Sondag 17(1) : Die Hére leef, en óns mag leef!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-08-19
Teks: 
Romeine 6; Johannes 20 en Handelinge 7
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Sondag 17; lees Rom. 6, Joh. 20:24-29, Hand.
5:26-33, Hand. 7:54-8:2

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

“Die Heer het waarlik opgestaan” – ja, die kerk vier elke week op
die eerste dag die fees van die opstanding. En elke jaar op Paassondag gee ons
besondere aandag aan hierdie heilsfeit – Paasfees is een van die belangrike
heilsfeite op die christelike kalender. In die Oosters-Ortodokse kerk, egter,
is Paasfees nie maar net een van die heilsfeite nie; nee, daar is dit die
heilsfeit by uitstek. In die Oosters-Ortodokse gemeenskap is Paasfees nog
groter as Kersfees.

En dít is hoe hulle dit vier: in die paasnag kom al die gelowiges op
die Saterdagaand voor Opstandingsondag bymekaar. Kort voor twaalf uur die nag
word al die ligte in en om die kerkgebou gedoof. ‘n Diep, stil duisternis omhul
die gelowiges. Totdat om twaalf uur die deure van die koorgedeelte van die kerk
oopgaan en die voorganger die skip van die kerk binnekom. In sy hand dra hy ‘n brandende
kers, en hy roep hardop: Christos anestin
(“Christus het opgestaan!”). Sy uitroep word deur gemeentelede oorgeneem, en
dit eggo deur die kerk. Vervolgens gaan die priester rond en steek die kerse
van enkele gelowiges aan, en hulle steek weer diegene om hulle heen se kerse
aan. En so versprei die lig vinnig van kers tot kers totdat die kerk heeltemal
verlig is. Kort daarna gaan die gelowiges al singende met hulle kerse
buitentoe, die wêreld in. En daar klink dit oor die pleine en deur die strate:
Christus het opgestaan!

 

‘n Indrukwekkende gebeurtenis! Christus se opstanding beteken lig in
die diepe duisternis van hierdie wêreld. Die lig oorwin die duisternis en dit
bring verandering in die lewens van mense. En dít is waarop ons vandag wil let,
en ons doen dit deur spesifiek te let op die lewens van die eerste gelowiges in
Jerusalem.

Tema: Die Hére leef, en óns mag leef!

  1. Regverdigmaking
  2. Heiligmaking
  3. Vervolmaking (hierdie 3 punte
    is die 3 afdelings van antwoord 45)

 

[lees Johannes 20:24-29]

1. Gemeente, die Here Jesus se opstanding uit die dood was nie skyn
nie, maar ‘n werklike feit. Ons moet dit nie vergeestelik, soos wat baie mense
vandag doen, en sê dat dit nie so belangrik is of Jesus fisies / liggaamlik
opgestaan het nie, solank jy maar net weet dat Hy in jou hart opgestaan het. Nee,
Jesus het werklik opgestaan, jy kan dit dateer, jy kan dit op jou kalender
aanteken: op die derde dag!

En tog weet ons dat die dissipels op daardie opstandingsdag nie
werklik verstaan het wat gebeur het nie. Hulle onbegrip en kleingeloof – en ons
sê dit sonder enige selfverheffing – het hulle sig op die werklikheid verblind.
Selfs toe die engele aan hulle die opdrag gegee het om na Galilea te gaan,
omdat hulle daar vir Jesus sou sien, het dit nog nie tot hulle deurgedring nie.
Hulle het ook nie onthou dat Jesus, kort voor sy sterwe, dieselfde opdrag aan
hulle gegee het, naamlik om Hom in Galilea te ontmoet nie (Mt. 26:32). ‘n Mens
sou verwag dat hulle dit, danksy die engele, skielik weer sou onthou, en dat
hulle direk ná die sabbat na Galilea sou afreis en dat daar op die oggend van
die derde dag geen leerling meer in Jerusalem te vinde sou wees nie. Maar dit
het nie gebeur nie. Die leerlinge het oral heengegaan (huistoe, na Emmaus toe,
na die bo-vertrek toe), oral, behalwe na Galilea! Hulle het in en om Jerusalem
bly rondhang.

 

En dan is Jesus verplig om ook in Jerusalem in te gaan en daar aan Simon
Petrus, en aan Maria Magdalena, en aan die vroue, en uiteindelik aan die elf
dissipels te verskyn. As húlle nie na Hom toe kom nie, dan moet Hy maar na
hulle toe gaan. Dit is hartseer dat dit moes gebeur; Jesus verwyt sy dissipels
ook daaroor. Want Hy wou glad nie in
Jerusalem verskyn nie. As alles volgens sy plan en opdrag verloop het, sou Hy dadelik
ná sy opstanding aan sy dissipels in Galilea verskyn het, en van daar af
vertrek het. Want die groot Koning pas nie meer in die aardse Jerusalem nie; Hy
hoort in die hemelse Jerusalem. Daarheen wil Hy gaan. Hy wou sy dissipels net vinnig
op sy deurreis in Galilea ontmoet, en dan wou Hy verder reis na die hemelse
paleis.

