Die ewige Koning verdien alle lof!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2012-09-16
Teks: 
Openbaring 11:15-19
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Openbaring 11:15-19

 

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Verlede week het ons gehoor dat die kerk veilig is by haar Here. Deur Johannes se opmeet-aksie het dit duidelik geword dat daar vir ons as kerk ‘n veilige sone in God se hemelse heiligdom geskep word (11:1-2). Dit ís so, die aardse heiligdom in Jerusalem is aan vertrapping deur die heidene oorgegee, maar in die hemelse heiligdom is die kerk geborge en behoue. Ook moet die kerk nie vaskyk in die verwoeste tempel nie, want haar verbondenheid met die kerk van die ou verbond lê nie in die tempel-gebou nie, maar dit lê in die eenheid van die getuienis! Die twee getuies wat deur die Here uitgestuur is om aan Jerusalem bekering te verkondig, vertoon immers trekke van Moses en Elia; hulle staan in dieselfde lyn as hierdie twee grotes uit die ou verbond. En net so mag die kerk vandag getuienis lewer met ‘n getuigskrif van Moses en Elia.

 

Dit is ongeveer hoe ver ons laasweek gekom het. Maar, gemeente, wanneer ons verder lees, is dit ook ‘n pynlike verhaal wat Johannes in hoofstuk 11 vir ons skets. Want die twee getuies word vermoor oor hulle getuienis, en hulle lyke word net so op die strate gelos. ‘n Begrafnis word hulle nie gegun nie; geen grafsteen mag die inwoners van Jerusalem herinner aan hulle boodskap nie. Daar word selfs fees gevier oor hulle dood – “laat ons vir mekaar geskenke gee, want die beroerders van Israel is uit die weg geruim.” Maar dán, na drie en ‘n halwe dag stuur God ‘n gees van die lewe in die lyke van sy twee getuies, sodat hulle op hul voete gaan staan. En ‘n groot stem uit die hemel sê vir hulle: “Kom op hierheen!” En hulle het opgevaar na die hemel in die wolk, en hulle vyande het hulle aanskou. Hierdie Moses-en-Elia figure was gelykvormig aan hulle Here in hulle getuienis en sterwe, en nou mag hulle ook deel in sy heerlikheid! Hulle word in die openbaar, voor hulle vyande, geregverdig. Ja, die stryd van die kerk is publiek (in die strate lê immers die lyke van die getuies), maar haar oorwinning is ook publiek (want die getuies word voor die aangesig van almal na die hemel opgeneem)!

En dít is nou wat in die laaste verse van hoofstuk 11 breër uitgewerk word – die derde wee is op hande, die sewende engel gaan sy basuin blaas, en volgens hoofstuk 10:7 is daarmee die verborgenheid van God volbring. Sy oordeel gaan nou finaal uitgegiet word. Maar net voordat dit gebeur, word hier alreeds vooruit gegryp op die resultaat van hierdie laaste wee. En volgens hoofstuk 10:7 is dit ‘n blye tyding! Die kerk kry openbare regsherstel van haar Koning! Kom ons verheug onsself in hierdie blye tyding, kom ons versterk onsself met hierdie blye tyding. Want hierna word die stryd net hewiger…

Tema: die ewige Koning verdien alle lof!

  1. Die oorwinning
  2. Die oordeel
  3. Die onthulling

 

1. Ons sien nou al ‘n rukkie hierna uit, en nou is dit sover – die sewende basuin word geblaas. Vervolgens klink daar groot stemme in die hemel. Van wie is hierdie stemme? Dis moeilik om presies te kan sê, maar vermoedelik is dit ‘n verwysing na die groot stem van die siele onder die altaar waarvan ons lees in hoofstuk 6:10. Hulle wat geroep het dat die bloed van die martelare geoordeel en gewreek moet word op die bewoners van die aarde, húlle verkondig nou die oorwinning van die groot Koning. En die inhoud van hulle woorde pas by die geklank van die basuine wat ons tot dusver hoor blaas het. Basuingeklank is Koningsklank! Dink maar aan wat ons sing in Psalm 47: “God vaar voor die oog met gejuig omhoog; die trompette blink, die basuine klink… Psalmsing tot Gods eer! Weet dat Hy regeer: Hy het opgevaar, Koning is hy daar…” (Ps. 47:3 en 4 ber.). Basuingeklank hoort by die oorwinningstog van ‘n koning. En dit is presies wat hier gebeur: die oorwinning van die hemelse Koning word begelei met die sewevoudige basuingeklank van Openbaring 8-11.

