Die Here leer Isak om te put uit sy beloftes!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2012-07-22
Teks: 
Génesis 26:22
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Preek – Genesis 26:22; lees Genesis 26

Gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die VGK Maranata bestaan hierdie maand 15 jaar. Eintlik nog maar bitter jonk. Die feesvieringe is daarom, tereg, kort en beperk. As een van ons kinders, wanneer hulle 15 word, ‘n partytjie gaan hou asof hulle 50 geword het, gaan ons ook dink dit is dalk effens voorbarig. Ja, met die genade van die Here mag hierdie gemeente nog eendag haar 50ste bestaansjaar vier, maar vir eers is dit nog net ‘n prille 15.

En hoe nou verder? Hoe gaan ons daardie 50 haal? Wel, miskien moet ons ‘n visie en ‘n missie vir die gemeente formuleer, ‘n tien- of twintigjaar beleidsplan. Dit is immers wat ons in die korporatiewe, maar veral ook in die kerklike wêreld om ons heen sien gebeur, nie waar nie? Jy kan vandag amper nie meer kerk wees as jy nie ‘n visie en ‘n missie het nie, ‘n duidelike beleidsplan, ‘n helder strategie. Op sigself natuurlik niks mee verkeerd nie. Maar dit is wel tipies van die uitkomsgebaseerde, produksiegedrewe tyd waarin ons lewe. Jy moet resultate kan wys, jy moet doele hê, jy moet nuwe lidmate werf. Die kerk het vir baie christene vandag ‘n maakbare produk geword.

Maar, gemeente, hoe het die kerk dit gedoen in die tyd toe sy nog wérklik pril was? Toe die kerk nog wérklik in haar kinderskoene gestaan het? Hoe het sy destyds nagedink oor haar bestaan en haar voortbestaan? Ons wil vanmôre die kollig plaas op een van die aartsvaders, die mees onbekende van die drie. Tussen ons groot aartsvader, Abraham, en daardie ander kleurryke aartsvader, Jakob, vind ons ‘n baie gewone man. Selfs ‘n effens kleurlose man. Isak. Baie min word vir ons vertel van hierdie middelste aartsvader; Genesis 26 is eintlik die enigste uitgebreide hoofstuk waarin daar iets van sy wedervaringe vertel word. Maar moenie vergeet nie, hoewel daar baie min van hom vertel word, tog was hy en sy huishouding die kérk van daardie tyd. Baie jonk, baie pril, maar nogtans die kerk. Kom ons vergeet daarom vir ‘n oomblik van die Maranata-gemeente, en ons leef ons in in die wedervaringe van die Rehoboth-gemeente van Isak se dae.

Tema: die Here leer Isak om te put uit sy beloftes!

  1. Erfreg
  2. Vreemdelingskap
  3. Ruimte

1. Daar was alwéér hongersnood in die land. Alwéér? Ja, vers 1 maak duidelik dat die hongersnood van Isak se dae onderskei moet word van die een in Abraham se dae (Genesis 12). Nou, Abraham het die hongersnood in sy dae die hoof gebied deur na Egipte af te trek en vir ‘n tyd lank daar te vertoef. Heeltemal verstaanbaar: Egipte was in daardie tyd die graanskuur van die wêreld. Isak besluit op sy beurt om vanaf die put Lagai-Roï, waar hy volgens hoofstuk 25:11 gewoon het, te verhuis na Gerar, die gebied van die Filistyne waar Abimeleg koning was. Dit lyk dus asof Abraham en Isak verskillend reageer op die hongersnood. Maar dit is nie heeltemal waar nie. Want as ‘n mens ‘n bietjie terugblaai, dan sien jy dat Isak eintlik maar besig was om terug te gaan op die voetspore van vader Abraham, want dié het in die verlede ook ‘n tyd lank in Gerar vertoef (Gen. 20). En daar het hy, net soos wat Isak nou sou doen, gemaak asof sy vrou sy suster was. Die geskiedenis herhaal homself.

