NGB Art 32 : Slegs in die vryheid is daar ruimte vir die gebondenheid

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-01-22
Teks: 
Kolossense 2; Lukas 8 en Mat 18
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten

 

Preek – NGB,
artikel 32

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Afgelope Maandagaand was daar ‘n vergadering van die twee gemeentes
– Maranata en Pretoria – saam met afgevaardigdes van ons Nederlandse
susterkerke rondom ontwikkelinge in Nederland. ‘n Mooi geleentheid om met
mekaar verder te praat! Nou sal waarskynlik die meeste van ons erken dat daar inderdaad
kommerwekkende ontwikkelinge in ons susterkerke is; baie van ons broeders en
susters in Nederland erken dit self ook. Gevolglik was daar ook goeie rede om
vrae aan die Nederlandse deputate te stel… En tog het enkele van die vrae my ietwat
verbaas. Vrae oor, byvoorbeeld, die kleredrag wanneer lidmate Sondae kerktoe
kom, vrae oor die gebruik van ander musiekinstrumente in die eredienste, vrae oor
die spesifieke aandag vir kinders in die eredienste… Asof – en dis waarskynlik
nie hoe die vraagstellers dit bedoel het nie, maar dit is wel hoe dit oorgekom
het – asof hierdie sake vir ons deurslaggewend geword het vir regsinnigheid of
vrysinnigheid!

 

Ek het vanoggend netjies aangetrek; die meeste van u ook, sien ek. Verder
gebruik ons eintlik maar net die orrel hier in ons midde; ons het selfs ‘n nuwe
orrel aangeskaf omdat die ou een nie meer deug nie. En daarby sou ek dit nie
waag om tydens die preek ‘n vraag vir die kinders te stel om deur hulle
beantwoord te word nie. Maak dit alles my regsinnig? Maak dit ons gereformeerd?
Nee, maar natuurlik gaan dit nie daaroor nie, sal u sê. Nou goed, maar dan bly
die vraag: wat is die gewig wat ons toeken aan ons kerklike gebruike óf ons
kerklike afkeure? Hoe deurslaggewend is dit vir ons?

U ken die verhaal in Rigters 12, waar dit gaan oor Israel wat, as
gevolg van ‘n onderonsie kort tevore, die manne van Efraim by die rivier-driwwe
voorgekeer het; as enige iemand wou deurgaan dan moes hy ‘sjibbolet’ sê. As hy
‘sibbolet’ gesê het, volgens die dialek van Efraim, is hy summier doodgemaak. Sjibbolet
– presies so en nie anders nie! – was dus die wagwoord, hierdie uitspraak was
deurslaggewend. Nou, broers en susters, wat is óns ‘sjibbolet’? Wat is vir ons deurslaggewend
vir ons kerk-wees? Wat maak dat ek vir u aanvaarbaar is, en u vir my? En so het
ons in die middel van artikel 32 van die NGB beland…

Tema: slegs in die vryheid is daar ruimte vir die gebondenheid!

  1. Die christelike orde
  2. Die christelike tug

 

1. Gemeente, reëls en orde is goed, dit is nodig. Dit geld vir ‘n gesin,
dit geld vir ‘n besigheid, dit geld vir die regering, vir ‘n skool, vir ‘n
sokkerklub of posseëlvereniging, maar dit geld net so goed vir die kerk van die
Here. Ons hoef glad nie verontskuldigend te wees oor die feit dat ons ‘n
kerkorde het nie, ons hoef ons nie te skaam vir die ‘reëls’ van die kerk nie.
Want sonder reëls, sonder ‘n bepaalde orde, sal geeneen van die
samelewing-strukture, wat ek sopas genoem het, oorleef nie. En enige iemand wat
vanuit ‘n hedendaagse vryheidsgevoel wil maak asof reëls vreemd is aan die kerk
en beperkend is vir die lewende geloof, wat wil maak asof die Heilige Gees los
is van enige orde, is self ongeestelik besig.