Maar, gemeente, besef goed: hierdie is nie skielik ‘n nuwe koningslied nie; die Here wórd nie nou eers Koning nie. Nee, hierdie is die eeue-oue koningslied van die ewige Koning. Dit is die lied van Moses na die oorwinning oor Farao en sy ruiters, wanneer hy in Exodus 15:18 sing: “Die HERE sal regeer vir ewig en altoos.” Dit is die lied van Dawid wat hy aan Asaf opdra in 1 Kronieke 16:31: “Laat die hemele bly wees en die aarde juig, en laat hulle onder die volke sê: die HERE is Koning!” Dit is die lied van Psalm 93, 95, 97 en 99, wat ons vanoggend saam sing. Dit is die lied van Paulus aan Timotheus: “Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid” (1 Tim. 1:17). Dit is die eeue-oue koningsjubel wat hier aangehef word. Maar hoekom hier? Hoekom nou? Want, sê vers 15: “die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.”

 

‘Die koninkryke van die wêreld’ – hoor u hierin die subtiele verwysing na die enigste ander keer waar daar in die Bybel van die koninkryke van die wêreld gepraat word? Daardie keer toe die duiwel die Here Jesus op ‘n hoë berg geneem en Hom al die koninkryke van die wêreld gewys het, en gesê het: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid (Mt. 4:8-9). En moenie dink dat die duiwel maar net groot-praterig was toe hy dit aangebied het nie. Nee, hy het inderdaad mag oor die koninkryke van die wêreld gehad; deur die sondeval in Adam het ons, mense, die koninklike mag aan die duiwel uitgelewer; hy het heerser hier op aarde geword. En daarom kón hy die koninkryke van die wêreld ook vir Jesus aanbied. En hoewel dit Jesus se hartsbegeerte was om alle geregtigheid van die hemelse koninkryk te vervul deur sy gehoorsaamheid en lyding, sê die duiwel vir Hom: “Daar is ‘n korter pad na ‘n koninkryk. Een knieval voor my, en al die koninkryke van die wêreld is joune!” So maklik!

Maar Jesus het trou gebly: “Gaan weg, Satan! Want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (Mt. 4:10). En dit is presies wat Jesus gedoen het – Hy het God alleen gedien en só het Hy heerskappy verwerf oor alle koninkryke van die wêreld. Paulus skryf pragtig daaroor in Filippense 2: “In gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.”

 

Ja, gemeente, op dié manier het die koninkryke van die wêreld die eiendom geword van onse Here en van sy Christus. In Afrikaans vertaal: en van sy Gesalfde. Want dit is wat Christus beteken = Gesalfde. Kort voor sy versoeking in die woestyn – net voordat die duiwel vir Hom die koninkryke van die wêreld aangebied het – is Jesus gesalf met die Heilige Gees wat soos ‘n duif op Hom neergedaal het. Daardeur is Hy toegerus vir sy amp as Profeet, Priester en Koning. Hy het ‘n roeping gehad, Hy het ‘n taak gehad. En Hy het daardie roeping gehoorsaam en getrou uitgevoer, tot die dood toe! En op dié manier – langs die weg van volmaakte gehoorsaamheid – het die ewige Koning – die Here wat nog altyd Koning was – die koninkryke van hierdie wêreld terug verower, en deel gemaak van die Koninkryk van die hemele. Deur Jesus Christus se gehoorsaamheid tot in die dood aan die kruis, en deur die daaglikse verkondiging van daardie goeie nuus, word besette gebiede bevry om aan God en Christus te behoort, en word besete harte vrygemaak van die bande van die dood om God en Christus te dien, en kom mense uit alle volke, nasies en tale tot aanbidding van onse Here en van sy gesalfde Koning.

En dit alles deur die werk van Jesus Christus – God se wêreldpolitiek is altyd Christosentries! God regeer… maar deur Christus alleen! Slegs in Christus kom God se koninkryk naby ons. In die prediking van Christus alleen word die toegang na daardie koninkryk wyd oopgemaak. Moet daarom nie vir julle koninkryke hier op aarde wil vestig nie, moenie jou eie koninkryk bou in mag en rykdom en eie eer nie. Word deel van die ewige koninkryk deur jou te buig voor Jesus Christus. Slegs op dié manier is jy en ek veilig in die uur van sware beproewing wat oor die aarde en sy bewoners kom. En dit kóm… maar as Jesus ons Koning is, hoef ons nie te vrees nie.

