Die storie agter die storie

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2012-03-11
Teks: 
Rigters 14
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Rigters 14

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Rigters 14 is een van daardie lekker stories om te lees. Lekker, omdat ons as lesers alreeds kennis dra van wat gaan gebeur. Ons is bekend met al die geheime waarmee hierdie hoofstuk deurspek is. Ons weet van die Here se geheime doel (vers 4, ons teks vir vandag), terwyl Simson se ouers, salig onbewus van die Here se doel, moet worstel en baklei met hulle seun wat buite die kerk sy vrou gaan soek. Ons weet van die geheim van die leeu, terwyl niemand anders daarvan weet nie. Ons weet van die geheim van die heuning, terwyl Simson, hoewel hy daarvan uitdeel, tog stilbly oor waarvandaan hy dit gekry het. En ons ken ten slotte ook die geheim agter sy bruilofsraaisel, ‘n geheim wat die dertig jongmanne by die bruilof uiteindelik slegs met afpersing kon uitvind. Hierdie hoofstuk gaan dus vir’n groot deel oor wat nie vertel word nie, en oor dinge wat mense nie weet nie.

Maar óns weet! En laat ons dit vanmôre tot ons voordeel benut.

Tema: die storie agter die storie…

  1. Simson soek vriendskap, maar God maak moeilikheid
  2. Simson is swak, maar die Gees is sterk

 

1. Die storie begin soos waar alle stories begin – by die begin. Daar, by die begin van hoofstuk 14, lê as’t ware die wortel van alles wat daarop sal volg, nie net in hoofstuk 14 nie, maar ook in hoofstuk 15. Hier word die bal aan die rol gesit.

En, gemeente, hierdie bal rol afwaarts in die rigting van ‘n dorpie met die naam Timna; dis waarheen Simson op ‘n dag besluit om te gaan. Nou, Timna was oorspronklik aan die stam van Dan toegewys (Jos. 19:43), maar dit was op daardie stadium klaarblyklik nog in die hande van die Filistyne. Wat Simson in Timna gesoek het, weet ons nie, maar ons weet wat hy daar gevind het! Hy sien daar ‘n jong en aantreklike Filistynse vrou, en sonder versuim gaan hy huistoe om van sy ouers te eis dat hulle haar as vrou vir hom moet neem. Die goed-begronde besware van sy ouers val op dowe ore; Simson eis haar op: “Neem haar vir my, want sy geval my.” Al wat vir Simson belangrik is, is dat hierdie vrou voldoen aan sy definisie van “mejuffrou perfek”. Hy het haar gesien (dit word tweekeer genoem, in verse 1 en 2), en dit was vir hom genoeg. Hy het verder geen oog vir die gesag van sy ouers in sy lewe nie (jongmense, luister maar mooi na die advies van pa en ma wanneer jy jou lewensmaat kies!), hy het geen oog vir God se gebod dat die Israeliete nie toegelaat was om heidense lewensmaats te vat nie (Deut. 7:1-3, want hulle sou die volk van die Here af wegtrek), en hy het geen oog vir sy Nasireërskap waardeur hy ‘n voorbeeld vir die volk moes wees nie. Sy persoonlike voorkeure – sy eie luste en begeertes – is deurslaggewend. Sy geval my, sy is rég vir my. Is dit nie presies die klag teen die einde van die Rigterboek nie: “elkeen het gedoen wat reg was in sy [eie] oë” (Rigt. 17:6)?

