Openb 1:7; Jesus Christus kom om te oordeel oor Jerusalem en die tempel! En dit is vir die nuwe Israel (die kerk) tegelykertyd

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-07-29
Teks: 
Openbaring 1 : 1-8
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten.

 

Preek –
Openbaring 1:7; lees Openbaring 1:1-8

 

Geliefde gemeente,

Êrens het daar ‘n verskriklike kortsluiting gekom tussen die laaste
Bybelboek en christelike lesers. Ja, ek sê nou wel ‘christelike lesers’, maar wie lees nog Openbaring?
Die boek wat die geskiedenis ingegaan het onder die titel ‘die Openbaring’ – op
grond van die heel eerste Griekse woord: apokalipsis
= openbaring – daardie boek is vir die meeste van ons eerder ‘n verborgenheid
as ‘n openbaring. Openbaring het toegegaan! En dít teen die uitdruklike
voorwoord by hierdie boek (Op. 1:1-3).

  • In hierdie voorwoord sê die outeur: hierdie boek is
    ‘openbaring’ – dit maak iets oop, dit maak iets bekend. Maar wat? Wel, sê
    vers 1, “dit wat gou moet gebeur”, want (vers 3), “die tyd is naby”.
    Spannend! Almal van ons het waarskynlik al ‘n spanningsverhaal gelees,
    waar jy die boek net nie kan neersit nie, omdat jy wil weet wat gaan
    gebeur. En jy voel aan dat die ontknoping nou baie naby is. Maar hoekom
    sukkel ons so om verby die eerste drie hoofstukke van die laaste bybelboek
    te kom?
  • Verder sê die outeur in die voorwoord: hierdie openbaring kom
    direk van Gód af. Daar is ‘n ononderbroke ketting vanaf die hemel na die
    aarde, sodat ons vandag hierdie boek in ons besit kan hê en kan lees; ‘n
    ketting met vyf skakels (kyk maar na vers 1): God – Jesus Christus –
    Christus se engel – Christus se dienskneg, Johannes – Christus se
    diensknegte op aarde, die gemeente (uiteraard eers die sewe gemeentes van
    hoofstukke 2 en 3, maar uiteindelik die hele kerk). Hierdie openbaring kom
    dus, via betroubare oorlewering (kyk maar wat sê Johannes in vers 2 van sy
    getuienis), direk van Gód af. Gód maak deur Jesus Christus iets aan ons
    bekend! En tog hanteer ons hierdie boek asof ons met een of ander geheimtaal
    te make het…
  • En ten slotte spreek die outeur in die voorwoord ook nog ‘n
    saligspreking uit: salig is hy wat die woorde van hierdie profesie lees en
    hoor en bewaar (vers 3). Dit is ‘n kragtige aansporing om onsself met
    hierdie boek besig te hou, en dit nie maar gemakshalwe oor te slaan nie.
    Hierdie boek het met ons saligheid te doen, maar as ons kyk hoe dikwels
    daar oor hierdie boek gepreek word en hoe dikwels gelowiges dit self lees
    of bestudeer, dan wonder ‘n mens: hoe ernstig is ons oor ons saligheid?

U sien dus die kortsluiting. Alles in die voorwoord dien as
aanmoediging om ons die boek te laat lees: dit is openbaring, dit kom betroubaar
van God af, en dit dien tot ons saligheid. Maar alles daarná laat ons die boek
maar liewer toemaak. En nou wil ons, as gemeente, in die komende tyd hierdie
boek gaan lees; ek wil daaroor gaan preek. En ek doen dit met bewing, want ek
sluit myself by die kortsluiting in. Maar nogtans gaan ons die boek aanpak, in
die geloof dat die Gewer van die Openbaring by magte is om dit vir ons ook
werklik oop te sluit, sodat dit vir ons tot saligheid kan dien. En ek roep u op
om by die huis ook selfstudie te doen, want in die prediking gaan ons werklik
nie alles kan sê nie – daar lê ook ‘n stuk eie verantwoordelikheid.

