Openb 6 : 17b ; Het God miskien sy volk vergeet?

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-08-26
Teks: 
Openbaring 6 : 1-7 : 8
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten.

 

Preek –
Openbaring 6:17b; lees Openbaring 6:1-7:8

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Klein Corli is van geboorte ‘n Suid-Afrikaanse burger. Sy kan
aansoek doen vir ‘n Suid-Afrikaanse paspoort. Dit geld vir die meeste van ons. Ander,
weer, het ‘n Nederlandse paspoort. En dan is daar ook ‘n klompie onder ons met
‘n dubbele nasionaliteit. Maar, gemeente, Corli het vandag ook nog ‘n ander
paspoort gekry. Sy is vanweë haar geboorte uit gelowige ouers ook ‘n burger van
Israel. Is sy daarmee ‘n Jodin? Nee, maar sy is wel ‘n Israeliet, deel van die
volk wat uit Abraham gebore is (ons het daarvan gesing in Psalm 105). En dit is
‘n belangriker nasionaliteit as haar Suid-Afrikaanse nasionaliteit. Vir haar
moontlike toekomstige reise deur hierdie wêreld sal haar Suid-Afrikaanse
nasionaliteit en paspoort voldoende wees, maar vir haar reis deur die lewe is
haar paspoort van Israel onontbeerlik. Haar ouers moet haar leer – en ons moet
almal ons kinders leer – dat ons burgers is van die Israel van God. En daarom
gaan die lot van Israel ons aan die hart, en staan ons nie koud wanneer ons
hoor dat die Here sy verbondswraak oor Israel laat geld nie. Nou, dit is
presies waarmee ons in vandag se Skrifgedeelte te doen kry…

Tema: Het God miskien sy volk vergeet?

 

Gemeente, ons sit ons spannende reis deur die boek Openbaring voort.
In die laaste preek uit Openbaring 4 en 5 het ons gesien dat Jesus Christus die
boekrol gevat het uit die hand van Hom wat op die troon sit. Deur sy werk aan
die kruis is Hy waardig om hierdie boek oop te maak en sy sewe seëls te breek
(5:5). Máár… ons het ook gesien (vanuit ‘n soortgelyke boekrol in Esegiël 2) dat
hierdie boek God se oordeel en wraak oor sy ontroue verbondsvolk bevat. Dus,
wanneer in hoofstuk 6 die eerste ses seëls een vir een verbreek word, dan moet
ons oordeel en wraak verwag. Maak jouself gereed hiervoor!

Nou goed, by die oopbreek van die eerste seël kom ‘n wit perd te voorskyn.
“En Hy wat daarop sit, het ‘n boog; en aan hom is ‘n kroon gegee, en hy het
uitgegaan as ‘n oorwinnaar en om te oorwin.” Baie mense dink dat ons hier met
Christus te make het, juis vanweë die feit dat ons in hoofstuk 19:11 ook ‘n wit
perd teëkom, waar dit sonder twyfel Christus is wat op daardie perd sit. Maar
dit sou vreemd wees as Christus as Lam die seël sou oopmaak, en vervolgens op sy
eie bevel sou uitry. Verder sien ons in Openbaring 19 dat Christus baie krone
op sy hoof gehad het, terwyl aan hierdie figuur slegs een kroon gegee word; ook is Christus in
Openbaring 19 toegerus met ‘n swaard wat uitgaan uit sy mond, terwyl hierdie
figuur ‘n boog het. Nee, ons moet hierdie eerste wit perd in samehang lees met
die volgende drie perde – hierdie vier vorm saam ‘n homogene groep wat die taak
het om die verbondswraak te kom toepas. Daarom moet ons by hierdie wit perd,
net soos by die volgende drie, eerder dink aan een of ander oordeelsmag. Dit is
daarom heel goed moontlik dat ons hier te make het met die oorwinnende Romeinse
opmars na Jerusalem in die jaar 67 na Christus. Die ruiter-boogskutter tipeer
by uitstek ‘n vyandelike inval, terwyl die kroon en die wit kleur die oorwinning
verteenwoordig.

 

Die tweede ruiter ry op ‘n vuurrooi perd. Aan hom word die
bevoegdheid én ‘n swaard gegee om die vrede van die land af weg te neem. In
Levitikus 26:6 – die bekende hoofstuk oor God se verbondseën en verbondsvloek –
belowe die Here vrede wanneer die volk trou sou wees aan sy verbond. Maar
wanneer Israel sy God verlaat het, was daar geen rede om ‘vrede, vrede’ te roep
nie. “Ek het my vrede van hierdie volk weggeneem, spreek die HERE”, in Jeremia
16:5. Die volk het immers Christus, die Vredevors, verwerp! Daarom word die
vrede, waarvan die engele in die kersnag so heerlik gesing het, deur hierdie
tweede ruiter uit die land weggeneem. En hoe doen hy dit? Wel, sê vers 4,
deurdat hulle mekaar sou doodmaak.

