Die Gees is ook aan my gegee

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2012-09-09
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 20
Verwysing: 
HK 20-3
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – HK, Sondag 20; lees Lukas 11:9-13,

 

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Ek wil u uitdaag om ‘n bietjie te gaan nadink oor die vraag: kan ons vandag nog nuwe belydenisse skryf? Is dit moontlik om, by die drie Ekumeniese belydenisskrifte en die drie Formuliere van Eenheid wat ons alreeds het, nóg ‘n belydenisskrif te voeg? Is so iets moontlik, of sou dit onskriftuurlik wees? Interessant genoeg, dit is die eerste ding wat Johannes Calvyn gedoen het toe hy met sy werk in Geneve begin het: hy het ‘n belydenis geskryf. “Ja, maar toe was daar nog nie ander belydenisse nie”, sal jy sê. Dit is nie heeltemal waar nie, maar ook al sou dit waar wees, nogtans het Calvyn die vrymoedigheid geneem om sy geloofsinhoud, wat tegelykertyd die geloofsinhoud van die kerk was (gebaseer op die Bybel), te gaan verwoord en op papier te sit. Sou ons dit vandag nie meer kon doen nie? “Ons sou seker, maar ons geloofsinhoud is mos reeds op skrif gestel”, dink jy miskien. Goed, maar sê ons belydenisskrifte alles? En is ons belydenisskrifte volledig op elke punt van die leer? Is ons belydenisskrifte, hoewel dit die gesonde leer op ‘n kragtige wyse verwoord, nie vir ‘n deel bepaal deur die stryd van die tyd waarin dit opgestel is nie?

 

Nou, ek begin die preek met hierdie vrae, juis omdat dit by Sondag 20 – waar dit gaan oor wat ons van die Heilige Gees glo – baie relevant is. Ons belydenisskrifte is naamlik opmerklik kort oor wat ons van die Heilige Gees glo – in die NGB word daar ‘n enkele, kort artikel aan die Gees gewy (art. 11), en in die Kategismus ‘n enkele Sondagsafdeling (Sondag 20). Dis al. Natuurlik, ons belydenisskrifte is só pragtig opgestel dat die besondere werk van die Heilige Gees altyd implisiet aanwesig is; dit is duidelik dat die Gees, in ons belydenisskrifte, altyd op die agtergrond aan die werk is. En tog word daar nie baie konkreet en uitgebreid aandag gegee vir die werk van die Gees nie. En juis in ons tyd, waarin daar geweldig baie aandag is vir die Gees en sy werk en waarin daar ook baie dwalings bestaan oor die Gees en sy werk, kan die kerk moontlik haar wins daarmee doen om ‘n slag duidelik en sistematies te bely wat sy glo oor die Heilige Gees en sy werk. Dit is dalk ‘n vraagstuk om oor na te dink en verder te praat.

Goed, kom ons beweeg aan, en kom by die tema vir vanmiddag se preek…

Tema: Die Gees is ook aan my gegee… Hy is:

  1. Die Gees van die belofte
  2. Die Gees van vertroosting
  3. Die Gees van volharding

 

1. Wat glo jy van die Heilige Gees? Dit is ‘n baie persoonlike vraag wat die Kategismus hier aan ons stel. En dit vra daarom ook om deur elkeen van ons persoonlik beantwoord te word. Uiteraard doen ons dit in verbondenheid met die katolieke kerk – die kerk van alle tye en plekke – maar nogtans bly dit ‘n baie persoonlike antwoord. En daardie antwoord lui soos volg: “Ten eerste is Hy saam met die Vader en die Seun ware en ewige God. Ten tweede is Hy ook aan my gegee sodat Hy my deur ‘n ware geloof aan Christus en al sy weldade deel laat kry…” Nou, vir die meeste van ons is die ‘ten eerste’ nie regtig ‘n probleem nie.  Dat die Gees saam met die Vader en die Seun God is, is mooi, maar dit raak ons nie so baie nie. Die ‘ten tweede’, dat Hy ook aan my gegee is en my só aan Christus verbind, ja, dáár druk die skoen. Dat die Gees God is, dit glo ek sonder moeite, maar of Hy ook aan my gegee is… ek weet nie.