En weet jy wat, as dit van Isak afgehang het, sou die geskiedenis homself ook nog op ‘n ander punt herhaal het. Want ons lei af dat Isak, net soos Abraham, eintlik óók na Egipte wou aftrek. Dít was skynbaar sy voorneme totdat die Here aan hom verskyn en hom dit belet: “Moenie aftrek na Egipte nie; woon in die land wat Ek jou sal aanwys” (vers 2). Nou, hoekom so? Abraham mag na Egipte trek, maar Isak nie. En die verstommende is: jare later, wanneer daar wéér hongersnood is, sê God vir Jakob: “Moenie bevrees wees om na Egipte af te trek nie, want Ek sal jou daar ‘n groot nasie maak.” Abraham is vry om Egipte toe te trek, Jakob word aangemoedig, maar Isak moet bly…

Ja, gemeente, so weet die Here wat elkeen van sy kinders op ‘n spesifieke oomblik nodig het. En Isak het op daardie oomblik nodig om in die beloofde land te bly. Hoekom? Want hy moet draer van die belofte word – in hierdie hoofstuk vind ons as’t ware die amptelike oordrag van die erfreg. Abraham is kort tevore oorlede (hoofstuk 25), en nou word Isak die draer van die belofte. Ja, vir die eerste keer hier in hoofstuk 26 (verse 2-5) word vir ons vertel hoe die Here die verbond, wat Hy aanvanklik met Abraham gesluit het, nou ook met Isak sluit. Hy is die kind van die belofte, en via hom wil God die weg na die Christus en uiteindelik na alle nasies voortsit: “in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word” (vers 4b). En dit is nie maar net ‘n formaliteit nie, broers en susters. Nee, Isak moet nou ook gelowig daarop antwoord! Hy moet leer dat God se beloftes ook werklik vir hom bedoel is. Hy moet leer om daardie beloftes in geloof sy eie te maak. Hy moet selfstandig, los van oorlede vader Abraham, sy weg gaan in geloof in die God van die verbond. Die kerk mag immers nooit in outomatisme verval nie; nee, sy moet selfstandig leer glo!

En ons kry die indruk dat Isak homself hierdie genade nog nie werklik toegeëien het nie, asof hy nog nie in volle geloofsoorgawe aan hierdie beloftes van die Here gelewe het nie. Die hongersnood dryf hom immers heen en weer – eers na Gerar en die Filistyne, en daarna beplan hy die pad na die broodmandjie in Egipte. Maar dan sê die Here: “Bly hier! Moenie gaan waar die brood is nie, bly waar die Woord is! Glo my beloftewoord (vers 3): Ek sal met jou wees, Ek sal jou seën, Ek sal hierdie lande aan jou en jou nageslag gee, Ek sal die eed bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het. Want, Isak, daarin is jou en jou nageslag se toekoms verseker!”

Dit moes ‘n geweldige leerproses vir die jong kerk in Isak se huis gewees het, om téén die omstandighede in aan God se beloftes vas te hou. Maar Isak was gehoorsaam. Hy het in Gerar gebly (vers 6), op bevel van die Here. Selfs toe hy naderhand deur Abimeleg en die Filistyne uit hulle gebied verjaag word – dus, selfs toe die kerk deur die ongelowiges verdruk word – kies hy nie die hasepad nie. Inteendeel, Isak gee eerder blyk daarvan dat hy in moedige geloof die beloftes van die Here begin opeis het. Want kyk wat maak hy met die putte wat die dienaars van sy vader Abraham jare gelede gegrawe het, en wat die Filistyne daarna uit jaloesie toegestop het (vers 15). Hy gaan grawe hulle weer oop (vers 18)! En hy doen dit nie maar net omdat hy water gesoek het nie; nee, dit was ‘n geloofsdaad! Hierdie is erfgrond, hierdie is beloofde land. Isak eis dit op in die Naam van die Verbondsgod… en hy gee selfs weer die oorspronklike name daaraan! En op dié manier betoon hy hom waarlik ‘n kind van Abraham, geregverdig deur die geloof. En dís hoe God sy kerk wil bou! Só is daar ‘n geseënde toekoms vir die prille kerk in die huis van Isak.

En, gemeente, dit het nog nie verander nie. Vandag is dit steeds die sekerheid vir die kerk! Sodra Isak sy planne begin uitwerk in ‘n vyandige en onderdrukkende omgewing, dan wys die Here vir hom die weg van die geloof. “Hier is my beloftes, Isak. Glo dit, ook al lyk die toekoms hoe onseker!” Sodra die kerk vandag begin om ‘n visie en ‘n missie en ‘n oorlewing- of ‘n omkeerstrategie uit te werk, dan sê die Here: glo eenvoudig my beloftes! Ja, gemeente, die Here se belofte van sy Heilige Gees, sy belofte van gawes aan die kerk, sy belofte van die voortgang en groei van die kerk, sy belofte van geloof en bekering – glo dit! Eis dit op! Open julle mond, eis van My vrymoedig, op my trouverbond. Al wat jul ontbreek, skenk Ek as jul smeek, mildelik en oorvloedig (Ps. 81, berymd). Die kerk is gebou op die fondament van die apostels en die profete (Ef. 2:20). Daar staan sy stewig, nie op haar eie planne en strategieë nie!

