Sondag 24 -1: goeie werke hoort by die onbetaalde posbeskrywing van die christen!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-10-07
Teks: 
Jakobus 2
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten

 

Preek – HK, Sondag
24; lees Jakobus 2

 

Geliefde
gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ek is ‘n inwoner van Rome in die eerste eeu na Christus. Aan die
buitewyke van die groot stad staan my indrukwekkende villa. Teen die hange van
die omringende heuwels pronk my wingerde in volle drag. Dit is oestyd. Die
slawe in my diens het die hele dag lank hard gewerk om die oes in te samel; ek
was daar om te kyk dat alles reg verloop. Nou begin die son sak en almal gaan
huistoe; die arbeid op die lande sal vroeg môre-oggend weer hervat word. Wanneer
ek by die huis kom, is een van die slawe, wat die hele dag op die lande gewerk
het, alreeds daar. Hy het gaan was en is nou skoon en gereed om die aand-ete
voor te berei. Wanneer ek aansit om te eet, is hy daar om my te bedien – dit is
sy werk. Nog nooit het dit in my kop opgekom om self die kos voor te berei, en hom
te nooi om dit saam met my te eet nie. Dit sou ongehoord wees. Nog meer
ongehoord sou dit vir hom wees om te eis dat hy saam met my mag eet. Nee, daar
is ‘n duidelike verskil tussen my en hom – ek is die heer, hy is die slaaf. Wanneer
ek klaar geëet het, staan ek op sonder enige dankie; ek het mos nie nodig om
hom te bedank nie. Eers wanneer ek weg is, is sy taak klaar. Hy het gedoen wat
hy moes doen; nou mag hy eet…

 

Seuns en dogters, veronderstel jy is hierdie slaaf. Veronderstel jy
moet die hele dag lank hard werk, en dan moet jy saans ook nog gereedstaan om
vir jou heer kos te maak. Veronderstel jy het jou bes gedoen met ‘n heerlike
maaltyd, en jou heer staan na die ete op en loop weg sonder enige dankie.
Watter gedagtes sal deur jou kop gaan? Hoe sal jy daaroor voel? Wat gaan jy vir
jou mede-slawe sê: “ons verdien beter”? “Kom ons staak”? “Kom ons eis beter
behandeling”? Ek kan jou waarborg dat jy in die tyd van die Romeinse ryk sleg
tweede sou gekom het met so ‘n houding. Maar goed, ons lewe vandag nie meer in
die Romeinse ryk nie; ons lewe nie meer in ‘n tyd van slawerny nie. Ons lewe in
‘n tyd van emansipasie, van werkersdag, van stakings en vakbonde; ons lewe in
‘n tyd van eise en regte. Moet ek in hierdie gees teenoor my werkgewer optree
as hy my sou behandel soos ek hierbo beskryf het? En wat van ons optrede
teenoor ons hemelse Werkgewer? Is stakings en die stel van eise die regte
houding wanneer dit gaan oor ons arbeid as diensknegte voor die hemelse God?

Jesus wys in Lukas 17 vir ons ‘n ander houding, en Hy lê ander
woorde in ons monde; wanneer dit gaan oor ons dienswerk voor God, dan sê Jesus
vir ons: “Wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is
onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te
doen” (Luk. 17:10). Sien julle, in ons dienswerk voor God pas daar geen stakings-
en vakbond-mentaliteit, soos wat ons in die afgelope maande in ons land gesien
het nie. Nee, in ons dienswerk voor God pas ‘n besef van die verpligting wat op
ons rus om eenvoudig te doen wat God ons oplê; in ons dienswerk voor God pas ‘n
besef van die onverdienstelikheid van daardie arbeid. En ek weet: dit stry teen
ons gevoel van geregtigheid; dit stry teen ons gevoel van wat reg en billik is.
Maar dit gaan hier ook nie oor aardse verhoudings nie, dit gaan hier oor ons
verhouding voor God in die hemel! Ons goeie werke voor Hom vind nie plaas in
die kader van een of ander handves van menseregte of binne die kader van een of
ander arbeidskontrak nie; nee, ons goeie werke voor Hom vind plaas binne die speelveld
van die genade. Diensknegte van God, julle lewe enkel en alleen uit genade. Doen
daarom wat julle verplig is om te doen!

