‘n Omgekeerde paasfees vir God se afvallige volk

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2012-09-02
Teks: 
Openbaring 8 ─ 9
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Openbaring 8 en 9

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons het tot dusver gesien dat Openbaring die boek is van God se verbondswraak oor sy volk Israel as gevolg van haar chroniese afval en ongehoorsaamheid deur baie eeue, en verál omdat sy uiteindelik die Christus gekruisig en verwerp het. Die gevolg van hierdie sentrale tema is dat ons voortdurend Ou Testamentiese motiewe in Openbaring terugvind – nie net as motiewe nie, maar meer nog: as vervulling van die Ou Testament. Verlede week (Openbaring 6 en 7) was dit veral die motief van die Here se verbondswraak wat na vore gekom het – u onthou mos nog die lyn van die viervoudige wraak (swaard, hongersnood, pes en wilde diere) wat ons deur die hele Ou én Nuwe Testament nagevolg het. Nou, in vandag se gedeelte – Openbaring 8 en 9 – kom ‘n ander, baie belangrike, Ou Testamentiese motief na vore. En dit is die motief van die eerste Pasga in Egipte, voorafgegaan deur die tien plae oor Farao en sy volk, en gevolg deur die uittog  en die ontmoeting by die Sinai. Kom ons kyk…

 

Wanneer die Lam – die geslagte Lam, die Paaslam (5:6) – in hoofstuk 8:1 die sewende seël oopmaak, begin ‘n nuwe reeks van sewe. Sewe basuine. Terloops, dit is baie besonder om te sien hoe die sewes van Openbaring in mekaar oorloop: die sewe seëls loop oor in die sewe basuine, en die sewe basuine loop weer oor in die sewe skale (sien uitgedeelde papier). Máár voordat die sewe engele, wat volgens vers 2 elkeen ‘n basuin gekry het, hulle basuine kan blaas, kom daar eers ‘n halfuur stilte in die hemel (8:1). Net soos voor die opening van die sewe seëls (5:11-14) en voor die uitgiet van die sewe skale (15:2-8), kry ons ook hier ‘n kykie in die hemelse liturgie. En dan sien ons daar ‘n engel met ‘n wierookbak – hy ontvang reukwerk vanaf die altaar, en saam met die gebede van die heiliges plaas hy dit op die goue altaar wat voor God se troon staan. En die kombinasie van reukwerk en gebede trek vervolgens op as ‘n lieflike geur voor God. Pragtig, nie waar nie, hoe die gebede van die gelowiges soos geurige reukwerk voor God se aangesig is! Maar… die liturgie is nog nie klaar nie, want ons kry ook nog die reaksie op hierdie gelowige gebede te sien.

Die engel neem naamlik vuur vanaf die altaar en gooi dit op die aarde. En op daardie oomblik word die hemelse stilte verbreek met stemme en donderslae en weerligte en aardbewing. Dit is dieselfde verskynsels en geluide as wat in hoofstuk 4:5 vanuit die troon uitgegaan het, en dáár het ons alreeds opgemerk dat hierdie verskynsels en geluide ons herinner aan God se neerdaling op die berg Sinai. Dus, die troon – God self! – gee antwoord op die gebede van die gelowiges, en Hy doen dit op ‘n manier (naamlik stemme, donderslae, weerligte en aardbewing) wat ons terugvat na die verbondsluiting op die Sinai. So, as ons wil weet presies wát God se antwoord op die gebede van die gelowiges is, dan moet ons in dáárdie konteks gaan soek, daardie konteks van die berg Sinai en die uittog uit Egipte.