Broers en susters, wat ‘n bevrydende en bemoedigende gedagte! Hierdie gemeente gaan dit nie op haar eie maak binne die huidige vyandige omgewing nie. In ‘n wêreld wat van nature afkerig staan teenoor die geloof, is die voortbestaan van hierdie gemeente nie in ons hande nie. Maar dit hoef ook nie! Hierdie gemeente staan stewig op die Woord van die Here, hierdie gemeente het ‘n mooi toekoms deur sy beloftes! Hou dit mekaar voor. Herinner mekaar daaraan wanneer jy soms moedeloos raak oor die minderwaardige plek van die kerk in die samelewing, of wanneer die kerk van buite-af verdruk word, of wanneer die kerk so onbetekenend in hierdie wêreld lyk, of wanneer mense die evangelie vertrap. Moenie vrees wees nie! Laat ons met vrymoedigheid menseharte opeis vir die hemelse Koning, laat ons met vrymoedigheid gehoorsaamheid eis aan sy wil. Want ons het God se betroubare beloftes!

In die tweede plek: vreemdelingskap.

2. Die Here het Isak ryklik geseën. Hy het buitengewoon ryk en magtig geword. Sodanig dat die Filistyne hom begin beny het. En die uiteinde van die saak was dat Isak vriendelik, dog dringend, versoek word om weg te gaan. En Isak gaan, sonder enige protes. Maar… wat het dan nou geword van die geloof waarmee hy sy vader se putte oopgegrawe het? Isak, hoekom laat jy toe dat heidene jou sommer van jou erfenis af verdryf?

Hoe dit ook al sy, Isak het ‘n nuwe blyplek gevind in die dal van Gerar, en daar begin sy dienaars weer grawe na water. Sommer gou vind hulle ‘n put met lewende water. Pragtig! Isak het dit nodig gehad met so baie kleinvee en beeste en bediendes. Maar die herders van Gerar is nie van plan om dit sonder slag of stoot te aanvaar nie. Hulle bestry Isak se eiendomsreg: “Dit is óns water”, sê hulle, in weerwil van die verbond wat Abraham en Abimeleg in Genesis 21 met mekaar gesluit het. En wat doen Isak? Hy gee die put ‘n naam, Esek (onenigheid / twis), en daarna vertrek hy. Alweer! Sonder slag of stoot blaas hy die aftog. Weereens: wat het geword van die geloof waarmee hy sy vader se putte oopgegrawe het?

Weer vind Isak se dienaars water, maar weereens beskou die herders van Gerar dit as hulle eiendom. En weer gee Isak die put ‘n naam: Sitna (teenstand, vyandskap), ‘n Hebreeuse woord wat verwant is aan die woord ‘satan’. En hy vertrek. Maar Isak? Wat te erg is is te erg – staan op vir jou regte! Bied weerstand! Moenie dat hulle oor jou loop nie! Jy het mos die belofte ontvang!?

Ja, gemeente, dit is hoe ons sou gereageer het. Maar dit is die taal van die menseregte, dit is in hierdie geval nie die taal van die geloof nie. Isak is erfgenaam van die belofte, dit is waar, en dit gee hom groot geloofsvrymoedigheid om die putte van sy vader weer oop te grawe. Maar hy is tegelykertyd ook vreemdeling in die land van die belofte. Dit is wat die Here in vers 3 aan hom opdra: “Vertoef as vreemdeling in hierdie land…” En dit beteken dat Isak geduldig op Gód se tyd moet wag. Die tyd om die land in besit te neem en daaroor heerskappy te voer, het nog nie gekom nie – dit sou eers eeue later kom toe Josua die volk die beloofde land binne gelei het. Die belofte vra juis Isak se geloof en oorgawe en berusting in Gód se plan en tydsberekening. En daarom staan die kerk in hierdie geval terug – hierdie is óns waterput, dit is waar, maar ons wag op die Here.