 

Wat Simson waarskynlik nie besef het nie – want die liefde is mos blind! – is dat hy in dit alles besig was om ‘n vriendskap te sluit met die Filistyne. Ek het in die preek oor Rigters 13 alreeds die posisie van die Filistyne probeer beskryf. Hierdie volk word deur die geskiedenis as’t ware die boegbeeld van heidense onderdrukking, hulle word die simbool van die verleiding van God se volk; hulle word vir jare lank Israel se aartsvyande by uitstek. Daarom is dit ook juis die Filistyne wat in die Bybel aangedui word as die ‘onbesnedenes’ – die enigste volk wat op dié manier aangedui word. En wanneer hulle so genoem word, gemeente, dan gaan dit nie maar net daaroor dat hulle nie deel gehad aan die besnydenis van Israel nie, dat hulle nie deel gehad het aan die teken van lewe in God se verbond nie. Nee, dan gaan dit oor baie meer: hulle was die teenoorgestelde van die besnydenis, hulle was die kontras van die léwe wat deur die besnydenis uitgebeeld is. Die Filistyne was die versinnebeelding van die dóód!

En nou wil Simson hom sowaar met hierdie doodsvolk gaan verswaer. Sonder om te blik of te bloos, kies hy vir hom ‘n mooi Filistyne nooi. En kyk hoe gemaklik en familiêr gaan hy vervolgens om met die dertig Filistynse strooijonker-vriende wat aan hom toegewys word (14:12 e.v.)!  En selfs nadat hulle én sy vrou hom liederlik sleg behandel het, gaan hy sowaar weer terug om die bande met sy vrou op te tel. Daar staan Simson dan in hoofstuk 15:1, bokkie onder die arm, vonkel in sy oog, en hy’s lus vir liefde. Dit is tyd om op te maak in die slaapkamer. Simson het geen oog vir die skeiding wat God tussen Israel en die Filistyne ingestel het nie.

 

Maar, broers en susters, ons moet nog verder kyk. Want dit gaan hier nie maar net oor Simson nie. Soos ek in die vorige preek reeds gewys het, is Simson – wat veronderstel was om ‘n voorbeeld vir die volk te wees om na te volg – eerder tekenend van hoe die volk self ook was. Simson se vredespolitiek met die Filistyne sien ons immers net so terug by die volk. Wanneer die Filistyne in hoofstuk 15:9 teen Juda optrek, wil die manne van Juda die rede vir hierdie vyandigheid weet: “Waarom het julle teen ons opgetrek?” Toe hulle hoor dat Simson die rede is, trek Juda sowaar met drieduisend man teen Simson op. Kan jy glo? In plaas daarvan om die vyand met daardie drieduisend man te beveg, trek hulle teen ‘n volksgenoot op. En hulle eerste vraag aan Simson verklaar volledig hulle siening van die saak: “Weet jy nie dat die Filistyne oor ons heers nie?” (15:11) Hulle sê in feite: “Wat dink jy doen jy, Simson? Besef jy nie dat jou optrede ons veiligheid in gevaar stel nie?”

Hartseer woorde! Want dit getuig van ‘n volk wat vrede gemaak het met die onderdrukte posisie waarin hulle verkeer het, wat hulleself niks anders as die status quo kan voorstel nie, wat bevryding sien as ‘n bedreiging van die vrede, wat na die vyande van die Here kyk as hulle regmatige oorheersers. Israel het ‘n volk geword wat die Here met ‘n oogknip kan verlaat, maar wat dit nooit sal waag om ontrou aan die Filistyne te wees nie. Wat ‘n verskriklike stand van sake. Die vrede met God het hulle verspeel, en nou jaag die volk ‘n valse vredespolitiek na; hulle doen alles in hulle vermoë om in die goeie boekies van die doodsvyand te bly: “Kom ons sorg asseblief net dat die goeie bande met die Filistyne behoue bly!”

 

Dit is so tipies, broers en susters. Tipies van Israel? Nee, tipies van ons almal. Om te stry vir die vrede met God en die vryheid in Christus, om te stry vir die waarheid, om die goeie stryd te stry en die wedloop te voleindig – dit is dikwels net te veel gevra. Ons is so gou tevrede met ‘n valse vrede. Solank ons in vrede met die vyande van die Here en die kerk kan lewe, is ons maar net te bly; solank hulle ons uitlos, sal ons hulle uitlos. Ons staan liewer nie op vir ons geloof nie, ons hou liewer ons monde wanneer die situasie ‘n getuienis van ons vra. Om te stry teen die dood in ons eie huise – die verkeerde dinge wat ons kyk, wat ons lees, en wat ons luister – voel soos ‘n onbegonne taak, en daarom begin ons nie eens daaraan nie. Om te stry teen die dood daarbuite – die plekke wat ons besoek, die mense met wie ons vriende maak, die kêrels en meisies wat ons huistoe bring… - om daarteen te stry, kan darem nie van ons verwag word nie, want “weet jy dan nie in watter wêreld ons lewe nie? Is jy heeltemal wêreldvreemd? Wil jy hê ons moet kluisenaars word?!”

