Gee wat U vra, Here, en vra dan wat U wil...

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2012-05-13
Teks: 
Genesis 1:28 & 9:1-2
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Genesis 1:28 & 9:1-2

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

‘n Gereelde besoeker in ons eredienste, en teen dié tyd al ‘n ou bekende in ons midde, het op ‘n stadium, ná ‘n vraag oor hoe sy die gemeente ervaar, onder andere gereageer dat ons baie meer die rykdom wat ons het, moet uitdeel. Ons het so baie van die Here ontvang, maar dit is asof ons dit soms net binne ons eie groepie, of binne die beperkte kringetjie van die gemeente hou. Ons moet dus leer om te gee! Na my mening het hierdie reaksie die spyker op die kop geslaan. Ons is in talle opsigte ‘n ryk en begaafde gemeente, maar rykdom waarmee nie gewoeker word nie, word dooie kapitaal. Talente wat begrawe word, dien uiteindelik tot ons veroordeling. Uit genade – gratis! – het ons baie ontvang; gratis moet ons dit daarom ook uitdeel.

 

Maar, broers en susters, die tydsgees bly nie buite die kerkdeure staan nie; die tydsgees slaan ook hier in ons midde sy slag. En helaas is die tydsgees in stryd met die Gees van God. Waar die Gees van God vir ons oorvloed gee met die doel dat ons dit weer aan ander kan uitdeel, waar die Gees in ons ‘n lewende fontein word wat graag buitentoe wil stroom, daar skreeu die tydsgees dit uit: “Jy is die verbruiker! Jy het die reg om, sonder enige insette van jou kant af, eenvoudig te ontvang!”

Ja, dit is mos hoe dit is? Jy gaan mos nie Spur toe met die doel om iets te gaan géé nie, jy gaan om iets vir jouself te kry, om bedien te word. En wanneer Pick n Pay adverteer, dan is die bedoeling nie dat ek iets moet kom bring nie; nee, Pick n Pay wil my laat glo dat ek iets kan kom haal; ek kan kom kry. En net só is ook die kerk nie ‘n plek om iets te kom gee nie, die kerk is ‘n plek om iets te kom kry. En hier sit ons dan – gereformeerde, godsdienstige verbruikers… want ek het darem geestelike kos nodig vir die week wat voorlê. Dus, wat het die dominee om vir my te bied?

Maar, broeder, die Here het vir jou gawes gegee, sien jy nie kans om daardie gawes in die amp aan te wend nie? O nee, dit gaan eenvoudig te dol in my lewe. Suster, wat daarvan om jou kennis en insette by die bybelstudie te lewer? Ag, ek was al daar, maar ek kry so min daaruit dat dit nie vir my die moeite werd is nie. Jongmens, hoe lyk dit, sien jy kans om hierdie of daardie funksie te vervul? Nee, jammer, daardie is nou nie my sterk punt nie! Broeders kerkraad, kom ons praat bietjie oor hoe dit staan met die gemeente se getuienis na buite? Wel, dis mos maklik, dié wat buite is, kan maar inkom en kom luister na die prediking; dit is mos nie nodig dat ons uitgaan om hulle te gaan haal nie?!   

 

Gemeente, die Here wil hê dat ons moet gee, só het Hy ons gemaak. Dit is saliger om te gee as om te ontvang (Hand. 20:35). Maar ons plaas ons saligheid op die spel deur dikwels net te wil ontvang, en daarby ook te dink dat ons die reg het om te ontvang. Ons is maar al te dikwels vasgevang in die kloue van ‘n vernietigende verbruikerskultuur. Maar kom ons gaan vanmôre terug na die allereerste begin, en ons vra gehoorsaam of dít God se oorspronklike bedoeling vir ons lewe was. En dan hoop ons om hierdie onderwerp in die komende weke verder uit te bou vanuit die res van die Skrif. Die tema vir die preek is:

