Sondag19(1) : : Christus sit op die geregstoel van die hemelse Jerusalem!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-09-02
Teks: 
I Petrus 3 : 18-5 : 11 en Ezegiel 9
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten

 

Preek – HK, Sondag
19

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

“’n Koning hou deur reg die land in stand…” – só leer
die Spreuke-boek ons in Spreuke 29:4. Baie wyse woorde! Baie pynlike woorde ook,
wanneer ons om ons heen sien en dalk eerstehands ervaar hoe die reg in ons eie land
– en nog soveel te meer in ons buurland, Zimbabwe – vertrap word; wanneer ons
sien dat die einste mense wat die reg moet handhaaf, hulleself bo die reg
verhef. ‘n Koning hou deur reg die land in stand – as dít die geval is, wat is
dan die implikasies vir ‘n land waar die reg nie meer gehandhaaf word nie? Wat
is die toekoms vir ‘n land waar die reg vertrap word?

Broers en susters, hoe wonderlik is dit dan om vanuit Psalm 122 oor
die kerk van die Here te kan sing: “Daar staan die Dawidstroon gestig, ‘n
regterstoel vir die gerig.” Of in die woorde soos wat ons dit letterlik in die
Skrif vind: “Want daar staan die stoele vir die gereg, die stoele van die huis
van Dawid.” Ja, ook God se volk, sy kerk, word in stand gehou deurdat Hy, deur
middel van sy koning, die reg handhaaf. Onder die ou verbond was dit koning Dawid
en sy nakomelinge wat op die regterstoele gesit het. Die konings was die regters;
dáár in Jerusalem het die Dawidiese konings die sleutels van die koninkryk
bedien – hulle het versoening uitgespreek vir die gelowiges en straf vir die ongelowiges.
En daarom was die digter ook so bly toe daar vir hom gesê is: “Kom, laat ons na
die huis van die Here gaan.” Só was dit onder die ou verbond, maar só is dit
ook nog onder die nuwe verbond. Met dié verskil dat daar vandag nie meer aardse
konings op die regstoele sit nie, maar ons hemelse Koning, Jesus Christus! Deur
sy regspraak, deur sy Woord, word sy Koninkryk en word die kerk gehandhaaf en
gebou, en deur sy regspraak word die sondaars gestraf. Christus sit op die
regterstoel – tot voordeel van sy kerk, maar tot verskrikking vir elkeen wat sy
reg vertrap.

Tema: Christus sit op die geregstoel van die hemelse Jerusalem!

  1. Daar sorg Hy vir sy kerk
  2. Daar begin sy oordeel

 

1. Dit blyk verskillende kere uit die eerste brief van Petrus dat die
christene in Klein-Asië deur ‘n baie moeilike tyd gegaan het. Hulle word – op
die oomblik dat Petrus sy brief skryf – bedroef onder allerhande beproewinge
(1:6); hulle staan op gespanne voet met die nie-christelike omgewing. Hierdie
beproewinge het nie soseer bestaan uit fisiese vervolging nie, maar eerder uit
lastering. Die christene in Klein-Asië word gelaster oor die Naam van Christus
– ons kan dit duidelik aflei uit verskeie verse in die brief (bv. 2:12, 3:9,
3:16, 4:4 en 4:14). Die samelewing van daardie tyd was gelaai met die
elektrisiteit van vyandskap teen die christene. Agter hulle rug is daar
gefluister dat die christene allerhande verskriklike gewoontes gehad het, te
skandelik selfs om te noem; hulle is ook beskou as vyande van die staat. Verder
kon die christelike slawe in die oë van hulle heidense meesters eenvoudig niks
reg doen nie. Ook al het hulle hul bes gedoen om hulle meesters te dien, is
hulle nogtans daarvan verdink dat hulle die maatskaplike orde omver wou werp –
het hulle dan nie gepraat van die vryheid waardeur hulle vrygemaak is nie? Die
slawe-eienaars het gedink dat hulle christen-knegte hierdie nuwe vryheid – wat eintlik
‘n vryheid in Christus was – wou  gebruik
as ‘n dekmantel vir die bose (2:16). En as daar verder een of ander misdaad bedryf
is – moord of diefstal – dan was die christene die eerstes wat daarvan verdink
is (4:15). Daarom is die christene gereeld voor die regbank gesleep, en wanneer
die regters eers uitgevind het dat hulle ‘n christen voor hulle het, was die
vonnis so te sê seker: skuldig!

