om
saam met die Korinthiërs die dinge te doen wat in vers 10 genoem word. Maar ek
is losgekoop van die duiwel, en ek behoort nou aan Jesus Christus! Dít is die primêre
betekenis van heiliging in hierdie vers – die Korinthiërs behoort aan Christus,
en is apart geplaas om vir God te lewe. En is dit nie maar presies wat ons in
Sondag 27 van die kindertjies bely nie? Hulle is deur die doop in die Christus
kerk ingelyf en van die kinders van die ongelowiges onderskei. Onderskei, apart
geplaas!

En ten slotte is die Korinthiërs, volgens vers 11, ook geregverdig –
dit behels ‘n wetlike uitspraak van God waardeur die gelowiges deur die bloed
van Christus regverdig verklaar word. Dit is ‘n vryspraak deur die hemelse
Regter op grond van die voltooide werk van Jesus Christus. Dit beteken nie dat
die Korinthiërs nou sondeloos geword het nie, maar wel dat God na hulle kyk
asof hulle nooit enige sonde gedoen het nie. Of soos die nagmaalsformulier dit
verwoord: dat die geregtigheid van Christus ons so volkome toegereken en
geskenk is asof ons in eie persoon vir al ons sondes betaal en alle
geregtigheid volbring het.

 

Máár julle het julle laat afwas, máár julle is geheilig, máár julle
is geregverdig… Met behulp van hierdie drie aksies – wat die Korinthiërs
trouens nie aan hulleself gedoen het nie, maar wat hulle passief ondergaan het
– wys Paulus watter verandering daar in die lewens van die Korinthiërs plaasgevind
het, en wys hy verder ook hoe hierdie verandering die gelowiges van die
onregverdiges onderskei. Daar is ‘n verskil tussen die Korinthiërs se vroeëre
lewe en hulle huidige lewe; daar is ‘n verskil tussen die gelowiges en die
onregverdiges. En dít is wat die doop aan ons doen, broers en susters. Nee, ons
moet dit suiwerder stel: dit is wat die bloed en die Gees van Christus met ons
doen. Dit is wat gebeur “in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van
onse God” – soos die laaste woorde van vers 11 dit stel. Die doop simboliseer
die bloed en die Gees van Christus waardeur ons verander word van onrein mense
na gewaste mense, van besmette mense na geheiligdes, van verdoemdes na
geregverdigdes. Sien u die kontras? Gedooptes, mense wat gewas en gereinig is
in die bloed en Gees van Jesus Christus, se lewens verander radikaal. So
radikaal dat die kontras met die vroeëre lewe en met die lewe van die
onregverdiges onmiddellik sigbaar is. Dit is soos dag en nag. En hier het ons
die antwoord op ons eerste vraag: wat doen die doop met ons? Dit verander ons, gemeente,
radikaal! En wanneer ons dít verstaan, dan kan ons teruggaan na die Korinthiërs
se onverkwiklike hofsake…

Dit bring ons by ons tweede
gedagte: skeiding.

 

2. Gemeente, dit is op grond van die radikale andersheid van die
gelowiges in Korinthe dat ons Paulus se behandeling van die eerste deel van
hoofstuk 6 vir onsself relevant kan maak. Soos ek reeds gesê het, wil dit
voorkom asof gemeentelede in Korinthe mekaar oor allerhande sake voor die
wêreldlike regbank gedaag het. Let wel, dit gaan hier nie oor die vraag of
gelowiges dan nooit ‘n regsaak mag aangaan nie – dit is nie die vraag wat Paulus
hier probeer beantwoord nie. Terloops, Paulus het sélf tydens sy lewe verskeie
kere ‘n beroep gedoen op die wêreldlike reg. Nee, dit gaan hier oor die vraag
of ‘n christen ‘n mede-gelowige voor die wêreldlike hof mag daag. Moet die
christen, ook al word hy verontreg, dan nie maar liewer die minste wees nie? –
dit is Paulus se vraag in vers 7. Ly liewer onreg, word liewer beroof, máár
moet net nie julle radikale andersheid op die spel plaas nie!

Dit is uiteindelik Paulus se opdrag aan die Korinthiërs: moenie
julle radikale andersheid verspeel nie! Hierdie radikale andersheid beskryf
Paulus in vers 1 deur die heiliges teenoor die onregverdiges te plaas: “Durf
iemand van julle wat ‘n saak teen ‘n ander het, gaan reg soek voor die onregverdiges en nie voor die heiliges nie?” En in vers 6 maak hy
dieselfde onderskeid, maar net met ander woorde: “Maar gaan die een broeder met
die ander na die regbank, en dit voor ongelowiges?” Sien u: heiliges teenoor
onregverdiges, en broeders teenoor ongelowiges. Dit bevestig vir ons dat die
kerk, dat die gelowiges, anders is as die onregverdiges / die ongelowiges. En
daardie andersheid moet ons nie op die spel plaas nie; inteendeel, daardie
andersheid moet sigbaar word in ‘n duidelike onderskeid.