Want dit is nie Wie ons God is nie! Ons hoef maar net terug te gaan
na daardie allereerste begin (Genesis 1) om te sien dat God verseker óók ‘n God
van orde is – die skepping in sewe dae, met elke dag sy eie, unieke
ontwikkeling, getuig immers van baie goeie beplanning. En daarby het God ook binne
die geskapene ‘n duidelike orde aangebring: daar was plante wat saad gee
volgens hulle soorte, bome wat vrugte dra volgens hulle soorte, seediere en
voëls volgens hulle soorte, vee en wilde diere volgens hulle soorte. God het
nie maar blindelings en voor die voet geskep nie; nee, daar was orde en
beplanning, die geskapene is duidelik geklassifiseer en gekategoriseer.

 

En nou is dit opmerklik dat Paulus, in sy brief aan die gemeente in
Kolosse, hom presies híéroor verbly. Hoe weet ek dit? Wel, hy sê in hoofstuk 2:5:
“… ek verbly my om julle goeie orde
te sien.” Nou, die Griekse woord wat Paulus hier gebruik vir ‘goeie orde’, is taksis, en dit is waarvan die Afrikaanse
woord ‘taksonomie’ afgelei is. Taksonomie – nie die vaagste benul wat dit
beteken nie (toemaar, jy is waarskynlik nie die enigste nie). Maar die
woordeboek sê vir ons dit is die leer van die sistematiek, taksonomie dui op ‘n
sisteem van rangskikking en klassifikasie. En nou sê Paulus sowaar: “Ek is so
bly om dít by julle te sien!” Ongelooflik, nie waar nie, dat Paulus hom nou oor
so iets kan verbly…

Maar oppas, gemeente, dit is nie maar net ‘n koue orde waaroor
Paulus hom verbly nie, hy is nie maar net bly om te sien dat die Kolossense ‘n
boekie op die rak het waarin hulle opgedateerde kerkorde staan en waarin die
liturgie tot op die letter uitgewerk is nie; nee, hy verbly hom oor die orde
van die Kolossense se gelóóf! Ons vertaling is op hierdie punt effens
verwarrend. In ons vertaling staan daar naamlik: ek verbly my om julle goeie
orde te sien… én die vastigheid van julle geloof – asof die orde een ding is, en
die vastigheid van die geloof ‘n totaal ander ding. Maar letterlik staan daar: “ek
verbly my om te sien die orde en vastigheid van julle geloof.” Die orde verwys
dus direk na die geloof. Paulus is bly om ‘n bepaalde orde in die geloof van
die Kolossense te sien, om te sien dat hulle as gemeente ordelik in die geloof
staan. Geloof is ordelik!

 

Maar voordat jy nou terugsit en dink: “goed, ek het die punt: die
geloof is ordelik”, en jy jouself vervolgens voorneem om opnuut die Kerkorde te
gaan bestudeer sodat jy goed kan weet wat die reëls is wat ons in die kerk moet
nakom… wag eers! Ons moet naamlik nog ‘n bietjie verder gaan. Want ons is nog
nie daar nie, ons het nog nie by die kern uitgekom nie. Paulus sê nog meer; hy
sê: ek verbly my om te sien die orde en vastigheid van julle geloof in
Christus
! Ja, nou is ons by die kern, broers en susters – Jesus
Christus! Hy is die begin en die einde van alle ordelikheid van die geloof! Sonder
Hom is ware orde in hierdie lewe nie moontlik nie! Jesus Christus bring orde in
die lewens van chaotiese mense; Hy bevry hulle van die chaos van die sonde.