Isak besef dat die stryd nie teen die herders van Gerar is nie, maar dat hy in hierdie twis en stryd met die groot teenstander, die satan, te make het. Dit is hy wat die kerk teenstaan; dit is hy wat die kerk in verdrukking wil bring; dit is hy wat, as hy kon, die kerk eintlik sou wou dooddruk. Vandaar die naam wat Isak aan die tweede put gee – Sitna (vyandskap, teenstand), verwant aan Satan (die groot teenstander van God en die kerk). Maar Isak gaan die stryd nie op menslike wyse aan nie, hoewel hy met al sy bediendes verseker ‘n behoorlike leër op die been sou kon gebring het. Nee, in die gees van Jesus se latere bergrede staan Isak en die kerk terug – salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe; salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word; salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele (Mt. 5:5, 9 en 10).

Ja, gemeente, voor die God van die Verbond mag ons eis. Hy gee dit aan ons om sy beloftes onsself toe te eien. Voor Hóm mag ons pleit en eis op grond van sy beloftes. Maar wanneer die wêreld ons verdruk, wanneer die wêreld dit vir ons moeilik maak, wanneer mense ons spot en vervolg oor ons geloof, wanneer satan die kerk onder geweldig druk bring, dan gryp ons nie skielik na ander wapens nie, dan gryp ons nie skielik na die swaard nie. Nee, ook dan – of eerder: juis dan! – is God se beloftes ons sekerheid, in sagmoedigheid en in vrede. En as hulle ons vervolg ter wille van daardie beloftes, dan draai ons die ander wang, want ons weet dat ons vreemdelinge op aarde is. Die kerk se burgerskap is nie hier op aarde nie, maar ons verwag ‘n beter vaderland. Laat ons daarom nie as gemeente op óns regte gaan staan nie, laat ons nie hard roep as ons veronreg word nie. Nee, wag op die Here, wag geduldig op sy tyd. Hy wat beloof het, is getrou! Hy sal uiteindelik aan sy kerk reg verskaf, want dit is wat Hy belowe het.

Ten slotte gee die Here ook nog ruimte.

3. Die derde keer is Isak gelukkig. Want wanneer sy dienaars vir die derde keer ‘n put grawe en water vind, dan word daaroor nie getwis nie. En weer gee Isak aan die put ‘n naam: Réhobot. Dit is ‘n geloofsnaam; daarin erken hy die Here se werk: “Nou het die HERE vir ons ruimte gemaak…” Wonderlik, nie waar nie? Isak staan terug toe Abimeleg hom wegjaag, en wéér staan hy terug by die eerste put, en wéér staan hy terug by die tweede put. Hoekom? Omdat hy ‘n papbroek was? Omdat die kerk in sy huis nie murg in hulle pype gehad het nie? Nee, die kerk staan terug omdat hulle wag op die Here se tyd. En dan wys die Here ook sy trou: Hy verskaf die ruimte wat die kerk nodig het om in die beloofde land te kan oorleef en vrugbaar te wees. En so word Isak bevestig in sy geloof. Hy is op die proef gestel, hy is swaar getoets, maar nou gee die Here sekerheid. Hier mag hy bly! En dan sien ons vervolgens in vers 25 hoe Isak die kerk in sy huis voorgaan in ‘n publieke erediens, en hoe hy dáár sy tentpenne inslaan – nou het hy én die kerk in sy huis ruimte gevind.

Gemeente, die Here het Isak opgeroep om nie na Egipte af te trek nie, maar om te volhard in die land van die belofte, ook al kon hy van die belofte nog niks sien nie. Teen alle logika in moes hy vreemdeling wees in die land van die belofte. En uiteindelik word Isak deur die geloof geregverdig! Daardie enkele waterput waaroor daar nie gestry word nie, is vir Isak die bevestiging dat God getrou is. Deur die geloof het hy gaan woon in die land van belofte, soos in ‘n vreemde land, en het hy in tente gewoon… Hoekom? Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is. Dit is die geloof van Isak, waarvan die Hebreërskrywer in hoofstuk 11 getuig.