 

Dit is ‘n onderskeid waaroor Sondag 27 nie skaam is nie: gelowiges
en hulle kinders word, volgens antwoord 74, in die verbond van God en sy
gemeente ingesluit. En daardie insluiting impliseer ook ‘n uitsluiting van
ander: hulle word in die Christelike kerk ingelyf en van die ongelowiges
onderskei! So was dit in die Ou Verbond deur die besnydenis, en so is dit ook
in die Nuwe Verbond deur die doop. Regdeur die geskiedenis was daar hierdie
onderskeid, ‘n onderskeid wat God self ingestel het toe Hy vyandskap gegee het
tussen die vrouesaad en die slangesaad. En daarmee sê ons nie, broers en
susters, dat ons beter is nie; daarmee neem ons geen hoogmoedige, elitêre
houding aan, asof ons self hierdie posisie verwerf het nie. Nee, dit is ‘n
posisie wat God ons uit genade geskenk het. ‘n Posisie wat só uniek is, só
besonder, dat Paulus verbaas vra: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld
sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan
onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel
nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (verse 2 en 3). Ons gaan eendag die
onregverdiges oordeel, ons gaan eendag engele oordeel – wil ons dan klein
geskille deur ongelowiges laat beoordeel? Nee, sê Paulus, ons mag dit nie doen
nie, anders hef ons die onderskeid op, anders verspeel ons ons andersheid.

 

En, gemeente, ons moet vandag ook vanuit daardie andersheid lewe.
Die doop maak ons anders, of beter: die bloed en die Gees van Jesus Christus
maak ons anders. Só het ons in die eerste punt gesien. Maar laat daardie
andersheid dan ook sigbaar word! Laat ons onsself onderskei van die
ongelowiges! En dit geld nie net vir regsake nie, dit geld uiteindelik vir alle
terreine van die lewe. Dit geld vir die manier hoe ons in ons huwelike met
mekaar omgaan – daarom is dit so belangrik dat ek ‘n gedoopte lewensmaat soek;
nie maar net iemand wat eendag, lank gelede, water oor sy kop gekry het nie,
maar iemand wat deur die doop verander is. Dit geld vir die manier hoe ons ons
gesinslewe inkleur – is ons gesinslewe nog anders as dié van die ongelowiges,
of het ons ook ophou bybellees en bid voor en ná ete, en staan by ons ook die
televisie die hele dag aan, en is ons ook uit op uiterlike vertoon en luukse?
Dit geld vir die manier waarop ons ontspan – is ons daarin nog anders?
Jongmense, is julle daarin nog anders as julle ongelowige leeftydsgenote? Dit
geld vir die manier waarop ons ons werk doen – of probeer ek ook maar tyd steel
en vroeg uitklok, net soos my ongelowige kollega?

Ons is soms so goed daarin om ons andersheid te kamoefleer, dat ons
vergeet dat andersheid ook onderskeid beteken. Sigbare onderskeid. Omdat ek
gedoop is! Omdat ek deur die bloed van Christus skoongewas is, en vir God apart
gesit en geregverdig is. En dáárom is die vraag so dringend: wat doen die doop
met ons? Ons kan die grootste mond hê oor die Bybelse reg van die kinderdoop,
maar as die doop ons nie meer sigbaar anders maak nie, dan het ons ons reg van
spreke verloor! En dan het ons as kerk ook ons werwingskrag verloor. Dan kan
ons nog eerder saamwerk met sekere groeperinge van baptiste wat werklik sigbaar
anders is en wil wees, as wat ons ongewas en onrein hier op ons hopie sit en
roep: kinderdoop, kinderdoop! Dus, gemeente, die feit dat ons gewas en geheilig
en geregverdig is, die feit dat ons verander is, dít moet ook skeiding bring.
Soms pynlike skeiding, dis waar, maar weet dat dit beslis die moeite werd is.
Eendag sal ons saam met Christus regeer om die onregverdiges te oordeel!

En dan ons laaste gedagte: dit
alles moet van jongsaf gebeur.

