Sondag 2(1) Ware besef van ons ellende kom slegs deur die wettige/christelike gebruik van die wet

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-03-25
Teks: 
Markus 12 : 28-40 en Psalm 36
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – HK,
Sondag 2; lees Markus 12:28-40, Psalm 36

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die studente onder ons behoort die volgende scenario te verstaan:
dit is opstaantyd op ‘n koue wintersoggend; dit is nog donker buite. Jou eerste
klas begin alreeds oor ‘n uur, maar jy slaap nog diep. En dan storm jou ma jou
kamer binne, en sit sonder enige seremonie die ligte aan. Dit is mos die
wreedste ding om te doen! Jy knyp jou oë styf toe, druk jou kop onder die
komberse in, en smeek jou ma om asseblief net die lig af te sit. Want so ‘n
skerp lig kan jy nie verduur nie…

Nou, gemeente, miskien is jy van daardie soort mense wat, selfs in
die winter, vroeg uit die vere is, en nie verstaan hoe hierdie student se kop
werk nie. Maar ek kan jou verseker: van nature is ons almal maar soos hierdie
slapende student. Ons verkies maar almal dat die skerp lig liewer afgeskakel
word. Want ons hou van die donkerte, dit bied vir ons ‘n gemaksone. Dáár kan
ons ten minste leef met onsself, dáár kan ons selfs nogal goed voel oor
onsself. As ons maar net in die donkerte kan bly, dan is die sonde nie sigbaar
nie, dan kan niemand dit sien nie, en hoef ons nie met hierdie aaklike
skuldgevoelens rond te loop nie. Maar as die lig eers oor ons lewens skyn, dan…
ja, dan kan ons dit nie meer ontken nie, dan staan ons oop en bloot in al ons
sondigheid. Dus, sit asseblief die lig af!

 

Maar, broers en susters, hoe graag ons ook al in die donkerte bly lê,
die Kategismus skakel die lig aan, sodat elkeen van ons in die helder kollig
geplaas word, die kollig van God se wet. Dit is immers die wet van God, volgens v/a 3,
waaruit ons ons ellende ken en waardeur die duisternis hier binne-in ons verlig
word. Só sê Paulus dit ook in Romeine 7:7: “… ek sou die sonde nie anders as
deur die wet geken het nie…” Eers wanneer die wet in ons lewens sy lig laat
skyn, dan begin ons dit skielik raaksien: “Eer jou vader en jou moeder” – ja,
ek was hierdie week weer ongehoorsaam teenoor pa en ma; “jy mag nie doodslaan
nie” – ja, nou sien ek dat ek daardie persoon oneer aangedoen het deur agter sy
rug te praat; “jy mag nie egbreek nie” – nou verstaan ek dat ek gister op ‘n
verkeerde manier na daardie man of vrou gekyk het. Die wet van God verlig elke
hoekie en gaatjie van my lewe, dit dui baie presies aan hoe sondig en ellendig
ek is, hoe diep my ellende in werklikheid is!

 

Ons kan dus sê dat dit in Sondag 2 gaan oor ‘die wet en ek’… Of hoe?
Kan ons maar die boodskap van die preek maak, iets soos: “Die wet en ek”? Dit
sal ‘n donker preek word, gemeente, hoe skerp die lig van die wet ook al in my
lewe skyn. Dit sal ‘n harde preek word, want op sy eie is die wet ‘n harde
meester. As dit in Sondag 2 slegs oor myself en die wet sou gegaan het, dan het
ons almal vanaand moedeloos huistoe gegaan. Maar dit is nie die doel van die
Kategismus nie. En ons sien dit pragtig in v/a 4! Ons het in v/a 3 gesien dat
ons ons ellende ken uit die wet van God, maar dan lui die volgende vraag: “Wat
eis die wet van God van ons?” En dan verwag ons almal om te hoor wat ons alles
moet en nie mag doen nie. Maar nee, dit is nie wat die Kategismus doen nie; die
Kategismus begin nie om die tien gebooie op te noem nie. Nee, in Sondag 2 word
eenvoudig Jesus Christus aan die woord gestel. Jesus Christus, my enigste troos
in lewe en in sterwe van Sondag 1, Hy bepaal wat die inhoud van
die wet is. Hy wat my van al my sondes en van die heerskappy van
die duiwel verlos, Hy leer my wat die wet eis. Ek hoef nie alleen
hier in my donker hart te gaan rondkrap nie, nee, Jesus Christus vat my aan die
hand, en Hy lei my in in die wêreld van sy liefde. En só moet ons dan ook die
wet gebruik!  

