Die Here maak 'n begin met die verlossing van sy volk..en Hy laat nooit vaar wat sy hande begin het nie

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2012-02-05
Teks: 
Rigters 13:3-5
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Rigters 13:3-5; lees Rigters 13, Numeri 6:1-8

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

U onthou mos nog van die vorige preek uit die boek Rigters hoe die Here, nadat Israel Hom met sewe ander gode vervang het (10:6), die volk gestraf het deur hulle in ‘n benouende knyptang te plaas, reg in die middel van twee bedreigende nasies. Ons lees daarvan in Rigters 10:7: “Daarom het die toorn van die Here ontvlam teen Israel, en Hy het hulle verkoop in die hand van die Filistyne en in die hand van die kinders van Ammon.” Van twee kante af is Israel bedreig – vanuit die ooste deur die Ammoniete, en vanuit die weste deur die Filistyne. Maar die Here se genade oor sy volk is groot! Om die 18-jaar lange onderdrukking van die Ammoniete te breek, verwek die Here die rigter Jefta (dit is waaroor hoofstukke 11 en 12 gegaan het). En om die 40-jaar lange onderdrukking van die Filistyne te breek, gee die Here aan sy volk die rigter Simson (dit is waaroor hoofstukke 13-16 gaan).

En wie van ons ken nie die verhale van Simson nie? Wie kan ooit vergeet van die leeu wat hy met sy kaal hande doodgemaak het, van die jakkalse wat hy met hulle sterte aan mekaar vasgebind het, van die keer toe hy die geheim van sy krag verklap het en sy hare gevolglik afgesny is, van daardie laaste kraginspanning toe hy die pilare van die tempel van Dagon inmekaar laat tuimel het... Pragtige verhale! Dit is van die eerste verhale wat ons vir ons kinders voorlees. Maar, broers en susters, hoe mooi en lewenseg hierdie verhale ook al mag wees, uiteindelik gaan dit hier nie in die eerste plek oor Simson nie; ons oe’s en ah’s moenie wees oor Simson se heldedade nie, maar ons moet die Here se wonderlike weg met sy volk leer raaksien. En dit wil ek vandag aan u probeer wys; die tema vir die preek is:

Tema: die Here maak ‘n begin met die verlossing van sy volk… en Hy laat nooit vaar wat sy hande begin het nie!

 

Gemeente, die Filistyne… hulle is amper net so bekend soos Simson self! Soos wat ‘n mens die verhale van die Ou Testament leer ken, kom jy agter dat die Filistyne nooit ver van die aksie af is nie. Hulle is elke keer maar weer daar om Israel lastig te val en van die Here af weg te trek. Maar… het die Here dan nie belowe dat die gebied van die Filistyne ook deel van Israel se grondgebied sou word nie? Dink maar net aan wat die Here sê in Exodus 23:31: “En Ek sal jou grense vasstel van die Skelfsee af tot by die See van die Filistyne, en van die woestyn af tot by die Eufraat.” En op sy oudag word Josua deur die Here hieraan herinner: “Jy is oud en ver op jou dae, en daar het nog ‘n baie groot stuk land oorgebly om in besit te neem”, en dan word die landstreek van die Filistyne as een van die gebiede genoem wat die Here nog vir sy volk wil gee (Jos. 13:1-2). Maar wat het dan van hierdie belofte geword? Wel, gemeente, u onthou mos nog wat aan die begin van die rigtertyd gebeur het – dat die volk, na ‘n ywerige begin, nagelaat het om alle omringende nasies uit Kanaan te verdryf, en dat die Here dan onder andere die Filistyne laat oorbly om sy volk mee op die proef te stel… Gaan lees maar weer hoofstuk 1 om jou geheue te verfris.