In die tweede plek let ons op die oordeel.

 

2. Die siele onder die altaar het die hemelse liturgie geïnisieer, hulle het ‘n begin gemaak met die lof op die Koning. Maar nou kom daar van ‘n ander kant af ook ‘n antwoord en ‘n verdere uitwerking. Die vier-en-twintig ouderlinge kom naamlik in beweging. Hulle klim van hulle trone af, val voor God op hulle aangesig, en bring aan Hom hulde. En as teenstem sing hulle óók ‘n loflied – en weereens staan God se Koningskap sentraal. God, die Almagtige, wat is en wat was en wat kom, word deur die vier-en-twintig ouderlinge bedank omdat Hy die koningskap aangeneem het. Dit is belangrik om hierdie fokus raak te sien. In hoofstuk 4:11 word van die Here gesing dat Hy wáárdig is om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag. En in hoofstuk 5:12 word van die Lam gesing dat Hy wáárdig is om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer. Hulle is wáárdig – dit toon die beginsel aan, maar dit wys nog nie die uitvoering, die realisering daarvan nie. En dit is wat nou vervolgens hier in hoofstuk 11 besing word – God is nie net waardig nie, Hy het daardie waardigheid ook gerealiseer; Hy het Homself as Koning ook bewys.

 

En hoe het Hy dit gedoen?

Wel, gemeente, God het sy Koningskap enersyds bewys deur sy oordeel – sy toorn oor die toornige nasies (begin van vers 18), en sy verderwing van die verderwers (die einde van vers 18). Op wie dui dit? Sommer op die nasies in die algemeen? Nee, in die konteks van Openbaring as verbondsboek moet ons hier heel eerste dink aan die volk Israel en aan almal wat saam met hulle die Here Jesus gekruisig het. Oor húlle het die Koning se toorn en oordeel heel eerste gekom. Húlle is heel eerste die vertoornde nasie, waarvan vers 18 praat, en waarin ons ‘n verwysing hoor na Psalm 2. Ja, maar Israel is mos die uitverkore volk, Israel is mos nie deel van die heidense nasies nie? Dit is wel wat ons in Handelinge 4 gelees het, broers en susters. Nadat Petrus en Johannes eers deur die Joodse Raad gevange geneem en ten einde raad vrygelaat is, gaan hulle terug na hulle mense. Hulle gaan saam met die gemeente in gebed tot die Here. En dan gebruik hulle, net soos in Openbaring 11:18, die bekende woorde van Psalm 2: “waarom het die nasies gewoed en die volke nietige dinge bedink? Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy gesalfde. Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen die heilige Kind Jesus wat U gesalf het.”

Sien u, hier word Israel gereken tot die nasies, hulle wat nie onder die heerskappy van die Koning wil buig nie. Israel het ‘n volk soos alle ander ongelowige volke geword; sy het haar voorregte en haar eersgeboortereg verkwansel, omdat sy die Messias gekruisig het. In die aanval van die nasies op die Here en op sy Gesalfde loop Sodom en Egipte vooraan. En kyk, Sodom en Egipte is Jerusalem (Op. 11:8)! Maar, sê die Here verder in Psalm 2, Ek het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg, en Hy sal die nasies verpletter met sy ysterstaf, hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot (Ps. 2:6 en 9). Die aanval van die nasies op die Here en op sy Gesalfde, met die afvallige Israel vooraan, word gestuit deur Jesus Christus, die gesalfde Koning. Die koningskap, die daadwerklike regering van God – ook oor sy vyande – word sigbaar, heel eerste in die verwoesting van Jerusalem en die tempel! Laat Israel en die volke maar woed, laat hulle maar rebelleer, laat hulle maar toornig word. Hulle sal agterkom wat toorn is wanneer hulle met Gód se toorn te doen kry.