 

En nou is dit baie opmerklik om te sien dat, wanneer die sewe engele vervolgens elkeen hulle basuine begin blaas, dan bring elke basuinstoot ‘n aksie op gang wat ons herinner aan een van die tien plae in Egipte. Ja, gemeente, Openbaring 8 en 9 wys vir ons die Egiptiese plae. Hierdie keer, egter, nie teen die heidense Egipte nie, maar hierdie keer teen God se eie volk. En hoewel dit vreemd mag klink, is dit nie so vreemd nie, want net hierna – in hoofstuk 11:8 – noem Johannes immers Jerusalem met die naam Egipte. God se volk het self soos Egipte geword. Waar God eeue gelede met ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm sy volk uit Egipte uitgelei het, sien ons hier hoe God met ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm téén sy volk stry, hulle as’t ware weer in Egipte terugdwing! Johannes sien dus ‘n omgekeerde uittog.

Maar erger nog: hy sien ‘n omgekeerde paasfees. Die Paaslam het Koning geword, begelei met sewevoudige basuingeklank, waardig om die boek te neem en sy seëls te breek. Maar Hy keer Homself nou teen die volk wat Hom verwerp het. Die fees van die ongesuurde brode het vir Israel baie bitter geword, want Egipte se plae het nou oor haar gekom… Dít is wat gebeur met die volk wat haar oorsprong vergeet en haar Koning verwerp!

Tema: ‘n omgekeerde paasfees vir God se afvallige volk

 

Kom ons volg die eerste ses basuine op die voet…

Met die blaas van die eerste basuin verskyn daar hael en vuur, gemeng met bloed, en dit word op die aarde gegooi. En ‘n derde van die bome het verbrand, en al die groen gras het verbrand (8:7). Net vir interessantheid: groen gras is ‘n tipiese lente-verskynsel in Israel; in die somer word die gras heeltemal geel. Dus, groen gras in Israel vind jy slegs in ‘n baie spesifieke tyd van die jaar – in die lente. Nou, belangrik om te weet, is dat lente-tyd in Israel ook paastyd is! Ons lees byvoorbeeld in Johannes 6:4 dat die pasga naby was, en ‘n paar verse later vind ons die eerste vermeerdering van die brode, waarby Jesus – volgens Markus se weergawe van hierdie verhaal – die mense op die groen gras laat sit het (Mk. 6:39). Dus, waarskynlik dat die eerste basuin ons na die paasfees in Israel verwys. En juis die paasfees het die gemoedere van die volk gevul met verlange na die komende verlossing. Maar in plaas van verlossing, wat kry hulle? Hulle kry hael en vuur, gemeng met bloed, wat die bome en die groen gras verbrand. Dit herinner ons aan die sewende plaag van Egipte [lees Exodus 9:23-26]. Dus, die volk wil die paasfees vier, wil die fees van die verlossing vier, maar hulle word vanweë hulle afval en ongehoorsaamheid teruggevat na die slawehuis van Egipte. En hierdie keer is hulle nie vry van die hael en die vuur, soos wat hulle destyds in die land Gosen daarvan gevrywaar was nie. Nee, dié keer kom die volle krag van hierdie plaag oor húlle! En dit is goed moontlik dat die hael en die vuur, en die verbranding van die bome en die gras, ‘n verwysing is na die beleid van die Romeine om, in hulle opmars na Jerusalem, dorpies aan die brand te steek en die land kaal te stroop van enige bome.

 

Vervolgens word die tweede basuin geblaas: iets soos ‘n groot berg wat brand met vuur word in die see gegooi. En die resultaat hiervan kom oreen met die eerste plaag van Egipte waar al die water in bloed verander het. In hierdie geval word ‘n derde van die see in bloed verander, en as gevolg daarvan sterf ‘n derde van alle lewende skepsele in die see en ‘n derde van die skepe vergaan. Josefus vertel vir ons van verskeie veldtogte tydens die Joods-Romeinse oorlog waar die stryd naby of op water gevoer is – die water van die Middelandse see, van die Dooie See, van die See van Galilea en van die Jordaan-rivier. En dikwels het dit gelei tot ‘n neerlaag vir die volk Israel, waarby die water rooi van bloed was en die liggame in groot getalle in die water gedryf het.