En hét die Filistyne Israel nie op die proef gestel nie! Die Filistyne word deur die geskiedenis as’t ware die boegbeeld van heidense onderdrukking, hulle word die simbool van die verleiding van God se volk; hulle word vir jare lank Israel se aartsvyande by uitstek. Daarom is dit ook juis die Filistyne wat in die Bybel aangedui word as die ‘onbesnedenes’ – die enigste volk wat konkreet op dié manier aangedui word. En wanneer hulle so genoem word, gemeente, dan gaan dit nie maar net daaroor dat hulle nie deel gehad aan die besnydenis nie, dat hulle nie deel gehad het aan die teken van lewe in God se verbond nie. Nee, dan gaan dit oor baie meer: hulle was die teenoorgestelde van die besnydenis, hulle was die kontras van die léwe wat deur die besnydenis uitgebeeld is. Die Filistyne was die versinnebeelding van die dóód!

 

En aan hierdie ‘doodsvolk’ gee die Here sy volk nou oor nadat sy volk weereens gedoen het wat verkeerd is in sy oë (Rigt. 13:1). Voel u die erns, gemeente? Die kerk van die Ou Testament kom in die mag van die Filistyne, die onbesnedenes, en daarmee kom hulle onder die heerskappy van die dood. Die kerk word ‘n kerkhof, ‘n geestelike begraafplaas. Veertig jaar lank – en daar is geen uitsig en geen toekoms nie.

Is dit, in die lig van hierdie uitsiglose situasie, vreemd dat die Here juis na Manoag en sy vrou toe kom, na hierdie egpaar wat onvrugbaar was en geen kinders gehad het nie? Nee, gemeente, hierdie vrou waarvan ons die naam nie eens ken nie, is nie maar net ‘n lukrake vrou… wat toevallig ook kinderloos is nie. Nee, hierdie kinderlose vrou word doelbewus deur die Here gekies om daarmee aan sy volk ‘n boodskap oor te dra: “Israel, só is julle! My volk, só is júlle toestand!” En dit is nie die eerste keer dat die Here op dié manier te werk gaan nie, gemeente. Inteendeel, hierdie vrou staan in ‘n lang lyn van onvrugbares: vóór haar was daar die onvrugbare Sara, die onvrugbare Rebekka, die onvrugbare Ragel, en ná haar was daar die onvrugbare Hanna en die onvrugbare Elisabet. ‘n Aaneenskakeling van onvrugbares – want só is die toestand van God se volk, só is hulle onvermoë om vir hulleself ‘n toekoms te skep uit die ellendige situasie van sonde en verdrukking. Manoag se vrou word, soos talle ander prominente vroue in Israel se geskiedenis, ‘n simbool van die kollektiewe onvrugbaarheid en uitsigloosheid van die volk Israel.

 

En dít terwyl God dit so anders wou gehad het…

Want God het juis gesoek na ‘n volk wat afgesonder was net vir Hom, ‘n heilige volk, ‘n volk om Hom te dien en vrees, en skape van sy wei te wees (Ps. 100:2 ber.). Maar Israel kón dit nie wees nie, in elk geval nie uit eie krag nie. En daarom dat die Engel van die Here moet ingryp in Israel se onvermoë: “jy is onvrugbaar, máár jy sal swanger word en ‘n seun baar.” ‘n Pragtige boodskap vir hierdie vrou, nie waar nie?! God skenk onvrugbares sy troos, en maak hul moeders van ‘n kroos, loof God met eer- en dankbewyse! (ons het voor die preek daarvan gesing uit Ps. 113)

Maar, gemeente, let mooi op: die Engel skenk nie maar net ‘n kind aan hierdie vrou nie, Hy hef nie slegs haar kinderloosheid op nie. Simson is nie maar net nog ‘n kind wat in hierdie uitsiglose, Filistyns-beheerde doodsbestaan inkom nie. Nee! En ons sien dit in die instruksies wat God vervolgens aan die moeder gee. Daaruit blyk duidelik: buiten die nuwe lewe wat God gee in die geboorte van die kind, gee Hy aan hierdie kind ook ‘n nuwe lewensrigting; hierdie kind word vanaf sy allereerste begin alreeds op ‘n ander – ‘n nuwe! – weg geplaas. Hy word nie maar net ‘n statistiek van die onderdrukte Israel nie, maar hy word op ‘n besondere wyse aan die Here gewy! Simson word ‘n nasireër!