Die tema vir die preek – en dit is tegelykertyd ook die tema van die
boek Openbaring – is:

Jesus Christus kom om te oordeel oor Jerusalem en die tempel! En dit is vir die nuwe Israel (die kerk) tegelykertyd…

  1. ‘n bemoediging
  2. ‘n waarskuwing

 

1. Verse 1-3 is, soos ons reeds gesien het, die voorwoord tot die boek
Openbaring (dit sê vir ons wie die Outeur is, en hoe hierdie boek ontstaan het
en by ons uitgekom het). Daarna, in verse 4-6, vind ons ‘n tipiese briefhoof uit
daardie tyd – eers is daar die aanhef (“Johannes aan die sewe gemeentes in
Asië”) gevolg deur die seëngroet (“genade vir julle en vrede”). En dan, in vers
7 (jy kan die vers maar merk), vind ons die tema
van die boek Openbaring. Hier sê die Outeur vir ons waaroor hierdie boek gaan:
“Kyk, Hy kom…”. Dus, dit is die rooi draad wat ons voortdurend in ons lees van
hierdie boek moet vashou – die koms van Jesus Christus. En dat dít die tema is,
word vir ons bevestig vanuit die res van die boek – ek wys u net vinnig op die
briewe aan die sewe gemeentes: 2:5, 16, 25, 3:3, 11, 20. En dieselfde vind ons
ook weer in die slot van die boek: 22:7, 12 en 20. Nou, hierdie tema word in
vers 7 op byna dramatiese wyse vir ons ingelui deur die woordjie ‘kyk’: “Kyk,
Hy kom…” Dus: “let op, gemeentes, Jesus Christus is oppad!” En dan dink ons
onmiddellik aan die wederkoms, nie waar nie? Maar voordat ons te vinning na die
toekoms spring, kom ons lees eers verder…

 

“Kyk, Hy kom met die wolke…”
Nou, as ons hierdie wolke-koms van Jesus Christus wil verstaan, moet ons die Ou
Testamentiese agtergrond daarvan ken (dit is, terloops, iets wat ons die hele
tyd in gedagte moet by die lees van die boek Openbaring – dit vorm deel van die
eenheid van die Skrif, en moet daarom in die lig van die Ou Testament gelees
word; die verwerking van Ou Testamentiese temas en motiewe is ‘n baie
belangrike deel van die boek Openbaring). Nou, in die Ou Testament word wolke baie
dikwels gebruik as aanduiders van God se majesteit, en in besonder van sy
oordeel. Dink byvoorbeeld aan wat ons lees in Jesaja 19:1: “Kyk, die Here ry op
‘n vinnige wolk en kom na Egipte toe; en die afgode van Egipte wankel voor sy aangesig,
en die hart van Egipte smelt in sy binneste.” Lees ook Sefanja 1:14 en 15:
“Naby is die groot dag van die HERE… Dié dag is ‘n dag van grimmigheid, ‘n dag
van benoudheid en angs, ‘n dag van woestheid en verwoesting, ‘n dag van
duisernis en donkerheid, ‘n dag van wolke
en wolkenag.”

En juis met hierdie Ou Testamentiese agtergrond in gedagte, praat die
Nuwe Testament op verskeie plekke oor Christus se koms op die wolke om te
kom oordeel
. Dit is ook wat Johannes hier in gedagte het. En die Skrifgedeelte
waarna Johannes in ons teks spesifiek verwys, is Jesus se woorde in sy
profetiese rede, waar Hy sê: “En dan sal die teken van die Seun van die mens in
die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die
Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en
heerlikheid” (Mattheus 24:30, en ‘n verkorte weergawe daarvan vind ons in Markus
13:26 en Lukas 21:27). Hierdie woorde van die Here Jesus word byna letterlik
deur Johannes oorgeneem. En verder kan ons ook dink aan Jesus se woorde aan die
hoëpriester in Mattheus 26:64: “Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit
aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.” Dus,
Jesus is met die wolke weggeneem tydens sy hemelvaart (Hand. 1), maar as Owerste
oor die konings van die aarde (vers 5) kom Hy ook weer terug met die wolke om te
kom oordeel!