Tema: goeie werke hoort by die onbetaalde posbeskrywing van die
christen!

  1. Nie deur goeie werke nie
  2. Ook nie sonder goeie werke nie

 

1. Die christen-amp is ‘n onbetaalde pos. Christen-wees is pro Deo – vir God, verniet. Is dit ook
so by ons, by jou – pro Deo, vir God,
verniet? Dit is ‘n geldige vraag, want ons reken maar al te dikwels dat ons in
ons Christen-wees iets kan én behoort te verdien; dit sit in ons wese om te vra:
“maar waarom kan ons goeie werke nie die geregtigheid voor God of ‘n deel
daarvan wees nie?” Hierdie vraag van die Kategismus is waarskynlik oorspronklik
opgestel in stryd met die Roomse kerk, maar dit is ook óns vraag, broers en
susters, hoewel ons dit selde so direk verwoord. Daarvoor is ons te
gereformeerd! En tog is hierdie vraag ‘n wesenlike deel van ons sondige
mens-wees. En dus is dit goed om ook na die antwoord te luister; die Kategismus
sê in antwoord op hierdie vraag in feite vir ons: “Goed, as jy met jou werke
voor God wil kom, as jy wil hê dat God jou werke in rekening moet bring in sy
beoordeling van jou as mens, dis reg, maar kom wys dan bietjie wat jy het. Kom
vertoon dan jou werke voor God. Maar onthou een ding: God is nie tevrede met
halwe werk nie! Selfs al is daar ook maar die geringste vlek of gebrek op jou
goeie werke, dan sál God dit afkeur. Want God is die Volmaakte en kan daarom
slegs met die volmaakte genoeë neem.

Gemeente, is ons op óns manier nie ook maar so nie?

Veronderstel jy sou iets duursaams koop – ‘n nuwe kar of ‘n nuwe
karavaan. Jy het lank gespaar, duur betaal. Dan verwag jy mos dat daardie
produk werklik nuut is. Jy gaan mos nie die kar vat as daar op ‘n sekere plek
‘n lelike krapmerk sit nie. En hoe vreemd sou dit wees as die verkoopsman vir
jou sou sê: “Meneer, daardie krapmerkie is darem nie so erg nie; kom klim in en
kom ruik die nuwigheid; u kan mos sien dis ‘n nuwe motor? Kyk na die
kilometertelling: daar is nog maar net ‘n paar kilometer is met hierdie motor
gery.” Nee, gemeente, dit sou onaanvaarbaar wees vir die meeste van ons. Sou
God, die Volmaakte, dan met die onvolmaakte tevrede wees? Nee!

 

As jy daarom jou vryspraak en verlossing wil grond op jou eie lewe,
goed, maar dan moet jy kan aantoon dat jou lewe sonder vlek of rimpel is, dat
dit volmaak is! En dan gaan jy moet aantoon dat jy nooit en in geen enkele
onderdeel teen God se heilige wil ingegaan het nie, dat jy nog nooit een
sondige gedagte gehad het nie, dat jy ten alle tye – jaar in, jaar uit, dag in,
dag uit – God liefgehad het bo alles en jou naaste soos jouself. Want die
geregtigheid wat voor die strafgerig van God kan bestaan, moet heeltemal
volmaak wees en in alle opsigte met die wet van God ooreenstem – so sê antwoord
62.

En daar staan ons dan met ‘n mond vol tande… Want daar is niemand
onder ons wat dít sou wou beweer nie. Hoe baie ek ook al van myself dink, hoe
selfvoldaan ek ook al is, dít kan ek ongelukkig nie sê nie. Selfs die mees
toegewyde Fariseër in Jesus se tyd sou darem nie dit wou beweer nie.

