Johannes 8 :1-11 oor die wet

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-06-10
Teks: 
Johannes 7 : 37-8 : 11
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – nagmaalsdiens:
Johannes 8:1-11; lees Johannes 7:37-8:11

 

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Miskien ‘n effens vreemde vraag as ‘n mens in gedagte hou hoe ek u
sopas aangespreek het (“gemeente van Jesus Christus”), en tog is dit ‘n vraag wat
elkeen persoonlik raak, naamlik: wat is jou houding teenoor hierdie Jesus
Christus? En moenie net hierdie vraag aanhoor nie, nee, stel dit ook aan
jouself – nou! Dit is dringend! En die vraag raak soveel dringender wanneer ons
daaraan dink dat ons net hierna die brood en die wyn – die vlees en bloed van
Jesus Christus! – gaan eet en drink. Wanneer jy die brood en wyn uit die hand
van Jesus self gaan ontvang – want onthou: Hy is die Gasheer – dan kan jy die
vraag nie ontwyk nie: wat is my houding teenoor hierdie Jesus?

Nou, broers en susters, in Johannes 8 word hierdie vraag nie
eksplisiet gestel nie, en tog is dit ten diepste waaroor hierdie gedeelte gaan:
wat is jou houding teenoor Jesus Christus? En hierdie vraag geld sowel die
aanklaers as die aangeklaagde in hierdie stukkie geskiedenis. Kom ons kyk wat
hier gebeur…

 

1. Leraars van die wet kry ‘n les in die gebruik van die wet

Die episode wat hom in Johannes 8:1-11 afspeel, is nie ‘n
geïsoleerde episode nie. Nee, dit het ‘n duidelike aanloop. Dit begin alreeds
in hoofstuk 7:37, waar Jesus se indrukwekkende uitspraak die skare aan die
praat het. Sy opmerklike uitnodiging aan almal wat dors het om by Hom te kom
drink, is onder die feesgangers die gesprek van die dag. En ons sien dat die
menings sterk gewissel het oor Wie Jesus nou werklik was. Johannes sê in vers
43 selfs dat daar verdeeldheid onder die skare oor Hom gekom het. Dit wil sowaar
voorkom asof die geestelike eenheid van die jode daar in Jerusalem skeure begin
vertoon het toe dit kom by die vraag oor hulle houding teenoor Jesus Christus.

Maar gelukkig, ten minste het die godsdienstige leiers een front
teenoor Jesus gevorm, want – so lui die retoriese vraag in vers 48 – het iemand
uit die owerstes in Hom geglo, of uit die Fariseërs? Nee, natuurlik nie! In
teenstelling tot die vervloekte skare wat die wet nie geken het nie (vers 49), het
húlle ten minste uit een mond laat hoor dat Jesus ‘n verleier is! Sonder om
werklik Jesus se woorde en sy leer te ondersoek, sonder om Hom eers te hoor en
te weet wat Hy doen – soos wat Nikodemus in vers 51 tereg aantoon – het die
leiers Hom alreeds veroordeel as ‘n oortreder van die wet! En die
volk, wat die wet nie geken het nie, het Hom soos blinde skape gevolg. Maar, gemeente,
hoe goed het die leiers sélf die wet geken…?

 

Die volgende môre vroeg is Jesus alweer aan die werk in die tempel.
Hy het daar gesit en die skare, wat op Hom afgekom het, geleer. Die rus word
egter versteur deur ‘n nuwe aksie van die godsdienstige leiers. Hulle bring ‘n
getroude vrou na Hom toe wat betrap was op owerspel. Hulle gebruik haar vir ‘n
konkrete gevallestudie in wetstoepassing wat hulle aan Jesus wil voorlê: “Jesus,
hierdie vrou is betrap op owerspel, en volgens die wet van Moses moet sy
gestenig word. Nou, wat sê u hiervan? Wat is u houding teenoor hierdie vrou?” Baie
slim! Die leiers dink dat hulle met hierdie vraag Jesus in ‘n onmoontlike
dilemma geplaas het, want kies Hy die kant van die vrou, onderhou Hy nie die
wet nie; kies Hy die onderhouding van die wet, waar is dan sy liefde vir
sondaars?

