Die doop bied vaste grond onder die christen se lewe van stryd en oorwinning!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-02-12
Teks: 
NGB 34
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – NGB, artikel 34; lees Romeine 6-8

 

Geliefde gemeente,

Hoe ervaar jy die lewe as ‘n christen? Is jy ‘n christen wat die water van God se vergewing elke dag eenvoudig maar net oor die akker van jou lewe laat loop, sonder om werklik die stryd te voer om toegewyd en heilig voor God te lewe? Is dit vir jou normaal dat ‘n christen se lewe so kan wees, want ja, “ons bly nou maar eenmaal sondige mense wat niks goeds kan doen nie”? Of is jy ‘n christen wat groei in heiligmaking, in geloof, in entoesiasme, ‘n christen wat al hoe meer loskom van jou sondes en gebreke, wat die sondes hoe langer hoe meer verban na ‘n klein, donker hoekie van jou lewe?

Watter een van dié twee is nou eintlik reg? Hoe móét die christen se lewe lyk? Is dit ‘n kwessie van: “ons is tot niks goeds in staat nie, en daarom moet ons maar net van genade lewe”? Of is dit eerder ‘n geval van: “die krag van Christus stel my in staat om die sonde te oorwin”? Staan dié twee teenoor mekaar op ‘n manier wat nie oorkom kan word nie? Kom ons kyk wat die Skrif ons daaroor leer. En ons doen dit aan die hand van die drieluik van Romeine 6-8. Net ter verduideliking: ‘n drieluik is ‘n skildery bestaande uit drie panele wat met skarniere aan mekaar verbind is. Elke paneel vertel ‘n eie verhaal, bevat sy eie prentjie, en kan dus as sodanig op sy eie beskou word. Maar dit is eers wanneer jy die drie panele in kombinasie bekyk dat jy die geheelbeeld kan raaksien. Nou, dit is presies wat ons in Romeine 6-8 teëkom – hierdie hoofstukke teken, elkeen op sy eie, ‘n aspek van die christen se lewe. Maar die drie saam gee vir ons die geheel! Die tema vir die preek is:

Tema: die doop bied vaste grond onder die christen se lewe van stryd en oorwinning!

  1. Diensplig
  2. Verskeurdheid
  3. Nuwe lewe

 

1. Gemeente, op die eerste paneel van die drie-delige skildery wat Romeine 6-8 vir ons bied, sien ons ‘n afbeelding van die doop. Hoekom skilder Paulus hier vir ons die doop? Wel, Paulus het te make met mense wat God se genade misbruik. Daar is mos genade in oorvloed, sê hulle, dus hoekom sou jy nie voortgaan met die sonde nie? Jy mag mos elke dag weer vergewing vra? Hoe meer sonde daar is, hoe meer genade kan God uitdeel! Pragtig, nie waar nie? En so word God se genade vooor die karretjie van jou sonde gespan. Jy gaan maar net voort in jou onheilige lewe, in plaas daarvan om te groei in heiligmaking. Teen so ‘n manier van omgaan met God se genade, reageer Paulus (6:1 e.v.). En vir dié doel gaan staan hy reg langs die doopvont (6:3 en 4). Want wat het by die doop gebeur? Wel, die doop simboliseer dat ons in Christus ‘n nuwe eienaar gekry het. Waar voorheen die sonde (en daarmee saam die duiwel) ons in sy harde en koue greep gehad het, beeld die doop uit dat Jesus Christus nou die heerskappy in ons lewens oorgeneem het. Dit is amper soos Israel van ouds – die volk het gesug en gekreun onder die wrede hand van die farao in Egipte. Maar nadat hulle droogvoets deur die Rooi See getrek het, het hulle vervolgens op die naam van Moses gekom. Daaroor skryf Paulus in 1 Korinthiërs 10:2 die volgende: “hulle is almal in Moses gedoop…” Dus, waar die volk eers onder die farao se harde hand was, het hulle nou onder die sorg van Moses gekom. En die deurgang deur die Rooi See was amper soos ‘n doop wat hierdie verwisseling van eienaar gesimboliseer het.