 

Maar wag ‘n bietjie… Gelukkig kan ek darem wys op al daardie goeie
werke wat ek wél gedoen het; my allerbeste werke is darem nie te
versmaai nie. Maar, broers en susters, moenie te vinnig praat nie, want die
Kategismus is nog nie klaar nie; ons het die Kategismus te vinnig onderbreek,
want “ook ons beste werke is in hierdie lewe almal onvolmaak en met sonde
besmet.” Wat? Daardie keer toe ek vir die arm bedelaar ‘n brood gekoop het –
onvolmaak? Of toe ek daardie persoon gaan besoek het wat eensaam was – met
sonde besmet? Is dit nou al wat oorbly van my allerbeste? Ja! God eis die
volmaakte, en selfs die allerbeste waarmee die allerheiligstes in hierdie lewe
vorendag kom, is nog steeds onvolmaak. En nie net onvolmaak nie, maar ook met
sonde besmet. Jesaja praat in hoofstuk 64 van al ons geregtighede – dus, alles wat ons reg en goed doen voor die Here –
as ‘n besoedelde kleed. Dit is ‘n kledingstuk wat ongeskik is om verder gedra
te kan word. Dit is nie eens meer geskik om reggemaak te word nie. ‘n Mens gooi
dit weg. Of liewer: nie ‘n mens gooi dit weg nie, Gód gooi dit weg. Nee, ‘n mens
spog eerder daarmee, ons vertoon onsself graag in daardie kleed van ons beste
werke. Moet ons dit nou weggooi en verafsku? Ek sien dit nie as ‘n besoedelde
kleed nie; inteendeel, dit is dan my tuxedo vir die hemelse gala-aand, dit is
my aandrok waarmee ek voor die Here kan verskyn!? Daarmee kan ek myself ten
minste met selfvertroue vertoon, ek gee glad nie om as mense – en selfs die
Here! – my daarin sien nie. Ek gee glad nie om as die Here en ander mense sien
hoe ek daardie persoon in sy nood gehelp het, of as hulle sien hoe ek bygedra
tot die sukses van hierdie projek, of as hulle verwonderd staan oor my
onbaatsugtige werk vir daardie goeie doel nie – die Here kan darem nie dít van
my af wegvat nie!? Waarmee moet ek anders in die openbaar verskyn? Helaas, broers
en susters, dit verdien alles om weggegooi te word. Naak bly ons voor die Here
staan… Verskriklik, ons skaam ons dood, daar is nie ‘n enkele lappie kleding
waarmee ons onsself kan bedek nie.

 

Maar dit is nog erger: ons staan nie slegs naak voor die Here nie,
ons staan ook veroordeeld. Want, lees ons in Galasiërs 3:10, “vervloek is
elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen
nie.” In alles! Jy sien, daar lê dikwels ons probleem: ons kyk op ‘n
verkeerde manier na die wet en na die onderhouding daarvan. Ons verdeel die wet
van God in ‘n klomp deeltjies; die wet van God is vir ons die optelsom van ‘n
aantal bepalings. En dan sê ons: “Teen hierdie en hierdie gebod het ek
gesondig, en daarom verberg ek dit netjies êrens onder in my kas; niemand wat
dit hoef te sien nie, ek sal dom wees om dít in die openbaar te vertoon. Maar
daardie en daardie gebod het ek nogal mooi nagekom; ek gee nie om dat dít in
die vertoonvenster van my lewe uitgestal word nie.”

