Joh 4 : 13 & 14 : Laat die waters vloei!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-05-20
Teks: 
Johannes 4 en Esegiël 47
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Johannes
4:13-14; lees Johannes 4 en Esegiël 47

 

Geliefde gemeente
van ons Here, Jesus Christus,

Die geleerdes sê vir ons dat ons liggame vir twee-derdes uit water
bestaan. Twee-derdes! En daardie water is skynbaar baie belangrik. Want as ons
liggame nie in staat is om die regte hoeveelheid water te behou nie, dan begin
ons ly aan dehidrasie. Hulle sê dat as jy slegs 2% van jou liggaam se
watervoorsiening verloor, dan verloor jy daarmee saam 20% van jou energie. En as
die hoeveelheid water in jou liggaam met 10% daal, dan kan jy nie meer loop
nie. En met ‘n 20% afname in water, kan jy nie meer lewe nie. Water is dus lewensnoodsaaklik!
Jy kan nie daarsonder nie. Dit is die water in jou liggaam wat aan jou krag en
energie gee vir die daaglikse lewe.

Nou, wat vir die fisiese lewe geld, geld ook vir die geestelike
lewe. Mense het geestelike water net so nodig soos fisiese water. Maar hoe
oortuig jy mense daarvan? As mense dors is, dan weet hulle dat hulle water
nodig het; hulle liggame vertel dit vir hulle. En hulle stap eenvoudig kraan
toe en gaan les hulle dors. Maar hoe weet jy dat jy geestelike water nodig het?
En waar gaan kry jy daardie geestelike water? So baie mense vandag is geestelik
dors, en hulle probeer op alle moontlike maniere om daardie geestelike dors te
les. Maar niks wil werk nie. Hulle weet nie waar om die lewende water te vind
nie. En ons wat die lewende water ontvang het, ons weet ook nie altyd hoe om
dit vir hulle te géé nie…

Maar dan is dit wonderlik om vanmôre die Here Jesus aan die werk te
sien met die Samaritaanse vrou. Ons kan Hom dophou – en dan leer ons iets oor
Hom, máár ons leer ook iets oor wat Hy in ons doen. Kom ons kyk saam!

Tema: Laat die waters vloei!

  1. Die bron loop oor in kanale
  2. Kanale deurvogtig droë grond
  3. Droë grond word ‘n gesonde see

 

1. Jesus is oppad vanaf Jerusalem in die suide na Galilea in die
noorde. Sy reisroete voer Hom deur die gebied van die Samaritane – nie omdat Hy
moet nie, want Hy kon ook óm Samaria getrek het, maar omdat Hy wíl! Hy het werk
om daar te doen. Teen laatmiddag bereik Hy en sy dissipels die fontein van Jakob,
wat waarskynlik daar naby die pad geleë was. Sy dissipels haas hulle na die
nabygeleë stad, Sigar, om inkopies te doen, en Jesus gaan sit om te rus. Op
daardie selfde oomblik kom daar ‘n vrou by die put aan om water te skep – ‘n
Samaritaanse vrou. Dit is ‘n ideale geleentheid vir Jesus om ‘n gesprek met
haar aan te knoop, en Hy doen dit deur vir haar water te vra.

Maar volgens vers 9 reageer die vrou nie baie goed op hierdie
versoek nie; eintlik reageer sy nogal uitdagend: “Ken hierdie man dan nie sy reëls
nie. Ek is ‘n Samaritaanse vrou en die Jode hou mos nie gemeenskap met die
Samaritane nie.” Sy sou waarskynlik anders gereageer het as sy geweet het wie
hierdie Man was wat voor haar gesit het. As sy geweet het wie Hy is, sou Hy
waarskynlik nie vir háár water gevra het nie, maar sou sy Hóm vir water gesmeek
het (vers 10). Hy is immers God se geskenk aan die mense, Hy is die Bron
waaruit die lewende water – dit is die Heilige Gees – vloei.