 

Op dieselfde manier beeld die doop uit dat óns nou onder die liefdevolle en genadige heerskappy van Jesus Christus gekom het. Hy het nou totale seggenskap oor ons. Dit is ook wat artikel 34 sê: “Deur die doop word ons in die kerk van God opgeneem en van alle ongelowiges en vreemde godsdienste afgesonder om heeltemal sy eiendom te wees en sy merkteken en vaandel te dra.” Op ons pelgrimstog na die nuwe aarde beheers Hy nou ons lewens. Sy versoening, sy sorg, sy heiligende krag staan sentraal in ons lewens. Of weer met die woorde van artikel 34: “Hy was ons siel, suiwer en reinig dit van alle vuilheid en ongeregtigheid; Hy maak ons hart nuut en vul dit met alle vertroosting; Hy gee ons egte sekerheid van sy Vaderlike goedheid; Hy beklee ons met die nuwe mens en ontklee ons van die ou mens en al sy werke.” Hoe dwaas sou dit dan nie wees om terug te gaan nie – terug deur die water van die doop om weer dienspligtig te word aan die duiwel en die sonde?! Nee, gemeente, God het daardie diensplig opgehef, beëindig, en ons staan nou onder die sagte juk van Jesus Christus. God betrek ons in die werklikheid van Jesus Christus se dood en opstanding; in lewe en in sterwe kom ons nou vir sy rekening.

 

Broers en susters, ek hoop ons almal sien helder wat in hierdie eerste skildery vir ons uitgebeeld word. Die aanvanklike vraag van vers 1 was: hoekom kan ‘n mens nie maar voortgaan om te sondig sodat die genade nog meer kan word nie? Hoekom sou ‘n mens eintlik heilig moet lewe? En daarop reageer Paulus vanuit die beeldtaal van ons doop. Hy sê in werklikheid: jy kan nie net voortgaan om te sondig nie, want die onderdompeling van die doop simboliseer dat ons nou in Christus ‘n ander posisie gekry het. Deurdat Christus aan God se reg voldoen het, het ons nou sy wettige eiendom geword. Ons is oorgeplaas in die ryk van God se liefde. En in dáárdie ryk het die satan geen seggenskap meer nie. Natuurlik, die sonde spreek ons nog wel aan, selfs van binne-af, maar die sonde het regtens niks meer oor ons lewens te sê nie. Dit is ‘n regswerklikheid waarvan Paulus hier praat. Dit gaan daaroor dat ons vrygespreek is, dat ons geregverdig is, dat ons regtens vry is van die sonde in Christus! En, gemeente, hierdie werklikheid kom as ‘n belofte na ons toe, en dit vra om in geloof aangeneem te word. Hierdie magswisseling is ‘n werklikheid in en deur die geloof!

Maar… dit beteken nie dat ons nou ook feitelik, in een slag, nuwe mense is nie. Jy kan mos nie verwag dat iemand wat jarelank onder ‘n meedoënlose diktatuur moes lewe, wat gebuk moes gaan onder die tirannie van iemand soos Hitler, wat in konsentrasiekampe moes oorleef, wat vir sy lewe moes vlug, wat met gaskamers bedreig is – dat so iemand op die dag van die bevryding onmiddellik weet hoe om met hierdie nuwe vryheid om te gaan nie? Sal jy verbaas wees as daardie persoon, wanneer daar kort ná die bevryding ‘n klapper afgeskiet word, onder die bed induik? Nee, natuurlik nie! Hy is regtens vry, maar in die werklikheid van sy lewe moet daar nog baie gebeur om soos ‘n vry persoon te kan lewe. En so is dit met ons ook – ons moet leer hoe om binne die vryheid, wat Christus verdien het, te gaan lewe. En daarom is vers 11 ook so belangrik – Paulus konstateer hier nie ‘n feit nie, maar hy doen ‘n oproep: reken julleself as dood vir die sonde, maar lewend vir God. Dit is ‘n hartstogtelike oproep om vanuit die geloofswerklikheid – soos uitgebeeld in die doop – nou vervolgens ook te gaan lewe: “Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers nie…” (vers 12). Dit wat ‘n werklikheid is deur die geloof, vra om uiting te vind in die realiteit van my lewe.