Jesus reageer glad nie op die vraagstelling nie. Hy buk neer en
skryf met sy vinger in die grond; Hy hou Homself bewustelik afsydig. Eers
wanneer die skrifgeleerdes en Fariseërs aanhou vra en op ‘n antwoord aandring, eers
dan verbreek die Here sy stilswye: “Laat dié een van julle wat sonder sonde is,
die eerste ‘n klip op haar gooi.” En weer hervat Jesus sy afsydige posisie op
die grond. Opmerklik! Jesus kies dus vir steniging as straf, presies soos wat
die wet van Moses dit voorskryf. En tegelykertyd word die getuies van die vrou
se sonde uitgedaag om sélf met die teregstelling te begin – toevallig óók ‘n voorskrif
uit die wet van Moses, maar een wat die Fariseërs en Skrifgeleerdes
gerieflikheidshalwe verswyg het! Maar, voeg Jesus by, laat diegene wat skuldvry
is, die eerste steen gooi.

 

Sien u, gemeente, Jesus gaan in sy antwoord nie in op die sonde van
die vrou nie; die vrou verdwyn heeltemal uit die fokus in hierdie gesprek.
Jesus rig Hom tot die aanklaers! Hy dwing die aanklaers tot selfondersoek, want
Hy weet dat hulle besig is om, in hierdie spesifieke geval van die owerspelige
vrou, die wet op ‘n onwettige wyse te gebruik. Hulle misbruik die wet van Moses
en hulle misbruik die skuld van die owerspelige vrou om ‘n onskuldige –
Homself! – te kan beskuldig. Ja, Jesus weet dat dit vir hierdie aanklaers nie
oor die vrou gaan nie; sy is maar net ‘n speelbal. Hulle soek Hóm! Hulle wil
Hóm beskuldig, hulle soek ‘n rede om Hóm te veroordeel. En daarvoor moet die
wet nou diens doen. Maar, wys Jesus vir hulle, só het julle self teen die wet
van Moses ingegaan, omdat julle haatgevoelens koester, valse beskuldigings teen
My oorweeg, en moordplanne teen My beraam. Skielik word die aanklaers op
heterdaad betrap deur Hom wat die harte ken.  

Die leiers van die volk wou ‘n konkrete gevallestudie in wetstoepassing
misbruik om Jesus vas te vang. Die leraars van die wet het die wet misbruik om
Jesus te kan beskuldig. Maar dan wys Jesus dat hulle die wet nooit reg sal kan
gebruik, die wet nooit in sy diepte sal verstaan as hulle aanhou om die wet teenoor
Hom te misbruik nie. Jesus kan immers nooit teenoor die wet geplaas word nie; Hy is dan die Wetgewer én die
vervulling van die wet! Jesus sê as’t ware vir die Skrifgeleerdes en Fariseërs:
julle houding teenoor My moet verander, anders gaan julle
sterk punt – julle kennis van die wet – altyd julle swak punt bly. Die vraag,
sê Jesus, is dus nie: hoe staan Ek teenoor die wet nie, maar die
vraag is eerder: hoe staan julle teenoor My? Wetgeleerdes van
Israel, wat is julle houding teenoor Jesus Christus?

Die reaksie is hartseer – hoewel hulle gewete hulle wel aangekla het,
sluip hulle een vir een weg, in plaas daarvan om na Jesus te gaan. Leraars van
die wet wys die Here Jesus af – wat bly dan nog oor van die wet?

 

Gemeente, die selfondersoek wat in die nagmaalsformulier van ons
geëis word, bring elkeen van ons ook by die wet van die Here. Elkeen van ons
was hooplik in die afgelope week, en sal net hierna wanneer ons die formulier verder
lees, met die wet besig wees. Ons is en ons word voor God se wil geplaas. Hoe hanteer
ons die wet? Wat is die regte manier om met die wet om te gaan? Want so maklik word
die wet ‘n grootheid in sigself wat ons los van Jesus gebruik – in die beste
geval kla dit ons gewete aan, maar weet ons vervolgens nie waarheen om te gaan vir
hulp nie; in die slegste geval verdraai en misbruik ons die wet om onsself tog
effens beter te laat lyk as wat ons in werklikheid is.