 

Ja, gemeente, Simson word vanaf sy geboorte deur die Here afgesonder vir die nasireërskap. Ons het van hierdie verskynsel gelees in die eerste verse van Numeri 6. En waaroor gaan dit presies in die nasireërskap? Wel, die nasireërsgelofte was in wese ‘n tydelike afsondering van die normale daaglikse  lewe om op ‘n besondere manier aan God gewy te wees. ‘n Nasireër was ‘n man of vrou wat hulleself vrywillig daartoe gewy het om vir ‘n bepaalde tyd drie spesifieke dinge te vermy:

  1. In die eerste plek het die nasireër weggebly van enige iets wat van die wingerstok gekom het – nie net wyn en sterk drank nie, maar selfs die pitte en doppe van die druiwe is vermy. Hoekom? Want druiwe was die primêre simbool van vreugde in die antieke wêreld, en daarom was onthouding van druiwe ‘n lewendige prentjie van die nasireër se onthouding van die normale vreugdes van die lewe.
  2. In die tweede plek het nasireërs ook hulle hare laat groei, onbeperk; nooit is dit gesny nie. En aangesien die hare ‘n lewendige onderdeel van die liggaam is, is die lang hare ‘n simbool van die lewe van ‘n persoon – en oor daardie lewe moes die nasireër nie self beheer wou uitoefen deur dit te laat sny nie. Onbeperkte haargroei was dus ‘n teken dat die nasireër sy lewe aan God se beheer oorgegee het. God hou die leisels van die lewe in sy hande!
  3. En ten slotte moes die nasireërs ook heeltemal wegbly van enige iets of iemand wat gesterf het, selfs van die liggame van hulle oorlede geliefdes. Dit was ‘n duidelike bewys van hulle algehele afskeiding van die sfeer van die dood om uitsluitlik die lewende God te kan dien.

En wat nou opmerklik is, is dat elkeen van hierdie areas van toewyding – naamlik die onthouding van alkohol, onbeperkte haargroei, asook die vermyding van kontak met lyke – dat aldrie hierdie areas van onthouding in ‘n mindere of meerdere mate spesifiek ook vir die priesters in Israel gegeld het. Ons kan dus ‘n verband lê tussen die nasireërskap en die priesterskap; ‘n mens sou amper kon sê dat die nasireër vir ‘n tyd lank as’t ware ‘n soort leke-priester geword het – iemand wat vrywillig en vir ‘n vasgestelde tyd gelewe het volgens dieselfde spesiale vlak van reinheid wat gegeld het vir die priesters, hulle wie se lewens voortdurend in God se teenwoordigheid was.

 

Nou, gemeente, dít wat ons sopas bespreek het rondom die nasireërskap, is presies wat die Here hier in Rigters 13 vir Simson oplê. Die Here maak van Simson ‘n nasireër, hoewel op ‘n uitsonderlike wyse… Want Simson neem dit nie vrywillig op  hom, soos wat die gewoonte was nie, maar hy ontvang dit as ‘n opdrag; en verder ontvang hy dit nie slegs tydelik nie, maar lewenslank. En selfs sy moeder word by Simson se nasireërskap betrek wanneer sy deur die Engel opgedra word om haarself tydens die swangerskap te weerhou van wyn of sterk drank en om niks te eet wat onrein is nie.

Maar afgesien van hierdie uitsonderings, is dit steeds baie duidelik: Simson word doelbewus deur die Here afgesonder tot ‘n nasireër! En daarin kom die boodskap: net soos wat sy moeder simbool was van ‘n onvrugbare en uitsiglose volk, so moet Simson deur sy nasireërskap ‘n simbool wees (‘n voorbeeld wees) van ‘n toegewyde volk. Deur Simson op dié manier in ‘n nuwe lewensrigting te stuur, wil God uiteindelik sy hele vólk in ‘n nuwe lewensrigting stuur; deur Simson op dié manier aan Hom te wy, wil God uiteindelik sy hele vólk bring toe egte en duursame en hartlike toewyding.