 

Maar die Samaritaanse vrou verstaan nog nie wat aangaan nie. Hoe wil
hierdie man-sonder-emmer vir haar water uit die put gee? Of wil Hy dit dalk
êrens anders vandaan haal? Wel, dan sal sy dit graag wil sien, want as Hy béter
water kan gee as dié uit die put van die geëerde vader Jakob, dan beteken dit
dat hierdie man groter moet wees as vader Jakob (verse 11 en 12). Jesus wys vervolgens
vir haar dat daar twee soorte water is: “Elkeen wat van hierdie water drink,
sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal
in ewigheid nooit dors kry nie…” Terwyl die fontein van Jakob dus die
waterbehoefte van mense slegs tydelik bevredig, is die bron wat Jesus
raakgeboor het tot in ewigheid voldoende om mense se geestelike dors te les. Hy
laat ‘n stroom van ewige lewe opborrel waaraan mense hulself na hartelus kan kom
laaf. Jesus is sowaar die goeie Herder wat sy skape lei na waters waar daar rus
is. En dit alles verniet: kom drink gratis van die water van die lewe!

Maar daar is nog meer: die bronwater wat Jesus gee, is nie net ‘n lafenis
vir wie dit drink nie, maar hierdie bronwater word sélf ‘n waterbron by diegene
wat hulle deur God se Gees laat lei. Jesus belowe om elkeen wat die lewende
water by Hom kom soek, ook tot ‘n heilskanaal vir ánder te maak! Nie net word
daardie persoon se eie dors geles nie, maar in hom sal die lewende water van
God se Gees oorstroom en verderstroom na ander toe! Daardie persoon se
Geestelike lewe (‘Geestelik’ met ‘n hoofletter) sal weer vir ander ‘n lafenis word
tot die ewige lewe!

 

Ons sien dus, broers en susters, dat die uitwerking van die lewende
water in ‘n persoon se lewe ‘n dinamiese proses is, ‘n proses-in-beweging. Die
Bron laat nóóit sy water in ‘n geslote reënbak stroom nie. Die water van die
Gees in die binneste van die gelowige word nóóit stilstaande water nie. Want,
gemeente, wat gebeur uiteindelik met stilstaande water? Stilstaande water,
wanneer dit sopas in die reënbak uitgegiet is, is nog vars en bruikbaar. Maar
na ‘n tyd begin dit uitlek, verdamp dit, en word dit vuil en ongesond. Dit word
‘n broeiplek vir muskiete en bakterieë. So is dit met stilstaande water, maar
so is dit nie – so mag dit nie wees – met die water van die Gees in ons lewens
nie. Nee, die Gees wat ons van Christus ontvang, mag nooit staties word in die
lewe van die gelowige nie.

Uiteraard is die Gees uit Homself nie iets staties nie; Jesus
vergelyk Hom nie verniet in Johannes 3 met die wind wat waai waar Hy wil nie.
Maar die gelowige kan wel van die Gees in sy persoonlike lewe iets staties máák deur te dink dat Hy die Gees vir
Homself kan hou, deur van ‘n persoonlike geloof ‘n egoïstiese geloof te maak –
dán word die Gees iets staties in jou lewe. En dít mag nooit gebeur; dit is
teen die aard van die Bron, dit is teen die aard van die water self. Die water
van die Gees wat uit die Bron, Christus, vloei, is bedoel om verder te vloei,
daardie water wil beweeg, dit wil die wêreld oorstroom! Ja, die water van die
Gees wil van elke gelowige ‘n kanaal maak, sodat dit verder kan vloei en sy
werksaamhede kan voortsit.