En dit is hartseer om te sien hoe hierdie profesie bewaarheid is by
die beleëring en verwoesting van Jerusalem in die jare 67 tot 70 na Christus. Nee,
nie in die eerste plek deur die Romeine nie, maar deur die burgeroorlog (die
interne party-stryd) wat bínne God se volk gewoed het. Hulle het mekaar
doodgemaak! En ons weet eerstehands hiervan omdat Josefus, die bekende Joodse
historikus wat uitgebreid oor die Joodse opstand teen die Romeine geskryf het,
ons hiervan vertel. Hy sê van hierdie interne stryd onder andere die volgende:
“Die opstandelinge het met mekaar geveg terwyl hulle bo-op die opgehoopte lyke
gestaan het. Hulle het soos wildes te kere gegaan, so asof hulle krag geput het
uit die lyke wat onder hulle voete gelê het. Hulle het steeds nuwe middele
bedink om mekaar te vernietig.” Die
opening van die tweede seël profeteer dus burgeroorloog en selfvernietiging
binne God se volk.

 

Die derde ruiter het op ‘n swart perd gesit. Met ‘n weegskaal in sy
hand was dit sy taak om hongersnood onder God se volk te bring. Prysstygings en
voedselskaarste was aan die orde van die dag in Israel tydens die Romeinse
beleëring. ‘n Enkele porsie koring het ‘n penning gekos – en ‘n penning was ‘n
volle dag se loon. Gars was effens goedkoper, maar nog nie genoeg vir die hele
gesin nie. Inwoners van Jerusalem en omstreke het hulle hele eiendom verkoop,
net om ‘n enkele porsie kos te kan bekom. Uiteindelik het hongersnood die volk
in die hande van die Romeine gedryf. Die hongersnood, so vertel Josefus ons,
was so erg dat moeders selfs hulle eie kinders geëet het…

En dan die vierde ruiter… Hy het op ‘n vaal perd gery, die kleur van
die dood. En die doderyk het hom gevolg. Watter deel van God se oordeel het hy
presies kom uitvoer? Wel, as ons die samevatting aan die einde van vers 8 lees:
“… aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met
swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere…”, en as ons in gedagte
hou dat ons reeds die swaard en die hongersnood teëgekom het, dan moet ons by
hierdie vierde perd waarskynlik dink aan dood deur die pes en die wilde diere. Met
al die lyke wat die stad vol gelê het, het die higiëniese toestande vinnig
agteruit gegaan en het die pes spoedig uitgebreek.

 

Gemeente, waarmee ons by die oopmaak van hierdie eerste vier seëls
te make het, is God se wraak oor sy verbondsvolk. Swaard, honger, pes en wilde
diere – hierdie vier word as ‘n kombinasie deur die hele Skrif gebruik om God
se verbondsoordeel mee aan te dui. Lees maar saam met my Levitikus 26:21-29 [lees].
Vervolgens vind ons dieselfde ook weer in Moses se lied in Deuteronomium
32:23-25 [lees]. Daarna vind ons dit in Esegiël 5:16 en 17 en Esegiël
14:21 [lees]. En in die Nuwe Testament word hierdie lyn ook weer
opgetel deur die Here Jesus self in sy profetiese rede – Mattheus 24:6 en 7 [lees].

Dus, wat ons hier in Openbaring 6 vind, broers en susters, val nie
uit die lug uit nie, maar staan in die lyn van die hele Ou Testament. En daarom
kan ons dit ook nie vrylik gaan toepas op alle moontlike rampe van gister en vandag
nie. Want dan hou ons nie rekening met God se spesifieke oordeel oor die
Heilige land en oor die Heilige stad en oor sy uitverkore verbondsvolk nie. Ons
moet Skrif met Skrif vergelyk! En wat van die rol van Josefus? Wel, Josefus
bied eenvoudig die illustrasies wat hierdie uitleg van die Skrif bevestig. Wees
daarom versigtig om onmiddellik na vandag te spring in die toepassing van
Openbaring – ook hierdie Bybelboek moet in sy heilshistoriese konteks gelees
word: die konteks van God se verbondswraak oor sy afvallige volk.