Want dít is mos wat die Here gesoek het by sy volk; Hy het hulle uit Egipteland uitgelei om vir Hom ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie te wees (Ex. 19:6). En daarom was sy volk veronderstel om hulleself af te skei en te onderskei van die ander nasies – iets wat helaas nie gebeur het nie. En daarom was die nasireërskap in Israel ‘n voortdurende herinnering vir die volk: só is ons veronderstel om as volk aan die Here gewy wees. Die wet van die nasireërs was dus nie bedoel om ‘n hele klomp nuwe nasireërs te werf nie; dit was eerder ‘n sigbare herinnering aan die volk dat hulle tot op daardie stadium nog ver onder die standaard van God se heiligheid gebly het. Die nasireërs was geroep om heilig te wees, juis omdat Israel nie heilig was nie! Die nasireërs was vir ‘n tyd lank geroep om ‘n miniatuur koninkryk van priester te wees, juis omdat die volk nie ten volle en voortdurend aan God gewy was nie. Nou, as daar ooit ‘n tyd was waarin die volk behoefte gehad het aan só ‘n voorbeeld van toewyding, dan was dit in die tyd van die Filistynse onderdrukking. En dít moes Simson nou ook aan Israel gaan voorleef! Hy moes die volk voorgaan in toewyding en heiligheid – en só, op dié manier, sou hy ‘n begin maak om Israel uit die hand van die Filistyne te verlos, soos wat die Engel aan die einde van vers 5 voorspel.

 

Maar dinge het, helaas, anders verloop…

Want om eenvoudig ‘n gelofte van heiligheid af te lê óf om die nasireërskap op iemand te lê, maak nog nie daardie persoon van binne-uit nuut nie. En dit is helaas wat ons in Simson se lewe sien. ‘n Minder toegewyde nasireër as Simson sal jy waarskynlik nie kry nie; daar was waarskynlik nog nooit ‘n nasireër wat sy gelofte so dikwels verbreek het soos Simson nie. En ons sien dit alreeds by die eerste episode van Simson se volwasse lewe waarvan Rigters 14 ons vertel, naamlik Simson se begeerte om ‘n Filistynse vrou te trou – in plaas daarvan om homself ver te hou van die onbesnede vyande van die Here, wil Simson met een van hulle in die bed spring. Oppad om met hierdie Filistynse vrou te gaan trou, draai Simson af om te gaan kyk na die lyk van die leeu wat hy doodgemaak het – as ‘n nasireër was hy juis veronderstel om van enige lyk af weg te bly, maar Simson word meer deur sy lus vir die heuning as deur sy roeping gemotiveer. Toe hy vervolgens by die huis van sy toekomstige skoonouers aankom, het hy daar ‘n uitspattige fees gehou – die Hebreeuse woord vir ‘fees’ kom van die werkwoord ‘om te drink’ – en die kanse is skraal dat Simson hom tydens hierdie uitgerekte fees van alle alkoholiese dranke weerhou het. Dus, ook daardie deel van sy nasireërsgelofte het platgeval. En ten slotte sien ons dat hy aan Delila die bron van sy krag verklap het, met die gevolg dat al sy hare afgesny word, waardeur ook daardie onthouding verbreek is.

Gemeente, in plaas daarvan dat Simson ‘n weerspieëling was van wat Israel moes wees – ‘n heilige nasie, afgesonder vir die Here – was Simson eerder ‘n model van wat Israel in werklikheid was, ‘n volk wat ontrou was aan haar roeping om heilig te wees…

 