Die derde engel blaas: ‘n ster val van die hemel, brandend soos ‘n fakkel, en ‘n derde van die riviere en die waterfonteine word daardeur getref. Die naam van hierdie ster is Alsem, en ‘n derde van die waters het als geword. Die water het dus bitter geword. Nou, Josefus vertel vir ons  dat, as gevolg van die dooie liggame wat die water gevul het en wat deur die warmte van die son begin ontbind het, is die water en die lug bederf – dit is konkreet wat tydens die Joods-Romeinse oorlog gebeur het. Maar belangriker is dat ons hier ‘n vervulling vind van wat die Here self vir sy volk gesê het: kort ná die uittog uit Egipte kom die volk naamlik by water wat hulle nie kan drink nie; die plek se naam was Mara. En nadat Moses ‘n stuk hout in die water gegooi het sodat die water soet geword het en die volk dit kon drink, sê die Here vir sy volk: “As jy getrou na die stem van die Here jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die Here wat jou gesond maak” (Ex. 15:26). Dus, hier sien ons alreeds dat bitter water soet kan word wanneer die volk na die Here se Woord luister. Maar wanneer Israel die Woord van die Here verwerp, dan wórd sy tot ‘n Mara, dan lê die Here op sy volk die plae van Egipteland.

En dit is dan ook presies wat ons by die blaas van die vierde basuin sien gebeur – ‘n derde van die son en ‘n derde van die maan en ‘n derde van die sterre is verduister. Dag en nag word versteur. In die dae van Farao – tydens die negende plaag – kon die een die ander nie sien nie, en niemand het van sy plek opgestaan nie, drie dae lank. Maar al die kinders van Israel het lig in hulle woonplekke gehad (Ex. 10:23). Nou verloor Israel egter daardie bevoorregte posisie. En dit word deur Amos alreeds voorspel wanneer hy sê: “Wee die wat na die dag van die Here verlang! Wat sal tog die dag van die Here vir julle wees? Dit sal duisternis wees en geen lig nie” (Am. 5:8). En dít omdat Israel nie wou luister na die waarskuwing toe duisternis die hele land gevul het tydens Jesus se kruisiging nie (Mt. 27:45).

 

Ná ‘n kort onderbreking, waartydens Johannes ‘n engel in die hemel sien vlieg wat driemaal ‘n wee-roep laat hoor (wat daarop wys dat die oordeel nog intenser gaan word), blaas die vyfde engel sy basuin. Weer val daar ‘n ster uit die hemel, en hy ontvang ‘n sleutel om daarmee die afgrond oop te maak. Uit hierdie afgrond kom daar ‘n groot rookwolk, en uit die rookwolk ‘n swerm vreesaanjaende sprinkane, gewapen met die angels van skerpioene (hierin sien ons ‘n verwysing na die agste plaag van Egipte, die sprinkaanplaag). Aan hierdie sprinkane word dit gegee om die mense vyf maande lank te pynig (8:5). Gemeente, ons moet hier nie dink aan gewone sprinkane nie, maar eerder aan demone. Hulle word immers uit die afgrond, die hel, vrygelaat. En verder het hulle ‘n koning oor hulle (8:11), wie se naam in Hebreeus Abáddon en in Grieks Apóllion is – beide beteken ‘Verderwer’, en dit laat ons dink aan die verderwer tydens die paasnag in Egipte (Ex. 12:23). Hierdie demone kom uit die hel, en het die Verderwer – die Satan – as koning! Dus, in die oordeel oor sy afvallige verbondsvolk gebruik God ook die duiwel en sy bose geeste!

En nou is dit baie opvallend om te sien hoe die voorkoms van demone en bose geeste tydens Jesus se lewe op aarde en daarna geweldig toegeneem het. En eintlik is dit logies! Jesus kom op aarde en verkondig dat die koninkryk van die hemele naby gekom het. Dit is natuurlik ‘n bedreiging vir die ryk van die Satan, met die gevolg dat ons ‘n sterk demoniese reaksie sien. ‘n Belangrike aspek van Jesus se bediening was daarom ook om die bose geeste uit te dryf (gaan lees maar in die evangelies hoeveel keer Jesus te make kry met mense wat van bose geeste besete was). En daarby moet Jesus self ook die versoeking van die Satan weerstaan (lees maar van die versoeking in die woestyn in Mattheus 4).