Maar, gemeente, die Skrif leer ons dat God se wet een geheel is, dat
die wet ‘n eenheid is. Wie teen een gebod gesondig het, staan skuldig teen
almal; wie teen een gebod gesondig het, staan as geheel skuldig voor God. Of in
die woorde van Jakobus 2:10 en 11: “Want wie die hele wet onderhou, maar in een
opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie
egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie,
maar doodslaan, het jy ‘n oortreder van die wet geword.” Die wet is ‘n eenheid,
want die Wetgewer is één! Die wet kan in sy geheel saamgevat word in die gebod
van die liefde, en al die verskillende gebooie is as’t ware die verskillende
kante van die een, geslypte liefdesdiamant. As een kant van hierdie diamant ongeslyp
is, as een kant dof geword het, dan verdwyn die hele diamant se glans. Hoe lyk
jou diamant? Durf jy om dit voor God te kom aanbied en te sê: “Kyk, Here, my
bydrae tot die geregtigheid”?

 

Moenie! As jy Sondag 23 se vraag (Hoe is jy regverdig voor God?)
beantwoord met: “slegs deur ‘n ware geloof in Jesus Christus”, dan kan jy in
Sondag 24 nie skielik kom en sê: ek het tog nog iets om te bied nie. As jy dit
wel sê, dan het jy Sondag 23 verloën. En dan moet ons mekaar vanoggend groet,
want dan is jy op jou eie. Dan klim jy uit die kerkskip en dan gaan jy op jou
eie solo-vaart om die wêreld. Baie, baie sterkte! Jy is dan oppad na die plek
wat vol is met goeie werke en goeie bedoelings, maar waar God se genade en
vrede ontbreek.

As kerk en as gelowiges het ons egter die vryheid, broers en
susters, om naak en met leë hande voor die Here te verskyn – ook, en juis,
wanneer ons volgende week die nagmaal saam gaan vier. Moenie jouself bedek nie,
moenie iets saamvat na die nagmaaltafel nie. Wat jy ook al aantrek, dit sal
deur die Here soos ‘n besoedelde kleed weggegooi word. Wat jy ook al saamvat,
sal deur die Here met vuur verteer word. Nee, gaan net so! Gaan in die Naam van
Jesus Christus, en beroep jouself op die skitterende diamant van sy volmaakte
werk. “Maar waarom kan ons goeie werke nie die geregtigheid voor God of ‘n deel
daarvan wees nie?” Want ek het ‘n ander geregtigheid – Hy, wat in Jeremia 23:6 ook
spesifiek só genoem word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID. En van wie Paulus in 1
Korinthiërs 1:30 sê: “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons
geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en
verlossing.” Ek het niks anders nodig nie. En daarom sluit Paulus af in vers
31: “Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.”

 

Doen dit, broers en susters, roem in die Here. Roem vir 100% in die
Here! Want die christen-amp is ‘n onbetaalde pos. Dit is slegs pro Deo – vir die Here, Hy wat in
Christus alles vir my gedoen het. Ek is ‘n onverdienstelike dienskneg, ek doen
slegs wat ek verplig is om te doen. En dit is om die Here te loof: “Loof die
Here, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam. Loof die Here, o
my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie. Wat al jou ongeregtigheid
vergewe, wat al jou krankhede genees… Hy handel met ons nie ons sondes en
vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. [voordat ons verder gaan, kom ons sing eers saam
verder uit hierdie Psalm: Ps. 103:5 en 9]

Dit is ons eerste gedagte:
nie deur goeie werke nie.
Vervolgens: ook nie sonder goeie
werke nie.

 

2. Broers en susters, luister nou na wat die Remonstrante in die tyd
van die Dordtse sinode te sê gehad het oor hierdie leer dat ons slegs deur
Jesus Christus en op geen enkele manier deur ons eie werke voor God geregverdig
word nie: hulle het gesê dat hierdie leer van die saligheid ‘n kussing vir die
sondige natuur is, en skadelik vir die vroomheid, goeie sedes, gebede en ander
heilige handelinge. Daarteenoor is dit selfs lofwaardig om aan hierdie leer te
twyfel” (VVD 5:6). Die Remonstrante bevraagteken dus die leer van die
verlossing deur geloof alleen; hulle meen ook dat dit goed is om soms te twyfel
aan ons verlossing, want dit spoor ons juis aan om goeie werke te gaan doen.
Twyfel is soos die stok agter die deur wat jou aanpor tot goeie werke.
Andersins, as die verlossing deur die geloof ‘n voldonge feit was, ja, dan kan
ons mos maar eintlik agteroor sit en ontspan, of hoe?

