Gal 5 :23 : Teen sulke dinge is die wet nie.

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-05-27
Teks: 
Galásiërs 5 : 13-26
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek
wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Galasiërs 5:23; lees Galasiërs 5:13-26

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus
Christus,

Tydens ‘n gesprek so ‘n rukkie gelede, noem
‘n persoon as ‘n beswaar teen ons bestaande liturgie dat ons elke Sondag die
wet lees. “Hoekom elke Sondag die Ou Testamentiese wet? Dit het mos intussen
Pinkster geword?! Lees in plaas van die Tien Gebooie eerder iets soos Galasiërs
5, oor die vrug van die Gees!” Nou, in beginsel is dit heeltemal moontlik om,
per geleentheid, in plaas van die Tien Gebooie eerder Galasiërs 5 in die
erediens te lees. Maar dit is belangrik om die gedagtegang van hierdie persoon
raak te sien. Pinkster neem in hierdie gedagtegang een of ander besondere posisie
in, sodat ons nie meer die Ou Testamentiese wet behoort te lees nie, maar
eerder die riglyn vir ons lewens moet soek by die Nuwe Testamentiese vrug van
die Gees. Pinkster bring dus op een of ander manier ‘n verandering ten opsigte
van die Ou Testament mee. Of sterker nog: Pinkster veroorsaak amper ‘n soort kontras
met die Ou Testament. Maar is dít die kontras wat Paulus in Galasiërs 5 vir ons
skets?

 

Nee, gemeente, Paulus wys in Galasiërs 5 ‘n
duidelike kontras tussen Gees en vlees aan, maar nie tussen Gees en wet nie.
Inteendeel, onmiddellik ná sy behandeling van die vrug van die Gees in vers 22,
sê Paulus: teen sulke dinge – bedoelende: liefde, blydskap, vrede,
lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing
– teen sulke dinge is die wet nie! Pinkster bring geen kontras tussen Ou en
Nuwe Testament nie; Pinkster plaas nie die Tien Gebooie teenoor die vrug van
die Gees nie. Inteendeel, Pinkster bring tot volheid wat in die Ou Testament alreeds
aanwesig is.

Miskien is jy bekend met die beeld van die
roosknop en die roos, wat dikwels gebruik word om die verhouding tussen die Ou
en die Nuwe Testament te verduidelik. Die Ou Testament is die roosknop, die
Nuwe Testament is die roos wat oopgegaan het. Nou, op dieselfde manier kan ons
die verhouding tussen die wet en die Gees verstaan: die wet is die pit waaruit
die vrug uiteindelik moet groei, en Pinkster bring die groeikrag wat die pit
tot ‘n pragtige vrug laat uitgroei. En dit is waarna ons op hierdie Pinksterdag
wil kyk. In aansluiting by die kinderfees-vieringe net ná die erediens saam met
die gemeente van Pretoria, wil ons die fokus plaas op die vrug van die Gees,
want teen sulke dinge is die wet nie!

  Tema: Teen sulke dinge is die wet nie!

  1. Die verwondering
    oor die vrug
  2. Die
    aanneming van die vrug
  3. Die
    beskerming van die vrug

 

1. Liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid,
getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing – broers en susters, hierdie kenmerke
van die christen en van die christelike gemeente is vandag nie baie gewild nie;
dit staan nie baie hoog op die prioriteitslys van kerklike programme en
christelike kursusse nie. En dit het vir ‘n groot deel te make met die gebrek
aan sigwaarde en verkoopswaarde van hierdie kenmerke; hierdie kenmerke het nie
‘n baie hoë ‘video-gehalte’ nie. Nee, daar is in ons tyd ‘n baie groter
verlange na die sigbare van die werk van die Gees. Met die gevolg dat daar ‘n dryf
is om, byvoorbeeld, die tonge weer los te maak en tongetaal in ere te herstel
(wat ook al daaronder verstaan word…). En daar is ‘n dryf om die gebedsgenesing
weer te herstel. En daar is sommige wat selfs wil beweer dat jy nie die Gees
het as jy nie hierdie dinge het nie. Die kerk moet mos sigbaar wees!? En die
kerk word sigbaar wanneer die Gees sy werk doen in allerhande sigbare – en
verkieslik selfs skouspelagtige – gebeure.