Tema: Ware besef van ons ellende kom slegs deur die wettige/christelike
gebruik van die wet…

  1. Sonder Jesus Christus bly dit donker
  2. Maar in sy lig sien ons die lig

 

1. In Markus 11 en 12 bevind ons onsself in ‘n geweldige spannende
fase van Jesus se werk hier op aarde. In Markus 11 lees ons naamlik van daardie
bepalende moment van Jesus se intog in Jerusalem, met die gepaardgaande uitroep
van die skare: “Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Geseënd
is die koninkryk wat kom in die Naam van die Here, die koninkryk van ons vader
Dawid!” Dit moes soos ‘n dolksteek gewees het in die harte van die
Skrifgeleerdes en Fariseërs, wat moes toesien hoe Jesus se aanhang al hoe
groter geword het. En om sake te vererger, kom verklaar hierdie Jesus Homself
die volgende dag ook nog as die beskermheer van die tempel – húlle tempel,
húlle werkplek! Geen wonder dat hulle begin soek het na ‘n manier om Hom dood
te maak nie.

Vervolgens begin daar amper ‘n soort kat-en-muis speletjie van strikvrae
en teenvrae tussen die leiers en Jesus. Ons sien dit eers in hoofstuk 11:28,
waar die leiers wil weet deur watter gesag Jesus al hierdie dinge doen. Jesus
antwoord nie daarop nie, maar stel ‘n teenvraag: was die doop van Johannes uit
die hemel of uit mense? Vervolgens, in hoofstuk 12:14, is daar die strikvraag
oor die betaling van belasting aan die keiser, waarop Jesus die teenvraag stel
oor wie se beeld en opskrif op ‘n penning te sien is. Nadat hierdie poging
misluk het, kom die Sadduseërs met die vraag oor die opstanding. En dan, in
hoofstuk 12:28, kom ons voorlopig by die laaste strikvraag, die een oor die
eerste gebod. Dít is die spannende konteks van hierdie skynbaar ‘onskuldige’
vraag.

 

Goed, die Skrifgeleerde wil dus weet hoe Jesus die allereerste gebod
sien. Maar hoekom sou hy dit wou weet? Wel, vanweë die argwaan en vyandskap wat
daar teenoor Jesus bestaan het. Hy het immers sopas nog toegelaat dat mense by
sy intog aan Hom amper goddelike eer gee, en net vanoggend het Hy nog opgetree
asof Hy die Heer van die tempel is. Daar is dus alle rede om Hom uit te lok met
die vraag hoe Hy die allergrootste gebod – die gebod om slegs die enigste God
lief te hê – beskou, want is Hy nie dalk besig om daardie einste gebod te
ondermyn nie? Is Hy nie dalk besig om die enigste God te verdring en aan Homsélf
‘n goddelike posisie te gee nie?

Die eerste deel van Jesus se antwoord – tot by die einde van vers 30
– sou vir die leiers en die skare volledig bekend gewees het; dit was naamlik
die bekende woorde uit Deuteronomium 6, wat daagliks deur alle Jode uitgespreek
is. Maar dan volg daar in die tweede deel van sy antwoord – vers 31 – ‘n wending
wat vir óns miskien bekend klink, maar wat vir die Jode totaal onverwags moes
gewees het. Hulle het naamlik gevra vir Jesus se siening op die allereerste
gebod, maar nou kry hulle ook nog die tweede gebod! Maar dit is mos nie gepas om
naas die eerste – die belangrikste! – gebod nog ‘n tweede te noem nie, en dit
is nog minder gepas om die twee aan mekaar gelyk te stel, soos wat Jesus in
vers 31 doen.

Maar Jesus doen dit vir ‘n spesifieke rede, broers en susters. Want Hy
wil vir sy vyande wys dat mense, wat hulle naaste haat en met strikvrae wil
uitvang en wil doodmaak, soos wat hulle nou met Hóm maak, dat hulle nie slegs
die gebod tot naasteliefde oortree nie, maar ook die eerste en grootste gebod oortree!
Jesus self bewys liefde aan alle mense, maar die leiers van die volk haat Hom
en wil Hom doodmaak. En deur hierdie oortreding van die tweede gebod, oortree
hulle ook die eerste! Jesus wys op dié manier vir sy vyande dat hulle die wet,
waaroor hulle Hóm nou ‘eksamineer’, self nie reg verstaan en reg hanteer nie.