 

Ons gaan na die vyfde seël…

Die vyfde seël is van ‘n ander aard as die vorige vier. Hier kry ons,
net soos in hoofstukke 4 en 5, ‘n kykie in die hemel, waar die martelare onder
die altaar roep om wraak oor die land. Hoekom sou dit spesifiek hier ingevoeg
word? Wel, gemeente, die martelare word verseker dat hulle nie verniet vir
hulle geloof gesterf het nie; hierdie versekering is ‘n baie belangrike motief
om die komende oordeel oor Israel te verstaan. Die vertrapping van die bloed
van Christus is natuurlik die hoofoorsaak vir die oordeel oor Israel, maar die
vergieting van die bloed van die martelare is ‘n mede-oorsaak.

En dit is presies wat Jesus sê net voordat Hy, in sy profetiese rede,
die oordeel oor Jerusalem aankondig. Hy sê aan die einde van Mattheus 23: “Daarom,
kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle
sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges
gésel en van die een stad na die ander vervolg, sodat oor julle kan kom
al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die
regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaria, die seun van Berégja, wat
julle vermoor het tussen die tempel en die altaar…. Jerusalem, Jerusalem, jy
wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou
Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke
bymekaarmaak, en julle wou! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Mt.
23:34-39). En onmiddellik daarna, in hoofstuk 24, begin Jesus met sy profetiese
oordeel oor Jerusalem. Dus, die bloed van die martelare is deels die aanleiding
tot die oordeel.

 

En dan die sesde seël… Hier sien ons ‘n geweldige kosmiese
ontwrigting. Ons sien ‘n aardbewing, ons sien sons- en maansverduistering,
sterre wat neerval, die hemel wat wegwyk, en berge en eilande wat verskuif
word. Israel se wêreld val uitmekaar onder die toorn van die Lam. In verse 15
en 16 sien ons vervolgens dat alle dele van die bevolking – van hoog tot laag –
hulleself in die spelonke en grotte sal wegsteek, en vir die berge en rotse sal
sê: “Val op ons en verberg ons…” Josefus bevestig dat dit presies is wat die
Jode gedoen het tydens die beleëring deur die Romeine; hy sê: “Op hierdie dag
het die Romeine die hele skare wat in die openbaar verskyn het, afgeslag; maar
op die volgende dae het hulle die wegkruipplekke deursoek, en aangeval op hulle
wat ondergronds en in die grotte was.”

Gemeente, hierdie kosmiese ontwrigting wat deur die verhoogde
Christus aan Johannes op Patmos bekend gemaak word, is presies dít waarna
Petrus ook in sy Pinkstertoespraak verwys, toe hy gesê het: “Die son sal
verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige
dag van die Here kom” (Hand. 2:19-20). En hy maak soveel erns met hierdie dag
van die Here om daarmee die luisteraars van sy dae te kan oproep tot geloof in
Jesus Christus, en om aan die einde van sy toespraak vir hulle te kan sê: “Laat
julle red uit hierdie verkeerde geslag” (verkeerde geslag = ongelowige Jode; Hand.
2:40). Terloops, in dáárdie lig moet ons ook kyk na die spreek in tale op die
Pinksterdag. Die spreek in tale is nie
die onverstaanbare brabbeltaal wat deur baie mense vandag as bewys van die
vervulling met die Gees gesien word nie; nee, die spreek in tale is die spreek
in bestaande tale. Hoekom? Vir watter doel? Wel, sê Paulus in 1 Korinthiërs 14,
Ek sal deur mense van ander tale tot hierdie volk (= Israel) spreek, en ook so
sal hulle na My nie luister nie. Die tale is dus ‘n teken nie vir die gelowiges
nie, maar vir die ongelowiges (bedoelende: die ongelowige Jode!). Die spreek in
tale is ‘n teken van God se verbondswraak oor sy ongehoorsame en afvallige
volk.

 

Dit was ‘n mondvol wat ons tot dusver gesê het…

Maar, gemeente, waaroor dit met die opening van die eerste ses seël
gaan, is die skrikwekkende en verlammende oordeel wat oor Israel uitgespreek
word. Miskien voel ons dit nie so erg nie, omdat ons ons verbondenheid met
Israel nie meer ernstig vat nie, omdat ons nie meer sien dat die kerk vandag ‘n
voortsetting is van die eertydse Israel nie. Dan is hierdie oordeel maar net
iets van die verlede. Maar as ek nou vir u sê dat hier vandag ‘n jong Israeliet
gedoop is? As ek vir jou sê dat jy en ek in die lyn van Israel staan, dat ons
die voortsetting van Israel is? Dan kom dit skielik baie naby! Dan vra ons tereg
saam met vers 17: “Wie kan bestaan? As dít God se oordeel oor sy verbondsvolk
is, het God sy volk dan vergeet?” Dit is die wanhopige vraag waarmee Openbaring
6 eindig.