 

Ja, gemeente, dit was beslis geen maklike tyd vir die jong gelowiges
nie. Maar dit is ook geen vreemde tyd nie. Die swaarkry van die gelowiges is
nie onverwags nie. Petrus sê daarom ook in hoofstuk 4:12: “Geliefdes, verbaas
julle nie oor die vuurgloed van vervolging nie… asof iets vreemds oor julle kom
nie.” Ons vind in hierdie moeilike tyd eerder ‘n bevestiging van die woord wat
sê: die dienskneg is nie meer as sy Heer nie. Jesus Christus self is immers gespot
en belaster; sou sy volgelinge dit dan vryspring? Nee. Ook ons moenie verbaas
wees wanneer ons fisiese of verbale vervolging moet verduur nie; dit sou
heeltemal ‘normaal’ wees.

Nou, juis in hierdie ‘normale
omstandighede wil Petrus aan sy lesers perspektief bied, wil hy vir hulle uitsig
bied – hy wil vir hulle wys dat Christus, volgens hoofstuk 3:22, ná sy
opstanding na die hemele gegaan het en aan die regterhand van God is. Vanuit
die hemel is Hy nou die hoof van sy Christelike kerk; Hy regeer háár, maar uiteindelik
ook die hele wêreld (v/a 50). Die kerk is in haar bespotting en vervolging dus nie
sonder koninklike beskerming nie; die kerk is in haar beskuldigde staat voor
die hofsitting van hierdie wêreld nie sonder hemelse regshulp nie. Nee, die
kerk het ‘n Koning wat op die hemelse regterstoel sit! En daarom kán die kerk voortbestaan;
Jesus Christus láát die kerk voortbestaan, en Hy doen dit deur sowel van binne
as van buite vir haar te sorg.

 

Hy doen dit in die eerste plek van binne deurdat Hy, volgens
antwoord 51, hemelse gawes in sy lede uitstort. Christus gee vanuit die hemel
en deur die Heilige Gees aan sy kerk intern wat sy nodig het om voort te
bestaan. En dit is nou presies waarna Petrus in hierdie gedeelte van sy brief
ook verwys, wanneer hy vir die gelowiges wys hóé hulle kerk moet wees teenoor die lastering van die omgewing.
Hulle het naamlik van Christus alles ontvang wat nodig is om as kerk teenoor ‘n
vyandige omgewing te kan standhou, om laer te kan trek teenoor die wêreld. Hulle
het gawes gekry (vers 10)! Ja, God het ‘n geweldige kapitaal in die kerk
geïnvesteer; uit die ryk skat van sy hemelse genade het elkeen in die kerk ‘n
genadegawe ontvang – nie slegs die rykes en die vooraanstaandes nie; nee,
elkeen! Die bron van God se genade stroom oor in sy kerk, en almal mag daarin
deel. God se Gees verleen die krag om in die gemeente te kan spreek en te kan
dien (vers 11).

Die Griekse woord wat in vers 11 met ‘verleen’ vertaal is, is choregei. Nou, die choregos was in daardie tyd die man wat uit sy eie sak die kostes
gedra het vir ‘n koor om in die teater te kan optree – hy was iemand wat die
koor geborg het; ons kan sê hy was die beskermheer van daardie koor. Op
dieselfde wyse lewe die christelike gemeente volledig op die koste van Christus.
Hy betaal vir hierdie gemeente, Hy sorg daarvoor dat sy kan funksioneer deurdat
Hy haar, deur sy Gees, voorsien. Koninklik en vanuit die hemel sorg Christus
daarvoor dat hierdie gemeente niks kortkom nie. Daar is dus geen rede – behalwe
laksheid en ongehoorsaamheid – waarom hierdie gemeente nie na behore kan
voortbestaan nie, want Christus het voorsien!

