die Heer oor die visse maak vissermanne bruikbaar

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-02-12
Teks: 
Lukas 5 : 1-11 en Jesaja 6 : 1-8
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten

 

Preek – Lukas
5:8 en 10b; lees Lukas 5:1-11 en Jesaja 6:1-8

 

Broers en susters,

Ken u die begeerte om van Jesus Christus te getuig, om vir ander
mense van Hom te vertel, om met ander mense te deel hoe goed Hy vir ons is? Leef
dit ook in u? Of het die getuienis in ons belewing, moontlik onbewustelik, ‘n
bysaak geword. Iets ekstra tot die gewone geloof? ‘n Nie-noodsaaklik
toevoeging?

Wel, gemeente, hoewel ons nie altyd so daaraan dink nie, het die nagmaal
en ons getuienis – of anders gestel: nagmaal en evangelisasie – alles met mekaar
te make. Alles! “Want – so begin die nagmaalsformulier met ‘n aanhaling uit 1
Korinthiërs 11 – so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig
julle die dood van die Here totdat Hy kom.” Verkondig! En dan kan die nagmaal
sekerlik nie slegs verkondiging wees vir die duur van die viering hier in die
kerk nie. Nee, die nagmaalsviering is verkondiging, en dit bring
ons vervolgens ook tot verkondiging.

Kom ons staan vanoggend hierby stil aan die hand van die wonderlike
visvangs in Lukas 5.

Tema: die Heer oor die visse maak vissermanne bruikbaar

  1. Simon se verootmoediging
  2. Petrus se verhoging

 

1. Gemeente, die tyd is verby dat Jesus onopgemerk en sonder gevolge
deur die land kan reis. Ná sy genesings en wonders in Lukas 4 is Hy eensklaps
alom bekend, en is daar voortdurend ‘n menigte wat Hom volg. Die skare ‘kleef’ as’t
ware aan Hom. En gevolglik, in hoofstuk 5, lyk dit asof Jesus die skare wil
ontvlug, want Hy klim in een van die twee visserskuite wat daar op die oewer
gelê het en vra vir die eienaar, Simon, om ‘n entjie van die land af weg te
vaar. Wil Hy regtig die skare afskud? Nee, broers en susters, ook op hierdie
dag blyk dit dat Jesus bereid is om die skare te onderrig. Hy maak van die
skuit sy preekstoel en gaan sit soos ‘n egte leermeester uit daardie tyd om die
skare te leer. En tog beklemtoon Jesus met hierdie ‘water-preekstoel’ van Hom dat
daar steeds ‘n sekere afstand tussen Hom en die skare is. Dit wil voorkom asof
die skare nog nie werklik deur die geloof by Jesus behoort of wil behoort nie. Hulle
wil sy prediking hoor en sy wonders sien, maar om hulleself werklik aan Jesus
oor te gee…? Hulle is soos ‘n skool visse wat voor die net verbyswem, maar nog
nie daarin gevang word nie…

Nou, gemeente, dit is teen hierdie agtergrond dat Jesus aan Simon ‘n
spesiale les wil leer. Die skare verdwyn vir ‘n oomblik van die toneel af,
hoewel hulle waarskynlik steeds aanwesig is, en Simon word vir die res van die
verhaal in die middelpunt geplaas. Wanneer Jesus naamlik klaar gepreek het,
beveel Hy Simon om uit te vaar en die nette te laat sak om vis te vang. Simon,
wat reeds deur Jesus geroep is tot volgeling, is gehoorsaam aan die opdrag van
sy Meester, hoewel hy waarskynlik nie die verbasing op sy gesig kon onderdruk
nie – hulle het dan al die hele nag hard gewerk en niks gevang nie. Soveel te
groter is egter Petrus se verbasing met die resultaat – soveel visse dat die
nette wou skeur! Hulle moet selfs hulle kollegas in ‘n ander boot nader roep om
te kom help. Simon het die vermoë van sy Meester onderskat!

 

En dit is dan wanneer hy voor Jesus neerval: “Gaan weg van my, Here,
want ek is ‘n sondige man.” Nie algemeen: ek is ‘n sondige mens, nie; nee, baie persoonlik: ek is ‘n sondige man. Petrus het Jesus se goddelike mag
gesien; hoe het Hy nie eerstehands ervaar dat Jesus Here van die visse is nie,
terwyl hy diep binne-in eintlik sy bedenkings gehad het. En daarom moet hy
vervolgens nou ook Jesus se goddelike gesag oor sy eie lewe erken; Hy is Here,
ook oor my. Maar, besef Petrus, as dít die geval is, dan durf hy – die sondige
man! – nie meer om in Jesus – die Here! – se nabyheid verder te lewe nie. Laat
Jesus asseblief afskeid neem van die mens Simon, want hy is ‘n sondige man. In
sy versoek vra Petrus eintlik vir ‘n ontbinding van die meester-leerling band
wat daar tussen hom en Jesus gegroei het. Hy is nie meer werd om in Jesus se
diens te staan nie.