 

Maar op wie is Jesus se oordeelspyle dan gerig? Wel, Johannes noem in
Openbaring 1:7 spesifiek “hulle wat Hom deursteek het”. Jesus se koms sal publiek
wees (“elke oog sal Hom sien”), maar sy koms is spesifiek gerig op hulle wat
Hom gekruisig het. Nou, natuurlik weet ons dat dit die Romeine was wat Jesus
fisies aan die kruis vasgespyker het, maar uiteindelik is dit nie hulle wat vir
Jesus se dood verantwoordelik gehou word nie. Nee, dit is die Joodse volk wat verantwoordelik
gehou word. Dit is húlle wat Jesus se dood gesoek het, dit is húlle wat betaal
het om Hom gevange te laat neem, dit is húlle wat valse getuies teen Hom laat
optree het, dit is húlle wat Hom aan die Romeinse owerhede oorgelewer het, en
dit is húlle wat geroep het dat sy bloed op hulle en hulle kinders moet kom. En
dit is presies wat Petrus tydens sy Pinkster-toespraak en daarna aan die Jode
voorgehou het: “Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom
Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het” (Hand.
2:36); “… die Leidsman tot die lewe het julle gedood” (Hand. 3:15); “die God
van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle omgebring het deur Hom aan ‘n
kruishout te hang” (Hand. 5:30). Jesus Christus se koms om húlle te oordeel wat
Hom deursteek het, is dus baie spesifiek ‘n oordeel oor die Joodse volk.
Gemeente, dít is die fokus van die boek Openbaring. Openbaring is dus voluit ‘n
verbondsboek, en dit handel oor God se komende oordeel oor sy verbondsvolk wat hulle
Messias afgewys en vermoor het.

En wanneer word hierdie oordeel voltrek? Interessante vraag, want in
Markus 13 waaruit Johannes alreeds in ons teks aangehaal het, word presies
dieselfde vraag deur die dissipels gestel. Nadat Jesus naamlik geprofeteer het
dat daar van die tempel nie een klip op die ander gelaat sal word nie (wat ‘n
aanduiding is van die verwoesting van die tempel deur die Romeine in die jaar
70 nC), sê die dissipels: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees…?” (Markus
13:1-4). En dan is Jesus se uiteindelike antwoord, nadat Hy in besonderhede van
daardie verskriklike tyd vertel het: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag
sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.” Hierdie
geslag – dus, die einste geslag wat die Messias verwerp en deursteek het, oor húlle
kom die oordeel, húlle sal die Seun van die mens op die wolke sien kom. En dan
verstaan ons ook waarom Jesus, oppad na Golgota met sy kruis op sy rug, die
huilende vroue aanspreek en vir hulle sê: “Dogters van Jerusalem, moenie oor My
ween nie, maar ween oor julleself en oor julle kinders…” (Luk. 23:28). Want dit
is oor húlle wat die oordeel gaan kom – ja, so spoedig alreeds! En die
tydsaanduidings in die boek Openbaring bevestig dit; tydsaanduidings soos “wat
gou moet gebeur”, “die tyd is naby”, “Ek kom gou”. Hierdie is letterlike
tydsaanduidings – dit wys op die spoedige oordeel van Jesus Christus oor die
Joodse volk, ‘n oordeel wat uiteindelik voltrek is in die verwoesting van
Jerusalem en die tempel in die jaar 70 na Christus. Tot vandag toe is dit vir
die Jode die mees verskriklike gebeurtenis in hulle volksgeskiedenis. En op
dáárdie komende gebeure plaas Johannes in Openbaring die kollig.