 

En word dít nie pragtig sigbaar in die gesig van Esegiël in hoofstuk
47 nie? Wat gebeur met die water wat onder die drumpel van die tempel uitvloei?
Broers en susters, daar gebeur iets met die water wat baie ongewoon was in
Palestina. Normaalweg in Palestina het ‘n rivier al hoe vlakker geword, hoe
verder dit van die bron verwyder geraak het, totdat dit uiteindelik heeltemal opgedroog
het. Dit was die normale gang van ‘n rivier in Palestina. Wat Esegiël hier egter
sien, is abnormaal. En dit is omdat dit die stroom van God se Gees is wat Hom
nie laat beheers deur die wette van die natuur nie, maar wat bonatuurlike dinge
doen. Hierdie rivier van die Gees word juis dieper en vloei juis sterker hoe
verder dit van die bron verwyder is. Die Gees bou stukrag op deur oral waar Hy
kom nuwe kanale te vorm in die lewens van mense. Elke gelowige is veronderstel
om ‘n kanaal van die Gees te wees in sy gang deur die wêreld en deur die
geskiedenis.

 

En dit beteken konkreet vir jou en my dat ons nie maar elkeen gelowiges
op ons eie kan wees nie. Die fokus is nie op my met my persoonlike geloof, waar
ek myself net voortdurend kan voltap met die Gees nie. Natuurlik is geloof
persoonlik – baie persoonlik! – en dit is iets wat in die gereformeerde
tradisie dalk meer beklemtoon kon gewees het. Maar geloof is nooit só
persoonlik dat dit ‘n geslote reënbak word waar ek die Gees vir myself hou nie.
Wie dít doen, se geloof – hoe persoonlik ook al – sal uiteindelik ‘n broeines
word van ongediertes, en sal uiteindelik heeltemal opdroog.

Maar wie as gelowige gaan staan in die groeiende stroom van die
prediking van Jesus Christus deur alle eeue heen, wie deur die geloof gaan
staan in die rivier van Esegiël 47, daardie persoon word self ‘n kanaal, gebrei
en gevorm deur die Heilige Gees. Die water van die Gees word dan deur middel
van ons christelike lewens en getuienis al verder gevoer deur die landskap van
hierdie wêreld. Oral waar jy as christen kom, elkeen wat jy teëkom, word dan
aangeraak deur hierdie water. Dus, broers en susters, om die Gees te hê, is
nooit ‘n toestand nie, dit is nooit ‘n video waarvan jy die ‘pouse’-knoppie kan
druk om in daardie toestand agteroor te sit en dit met bewondering gade te
slaan nie. Nee, laat die water stroom! Laat jou lewe, wat self deur die Bron
aangeraak is, vrugbaar wees vir alles en almal om jou heen. Word self ‘n fontein
van lewende water!

Dít sien ons op ‘n besondere wyse by die Samaritaanse vrou, en
daarop let ons vervolgens.

Kanale deurvogtig droë
grond.

 

2. Die Samaritaanse vrou verstaan nog steeds nie heeltemal waaroor dit
gaan nie. Nadat Jesus vir haar die lewende water aangebied het, lyk sy gretig
om dit te ontvang. Maar uit haar hele antwoord blyk dat sy die punt mis. Sy wil
graag die water hê, maar met die eintlike doel dat sy nie meer hier by die
fontein hoef te kom skep nie. Haar motivering is nogal pragmaties en egoïsties.
Maar Jesus gaan nie werklik op haar antwoord in nie; dit wil selfs voorkom asof
Hy die onderwerp heeltemal verander. Want Hy sê vir haar: “Gaan roep jou man en
kom hier.” Wat het dít nou met die saak te make? Vanwaar hierdie skielike
oorgang?

Gemeente, sien goed raak dat Jesus hier nie werklik die onderwerp verander
nie; inteendeel, Hy is besig om die praktiese konsekwensie te trek van die
vorige punt! Dit gaan vir Hom nog steeds oor dieselfde saak van die lewende
water. Maar Jesus wil nou vir die Samaritaanse vrou wys wat die uitwerking en
die deurwerking behoort te wees van die lewende water wat Hy aan haar skenk. En
daarom stuur Hy haar huistoe om haar man te gaan haal. Man en vrou vorm immers
‘n eenheid? Wel, dan is haar lewensmaat mos die eerste persoon wat voordeel
behoort te trek van die lewende water wat sy ontvang het? Gaan haal hom dan, en
laat hom ook deel in die lewende water!