 

Gemeente, moenie die krag van hierdie werklikheid – hierdie geloofswerklikheid – in jou lewe onderskat nie. Ons kan nie maar net tevrede wees met ‘n middelmatigheid wat sê: “Ag, ons sal maar altyd sondaars wees nie.” Ons mag nóóit ons sondigheid as verskoning aanbied, as rookskerm om maar voort te sondig nie. Daar skuil ‘n stuk kleingeloof in so ‘n houding. Hierdie houding ontneem ons van alle stimulasie om te groei in heiligheid, en dit erken nie die impak van die magswisseling en die krag van die Gees in jou lewe nie. Leer ken daarom weer die simboliek van die diep water van die doop – ek het saam met Christus gesterf, ek is dood vir die sonde, en ek het saam met Hom opgestaan in ‘n nuwe lewe. Hierdie werklikheid mag ek deur die geloof my eie maak en daaruit gaan lewe. Gryp dit aan, en erken daardeur wat Christus vir jou verdien het!

In die tweede plek let ons op die verskeurdheid in die christen se lewe.

 

2. Dit is opmerklik dat Paulus in die eerste gedeelte van Romeine 7 eers nog ‘n bietjie verder praat oor ons veranderde posisie in Christus. En hy gebruik daarby die voorbeeld van ‘n getroude vrou. Wanneer ‘n getroude vrou se man sterf, is sy onthef van haar verpligting om trou te bly aan hom. Volgens die huwelikswet is sy dan vry om met ‘n ander man ‘n verbintenis van trou en liefde aan te gaan. Net so het Christus se dood ons ook bevry van die lewenslange verpligting waaronder ons gebuk gegaan het om aan die sonde getrou te bly. Christus gee nou aan ons die vryheid om ‘n ander verbinding van liefde en trou aan te gaan, naamlik ‘n verhouding met Homself. Die wet van die sonde moet sy aanspraak op ons bestaan opgee en die wet moet sy eise loslaat.

En tog… in die praktyk van die lewe blyk duidelik dat dit maar bitter moeilik vir ons is om eksklusief Jesus Christus lief te hê en te dien. Is dit dalk die wet se skuld? Absoluut nie, sê Paulus (7:7). Inteendeel, God se wet is volmaak en heilsaam. En God se aanspraak op ons lewe getuig van een en al goeie bedoelings. God se wet is werklik vir ons die lewe (7:10)! Maar juis deur die wet word sigbaar hoe diep die sonde in ons lewens wortel geskiet het. Die goeie instrument van God se wet sny my lewe oop en dit lê die erns van my siekte bloot (7:13). ‘n Mens ontdek die kwaadaardige karakter van jou sonde. Dit is selfs so erg dat die suiwer wet – God se goeie reëls – my sondige aard prikkel om aktief te raak. Verbode vrugte lyk skielik begeerlik en opwindend. Wat ‘n mens nie mag doen nie, dit wil jy nou juis doen. Wat nie goed is vir jou nie, doen ‘n mens tog. En so bring die wet vir ons die dood. Totaal teen God se bedoeling in. Want die gebod was eintlik bedoel om vir my die lewe te wees, maar ons het dit sowaar reggekry om die effek daarvan om te draai. Wat vir my die lewe moes wees, het vir my die dood geword. Dit is ons eie skuld en ons eie onmag!

 

En wat Paulus vervolgens doen, is om op ‘n baie persoonlike en openhartige manier oor hierdie onmag verder te praat. Nee, nie om homself daarmee te verontskuldig of om daaragter weg te kruip nie. Hy besef maar alte goed dat hy persoonlik skuldig staan. Maar, gelei deur die Heilige Gees, beskryf Paulus vir ons die verskeurdheid van die christen se lewe: ja, regtens is hy vry van die sonde, maar in die werklikheid van sy lewe sukkel Paulus geweldig om daardie vryheid reg in te vul. Selfs al kyk God na Paulus in Christus Jesus en ook al is al sy skuld betaal, dit beteken nog nie dat sy sondige hart ook eensklaps verdwyn het nie. En kyk maar in watter taal Paulus homself beskryf: hy noem homself vleeslik, verkoop onder die sonde (7:14). Dit is ‘n groot uitspraak om te maak; dit is ‘n ingrypende ding om te sê. In sy posisie voor God is Paulus ‘n vry man, dis waar, maar sy daadwerklike optrede en denke wys voortdurend dat hy tot in die diepste van sy binneste besmet is met die sonde. Sy hele mens-wees is daardeur aangetas, en hy ervaar dit elke dag.