 

En daarom, broers en susters, word óns vervolgens opgeroep om goeie
bedienaars van hierdie veelvuldige genade van God te wees. Ons is immers nie
trotse besitters van God se genadegawes nie, my gawes is nie myne nie; nee, ons
is dankbare beheerders / rentmeesters daarvan. Alle funksies en bekwaamhede wat
hier binne die gemeente bestaan – ook jou gawes – het altyd die karakter van
Godgegewe moontlikhede wat jy optimaal moet benut. En ons benut ons gawes
optimaal wanneer ons mekaar met daardie gawes dien – wanneer ons mekaar vurig
liefhet (vers 8), wanneer ons gasvry teenoor mekaar is (vers 9), wanneer ons
woorde van God spreek en wanneer ons met die krag van God dien (vers 11). Só
betoon Christus Homself as die Hoof; dít is die manier waarop Christus intern vir
sy kerk sorg – deurdat ek jou dien met my gawes, en deurdat jy my dien met jou
gawes. Laat ons daarom ons gawes gebruik, en niemand is hiervan uitgesluit nie.
Laat ons goeie bedienaars van God se genade wees. Só word Christus se hemelse
Hoofskap vir ons nuttig, wanneer ons mekaar met sy gawes dien. Só word sy
hemelse Hoofskap sigbaar wanneer ons diensbaar is tot sy heerlikheid!

 

Maar, gemeente, Christus is vervolgens ook ekstern besig. Hy sorg nie
slegs van binne vir sy kerk nie, maar ook van buite deurdat Hy ons, volgens die
tweede deel van antwoord 51, met sy mag teen alle vyande beskerm en
bewaar. Alle vyande – ja, maar agter al die vyande is daar natuurlik die een groot
vyand: die duiwel, God se groot teenstander, en daarom ook die groot
teenstander van die gemeente. Hy gaan, volgens hoofstuk 5:8, rond soos ‘n
brullende leeu, hy soek wie hy kan verslind. Hy is lewensgevaarlik, en hy
verlei die wêreld om saam met hom vyandig teenoor die kerk te staan. Maar,
gemeente, vir ons word die troos gebied dat hierdie vyand nie maar net met die
gemeente kan maak wat hy wil nie; hy het nie vrye teuels om die gelowiges te
onderdruk nie. Uiteraard laat God soms toe dat die kerk verdruk word, maar nogtans
moet die vyand en al sy aanhangers uiteindelik rekenskap gee aan Hom wat gereed
staan om die lewende en die dode te oordeel (4:5). Ook hulle kan sonder God se
wil nie roer of beweeg nie.

En daarom ook Petrus se oproep aan die einde van sy brief (5:6-7) om
onsself, in die aangesig van die vyandskap van die wêreld, onder die kragtige
hand van God te verneder. Let wel, Petrus sê nie dat God se hand ons verneder –
ons klein maak – nie; nee, hy roep óns eerder op om onssélf klein te máák deur
as’t ware in God se beskermende hand in te kruip. Só oorhandig ons die lewe van
die kerk in die hand van Jesus Christus! Werp al julle bekommernis op Hom, want
Hy sorg vir julle. Die gemeente mag hulle sorge in Christus se hand lê. Ons mag
onsself klein maak onder sy hand deur al ons sorge op Hom af te wentel. Dis
waar, sorg en angs en onsekerheid kan ‘n swaar las in die gemeente wees, en dit
kan selfs ondraaglik word. Maar ons mag onsself daarvan bevry deur dit op Jesus
Christus af te wentel. Hy dra sorg vir sy gemeente, Hy beskerm en bewaar ons
teen alle vyande. Hy wil dit doen, want sy gemeente is vir Hom ‘n hartsaak. ‘n
Huurling sal weghardloop as die kudde met gevaar bedreig word, maar die Goeie
Herder sorg vir sy skape. Sy sorg maak ons sorge oorbodig. En laat ons dit ter
harte neem, broers en susters. Laat ons voortdurend ons sorge oor die gemeente
en ons vrees vir die vyand aan die Here oorgee. Want Hy vergader, beskerm en
onderhou sy gemeente deur sy Gees en Woord, van die begin van die wêreld tot
die einde toe.

