Sondag 8 (1) : Ons ken die Drie-enige God slegs deur Jesus Christus.

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-05-27
Teks: 
I Johannes 5 : 1-13 & Johannes 17 ; 20-26
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten

 

Preek – HK, Sondag
8; lees 1 Johannes 5:1-13; Johannes 17:20-26

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons almal ken die term “Drie-eenheid”; ons bely die Drie-eenheid,
die feit dat God drie Persone in een Wese is. Ons bely dit in artikel 8 en 9
van die NGB, ons bely dit in Sondag 8 van die Kategismus, ons bely dit
uitvoerig in die Geloofsbelydenis van Athanasius. Maar gemeente, hoe
funksioneer die Drie-eenheid prakties in u lewe? Wat beteken die feit dat God
drie Persone in een Wese is? Het dit enige konkrete betekenis vir jou lewe in
die gesin, by die kantoor, en saam met vriende? Vir baie mense is die leer van
die Drie-eenheid ‘n stukkie hemelse wiskunde – en daarby nog slegte wiskunde
ook. Baie wil eerder hierdie gekompliseerde manier om oor God te dink heeltemal
los, en hulself net met God besig hou. Ten slotte, die Nuwe Testament praat
glad nie so gekompliseerd oor God nie; inteendeel, dit praat oor God in baie
eenvoudige terme.

 

Voel jy ook so? Voel jy ook asof hierdie moeilike leer van die
Drie-eenheid die eenvoudige lewe met die Here bemoeilik en onaangenaam maak?
Voel jy ook asof die genade en die vrede wat die Here gee, sy wonderlike
liefde, versmoor word deur ‘n leer wat ons tog nie kan verstaan nie, en wat vir
ons verder ook niks beteken nie? Miskien… Maar dink bietjie hieraan (en ek het
al voorheen hierdie voorbeeld in ‘n preek gebruik): as jou pa of ma, as jou man
of vrou, jou meisie of kêrel, op ‘n dag vir jou sê: “Weet jy, ek stel belang in
wat jy doen en wat jy vir my kan beteken, ek wil graag weet van jou werk en wat
jy daagliks doen, maar wie jý werklik is, dit traak my niks nie.”
Nodeloos om te sê dat dit gaan seermaak, nodeloos om te sê dat jy dit nie gaan
aanvaar nie.

Wel, God aanvaar dit ook nie. God aanvaar nie dat ons sy wonderdade
aanskou en dat ons in Hom glo omdat Hy vir ons vergifnis van sonde en die ewige
lewe gee, maar dat ons verder nie belangstel in wie Hy is nie.
God aanvaar nie dat sy diepste wese vir ons onbelangrik is nie. God lê Hom nie
daarby neer dat Hy alle moeite doen om Homself aan ons te openbaar, en dat ons
dan ons eie beeld van Hom maak nie. En daarom, gemeente, het die kerk vanaf die
begin daarvoor geywer om God reg te ken, het sy teen alle kettery daarvoor
gestry om God te eer vir Wie Hy werklik is! Nie as ‘n dooie leer nie, maar as ‘n
werklikheid vir die lewe van elke dag. Daar is immers geen groter werklikheid
in hierdie lewe as om God te ken nie. En daarom dat die Here in Jeremia 9:23-24
sy volk ook oproep: “So sê die Here: Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid
nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie
beroem op sy rykdom nie, maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat Hy
verstaan en My ken…” Om God te ken, is die beste ding in die
lewe!

 

Maar,
gemeente, om God te ken beteken nie allerhande spekulasies oor Wie God is nie; dit
is geen filosofiese bespiegeling oor Wie God in Homself is nie. Dit het geen
sin om as gemeente hier saam te kom om deur middel van ‘n diepsinnige gesprek
tot kennis van God te kom nie. Nee, as ons God wil leer ken, dan moet ons dit áltyd
doen met dít wat Hy van Homself gee. God se selfopenbaring aan ons, dít wat Hy
van Homself bekendmaak, is die enigste manier waarop ons Hom kan leer ken. En hierdie
selfopenbaring van God vind sy kern in Jesus Christus. Buite Christus om kan ek
dus geen sinvolle woord oor God spreek nie. In die Bybel sal jy daarom ook nóóit
‘n bespreking van die Drie-eenheid vind nie. Maar jy sal Christus vind, en in
Hom vind jy die Vader én die Seun én die Heilige Gees.