Maar onthou, broer en suster, wanneer jy jouself ondersoek in die
lig van die wet, as die wet wat elke Sondag gelees word jou sondes pynlik
uitlig, dan is die vraag nie: “Wat doen ek nou met die wet?” nie. Nee, die
vraag is: “Wat is jou houding teenoor Jesus Christus?” Die wet het nie tot doel
om jou by die wet te bring nie, maar het tot doel om jou by Jesus Christus te
bring. Dit is wat Jesus die Fariseërs en Skrifgeleerdes wou leer – in die wet
het julle met My te make! Kom daarom na My toe. Jammer genoeg het hulle dit nie
verstaan nie; een vir een het hulle weggesluip. Moenie jy ook wegloop nie, gaan
na Hom toe! Hy is die Wetgewer, Hy is die vervuller van die wet, en daarom kan
Hy jou verlos van al jou sondes.

 

2. ‘n Sondares kry nog ‘n kans

En dan is daar nog die vrou… Ja, soos ek reeds gesê het, sy het so
‘n bietjie uit die prentjie verdwyn. Maar noudat die aanklaers weg is, nou bly
sy alleen by Jesus agter. Indringend kyk Jesus na haar: “Vrou, waar is daardie
beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie?” Jesus hoef natuurlik nie
te vra of sy werklik skuldig is nie, want Hy ken haar en Hy weet dat sy nie ‘n
enkele verskoning het nie. Maar dit is ook nie waaroor Jesus se vraag aan haar
gaan nie. Nee, Jesus se vraag gaan daaroor of sy deur iemand veroordeel is. Het
enige van haar aanklaers agtergebly om die – teregte – beskuldiging tot
uitvoering te bring? “Niemand nie, Here”, is haar antwoord, waarop Jesus dan
reageer: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.”

Wat presies doen Jesus hier, gemeente? Vergewe Hy haar sondes? Dit
is nie wat daar staan nie, ook al verstaan ons dit dikwels so. Nee, Jesus vergewe
nie haar sondes nie, Hy spreek haar nie vry van skuld nie. Hy volg eenvoudig
die wet – is dit nie verstommend om te sien hoe goed die Here Jesus die wet
geken het nie! Want onthou: Hy self was nie ‘n getuie van die vrou se oortreding
nie, en daarom wil en kan Hy in hierdie saak ook nie die regter wees nie: “Ek
veroordeel jou ook nie.” Hy ontslaan dus nie noodwendig die owerspelige vrou
van regsvervolging nie, Hy verklaar haar nie onskuldig nie, maar wanneer Hy om
Hom heen kyk, moet Hy konstateer dat die aanklaers en getuies weg is; blykbaar wil
hulle nie die proses voortsit nie. En sonder aanklaers en getuies is daar geen
bewyse nie, sonder bewyse is daar geen vonnis nie, en sonder vonnis kan daar ook
geen voltrekking van die vonnis wees nie. Daarmee het die saak verval. “Ek
veroordeel jou ook nie” – dit is geen uitspraak van vergifnis nie, dit is
eenvoudig goeie regsprosedure.

 

Maar is dit dan nou dit? Is daar niks meer om te sê nie? O ja, Jesus
gaan nog meer sê, maar Hy moes eers die opening daarvoor skep. En deurdat Hy
hierdie saak op ordelike wyse verdaag het, kom daar nou ruimte vir verdere
verwikkelinge. Nou is hierdie vrou nie meer onder die beskuldiging van die
getuies nie, maar nou staan sy voor Jesus, en Hy laat haar nie maar net gaan
nie. Nee, Hy beveel haar uitdruklik: “… sondig nie meer nie.” Jesus roep
hierdie vrou op om ‘n nuwe lewe te begin, om nie meer te lewe soos wat sy
voorheen gelewe het nie. Maar hoe moet sy dit doen? Wel, hier staan sy voor
Jesus Christus, die Redder van die wêreld. En onmiddelik lê daarmee die vraag
by die vrou: Wat is van nou af my houding teenoor Jesus Christus?