Ons sien dit pragtig in die gedeelte wat ons saam uit Lukas 8 gelees
het. Want het jy mooi na hierdie besetene se lewe gekyk? Hier het ons nou
waarlik ‘n wanordelike man, ‘n deurmekaar mens, iemand wat deur die duiwels tot
‘n lewe van chaos gedryf is. Sonder klere het hy daar rondgeloop en sy tuiste
gevind in die plaaslike begraafplaas. Die onreine gees het hom oral saamgesleep,
en enige poging van die stadsbewoners om hom met kettings en voetboeie tot orde te bring, was tevergeefs. U ken
die verhaal: ná ‘n kort gesprek dryf Jesus die duiwels in ‘n trop varke in wat
vervolgens van die krans af in die see storm en verdrink. Wanneer die
verskrikte wagters daarna stad toe vlug om te gaan vertel wat gebeur het, kom
die inwoners uit om dit met hulle eie oë te sien. En wat vind hulle? Hulle vind
die besetene aan die voete van Jesus, gekleed en by sy verstand. Hy is gereed
om Jesus te volg!

Sien u, gemeente, hierdie man is deur die Here Jesus bevry!
Letterlik bevry van die bose geeste wat hom in hulle mag gehad het en wat sy
lewe so deurmekaar gemaak het. En dit is danksy hierdie nuwe vryheid dat daar
orde in sy lewe kom, dit is hierdie vryheid wat hom bring tot gehoorsaamheid
aan sy nuwe Meester. Die eertydse dorpsgek word met sy hele hart en verstand ‘n
volgeling en ‘n getuie vir Jesus Christus… gekleed en al. En dit is nie maar
net ‘n mooi verhaal waaroor ons ons moet verwonder nie; inteendeel, broers en
susters, hierdie gebeurtenis bied aan ons die roete-beskrywing hoe om orde in
die geloofslewe te verkry, dit verskaf aan ons die padkaart in ons soeke na ‘n
ordelike gemeentelike lewe.

 

As ons orde en vrede in die gemeente wil verkry, dan moet ons ons
vertrekpunt neem in die bevrydende evangelie van Jesus Christus, dan moet ons
begin met die vryheid! En dit klink snaaks in ons ore, want is vryheid nie juis
die teenoorgestelde van orde nie? Staan evangelie en wet nie eerder teenoor
mekaar nie? Nee, gemeente, juis in Christus kom die ware orde, die hemelse
orde, weer op sy regte plek. Let wel, die ware orde, nie die menslike orde nie,
nie die kettings en die voetboeie waarmee ons mekaar sonder sukses probeer bind
nie – en dit is presies waarteen artikel 32 van die NGB ons waarsku. Hierdie
artikel leer ons dat daar niks mee verkeerd is om ‘n bepaalde orde in die kerk
in te stel en te handhaaf nie, maar moet dit nie los van Jesus Christus probeer
doen nie. Moenie los van die evangelie – van die vryheid! – met die kerklike
orde en reëls probeer werk nie, want op dié manier kry jy allerhande menslike
wette en versinsels waardeur gewetens gebind en gedwing word. Moenie los van
die evangelie met ons Kerkorde probeer omgaan nie, want dan word die Kerkorde ‘n
dwangbuis, dan word ons knegte van die letter en is ons nie meer instrumente
van die Gees nie.

En as u dan werklik so graag volgens die letter van die Kerkorde wil
werk, goed, dan gaan ek volgende week ‘n klomp gesange opgee om in die erediens
te sing, want dit is waarvoor ons Kerkorde in artikel 67 ruimte bied. Maar ek
gaan dit nie doen nie – nie omdat ek gebonde is nie, maar omdat ek vry is om
die evangelie aan u te bedien. Slegs by daardie evangelie en in die vryheid wat
daardie goeie nuus ons bring, kan ons saam die orde vind wat Christus vir sy
kerk bepaal het. Saam voor ons Koning vind ons die weg van gehoorsaamheid. Want
dát daar ‘n orde is, is seker – Christus is geen reëllose, ordelose vrybuiter
nie. Hy is die Heer van die kerk, wat nie gekom het om die wet en die profete
te ontbind nie, maar om dit te vervul (Mt. 5:17). Luister daarom na Hom! Maar
luister ook nét na Hom, en moenie toelaat dat jou eie voorkeure en ons kerklike
tradisie tot norm verhef word nie. Laasgenoemde is nie gehoorsaamheid nie, ook
al mag dit so voorkom.