Maar Jesus moet langer vertoef as wat Hy beplan het. Veertig dae langer,
om presies te wees. En dit word veertig dae van gereelde pastorale versorging, ‘n
tyd om die dissipels in te lei in die betekenis van sy sterwe, opstanding en
hemelvaart. Jesus stel sy oorwinningstog na die hemel uit om sy leerlinge te
laat deel in sy verlossingswerk! Probeer jouself dit voorstel: die volgende
koning van Engeland, prins Charles, stel die dag van sy kroning uit, omdat daar
‘n paar van sy onderdane is – nie hooggeplaastes nie, nee, mense uit die laer
klas – wat nog nie verstaan waaroor sy kroning gaan nie. Alle reëling vir die
groot dag is al getref, alles en almal is gereed, maar die nuwe koning sê:
“Jammer, ons stel dit eers uit, want hier is mense wat nog nie verstaan waaroor
dit gaan nie, en daarom kan hulle nie deel in die vreugde van my kroning nie.” Wonderlik,
nie waar nie!? Nou, dit is eintlik wat Jesus hier doen.

 

Jesus het opgestaan uit die dood. Hy hoort nou by die lewendes
daarbo. Sy plek is nie meer by die mense op aarde, vir wie die lewe niks anders
as ‘n voortdurende sterwe is nie. Maar nogtans bly Hy Hom bekommer oor daardie einste
mense, steeds bly Hy vir hulle sorg, bly Hy genadig na hulle omsien. En dit is
presies wat die Kategismus in die eerste deel van antwoord 45 vir ons sê: “Ten
eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin, sodat Hy ons die geregtigheid
wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig
kon maak
.”

Ja, Christus het gesterf vir ons sondes, Hy het gesterf om vir ons
(skuldige mense) vryspraak te bewerk. Maar bereik daardie vryspraak ons outomaties?
Is dit genoeg dat Jesus maar net alles volbring het? Sal ek nou ook outomaties
deur die geloof daaraan deelkry? Sal ek dit uit myself deelagtig word? Nee! Kyk
maar net na die dissipels. Ná Goeie Vrydag is hulle volledig verward en
kleingelowig… en op die verkeerde plek. Vir sy dissipels om werklik deel te kry
aan die vryspraak van Goeie Vrydag, moet Jesus na hulle toe teruggaan en hulle
pastoraal versorg. Vir my en jou om deel te kry aan die vryspraak van Goeie
Vrydag, moet Jesus aan my en jou die geloof kom géé. Hy moet, soos die goeie
Herder, my by die voerbak bring, want anders loop ek verby. Hy moet my die
geregtigheid deelagtig máák!

 

Dus, gemeente, Christus het nie net opgestaan, en toe was dit klaar
nie. Nee, Hy het opgestaan om my by die hand te neem en my deel te maak van sy
verlossing. Hy het opgestaan om my deur sy Gees by die voet van die kruis te
bring. Hy gaan háál sy dissipels: Kom, kyk na die wonde in my hande, bring jou
hand en kom steek dit in my sy (Joh. 20:27). Só leer die Here Jesus vir Thomas
om te glo. En só leer Hy ook ons glo. Só maak Hy ons deel van die feit van sy
opstanding, en van alles wat Hy daarmee verdien het.

Veertig dae lank – ‘n volle getal vir volle pastorale versorging. En
só sorg ons opgestane Heiland ook vandag nog vir ons. Hy wérk met ons, Hy
beitel aan ons harte, Hy kom lê sy geregtigheid in ons lewens vas. Sy
opstanding is nie die einde van sy werk nie; nee, Hy sorg dat ons vandag ook
werklik in sy opstanding kan deel. En Hy doen dit deur sy Woord en Gees. Deur
die prediking, die kategese, die Bybelstudies bied die verhoogde Christus
pastorale versorging sodat ons nie in die aardse Jerusalem bly vassteek nie,
maar sodat ons ons harte ophef na die hemel en dáár ons geregtigheid soek!

In die tweede plek let ons
op die heiligmaking.