Die Dordtse sinode het egter met alle mag hierteen gestry. Hulle sê
in hoofstuk 5, par. 12, dat dit totaal onmoontlik is dat hierdie sekerheid van
die verlossing hoogmoedige en sorgelose mense sou maak. Nee, die sekerheid van
die verlossing is eerder die wortel waaruit nederigheid,
kinderlike vrees, ware godsvrug, geduld, vurige gebede en blywende vreugde in
God spruit. Ook is die oordenking van die verlossing vir die gelowiges ‘n
aansporing tot ernstige en aanhoudende beoefening van dankbaarheid en goeie
werke… Sien u, die verlossing deur Christus en ons geloof daarin is die wortel
van die boom! En wanneer die wortel reg is, gesond is, dan is die boom
uiteraard ook gesond, en dan volg daar vanselfsprekend die heerlikste en
mooiste vrugte! Christen-wees, daardie onbetaalde pos, kan dus nie sonder goeie
werke wees nie.

 

En dit is presies ook wat Jakobus in die tweede helfte van hoofstuk
2 so treffend vir ons verwoord. Daar was skynbaar iemand in die kring van Jakobus
se lesers wat beweer het dat hy die geloof het, maar sonder werke. Dit lyk dus asof
daar gemeentelede was wat dit nie nodig ag om hulle geloof in praktyk te bring
nie. Hulle lewe weerspreek dus hulle getuienis. Met ‘n voorbeeld uit die
praktyk wys Jakobus hoe onhoudbaar hierdie standpunt is.

Hy sê: veronderstel daar is ‘n broeder of suster in die gemeente wat
in uiterste ellende verkeer – daar is nie kos in die huis nie, en daar is
skaars klere om aan te trek. Hierdie behoeftige gemeentelid ontvang vervolgens
van ‘n mede-lidmaat baie vriendelike woorde; hy ontvang die vredegroet, wat die
gebruiklike afskeidsgroet van daardie dae was: gaan heen in vrede. Daarby kry
hy ook nog die vriendelike advies om maar lekker warm aan te trek en behoorlik
te eet… maar daadwerklike hulp ontvang hy nie. Wie sê dat hy glo, maar intussen
op dié manier optree, het ‘n geloof wat in werklikheid niks beteken nie.
Hierdie pesoon het ‘n dooie geloof. Hierdie persoon se geloof getuig sélf daarvan
dat dit dood is. Jakobus gaan sover as om te beweer dat ‘n geloof sonder werke
in werklikheid niks verskil van die geloof van die demone nie. By hierdie bose
geeste is daar immers geen sprake van goeie werke as bewys van hulle geloof
nie. By die demone gaan hulle geloof nie gepaard met godsdiens nie, maar met godsangs.
Hulle geloof is ‘n weet-geloof, maar nie ‘n daad-geloof nie. ‘n Geloof wat dus
nie goeie werke tot gevolg het nie, kom gevaarlik naby aan die geloof van hierdie
bose geeste.

 

Broers en susters, die geloof moet werke hê om ‘n ware, lewende
geloof te kan wees. Die werke moet inherent aan die geloof verbonde wees. Dit
is wat ons by Abraham sien. Jakobus wys dat geloof en werke by Abraham een was.
Sodanig dat hy in vers 21 eers kan sê dat Abraham uit die werke geregverdig is,
en vervolgens in vers 23 kan sê dat hy uit die geloof geregverdig is. Daarmee
word vir ons duidelik dat Abraham se geloof ‘n werkgeloof was, ‘n geloof wat in dade tot uiting gekom het. Geloof
en werke is dus ‘n twee-eenheid wat wesenlik is vir ‘n ware geloof. God
regverdig die mens nie slegs uit die geloof nie, maar God regverdig die mens deur
die geloof, wat deur werke bewys dat dit ‘n egte geloof is.