Só het die gemeente van Korinthe ook gemeen.
Maar wanneer ons na Paulus se briewe aan hierdie gemeente luister, dan is dit
duidelik nie ‘n poging om die skouspelagtige aan te moedig en op te skerp nie. Inteendeel,
met sy briewe aan hierdie gemeente wil Paulus juis die misbruik van die gawes
van die Gees inperk en in goeie bane lei. Daar is ‘n skeefgegroeide praktyk in
Korinthe, en dit moet aangespreek word. Ja, maar weereens, die kerk moet mos
sigbaar wees?! Dis waar, aan die vrugte ken jy die boom. Goed… maaar wat is dan
presies die vrugte waaraan hierdie boom herkenbaar is?

 

En so beland ons by die vrug van die Gees
soos Paulus in Galasiërs 5 daaroor praat: liefde, blydskap, vrede,
lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid,
selfbeheersing. Miskien is jy effens teleurgesteld met hierdie lysie. Dit is sulke
vae terme, dit is so weinig meetbaar. En waarskynlik ons grootste
teleurstelling: dit is so gewoon! Maar is dit régtig so gewoon, broers en
susters? Is die omgekeerde van
hierdie lysie nie dalk gewoon nie? Is die omgekeerde
nie dalk wat ons daagliks raaksien nie, ook in die kerk. Kom ons draai Paulus
se lysie vir ‘n oomblik om:

  • Hoe dikwels
    sien ons nie die omgekeerde van die liefde nie, naamlik dat mense mekaar haat.
    Ook christene.
  • Hoe dikwels
    beleef ons nie die omgekeerde van blydskap nie, naamlik dat mense kla en
    altyd die donker kant van die lewe raaksien. Ook in die kerk, of dalk:
    juis in die kerk.
  • Hoe dikwels
    sien ons nie die omgekeerde van vrede nie, naamlik dat mense baklei en
    twis – in huwelik en gesinne, tussen bure en vriende, en op die
    sokkerveld.
  • Hoe dikwels
    sien ons nie die omgekeerde van lankmoedigheid nie, naamlik opvlieëndheid
    en ongeduld – in gemeentevergaderings, kerkraadsvergaderings, in dinge wat
    ons nie aanstaan in die gemeente nie, in die verkeer…
  • Hoe dikwels
    sien ons nie die omgekeerde van vriendelikheid nie, naamlik dat mense bot
    is en by mekaar verbyloop, ook op die kerkplein.
  • Hoe dikwels
    beleef ons nie die omgekeerde van goedheid nie, naamlik dat mense in hulle
    optrede gemeen en sleg is.
  • Hoe dikwels
    sien ons nie die omgekeerde van getrouheid nie, naamlik ontrou – in
    verhoudings tussen kêrels en meisies, tussen mans en vroue. Dit is selfs so
    erg dat sommige mense glad nie meer ander kán vertrou nie.
  • Hoe dikwels
    sien ons nie die omgekeerde van sagmoedigheid nie, naamlik hardheid in ons
    oordele oor mekaar.
  • Hoe dikwels
    sien ons nie die omgekeerde van selfbeheersing nie, naamlik dat mense
    hulleself te buite gaan, in byvoorbeeld drankgebruik, ook onder christene.

Dít is die gewone, broers en susters! Probeer
jouself nou ‘n gemeente voorstel waar al die slegte dinge, wat ons sopas genoem
het, nie voorkom nie. ‘n Gemeente waarin almal lief is vir mekaar, almal
blydskap uitstraal, almal in vrede met mekaar lewe, almal betroubaar is, almal
mild is in hulle oordeel, almal beheersd lewe. Ken jy daardie gemeente? Welkom
by die woonplek van die Gees. En dit is allesbehalwe gewoon! Só ‘n gemeente is
‘n verstommende wonderwerk in ‘n wêreld waar die omgekeerde eerder gewoon is.
Só ‘n gemeente is buitengewoon.

 

En hiervan sê Paulus in ons teks: teen sulke
dinge is die wet nie! Hiermee lê Paulus dus ‘n verbintenis tussen die vrug van
die Gees en die Ou Testamentiese wet. Hierdie twee staan, volgens Paulus, nie
teenoor mekaar nie; ook in die Ou Testament alreeds was liefde die basis onder God
se wet. Kyk maar na Galasiërs 5:14: “Want die hele wet word vervul in een
woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Hierdie liedeswet word
nie afgeskaf nie; inteendeel, die Gees bou juis voort op Moses. En wie die vrug
van die Gees vertoon, staan heeltemal in lyn met Moses. Wie die vrug van die
Gees vertoon, pas binne die profiel van die wet.