God is
Drie-enig, maar moenie probeer om Hom as sodanig te ken buite Christus om nie. Dit
is wat Filippus probeer doen het in Johannes 14: “Here, toon ons die Vader, en
dit is vir ons genoeg.” Klink baie vroom, nie waar nie? Maar dan antwoord Jesus
hom: “Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy
wat My gesien het, het die Vader gesien. Ek is die weg en die
waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Jy móét
dus by Christus wees, jy moet Hóm deur die geloof ken; eers dan gaan die wonder
van die Drie-enige God vir jou oop.

Tema: Ons ken die Drie-enige God slegs deur Jesus Christus!

  1. Deur die geloof in Hom word die wêreld oorwin
  2. Deur die geloof in Hom kom daar eenheid in die kerk

 

1. Gemeente, in watter ellendige wêreld lewe ons nie… Ek weet, ons raak
afgestomp daarvoor, ons maak soms doelbewus ons oë en ons ore toe vir die hartseer
nuusberigte wat ons huise binnestroom. En daarmee saam probeer ons dikwels om op
die mooi dinge in die lewe te fokus, die dinge wat nog plesier en genieting
verskaf. En tereg – om net op die ellende te fokus, is nie volhoubaar nie. Maar
as ons weer ‘n slag stilstaan en bewustelik na die nuus kyk en die koerante
lees, bewustelik om ons heen kyk en mense se lewens dophou – hoeveel ellende
sien ons dan nie. Dit is een en al probleme – probleme rondom ons
staatspresident, probleme met die ekonomie, probleme met misdaad, probleme
rondom tolgelde. Oral waar die sonde sy voelers ingesteek het, kom daar probleme.
Selfs die oplossings wat vir die probleme aangedra word, is problematies…

 

Nou, gemeente, Johannes praat in sy eerste brief van hierdie sondige
werklikheid waarbinne ons lewe as ‘die wêreld’. In hierdie kort briefie van
Johannes kom die begrip ‘die wêreld’ meer as twintig keer voor, en altyd in
negatiewe sin. Johannes gebruik hierdie begrip as aanduiding van die sondige
werklikheid en as die teenpool van die lig en die goeie. Dink maar net aan wat
ons lees in 1 Johannes 2:16: “Want alles wat in die wêreld is – die
begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid
van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.” En in
hoofstuk 5:19 wys Johannes die teenstelling aan wanneer hy sê: “Ons weet dat
ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê.” Gemeente, die wêreld
is dus problematies, die wêreld is vol ellende, die wêreld bring moeites en
hartseer. Dit is die werklikheid waarbinne ons lewe.

 

En tog maak Johannes in 1 Johannes 5:4 en 5 ‘n merkwaardige
uitspraak; hy sê daar dat hierdie problematiese wêreld oorwin kan word. Volgens
hom is daar in hierdie wêreld van haat, hartseer en verwydering ‘n manier om daaroor
te triomfeer! Maar… is dit regtig moontlik? Immers, die wêreld is darem maar ‘n
ontsaglike mag, ‘n mag wat gemeenskappe, lande, kerke, huwelike en gesinne onweerstaanbaar
uitmekaar skeur; níks bly heel in die sondige wêreld nie. Nee, dit kan nie wees
nie, in werklikheid staan ons mos magteloos teenoor die wêreld…

Maar Johannes hou vol: die problematiese wêreld kán oorwin word! En,
só sê hy, dít is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof!
Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van
God is? Hoor u dit? Ons geloof in Jesus Christus maak ons dus oorwinnaars in ‘n
wêreld wat kreun onder die sonde en die gevolge van die sonde. Ons geloof in
Jesus Christus stel ons in staat om deur die ellende heen alreeds die wenpaal
te sien. Dit is ‘n asemrowende boodskap: ons, die kleintjies, die veragtes van
hierdie wêreld, is meer as oorwinnaars!

 

Maar, broers en susters, wat is daar dan in die geloof in Jesus Christus
wat aan ons die oorwinnaarstatus gee? Wat is so besonders aan die geloof in Hom
dat ons daardeur die wêreld oorwin? Dit is wat die wêreld ook vra: Glo jy in
Jesus Christus? – daardie vervloekte aan die kruis, daardie man vir wie ons ons
gelaat verberg het, daardie veragte. Glo jy regtig in Hom? Ja, gemeente, ons
glo in Jesus Christus, want – baie belangrik! – agter Hom staan die volledige
Drie-eenheid! Agter Hom staan die betroubare getuienis van drie in die hemel:
die Vader, die Woord en die Heilige Gees (1 Joh. 5:7).