Iets soortgelyks sien ons wanneer Jesaja in hoofstuk 6 van sy
profesie eweneens oog in oog te staan kom met die glorie van die
driemaal-heilige HERE van die leërskare, Wie se some die tempel gevul het en
Wie se heerlikheid die hele aarde volgemaak het. En dan is Jesaja se reaksie dieselfde
as dié van Petrus: “Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe…
my oë het die Koning, die HERE van die leërskare gesien!” Gemeente, dit is die
reaksie waartoe die mens gebring word, wat homself in die heerlikheid van God
leer ken, en wat besef: ek kán nie binne daardie heerlikheid beweeg nie, ek is
nie werd om so naby aan God te kom nie.

Voordat ons dit op onsself
van toepassing maak, kom ons let vervolgens eers op Petrus se verhoging
.

 

2. Jesus se antwoord op Petrus se ootmoed is vol bemoediging: “Vrees
nie!” Jesus, die Gebieder van alle skepsels (God self!), verdra die kleingeloof
van sy leerling. Hy sal Hom nie daaroor straf of pynig nie. Inteendeel, Simon
het nóú die les geleer waaroor dit werklik
gaan. Juis noudat hy van homself weet dat hy nie verdien om met Jesus in ‘n
verhouding te lewe nie, nie werd is om in Jesus se gevolg te verkeer nie, juis nóú
is hy gereed om mense te vang.

 

Deur die verwysing na mense
bring Jesus die skare, wat vir ‘n wyle op die agtergrond verdwyn het, weer
terug in die toneel. Hulle word in die kollig geplaas. Jesus en sy volgelinge
word in hierdie tyd naamlik omring deur die skare; hulle lê beslag op Hom. Maar
dit is die vraag of hulle hulself ook in beslag láát neem deur geloof in Hom;
hulle luister graag na Hom, maar glo hulle ook in Hom? Die antwoord op hierdie
vraag gee Jesus nou aan Simon: “Nee, hulle glo nog nie, maar moenie bekommerd
wees nie: Ek gaan hulle in beslag néém!” Soos wat Jesus die onwillige
skool visse op ‘n baie onwaarskynlike oomblik in Simon se nette gedryf het deur
sy goddelike krag, so sal Hy ook die skare, wat op ‘n afstand wil bly staan, gelowig
aan sy diens onderwerp. En daarvoor word Simon ingeskakel. Hy gaan mense vang
(letterlik: hy gaan mense krygsgevange neem). Simon moet dus nie, vanweë sy eie
tekortkomings, vir hierdie werk bedank nie; nee, deur sy goddelike mag géé Jesus
juis vir hom baie werk: “Van nou af sal jy mense vang.”

Van nou af – ja, Simon is nou gereed vir hierdie werk. Vanweë
sy verootmoediging. Hy het die regte vertrekhouding bereik; dié van die
tollenaar: “O God, wees my sondaar genadig!” Simon se verootmoediging maak hom gereed vir sy werk as Petrus, die rots waarop Christus sy kerk
wil bou. Nie die rots omdat hy so geweldig indrukwekkend is nie, maar die rots
omdat hy in sy kleinheid en nederigheid Christus kan gaan verkondig. Christus,
wat vir vreesbevange sondaars sê: moenie vrees nie! En, gemeente, ons sien
dieselfde weereens by die profeet Jesaja – nadat Jesaja sy eie onwaardigheid en
sondigheid voor die driemaal-heilige God uitgespreek het, kom daar ‘n engel na
hom toe aangevlieg met ‘n gloeiende kool vanaf die altaar in sy hand waarmee hy
Jesaja se lippe aanraak. Dit simboliseer, volgens vers 7, die vergifnis van al
Jesaja se sonde: “Kyk, jou skuld is weg en jou sonde versoen.” En as die Here
dan vervolgens vra wie Hy sal stuur om sy boodskap aan die volk oor te bring,
ja, dán
is Jesaja gereed om te gaan: “Hier is ek, stuur my.”