En só haal ons, sonder dat ons dit besef, ‘ten eerste’ en ‘ten tweede’ uitmekaar uit. Ons sien hierdie twee as aparte waarhede wat verder nie so baie met mekaar te doen het nie. En daar lê dan ook ons probleem: ons haal uitmekaar wat bymekaar hoort. Die feit dat die Heilige Gees God is saam met die Vader en die Seun, het alles te make met my persoonlike geloof. Die feit dat die Heilige Gees God is saam met die Vader en die Seun, is beslissend vir my om te kan sê: Hy is ook aan my gegee. Ek sal nooit sekerheid kry of die Heilige Gees ook aan my gegee is, as ek nie éérs kan bely dat Hy een God is saam met die Vader en die Seun nie. Wat bedoel ek hiermee, broers en susters?

 

Wel, kom ons stel eers die vraag: wat beteken dit dat die Gees saam met die Vader en die Seun ware en ewige God is? Dit beteken onder andere dat Hy Homself op dieselfde manier aan ons bekend maak en meedeel as die Vader en die Seun. Omdat hulle saam een God is, het hulle aldrie dieselfde manier om hulleself aan ons te gee. Dit gaan hier dus oor hoe die Drie-eenheid Homself aan ons openbaar! En hoe gebeur dit? Dit gebeur deur die Woord van die belofte! Geloof in die Drie-enige God en in elkeen van die drie Persone ontstaan en groei deurdat ek God op sy beloftewoord aanvaar; die geloof gryp altyd na die belofte! Dit is wat Sondag 7 ons leer: “Wat moet ‘n Christen glo? Alles wat in die evangelie aan ons beloof word.” Ek moet in die Heilige Gees glo en ek moet glo dat Hy ook aan my gegee is, omdat Hy in die evangelie aan my belowe word!

Dit is mos wat ek doen in die geval van die Vader en die Seun, nie waar nie?  Hoe weet ek dat die Vader die wêreld geskape het? Ek weet dit mos nie omdat ek om my heen kyk en dink: mmm, dit alles kon nie vanself ontstaan het nie, daar moet dus ‘n Skepper wees. Nee, ek weet dit omdat die Vader dit aan my openbaar in sy Woord. Hy verkondig dit aan my, en daarom weet ek dit deur die geloof. Dieselfde geld vir die Seun – hoe weet ek dat die Seun vir ons sondes aan die kruis gesterf het? Is dit omdat ek so ‘n goed-ontwikkelde sondebesef het en daarom uit my eie na ‘n Verlosser begin soek? Nee, ek weet dit, omdat die Skrif my dit leer, omdat die Skrif my die belofte gee van verlossing deur Jesus Christus, en ek dit deur die geloof aanneem. Nou, die Gees is mos sáám met die Vader en die Seun ware en ewige God, en daarom geld dieselfde ook vir Hom! Hoe weet ek dus dat die Heilige Gees ook aan my gegee is? Omdat dit in die evangelie aan my belowe word!

 

Ja, dit is mos presies wat ons gelees het in Lukas 11. Aardse vaders, wat sondige en slegte mense is, hulle weet watter goeie gawes om aan hulle kinders te gee. Hoeveel te meer dan sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid? Dit is geen onsekerheid nie, broers en susters. Hier het ons ‘n belofte van die God wat trou bly tot in ewigheid en nooit laat vaar die werke van sy hande nie. Hy belowe vir jou: “Ek is jou hemelse en volmaakte Vader; as jy my opreg daarvoor bid, dan sal Ek my Heilige Gees aan jou gee.” Só onderrig die Here Jesus ons tydens sy lewe op aarde.

En nadat Jesus na die hemel opgevaar het, maak Petrus dit nog verder bekend in Handelinge 2, tydens sy toespraak op die Pinksterdag. Hy verkondig vir sy luisteraars in vers 33: “Nadat Jesus dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor.” Hoor u dit – die belófte van die Heilige Gees! En wanneer die luisteraars kort daarna in geloof op die prediking reageer, dan verkondig Petrus in vers 39 aan hulle: “… dié belofte (d.w.s. die belofte van die Heilige Gees) kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.” In die prediking – net soos op die Pinksterdag – kom die belofte van die Gees na ons toe, en die Vader gee Hom aan elkeen wat in geloof en deur middel van die gebed op die prediking reageer.