 

Dit is dan ook Paulus se oproep in die tweede helfte van Kolossense
2: “As julle dan saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld
afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog in die wêreld lewe, onderworpe
aan insettinge soos: raak nie, smaak nie, roer nie aan nie? – almal dinge wat
bestem is om te vergaan – volgens die gebooie en leringe van mense, wat,
alhoewel dit ‘n skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens en nederigheid en
in gestrengheid teen die liggaam, geen waarde het nie, maar strek tot
versadiging van die vlees” (Kol. 2:20-23). Sien u, weereens redeneer Paulus
vanuit Christus: “as julle dan saam met Christus gesterf het…hoekom word julle
dan nog deur al hierdie mensgemaakte reëls gebind?” Christus bepaal ons kyk op die
orde in die kerk, en deur sy bevrydingswerk word mense van harte gehoorsaam! Op
geen ander manier nie.

 

En hier is ‘n spesifieke woord aan die regeerders, die ampsdraers,
op sy plek. Dít is immers die konteks waarbinne artikel 32 staan – in hierdie
gedeelte van die NGB gaan dit oor die regering van die kerk. En so begin
artikel 32 dan ook: “ons glo verder dat die regeerders van die kerk…” Nou,
broeders ampsdraers, wees gewaarsku deur hierdie artikel. Moenie herders wees
wat aan die skape klippe vir brood gee nie. Moenie wees soos die skrifgeleerdes
en die Fariseërs wat op die skouers van die mense swaar pakke gebind het,
terwyl hulle dit self nie met ‘n vinger wou verroer nie (Mt. 23:4). Moenie dink
dat die kettings en voetboeie van ons mensgemaakte wette en tradisies mense tot
gehoorsaamheid gaan dwing nie. Moenie dink dat, omdat artikel 32 van eendrag en
eenheid praat, almal eenders moet dink en optree nie. Eendrag en eenheid vind
ons in Jesus Christus! U taak is daarom om aan gemeentelede die evangelie te
bring! Spreek tot hulle woorde van bevryding, rig aan hulle die uitnodiging van
die Here Jesus: “kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle
rus gee” (Mt. 11:28-30). En natuurlik moet die konsekwensies van daardie rus
duidelik gemaak word, maar onthou: eers wanneer Christus die harte nuutgemaak
het, kom daar ruimte vir die orde van Christus; slegs in die vryheid is daar
ruimte vir die gebondenheid. [sing Ps. 124:3 en 4]

In die tweede plek let ons
op die christelike tug.

 

2. Gemeente, artikel 32 trek grense – hooplik het jy dit alreeds raakgesien.
Grense wat die vryheid, wat Christus met sy kosbare bloed verdien het, wil beskerm
en beveilig. In die eerste deel van artikel 32 (en daarmee saam: in die eerste
punt van die preek) is daar ‘n grens getrek wat die vryheid wil beveilig teen enige
menslike wette en versinsels. Ons mag immers nooit Christus se vryheid inperk
met ons mensgemaakte reëls, en daardeur gelowiges se gewetens bo die Skrif bind
nie. Ons mag die ruimte wat Christus verdien het, nie kleiner maak as wat
Christus dit gemaak het nie.

Máár artikel 32 trek vervolgens ook ‘n lyn by die buitenste grens
van die vryheid – artikel 32 praat daarvan in die heel laaste sinnetjie as “die
ban en alles wat daarmee saamhang”. Vir diegene wat nog nie weet nie: die ban
is die laaste stap in die kerklike tugprosedure – iemand word uit die gemeente
geban (of van die gemeente afgesny) wanneer hy, ná baie vermanings en besoeke,
hom nie van sy sonde wil bekeer nie. En die daaropvolgende woorde in artikel
32, “die ban en alles wat daarmee
saamhang
”, dui op die talle vermanings en tugstappe wat aan die ban
voorafgaan. Dus, waar artikel 32 ons in die eers deel waarsku om die vryheid
nie kleiner te maak as wat dit is nie, word ons nou ten slotte ook nog
gewaarsku om die vryheid nie groter te maak as wat dit is nie.