 

Dus, dit is die een kant van God se Koningskap – sy oordeel oor sy vyande. Maar, gemeente, God bewys sy Koningskap ook nog op ‘n ander manier, en dit is deurdat Hy regsherstel gee aan sy knegte. Die oomblik wanneer God se oordeel oor sy vyande kom, dan breek ook die tyd aan vir die publieke regverdiging van God se kinders. Johannes praat hieroor in vers 18 as die tyd van die dode om geoordeel te word – en dit is nie sommer dode in die algemeen nie; nee, dit is die mense wat gedood is ter wille van die Woord van God. En dat hulle geoordeel word, beteken nie dat hulle veroordeel word nie, maar eerder dat hulle geregverdig word. Die Here spreek sy verlossende vonnis oor hulle uit. Aan hulle word reg gedoen! En dan kan ons hier aan die tydelike sowel as aan die ewige oordeel dink. Aan die een kant is daar regverdiging van die dode in die verwoesting van Jerusalem, maar aan die ander kant is daar ook die finale regverdiging wanneer die teenstanders vernietig word op die Dag van die Here.

En saam met hierdie regverdiging gaan ook die loon wat God sal gee aan sy diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat sy Naam vrees, klein en groot. Christus kom en sy loon is by Hom. Hy sal seën wie Hom vrees, groot en klein wat op Hom wag. Of jy nou oud is of jonk, in aansien in die samelewing of nie, hoog of laag – elkeen wat die Here vrees se arbeid is nie tevergeefs nie.

 

Dus, gemeente, die realisering van God se Koningskap werk twee kante toe – daar is oordeel vir dié burgers wat in opstand teen die Koning gelewe het, vir dié wat hulle nie aan Jesus Christus se Koningskap wou onderwerp nie. En ons moet dít verkondig. Dit is nie gewild nie, maar dit is wel die realiteit as ons glo in die Koningskap van Jesus Christus. Maar dan is daar ook regverdiging, herstel vir dié wat, in navolging van hulle Koning, gehoorsaam die wil van die Vader in die hemel gedoen het. Hulle sal saam met Christus as konings heers! Dit is ons aanmoediging om trou die Here Jesus te bly volg, watter teenstand en watter moeite dit ook al mag bring. Gaan gehoorsaam agter Jesus aan – wie saam met Hom ly, sal ook saam met Hom verheerlik word. Die Koning het alle mag om hierdie belofte te realiseer.

Ten slotte let ons nog op die onthulling.

 

3. Na die sang van die twee kore word die tempel van God in die hemel geopen, en sy verbondsark word sigbaar, terwyl weerligte en stemme en donderslae en aardbewing en groot hael hierdie verskyning begelei. Sentraal in hierdie hemelse openbaring is die ark van die Here. Die ark is hier die simbool van God se troon. Ark en troon kan afwisselend gebruik word, en dit dui telkens op dieselfde werklikheid. En dit is nie ‘n vreemde gedagte in die Skrif nie – ons lees byvoorbeeld in Jeremia 3:16 en 17 dat daar ‘n dag sal kom wanneer die volk nie meer na die verbondsark van die Here sal soek en ook nie ‘n nuwe een sal maak nie, want in dié tyd sal hulle Jerusalem noem “die troon van die Here”. Dus, die ark dui baie duidelik op die troonsetel van God.

Maar ons weet verder, gemeente, dat in die verbondsark altyd die kliptafels van die wet bewaar is. U onthou mos nog dat Moses, nadat hy die kliptafels met die wet bo-op die berg ontvang het, hy dit in die ark moes bêre. Terloops, die wetgewing op die berg Sinai het óók gepaard gegaan met weerligte en donderslae, net soos hier. Nou, dáár, binne-in die ark, het die kliptafels gedien as die grondslag van God se troon en sy regering; God se rykstroon is gestig op reg en op geregtigheid. En hoewel die ark met die kliptafels tydens die ballingskap verlore gegaan het, en die allerheiligste van die nuwe tempel ná die balligskap leeg gestaan het, was God se regering steeds gebaseer op reg en geregtigheid. Die verbondswet was en is steeds die basis van God se regering.

Daarom is dit so ‘n vertekening wanneer mense vandag Christus se regering voorstel as een van uitsluitlike liefde en geduld en barmhartigheid. Natuurlik, Christus se regering is ook dít, maar sy regering is heel eerste reg en geregtigheid, gebaseer op die tien gebooie! Anders was die verlossende werk van die Here Jesus nie meer nodig nie! Juis omdat God sy reg en sy wet handhaaf, juis daarom was dit nodig dat die Here Jesus God se geregtigheid volmaak moes volbring. Dit wat Psalm 97 ons leer (“die HERE is Koning … geregtigheid en reg is die grondslag van sy troon”) is steeds in die nuwe verbond ‘n werklikheid.