‘n Mens kan dit vergelyk met een van die bekende Tom &
Jerry-filmpies waarin die kat besig is om die muis deur die tuin te jaag –
miskien ken jy dit en kan jy dit vir jouself visualiseer. Die kat jaag die muis,
en is besig om hom in te haal; hy lek alreeds sy lippe af by die gedagte dat hy
hom vir middagete gaan verorber; maar skielik hardloop hy homself vas teen die
groot hond wat die muis beskerm. Hy het so op die muis gefokus, dat hy skoon
van hierdie gevaarlike hond agter die muis vergeet het. So is dit ook met Jesus
Christus. Jesus, die veragte, die Een wat deur die mense gespot en geslaan is…
‘n nikswerd in hulle oë. Maar let op, want ágter Hom en ín Hom het ons te make
met die Drie-enige God! Hierdie God het daarvoor gekies om Homself in die
Persoon van Jesus Christus bekend te maak; in Christus gaan die vólle Godheid vir
ons oop. Wie in Jesus glo, het te make met God self, met die volle Drie-eenheid!

 

En wat beteken dit konkreet vir u, vir u lewe van elke dag? Wel, kom
ons maak dit konkreet met die woorde van v/a 24 van die Kategismus…

In die woorde van hierdie Kategismus-antwoord kan ons sê, dat wie in
Jesus Christus glo, te make het met God die Vader en ons skepping – ‘die wêreld’,
broers en susters, is dus nie ‘n onweerstaanbare sondige mag waaraan ons
oorgelewer is nie; die sondige wêreld is nie god nie. Bo die sondige en
problematiese wêreld waarbinne ons lewe, staan God die Skepper. Hy is die oorsprong van alle dinge. Hy is die Een wat dit alles nog onderhou
en bestuur. Elke ding wat in jou lewe gebeur, is in sy hand. Hy versorg en
vertroos en lei jou lewe. Glo in Jesus Christus, en jy ontvang ‘n Vader in die
hemel!

Wie in Jesus Christus glo, het verder te make met God die Seun en
ons verlossing – dus, die wêreld het nie die laaste sê nie; nee, die wêreld kan
oorwin word. Meer nog: die wêreld is oorwin. Die Seun het mens geword en die
sondige wêreld kom oorrompel. En elkeen wat in Hom glo, mag deel in daardie
oorwinning. Deur Hom is vergifnis van sondes moontlik, en hoef ons nie meer te
vergaan onder die las van ons skuldige gewete nie. Glo in Jesus Christus, en jy
ontvang ‘n Broer wat omgee!

Wie in Jesus Christus glo, het ten slotte ook nog te make met God
die Heilige Gees en ons heiligmaking – ná ‘n lewe in die mag van die wêreld,
word ‘n lewe in diens van God nou ‘n realiteit. Die Gees breek die ou mens in
ons af, en bring die nuwe mens in beweging om volgens al God se gebooie te
begin lewe. Die Gees hou ons oë gerig op die wenpaal waarheen ons oppad is, en
Hy bring uiteindelik die nuwe mens, wat geheilig word volgens God se wil, ook
tot verheerliking. Glo in Jesus Christus, en jy ontvang ‘n Trooster tot die
einde toe!

 

Sien u, broers en susters, hoe ons in Christus die volle
Drie-eenheid ontmoet? Sien u verder dat hierdie ontmoeting die totale lewe omspan
en verander? Skepping, verlossing en heiligmaking – van begin tot einde vind
ons álles
in die God wat Homself in Jesus Christus aan ons kom openbaar het. Is die
wêreld, die wêreld van sonde en ellende, vir jou te sterk? Gaan dan na Jesus
Christus en oorwin die wêreld deur die krag van die Vader en die Seun en die
Heilige Gees. Gaan na Jesus Christus – dit is die opdrag aan elke mens! Dit is
‘n goddelike opdrag; luister maar na die stem uit die wolk by die verheerliking
op die berg: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister
na Hom
!

Ja, gemeente, luister altyd na Hom! Die skepping en die geskiedenis
en die gang van ons lewens bly vir ons ‘n raaisel waarvoor ons geen oplossing
vind nie – luister dan na Hóm! Hy ken die antwoord van skepping en
voorsienigheid. Die chaos en die ellende van hierdie wêreld bly vir ons
onverteerbaar, nooit sal ons daarvan loskom nie, nooit sal ons die dood oorwin
nie – luister dan na Hóm, want elkeen wat in Hom glo, sal lewe, ook al het hy
gesterwe. Terwyl alles vergiftig word deur haat, en terwyl die wêreld dreig om
die geloof te oormeester, dan bly ons vashou aan Jesus Christus. Alle wêreld-
en lewensprobleme kan oorwin word: luister net na Hom! Die nood kan oorwin
word, die dood word verslind in die oorwinning: glo net in Hom. Die haat sal
geblus word, die liefde sal seëvier, die vrede kom: luister net na Hom! Jesus
Christus: wie in Hom glo en na Hom luister, het die volheid van die Drie-enige
God aan sy kant, en is daarom meer as oorwinnaar!