 

Hoekom worstel ons so hiermee? Dat die Vader vir ons sê dat Hy die wêreld gemaak het en steeds onderhou – dit sal ons sonder groot moeite in geloof aanvaar. Dat die Seun vir ons sê dat Hy in ons plek vir die sondes gesterf het – dit sal ons ook in geloof aanvaar. Maar dat die Heilige Gees gegee word aan elkeen wat Hom van die Vader afbid, dat Hy gegee word aan elkeen wat in geloof op die evangelie reageer – daarmee worstel ons. En ons worsteling word nog swaarder gemaak deur ‘n deel van vandag se christendom, wat ons wil wysmaak dat die aanwesigheid van die Gees in ons lewens konkreet sigbaar moet wees deurdat ons in tale kan spreek of deurdat ons in die Gees moet kan lag of in die Gees moet kan val of huil… En daarmee word ‘n geweldige gewetenswroeging op gewone gelowiges geplaas, omdat hulle nie een van hierdie dinge in hulle lewens kan aantoon nie. En dan groei die vertwyfeling en die vrae – is Hy regtig ook aan my gegee?

Maar, gemeente, hou dan hieraan vas: die Heilige Gees is saam met die Vader en die Seun ware en ewige God, en daarom word Hy op dieselfde manier aan ons geopenbaar as die Vader en die Seun. En dit is eenvoudig in die weg van die beloftewoord. Die Gees is altyd die Gees van die belofte! En daardie belofte moet gepréék word; in die prediking moet die belofte van die Gees vir ons aangebied word. Die prediking het nie die taak om jou gevoelens te streel nie, die prediking het nie die taak om jou geloofsbelewing aan te wakker nie. Die prediking het die taak om die Woord van die belofte te verkondig. En van die hoorders – die ontvangers van daardie belofte – word eenvoudig gevra: glo dit! As God vir jou sê: “Ek gee my Heilige Gees aan julle, wat die krag verleen en trou, om te wandel in my weë en my wet te onderhou…” – glo dit dan! Moenie hierbinne gaan krap na allerhande tekens en kenmerke van die aanwesigheid van die Gees nie, moenie die Gees hier (binne) soek nie. Nee, aanvaar dat God betroubaar is wanneer Hy spreek, wanneer Hy sy belofte laat verkondig.

Daarmee sê ons nie dat die Gees nie ook sigbaar in ons lewens behoort te wees nie – natuurlik moet Hy. Daarmee sê ons ook nie dat daar nie so iets is soos die vrug van die Gees en die gawes van die Gees nie – natuurlik is daar. Maar die groot vraag: hoe word die Gees in my lewe sigbaar? En hoe groei die vrug van die Gees? Deur die prediking van die belofte. Slegs op dié manier kan ek die persoonlike vraag (“wat glo jy van die Heilige Gees”) ook baie persoonlik beantwoord: Hy is ook aan my gegee!

In die tweede plek is die Gees ook die Gees van vertroosting.

 

2. Gemeente, die Kategismus vervolg deur te sê dat die Gees my ook troos. Dus, wie die belofte van die Gees in geloof aanvaar, ontvang ook werklik die Gees, en ontvang in Hom ook die Trooster. Hooplik hoor ons hierin ‘n verwysing na die evangelie volgens Johannes waar die Heilige Gees verskeie kere in hoofstukke 14-16 deur die Here Jesus as die Trooster aan ons voorgestel word. Maar nou moet ons oppas om vir onsself ‘n eensydige beeld van hierdie Trooster te vorm, so asof die Gees maar net mooi en teer woordjies tot ons spreek, so asof Hy ons maar net saggies vashou.

Nee, die Griekse woord waarmee ‘Trooster’ vertaal is, is ‘Parakleet’. En ‘Parakleet’ is ‘n term uit die regswêreld. Enersyds is dit ‘n aanduiding van ‘n advokaat, iemand wat tot jou verdediging optree, maar andersyds is dit ook ‘n aanduiding van – kom ons noem dit maar – ‘n staatsaanklaer. En dit is dan ook die tweeledig taak van die Heilige Gees. Hy verdedig én Hy kla aan – en Hy doen dit nie nét in die sin dat Hy die gelowiges as Advokaat verdedig en die ongelowiges as Aanklaer aankla nie. Nee, Hy doen ook beide hierdie dinge in my hart! Enersyds troos Hy my, kies Hy my kant, verdedig Hy my wanneer ek in geloof en gehoorsaamheid voor God wandel, máár andersyds kla Hy my ook aan, en ontneem Hy my alle verontskuldiging wanneer ek sonde doen en in die sonde bly leef.