Gemeente, laat ons as kerk vandag ons voorvader Isak in hierdie geloof en verwagting navolg. In ‘n enkele, onbetwiste waterput sien hy God se trou (“nou het die Here vir ons ruimte gemaak”). Soveel te meer behoort ons vas te hou aan God se beloftes, ons wat mag drink uit die fontein van lewende water, Jesus Christus, en daardeur in die ruimte van die lewe met God geplaas is! Ja, in Jesus Christus is al God se beloftes ja en amen; in Jesus Christus het God bewys dat Hy werklik betroubaar is; in Jesus Christus het ons werklik ruimte ontvang. Die ruimte van die vergewing van sondes en die ewige lewe. Hoe heerlik om in hierdie ruimte te mag lewe! Hoe heerlik om nie meer doodgedruk te word deur die beklemming van sonde en dood nie, maar werklik in God se ruimte te kan lewe, wat daar ook al om ons heen gebeur.

Ja, broers en susters, ons het intussen verder gekom as Isak. En daarom behoort ons ook, nog meer as Isak, te lewe vanuit die geloof dat die kerk in God se hande veilig is. Ons hoef die kerk nie te maak nie, ons hoef haar toekoms nie te verseker; daardie las lê God ons nie op nie. In Christus het die kerk ruimte ontvang. Ruimte – te midde van verdrukking. Ruimte – ook al word ons gespot. Ruimte – ook al word ons hoe langer hoe meer na die rand van die samelewing geskuif. Ruimte – want die weg na die hemeltroon van die Vader het vir ons oopgegaan. En daarom gaan ons nie ‘n visie en ‘n missie, of ‘n tienjaar-plan opstel nie. Ons gaan nie oorlewingstrategieë opstel nie. Nee, die Here sê: staan julle eenvoudig vas in die geloof in Jesus Christus. Hy is ons Ruimte, Hy staan Borg vir die voortbestaan van die kerk!

En tog maak dit ons nie passief nie. Wanneer Isak die derde put Rehobot noem, en bely dat dit die Here is wat vir hulle ruimte gemaak het, dan voeg hy by: en nou kan ons vrugbaar wees in die land! Ja, gemeente, ons mag vrugbaar wees. Ons bou nie die kerk nie, ons hou nie die kerk in stand nie, ons is nie in staat om die toekoms van hierdie gemeente te verseker nie. Maar ons mag as kerk in hierdie samelewing uitgaan en vrugbaar wees. Ons mag in ons lewenswandel en in ons getuienis iets wys van die ruimte wat ons in Christus ontvang het.

Miskien is dit ons probleem… Ons is so besig om die kerk te bou, ons is so besig om die wag te betrek by die grense van die VGK Maranata… maar dit is God se werk! Ons mag uitgaan en vrugbare invloed uitoefen in ons omgewing. Ons mag tegelykertyd erfgename en vreemdelinge hier in Pretoria en Suid-Afrika wees. Erfgename wat deur ons getuienis menseharte opeis vir die Here Jesus, maar tegelykertyd ook vreemdelinge wat wys dat, hoewel ons in hierdie wêreld is, ons nie ván hierdie wêreld is nie.

Gemeente, die kerk is gebou op die fondament van die apostels en die profete, dus op God se beloftewoord. Nie op my en jou verkampte pogings nie. Isak moes dit leer toe hy nie toegelaat is om na Egipte af te trek nie, maar met groot risiko in die land van die belofte moes bly. Ons moet dit ook leer wanneer ons vanaf ‘n prille 15 jaar vorentoe kyk na die toekoms. Bou eenvoudig op God se beloftewoord: “hoe grondvas staan dan Jerusalem se walle, God se ewige bergwerk wat nie skok of skud.” En wees vrugbaar: “o koninklike stad, maak wyd jou woning, God self wil jou laat groei op grootser wys. Hul almal, nou tot nuwe heil verkore, sal kom, selfs uit die allerverste land.”

Rehobot – nou het die Here vir ons ruimte gemaak. Maranata – kom Here Jesus, kom maak daardie ruimte kompleet.

Amen

Liturgie (oggend)

  • VOORPSALM Ps. 4:2-4

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. / Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 87:1, 4 en 5

Wetslesing

Sing Ps. 73:9 en 11

Gebed

Lees: Genesis 26:1-25

Teks: Genesis 26:22

Sing Ps. 18:9

Preek

Amenlied Ps. 105:5 en 6

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 105:7 en 8

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 jie gaan hou asof hulle 50 geword het, gaan ons ook dink dit is dalk effens voorbarig. Ja, met die genade van die Here mag hierdie gemeente nog eendag haar 50ste bestaansjaar vier, maar vir eers is dit nog net ‘n prille 15.

Liturgie: 

(kyk in preek)