[Sing Skr. 31] Vervolgens: deur die geloof in Hom kom daar eenheid in die kerk.

 

2. In Jesus Christus het ons dus te make met die volle Drie-eenheid.
Slegs wanneer ons Hom ken – en ons ken Hom vanuit die Woord – kan ons God reg ken.
En die rede is, soos wat ons in die vorige punt gesien het, dat die Drie-enige God
gekies het om Homself in die Persoon van Jesus te openbaar. Wie Jesus Christus
sien, sien dus die volle Godheid. Maar, gemeente, daar is ook nog ‘n ander rede.
Ons leer God óók ken in Jesus Christus, omdat Christus een in wese is met die
Drie-enige God; Hy is van dieselfde soort; Hy is een met die ander persone van
die Drie-eenheid!

In Jesus Christus leer ken ons dus ook iets van die eenheid wat daar
tussen die drie Persone in die Godheid bestaan. Dit is iets waarby ons te min
stilstaan in ons nadenke oor die Drie-eenheid, naamlik dat die Vader, die Seun
en die Heilige Gees in ‘n volmaakte eenheid lewe; hierdie drie vorm ‘n perfekte
harmonie. Nooit word een van hulle uitgesluit nie, nooit is een van hulle kwaad
vir die ander nie, nooit span twee van hulle saam teen die ander een nie, nooit
is daar ‘n vuil kyk of ‘n slegte woord teen of oor mekaar nie. Altyd heers daar
slegs volmaakte vrede en harmonie binne hierdie kring. En dit is belangrik om
dit te besef, broers en susters, want dan verstaan ons ook dat God in Homself
nie eensaam is nie, dat Hy in Homself nie nodig het om ander te betrek om
gelukkig te kan wees nie. Dan verstaan ons óók dat die skepping nie noodsaaklik
was nie; God het nie nodig gehad om die aarde en die mens te maak nie; die
skepping was nie God se desperate antwoord op sy eie eensaamheid en
verveeldheid nie. Nee, die drie-in-een is volmaak gelukkig, ‘n perfekte
eenheid.

 

En wanneer ons dít raaksien, dan sien ons ook iets van God se genade
in die skepping van die aarde en die mens. God het uit sy eie volmaakte
harmonie uitgetree om iets van daardie harmonie en eenheid in die skepping te plaas.
God wou die eenheid van Vader, Seun en Gees in sy eie skepping terugsien. En
aanvanklik was dit duidelik sigbaar in die paradys – volmaakte harmonie het
geheers in ‘n skepping sonder sonde; Adam en God, Adam en Eva, en Adam en die
diere het in vrede met mekaar gelewe. Maar helaas het die duiwel, daardie skeurmaker
van die begin af, die harmonie kom versteur. Eenheid en harmonie het verdwyn
vanaf die aarde, en God was hartseer – want Hy kon Homself nie meer terugvind
hier op aarde nie; dit wat Hy in die skepping gelê het, het verdwyn.

Maar God het ‘n antwoord gehad – om vir mense te wys watter
harmonieuse eenheid Hy in Homself het, sou Hy eenvoudig Homself moes stuur. Op
dié manier sou mense kon sien hoe dit van die begin af was, en wat hulle nou mis.
God het sodoende vlees geword en Hy het onder ons kom woon om aan ons die
Drie-enige te kom openbaar, en om ons terug te bring na die eenheid met Hom en
met mekaar wat eens in die paradys verlore gegaan het. Deur die geloof in Jesus
Christus mag ons weer die heerlike harmonie van God leer raaksien, en mag ons self
ook daarin deel. Christus bring ons terug by die Drie-eenheid.

 

En, gemeente, dit is nou presies waarvoor Jesus vra in sy bekende
gebed in Johannes 17. In die gedeelte wat ons saam gelees het, vra Jesus aan sy
Vader vir die eenheid van die gelowiges – die gelowiges wat alreeds glo, en dié
wat nog gaan glo. En, opvallend, die basis vir hierdie eenheid is elke keer weer
die eenheid van die Seun met die Vader. Die Vader en sy Seun – en uiteraard ook
die Heilige Gees – lewe in volmaakte gemeenskap met mekaar. En nou vra Jesus vir
sy Vader dat daardie eenheid ook sigbaar mag word in die gemeenskap van die gelowiges,
dat hulle iets sal proe van die harmonie.