 

Die Samaritaanse vrou ontwyk egter Jesus se uitnodiging deur eenvoudig
te sê dat sy nie ‘n man het nie. Eintlik ‘n kortaf antwoord. Met sy Goddelike
mensekennis bevestig Jesus hierdie antwoord: “Jy het reg gesê: Ek het nie ‘n
man nie; want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man
nie” (verse 17-18). Die Samaritaanse vrou is dus nie wettig getroud nie. Reeds
vyf keer het sy in die huwelik getree, maar al dié mans is intussen oorlede, of
het van haar geskei. En op hierdie stadium woon sy saam met die sesde man in
haar lewe. Gemeente, waarmee het ons hier te make? Met ‘n Samaritaanse vrou wat
nie baie geluk gehad het in die liefde nie? Nee, ons het hier te make met ‘n
sondige vrou in ‘n sondige verhouding en ‘n sondige huweliksverlede. En sy sal
self later erken dat sy skuldig is vir die hartseer toestand van haar
liefdeslewe. Sy sê immers in vers 29 vir haar stadsgenote: “Kom kyk ‘n man wat
my alles vertel het wat ek gedoen het.”

 

Maar, gemeente, Jesus fokus nie verder op die sondige verlede nie;
Hy laat dit vir wat dit is. Hy wil graag met hierdie vrou en haar man praat,
omdat Hy vir hulle wil wys wat die uitwerking en die deurwerking behoort te
wees van die water van die lewe, wat sy sopas ontvang het. Weereens geld wat ons
in die eerste punt gesê het: hierdie lewende water kan nie maar in die binneste
van die Samaritaanse vrou bly lê nie, dit mag nie ‘n stilstaande broeines word
nie. Dit is mos nie moontlik dat sy tot geloof in Jesus kom, maar dat die
strukture van haar lewe nog net so vervalle soos voorheen bly nie. Nee, hierdie
water van die lewe moet effek hê, dit moet deurwerk; die water wil deur hierdie
kanaal vloei om die droë grond van haar lewe – en laat ons eerlik wees: haar
lewe het op droë grond beland – om daardie droë grond van haar lewe te
deurvogtig. En dit begin by die mees basiese struktuur van samelewing wat God
ingestel het, die huwelik. In daardie huishoudelike chaos van die Samaritaanse
vrou se lewe wil Christus vernuwing en gesondheid bring deur sy Gees.

Dít, gemeente, is wat die lewende water doen. Dit bring herstel in
strukture, dit bring genesing in verhoudings, dit bring uitsig waar
hopeloosheid geheers het. Kyk maar hoe pragtig beskryf Esegiël dit in hoofstuk
47. Tussen Jerusalem, vanwaaruit die rivier ontstaan het, en die Dooie See,
waarheen dit gestroom het, het ‘n dor en doodse vlakte uitgestrek gelê. En toe
Esegiël saam met sy gids langs die rivier in die rigting van die Dooie See geloop
het, het hy gevolglik ook géén plantegroei opgemerk nie. Maar oppad terug
verander dit. Langs beide oewers van die rivier het bome in groot getalle
opgeskiet. Skielik was daar lewe langs hierdie rivier, waar daar eers net die
reuk van die dood gehang het! ‘n Beter bewys van die vernuwende krag, wat in
hierdie waters geskuil het, kon Esegiël nie ontvang het nie.