Tema: Gee wat U vra, Here, en vra dan wat U wil…

  1. God se seën is ‘n gawe
  2. God se gawe is ook ‘n opgawe

 

1. “En God het hulle geseën…” Dit is wat ons in Genesis 1:28 gelees het. Maar nou is dit interessant, gemeente, ons lees nie slegs dat God die ménse geseën het nie, want in vers 22 van dieselfde hoofstuk lees ons dat God ook die diere geseën het, naamlik die seediere en die voëls. Maar… is dit nie effens vreemd om die diere te seën nie? Seuns en dogters, wat sal julle daarvan dink as ek vir julle sê: “Bring volgende week al julle troeteldiere saam kerk toe, sodat hulle ook die seën van die Here kan ontvang”? Julle sal sekerlik dink dis ‘n baie vreemde versoek – en dit is ook! En tog seën die Here by die skepping nie slegs die mense nie, maar ook die diere. Dan ontstaan die vraag: maar wat word bedoel met die seën van die Here? Wat beteken dit as die Here seën?

Dikwels verstaan ons dit so dat, om iemand te seën, beteken om hom iets goeds toe te wens of toe te bid. Jy wens hom die beste toe; jy spreek die hoop uit dat dit met hom goed sal gaan. As iemand verjaar, dan wens jy hom ‘n voorspoedige nuwe lewensjaar toe; as iemand gaan vir ‘n operasie, dan spreek jy die hoop uit dat dit met hom goed sal gaan. Maar in beide gevalle is dit niks meer as ‘n wens of ‘n hoop nie – oor die uitwerking daarvan kan jy nie beslis nie. Máár dit is mos nie op God van toepassing nie? Dit kan mos nie wees dat God, wanneer Hy seën, die wens of die hoop uitspreek dat Hy êrens in die toekoms iets goeds vir iemand sal doen nie? Nee, wanneer God seën, dan belowe Hy iets wat ‘n werklikheid is. Wanneer die Here seën, dan gee Hy in die seën alreeds dít wat Hy belowe. Die Here se seën is daarom nie net ‘n vae belofte vir die toekoms nie; inteendeel, sy seën is die werklikheid! Die betekenis van die Hebreeuse woord wat in Genesis 1 met ‘seën’ vertaal is, beteken daarom ook letterlik: om krag te verleen vir sukses en voorspoed.

Kom ons maak dit gou konkreet: wanneer ons aan die einde van die erediens die Here se seën ontvang – die genade van die Here Jesus Christus, en die liefde van God die Vader, en die gemeenskap van die Heilige Gees – dan is dit nie ‘n kwessie van afwag en kyk óf ons daardie genade én liefde én gemeenskap gaan ontvang nie. Nee, in die seën kom die werklikheid saam! En van jou word nie gevra om in vertwyfeling af te wag nie, van jou word gevra om te gló. Want deur die geloof word die werklikheid joune! Wie in geloof die seën van die Here ontvang, is geseënd. Wie in geloof die seën ontvang, ervaar daarom baie persoonlik die genade wat daar in Christus is, ervaar baie intens die liefde van God, en beleef eerstehands die gemeenskap van die Heilige Gees. Daardie persoon hoef nie meer te wens vir iets nie, want hy deel in die werklikheid van God se seën! Die seën is die werklikheid.

 

Nou goed, terug na Genesis 1…

In hierdie hoofstuk word van sowel mens as dier gesê: “En God het hulle geseën en gesê: Wees vrugbaar en vermeerder…” Dus, reg by die skepping van mens en dier seën God hulle. En, soos wat ons sopas gesê het, daarmee gee Hy iets aan hulle. God gee iets aan mens en dier, selfs nog voordat Hy iets van hulle gevra het. Ja, dit is waar, die Here roep mens en dier op om vrugbaar te wees en te vermeerder (ons sal in die tweede punt verder op hierdie opdrag ingaan), maar deur sy seën gee Hy vooraf alreeds vrugbaarheid en die vermoë om te vermeerder. Die Here seën nie mens en dier, en sê dan: “Ek hoop dat julle eendag vrugbaar sal word, en dat ons eendag op ‘n punt kom dat julle kan vermeerder nie.”

