Jes 40 : 27-31 ; Die Skepper gee krag aan wie op Hom wag!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-06-24
Teks: 
Jesaja 40
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten

 

Preek – Jesaja
40:27-31; lees Jesaja 40

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Daar was vanmôre baie moeilike en swaar afkondigings – die dood van
‘n lidmaat, tug oor ‘n jong broeder, skorsing van ‘n predikant. Hartseer dinge.
Pynlike dinge. Ons ervaar hierin iets van die donker kant van die lewe. En die
donker bring konflik, dit laat ons worstel met onsself, met ons gebrokenheid,
en soms selfs met die Here. Dit is waar, ons is christene, ons behoort aan
Christus – soos wat u vanoggend kon hoor. Maar ook christene bly swak. Hoe gaan
ons verder te midde van die donker om ons heen? Hoe hou ons vol? Wel, gemeente,
dit was Israel se vraag ook.

Tema: Die Skepper gee krag aan wie op Hom wag!

  1. Ons swakte is sy probleem
  2. Ons krag is sy oplossing

 

1. Hoofstuk 40 is die begin van ‘n nuwe gedeelte in die boek Jesaja.
Nie omdat hier ‘n ander skrywer aan die woord is, soos wat so dikwels in die Skrifkritiese
teologie veronderstel word nie, maar omdat ons hier ‘n skuif vind in die aard
van die boodskap. Waar die eerste 39 hoofstukke van Jesaja veral fokus op die
oordeel en die straf van die Here oor sy volk – en wat uiteindelik in die
ballingskap sy vervulling sou vind – volg vanaf hoofstuk 40 veral ‘n
bemoedigende en hoopgewende boodskap, een wat in hoofstuk 40:1 baie treffend ingelui
word met die woorde: “Troos, troos my volk, sê julle God.” Ja, die maat van die
volk se sonde en opstand het uiteindelik volgeraak, sodat die Here hulle met
ballingskap gestraf het (hoofstuk 1-39), maar Hy stuur hulle nie weg sonder
hoop nie (hoofstuk 40 en verder). Daar sou ‘n tyd kom dat die skuld van die
volk vereffen is, dat die volk dubbel terugbetaal het vir al haar sondes, en
dan sou die Here na hulle toe terugkeer. En hierdie terugkeer van die Here is
die rede vir die oproep in verse 3-5: “Berei in die woestyn die weg van die
HERE; maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God …  [want] die heerlikheid van die HERE sal
geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien.” ‘n Pragtige troosboodskap,
en een wat in die Nuwe Testament sy hoogste vervulling vind in die koms van ons
Here Jesus Christus. In Jesus Christus kom God op die mees intieme wyse na sy
volk toe om te spreek na die hart van Jerusalem, en vanaf Pinkster word Hy deur
die verkondiging van die evangelie na alle volke uitgedra, sodat alle vlees Hom
kan sien!

 

Maar, broers en susters, dan hoor ons vanaf vers 6 skielik ‘n
skeptiese stem uit die midde van die volk opklink: “Alle vlees sal dit sien?!
Alle vlees is dan gras, en al sy aanvalligheid soos ‘n blom van die veld. Die
gras verdor, die blom verwelk as die asem van die HERE daarin blaas. Voorwaar,
die volk is gras.” Gemeente, wat hierdie skeptiese stem uit die volk wil sê, is
dat die volk nie in staat is om voor die Here stand te hou nie. En as ons mooi
luister, dan hoor ons hierin ‘n bitter herinnering aan alles wat oor die volk
gekom het. Die verwoesting van die stad en die tempel, die wegvoering, die
ballingskap onder ‘n heidense volk – dít alles word deur die volk aan die toornige
toedoen van die Here toegeskryf. Die volk besef dat wat hulle getref het van
die Hére kom. Wat help dit die volk dus eintlik dat hierdie einste Hére na
hulle toe oppad is? Kyk maar net na die onheil en ondergang wat sy
teenwoordigheid vir die volk teweeg gebring het! Waarom hélp die Here hulle nie
eerder nie? Waarom laat Hy toe dat die tiran van Babel oor hulle baas speel? Dít
is die skeptiese reaksie van die volk in verse 6 en 7 op die aankondiging dat
die Here oppad is.