Maar Jesus waarsku die volk dat sy werk om duiwels uit te dryf slegs ‘n tydelike effek sal hê as die volk hulle nie tot Hom bekeer nie. Hy waarsku hulle deur middel van ‘n gelykenis dat, as die einste generasie van sy dae hulle nie aan Hom oorgee nie, hulle ‘n hernude uitbarsting van demoniese aktiwiteite sal beleef [lees Mt. 12:43-45]. Sien u die laaste: “so sal dit ook wees met hierdie bose geslag.” Toe hierdie bose geslag hulle nie wou bekeer nie, toe moes hulle kort daarna ‘n baie ernstiger aanslag van die duiwelse magte beleef. Binne veertig jaar ná Jesus se waarskuwing het die Joods-Romeinse oorlog uitgebreek. Die laaste beleg van Jerusalem het presies vyf maande geduur (vanaf April tot Augustus in die jaar 70 nC – presies die tyd wat aan die sprinkane gegee word om die mense te pynig). En hierdie vyf maande was die mees grusame en bose periode van die hele oorlog. Behalwe die beleg buite die mure van Jerusalem was daar ‘n verskriklike burgeroorlog wat binne die stad gewoed het. Hiervan sê Josefus: “Hulle wat deur hongersnood in die nou gedryf is, het begeer om te sterf; en diegene wat alreeds dood was, is as baie gelukkig beskou, want hulle het nie lank genoeg gelewe om sulke ellende te hoor of te sien nie.” Dit is presies wat ons in vers 6 lees: “… in dié dae sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; en hulle sal verlang om te sterwe, en die dood sal vir hulle wegvlug.” Jesus het die bose geeste verdryf, maar toe daar geen bekering kom nie, toe die volk hulle lewe nie met sy teenwoordigheid gevul het nie, het die aanslag net nog erger geword.

 

En dan is daar nog die sesde basuin… Die engel wat hierdie basuin blaas, kry die opdrag om die vier engele los te maak wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat. En wanneer dit gebeur, kom daar ‘n geweldige groot ruitermag in beweging. Nou, ons weet dat keiser Nero vir generaal Vespasianus getuur het om beheer te vat van die magte wat in Sirië was. Interessant is dat die Eufraat-rivier, wat in vers 14 genoem word, aan Sirië raak en dáár het die Romeine normaalweg vier legioene strydmagte gestasioneer gehad (dit is die vier engele van vers 14). Dus, ons kry hier ‘n aanduiding van die Romeinse leër wat teen Jerusalem opgetrek het. In verse 17-19 word in beeldende taal vir ons beskryf hoe hierdie ruitermag gelyk het en hoe hulle te werk gegaan het – iets wat weereens in die geskrifte van Josefus geïllustreer word. Maar belangriker nog as Josefus: hierdie beskrywing herinner ons veral aan die Ou Testamentiese profesieë, veral die profesie van Jeremia 4 en 6.

 

 

Broers en susters, ses basuine het geblaas, ses keer alreeds het Israel se kerkklok gelui as ‘n waarskuwing van die komende gevaar. En as Israel nie wil luister nie, dan vat God sy volk baie konkreet, deur middel van die werklike gebeure van die Joods-Romeinse oorlog van 67-70 nC, terug na die slawehuis van Egipte. In die verskriklike en vreesaanjaende verwoesting van Israel en Jerusalem deur die Romeine laat God die Egiptiese plae oor sy volk kom. ‘n Derde van mens en dier en plant word daardeur vernietig. Die oordeel was dus nog nie finaal nie – slegs ‘n derde – maar wel baie heftig en baie ernstig.