Waar soek ons die vrede, broers en susters? In ‘n wapenstilstand met die die duiwel en die sonde, óf in ‘n lewende verhouding met God, mét alle stryd wat daarmee gepaardgaan? Soek ons dit nie maar dikwels in die wapenstilstand nie? Soek ons nie maar dikwels die vrede op die pad van die minste weerstand nie? Ja, Simson se verhaal is ook Israel se verhaal, en Israel se verhaal is ook ons verhaal.

 

Maar gelukkig, gemeente, is daar nog ‘n storie ágter die storie! Op die oppervlakte lees ons die storie van Simson met al sy sondige eskapades, maar die ware storie word deur God geskryf. Hy hou die ware draaiboek in sy hand, en dit word ‘n kontra-verhaal, ‘n verhaal teen die stroom op. Terwyl Simson vriendskap met die vyand gesoek het, is God besig om daardeur juis vyandskap te bewerk. Want, só sê vers 4 vir ons, Simson se beplande inteelt met die Filistyne het van die Here af gekom. Want Hy het rede gesoek téén die Filistyne! Waar Simson ‘n valse vrede nagejaag het, het God moeilikheid gesoek.

En nee, God is nie ‘n moeilikheid-maker nie, maar Hy weet dat sommige moeilikheid noodsaaklik is! Sommige vyandskap is onvermydelik! Só het God dit immers in Genesis 3:15 alreeds bepaal: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.” Hierdie vyandskap is ‘n gawe van God, gemeente. Hy het nie toegelaat dat sy volk snoesig op die skoot van die bose sou gaan insluimer nie. Die Skepper van hemel en aarde het geweier om nonchalant van Eden af weg te stap en te maak asof niks gebeur het nie. Nee, Hy is die jaloerse God wat die hele skepping aan die brand sal steek met ‘n heilige oorlog om sodoende ‘n volk vir Homself te kan berei.

 

En dit is presies wat ons in hierdie twee hoofstukke sien gebeur. Simson wou familie-bande met die Filistyne aanknoop, maar God bring ‘n opeenvolging van gebeure op gang wat presies die teenoorgestelde bewerk; Simson soek vriendskap, maar God verander dit in vyandskap. Sy beplande troue bring Simson in kontak met dertig jongmanne wat hom op ‘n lelike manier om die bos lei. Dit lei vervolgens tot die slagting by Askelon, waar Simson dertig Filistyne doodslaan vir hulle klere (14:19). Sy skoonpa gee daarna sy vrou aan die strooijonker, die ‘best man’. Wanneer Simson haar later gaan opsoek, moet hy hoor dat hy die jonger sussie maar kan kry; sy’s in elk geval baie mooier (15:2). Dit lei gevolglik tot die brand by jakkalsdraai; Simson bind daar immers driehonderd jakkelse met hulle sterte aanmekaar vas, met ‘n brandende fakkel in die middel – en van die koringoes, die wingerde en die olyfbome bly daar niks oor nie (15:4-5). Die Filistyne doen vervolgens waarmee hulle tydens die bruilof alreeds gedreig het – hulle brand die huis af van Simson se vrou en sy skoonpa (15:6). Daarna slaan Simson die Filistyne lendelam (15:8), waarop die Filistyne reageer deur uit te trek om hom te vang. Wanneer Simson gebind aan hulle uitgelewer word, verbreek hy die toue en slaan ‘n duisend Filistyne dood met ‘n eselskakebeen (15:16).