Nee, in die seën lê alreeds die gawe wat die opdrag moontlik maak. In die seën kry die mens alles wat hy nodig het – voorplantingsmoontlikhede, uitbreidingsmoontlikhede, werksywer, ‘n werkterrein – alles wat nodig is om te doen waartoe die Here hom vervolgens gaan oproep. Dus, die Here vra nie iets van die mens voordat Hy nie eers alles gegee het wat nodig is nie. Nee, die Here gee wat Hy vra! Dit is ‘n ingrypende werklikheid wat ons moet leer verstaan, broers en susters – die Here gee altyd wat Hy vra. Ook Adam en Eva was tot niks in staat as God dit nie eers vir hulle geskenk het nie.  

 

Ja, sal u miskien sê, maar onthou dat daar ook ‘n Genesis 3 is; daar het intussen ‘n sondeval plaasgevind. En daar het die mens homself van al God se goeie gawes beroof (DL 3/4,1); ons is nie meer in staat om te doen wat God van ons vra nie, ons is onbekwaam tot enige iets goeds en geneig tot alle kwaad. Het die sondeval nie dalk die seën van Genesis 1 ongedaan gemaak nie? Nee, wag nou, nie te vinnig nie! Want ook ná die sondeval lees ons van presies dieselfde seën as in Genesis 1; kyk maar na Genesis 9:1: “En God het Noag en sy seuns geseën en aan hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde.” Dus, ook ná die sondeval gee God steeds wat Hy vra, gee Hy steeds sy seën!

Maar hoe is dit moontlik binne die gebrokenheid? En hoekom sien ons dan so min daarvan by onsself en in die wêreld om ons heen? Wel, baie belangrik om raak te sien, gemeente: tussen die seën van Genesis 1:28 en die seën van Genesis 9:1 staan die offer van Noag: “En Noag het vir die HERE ‘n altaar gebou en van al die rein diere en al die rein voëls geneem en brandoffers op die altaar gebring. En die HERE het die lieflike geur geruik…” (Gen. 8:20-21) Met die sondeval het die mens homself van God se seën beroof, maar die offer bring herstel! Die Here sien Noag se gelowige offer aan, en Hy neem Hom voor om die aarde nie meer te vervloek ter wille van die mens nie. En in dieselfde asem gee Hy dan aan Noag en sy seuns opnuut sy seën, gee Hy hulle opnuut wat hulle nodig het om vrugbaar te wees, te vermeerder en die aarde te vul.

 

Daardie offer is belangrik, gemeente!

Tussen die seën van Genesis 1 en die vloek van Genesis 3 aan die een kant, en my lewe vandag aan die ander kant, staan daar die kruis, die offer van Jesus Christus. Daardeur is die weg oopgemaak, sodat God se seën vandag steeds na ons toe kom. Deur geloof in Jesus Christus word ons beklee met die nuwe mens wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (Ef. 4:24). In Christus kry ons alle seëninge wat ons nodig het! Daarom is die sondeval geen verskoning nie; ons kan nie sê dat God onbillik is, omdat Hy dinge van ons vra wat ons tog nie kan doen nie (sien HK v/a 9). Nee, in Christus gee God vandag steeds wat Hy vra. In Christus word ons steeds toegerus met alles wat nodig is vir ons taak. In Christus is ons niks armer as Adam en Eva nie, maar word ons herskep na die beeld van God.