 

En nogtans, ten spyte van die erns van hierdie oordeel, lees ons aan die einde van Openbaring 9 dat die orige mense hulle nie van hul werke bekeer het nie. In Ou Testamentiese terme word Israel se afval vir ons beskryf – duiwelaanbidding, afgodery, moord, towery, hoerery en diefstal. In die taal van die profete word vir ons gesê: dit is nog net so erg soos in die dae van die Ou Testament. En daarom word die uittog uit Egipte – daardie stukkie geskiedenis waarop Israel so trots was – dit word omgekeer. Israel moet nou self die plae gaan verduur. En die ergste van alles: die páásfees word omgekeer – Israel, wat vrygekoop is uit die slawehuis van Egipte deur die bloed van die lammetjie aan die deurpos van hulle huise, kry nou te make met die oordeel van die ware Paaslam in wie hulle nie wou glo nie. Dít is inderdaad wat gebeur met die volk wat haar oorsprong vergeet en haar Koning verwerp!

 

 

Gemeente, weereens die waarskuwing: moenie aan die plae en strawwe van Openbaring ‘n futuristiese uitlegging gee deur die vervulling daarvan in vandag se gebeure of in die verre toekoms te soek nie. So asof die waters met alsem van hoofstuk 8:11 sou wys op die vergiftiging deur radio-aktiewe stowwe, en so asof die brandende berg van hoofstuk 8:8 een of ander superbom sou profeteer nie. Laat ons onsself nie blindstaar op kernbomme of chemiese wapens en dan sê dat daarmee die visioen van die basuine vervul is nie. Openbaring het nie ‘n breë, algemene boodskap wat sommer op enige gebeurtenis of enige persoon van ons eie tyd van toepassing gemaak kan word nie – want so bly ons die hele tyd die bakens aanskuif, so bly ons voortdurend agter die skaduwee van ons tyd aanhardloop om daarin die vervulling van Openbaring te soek. En die gevolg is, dat vir mense soos Luther en Calvyn byvoorbeeld, die pous die antichris was; en vir gelowiges van die twintigste eeu, vir wie die pous nie meer so relevant is nie, is Hitler skielik die antichris; en gelowiges van die 21ste eeu sal weer ‘n nuwe antichris vind. En so bly die boodskap van Openbaring op ‘n manier ongrypbaar.

 

Nee, gemeente, Openbaring het ‘n verbondsboodskap oor die volk Israel. En op dié manier is dit aktueel, op dié manier word dit ook ‘n kerklik-bepaalde boodskap vir ons vandag. Want, soos ek al verskeie kere in hierdie reeks gesê het, die gelowiges vandag, die kerk vandag, óns staan in die lyn van Israel (u onthou mos nog Romeine 11: ons is die takke wat op die boom Israel ingeënt is). Die verbond met Israel het homself voortgesit in diegene wat in Jesus Christus glo. Hierdie gemeente, jy en ek, staan in die lyn van Israel. Ons is deur Jesus Christus uitgelei uit die slawehuis van Egipte, die slawehuis van die sonde. Daarom dat ons Exodus 20 elke Sondag nog net so kan lees.

 

Nou, as ons só na Openbaring kyk, dan kry hierdie boek ‘n aangrypende realiteit vir ons. Net soos wat die Paaslam – rond die jaar 70 en met behulp van die Romeine – sy toorn oor God se verbondsvolk ontlaai het (op ‘n wyse wat my laat sidder), so sal Hy Homself steeds dreigend keer teen alle kerklike afvalligheid van hierdie eeu. Nog steeds kan die kandelaar weggeneem word van ‘n gemeente wat wel die nagmaal vier en wat roem in die verlossing deur Christus – ja, wat roem in die exodus (die uittog) uit die slawehuis van die sonde – maar wat in feite die Seun van God vertrap en die bloed van die verbond onrein ag (Hebr. 10:29). Die omgekeerde Pasga het oor die ongehoorsame Israel gekom, maar dit bly steeds die dreiging vir elke gemeente wat die evangelie van Jesus Christus verloën. En dit is dan ook die waarskuwing aan die einde van die boek Openbaring: “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: as iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hiedie boek geskrywe is” (Op. 22:18).