 

Maar, dink jy miskien, wat help dit om aan die een kant Iemand te hê wat vir jou is, maar wat aan die ander kant ook teen jou kan wees? Wat help so ‘n wispelturige Trooster? Nee, gemeente, dit is nie ‘n kwessie dat die Gees vir én teen ons is nie; Hy is slegs vir ons! Hy is aan ons gegee om by ons te bly tot in ewigheid (Joh. 14:16). Máár met sy inwoning in my hart is én bly Hy altyd die Gees van die waarheid (14:17), wat niks van die waarheid vir my verberg nie, ook al is dit hoe pynlik! As die Gees van die waarheid leer Hy my, en herinner Hy my aan alles wat Jesus gesê het (14:26). En op dié manier is Hy tot my diens sodat ek as gelowige die gebooie van die Here Jesus kan bewaar. Dit is waarheen die Gees my wil lei: om ‘n gehoorsame kind van God te wees. Want, sê Jesus, in die onderhouding van sy gebooie blyk my liefde vir Hom (14:15 en 21), in die onderhouding van Jesus se gebooie wys ek dat ek ernstig is oor my verhouding met Hom. En die gevolg hiervan, só sê Jesus in verse 21 en 23, is dat die Vader ook vir my sal liefhê, en dat die Vader en die Seun by my woning sal kom maak.

En, gemeente, wat is uiteindelik beter as dit? Wat is ‘n groter eer as dat die Drie-enige God by jou kom woning maak? Dit is mos die hoogtepunt van die geloof, naamlik dat God in my bly, en ek in Hom – daardie geheime eenheid wat niemand van jou kan wegvat nie! Dán is ‘n mens werklik getroos! En ja, dan gaan dit soms gepaard met val en opstaan, en dit is soms baie pynlik as die Gees, die Aanklaer, my foute aan my uitwys. Dit is pynlik as Hy my help om deeglike selfondersoek te doen, so deeglik dat ek my moet skaam vir my ongehoorsaamheid en liefdeloosheid en ondankbaarheid. Maar uiteindelik kan ek maar net sê: dit was goed, want in hierdie proses het die Gees my nader aan my Verlosser gebring. En só is die Gees waarlik die Trooster, pynlik maar tog heilsaam. Hy verbind my hoe langer hoe meer aan Christus, somtyds deurdat Hy my verdedig, somtyds deurdat Hy my aankla. Hy is nie nie soos Job se vriende – swak troosters – wat maar net met die roede geslaan en seergemaak het nie. Hy is ook nie soos baie troosters vandag wat maar net mooi woorde praat, maar intussen die pynlike waarheid verberg nie. Nee, Hy is die Gees wat in liefde die waarheid betrag.

En as ons wil praat van ‘n christelike gewete, dan is dít waaroor dit gaan. Deur die inwoning van die Heilige Gees – my Advokaat én Aanklaer – ontwikkel my gewete sodanig dat ek met verloop van tyd ‘n aanvoeling begin kry vir wat reg en verkeerd is. Ek begin aanvoel wanneer iets volgens die wil van God is, en wanneer iets teen sy wil is. En weereens, dit is nie altyd aangenaam nie. Dikwels ‘sus’ ons ons gewete, soos wat ons dit noem, dikwels maak ons die gewete stil. Maar moenie dit doen nie! Die gewete is ‘n ingeskape meganisme wat deur die Gees gevorm en gebruik word om jou op God se pad te hou.

 

Broer en suster, as jy daarom vir God bid om die gawe van die Heilige Gees, as jy kom tot die geloofsuitspraak: “Hy is ook aan my gegee”, besef dan baie goed met watter Trooster jy te make het. Hy gaan jou nie saggies behandel nie, Hy gaan jou nie sus met mooi woorde nie. Hy gaan jou ook nie altyd goed oor jouself laat voel, soos baie mense vandag meen nie. Nee, Hy gaan met jou wérk. Deur die prediking en die sakramente gaan Hy aan jou beitel, gaan Hy jou lewe vorm na God se beeld. En daarin is Hy soms hardhandig. Hy het soms nodig om iets ernstigs in jou lewe te laat gebeur om jou tot besinning te bring. Hy maak soms seer, maar Hy maak nooit dood nie! Inteendeel, dit is alles tot jou beswil, sodat jy en ek die mense kan wees wat God met ons bedoel het. Dank die Here vir só ‘n Trooster! Want wat Hy uiteindelik in ons werk, is die troos en die vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Ten slotte is Hy ook die Gees van volharding.