Broers en susters, ons is gemaak as mense met ‘n spesifieke taak, ‘n baie duidelike opdrag (en ons gaan net hierna sien wat daardie opdrag presies behels). Maar voordat ons daarby uitkom, moet elkeen van ons vanaf die staanspoor weet: ek is daarvoor toegerus! In Christus, in wie al die volheid van die Godheid liggaamlik woon, het ek ook die volheid (Kol 2:9-10)! God gee vir my wat Hy van my vra! En daarom het ek geen verontskuldiging nie. Ek kan nie sê dat ek my taak nie kan nakom nie, ek het geen verskoning hoekom ek my talente sou moes begrawe nie. As God my roep om in die amp te dien, dan sal Hy dit nie doen sonder om my ook die gawes en die wysheid daarvoor te gee nie. As God van my roep om ‘n bejaarde of eensame persoon in die gemeente te besoek, dan het ek geen rede om te sê dat ek nie die tipe persoon is daarvoor nie; God sál my op daardie oomblik die tipe persoon daarvoor máák! As die Here by die werk of die universiteit iemand op my pad plaas teenoor wie ek geroep word om te getuig, dan los die Here my op daardie oomblik nie alleen om my eie woorde te kies nie; nee, dan gee Hy wat Hy vra. As ek geroep word om iemand in nood te help, dan kan ek myself nie daarvan onttrek met die verskoning dat ek die afgelope week alreeds so hard gewerk het nie; nee, weet dan dat die Here nuwe krag sal gee!

Want die Here gee altyd wat Hy vra! Ook ná die sondeval. Juis ná die sondeval! Paulus wys dit pragtig in Efesiërs 1:3: God het ons ryklik geseën met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus (Ef. 1:3). Gaan in geloof na Jesus Christus, en ontvang van Hom alles wat jy nodig vir die taak waartoe die Here jou roep! Jy is geen verbruiker nie; jy is die ontvanger van groot genade, genade wat vra om gedeel te word!

Kom ons sing nou eers saam, die beryming van Efesiërs 1:3, ons sing uit Skr. 24:1 en 2.

Vervolgens let ons daarop dat God se gawe ook ‘n opgawe is.

 

2. Ons het nou gekyk na God se seën, sy gawe. Maar, broers en susters, sowel Genesis 1 as Genesis 9 wys vir ons dat die gawe altyd gevolg word deur die opgawe / die opdrag. God het sy seën gratis aan die mens gegéé, maar tegelykertyd roep Hy die mens op om daardie seën te aanvaar deur gehoorsaam in sy diens te staan. God se seën is dus nie ‘n blanko tjek wat ek maar kan invul soos wat ek goeddink nie. Nee, die tjek is geteken met die bloed van Christus en vra om gewissel te word in diensbaarheid aan God. Seën en taak, gawe en opgawe is onlosmaaklik aan mekaar verbonde.

Nou goed, as ons vervolgens ons teksverse lees (Gen. 1:28 en 9:1), sien ons veral drie take wat God aan die mens gee. Die mens kry in die eerste plek die taak om vrugbaar te wees en te vermeerder – dit wys vir ons dat God die menslike geslag wil uitbou; daar moet meer en meer burgers vir sy Koninkryk kom. Vervolgens kry die mens die taak om as gevolg van die uitbreiding die hele aarde te vul – hiermee open die Here dus die aarde as woonplek vir die mens; nie slegs die tuin van Eden nie, nie slegs daardie stukkie van die midde-Ooste nie. Nee, die hele aarde is die gebied wat die Here aan die mens gee! Hy mag woon in die ooste en die weste, in die noorde en die suide. Elke stukkie aarde mag die mens opeis vir sy God! En ten slotte moet die mens ook die hele aarde onderwerp en daaroor heers – die mens word dus geroep tot gesonde ontwikkeling, die mens moet kultuur skep. En dit doen hy, volgens Genesis 2:15, deur die aarde te bewerk en te bewaak.