En dan hoor ons Paulus as’t ware met trane in sy oë sê: “Ek verstaan myself nie; ek verstaan nie my eie optrede nie. Want ek doen nie wat ek graag wil doen nie; inteendeel, ek doen juis wat ek nie wil doen nie. Om die goeie te wil doen, sit in my, maar om die goeie ook te dóén… dit vind ek nie (7:18). Paulus se situasie is dus soos volg: met my innerlike mens onderwerp ek myself aan die wet van God, maar in my doen en late onderwerp ek my aan die wet van die sonde. En dit dryf Paulus byna tot wanhoop…

 

Gemeente, Paulus beskryf hier sy eie lewenservaring. Maar tegelykertyd illustreer dit ook die lewe van… ja, van wie eintlik? Pas hierdie verskeurdheid by die christen? As dít jou en my lewenservaring is, hou ons dan nog regtig rekening met die alles-oorwinnende krag van die Gees? Hoe kan jy so praat as jy, volgens Romeine 6, dood is vir die sonde? Wel, broers en susters, dit is juis omdat Paulus rekening hou met sy nuwe posisie in Christus, dat hy op dié manier na homself kan kyk. Hy wys duidelik dat daar ‘n onderskeid is tussen die ware ek – wat sy identiteit vind in Christus – en die vreemde ek, my vlees. Daardie twee is in stryd met mekaar, daardie twee lewe nooit in vrede binne die christen nie. En hoe moet ons omgaan met hierdie twee? Hoe moet ons hierdie stryd stry sodat ons nie in moedeloosheid neerslaan nie?

Vlug elke keer weer terug na die Here Jesus, na sy liefde. Hy belowe dat hy die geknakte riet nie sal verbreek en die dowwe lamppit nie sal uitblus nie. By God vind jy die krag wat nodig is; dit is Hy wat jou wil in beweging bring. Dit is Hy wat in ons werk om te wil sowel as om te werk (Fil. 2:13). Vind jou houvas in Hom! Hy belowe om jou te bevestig tot die einde toe, sodat jy onberispelik sal wees in die dag van ons Here Jesus Christus (1 Kor. 1:8). Hy wat belowe, is getrou! Hy sal dit ook doen! (1 Thess. 5:24). Want Christus het ook my heiligmaking volmaak volbring; ook in my strewe na heiliging bly Jesus Christus my enigste geregtigheid voor God, selfs al kla my gewete my aan. Ek kan slegs uit genade lewe, ook in my heiliging. “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!” (Rom. 7:24-25)

Gemeente, ook Romeine 7 is deel van die drieluik. Ons mag hierdie pynlike realiteit wat so dikwels in die christen se lewe na vore kom, nie ontken nie. Want anders bly ons slegs oor met Romeine 6 en Romeine 8 – een en al uitbundige, geestelike groei, een en al oorwinning. Nee, hou die drieluik bymekaar, want slegs in die geheel sien ons die lewe van ‘n christen. Natuurlik mag jy die panele afsonderlik bekyk, maar jy moet hulle as geheel laat funksioneer. Dit is nie ‘n kwessie van óf lewe deur die Gees, óf terugval in die vlees nie. Die krag van Christus se Gees en die praktyk van ons sonde is beide aktueel in my lewe. Die Gees stry teen die vlees, en die vlees teen die Gees. En hoe pynlik hierdie proses ook al is, ons hoef daardeur nie wanhopig te word nie. Gaan terug na jou doop: Christus belowe die nuwe mens in jou, Hy belowe om van jou ‘n veelbelowende skepping van die Gees te maak. Treetjie vir treetjie, dis waar. Nog onvolgroeid, dis waar. Maar bruisend van nuwe lewenslus en toekomsperspektief. In die tweestryd wink die perspektief van die oorwinning.

En dit is ons laaste gedagte: die nuwe lewe.

 

3. Die werklikheid van Christus is groter en reik verder as Romeine 7. Vanweë Christus se voltooide werk kan en moet ons meer sê as slegs: “ek, ellendige mens.” Ons lewe is nie maar net ‘n eindelose heen-en-weer-beweging tussen sonde én vergifnis nie. Nee, ons kan verder kom in die geloof, in die liefde, in die heiligmaking. Want daar is lewe in ons, deur die Gees! Ons lewens is nie maar net nederlae, kommer en kwel nie. Ons glo immers in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Dit wat nie vanuit onsself moontlik is nie, maak Hy ‘n werklikheid. Die Gees blaas Christus se lewensasem in ons, en so word ons nuwe mense. En ook dít word in die doop uitgebeeld: ons onderdompeling simboliseer nie net ‘n onderdompeling in die bloed van Christus nie, maar ook in sy Gees. As ons dit ontken of verwaarloos, dan doen ons Christus se werk tekort.