Simson het inderdaad begin om Israel te verlos (vers 5b), maar meer as ‘n begin kon dit nooit wees nie. En ons sien dit in die feit dat die Fariseërs eers baie jare later, onder Dawid, finaal verslaan is. Maar ook in sy eintlike taak, naamlik om ‘n heilige volk vir God te berei, het Simson nie geslaag nie. ‘n Ander nasireër was nodig. En dit het nie slegs van Simson gegeld nie, gemeente, dit het van elke ander nasireër gegeld. Geen nasireër kon aan die einde van sy nasireërstydperk selfvoldaan na God toe gaan en sê: “Kyk, hier is ek! Was ek nou nie ‘n wonderlike bate vir u Koninkryk nie?!” Inteendeel, gaan lees maar rustig Numeri 6 by die huis verder, dan sal u sien hoeveel offers die nasireër aan die einde van sy gelofte-tydperk aan die Here moes bring – ‘n brandoffer, ‘n sondoffer, ‘n dankoffer, ‘n spysoffer. Omtrent alle denkbare offers in een slag… Voordat die nasireër in die teenwoordigheid van die Here ‘n maaltyd kon vier, moes daar dus eers versoening gedoen word. Kan jy glo, ná al daardie toewyding, ná al daardie onthouding van aardse plesier… nog steeds versoening! Selfs ons beste werke van toewyding skiet ver te kort as dit gemeet word aan God se perfekte standaard.

Wat Israel nodig gehad het, was iemand wat permanent en finaal en volmaak die nasireërsrol kon vervul. Hulle het iemand nodig gehad wat bereid sou wees om Homself alle vreugdes van die lewe te ontsê, iemand wat bereid sou wees om volle beheer van sy lewe oor te gee, iemand wat bereid sou wees om sy lewe op te gee, iemand wat vir God ‘n heilige volk kon berei. Simson was verseker nie daardie persoon nie. Maar, broers en susters, ons weet vandag Wie dit is – Jesus Christus, die enigste en volmaakte Nasireër! Hy was vanaf sy geboorte volmaak aan God gewy deur die innerlike heiligheid wat sy hele lewe deurstraal het. Sy heiligheid was nie in uiterlike dinge, soos onthouding van wyn en vermyding van dooies nie – inteendeel, Hy het dan water in wyn verander, en Hy het gereeld aan dooies geraak en hulle tot lewe gebring. Nee, sy heiligheid was in die innerlike toewyding van die hart! Jesus Christus het volle beheer van sy lewe aan sy Vader oorgegee, sodanig dat Hy in die aangesig van die kruis uitgeroep het: “laat nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied!” Jesus Christus se lewe was sonder vlek of rimpel – Hy het geen sonde, bewustelik óf onbewustelik, gehad nie. Hy het geen offer nodig gehad as versoening vir sy sondes nie. Hy het eerder sy lewe as offer gegéé, sodat ons kan deel in die feesmaal van ons hemelse Vader! Hy het nie slegs begin om die volk te verlos nie; nee, Hy het dit end-uit deurgevoer. Dit is volbring! – so was sy uitroep aan die kruis. Simson het slegs ‘n klein begin gemaak, maar Christus het die volle taak volbring. God laat nooit vaar wat sy hande begin het nie!

 

En so kan ons vandag verder kom as Simson, gemeente! Moenie fout maak nie, ons onvrugbaarheid, ons uitsigloosheid is net so groot soos dié van Israel in Simson se tyd. Ons is net so troueloos soos die volk in die rigtertyd. Maar ons Nasireër is anders! Sy toewyding en opoffering was volmaak, en die Gees van sy Nasireërskap rus op elkeen wat waarlik in Hom glo! In Hom vind ons die voorbeeld, maar meer nog – die krag – vir óns volkome toewyding. Kom daarom na Hom toe, die lewende steen… en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus (só lui Petrus se oproep in 1 Petrus 2:5). En net daarna in vers 9: “… julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk”.

Gemeente, die nasireërskap van Numeri 6 het verval, dit geld nie meer nie. Nie omdat toewyding aan God nie meer vereis word nie. Inteendeel, in Christus het die nasireërskap volmaakte vervulling gevind. En wanneer ons sy oorgawe en toewyding oordink – juis in ons voorbereiding op volgende week se nagmaal waar sy toewyding voor ons afgeskilder word in die brood en die wyn – dan behoort ons in ons harte oortuig te wees van die oproep tot heiligheid wat na elkeen van ons toe kom.