Laat jouself dus nie oorrompel met die
skouspelagtige en die emosionele nie, asof dít bepalend is vir die werk van die
Gees. Laat jouself nie oorrompel deur mense wat jou, veral met die boeke
Handelinge en Korinthiërs, om die ore slaan omdat hulle daarin die
skouspelagtige vind nie. Nee, om die patroon van die Gees se werk te herken,
moet jy die héle Bybel in berekening
bring. Daarvoor moet jy óók Moses se wette ken, en moet jy, byvoorbeeld, óók
die boek Spreuke goed bestudeer. Want die Gees begin nie eers in die Nuwe
Testament met sy werk nie. Nee, Hy het reeds in die wette van Moses begin.

Lees daarom dikwels die Ou Testament, lees
die wette, verstaan die lesse en die wysheid daarvan, want dit gee vir ons ‘n
goeie smaak vir wat werklik die vrug van die Gees is. As jy daardie Bybelse lyn
raaksien, dan raak jy verwonderd oor liefde, vrede, vriendelikheid,
selfbeheersing in die lewe van die God se kinders. Die Gees begin nie iets
nuuts nie; nee, Hy is daarop uit om die oorspronklike beeld van God weer in ere
te herstel. Hy maak nie van ons skouspelagtige uitsonderings nie. Nee, Hy maak
van ons goeie, eerlike, betroubare mense, herskep na die beeld van God. Laat
ons onsself daarop rig. En laat ons dankbaar wees wanneer ons by onsself en in
ons omgewing die vrug van die Gees opmerk. Laat ons ons daaroor verwonder!

In die
tweede plek: die aanneming van die vrug.

 

2. Kom ons noem weer die lysie van Galasiërs 5:22: liefde, blydskap,
vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid,
selfbeheersing. Kinders, het julle mooi getel hoeveel vrugte daar is? By
hoeveel het jy uitgekom? Wel, eintlik hoef jy hulle nie te tel nie, want daar
is maar net een vrug van die Gees.
Paulus sê: “… die vrug (enkelvoud) van die Gees is…” Natuurlik, Paulus noem ‘n
hele klomp dinge op, maar al hierdie dinge saam vorm die een vrug. En daardie
een vrug het ál daardie dinge nodig.

Kom ons maar dit konkreet… As jy ‘n goeie
lemoen soek, dan soek jy mos een met ‘n mooi kleur, een wat lekker soet is,
baie sappig is, lekker baie vesels het, ensovoorts. Maar as jy een van hierdie
dinge weglaat, dan verloor jy iets van die lemoen. ‘n Lemoen met ‘n mooi kleur,
maar wat droog is, is nie ‘n goeie lemoen nie. ‘n Sappige lemoen wat baie suur
is, is nie ‘n goeie lemoen nie.

 

Nou, gemeente, net so noem Paulus ‘n klompie
kenmerke op wat almal deel is van die een vrug van die Gees, maar hierdie
kenmerke hoort almal bymekaar; hulle is nie los verkrygbaar nie. Dit gaan oor
die hele vrug! Haal iets daarvan weg, en jy verloor iets van die geheel. Is dit
nie maar wat ons dikwels doen nie? Ons soek deur hierdie lys van Galasiërs 5:22
en identifiseer dan dié kenmerke waarin ons sterk is. Ons vat – miskien
onbewustelik – ‘n merker en onderstreep daardie een of twee (of selfs drie)
kenmerke waarin ek iets van my goeie eienskappe herken. Ek is dalk nie
vriendelik en sagmoedig nie, maar ek is wel baie getrou en ek het ‘n goeie
selfbeheersing. Wel, redeneer ons, getrouheid en selfbeheersing is dan my vrugte van die Gees; dit is my sterk
punte. Jammer gemeente, maar die Here laat ons nie toe om so met die vrug van
die Gees om te gaan nie.