Nou gemeente, die hele vervolg van Jesaja 40 – en in besonder ons
teksgedeelte, vanaf vers 27 – is ‘n direkte reaksie op hierdie protes van verse
6 en 7. Die Here het die volk se klag gehoor, Hy sien voor sy geestesoog hulle
moedeloosheid waar hulle daar in Babel in ballingskap verkeer. En daarop reageer
Hy nou deur monde van sy profeet in die vervolg van Jesaja 40. Die Here kom met
‘n besondere bemoediging; Hy onderrig die volk, Hy roep hulle op. En interessant,
broers en susters, die Here bemoedig nie in die eerste plek met die boodskap
van verlossing nie, Hy onderrig die volk nie in die eerste plek met die
evangelie van die Saligmaker nie; nee, Hy bemoedig en onderrig die volk met die
leer van die skepping en onderhouding van hierdie wêreld! Die Here plaas die fokus
vanaf vers 12 op Homself as die Skepper!

 

Wie is aan God, die Skepper, gelyk?

Die see is ‘n waterplassie in die holte van sy hand; die hemele meet
hy met die span van sy hand, soos wat ons ‘n klein voorwerp met ‘n lineaal sou
afmeet. Al die stof van die aarde vang Hy op in ‘n drieling, ‘n ou Hebreeuse
inhoudsmaat van ongeveer 12 liter. Die berge en die heuwels weeg Hy soos wat
ons iets in ‘n skaal sou afweeg. En terwyl Hy dit álles gedoen het, wie was
daar om aan God te sê: Maak só, of maak só?

Wie is aan God gelyk?

Die volke van hierdie wêreld? Nee, hulle soos ‘n druppel water wat
aan ‘n vol emmer hang; die draer van die emmer voel dit nie eens nie. Hulle is
soos ‘n stoffie op die weegskaal wat geen verskil aan die gewig maak nie.

Wie is aan God gelyk?

Al die bosse van die Libanon en al die diere in daardie bosse is nie
eens genoeg om ‘n altaarvuur en ‘n brandoffer te bring wat aan God sou regdoen
nie.

Wie is aan God gelyk?

Die afgode miskien? Die afgode van goedkoop metaal waaroor die
goudsmid ‘n lagie goud blaas, en wat met silwerkettings vasgemaak moet word
sodat dit nie omval nie? Of dalk die afgode van hout wat deur ‘n ambagsman
omskep moet word in ‘n beeld wat nie wankel nie?

Wie is aan God gelyk?

O Israel, volk van God, weet julle dit nie? Of het julle dit nie
gehoor nie? Weet julle nie dat God die Allerhoogste is wat bo die aarde sit en
daaroor heers nie? Hy kyk af na die aarde, en die mense is vir Hom soos
sprinkane. En die ontsaglike hemel daarbo – dit is in sy hand maar soos ‘n
tent, so maklik sprei Hy dit oor die aarde uit. Vorste en wêreldheersers is
nietigheid voor Hom; hulle kry skaars kans om hulle plekkie hier op aarde te
vestig, of die Here blaas hulle weg en hulle verdor.

Wie is aan God gelyk?

Kyk maar net na die naghemel daarbo. Die Here versamel die sterre op
die hemelvlakte soos ‘n generaal sy soldate op die oorlogsveld. Hy ken hulle by
die naam, Hy roep hulle, en daar word nie een gemis nie. Wie is aan God
gelyk?...

 

Ja, gemeente, wie is aan God gelyk? Dít is die retoriese vraag wat
die profeet hier aan die volk voorlê in antwoord op hulle klagte. En die geloofsantwoord
op hierdie vraag is só vanselfsprekend, só voor die handliggend, dat Jesaja vervolgens
in absolute verbasing in vers 27 aan die volk vra: “Maar waarom sê jy dan, o
Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die HERE verborge, en my reg gaan
by my God verby?” Jesaja verwoord hier in sy verbasing presies die klag van die
volk in verse 6 en 7. En daarby vra hy eintlik vir die volk: “Hoe kan julle dit
sê? Weet julle dit nie? Of het julle dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die
HERE, Skepper van die eindes van die aarde…”