 

‘n Toewyding wat ons hele lewe deurstraal…

Die nasireër van die Ou Testament het alle druif-produkte opgegee as deel van sy gelofte; Jesus Christus het die heerlikheid van die hemel opgegee om jou verlossing te verwerf. Waaraan klou ons vandag vas, gemeente? Wat is dit waarna jy streef? Dalk is dit ‘n slegte gewoonte wat jy nie bereid is om te breek nie, dalk ‘n aardse plesier wat jy nie wil laat gaan nie. Dit hoef nie noodwendig sondig te wees nie, maar dalk het dit vir jou meer kosbaar geword as wat dit behoort te wees. Onthou dan dat ons geroep is om ‘n koninkryk van priesters te wees, volledig toegewy aan God alleen.

Verder hoef ons nie meer ons hare onbeperk te laat groei nie, maar is ons bereid om die beheer van ons lewe oor te gee? Dikwels leef ons nog onder die illusie dat ons die krag het om ons lewens te stuur. En wanneer God dit dan in ‘n rigting stuur wat ons nie sou gekies het nie, dan skop en skreeu ons uit frustrasie omdat ons besef dat ons nie in beheer is nie. En daarom moet ons Jesus se woorde leer na-sê: “nie my wil nie, maar U wil geskied”, selfs al sien ons dat die pad vorentoe nog baie swaar gaan wees.

En ten slotte hoef ons vandag nie meer ver weg te bly van die liggame van ons geliefdes wanneer hulle gesterf het nie, maar weerhou ons onsself wel van die sfeer van die dood en die sonde? As ons sê dat ons met God gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie (1 Joh. 1:5-7). Daar behoort dus ‘n verskil te wees tussen jou lewenstyl en dié van die wêreld om jou heen. Ons harte behoort daarna te verlang om afgeskei te wees van die geestelike dood en korrupsie wat ons omring.

 

Broers en susters, hier vind ons die boodskap en die oproep in die geboorteverhaal van Simson. Ons volmaakte Nasireër het gekom – wy nou ook jou lewe in diens aan Hom! Gaan julle kind (Hugo) daarin voor, sodat hy kan sien wat ‘n heilige lewe is. Nee, nie ‘n lewe van moets en moenies nie, maar ‘n lewe uit liefde vir die Here!

Dit is belangrik dat ons dit verstaan, gemeente: die nasireër was nie ‘n askeet nie, iemand wat van alle mooi dinge afstand gedoen het nie, iemand wat van moets en moenie gelewe het nie. Nee, die nasireër het slegs vir ‘n tyd lank sekere dinge opgegee, wetende dat hy aan die einde van sy nasireërskap in die teenwoordigheid van die Here kon gaan sit om ‘n verbondsmaaltyd te geniet. En net so is dit met ons ook: wat ons ook al in hierdie lewe opgee, dit is net tydelik. Daar kom ‘n einde wanneer alle trane van ons oë afgevee sal word en ons die maaltyd van ons Here sal geniet. Jesus is reeds besig om daardie maaltyd vir ons voor te berei. Dan sal alle aardse swaarkry en verdriet wees soos ‘n ligte verdrukking in vergelyking met die alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid wat vir ons berei is. Hou dít voor oë, sodat jy met God se krag kan volhard op die pad van heiligmaking. En laat ons só, as heilige volk, as vrugbare volk, God aan die nagmaal ontmoet.

Amen

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 110:1-5

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 9:1, 7 en 10

Wetslesing + HK, Sondag 36 (derde gebod)

Sing Ps. 86:6 en 8

Gebed

  • Doopsformulier
  • Doopsbediening en dankgebed
  • Sing Ps. 115:7

Lees:    Rigters 13

            Numeri 6:1-8

Sing Ps. 113:2 en 3

Teks: Rigters 13:3-5

Preek

Amenlied Ps. 138:1 en 4

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 100:2-4 (wysie in die boekie)

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)