Hy wil naamlik hê dat ons die hele vrug moet
dra! Die gelowige sowel as die kerk kan nie tevrede daarmee wees om hulle eie
keuse-pakket saam te stel nie. Die vrug van die Gees is nie soos die spyskaart
by McDonalds waarut ek kan kies wat ek vandag gaan eet nie. Nee, die Skrif leer
ons naamlik dat ons vervul moet word met die Gees – dit is die opdrag in Efesiërs 5.
En as jy vervul word, dan is daar geen ruimte vir eie keuse nie. ‘Vervul’ gaan
oor totaliteit, volledig, alles! Gaan nou weer deur die lys van vers 22, broers
en susters. Vat weer jou merker en onderstreep hierdie keer al die dinge
waarvan jy weet dat dit jou swak punte is. Is jy dalk swak in selfbeheersing?
Is geduld dalk jou swak punt? Dalk is jy nie altyd die vriendelikste mens nie? Onderstreep
dit, en gaan oefen jouself dan in daardie aspek van die vrug van die Gees.

En dit geld nie slegs elkeen individueel
nie, dit geld ook die gemeente as geheel. Dalk is ons as gemeente baie getrou
in ons kerklike werk, alles loop goed, mense werk hard om alles glad te laat
verloop, maar moontlik is ons nie so vriendelik teenoor gaste nie. Dan moet ons
daaraan aandag gee in ons gesprekke en tydens bybelstudies en huisbesoeke. Ons
kan nie die een vat en die ander los nie. Want dan eindig jy uiteindelik met
niks. Die vrug is een geheel, en ons moet die geheel vertoon!

 

Maar beteken dit nou dat ons aan die werk
moet spring? Dat elke onvriendelike skielik vriendelik moet word? Dalk elke
ontroue môre getrou sy werk moet doen? Natuurlik, dit ook. Maar belangriker as
dit is, dat ons sal erken dat ons hier te make het met die vrug van die Géés.
Dit is nie ons prestasie, of die resultaat van ons oefening of selfverbetering
nie. Nee, dit is die vrug van die Gees. En die vrug groei uit Hom en deur Hom. In
hierdie opsig is die werke van die vlees heeltemal anders – Paulus praat in
vers 19 baie duidelik van ‘werke’. Die werke van die vlees is óns dade, dit is
dinge (slegte dinge!) wat ons dóén. Maar die vrug van die Gees lê nie in ons
aktiwiteite nie. Die Gees moet dit géé!

En daarom, gemeente, is gebed so belangrik.
Vra die Gees dat jy in Hom en deur Hom mag groei en bloei. Laat die vrug van
die Gees ons gebedsprogram bepaal: “Heilige Gees, laat in my groei, en laat in óns
groei, liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid,
getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. En onthou: teen al hierdie dinge is
die wet nie! En Christus het gekom om daardie wet volmaak te vervul, en
vervolgens gee Hy aan ons sy Gees. En daarom mag ons die Gees van Christus vra
dat Hy ons hoe langer hoe meer bereid sal maak om vrug te dra, en dat Hy in ons
die vrug sal werk. “Heilige Gees, neem van ons weg die mes waarmee ons u vrug
in stukkies sny en ons eie keuse maak, en gee vir ons die moed om te doen,
alles wat U vra!”

Ten
slotte let ons op die beskerming van die vrug.

 

3. Word vervul met die Gees – dit is Paulus se oproep in Efesiërs 5. Duidelik
is dit ‘n opdrag waaraan ons nog nie voldoen nie, want anders was die oproep
nie meer relevant nie. Duidelik sit dit in ons om die volheid van die Gees, en
daarmee die groei van sy vrug in ons, teen te werk. En ‘n mens sien dit baie
duidelik in die gedeelte rondom ons teks. Daar is Paulus besig om allerhande
waarskuwing aan sy lesers deur te gee. Kyk maar na vers 13b: “gebruik net nie
julle vryheid as ‘n aanleiding vir die vlees nie.” Vers 15b: “maar as julle
mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word
nie.” In vers 16b word ons opgeroep om nooit die begeerlikheid van die vlees te
volbring nie. In vers 24 is daar die oproep om die vlees met sy hartstogte te
kruisig. En in vers 26 word ons gewaarsku om mekaar nie uit te tart en mekaar
te beny nie. Dus, in die gedeelte wat ons gelees het, staan die vrug van die
Gees reg in die middel, as ‘n geskenk wat ons ontvang. Maar daar rondom is daar
allerhande opdragte om nie langer na die vlees te lewe nie.