 

Broers en susters, wat ‘n kragtige stukkie onderrig gee Jesus in
hierdie gedeelte, ‘n gedeelte wat ons nêrens anders as slegs hier in Lukas se
evangelie vind nie. ‘n Kragtige stukkie onderrig vir elkeen van ons wat vandag
nagmaal gaan vier. Jesus wil by ons die regte houding bewerk! Jesus soek by ons
‘n houding van verootmoediging, ‘n besef van wie ons werklik is. Nie voor die
mense nie, maar voor die heerlikheid van God. Wie is ek voor God? Wat bly daar
van my eiedunk oor wanneer ek met sy heerlikheid en almag gekonfronteer word? Nee,
die idee is nie om jou moedeloos te maak en in jouself te laat keer nie;
wanneer die Skrif tot opregte ootmoedigheid oproep dan is die bedoeling nie om
christene te verlam en swartgallig te maak nie. Nee, wanneer jy op jou knieë
voor God se heerlikheid gedwing word, dan bring dit jou by Jesus Christus. En ek
roep daarom elkeen wat daardie gesindheid het, op om saam die nagmaal te kom
vier, klein voor God. En hoor dan die stem van die lewende Christus, die
Gasheer hier aan die tafel, wat sê: “Moenie vrees nie!” Ja, hier aan die tafel
kry ek, deur die geloof, die versekering dat ek nie nodig het om myself van
Christus af te verwyder nie. Dit is waar, in my onwaardigheid wil ek eintlik sê:
“Here, gaan weg van my!”, maar in sy liefde sê Christus: “Kom na My!”

 

En, gemeente, slegs op dié manier word ons bruikbaar vir Jesus
Christus, slegs met so ‘n gesindheid kan Hy ons gebruik. Die persoon wat weet
hoe onnuttig hy voor die Here is, hy word nuttig vir die Here. Want geen mens,
wat in wese tevrede is met homself, gaan Christus in al sy heerlikheid verkondig
nie; so iemand sal ook nie bereid wees om alles agter te laat en Jesus te volg,
soos wat ons van die dissipels in vers 11 lees nie. Nee, so iemand gaan baie
eerder homself verkondig, so iemand gaan eerder homself bevorder.

Slegs daardie mens wat eintlik in die grond wil wegsak vanweë
skaamte oor sy eie lewe, slegs daardie mens word ‘n bruikbare werktuig in die
hande van die Meester. Van homself het so iemand niks om te bied nie – en hy
weet dit maar al te goed! – maar dan gee die Here Jesus hom alles: lewe, vrede,
geregtigheid, heiligheid, vernuwing, hoop, geloof, liefde. Dit alles ontvang hy
uit genade. En dit alles mag en wil hy vervolgens ook gaan uitdeel. Dáárdie
persoon verstaan: verniet het ek dit ontvang, verniet mag ek dit weggee. Sover
wil die Here Jesus ons bring – Hy wil by ons die regte vertrekhouding bewerk,
sodat die lewende water ons lewens kan vul en sodat ons vervolgens self ‘n
fontein van lewende water word wat uitvloei na buite.

Laat dit nie so wees dat, wanneer Jesus Christus terugkom, Hy oor
ons moet sê dat ons nie sy dood verkondig het nie; dat ons nagmaal gebruik het
in ons klein hoekie, sonder om daarmee ‘n kragtige boodskap aan die wêreld te
laat klink. Laat ons nagmaalsviering werklik verkondiging wees, ‘n boodskap vir
die wêreld: daar is geen ander Naam onder die hemel waardeur ons gered kan word
nie! Daarom eet ons in geloof en nederigheid die brood en drink ons die wyn,
want daar is eenvoudig geen ander Redder nie. En dieselfde doen ons môre by die
werk en by die skool, met die nasmaak van brood en wyn as’t ware nog in ons
mond – dan bely ons teenoor kollegas en vriende en mede-leerlinge Jesus
Christus. Laat ons mense vang, laat ons hulle krygsgevange neem, lewende buit
in die visnette van die Here Jesus. En of ons gemeente dan gaan groei? Ons weet
nie, maak ook nie saak nie. Maar dan is ons wel getroue medewerkers aan die
tweede bede: “Laat u Koninkryk kom!”

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie
(oggend)

 

  • Voorpsalm Skr. 11

Votum Ps. 121:1

Seën: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van ons
Here Jesus Christus. Amen

Sing Ps. 19:1 en 4 (die Here groet ons nie as onbekende; ons ken Hom
uit skepping & Skrif)

Kort gebed vir die opening van die Woord

Lees:    Lukas 5:1-11

            Jesaja 6:1-8

Teks: Lukas 5:8 & 10b

Preek

Sing Ps. 51:6 en 7

Nagmaalsformulier

  • Ná wetslesing Ps. 51:8
  • Terwyl tafel in gereedheid – sing Geloofsbelydenis
  • Aan tafel: Opwekking…
    • 1ste Ps. 103:1 en 2
    • 2de  Ps. 103:4 en 5
    • 3de Ps. 103:6 en 7

Voltooi formulier + gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 67

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)