En dan, broers en susters, sien ons die wonder van Openbaring 7.
Voordat die Here Jesus oorgaan om aan Johannes die verdere voltrekking van sy
oordeel bekend te maak, voordat die sewende seël oopgemaak en die oordeel nog
hewiger word, kry ons ‘n verrassende pouse in die verskriklike oordeelsdrama. Die
vier engele wat die vier winde van die land vashou, word opgeroep om nog nie te
los nie. “Hou die winde van vernietiging nog vas! Moenie die aarde of die see
of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van onse God op hulle
voorhoofde verseël het nie” (7:3). Dus, voordat die Romeine Jerusalem bereik en
die stad met die inwoners oorweldig, kom daar ‘n breek in die vyandigheid.
Hoogswaarskynlik verwys dit na die jaar 68 nC toe keiser Nero selfmoord gepleeg
het, en die Romeinse generaals Vespasianus en Titus na Rome teruggedraai en ‘n
jaar lank die aanval op Jerusalem gestaak het. En ons weet vanuit ander bronne
dat die christene juis in daardie tyd uit Jerusalem na Pella gevlug en daar
behoue gebly het.

 

En dit is waarna die verseëling van die honder-vier-en-veertigduisend
verwys. Twaalfduisend uit elkeen van die twaalf stamme van Israel. ‘n
Simboliese getal – verseker. Maar dit wys dat daar uit Israel tog nog ‘n res
is, ‘n oorblyfsel, wat wel in die Lam geglo het, en wat deur God van die
oordeel verlos word. Hier het ons die antwoord op die vraag: “Wie kan bestaan?”
En die antwoord is: diegene wat deur God self beskerm en verseël word teen die
oordeel. As ons enigsins vrae gehad het oor die toekoms van die kerk, wat
vanuit die sentrum – Jerusalem – sou uitbrei (Hand. 1:8), dan het ons hier die
heerlike antwoord. God het sy belofte, naamlik dat ‘n ‘res’ behoue sou bly, nie
vergeet nie!  

En dan moet ons nie dink dat hierdie res die redding aan hulleself
te danke het nie; ons moet die rede vir die verseëling nie in die
honder-vier-en-veertigduisend soek nie. Nee, die opsomming van die lys in
Openbaring 7:5-8 spreek immers van een en al evangelie. Ja, evangelie! Let maar
net op die volgorde van hierdie lys. Dit begin nie met die oudste nie – dit is
hoe óns waarskynlik sou begin het. Nee, hierdie lys begin met die evangelie van
die vrye verkiesing – Juda staan voorop! En ná Ruben kom nie, soos gebruiklik,
die ander seuns van Lea nie, maar eers die seuns van die byvroue. En dan éérs die seuns van die tweede byvrou, Silpa. Daarna
die seuns van die eerste byvrou, Bilha. Vervolgens die orige seuns van Lea. En
dán eers, heel laaste, die seuns van Josef se lieflingsvrou, Ragel, naamlik
Josef en Benjamin. Dit is voorwaar sola
gratia
, genade alleen!

Uit Israel word, deur God se wonderlike genade, ‘n deeltjie bewaar.
‘n Klein deeltjie, dis waar, maar hierdie klein deeltjie vorm die basis, sodat
uiteindelik die hele Israel gered kan word. Vanuit hierdie res, wat deur die
Here van die oordeel oor Jerusalem gespaar is, volg die uitbreiding van die
kerk – vanaf Jerusalem, na Judea en Samaria en tot aan die eindes van die
aarde. En hierdie uitbreiding is sodanig dat Johannes, pas nadat hy die
honderd-vier-en-veertigduisend aanskou het, in vers 9 die menigte mag aanskou
wat niemand kan tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale. Hoor u
dit: uit alle nasies en stamme en volke en tale – die stámme
(die twaalduisend uit elkeen van die stámme van Israel) vorm ‘n onderdeel van
die volledige en ontelbare getal. God het sy volk nie vergeet nie, en daarom is
daar ‘n geweldige toekoms vir die kerk, ‘n ontelbare en onbeskryflike: “Heil
aan ons God wat op die troon sit, en aan die Lam!”