Christus sit op die hemelse regterstoel, en daarom is die kerk
veilig. Sowel van binne as van buite dra Hy sorg vir sy kudde. En wie beter om
dit te doen as Hy! Met sy kragtige hand wat daar is tot ons beskerming, mag ons
sing: “Hoe grondvas staan Jerusalem se walle, Gods eewge bergwerk wat nie skok
of skud” (Ps. 87:1 ber) As gemeente mag ons opsien na Hom!

Maar in die 2e plek let ons
ook daarop dat juis dáár die oordeel begin.

 

2. Gemeente, daar waar Christus op die regterstoel aan die regterhand
van God sit, is Hy nie slegs die groot Kerkbewaarder nie. Hy is ook die Regter,
wat regverdig oordeel. Nee, nie as iets vir die toekoms nie, maar as iets van
die hede! Dikwels wanneer ons oor God of Christus as die Regter praat, dan kyk
ons vorentoe, na die eindoordeel. Maar Petrus praat anders hieroor. Nadat hy in
verse 12-16 gepraat het oor die lyding wat die kerk moet verduur, vervolg hy onmiddellik
en in aansluiting daarop in vers 17: “Want die tyd is daar dat die oordeel moet
begin by die huis van God.” Die tyd is daar… - dit gaan hier nie oor die
eindoordeel nie; Petrus sien dat die oordeel
alreeds begin het, óók in die vervolging en lyding en smarte van sy dae!

Ons moet die eindoordeel dus nie losmaak van alles wat daar reeds
voor die tyd in die wêreld gebeur het, asof die eindoordeel ‘n geïsoleerde
gebeurtenis by die wederkoms is nie. Nee, God se oordeel is een groot eenheid! God
se oordeel is een groot regsitting wat alreeds begin het net ná die sondeval en
wat eers voltooi sal word by die finale oordeel. Dit is een groot, onafgebroke
regspleging. Een groot drama, met verskillende tonele. Ek het hierdie beeld al
vantevore gebruik, maar ons kan dit amper vergelyk met ‘n donderstorm, iets
waarmee ons hier in die noorde maar alte goed bekend is – van veraf kondig die
storm sy koms dreunend aan. Soms is dit vir ‘n oomblik stil, angstig stil. En
die natuur wag; die voëls swyg. En dan skielik, ‘n nuwe dreuning, nog nader.
Weer ‘n stilte – geen donder, geen bliksem. Maar die wolke bly aan die beweeg,
die lug bly werk. Luister, weer ‘n slag, nog nader. Voortdurend die afwisseling
van stilte en van nuwe onweersgeluide, maar elke keer nader. Tot skielik… ‘n
geweldige reënbui, ratelende donderslag, die vensters bewe in hulle rame, en
dan… daardie krakende bliksemstraal wat huise aan die brand laat slaan en
lewens in ‘n oomblik kan beëindig.

Só is dit ook met die oordeel, broers en susters. Voortdurend is dit
daar. Ja, dit kan vir lank stil wees. Maar daar is steeds beweging. God berei
sy donder voor. Elke keer opnuut is daar ‘n slag. ‘n Storm wat oor die wêreld
gaan. Elke ramp, elke aardbewing, elke oorlog, elke moord en doodslag is ‘n
openbaring van die oordeel, God se veldtog teen sy vyande. En elke keer kom die
oordeel nader, word die donder dreigender. Daar is dus nie verskeie oordele nie, gemeente; nee, daar is
slegs die een oordeel, die oordeel van God wat Hy voltrek vanaf die sondeval
tot by die voltooiing van die wêreld!