Jesus veroordeel dus nie, want dit is nie waarvoor Hy in die wêreld
gekom het nie; Hy het nie in die wêreld gekom om te veroordeel nie, maar om te
red. Máár: wat sal hierdie vrou se houding teenoor die Redder wees as sy van
Hom heengegaan het? Gemeente, Jesus maak die toekoms vir hierdie vrou oop: Gaan
heen! Maar Hy wil hê dit moet ‘n toekoms saam met Hóm wees. Want Hy het gekom
om die straf vir die sonde van ander, ook van hierdie vrou, te dra. Self was Hy
absoluut sonder sonde. En tog het Hy nie klippe in sy hande aangedra
om die doodstraf, soos deur Moses bepaal, te voltrek nie. Nee, Hy is die Lam
van God wat eerder die sonde van wêreld wegdra! Daarom kan Jesus op hierdie
oomblik die owerspelige vrou laat gaan: sy is betrap, maar nie veroordeel nie.
Sondig dan nie meer nie, maar lewe met My! Kyk na My, kyk na wat met My gaan
gebeur, kom saam na Golgota en dáár vind jy vergifnis van al jou sondes.

 

Broer en suster, wanneer jy selfondersoek gedoen het en elke keer
wanneer jy dit weer gaan doen, en besef dat jy skuldig staan, weet dan dat die
sonde as sulks nie die primêre probleem is nie. Ag, natuurlik is die sonde die
probleem, natuurlik is sonde die oorsaak van alle verskrikking en ellende in
hierdie wêreld. Nee, ons moenie die sonde verklein nie. Maar wat ek bedoel is
dat die vraag nie is óf ons sonde doen nie, Jesus veroordeel ons ook nie in die
eerste plek op grond van ons sonde nie. Nee, die vraag – en dit is ‘n baie
dringender een as die vraag of jy sonde doen – is heel eerste: wat is jou
houding teenoor Jesus Christus? Hóm het God gestuur om vir ons sondes
versoening te doen, en daarom val die beslissing oor ons sonde by ons houding
teenoor Hóm! Is Hy die hoeksteen waarop jy bou? Of verwerp jy hierdie steen? Glo
jy in Hom, of vertrou jy op jouself?

Broeders en susters, ons word almal opgeroep om hierdie vraag te
stel. Wanneer ons net hierna die wet gaan lees en jy jouself daaraan toets,
moenie by jouself bly nie. Moenie, deur jou gewete bestraf, omdraai en in eie
krag verder probeer lewe nie. Moet ook nie probeer om tog nog iets goeds in
jouself te vind nie. Nee, kom ons vlug saam na Jesus Christus, kom ons eet en
drink gretig van die brood en die wyn. En gaan dan heen in vrede, en sondig nie
meer nie.

Amen

 

Liturgie
(oggend)

 

  • VOORPSALM Psalm 19:1-4
  • Votum en seën: Ons hulp is in die Naam van die Here
    wat hemel en aarde gemaak het. Genade
    vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus.
     
  • Sing Ps. 89:1-3
  • Kort gebed
  • Lees:    Johannes 7:37-8:11
  • Teks: Johannes 8:7b en 11b
  • Preek
  • Sing Ps. 118:3, 11, 14
  • Lees formulier + wet
  • Na lesing van die wet, sing Skr.
    26:10 en 11
  • Vervolg lesing van formulier
  • Terwyl die tafel in gereedheid
    gebring word, sing ons Ps. 23 (wysie soos in die Psalmboek; goedgekeur
    deur die sinode van 1982)
  • Viering van die nagmaal
    • Eerste tafel – Ps. 32:1
    • Tweede tafel – Ps. 32:3
    • Derde tafel – Ps. 32:4
  • Voltooi formulier & dankgebed
  • Kollekte
  • Slotsang Ps. 65:2 en 3
  • Seën: Die genade van ons Here
    Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige
    Gees is met julle almal. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)