 

3. Dit is die laaste gedagte van Sondag 20: die Gees is aan my gegee om ewig by my te bly. Eintlik sluit hierdie punt baie nou aan by die vorige. Want as die Gees inderdaad die Trooster is – in die sin soos wat ons dit hierbo bespreek het – dan het Hy ook ‘n langtermyn doel met jou en my, dan stap Hy die harde pad sáám met jou en my. Die Gees is daarom nie soos ‘n kampeerder wat op toer is nie – hy slaan nie sy tent by die een kampterrein op, en as daardie plek Hom nie beval nie, dan pak Hy op en vertrek na ‘n beter kampterrein. Nee, die Gees kom kamp nie maar net in jou lewe nie, Hy kom maak woning in jou lewe! As Hy deur die Vader aan my gegee word, dan neem Hy sak en pak sy intrek in my lewe: “Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid” (Joh. 14:16). Gepraat van ‘n langtermyn-projek!

En natuurlik praat die Skrif daarvan dat ons die Gees kan berou, of dat ons die Gees kan uitblus. Dit is waar. God se belofte van die ewige inwoning van die Gees is daarom ‘n belofte wat vra om in geloof en in gehoorsaamheid beantwoord te word. Dit is nie ‘n belofte waarby ek agteroor kan sit en dink dat my kaartjie na die hemel geboek is nie. Trouens, nie een van God se beloftes werk so nie. God se beloftes vra altyd geloof – nie as ‘n daad van verdienste nie, maar as aanvaardig van wat Hy gee! En wie in geloof God se belofte aanneem, hoef dan ook nie te twyfel nie. Wie in geloof God se belofte aanvaar, naamlik dat sy Gees ewig by ons bly, hoef nie te wonder wanneer die Gees sy goed gaan vat en loop nie. Nee, daardie belofte is vas en seker; daardie belofte word werklikheid!

 

En daarom kan ons ook die volharding van die heiliges bely, broers en susters. Daarom het ons ‘n hoofstuk 5 in ons Dordtse Leerreëls. En dit is nie maar net ‘n menslike dokument nie, daardie hoofstuk van die Dordtse Leerreëls spreek die Skrif na. Die Skríf leer ons dat God, wat ‘n goeie werk in ons begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus (Fil. 1:6). Die Skríf leer ons dat diegene wat die Here vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié sal Hy ook verheerlik (Rom. 8:30). En omdat die Skrif dit sê, daarom mag ons dit naspreek. Ek mag bely dat dit onmoontlik is vir ware gelowiges om die geloof te verloor, ek mag bely dat die Here die werke van sy hande nie sal laat vaar nie. En dit alles danksy die Heilige Gees wat gegee is om by my te bly tot in ewigheid.

Maar moenie dat dit jou laks maak nie. Daarmee gee jy onnodige en onteregte skietgoed in die hande van enige Armeniaan en enige Rooms-Katoliek. En dit is daarby ook teen die aard van die Heilige Gees om ons laks te maak. Nee, die Gees maak ons nooit laks nie, maar Hy maak ons seker. Hy gee aan ons geloofsekerheid. “Nogtans sal ek altyd by U bly, niks sal my van u liefde skei” Niks. En daarom gaan lewe ek ook vir hierdie God. Ek gee my hele lewe aan Hom. Elke woord en daad en gedagte behoort nou aan Hom. Die Gees wat by my kom intrek het, Hy verander my lewe. Tot lof en heerlikheid van die Vader!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Skr. 13:3-7

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 84:1 en 2

Gebed

Lees:    Lukas 11:9-13

            Johannes 14:15-26

Kollekte

Sing Skr. 17:4-6

Teks: HK, Sondag 20

Preek

Amenlied Ps. 143:7-9

Gebed

Belydenis van geloof (ek sal opsê)

Slotsang Skr. 14

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)