 

Alles goed en wel, maar wat het dit nou te make met die feit dat
Christus die Bewaarder van sy kerk in verdrukking is? Hoekom praat Petrus oor
die oordeel in die konteks van die verdrukte gelowiges? Die gelowiges is mos
nie goddeloses nie? Nee. En tog sê Petrus: gemeente van Jesus Christus, wanneer
die verdrukking losbars en die moeite kom, moenie julleself te vinnig daarvan
afmaak nie; moenie maak asof dit julle nie aangaan nie. Want dit is deel van die
oordeel! Dít is deel van God se groot veldtog teen die sondaars en teen die
sonde. En daardie oordeel begin by die huis van God! (vers 17) Die
kerk is dus die wegspringblokke vir God se oordeel. Die gemeente van Jesus
Christus – dáár begin dit! En moenie daaroor verbaas wees nie, broers en
susters. Want dink weer aan die donderweer… Waar slaan die bliksem die eerste?
Mos nie die huisie daar onder in die vallei nie? Nee, die bliksem slaan eerste
die hoogste punt – die punt van die kerktoring! Hoe hoër ons is, hoe gouer
skiet die bliksemstraal na ons toe. So is dit ook met die gemeente – die
gemeente is immers ‘n stad op ‘n berg, sy beklee ‘n verhewe posisie. God se
bliksem soek daarom heel eerste na sy woonplek. Eers die hoë plekke, eers die
kerk, en daarna laer af.

Verstaan ons dit, gemeente? Eers ons! Eers jy en ek onder God se
oordeel! Ons kan so maklik sê dat die dinge wat oor ons lewens kom beproewings
en loutering is. En natuurlik is dit ook so. Maar ons moenie miskyk dat dit óók oordeel kan wees nie. Oordeel oor
die sonde in die gemeente. As God die sonde wil uitroei, dan moet Hy dit heel
eerste in sy gemeente doen, want dáár is die gruwel van die sonde vir Hom
groter as op enige ander plek. Hy toorn oor dit wat in sy huis verkeerd gaan,
en daarom suiwer Hy eers dáár.

 

En presies hiervan het ons ook gelees het in Esegiël 9. In hierdie
hoofstuk sien Esegiël eers ses manne met wapens, wapens om mee te verbrysel. Daar
is ook een man met ‘n inkpot. Hierdie man word eerste aangespreek – hy moet uitgaan,
en met die ink ‘n merk maak op die voorkoppe van almal wat sug en steun oor die
gruwels in die stad. Hierdie sugtendes is vrygestel van die straf. Maar die
ander… wel, hulle sal verdelg word; die ses manne met die wapens kry immers die
opdrag: “Trek agter hom aan deur die stad, en slaan; laat julle oog nie
verskoon nie, en moet nie spaar nie; slaan dood grysaards, jongmanne en
jongedogters en kinders en vroue tot vernietiging toe; maar raak aan niemand op
wie die teken is nie, en begin by my heiligdom.” Ja, daar
in die heiligdom, daar het die grootste gruwels plaasgevind – lees maar
hoofstuk 8. Begin dus in die tempel!

Maar dit is nie slegs Esegiël 9 wat vir ons wys dat die huis van God
die beginpunt van die oordeel is nie. Nee, u kan dieselfde ook lees in Jeremia
25:29. In hierdie hoofstuk praat die Here oor die onheile wat bedoel is vir
Egipte, Us, die Filistyne, Edom, Moab, Amon, Tirus en Sidon, Dedan en Tema en
Bus, Simri en Elam en Medië en al die ander volke wat daar genoem word. Maar,
sê die Here, in die stad waaroor my Naam uitgeroep is, dáár begin
Ek met die onheile! Steeds begin die oordeel by die huis van God. As die Here
begin suiwer, dan is sy heiligdom die eerste plek wat suiwer moet wees. Dan
moet alles, wat nie in die gemeente hoort nie, uitgeban word. Heel eerste! Ja, óns
begin so graag met die oordeel by die ongelowiges; ons lig so graag die deksel
van die hel op om te sien hoe dit daar binne sal gaan. Maar ons moet by onsself
begin, gemeente. Inderdaad, die oordeel eindig in die wêreld, maar dit begin
in die huis van God. Laat óns dan ook by die begin begin.