 

Broers en susters, hooplik kan u sien dat die vernietigende oordeel
oor Israel in die oorlog met die Romeine, asook God se genadige voortsetting in
die res, die honderd-vier-en-veertigduisend, dat dit alles te make het met die
doop van klein Corli vandag, en dat dit alles te make het met ons kerkwees
vandag. Die kerk sou immers nie vandag bestaan het, as God nie ‘n voortsetting
met Israel gemaak het nie; die verseëling van die gelowiges vandag het alles te
make met die verseëling van die honderd-vier-en-veertigduisend verseëldes uit
Israel. Hierin wys God naamlik dat Hy, ten spyte van sy oordeel, ononderbroke voortgaan
met die vergadering van sy volk uit Abraham. En dit alles danksy die Lam!

Vir elke gedoopte om ‘n toekoms te hê, vir die kérk om ‘n toekoms te
hê, moet ons – net soos die ontelbare skare wat ons voorgegaan het – ons klere
was en wit maak in die bloed van die Lam (Op. 7:14). Daar is net een manier om
God se verskriklike verbondswraak vry te spring, en dit is deur te skuil by die
Lam, Jesus Christus. Hy is enersyds die Regter wat die seëls oopmaak om God se
oordeel uit te voer. Maar Hy is andersyds ook die Redder wat, elkeen wat in Hom
glo, laat wei en na lewende waterfonteine lei (Op. 7:17). Die Jode het God se
oordeel oor hulle gekry, omdat hulle Jesus Christus verwerp en aan die kruis
gespyker het. Maar vir die einste Jode verkondig Petrus: “Bekeer julle en laat
elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus.” Daardie oproep is
vandag nog net so dringend en nog net so aktueel.

 

En vir elkeen wat gedoop is in die Naam van Jesus Christus volg daar
ook die verseëling – die verseëling met die Heilige Gees. Ja, so praat Paulus
op verskeie plekke oor die verseëling. In Efesiërs 1:13 sê hy: “in wie julle
ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding,
gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte…” En in dieselfde
brief, hoofstuk 4:30: “Bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle
verseël is tot die dag van
verlossing.” Die seël wat God ons gegee het om ons daarmee te verseker dat ons
aan Hom behoort en om ons te verseker dat ons vry is van die oordeel, is die
Heilige Gees. Hy is, soos die Skrif ons leer, die onderpand, die eersteling,
die bewys dat ons volledige verlossing aan die kom is. Deur sy werk is die
deurposte van ons lewens met bloed besmeer, sodat die Engel van die verderf by
ons verbygaan.

 

Gemeente, so was dit met Israel in Egipte ook. Die Engel van die
verderf het by hulle verby gegaan, omdat hulle gehoorsaam die bloed van die
lammetjie aan hulle deurposte gesmeer het. Maar, helaas, die daaropvolgende
geskiedenis – die geskiedenis van die woestyntyd en van die rigtertyd, van die
koningskap en van die ballingskap – was vir die grootste deel een lang
geskiedenis van afval en ongehoorsaamheid, wat sy hoogtepunt gevind het in die
kruisiging van die Messias. Dáároor kom God se oordeel in die boek Openbaring.

Nou, laat ons daaruit leer en die Gees van God, waarmee ons verseël
is, nie bedroef nie. Laat ons ons hele lewe lank baie naby aan die Lam bly!
Laat toe dat, elke keer wanneer die Woord verkondig word, sy bloed oor ons en
ons kinders druppel. Was jou klere, jou lewe, in sy bloed. En dan mag jy seker
wees dat die Gees jou sal bewaar, dat Hy jou in die geloof sal vashou. Met
hierdie Goddelike seël mag jy seker wees van jou burgerskap van Israel. Wat
daar ook al in jou lewe gebeur, wat daar ook al in ons land en in die wêreld
gebeur, watter skrik en duisternis ons ook al omring, bo ons – so gaan ons net
hierna in Psalm 74 sing – bo ons skyn die helder sterrewag van u verbond! God
is trou aan sy verseëldes – aan Corli en aan elkeen van ons. En daarom is die
lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag
en die sterkte aan ons God tot in alle ewigheid.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie
(oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 76:1,
    4-6

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en
wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus,
die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die
konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 108:1 en 4

Wetslesing

Sing Ps. 130:2 en 4

  • Doopsformulier
  • Bediening + dankgebed
  • Sing Ps. 105:4 en 5

Lees: Openbaring 6 en 7

Sing Ps. 85:2-4

Teks: Openbaring 6:17b

Preek

Amenlied Ps. 74:3, 5, 7, 14, 15

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 42:6 en 43:3 en 5

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy
aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor
jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)