 

Nou, miskien het jy alreeds raakgesien hoe hierdie Godgegewe take van binne-uit buitentoe beweeg tot by die uiterste grense van die geskape werklikheid. Vanaf die intieme binnekamer van man en vrou waar nuwe lewe deur God se genade ontstaan, tot by die groeiende gesinsverband en die uitgebreide familieverbande, tot by die bewerking en bewaking van elke duimbreedte van hierdie aarde – só loop die lyne uitwaarts. Vanaf myself buitentoe; weg van myself! Dit is hoe God ons gemaak het: sentrifugaal (miskien ken jy hierdie woord), weg van die sentrum, weg van my eie ek, om vir God en sy hele skepping te lewe. So was dit vanaf die allereerste begin.

Maar wat doen ons? Watter beweging sien ons by die mens? Wel, in ons sondige selfgesentreerdheid – die woord sê dit alreeds – leef ons nie weg van onsself af nie, maar na onsself toe, inwaarts, egoïsties. Die teenoorgestelde van sentrifugaal (weg van die sentrum af) is sentripetaal. Sentrepitaal beteken om na die sentrum toe te beweeg. Vanweë my sonde staan ék in die sentrum van my bestaan en lewe ek vir myself. Alles om my heen is gerig op my. My vrou is daar vir , my kinders moet op gerig wees, my werk is sodat ék ryk kan word, ék soek aansien in die samelewing. Soos ‘n verwoestende tornado suig ek alles in na hierdie egoïstiese sentrum, net om dit weer anderkant uit te spoeg sodra ek daarmee klaar is of genoeg daarvan gehad het.

 

En as ons hierdie selfgesentreerdheid toepas op die verskillende take waarvoor God die mens in Genesis 1 en 9 geseën het, dan is die gevolge skrikwekkend.

Ons opdrag om vrugbaar te wees en te vermeerder, is vir ons nie meer ‘n opdrag vanuit die hemel nie, maar ons eie, vrye keuse. En ons het lankal vergeet dat God se seën, sy gawe van vrugbaarheid, in diens staan van die opdrag om vrugbaar te wees en te vermeerder. Maar nee, ons het die gawe van die opdrag losgemaak, en ons misbruik dit vir ons eie piepklein, model-gesinnetjies, want ons wil hulle darem alles bied wat ons nooit gehad het nie… Kinders by dosyne – so sing ons grappenderwys op ons bruilofsfeeste. Wel, miskien sou dit in vandag se tyd meer gepas wees om te sing: kinders by viere en vywe. Dit sou die ‘punch-line’ van die grappie waarskynlik beter tot sy reg laat kom. Want vermeerdering op ‘n aarde wat alreeds so vol is? Nee, een of twee kinders is genoeg om ons op ons oudag te versorg.

En wat van die volgende opdrag: vul die aarde? Ja, ons vlieg die wêreld vol, dit is geen probleem nie. En sommige van ons emigreer – ook geen probleem nie. Maar belangriker nog: hoe vul ons die aarde hier in ons eie omgewing? En dan is ‘vul’ meer as volmaak – vul beteken, in die lig van Christus se Koninkryk, dat ons ons omgewing opeis vir Jesus Christus, dat ons ons omgewing vul met sy heerlikheid en sy aanwesigheid! Is ek tevrede met my ommuurde erf waarin ek koning kan kraai? Of eis ons nog ons strate en ons winkelsentrums en ons parke op vir die Koninkryk van God? Is ek maar net bly dat my tuin mooi en my huis onderhou is, of strewe ek ook daarna dat ons strate veilig is, dat ons parke skoon is, en dat ons winkelsentrums vry van dwelmhandelaars is? Ook hierin is ons dikwels maar net verbruikers wat ontevrede is oor ‘n regering wat nie sy taak nakom nie, maar intussen nie sélf uitgaan (weg van myself!) om iets aan die probleem te doen nie. En dieselfde doen ons ook in die kerk – ons is tevrede met ‘ons’ kerk, en almal wat wil kom, kan maar kom. Maar om werklik in ons omgewing uit te gaan met die evangelie, eenvoudig omdat ons die katolisiteit van die kerk bely?! Ons beperk onsself so dikwels in die klein kringetjie van ons eie gemeentegrense, en ons ken nie meer die krag en die troos van die ware katolieke kerk nie.