 

En dít is wat ten slotte in hoofstuk 11 vir Johannes getoon word. Hy sien in die hemelse tempel die verbondsark, die troon van God. En vir enige Jood, vir enige iemand wat die geskiedenis en geskrifte van die ou verbond geken het, het daarmee ook die assosiasie gekom van die verbondswet binne-in die ark. En hoewel ark en kliptafels nie meer in die aardse tempel in Jerusalem gestaan het nie, was dít steeds die grondslag van God se regering in die hemel. By die Here is die kliptafels steeds aanwesig; die ewige Koning regeer steeds deur reg en deur geregtigheid. Elke mens sal volgens sy reg geoordeel word. En dít is dan ook die basis vir die oordeel oor Jerusalem en die tempel – die volk het oor eeue heen van die wet van die Here afgewyk. En vir eeue was die Here geduldig. Maar toe hulle uiteindelik die Vervuller van die wet, hulle volmaakte Geregtigheid, Jesus Christus, omgebring het, toe was die maat van God se geduld vol. Toe word die volk deur hulle Koning geoordeel en gestraf volgens die maatstaf wat hulle self maar alte goed geken het – God se wet!

 

En vir die sewe gemeente in Klein-Asië is daarin die waarskuwing en die oproep: wees gehoorsaam aan jou Koning. Leef volgens die wet van jou Koning. Wanneer die oordeel oor Jerusalem en die tempel net hierna sy hoogtepunt – of dalk eerder: sy dieptepunt – gaan bereik, dan is God se wet, dan is sy reg, die maatstaf van sy oordeel oor sy ongehoorsame verbondsvolk. Ja, die Here eis van sy volk volmaakte gehoorsaamheid, niks minder nie! Maar dit wat Hy eis, dit het Hy ook gegee – in Jesus Christus. Maar helaas, die grootste deel van die volk wou Hom nie aanvaar nie, hulle wou sy kruisdood nie aanvaar nie, hulle wou die geskeurde tempelgordyn nie aanvaar. Dan val hulle uiteindelik onder die oordeel van die wet.

Gemeente, die Here is Koning – niks of niemand wat dít van Hom gaan wegneem nie. En van sy volk, van ons vandag, verwag Hy dat hulle dankbaar-trou God se wet sal hou, heilige lewensorde, hul van God geworde (Ps. 99:4 ber.). Dankbaar-trou – omdat Christus, ons Koning, tegelykertyd ook die geslagte Lam is. Hy het die volmaakte gehoorsaamheid vervul. En in Hom mag óns, wat nooit by God se standaard kan uitkom nie, lewe en vrede hê. En deur die krag van sy Gees mag ons nou ook in sy wet gaan wandel. Doen dit, broers en susters. Lewe vanuit Christus en vanuit die krag van sy Gees – en gaan dan heen, en sondig nie meer nie. Wie voor die Koning buig, wil ook sy wet gehoorsaam navolg. Wie die Koning bely, maak sy belydenis konkreet sigbaar in ‘n lewe van bekering en gehoorsaamheid.

 

En anders…

Ja, anders wag die oordeel ook vir ons. Ons is in daardie opsig nie anders as Israel nie. Reg en geregtigheid is steeds die grondslag van God se troon; steeds is die ark met die verbondswet daarin ‘n hemelse werklikheid. En dit sal steeds by die eindoordeel die maatstaf van God se uitspraak oor ons wees. Buig jou daarom met eerbied voor die troon van die Koning. En gaan lewe môre en oormôre ‘n koninklike lewe!

Amen

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 10:1-3, 8-10

Votum Ps. 124:4

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 93:1, 2 en 4

Wetslesing

Sing Ps. 95:2, 5 en 6

Gebed

Lees:    Openbaring 10:7 (hoef nie op die bord nie)

Openbaring 11:7-19

Psalm 2

Handelinge 4:23-31

Sing Ps. 97:1, 5 en 6

Teks: Openbaring 11:15-19

Preek

Amenlied Ps. 99:1-3

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 100:2-4 (wysie soos in die psalmboekie)

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)