 

Gemeente, dit is nou presies wat die Gees werk. Die water van die
Gees bring genesing en herstel al langs die landskap waardeur dit vloei. Dit
bring genesing in huwelike, waar man en vrou dalk jare lank nie met mekaar
gepraat het nie, sodat dooie huwelike skielik weer kan blom. Dáár waar die Gees
vloei, kom daar herstel in gesinne waar broers en susters in onmin gelewe het,
sodat die gesinslewe weer vrug kan dra. Dáár waar die Gees beweeg, bring dit
vernuwing in gemeentes en in gemeenskappe waar mense moeg geraak het vir die
ou, bekende gesigte, sodat die mooi van ons saamlewe weer raakgesien kan word. Ja,
broers en susters, waar die Gees vir Homself kanale maak om deur te vloei, dáár
word die lewe nuut, daar word droë grond deurvogtig en vrugbaar.

Hoor daarom die onderrig in die Here Jesus se gesprek met die
Samaritaanse vrou. Sien raak wat die kragtige werking is van die water van die
Gees, en sien ook raak wat die Here van jou verwag wanneer jy daardie water mag
ontvang. Laat daardie water bepalend wees in jou omgang met mense – naby en
verder weg. Mag jou lewe en die lewe van diegene om jou heen nuut word en
opbloei, laat dit weer word soos in die paradys. Want ‘n lewe vervul met die
Gees plaas jou nie op ‘n ander vlak van bestaan nie; nee, dit vat jou terug na
die gewone lewe van huwelik en gesin, van kollegas en mede-studente, van
winkels toe gaan en kerktoe gaan – en dit maak daardie gewone lewe ongewoon
mooi!

Ten slotte: droë grond word
‘n gesonde see.

 

3. Gemeente, daar is nog een aspek waarop ons moet fokus wanneer dit
gaan oor die water van die Gees. Die Samaritaanse vrou gaan nie verder in op
die gesprek oor haar man nie. En nie omdat sy dit probeer ontwyk nie. Nee, sy
sien in die feit dat Jesus haar geskiedenis ken, die bewys dat Hy ‘n profeet
is. Maar as dit die geval is, dink sy, dan weet Hy waarskynlik ook wat die
regte plek is waar God aanbid moet word. Dit was vir haar skynbaar ‘n teer
puntjie, en soveel te meer vir haar volk in hulle stryd teen die Jode. Immers,
terwyl die Jode in Jerusalem aanbid het, het die Samaritane op die berg Gerisim
God aanbid. Maar waar moet nou werklik aanbid word?

En dan wys Jesus vir die vrou dat die oomblik nou aangebreek dat die
ware aanbidders die Vader nie meer op een geografiese plek sal vereer nie, maar
dat hulle Hom sal vereer in Gees en waarheid. Daar sal ‘n nuwe
geloofsgemeenskap ontstaan, en dit sal nie gebeur deurdat die berg Gerisim en
die tempelberg in Jerusalem saamgevoeg word nie. Nee, deur in die unieke
kombinasie van Gees en waarheid die Vader te vereer, is dit moontlik om die ou
dilemma van Jerusalem en Gerisim te oorwin en tot ‘n nuwe gemeenskap van ware
Godsaanbidders te kom. Jesus Christus word die nuwe versamelpunt van die ware
aanbidding van die Vader. Hy is die nuwe tempel, Hy is die kerklike sentrum van
die Nuwe Testament. Die Gees bring alle ware gelowiges by Hóm bymekaar.

 

En ons sien ‘n voorsmaak hiervan wanneer die Samaritane, op aandrang
van die vrou, die stad verlaat en na Jesus uitgaan. En Jesus wys hulle as’t
ware met die vinger aan wanneer Hy in vers 35 vir sy dissipels sê: “Ek sê vir
julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes.”
‘Wit vir die oes’ – dit verwys hier nie fisies na die ryp oeste nie, maar dit
verwys waarskynlik na die wit klere van die Samaritane wat oor die velde
aangehardloop gekom het. Sien, die velde is wit vir die oes. Hier kom die
eerstelinge van die kerk van Christus alreeds aan om rondom Hom te vergader.