 

‘n Mens kan dit vergelyk met ‘n tuintjie
waarin ons saadjies plant. Kinders, julle het dalk al ook van pa en ma ‘n
stukkie grond in die tuin gekry waar julle saadjies geplant het. Nou, nadat jy
die saadjie geplant het, kan jy daaraan nie meer baie doen, of hoe? Jy kan nie
die nuwe plantjies uit die grond uit optrék nie; nee, dit moet self groei, op
sy tyd. Daarvoor sorg die son en die reën. En jy kan die tamatieplantjie nie
tamaties laat dra of die aarbeiplantjie aarbeie nie. Maar jy kan wél daarvoor
sorg dat die groei nie verhinder word deur al die onkruid nie. Dus, dit is jou
taak om die onkruid uit te trek.  

Nou, so is dit ook met die vrug van die
Gees. Die Here sorg vir die groei daarvan. Maar ons moet sorg dat die groei nie
verhinder word deur die werke van die vlees nie. Ons moet al die onkruid uit
ons lewens uittrek. Daar is sommige christene wat dink dat hulle wel die groei
kan bewerk. En daarom sien ons onder hulle allerhande groei-groepe en kursusse
vir geestelike groei; groei word dikwels iets wat máákbaar is, iets wat óns kan
bewerk. Maar Paulus plaas ons op ‘n ander spoor: as jy as christen graag wil
groei, dan moet jy enersyds bid vir daardie groei, maar andersyds moet jy
konsentreer op die onkruid wat uit jou lewe verwyder moet word.

 

Paulus verwys meer as een keer na hierdie
onkruid as die vlees. Nou, die vlees is ‘n aanduiding van die onbeheerste
hartstogte van die mens, die sondige begeertes. Die weg van die vlees is die
breë weg. In vers 19-21 noem Paulus die kenmerke van die vlees: owerspel,
hoerery, onreinheid, ongebondenheid, afgodery, towery, vyandskap, twis,
jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns, moord,
dronkenskap, brassery. ‘n Lang lys… wat nog verder uitgebrei kan word. Paulus
voeg naamlik by: “en derglike dinge”. Teenoor die een vrug van die Gees is daar
die veelvuldige werke van die vlees. Waar die Gees verenig en saamvoeg, daar
verwoes en beskadig die vlees. En wat uiteindelik agterbly van al hierdie
vleeslike werke is ‘n veelheid aan puinhope en hartseer. Waar die Gees heelmaak
en genees, daar laat die vlees ‘n spoor van verwoesting agter. En daarvan sê
Paulus nou: “Julle moet die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede kruisig.”
En dit beteken: jy moet die vlees tot die dood veroordeel. Want as ons dit nie
doen nie, dan begin die werke van die vlees groei en verstik dit uiteindelik die
vrug van die Gees. Moenie die Gees bedroef nie!

 

Maar onthou, gemeente, jy is hierin nie
alleen nie. Paulus sê in vers 24 dat ons aan Christus behoort! Ons het dus
Iemand wat ons liefhet, wat in ons plek aan die kruis gesterf het. Iemand wat
vandag lewe om vir ons te bid. Ons is sy eiendom in lewe en in sterwe. En hoe
meer jy aan Hom behoort, hoe groter word die skeiding met die vleeslike
hartstogte en begeerlikhede. In Hom word ons sondige vlees gekruisig! Hoe meer
jy deur die geloof in Hom ingelyf word, hoe groter word die ruimte vir die Gees
in jou lewe. En dan gebeur daar wonderlike dinge in ons lewens, dinge wat ons
lewens mooi maak en waardeur die lewens van ons naaste verryk word. Die vrug
van die Gees. In Christus en deur die Gees groei en bloei ons.

Kom ons bid vir die vrug van die Gees, kom
ons stry deur sy krag teen die werke van die vlees. Só word jy ‘n bybelse mens,
‘n mens wat in die lyn van die hele Skrif weer word wat God oorspronklik bedoel
het. Pínkster plaas ons in daardie lyn!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Skr. 13:3-7

Votum Ps. 124:4

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van
Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is,
en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en
die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 105:1 en 2

Wetslesing + Esegiël 36:25-28

Sing Ps. 143:2, 5, 7 en 8

Lees: Handelinge 2:41-47

Gebed

Lees: Galasiërs 5:13-26

Sing Ps. 1:1 en 2

Teks: Galasiërs 5:23

Preek

Amenlied Ps. 92:6 en 7

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 14

Seën: Die genade van ons Here Jesus
Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met
julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)