Dit is waar, broers en susters, Petrus praat hier ook oor die lyding
en die vervolging van die christene. Hy praat hier oor die swaarkry van diegene
wat die merk dra. Maar nogtans sit daar ook in hierdie lyding altyd ‘n element
van toorn. Toorn oor die sonde! En daarom is daar rede tot verootmoediging van
die gemeente van God. Daar is rede om ons, wat in die heiligdom is, voor God
neer te buig en onsself te ondersoek. Ons moet onsself ondersoek of ons, wat in
die kerk staan, nie dalk met ons rug na God toe staan nie. Laat ons die
aangesig keer na God toe, want slegs dan ontvang ons die teken van beveiliging.
Slegs wie ween oor die gruwels ontvang daardie teken. Die ander sal uitgewis
word…

 

Maar… moet ons dan nou twyfel? Moet ons begin wonder of ons nog
gemeente van Christus is? Moet ons bevrees wees dat ons by die eindoordeel nie
die paal gaan haal nie? Nee, gemeente, hoewel ons behoort te sidder vir God se
oordeel, hoef ons nog nie te twyfel nie. Solank as wat ons die oog gerig hou op
Jesus Christus, die Leidsman en voleinder van ons geloof! Wie na Hom kyk, kyk
na God. Wie deur Hom na God kyk, sien God se vriendelike aangesig. En dan is
Christus se wederkoms om die lewendes en die dooies te oordeel vir ons geen
vreesaanjaende gebeurtenis nie, maar eerder iets waarna ons – in die woorde van
antwoord 52 – met gespanne afwagting uitsien. Want wie verwag ons, gemeente?
Wie verwag jy uit die hemel, broer en suster? Die oordeelsregter? Heeltemal
reg, maar luister na wat ons belydenis oor Hom te sê het: ek verwag die Regter
wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking
van my weggeneem het.

Hoor jy dit? Die Regter is my Redder! Die Regter in die hofsaak van
die eindoordeel staan nie teenoor my nie, maar Hy is my goedgesind. Die oomblik
wanneer die boeke geopen en al my werke aan die lig kom en ek verdien om deur die
Regter geoordeel te word, op daardie selfde oomblik open die Regter sy mond om my
deur sy werk aan die kruis vry te spreek. Ek mag voorwaar uitsien na ‘n
bevooroordeelde Regter wat my saak sal behartig; ek mag uitsien na ‘n partydige
Regter, want ek is deel van sy party – sy hemelse party van uitverkorenes
waarmee Hy met sy bloed betaal het. Loof daarom God se mag: want Hy’s reg in sy
oordeelsweg; volke het Hy gestraf, Israel reg verskaf. Aan my sal op die laaste
dag reg verskaf word – nie deur my werk nie, maar deur my Regter, die Redder. En
daarom sê ek met vrymoedigheid: Kom Here Jesus, kom gou! Want ek is nie bang
vir die eindoordeel nie. En ek sê dit nie in selfvertroue nie; nee, ek sê dit
in die Naam van Jesus Christus!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en
wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus,
die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die
konings van die aarde. Amen.

Sing Skr. 24:4 en 5

Gebed

Lees:    1 Petrus 3:18-5:11

            Esegiël
9

Teks: HK, Sondag 19

Sing Ps. 122

Preek

Amenlied Ps. 99:1-3

Gebed

Belydenis van geloof (singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 72:2, 7 en 10

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)