En wat van die laaste opdrag: onderwerp dit en heers daaroor? Adam moes, as God se verteenwoordiger, die aarde onderwerp en daaroor heers deur die grond te bewerk en te ontwikkel. Ek moet dit vandag doen deur rekenaarstelsels te ontwerp, deur eerlike oudits te doen, deur goeie huise te bou, deur met staal of plastiek mooi dinge te maak, deur mense se siektes op ‘n goeie manier aan te spreek, deur my huishouding met vreugde te doen, deur my skoolwerk goed te doen. Maar is ons dagtaak nie dikwels maar net ‘n werk nie? ‘n ‘Job’? Sien ek nog werklik my dagtaak as deel van die groter prentjie van die onderwerping en beheersing van hierdie aarde tot eer van God?

 

Gemeente, God gee die seën, Hy gee die gawes. En hierdie gawes staan altyd in diens van die opgawe, die opdrag. Maar onthou: sowel gawe as opgawe is sentrifugaal, middelpuntvliedend, weg van die sentrum af, weg van myself af. Ek soek nie myself nie, ek hou nie God se gawes vir myself nie; ek soek God en my naaste en die ganse skepping daarbuite. Dít behoort die rigting van my lewe te wees, en dit behoort die rigting van die kerk te wees! Kom ons leer om uit te breek uit die kokon wat ons vir onsself gespin het. En nee, daarmee hoef ons nog nie die antitese te verloor nie, daarmee hoef ons nie skielik wêreldgelykvormig te word nie. Om uit die kokon te breek, beteken glad nie dat jy die waardes van die geloof oorboord hoef te gooi nie. Maar sien dat daar ‘n wêreld daarbuite is, Gód se wêreld! En sien dat Hy gawes gegee het, nie net vir hierbinne nie, maar ook vir daarbuite. En gaan géé dan! Gee jouself en jou gawes in diens van die Here, gee jouself en jou gawes in diens van die gemeente, en gee jouself en jou gawes vir ‘n wêreld in nood.  

Die toringbou van Babel (Gen. 11) vind, opmerklik genoeg, kort na die sondvloed plaas, kort nadat God Noag en sy seuns en hulle nageslag geseën het. Ook toe al het die mens nie verstaan wat God se plan is nie, ook toe al het die mens kliphard vir homself gewerk. Middelpuntsoekend – een stad, een blyplek, een taal. Maar Christus deurbreek die Babel-mentaliteit wanneer Hy op die Pinksterdag sy Gees uitstort, sodat elkeen die evangelie in sy eie taal kan hoor. Bid vir hierdie Gees, broers en susters, dieselfde Gees wat reg by die begin alreeds oor die waters van die skepping gesweef het. Mag Hy ons leer om weg van onsself te leef. Mag Hy ons lewens vul, sodat die verbruikersmentaliteit deurbreek kan word en ons nie meer vir onsself lewe nie. Daar is ‘n wêreld buite jouself – sien hulle hier in die kerk, sien hulle daarbuite. Sien hulle, en dien hulle. Want die Here het ons geseën!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 8

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 75:1, 4 en 6

Wetslesing

Sing Ps. 53:1-3

Gebed

Voordat ons verder gaan met die volgende reeks preke, as die Here wil oor die boek Openbaring, wil ek in ‘n kort reeks saam met u kyk na wat die Skrif ons leer oor die opdrag wat ons van die Here kry om die rykdom, wat ons van Hom ontvang, nie net vir onsself te hou nie, maar uit te deel. Verniet het ons dit ontvang, verniet moet ons dit weer weggee!

Lees:    Genesis 1:26-28

            Genesis 8:15-9:4

Teks: Genesis 1:28 & 9:1-2

Sing Ps. 68:9

Preek

  • Ná eerste punt Skr. 24:1 en 2

Kollekte

Sing Ps. 50:7

Gebed

Slotsang Skr. 16:5-7

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)