Gemeente, ook in Romeine 8 skilder Paulus vir ons die wet as ‘n mag wat aanspraak maak op ons lewens. Daardie wet van die sonde eis jou ure, jou tyd, jou hart, jou gevoel, jou verstand – dit eis jou hele bestaan op. Maar daarteenoor eis die Gees van Christus liedevol jou lewe op vir Hom. Hy laat ons ervaar dat daar meer is om te beleef as slegs sonde, skuld, toorn en kommer. En so ontkiem daar geleidelik aan ‘n lewe deur die Gees. Dit beteken nie dat die tweestryd van Romeine 7 skielik agter ons lê nie. Nee, die normale lewe van die christen ken beide gelyktydig – én ons eie onmag, én die krag van die Gees. Maar ons leer geleidelik aan om te wandel deur die Gees (8:4).

En daarby is dit só belangrik wat ons intensie is, broers en susters. Nee, ons kry dit nie altyd reg om die goeie te doen nie, maar wat wíl ons? Wat is jou verlange? Dit is ‘n vraag na die liefde van jou hart. Dit is die vraag of jy deur Christus gegryp is, en daarom die heiliging najaag. Daardie intensie is van die grootste belang. Hoekom is dit so belangrik?

 

Want Paulus maak vervolgens in Romeine 8 duidelik dat ‘n lewe deur die Gees nie skielik ‘n oorwinningslewe geword het nie. Nee, ons sal bly deel in die lyding van Christus. Daar is leed en pyn in hierdie lewe. Daar is ‘n reikhalsende verlange na Chrisuts, daar is vrugteloosheid, daar is verganklikheid, daar is ‘n gekreun en ‘n gesug, daar is die pyn van die geboorte van die nuwe lewe, daar is die hoop op dit wat ons nog nie sien en nog nie ervaar nie. En die Gees ken dit alles! Hy weet van leed, ellende, vervolging, honger, armoede, bomenslike kragte, en dood. Maar ons mag weet dat uiteindelik alles ten goede meewerk vir hom of haar wat God liefhet (8:28). Niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie. Ons is meer as oorwinnaars!

 

Intussen… ja, intussen wandel ons in geloof, en nie in aanskouing nie. Die ou mens is sterwende, maar kan nog behoorlike stuiptrekkings gee. Die nuwe mens is besig om te groei, maar is dikwels nog so swak en kwesbaar. Hoekom? Hoekom op dié manier? Hoekom so stapsgewys? Hoekom nie eensklaps nie? Dis God se wysheid, gemeente. Op hierdie manier verdiep God steeds meer en meer ons insig in die sonde, en groei ons in verwondering en dankbaarheid oor die redding. Jy groei al hoe meer as nuwe mens in Christus. En jy sien uit na die finale voltooiing.

Broers en susters, wie Romeine 6 in geloof aanvaar, kan nooit tevrede wees met homself nie, kan nooit genoeë daarmee neem dat ons nog nie volmaak is nie. Wie Romeine 7 herken in sy eie lewe, hoef nie moedeloos te word nie, maar kan steeds weer terugval op Jesus Christus. En wie na Romeine 8 luister, begin uitsien na die goue toekoms wat wag. Dít alles word in die doop aan ons verkondig en belowe. Leer daarom jou doop verstaan, en wees gered!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 26:1, 2, 5 en 7

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 56:1 en 2

  • Kort formulier
  • Sing in voorbereiding Ps. 56:3
  • Voltooi formulier
  • Sing Ps. 56:4

Teks: NGB, artikel 34

Lees:    Romeine 6:1-12

            Romeine 7:1-4, 10-15, 24-25

            Romeine 8:1-4, 28-30, 37-39

            (koster kan eenvoudig Romeine 6-8 op die bord sit)

Kollekte

Sing Ps. 72:8 en 10 (sing as bevestiging en as belydenis dat ons graag ons gawes aan ons Koning

gee, uit Ps. 72:8 en 10)

Preek

Amenlied Skr. 16:4, 6 en 10

Gebed

Belydenis van geloof (ek sal opsê)

Slotsang Skr. 33:1 en 3

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)