 

3. Gemeente, as ons die andersheid en die onderskeid verstaan, soos
dit vir onsself geld, dan behoort dit ook tot ons deur te dring dat hierdie
andersheid en onderskeid ook vir ons kinders geld. Hoekom? Hulle moet mos self
eendag daardie keuse maak? Dit is mos eers wanneer hulle belydenis van geloof
aflê dat hulle verantwoordelik gehou kan word? Dit is natuurlik so dat ons
kinders eers by hulle belydenisaflegging die verantwoordelikheid aanvaar wat pa
en ma vir soveel jaar gedra het. En tog sê die Kategismus dat hulle vanaf die
begin van hulle lewe alreeds deel is van die verbond en in die gemeente
ingesluit is, en dat hulle daarom ook van die kinders van die ongelowiges
ondeskei moet word. Die radikale andersheid en onderskei geld dus alreeds vanaf
die begin! Nie omdat hulle vromer is of minder ongehoorsaam nie; nie omdat ons
kinders sulke engeltjies is nie (ook al dink hulle dalk so); nie omdat die kiem
van die wedergeboorte vanaf hulle geboorte alreeds in hulle is nie. Nee, omdat
hulle deel is van die verbond en deel van die kerk van God. Hulle hoort by ‘n
ander volk as die kinders van die ongelowiges; hulle staan in ‘n ander lyn as
die saad van die slang. Seuns en dogters, julle is anders! Anders gemáák deur
die bloed en die Gees van Christus!

Ek weet, dis is nie altyd lekker om anders te wees nie. As ons
opgroei – en veral in ons tienerjare – wil ons graag deel van die groep wees,
en wil ons nie uitstaan nie. Hoe meer ek met die groep kan saamsmelt, hoe
beter. In daardie fase van ons lewens is groepsdruk geweldig groot, en
andersheid word nie altyd gerespekteer nie. Dis waar! En tog is julle
andersheid iets om op trots te wees. Julle onderskeid van die kinders van die
ongelowiges mag vir julle ‘n bron van vreugde wees. Ek behoort aan Jesus
Christus, ek is gered! Ek is koning, profeet en priester!

En as ouers en ouer mense in die gemeente het ons ‘n groot taak om
ons kinders hierin voor te gaan. Ons andersheid en onderskeid word nie deel van
ons kinders deur dit hulle in te slaan nie; dit word ook nie deel van ons
kinders as dit by onsself nie leef nie. Nee, die andersheid en onderskeid word
slegs deel van ons kinders wanneer hulle van jongsaf by ons kan sien dat dit
vir ons ‘n vreugde is om die Here te kan dien, wanneer hulle kan sien dat die
soms pynlike skeiding van die mense en dinge van die wêreld uiteindelik uitloop
op ‘n innige verhouding met Jesus Christus. Ons bou nie ‘n muur om ons kinders
sodat hulle die wêreld nie kan sien en nie kan beleef nie – nee, ons leer hulle
die rykdom van die verbond. Ons leer hulle die rykdom van Bybelstudie en gebed,
ons leer hulle die vreugde van die kerkgang, ons leer hulle hoe baie dit vir
ons beteken om in ons daaglikse lewe met die Here te wandel. Ons hou hulle nie
in toom met ‘n sweep nie; nee, ons kweek in hulle die verlange om die Here te
ken.

Laat ons dit van jongsaf doen. En dan wil die Here ook sy seën gee
deurdat ons kinders Hom met vreugde dien. En eers dán sal die gety draai – die wêreldwye
vloedgolf van die geloofsdoop. Want talle mense wat hulleself laat ‘grootdoop’,
doen dit omdat hulle na kerke van gereformeerde belydenis kyk en sê: ons sien
die kinderdoop, maar ons sien nie die kinderlike geloof nie; ons sien die water
op die kindjie se kop, maar ons sien nie die water van die Gees in die kind se
léwe wanneer hy/sy grootgeword het nie. Laat ons hierdie beskuldiging ter harte
neem en ons kinders van jongsaf voorgaan in die lewe vanuit die bloed en die
Gees van Christus. Dit is ‘n anderste lewe, dit is ‘n lewe wat skeiding bring.
Maar dit is ook ‘n lewe van groot vreugde en genieting. Dit is ‘n lewe weg van
die sonde en in die genade van die Drie-enige God. Laat ons daarom nooit ophou
om ons kindertjies te doop nie, máár laat ons ons opnuut beywer om hulle anders
groot te maak. Anders as die kinders van die ongelowiges – want hulle behoort
aan God!

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Skr. 3

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat
hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van
die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 23 (1e beryming, op wysie in die
boekie)

Gebed

Lees: 1 Korinthiërs 6:1-11

Kollekte

Sing Ps. 45:10 en 11 (dit is
gawes vir die groot Koning!)

Teks: HK, Sondag 27

Preek

Amenlied Ps. 101:2-6

Gebed

Belydenis van geloof (Nicea; ek
sal opsê)

Slotsang Ps. 100:2-4

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
/
Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn
en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy
vrede gee. Amen.

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)