Gemeente, waar Jerusalem tot op daardie stadium die geografiese
sentrum van die aanbidding van God was, word dit verander in en deur die
persoon van Jesus Christus. Hy word nou die nuwe sentrum, Hy
bind mense saam tot ‘n gesonde see van gelowiges. Dit is ook wat gebeur in
Esegiël se gesig: al die water stroom saam na die Dooie See. Hierdie see wat
vanweë sy chemiese inhoud voorheen onbewoonbaar was, géén plante of diere
gehuisves het nie, word deur die lewende water van die Gees gesond gemaak. Lewe
is weer moontlik daar; meer nog: dáár is lewe in oorvloed!

 

Broers en susters, die Gees bring mense saam in die kerk rondom
Jesus Christus. Al die verskillende kanale waarin die water vloei, se oorsprong
kan uiteindelik teruggevoer word na daardie Bron. En dít verbind dan ook die
kanale met mekaar; dit maak hulle tot ‘n see van die suiwerste water, almal
gevoed deur dieselfde bron.

En dit gee ons ‘n totaal ander kyk op mekaar. Ons beoordeel mekaar
dikwels op die uiterlike en menslike vlak; ons kyk na geografiese afkoms of
bloedlyn. Ons plaas mense in groepe op grond van uiterlike of gewoontes. En dit
bring dan ook skeiding, dit bring konflik, dit maak dat mense soortgenote
opsoek – dié wat soos ek is. Maar ons moet leer om met heeltemal ander oë na
mekaar te kyk. Nie: uit watter volk kom hy nie, maar: uit watter bron drink hy?
Nie: watter familiebloed stroom deur sy are nie, maar: watter water stroom deur
sy lewe? Nie: hoe lyk sy uiterlike nie, maar: is hy ‘n kanaal van die Gees? En
dan kom daar ware herkenning, dán begin ons by mekaar die Bron raaksien: Jesus
Christus.

 

Gemeente, hier is ons weer terug by sentrifugaal en sentripetaal. Jesus
Christus is die Bron wat wég van Homself lewe in sy soeke na sondaarmense, in
sy liefdevolle soeke na jou en my. En wanneer Hy uit genade ons lewens met sy
Gees gevul het, dan vra Hy van ons dieselfde. Leef weg van jouself, soek die
ander op met die water van die lewe. Mag die Gees ons lewens so vol maak dat
dit oorloop na ander om ons heen. Maar in ons wegleef van onsself, bly ons
altyd die Middelpunt van ons lewens soek. Weg van onsself na die ander
(sentrifugaal), maar saam met die ander altyd weer terug na Jesus Christus
(sentripetaal). Die kerk word saamgebind in haar Bron, en sy leef vanuit
daardie Bron omdat sy, in navolging van haar Heer, bewoë is oor die wêreld! Mag
die Gees dít in ons werk; mag die Gees ons kerkisme, ons rassisme en ons
snobisme oorwin. Jy en ek lewe van genade alleen! Laat ons dan ons oë oopmaak
en sien dat die velde wit is. Gaan dan heen en maak dissipels van alle nasies,
sodat uit alle nasies en stamme en volke en tale kan opklink: “Heil aan ons God
en aan die Lam!”

Amen

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 72:4,6, 10 en
    11; VOORPSALM AAND: Ps. 104:4-9

Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde
gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en
van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue
Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die
aarde. Amen.

Sing Ps. 122 [beurtsang: reël 1-2 (vroue en dogters), reël 3-4 (mans
en seuns), res saam]

Gebed

Lees:    Johannes 4:1-30

            Esegiël
47:1-12

Sing Skr. 30:1-3

Teks: Johannes 4:13-14

Preek

Amenlied Ps. 145:6, 7 en 12

Wetlesing

Sing Skr. 49:4 en 5

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 87:2, 4 en 5

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy
aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor
jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)