Broers en susters, só kom Openbaring naby aan ons, só kom die profesieë van die Ou Testament naby – profesieë soos Hosea 8 en Joël 2 [lees Joël 2:1, 2, 4, 12 en 15]. Hoor u die taal van Openbaring? Openbaring gaan dus nie oor die bose wêreld daarbuite nie, maar oor die volk van die verbond! Hoe meer ons Openbaring lees as een of ander toekomstige militêr-politiese gebeurtenis, hoe meer verduister ons die boodskap daarvan, en hoe minder hoor ons die boodskap van bekering aan die adres van die kerk vandag! Laat ons onsself vandag daarom buig voor die Koning, die Lam. Laat ons in ons lewens Hom werklik erken en navolg. Laat ons kerk wees soos wat Hy dit van ons vra. Laat ons ons kerklike en persoonlike lewens ondersoek om seker te maak dat Hy nog werklik regeer, dat ons nog werklik van sy dood en bloedstorting lewe! Want dan is ons veilig – nie veilig omdat óns iets gedoen of verdien het nie, nie veilig omdat ons kerklike naamplaatjie ons vrywaar van die toorn van die Lam nie, nie veilig omdat ons kerklike geskiedenis enige waarborge bied nie, maar veilig omdat ons ons klere gewas en wit gemaak het in die bloed van die Lam. Veilig omdat ons lewe van sy genade alleen!

 

Ondersoek jouself, kyk na jou lewe en die lewe van jou gesin, kyk na die lewe van die gemeente. Want as ons dit nie doen nie, as ons lewe en voortgaan asof niks fout kan gaan nie, dan gaan ook óns ‘n omgekeerde Paasfees beleef. As ons nie van harte vanuit die Paasgebeure lewe nie, as ons nie werklik ons lewe oorgee aan die geslagte Paaslam nie, dan word sy bloed vir ons tot ‘n teken van oordeel. Dan word die plae van Egipte ons deel. En die geskiedenis van die kerk bewys dit! Jy sal vandag waarskynlik tevergeefs soek na ‘n kerk in Efese, Smirna, Pergamus, Thiatire, Sardis, Filadelfia en Laodicea. Hoekom? Want, sê Christus, as jy jou nie bekeer nie, kom ek gou na jou toe en sal Ek jou kandelaar van sy plek verwyder (Op. 2:5). Dit is die waarskuwing aan die sewe gemeente, aan die kerk van alle eeue: bekeer jou!

Bekeer jou – dit is die oproep, ook aan ons. Moenie, soos Israel in Openbaring 8:20 en 21, voortgaan in die ou lewenswandel nie. Nee, bekering, omkeer, terug na Jesus Christus. Terug na die enigste plek waar jy veilig is teen die oordeel en die toorn van die Lam. Elke dag weer moet én mag ons onder sy vleuels gaan skuil; elke dag opnuut is Hy vir ons ‘n veilig hut. Buite daardie oorlogsvrye sone mag jy dalk alles hê wat jou hart begeer, mag jy dalk in aansien wees, mag jy dalk gesiene wees in die samelewing, mag jy dalk ryk wees en baie bereik… maar jy verkeer in doodsgevaar. Maar wie toevlug neem in veilige hut en skuil by die Alhoë, hy word beskadu en beskut deur God se alvermoë. Vir Hom wag daar ‘n heerlike Paasfees, die bruilof van die Lam!

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 105:16-20

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 47:3 en 4 (sewe basuine van Openbaring, kondig Koningskap van die Lam aan…)

Wetslesing + genadeverkondiging (1 Joh. 1:8-2:2)

Gebed

Sing voor Skriflesing Ps. 81:3, 4 en 5 (nie 1, 3 en 4 nie) (basuine het te make met verlossing uit

Egipte)

Lees: Openbaring 8 en 9

Sing ná Skriflesing Ps. 81:11, 13 en 14

Preek

Amenlied Ps. 28:4-8

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 60:1 en 4

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)