 

So, is dit nou die netto wins van ons ondersoek sover, naamlik dat
Openbaring ‘n boek vir die Jode is? Nee, gemeente, Openbaring is ‘n boek vir
die kerk! Die Here gee hierdie boek vir die sewe gemeentes in Asië. Hoekom?
Want Hy wil hê hulle moet weet wat oor die Joodse volk gaan kom. Hy wil vir hierdie
sewe gemeentes, wat bestaan het uit Jode sowel as heidene, wys dat, hoewel Jerusalem
en die tempel verwoes is, daarmee nog nie die verbondsvolk ophou bestaan het nie.
Ja, dit is waar, die ou verbond het tot ‘n einde gekom – hierdie verbond was,
volgens Hebreërs 8:13, in elk geval oud en verouder en naby aan die verdwyning.
Want Christus het immers gekom en die voorhangsel het geskeur! Hy
het ‘n einde aan die ou verbond gebring! Maar toe die Joodse volk nie in hierdie
Christus wou glo nie en Hom uiteindelik gekruisig het, en daarmee saam teen wil
en dank die tempeldiens en die verheerliking van die aardse Jerusalem in stand
wou hou, toe het God ingegryp met sy oordeel oor sy trouelose bondsvolk. Op ‘n
skrikwekkende en beslissende wyse – en deur middel van die Romeine – het God
alle skaduwees van die ou verbond vernietig! Jerusalem en die tempel is finaal
verwoes. Tot op vandag bestaan daar geen tempel in Jerusalem nie; erger nog:
vandag staan daar op die plek van die eerstydse tempel in Jerusalem ‘n moskee. En
al wat oor gebly het van die tempel… is die klaagmuur. Dit is die straf op eeue
se ontrou; dit is die oordeel oor diegene wat die Messias gedood het.

Maar vir sy kerk wys die Here hiermee: “Julle bestaan hang nie van
Jerusalem en die tempel af nie. Jesus Christus, die vervulling van die ou
verbond – dáárin lê julle voortbestaan! My volk is nie Israel na die vlees nie;
my volk is diegene wat glo in Jesus Christus!” Skryf ons daarmee die Jode af,
broers en susters? Is ons daarmee anti-Semities? Nee! Want die
Christus-belydende volk van die Here, die kerk, het sy oorsprong by die Jode,
by die volk Israel na die vlees. Lees maar ons teks: “en al die geslagte van
die aarde sal oor Hom rou bedryf”. Beter vertaal: “al die geslagte van die land sal oor Hom rou bedryf” – dit is ‘n
aanhaling uit Sagaria 12:10, waarin dit gaan oor die huis van Dawid en die
inwoners van Jerusalem. Daar is dus ‘n oorblyfsel, ‘n res uit Israel, wat berou
gehad het, wat tot bekering gekom het; dit is die 144 000 waarvan Openbaring 7
ons vertel, 12000 uit elkeen van die stamme van Israel. En saam met die christene
uit die heidendom vorm hulle die nuwe Israel. Hulle is die wettige en
ononderbroke voortsetting van God se verbondsvolk, nie afhanklik van stad of
tempel nie, maar gebou op die fondament van die apostels en die profete,
waarvan die gekruisigde Christus self die hoeksteen is! En elkeen wat in Hom
glo word van sy sondes gewas in sy bloed (vers 5). Elkeen wat in Hom glo, word
gemaak tot konings en priesters (vers 6). Ja, dit was mos wat God met die
Israel van die ou verbond beplan het – kort ná die uittog uit Egipte lees ons
dat God vir sy volk sê: “En júlle sal vir My ‘n koninkryk van priesters en ‘n
heilige nasie wees.” Nou, dit is nou die status van die nuwe Israel, diegene
wat glo in Jesus Christus – hulle is ‘n koninklike familie van geheiligde
priesters. As gelowiges, as kerk, is ons geroep om koninklik te heers, en mag
ons onsself as priesters aan God toewy.