En, gemeente, dit wat Jesus hier vra, is nie onvanpas nie. Hy vra dit
ook nie uit sy beurt nie. Immers, Hy is dan deur die Vader in die wêreld
gestuur om God Drie-enig sígbaar te maak. En dit het Hy ook gedoen deur sy
liefdevolle selfopoffering aan die kruis. Jesus het, volgens vers 22, aan die
gelowiges die heerlikheid gegee wat die Vader aan Hom gegee het, sodat hulle
een kan wees, net soos God een is. Die liefdevolle harmonie tussen Vader en
Seun, wat daar voor die grondlegging van die wêreld alreeds bestaan het, word
oopgesluit sodat die gelowiges ook in daardie liefde kan deel. Dít alles het
Jesus hier op aarde kom doen.

Gemeente, dit is ‘n wonderlike misterie wat in hierdie gedeelte aan
ons geopenbaar word: eenheid in liefde stroom vanaf die Drie-enige God, via sy
Seun, na sondige mense.

 

En dan gebeur die wonder: daar kom eenheid. Eenheid tussen God en
mense, en eenheid tussen mense onderling. Ja, deur die geloof in Jesus Christus
kom daar ‘n kerk. Deur die geloof mag ons, gemeente, deel in die harmonie van
die Drie-enige God. Ons is een! Soos wat ons hier bymekaar is, maar ook
gedurende die week wanneer elkeen sy taak uitvoer op die plek wat God hom of
haar plaas, is ons ‘n eenheid. Besef ons dit nog? Beleef ons dit ook so? As u
om u heen kyk na diegene wat saam met u hier in die kerk sit, voel u die band
van die eenheid? Indien nie, luister dan na die stem van die drie wat getuig
hier op die aarde: die Gees en die water en die bloed. Hierdie drie lewer ‘n
eenstemmige getuienis (1 Joh. 5:8).

Oor die verklaring van hierdie vers kan ons baie lank praat, maar
kom ons bly eenvoudig, en sê dat dit by die Gees, die water en die bloed gaan
oor die getuienis oor Jesus Christus. Die Gees lewer getuienis van Christus se
werk, en Hy doen dit deur die verkondiging van die Woord, deur die doop (dit is
die water) en deur die nagmaal (dit is die bloed). Om die eenheid van die
geloof werklik te kan beleef, moet ons dus die middele gebruik wat God hier op
aarde gee in Woord en sakramente. Ons eenheid lê nie soseer in die feit dat ons
almal so goed oor die weg kom nie, maar eerder in die verenigende werk van
Jesus Christus. Hy laat ons deel in die harmonie van Vader, Seun en Heilige
Gees wanneer ons saam na die Woord luister, wanneer ons in geloof die
sakramente gebruik, en van daaruit met mekaar gemeenskap beoefen – Sondag, maar
ook Maandag, Dinsdag en elke dag daarna.

 

Gemeente, wanneer ons hierdie misterie verstaan en glo, dan sal ons
sien hoe dit hier in die gemeente begin bloei. Dan kom daar eenheid in huwelike
waar man en vrou in onvrede gelewe het, dan kom daar eenheid in gesinne waar pa
en seun, en ma en dogter, mekaar nie goed kon verdra nie, dan kom daar harmonie
tussen broeders en susters in die geloof wat vantevore niks vir mekaar te sê
gehad het nie.

Soek daardie eenheid, broers en susters! Dit is hartseer as dít wat
bymekaar hoort, uitmekaar gedryf word deur die sonde. Skeurmakery het geen plek
in die gemeente van Christus nie. Immers, ons is dan die huis van die lewende
God! Dink jy dat hierdie God-van-eenheid wil woon in ‘n verskeurde huis; dink
jy Hy is gelukkig in ‘n huis waar broeders en susters mekaar byt en opeet? Kom
ons vind weer die eenheid in Jesus Christus. Hy is ons venster op die
Drie-eenheid. Kyk deur daardie venster – sien hoe die Seun Homself opoffer,
sien hoe die Vader met gelaaide emosie uitspreek: Dit is my Geliefde Seun; en
sien hoe die Gees neerdaal in die vorm van ‘n duif. Vrede binne die Godheid,
vrede in sy kerk.

Amen

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 33:2-5

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en
wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus,
die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die
konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 138:1, 2 en 4

Gebed

Lees:    1 Johannes 5:1-13

            Johannes
17:20-26

Sing Skr. 18:1-3

Teks: HK, Sondag 8

Preek

  • Na eerste punt: Skr. 31
  • Amenlied Skr. 18:4-6

Gebed

Belydenis van geloof (staande en
singende)

Kollekte

Slotsang Skr. 34:1 en 3

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)