Jakobus voeg vervolgens ook nog die voorbeeld van Ragab, die hoer,
toe. Ons weet vanuit Josua 2 en Hebreërs 11 dat hierdie vrou in die God van
Israel geglo het. En van dáárdie geloof getuig sy deur die verkenners in haar
huis op te neem en hulle teen die soldate te beskerm. Hierdie daad was ‘n
geloofsdaad. Selfs by hierdie vrou, wat ‘n twyfelagtige verlede gehad het, is
duidelik sigbaar dat die geloof eenvoudig werke moet voortbring. Daar bestaan
nie soiets soos geloof sonder werke nie. Geloof sonder werke is so dood soos ‘n
liggaam waarin daar nie meer ‘n gees is nie.

 

Dit kan dus nie anders nie: kinders van die Here, ware gelowiges,
doen goeie werke! Vir christene is dit selfs noodsaaklik om goeie werke
te doen. Let wel, ons goeie werke is nie verdienstelik nie, maar dit is wel
noodsaaklik; ons verdien niks daarmee nie, en tog moet ons dit doen; ons word
nie deur
goeie werke geregverdig nie, maar ook nie daarsonder nie! As kinders van die
Here behoort ons in ons eie lewens die vrug van ons verlossing te begin
raaksien; en ander mense behoort dit ook in ons te begin raaksien. Dit moet
sigbaar word in die manier waarop ons met ander mense omgaan; dit behoort
sigbaar te word hier in die gemeente, in ons omgang met mede-broers en
–susters; dit moet sigbaar word in ons gesinne, ons huwelike, die manier waarop
ons ons werk doen, waarop ons ons kar bestuur en ons vrye tyd deurbring. Op
elke terrein van ons lewe wil Christus regeer, en dit moet sigbaar word! Dit kan nie ánders as om sigbaar te word
nie; die Here Jesus sê immers self: “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in
My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug…” (Joh. 15). En dit is wat ons
nagmaalsformulier ook sê: “Omdat Christus ons eerste so uitnemend liefgehad
het, moet ons ook aan mekaar liefde bewys en nie alleen met woorde nie, maar
ook met die daad.” En, sê die nagmaalsformulier verder, daar moet ten minste by
ons “die ernstige voorneme wees om
van nou af met ons hele lewe uit ware dankbaarheid God te dien en opreg voor
Hom te wandel.”

Gemeente, hier lê die geheim van die onverdienstelike dienskneg – hy
is deur die geloof alléén aan
Christus verbonde, só innig en só intiem, dat hy nie anders kan as om Christus
in sy lewe te begin vertoon nie. Goeie werke is geen eie verdienste nie; nee,
dit is Christus se werk in my lewe. Wees daarom by Hom. Meer nog: wees in
Hom
! Om goeie werke voort te bring, beteken nie ‘n uiterste
kraginspanning van die gelowige nie. Dit beteken wel om aan Christus verbonde
te wees: Hy in my, en ek in Hom! En die onvermydelike resultaat hiervan is
wonderskoon. Geniet daarvan, en prys die Here!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 101

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat
hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was
en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus,
die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die
konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 139:1, 2 en 12

Gebed

Teks: HK, Sondag 24

Lees: Jakobus 2

Sing Skr. 16:4-6

Preek

  • Na 1ste punt sing Ps. 103:5
    en 9
  • Amenlied Ps. 1:1 en 2

Wetslesing

Sing Ps. 116:7, 9 en 10

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 25:2 en 4

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

Groet en afkondigings

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat
hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was
en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus,
die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings
van die aarde. Amen.

Sing Ps. 139:1, 2 en 12

Gebed

Teks: HK, Sondag 24

Lees: Jakobus 2

Sing Skr. 16:4-6

Preek

  • Na 1ste punt sing Ps. 103:5
    en 9
  • Amenlied Ps. 1:1 en 2

Gebed

Belydenis van geloof (singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 25:2 en 4

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)