 

Die gesprek is egter nog nie klaar nie…

Die skrifgeleerde, wat Jesus se antwoord aangehoor het, loods ‘n
nuwe, gemene aanval: “Goed, Meester, U het met waarheid gesê dat God een is…”
Hiermee herhaal hy wat Jesus gesê, maar dan voeg hy ook nog by: “en dat
daar geen ander is as Hy nie
.” Vanwaar hierdie nuwe toevoeging? Wel, die
skrifgeleerde wil hiermee op ‘n bedekte wyse vir Jesus duidelik maak dat Hy,
wat Jesus is, dus geen reg het om goddelike gesag in Israel uit te oefen nie!
Dit is ‘n steek onder die water waarmee hy eintlik sê: “Heeltemal reg, Jesus, geen
ander God as Hy nie, en daarom ook nie jy
nie
! Moenie dink dat jy die goddelike eerbied verdien waartoe die eerste
gebod ons oproep nie! Moenie maak asof die mense aan jou dieselfde
gehoorsaamheid moet bewys as wat hulle aan God bewys nie!”

Nou, gemeente, dit is direk in reaksie op hierdie bedekte boodskap
van die skrifgeleerde aan Jesus, dat Jesus in vers 34 vir hom sê: “Jy is nie
ver van die koninkryk van God nie.” Jesus wys dat, hoewel die skrifgeleerdes vir
die grootste deel reg geantwoord het, hy tog nog ‘n stap verder moet kom. Met
sy woorde “daar is geen ander as Hy nie” ontken hierdie skrifgeleerde naamlik Jesus
se gesag, maar dit is nou presies wat hy nodig gehad het om die koninkryk van
God te kan beërwe! Die stap wat hy kortkom, is ‘n stap in die rigting van
Jesus! En daarom is hy so naby, maar tog so ver…

Maar die skrifgeleerde vra nie na hierdie stap wat hy nog kortkom nie;
niemand om hom heen vra daarna nie. Want niemand het dit meer gewaag om Hom
vrae te stel nie (vers 34). En só mis die leiers die doel, só mis hulle die
koninkryk van God. Ja, hulle ken die allereerste gebod – hoe dan anders: hulle
het dit elke dag opgesê! En hulle ken ook die tweede gebod. Maar intussen
verstaan hulle nie waaroor dit gaan nie. Hulle verstaan nie dat liefde tot God (die
eerste gebod) en liefde tot die naaste (die tweede gebod) en hulle eie gebrekkigheid
daarin, slegs verstaan en verander kan word deur die erkenning van Jesus
Christus nie! Hulle verstaan nie dat die wet slegs wettiglik gebruik kan word
as ons Jesus as Here en Messias erken en aanvaar nie! En so bly hulle in die
duister rondtas, so bly hulle in hulle eie ellende sit. Hoe skerp Jesus ook al
die lig van die wet op hulle lewens laat skyn, hulle kan dit nie bevat nie.
Hulle bly in die duister, omdat hulle Jesus afwys!

 

Broers en susters, wanneer Sondag 2 ons vandag na daardie einste wet
verwys om aan ons ons ellende uit te wys – liefde tot God en liefde tot die
naaste – dan moet ons nie dieselfde fout maak nie! Ons móét die wet verstaan in die lig van hierdie onderwys van die Here
Jesus. Wanneer Sondag 2 ons na die wet verwys, dan moet ons baie mooi daarop
let dat ons die wet reg gebruik. Want sonder die erkenning van Jesus Christus as
die Goddelike Wetgewer en as die Een wat die wet volmaak kom vervul het, sal
ons die wet nooit reg en christelik verstaan en nooit reg en christelik kan
gebruik nie! “Waaruit ken jy jou ellende? Uit die wet van God” – dit kan so
maklik op sy eie begin staan, maar dit mag nooit gebeur nie! Die gebruik van
die wet op sy eie, los van Jesus, is ‘n onwettige gebruik; dan gebruik ons die
wet nie soos wat God dit bedoel het nie, en dan doen ons daarmee onsself geweldige
skade aan. Ons maak onsself seer, want – soos ek alreeds gesê het – die wet op
sy eie is ‘n harde meester. ‘n Ongenaakbare meester. En omdat die Fariseërs en
Skrifgeleerdes in Jesus se tyd dit só gebruik het, daarom was hulle self ook
harde meesters. Luister maar hoe praat Jesus oor hulle in Mattheus 23:4: “…
hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die
skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer
nie.” Dit is die gevolg wanneer mense die wet sonder Christus wil gebruik –
hulle word harde meesters van ‘n wet wat hulle self nie eens kan of wil nakom
nie.