 

Sien u, gemeente, die Hére verander Simson se beplande vriendskap in vyandskap en stryd. Want hierdie was ‘n onhoudbare vriendskap, ‘n onaanvaarbare alliansie. Daarenteen is die vyandskap wat die Here skep, heilsaam vir die volk. Want daardeur word die noodsaaklike skeiding gehandhaaf tussen die volk en die vyand, tussen die heilige Israel en die onheilige Filistyne, tussen goed en kwaad, tussen lig en duisternis… ook al bring dit stryd mee. En só leer ons iets van die aard van die verlossing! Verlossing is altyd ‘n daad van geweld, verlossing is altyd stryd. Jesus Christus het daarom ook gekom om die werke van die duiwel te verbreek (1 Joh. 3:8). Dit is ook die rede waarom liefhebbers van die Here in Psalm 97:10 opgeroep word om die kwaad te haat. En dit is hoekom Dawid in Psalm 139 van die goddeloses kan sê: “Ek haat hulle met ‘n volkome haat; vyande is hulle vir my.” Of dit nou die kwaad in ons is, of die kwaad wat van buite af kom, nêrens roep God ons op om met die kwaad en die sonde te onderhandel nie, maar eerder om oorlog daarteen te voer. Ons behoort ‘n heilige haat te koester teen die sonde in al sy kleure en geure.

 

Gemeente, dank God vir die moeilikheid wat Hy veroorsaak het tussen Simson en die Filistyne. Dit was tot behoud van Simson sowel as van Israel. En dank God ook vir die moeilikheid wat Hy veroorsaak het tussen Jesus en die duiwel, en dat Jesus vervolgens die mees gewelddadige stryd aangegaan het teen die sonde en die dood. As Jesus vir een oomblik vrede met die duiwel sou gesluit het, soos wat die duiwel by sy versoeking in die woestyn probeer doen het, dan was ons vandag uitgelewer aan die ewige dood. Maar dank God dat Jesus Christus die stryd aangegaan het, ‘n stryd wat Hom bloedsweet in Getsemane ontpers het, ‘n stryd wat Hom sy lewe gekos het, sodat ons vandag vry kan wees. Ten spyte van ons vriendjies-politiek het God in Jesus Christus nie een oomblik van die stryd en die konfrontasie afgewyk nie. Nooit het God Hom deur ons valse vredespogings laat aflei nie. Prys Hom daarvoor!

En nou kom die oproep na ons toe om dieselfde stryd te stry. Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God (Jak. 4:4); maar wie deur Jesus Christus ‘n vriend van God is, kan nie anders as om ‘n vyand van die wêreld te word nie, ‘n vyand van alles wat sondig is. Gemeente, gaan daardie stryd teen die sonde aan. Gaan die stryd aan teen die sonde in jou eie hart, die verkeerde gedagtes en begeertes. Gaan die stryd aan teen die verkeerde in jou huis – moenie vrede daarmee maak dat daar verkeerde leesstof rondlê of dat julle na verkeerde dinge kyk nie. Gaan die stryd aan teen die verkeerde in die kerk en in die samelewing. Moenie die weg van die minste weerstand volg nie. Christus het dit ook nie gedoen nie! Maak daarom gereed vir oorlog, Christenstryders! Trek die volle wapenrusting aan en stry die goeie stryd van die geloof!

In dan ons tweede gedagte: Simson is swak, maar die Gees is sterk.

 

2. Ons ken nou gelukkig die storie agter die storie, maar dit beteken nie dat ons nou maar van die eerstevlak-storie kan vergeet nie. In daardie storie bly Simson verantwoordelik vir sy optrede; hy kan nie skuil agter die verborge raadsplan van die Here nie; hy kan nie as verskoning aanvoer dat dit die Here was wat dit so wou gehad het nie, en dat hy nie bewus was van die storie agter die storie nie. Nee, hy bly verantwoordelik vir sy keuse van ‘n Filistynse meisie. En tog is Simson ook meer as net ‘n jagter van Filistynse rokke. Die negatiewe prentjie wat vir ons van Simson geskets word, kan ons maklik laat vergeet dat Simson steeds God se rigter was. ‘n Swak en sondige rigter, verseker. Maar nogtans ‘n instrument in diens van God, deur wie God wou begin om Israel te verlos uit die hand van die Filistyne (Rigt. 13:5). Ten spyte van sy gebreke, was Simson steeds God se uitverkorene om die stryd aan te gaan met die doodsvyand.