Jesaja trek dus die perspektief van die volk op uit die
swaarmoedigheid van hulle huidige toestand, en hy dwing hulle om na te dink oor
die vraag: Wie is die oorsprong van alle dinge? Wie is in beheer van hierdie geskape
werklikheid – ook die werklikheid waarin jy verkeer, o Jakob? Wie bepaal die
rigting van die geskiedenis – ook jou geskiedenis, o Israel? God laat die volk
verder kyk as haar eie bestaan. Want Hy is mos die ewige God – sy plan met alle dinge is gerig op die ewigheid, en nie
slegs op die hier en nou nie. Hy is mos die Skepper van die eindes van die aarde – sy skepping en
onderhouding omvat die hele aarde, nie net een spesifieke plekkie nie. Ja, vir
Israel het haar weg en haar reg net oor die stad Jerusalem en oor die
omringende beloofde land gegaan, en haar gevoel van tyd het net bevrediging vir
die hier en nou gevra. Maar Israel moes leer dat God planne het vir Jerusalem
sowel as vir Babel en vir die hele wêreld, vir nou sowel as vir die ewigheid.
God is die God van die breedtegraad en van die langtermyn; Hy beweeg
ononderbroke voort met sy volmaakte plan, oor die breedte van die aarde, en deur
dekades, eeue en millennia heen. Want Hy is die ewige God, Skepper van die
eindes van die aarde!

 

Broers en susters, natuurlik het Israel swaar gekry en stryd geken;
die Here sê nie verniet in vers 2: “roep haar toe dat haar stryd verby is” nie.
Ons wil nie ligtelik met Israel se moeites omgaan nie. Die moegheid en die swakheid
van die volk is volledig begryplik. Daarom verstaan ons ook die volk se noodkreet:
“Here, hoe lank nog? Here, help!” Maar die volk mag en moet weet dat háár
swakheid Gód se probleem is. God máák dit sy probleem. As Skepper van die
eindes van die aarde gaan die volk se moegheid en moedeloosheid Hom aan, en is
dit deel van sy weg en sy reg!

En om dít nou vir die volk te wys, lei die profeet die volk
buitentoe en wys hy hulle op die skeppende mag van die Here! Hy vat hulle
buitentoe, en sê: “Luister! Luister na die stem van julle God in die geskape
werklikheid!” Augustinus praat so pragtig oor hierdie lofsang van die skepping
op God, wanneer hy sê: “Ek het die aarde gevra of hy my God is, en hy sê: Nee.
Ek het dit aan die afgrond en die see gevra; hulle antwoord: Ons is nie jou God
nie; soek dit bokant ons. Ek het dit aan die hemel gevra, aan die son, maan en
sterre. Ook ons is nie jou God nie, was hulle antwoord. Toe het ek aan al die
dinge wat my van buite omring, gesê: Julle het my gesê dat julle nie my God is
nie; sê my dan iets van Hom. En alles het met ‘n magtige stem geroep: Hy het ons gemaak!” Ja, gemeente, die
Here het alles gemaak. Daarom bely ons heel eerste in die twaalf artikels: “Ek
glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.”
Daarom begin ons ook ons eredienste met: “Ons hulp is in die Naam van die Here,
wat hemel en aarde gemaak het.”

Ja, ons lewe in ‘n tyd waarin die bestudering van die skepping en
van die natuur mense juis van God af weglei. Die sterrekundige sê: “Ek kan God
nie met my teleskoop vind nie.” Die aardrykskundige sê: “Onder in die aardlae is
Hy ook nie te vinde nie.” Die natuurwetenskaplike sê: “Ek kry net natuur en
natuurwet, maar geen God nie.” Maar, gemeente, u mag maar weet dat daardie
einste mense ook sonder God en sonder troos in hierdie wêreld is. Wie God in
die skepping ontken, kom ook met die lewe self nie klaar nie. Daarenteen mag
die volk van God bely: “‘n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van
die aarde.” En dáárom word Hy nie moeg of mat nie – dít is die God wat ons
dien!

 

Broers en susters, ons is in die afgelope week weer baie pynlik met
ons eie swakheid en beperktheid gekonfronteer. ‘n Jong lidmaat is in ‘n oogwink
uit hierdie lewe weggeneem. Die mens is soos gras, soos ‘n blom van die veld –
die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die Here daarin blaas. Maar ons
glo in die Skepper van hemel en aarde, en Hy maak ons swakheid sy probleem. As
Skepper kán Hy ook ons swakheid sy probleem maak – dít is die bemoedigende boodskap!
As jy daarom swak is, as jy dreig om af te dwaal of om sig te verloor op die
pad wat die Here met jou stap, as jy nie meer krag het om verder te gaan nie,
vlug dan na die Almagtige Skepper toe! Laat ons daardie opening in ons siel hê,
laat ons oopstaan vir die Skepper van hemel en aarde. Ons kan so besig wees met
die dinge van elke dag en met die sorge van die lewe, dat ons nie meer tyd kry
om onsself vir Hom oop te stel nie, dat ons nie meer tyd kry om na die hemel op
te kyk en die asemrowende sterrestelsel te bekyk nie. Wie van ons neem nog die
tyd om op ‘n helder aand buitentoe te gaan, op te kyk, en die hemelruim te
aanskou? Wie van ons vat nog die tyd om in sy tuin rond te loop en God se
skeppingsmag te bewonder in elke boom en blom? Wie van ons staan nog werklik
stil by die son wat soggens opkom?