 

En probeer maar ‘n slag om in jou lewe reg te kom met slegs “die wet
en ek” – ek verseker jou vanuit God se Woord, jy sal jou oë toemaak vir die
verblindende lig van daardie wet en jy sal terugvlug na die duister, want die
wet maak seer. Die slae van die wet is dodelik. En tog is dit wat ons dikwels
doen: ons beskou die wet op sy eie, as ‘n stasie waarby ons eers verby moet kom
voordat ons na Christus kan vlug; ons dink dat ons eers die geveg met die wet moet
aangaan voordat ons die verlossing kan ontvang. En só hanteer ons dikwels ook die
wet ten opsigte van mekáár! Maar die Here wys vandag vir ons dat ons op hierdie
pad onherroeplik gaan verdwaal. Jy gaan jouself elke keer bloedneus loop teen
jou eie onmag en sondigheid, want jy en ek is van nature geneig om God en ons
naaste te haat (só bely ons in v/a 5). Jy en ek is van nature net soos daardie
skrifgeleerde! En dit gaan so bly solank as wat ons die wet op sy eie bly
hanteer, los van Christus.

Moet daarom nie hierbinne gaan rondkrap nie. As jy dit wel gaan
doen, gaan jy in die duister van jou eie sondigheid bly ronddraai, ook al skyn
die lig van die wet nog so helder in jou lewe. Dit sal duister bly! Moet daarom
nie die wet sonder Christus gebruik nie – die wet is nie die weg na Christus
toe nie, maar Christus is die weg na die wet toe!

Dit is ons tweede gedagte:
in sy lig sien ons die lig.

 

2. Jesus se laaste woorde aan die skrifgeleerde was: “Jy is nie ver
van die koninkryk van God nie.” ‘n Mens sou reken dat die skrifgeleerde op
grond van hierdie uitspraak die vraag sou stel: “Maar wat moet ek dan nog doen
om die koninkryk te bereik?” Maar hy bly hy stil. Almal bly stil. Behalwe
Jesus. Húlle wil miskien nie die vraag stel nie, maar Hy gaan die ongestelde
vraag tog beantwoord (ons sien dit duidelik in Jesus se gebruik van die
woordjie ‘antwoord’ in vers 35; ons vind hier dus ‘n direkte vervolg op die
voorafgaande). En so verduidelik Jesus in die volgende paar verse wat nodig is
om nader aan die koninkryk te kom, en wat nodig is om die wet, waaroor hulle
Hom uitgevra het, in die regte lig te sien.

En Jesus doen dit deur self ‘n vraag te stel: “Hoe sê die
skrifgeleerdes dat die Christus die Seun van Dawid is?” Die vraag is dus nie óf die Christus die Seun van Dawid is
nie, maar eerder hoe, op watter wyse. Is Hy dit deur gewone
geboorte en afstamming? Is Hy ‘n klein nakomeling van die groot voorvader? Of  is Hy dit op so ‘n wonderbaarlike manier dat
Hy as seun van Dawid tegelykertyd ook sy Meerdere is? As beantwoording van sy
eie vraag verwys Jesus na Psalm 110 waar Dawid, gelei deur die Gees, die
volgende sê: “Die Here het tot my Here gespreek: sit aan my regterhand totdat
Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete.” Dawid noem dus die Messias
“Here”! Nou, watter pa is daar wat sy seun of sy verre agterkleinkind “Here”
sal noem? Daar moet dus iets besonders wees aan die Messias; wanneer Dawid sy
seun ook sy ‘Here’ noem, dan moes hierdie seun op ‘n wonderlike en goddelike
wyse in Dawid se geslag ingekom het.

 

En die Fariseërs het dit geweet, hulle het die krag van Psalm 110
geken. En juis dít hou Jesus aan hulle voor op die oomblik wanneer hulle Hom
afwys en Hom om die lewe wil bring! Hy vra as’t ware: “Wat is julle probleem? Wat
julle hier sien en hoor, dit is mos presies wat die profete alreeds gesê het!”
Aanvaar hulle dalk nie meer die Skrifte nie? Is Jesus se vyande nie dalk besig
om hulleself as wetgeleerdes te
diskwalifiseer nie? Dit lyk immers asof hulle nie meer voor die Skrifte wil buig
nie! En omdat hulle nie voor die Skrifte wil buig nie, en ook nie Hom wil
aanvaar wat die vervulling van daardie
Skrifte is nie, dáárom kan hulle ook nie meer die wet verstaan nie. En daarom
kan hulle ook nie meer volgens die wet lewe nie, soos wat blyk uit verse 38-40!
Omdat hulle die liefde van God in Christus nie ken nie, daarom is daar by hulle
ook geen ware liefde tot God en tot die naaste nie, maar slegs selfliefde.
Hulle soek slegs die eer van mense!  