 

[lees Handelinge 5:26-33]

2. Weer tref ons die dissipels aan. Weer in Jerusalem. Maar hierdie
keer is dit nie ‘n bewys van hulle kleingeloof nie, maar eerder van hulle
gehoorsaamheid. Jesus het hulle by sy hemelvaart te Galilea naamlik beveel om
nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om daar te wag vir die belofte van die
Heilige Gees. En die Gees sou van hulle getuies maak in Jerusalem, Judea,
Samaria en tot aan die eindes van die aarde (Hand. 1:4 en 8). En dit is
inderdaad wat gebeur het. Die Gees het gekom en aan die apostels vrymoedigheid gegee
om die evangelie van Jesus Christus oral te verkondig, beginnende in Jerusalem.
Selfs nadat hulle in Handelinge 4 gevange geneem word, bly hulle nie stil nie. Inteendeel,
ons lees in Handelinge 4:31 dat die apostels saam met die gemeente gebid het –
en die plek waar hulle saam was, is geskud, en hulle is almal vervul met die
Heilige Gees en het die Woord van God met vrymoedigheid gespreek. En dan in
Handelinge 5 word hulle vir ‘n tweede keer gevange geneem, en weer is hulle
vreesloos in die aangesig van die Joodse Raad: “Ons moet aan God meer
gehoorsaam wees as aan die mense.” Hoekom? “Want die God van ons vaders het
Jesus opgewek… Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy
regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk.”

 

Wat ‘n kontras met die dae kort ná die opstanding. In die dae ná
Goeie Vrydag vind ons ‘n groepie verwarde en kleingelowige dissipels. Toe was
hulle ongehoorsaam, omdat hulle nie aan Jesus se woorde vasgehou het nie. Maar
hier vind ons manne met oortuiging, met vrymoedigheid, met geloofskrag. Hoe is
dit moontlik? Wel, dit is wat die opstanding van Jesus doen, gemeente! Hom het
God opgewek en verhoog om aan Israel
bekering
te skenk. Christus se opstanding bring bekering, bring verandering
in die lewens van mense. Wat die apostels hier verkondig, is sigbaar in hulle
eie lewens. Van kleingelowige dissipels na vrymoedige apostels – dit is wat
Christus se opstanding in hulle lewens uitgewerk het. En dit is presies wat die
Kategismus ons leer: “Ten tweede word ons nou ook deur sy krag tot ‘n nuwe lewe
opgewek.” Dieselfde krag waardeur Jesus uit die dood opgewek is – of dalk beter
nog: dieselfde krag waarmee Christus sélf uit die dood opgestaan het – is nou
ook werksaam in hulle wat glo. En dit verander lewens!

Paulus praat op ‘n besondere manier oor hierdie werklikheid in
Romeine 6. Hy sê in vers 4: “Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in
die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid
van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.” En dan tel hy die draad
weer op in vers 8: “As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons
ook saam met Hom sal lewe.” En uiteindelik trek hy die praktiese konklusie in verse
11-13: “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar
lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle
sterflike liggaam nie heers nie… En moenie julle lede stel tot beskikking van
die sonde nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die
dode lewend geword het.”

 

Gemeente, dit is net nie moontlik om Jesus Christus se opstanding te
bely – om Paasfees te vier – maar in dieselfde asem verskoning te maak dat jy
nou eenmaal is wat jy is nie: “Dit is nou maar my karakter, dit nou eenmaal wie
ek is en dit gaan nie verander nie.” As dit ons lewensuitkyk is, dan het ons
van die krag van Jesus se opstanding nog nie veel verstaan nie. As jy werklik
in Jesus Christus glo, dan is dieselfde krag waardeur Hy uit die dood opgestaan
het, ook tot jou beskikking. Jy sterf nie slegs saam met Hom nie, jy staan ook
saam met Hom op in ‘n nuwe lewe. Dit is mos wat bekering is, volgens ons
Kategismus (Sondag 33) – dit is die afsterwe van die ou mens, en die opstanding
van die nuwe mens. Die lewe word nuut, die lewe word anders – jy praat anders,
jy dink anders, jy reageer anders!

Natuurlik, dit gebeur nie in een slag nie; die heiligmaking is ‘n
proses van val en opstaan, dikwels drie treë vooruit en twee treë terug. En
daardie proses is by sommige pynliker as by ander. En tog is dit onlosmaaklik
deel van die geloof in Jesus Christus. Paasfees beteken altyd óók heiligmaking.
Dit wat ons by die apostels sien, moet ook by ons plaasvind. En daarvoor moet
ons terug gaan na Paasfees, terug na die opstanding van Jesus Christus. Gaan
terug na die ware betekenis van die Sondag, want Sondag is opstandingsdag. En
so verklaar die Kategismus ook die vierde gebod: “Ten tweede moet ek elke dag
van my lewe van my bose werke rus en die Here deur sy Gees in my laat werk.”
Sondag is, by die ander betekenisse wat dit het, ook dag van heiligmaking, van
vernuwing van die lewe. Dink daaraan wanneer jy weer Sondag opstaan – Jesus het
waarlik opgestaan… en ek saam met Hom! Weerspieël my lewe dit?