 

Gemeente, hoor u te midde van die Romeinse soldate en stormramme en
die bloedvergieting daar in die strate van Jerusalem in die jaar 70 nC, hoor u
te midde van dit alles die troos van ons teksgedeelte? Openbaring is Jesus
Christus se komende oordeel oor sy ontroue bondsvolk, oor die generasie wat Hom
deursteek het, die Jode wat Hom nie as Messias wou aanvaar nie. Maar in
dieselfde asem sê Johannes vir die sewe gemeentes in Asië, én vir die kerk van
alle tye en plekke: “Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat
kom (dit is Jahwe, die troue Verbondsgod wat Hom in Exodus 3 aan Moses
geopenbaar het); genade en vrede vir julle van die sewe Geeste wat voor sy
troon is (Hy wat in die sewe gemeentes woon); en genade en vrede van Jesus
Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dood, en die Owerste oor
die konings van die aarde.” Genade en vrede vir die kerk – christene uit
Jodendom en heidendom – want júlle is die nuwe verbondsvolk, júlle is die
wettige voortsetting van Israel, júlle is die volk uit Abraham gebore, deur
geloof in Jesus Christus.

En, sê die Here, wil julle dit seker weet? Moet Ek vir julle wys dat
julle identieit in Christus lê en nie in stad en tempel nie? Wég dan met
Jerusalem, daardie hoerstad wat my afgewys het. Wég met die tempel, daardie rowerspelonk.
Wég met alle skaduwees van die ou verbond. Lo-Ammi – julle is nie meer my volk
nie, sê die Here vir die Jode, die vleeslike nageslag van Abraham. Maar julle,
sê Petrus vir dié wat in Christus glo, júlle is ‘n uitverkore geslag, ‘n
koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te
verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy
wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God
is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is. Kyk maar
net op na Jesus Christus, Hom wat ons liefgehad het! Aan Hom die heerlikheid en
die krag tot in alle ewigheid! [sing Skr. 8:2]

Jesus Christus kom om te
oordeel oor Jerusalem en die tempel. Dit dien vir die nuwe Israel, in die
tweede plek, tot waarskuwing.

 

2. Gemeente, die volk Israel was vas oortuig van haar spesiale plek. En
tereg. Paulus bevestig dit in Romeine 9: “Hulle is Israeliete aan wie die
aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing
en die erediens en die beloftes; aan wie die vaders behoort en uit wie die
Christus is na die vlees…” Hierdie posisie van die volk Israel was só besonder
dat Paulus aan die heidenchristene in Efesiërs 2 sê: “julle was voor julle
bekering vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien
van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld.”
Gemeente, ons maak soms te min van hierdie bevoorregte posisie van Israel,
omdat ons verval het in ‘n soort vervangingsteologie: die kerk het Israel
vervang. Maar dit is nie waar nie; die kerk het Israel nie vervang nie, die
kerk het nie in die plek van Israel
gekom nie (ons sal net hierna nog iets meer hieroor sê).

Maar helaas het Israel se bevoorregte posisie ‘n lewe van sy eie
begin lei. Die bevoorregting het ‘n reg geword, iets om in te roem! En dit het
gelei tot eksklusivisme en ‘n elitêre houding van die Jode teenoor enige ander
volk. Hulle, wat eintlik die geringste onder die volke was, het vergeet hoekom
hulle hierdie posisie gekry het. En die rede hoekom hulle hierdie posisie gekry
het, was sodat die heilsweg, die weg na die Christus, veilig gehou kon word. Maar
toe die Christus uiteindelik gekom het en Homself aan volk kom aanbied het as
die Seun van God, wou die grootste deel van die Jode van Hom niks weet nie. Die
verbondsvolk het haar eie posisie vergeet. Sy het haar eie geskiedenis nie meer
geken nie. Vleeslike afstamming van Abraham het die waarborg geword van God se
guns. Ons is kinders van Abraham, het hulle gesê. En die ware Kind van Abraham,
die saad van die vrou, dié het hulle verloën en gedood.

 

Nou, gemeente, soos ek reeds gesê het: ons het nie Israel vervang
nie. Nee, as kerk van die Here Jesus is ons die voortsetting van Israel. God
het ons / die heidene, volgens Romeine 11, ingeënt op die olyfboom van Israel. God
het nie ‘n nuwe boom langs die olyfboom geplant nie; nee, Hy het ons ingeënt op
die bestaande boom, nadat Hy die dooie takke afgesny het. Só is ons die
voortsetting van God se verbondsvolk, die volk uit Abraham gebore. Ons het deur
die geloof in Jesus Christus deelgekry aan die burgerskap van Israel. ‘n Baie bevoorregte
posisie!