Gemeente, in ons swakheid is dít van die grootste belang – sien jou
Skepper raak. En wie dit in geloof doen, mag weet dat daardie Skepper ons
swakheid opneem in sy skeppingsmag; ons swakheid is deel van sy plan na ‘n
beter bestaan. As jy dus wonder of jy gaan kan volhou, en of jy tot die einde
toe sal kan volhard, weet dan Wie die God is wat jy bely! In jou eie belydenis
lê alreeds die antwoord op die vraag: “Sal ek kan volhou?” Gód hou vol, want Hy
is die Skepper van die eindes van die aarde!

[Sing Ps. 150] Vervolgens: ons krag is sy oplossing!

 

2. Gemeente, die volk in ballingskap het magteloos en moedeloos
gevoel; hulle het geweldig gesukkel om perspektief te behou; hulle het gewonder
of hulle sal kan volhou, en of hulle die redding ooit sou beleef. Maar die les
wat die Here deur Jesaja aan die volk wou leer, is dat uit hulle menslike magteloosheid
nie hulpeloosheid en wanhoop hoef te volg nie. Inteendeel, ‘n besef van die
menslike magteloosheid moet juis openheid bewerk om die krag elders te gaan
soek. Soek dit buite jouself! Maar goed, waar moet ons dit soek? Daar is
naamlik baie kragte werksaam in hierdie wêreld…

Presies daarom, gemeente, was dit so belangrik dat die Here in verse
12-26 Homself as die Skepper bekend gemaak het, die krag bo alle kragte! Want
so dikwels lê ons lojaliteite nog by ander kragte – die krag van volke en
nasies, die krag van afgode, die krag van die natuur. So dikwels laat ons magteloosheid
ons na geskape dinge gryp. Maar dan moet ons weet: solank as wat die menslike
hart nog ander lojaliteite buiten God huisves, is dit verlore in ‘n see van
chaos. En dan maak dit nie saak of ons jonk is en in die krag van ons lewe
staan nie, wanneer ons ons krag by geskape dinge soek, sal ons onvermydelik
moeg word en uitsak: “Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs.”
Weereens het Augustinus dit pragtig verwoord toe hy gesê het: “U het ons vir
Uself gemaak, en ons harte bly onrustig, totdat dit rus vind in U.”

 

Gemeente, die Here wil so graag hê dat ons in Hom ons krag vind; Hy
begeer dat ons sal skuil by die Skepper van hemel en aarde. Want dán, ja dan is
ons werklik sterk! Dié wat op die Here wag, kry nuwe krag, soos wat vers 31 sê.
En met die woordjie ‘wag’ word nie bedoel dat ons moet stil sit en niks doen
nie; nee, om te wag, beteken om op die Here gefokus te wees, om jou visier op
Hom te rig. En hoe doen ons dit? Wel, kom ons kyk weer na verse 6 en 7: “Alle
vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ‘n blom van die veld. Die gras
verdor, die blom verwelk as die asem van die HERE daarin blaas.” Dit is die
klag van die volk. En dan, vanaf vers 8, neem die profeet weer die woord. En
opmerklik genoeg stem hy saam met die voorafgaande klag: Inderdaad, die gras
verdor, die blom verwelk; inderdaad die mens ís swak. Maar – vervolg die
profeet – die woord van onse God hou stand in ewigheid. Die woord van die Here
– dáár moet ons wees om op God te kan fokus, dáár moet ons wees om ons aandag
op Hom te rig. Dáár moet ons ook wees om nuwe krag te kry!