En hoe wonderlik is dit dan om te sien dat God hierdie instrument van Hom nie aan sy lot oorlaat nie, maar hom op uitsonderlike wyse toerus. Op drie strategiese punte in hierdie verhaal van stryd en oorlog, kom God tot Simson se hulp. Ja, ons het dikwels die beeld in ons kop van Simson as ‘n reuse jongman met ‘n paar kolossale armspiere wat elke vorm van teenstand met die grootste gemak (en deur eie krag) uit sy pad kon vee, maar nêrens in die verhaal word dit vir ons gesê nie. Natuurlik, Simson moes sekerlik ‘n groot en sterk man gewees, maar die krag om sy roeping uit te voer, het nie dáárin gelê nie. Nee, op die belangrikste punte in hierdie verhaal is dit nie Símson se krag wat bepalend is nie, maar God se krag. Op hierdie punte blyk dit duidelik: Simson is swak, maar die Gees is sterk.

 

Eers is daar die verhaal van die leeu in die wingerde van Timna. Terwyl die leeu brullend op Simson afstorm, het die Gees van die Here oor Simson vaardig geword (14:6). Nou, met daardie krag tot sy beskikking kon die leeu net sowel ‘n tingerige bokkie gewees het. Simson verskeur die koning van die diere met die grootste gemak. En hierdie verskeurde leeu word ‘n teken vir Simson – dit behoort hom daarvan te verseker dat die God, wat hom in staat stel om leeus te verskeur, hom ook sal help om die Filistyne te verslaan. Hier vind ons ‘n grafiese voorskou van dít wat God deur Simson kan en wil doen!

Vervolgens vind ons die verhaal van die slagting by Askelon. Baie maklik kan ons hierdie verhaal toeskryf aan Simson se blinde woede, nadat die dertig jongmanne sy vrou afgepers het en sy vervolgens vir Simson gedwing het om aan haar die geheim van die raaisel bekend te maak. Maar die teks wys vir ons dat dit weereens die Gees van die Here was wat oor Simson vaardig geword het. Ons het hier nie te make met Simson se humeur nie, maar met die Gees se krag. Hier maak Hy deur Simson ‘n begin met die verlossing van Israel uit die hand van die Filistyne. Dis maar ‘n klein begin, dis waar – dertig Filistyne gaan werklik nie ‘n verskil maak nie. Maar nogtans is dít die begin wat die Here belowe het!

En uiteindelik is daar die verhaal van Kakebeenshoogte aan die einde van hoof stuk 15. Vir ‘n laaste maal lees ons (15:14) hoe die Gees van die Here oor Simson vaardig geword het, sodat die toue om sy arms soos linnedrade geword het wat in ‘n oomblik deur vuur verbrand word. ‘n Vars eselskakebeen dien vervolgens as wapen om die Filistyne te laat les opsê. ‘n Duisend Filistyne word slagoffers van God se Geesvervulde rigter.