Maar, gemeente, Paulus waarsku ons in Romeine 11 vir die fout wat
Israel gemaak het. Hy wys ons daarop dat ons geen rede het om te roem nie. Want
as God die natuurlike takke (die Jode) nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou
ook nie spaar nie (Rom. 11:21). Dus, ons moenie maak asof God se verbondswraak
niks meer met ons te make het nie, ons moenie maak asof ons bevoorregte posisie
nie van ons af weggeneem kan word nie. As ons die wettige voortsetting van
Israel is – en ons is dit! – dan geld ook die verbond met Israel vir ons, en
dan geld ook die verbondswraak vir ons. “Let dan, sê Paulus in vers 23, op die
goedertierenheid en die gestrengheid van God: gestrengheid oor die wat geval
het (die Jode), maar goedertierenheid oor jou as jy in die goedertierenheid
bly; anders sal jy ook afgekap word.” En hoe bly ek, hoe bly ons, in die
goedertierenheid? Deur geloof in die gekruisigde Christus! Kyk maar Romeine
11:20: ons staan deur die geloof!

 

En ook dáárom, gemeente, is die boek Openbaring so relevant. Dit is
enersyds om die kerk van die nuwe verbond te bemoedig dat sy die wettige voortsetting van Israel is. Maar andersyds word die
kerk ook gewaarsku: Kyk, Hy kom met die wolke! Ja, Jesus Christus kom om die
lewendes en die dooies te oordeel. En wanneer dit gebeur gaan jy die oordeel
nie ontduik deur eenvoudig jou lidmaatskapskaartjie van die kerk te wys nie.
Jou lidmaatskap van die VGK gee jou géén reg voor die Regter nie. Uit genade
mag ons deel wees van die kerk van Jesus Christus, uit genade mag ons ingeënt
wees op die olyfboom Israel. En daarvan bly ek slegs deel deur die geloof in
Jesus Christus. Anders word ek soos een wat Hom deursteek het, anders word ek
ook ‘n moordenaar van die Leidsman tot die lewe.

Laat jou daarom waarsku, broer en suster. En val telkens weer in
geloof en aanbidding voor die troue Verbondsgod – die Alfa en die Omega, die
begin en die einde, Hy wat altyd dieselfde bly, in sy genade maar óók in sy
oordeel. En onthou dat God se oordeel by die wederkoms van Jesus Christus nie
minder werklik sal wees as sy oordeel by die verwoesting van Jerusalem in 70 nC
nie. Net so werklik, maar net baie meer finaal as daardie oordeel. Dit sal ‘n
ewige oordeel wees, dit sal ‘n finale skeiding wees tussen skape en bokke,
tussen geloof en ongeloof, tussen hemel en hel. Pas dan op, waak en bid, want
julle weet nie wanneer die tyd daar is nie (Mk. 13:33). Nee, ons hoef nie paniekerig
te raak nie, ons hoef nie in voortdurende vrees te leef nie. Wat dan? Wel,
gemeente, gaan lééf werklik in die
genade en die vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe
Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue getuie, die
eersgeborene uit die dood en die Owerste oor die konings van die aarde. In
daardie genade en vrede is die kerk se toekoms veilig. Laat Israel dit uitroep,
bly van gees!

Amen

 

 

Liturgie
(oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 8:1-4

Votum Ps. 124:4

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en
wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus,
die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die
konings van die aarde. Aan Hom wat ons
liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed en ons gemaak het
konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag
tot in alle ewigheid. Amen

Sing Ps. 47:1 en 3

Wetslesing

  • Sing Ps. 141:2
  • Gebed
  • Sing Ps. 141:3-5

Lees:    Openbaring 1:1-8

            Markus 13:1-4, 24-32

Sing Ps. 18:5-7

Teks: Openbaring 1:7

Preek

  • Ná 1ste punt: Skr. 8:2
  • Amenlied Ps. 97:1, 2, 5 en 7

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 43:5 en 6

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)