Broers en susters, as gelowiges is ons dikwels met die bybel besig.
Ons lees soggens daaruit, in die middae, saans, by vergaderings, by
bybelstudies, tydens huisbesoeke, in die eredienste… Vir buitestaanders mag dit
lyk asof ons heeldag met die bybel besig is, en moontlik mag dit vir jouself
ook so voel – ons kan mos nie heeldag met ons neuse in die bybel sit nie, ons
moet uitgaan en voluit lewe. Ja, voluit lewe – dit is ‘n edel gedagte. Maar
elkeen wat voluit lewe, het kos nodig. Elke atleet wat dikwels oefen, benodig
‘n goeie dieet. Elke gelowige wat met altwee voete in die werklikheid staan,
het krag nodig. Krag om staande te kan bly teen die aanvalle van buite, krag om
gehoorsaam te wees aan die Here, krag om perspektief te behou op waarheen ons
oppad is. En daarom is bybelstudie van die grootste belang, broers en susters. Deur
bybelstudie kry ons naamlik met God self te make, deur die lees en bestudering
van die Skrifte werk die Gees in ons, sodat ons verhouding met God groei en
meer intiem raak. En wanneer jy so naby aan jou God kom – Hy in jou en jy in
Hom – dan word sy krag joune, dan deel Hy aan jou mee wat van nature syne is.

 

En, gemeente, dit is hier waar Jesaja se beeld van die arend so
gepas is. Die arend – daardie grasieuse voël wat hoog bo die grond sweef, so
gemaklik, so kragtig. Hy klap nie verwoed met sy vlerke nie, hy spartel nie
rond daar bo in die lug nie. Nee, hy is gemaklik op die strome van die wind wat
daar hoog in die lug vloei. En presies dít is belangrik: die arend bly nie in
die lug deur die krag van sy vlerke nie, maar deur die windstrome daarbo. Die krag
van die arend is die windstrome waardeur hy homself laat voortdryf; hy sweef op
die krag van die wind! Só sweef die gelowige op die krag van die Heilige Gees,
wat hy deur bybelstudie en gebed ontvang. Ons krag lê in die Gees van die Here;
wanneer ons sterk is, is dit deur God se werk. Ons krag is sy oplossing!

En – só vervolg Jesaja – die gelowiges wat op dié manier in die Here
hulle krag vind, hardloop en word nie moeg nie; hulle wandel en word nie mat
nie. Ja, op die hoogtepunte van sy lewe – dus, wanneer die gelowige hardloop
van opgewondenheid en vreugde – dan is die Here sy krag. Maar ook wanneer die
gelowige op realistiese wyse sy spoed verminder van ekstase na volharding –
dus, wanneer die gelowige wandel – ook dan is die Here sy krag. Die Here is die
krag by die hoogtepunte van ons geloof. Maar die Here is ook ons krag by die
volharding van die heiliges, wanneer ons gestadig voortgaan oppad na die groot
einddoel toe.

 

Gemeente, ons kán sterk wees! Wie by die Skepper gaan skuil, kry in
hierdie lewe werklik krag om voort te gaan. En hoe getuig gelowiges nie daarvan
nie; hoe dikwels hoor ons dit nie: “As dit nie vir die krag van die Here was
nie, sou ek nooit hierdeur gekom het nie.” Te midde van alles wat die Here in
hierdie jammerdal oor ons beskik, hoef die gelowige nie te gaan lê nie; in alle
aanvegtinge, in alle twyfel, hoef die gelowige nooit swak te wees nie. Of in
die woorde van Habakuk 3:17: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die
wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel
en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn
en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die HERE,
ek sal juig in die God van my heil. Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my
voete soos dié van herte… Broers en susters, wees sterk deur die krag van die
Gees van God. En dan is die heerlike einddoel bloot ‘n  kwessie van tyd – maar dit laat ons aan die
Here oor. Ons het as gemeente immers maar al te goed geleer dat die tye van ons
lewens nie in óns hande is nie. Maar ons het ook geleer: ons lewens is wel in Gód
se hande. En dit is sterk hande. Sweef daarom soos ‘n arend!

Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Skr. 22:1, 2, 6-8

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van
die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Skr. 22:9-11

Gebed

Lees: Jesaja 40

Sing Ps. 73:10-12 (n.a.v. die “Troos, troos” van Jes. 40:1)

Teks: Jesaja 40:30-31

Preek

  • Na 1ste punt Ps. 150
  • Amenlied Ps. 136:3, 11 en 20

Dankgebed

Geloofsbelydenis (staande en singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 103:3, 8 en 9

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy
aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor
jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)