Ten slotte let ons nog op
die vervolmaking.

 

[lees Handelinge 7:54-8:2]

3. Uiteindelik bars die woede uit. Die vyande van die evangelie het
gedreig (Handelinge 4), hulle was woedend, hulle wou die apostels om die lewe
bring (Handelinge 5)… En nou is dit sover. Die voorneme van die hart het tot
volle verwerkliking gekom, en Stefanus moet betaal met sy lewe. Arme Stefanus!
Of nie? Stefanus self kyk anders daarna. Die Gees het aan hom oë van geloof
geskenk, sodat hy tot binne-in die hemel kan kyk en daar die Seun van die mens
aan die regterhand van God sien staan. Hy sien die opgestane Heiland, en dit
laat hom verder kyk as hierdie aardse lewe. Al sterwende hoor ons hom sê: “Here
Jesus, ontvang my gees.” Stefanus gee sy gees in veilige bewaring, in die
veiligste bewaring wat daar bestaan, naamlik in die hande van Jesus Christus,
die lewende! Hierdie sterwende gelowige weet van ‘n ander lewe, ‘n ewige lewe.
En hy weet dit omdat hy die Lewende in die hemel gesien het.

 

En dit is die ‘ten derde’ van ons Kategismus: “ten derde is die
opstanding Christus vir ons ‘n betroubare waarborg van ons salige opstanding.” Hier
kry ons die toekomsperspektief van Paasfees. Paasfees sluit vir ons die hemel
oop, sodat ons daar die lewe kan sien. Meer nog: sodat ons daar die Lewende
Christus kan sien. En dit laat ons uitsien en verlang na die opstanding van die
liggaam en die ewige lewe! Broers en susters, mag die Here uit genade vir ons
hierdie perspektief skenk. Met die oog op onsself, maar ook met die oog op ons
geliefdes wat in die Here gesterf. Want die dood bly pynlik – ons sien daarom ook
hoe godvresende manne vir Stefanus begrawe en ‘n groot rou oor hom bedryf
het (Hand. 8:2). Die seer was diep in die gemeente van Jerusalem oor die
verlies van hierdie dienaar. Maar – in die woorde van Paulus in 1
Thessalonicense 4:13 en 14 – ek wil nie hê dat julle onkundig met wees met
betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat
geen hoop het nie.” “Want – vervolg Paulus – as ons glo dat Jesus gesterwe en
opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom
bring.”

 

En so ontdek gelowiges dat daar ‘n opening uit die graf is.
Gelowiges vind die padkaart uit die helse doolhof. Gelowiges vind die sleutel
wat die doodskis oopsluit. Jesus Christus, en sy opstanding. Hy is ons waarborg
dat die dood nie die laaste sê het nie. Laat ons mekaar hiermee bemoedig, gemeente.
Laat ons mekaar met hierdie evangelie ontlas van die angs vir die dood. En laat
ons elke dag voluit lewe vir Jesus Christus, want ons weet nie watter dag die
laaste is nie. Daarom, bekommer jou nie te veel oor môre nie. As die Here jou
spaar om môre te beleef, dan het môre sy eie bekommernisse. Moet ook nie te
veel in die toekoms lewe nie – as die naweek maar net kan kom, as die vakansie
maar net kan kom, as ek maar net 18 kan word, as ek maar net my eie plekkie en
my eie kar kan kry, as ek maar net ‘n lewensmaat kan vind. Nee, vandag is die
dag wat die Here skenk. Vandag lewe ek voluit met my oë na die hemel waar ek
Jesus sien staan aan die regterhand van die Vader. By Hom is ewig vreugde en
volle vrede, en in sy hand is my gees veilig.

Amen

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 73:10-12

Votum Sing Ps. 121:1

Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat
kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die
getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings
van die aarde. Amen.

Sing Ps. 45:1, 2, 4 en 6

  • Kort nagmaalsformulier
  • Terwyl tafel in gereedheid:
    sing Geloofsbelydenis
  • Voltooi formulier aan tafel
  • Sing Skr. 10:1 en 2

Teks: HK, Sondag 17

Preek

  • Skriflesing tydens die preek:
    • Johannes 20:24-29
    • Handelinge 5:26-33
    • Handelinge 7:54-8:2

Amenlied Ps. 16:5

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 10:4-6

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy
aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor
jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)