 

En dit is juis die oproep, broers en susters, wat Jesus hier aan sy
luisteraars wil laat uitgaan: erken my as Here! Erken my as Here, soos wat Dawid
dit alreeds voorspel het. Want slegs wie My as Here erken, kan vervolgens ook
die wet reg gebruik, want Ek is die ware Wetgewer, Ek gee die wet! Slegs
wanneer ons die wet ontvang uit die liefdevolle hand van ons Here Jesus
Christus, slegs dan kan daardie wet ook heilsaam in ons lewens werk om aan ons
ons eie liefdesgebrek uit te wys. Dit is inderdaad soos wat ons gelees het in
Psalm 36: in U lig sien ons die lig! In die lig van ons Heer se onbeskryflike
liefde, wat uitgeloop het op sy dood aan die kruis, in daardie lig sien ons
raak hoe baie daar by ons kortkom en hoe ellendig ons toestand in werklikheid
is.

Die wet op sigself is daarom nie
genoeg om ons ‘n besef van ons ellende te gee nie; moet daarom ook nie die wet
op sigself beskou nie. Wie die wet op sy eie hanteer, word deur daardie wet ‘n
paar goeie klappe toegedien, hy kry seer, maar daar verander niks nie. Hy
strompel maar weer voort. Daar is dalk spyt, maar geen berou en bekering nie.
Moet daarom nooit dink: eers die wet, en wanneer ek klaar is met die wet, dan
mag ek na Christus toe gaan nie. Nee, dit is altyd die wet van Christus, dit is
altyd die christelike wet. En wanneer ons die wet uit Christus se hand ontvang,
ja, dan tref daardie wet baie diep. Elke keer as ons lees van Christus se
liefdevolle gehoorsaamheid aan die Vader, elke keer as ons hoor van sy liefde
vir mense, elke keer as ons sien met watter liefde Hy die wil van God volbring
het, dan dring dit tot my deur – “maar… ek doen dit nie! Ek kán dit selfs nie doen nie! Sy voorbeeld is te
hoog vir my, ek kan nie daardie standaarde handhaaf nie.” Slegs in die lig van
sy liefde, sien ons ons eie liefdeloosheid. Op geen ander manier nie!

 

Ons
moet daarom nie dink, broers en susters, dat ons hierdie indrukwekkende
sondebesef gaan hê as ons die Here Jesus nie ken nie; die wet wat ons tydens
die oggenddienste lees, gaan weinig effek hê as ons nie sien dat dit die wet
van Christus is wat Hy in sy volmaakte liefde volbring het nie; moenie verwag
dat jy jou liefdeloosheid teenoor jou man of vrou, of teenoor jou kinders gaan
insien as jou band met Christus nie gesond is nie. Moenie dink jy gaan die
vermaning van jou mede-gelowige teen sondes in jou lewe aanvaar, as jy nie ‘n
lewende verhouding met Christus het nie. Maar wanneer
ons wel aan Hom verbonde is, wanneer Hy wel ons enigste troos in lewe en in
sterwe is, dan word dit vir ons duidelik: ek is diep ellendig! Maar dan weet
ons ook waar om die verlossing te gaan soek. Want my Wetgewer is ook my
Verlosser; Christus wat die wet gee: “Jy moet God bo alles liefhê en jou naaste
soos jou self”, Hy belowe ook: “Ek het vir al jou sondes ten volle betaal en
jou uit alle heerskappy van die duiwel verlos.”

En hoe sterker my band met Hom dan word, hoe meer skyn sy lig in
elke hoekie en gaatjie van my lewe, en hoe meer begin die sonde in my lewe
raaksien; dinge wat ek voorheen nie as sonde beskou het nie, word skielik iets
wat ek as belemmering begin sien vir my lewe met die Here; iets waaraan ek
vroeër nie so swaar gedra het nie, word nou ‘n gebedsaak: “Here, verlos my van
hierdie sonde.” Sondebesef groei slegs in ‘n lewende verhouding met Christus.

En so kom daar ‘n dubbele proses van losmaking en vashegting op
gang: losmaking van my eie sondige self, ‘n wegvlug van my ellende. En daarmee
saam ‘n vashegting aan Jesus Christus. Stywer en stywer gryp ek Hom dan aan –
uit liefde!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • Voorpsalm Ps. 19:4-6

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en
wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus,
die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die
konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 124:3 en 4

Gebed

Lees:    Markus 12:28-40

            Psalm
36:6-10

Sing Skr. 21:1-3

Teks: HK, Sondag 2

Preek

Amenlied Ps. 36:2 en 3

Gebed

Belydenis van geloof (singende)

Kollekte

Slotsang Skr. 33

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy
aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor
jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)