 

Driemaal word vir ons vertel van die werk van die Heilige Gees in Simson; driemaal, op baie spesifieke punte. Nee, nie op daardie punte waarin hy sondig opgetree het nie. Nie by sy verkeerde keuse van ‘n ongelowige huweliksmaat nie, nie by die drinkparty saam met sy dertig vriende nie, nie by sy tweede poging om sy vrou tot hom te neem nie. Nee, kyk mooi: die Gees word oppad na Timna as aan Simson gegee as voorproef vir sy stryd teen die Filistyne, en daarna by twee gevalle waar hy sy taak uitgevoer het om Israel van die Filistyne te verlos. Die Gees kom hier nie op Simson waar hy besig is om sy eie pad te gaan nie, nie in sy persoonlike hoedanigheid, maar in sy amp as rigter, in sy taak van verlossing. Ten spyte van sy persoonlike swakheid, word hy daarvoor sterk gemaak! En ons sien dit regdeur die Ou Testament: God gee sy Gees op ‘n besondere wyse aan die ampsdraers van daardie tyd: die konings (waaronder ook die rigters), die profete en die priesters.

En presies dieselfde sien ons dit ook by Jesus Christus, ons volmaakte Rigter. Nadat Hy gedoop is in die Jordaan en gereed was om sy amp op Hom te neem, toe het die Gees soos ‘n duif op Hom neergedaal. Dáár rus die Gees Hom toe vir sy ampswerk as die Christus, die Gesalfde, gesalf met die Heilige Gees tot ons hoogste Profeet, ons enigste Hoëpriester en ons ewige Koning – só bely ons dit in Sondag 12 van die Heidelbergse Kategismus.  

 

En weet jy wat is nou so mooi? Nadat Sondag 12 gepraat het oor die salwing van die Christus, word daar vervolgens ook nog gepraat oor die salwing van die christen, jy en ek. Deur die geloof is ek ‘n lid van Christus, en daardeur kry ek deel aan sy salwing. Deur die geloof in Jesus Christus kry ek dus deel aan sy Gees, wat my toerus vir my ampswerk as christen. Só – en op geen ander manier nie – kry ek die krag vir die stryd waaroor dit in die eerste punt gegaan het. Só kry ek die krag om profeet te wees wat die Naam van God bely, ook waar dit negatiewe gevolge vir myself kan inhou, ook waar ek daardeur die spot van vriende en kennisse oor my gaan haal, ook waar ek maar liewer die pad van die minste weerstand sou wou geloop het. Só kry ek ook die krag om priester te wees wat myself as ‘n lewende dankoffer aan God kan toewy, en kan lewe op ‘n manier wat vir Hom welgevallig is. Só kry ek die krag om koning te wees wat in hierdie lewe met ‘n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry. Deur die geloof in Christus is ek ‘n christen, en deur die krag van sy Gees kan ek vervolgens ook as christen gaan lewe.

 

Broer en suster, in die vyandskap van die eerste punt is jy dus nie alleen nie, en laat God jou ook nie alleen nie. Jy’s nie alleen wanneer jy moet stryd teen die verkeerdes gedagtes en swak taalgebruik in jou lewe nie. Julle-twee is nie alleen wanneer julle as paartjie moet stry om heilig met mekaar te lewe nie. Jy is nie alleen wanneer jy as hoof moet stry vir die heiligheid van jou gesin nie. Jy is nie alleen wanneer jou daaglikse arbeid jou in allerhande etiese dilemmas bring nie. Christus het reeds oorwin, en deur sy Gees is jy toegerus om die duiwel se laaste struiptrekkings te kan weerstaan. Bid tot die Vader om meer en meer met daardie Gees vervul te mag word. As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid? (Luk. 11:13) En deur daardie Gees kan jy bly fokus op die storie agter die storie. God se storie, sy draaiboek wat in en deur Jesus Christus oppad is na die voltooiing. Daar sal elkeen nie meer doen wat reg is in sy eie oë nie, maar daar sal ons as gelowiges in gehoorsaamheid aan ons Koning lewe en saam met Hom in ewigheid oor alle skepsels regeer, ook oor die Filistyne…

Amen

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 69:8, 11-14

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 111:1 en 5

Wetslesing + HK Sondag 40

Sing Ps. 5:4-6

Kollekte

Sing Ps. 34:1 en 5

Lees: Rigters 14

Teks: Rigters 14:4

Gebed

Preek

Gebed

Geloofsbelydenis (ek sal lees)

Slotsang Ps. 139:10-12

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)