Hierdie buitenste grenslyn, broers en susters, het die doel om die
vryheid te beskerm teen ongebondenheid; dit is immers waarteen Judas ons in sy
brief waarsku: teen mense wat die genade van God verander in ongebondenheid,
mense wat dink dat jy met die vryheid kan maak net wat jy wil. Maar, gemeente,
vryheid wat ongebonde raak, is nie meer vryheid nie. As gelowige is jy vry –
vry van die sonde, vry van die mag van die satan in jou lewe. Heerlik, nie waar
nie!? Maar hierdie vryheid is nie ongebondenheid nie. Inteendeel, die
christelike vryheid bind ons juis –
aan Christus! Jy is vry om vir Christus te lewe! En dáárom is die tug so nodig
in die kerk van die Here, want mense wat buite die grense van die vryheid gaan,
maak hulleself los van Christus. Net nie dit nie! Dit is immers ons
hartsbegeerte dat elkeen in hierdie gemeente werklik aan Christus verbonde is! En
dáárom wil ons as gelowiges ook na mekaar omsien en op mekaar toesig hou…

 

Dus, broers en susters, die christelike tug is heel eerste ‘n taak
van die kérk, van die gemeente, die
héle gemeente! So min word dit nog verstaan en nagekom. Ons kan so mooi praat
van die weg van Mattheus 18, maar selde word dit beoefen. Wanneer ons iemand ‘n
openbare of growwe sonde sien pleeg of wanneer iemand ‘n verkeerde leer
aanhang, is dit die maklikste om dit maar aan die predikant of ouderlinge te gaan
vertel. Dit is immers hulle taak om hierdie soort van sake te hanteer. Nee,
gemeente, u het die instrument van die onderlinge tug en vermaning uit
die hand van Christus ontvang. Daarom lê die eerste verantwoordelikheid by u!
Mattheus 18 leer dit baie duidelik: gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. En as hy nie luister nie, neem
nog een of twee met jou saam. En as hy dan nie luister nie, sê dit aan die
gemeente. En as hy na die gemeente nie luister nie, laat hom vir jou wees soos
die heiden en die tollenaar. Dít is die weg wat Christus ons leer. 

 

En die doel daarvan? Wat wil ons hiermee bereik? Die behoud van die
sondaar; dus, dat hierdie betrokke persoon aan Christus verbonde bly! Daaroor
het dit immers al in die verse net voor Mattheus 18:15 gegaan: “As iemand
honderd skape het en een van hulle verdwaal, sal hy nie die negen-en-negentig
laat staan en op die berge die verdwaalde een gaan soek nie? En as hy hom kry,
voorwaar Ek sê vir julle dat hy blyer is oor hom as oor die negen-en-negentig
wat nie verdwaal het nie. So is dit nie die wil van julle Vader wat in die hemele
is, dat een van hierdie kleintjies verlore gaan nie.” Enige herder wil graag
die verdwaalde skaap vind en red! En nou, in vers 15, wys Jesus vervolgens op
die prosedure om hierdie verdwaalde skaap te red, Hy wys vir ons hoe ons te
werk moet gaan. Die tug is dus nie om mense uit die koninkryk weg te jaag nie.
Ons is nie uitsmyters by ‘n kroeg wat ongewenste indringers verwyder nie. Nee,
ons is die kerk van Christus wat daarna soek om die sondaar te red.

Dus, gemeente, ons begin
die christelike tug heel eerste deur oop te sluit! Wanneer jy iemand in die
gemeente vermaan oor ‘n bepaalde verkeerde leer of oor sy lewenswandel, dan
begin jy mos nie deur aan hom te verkondig dat hy geen deel aan die koninkryk
het nie. Nee, jy begin deur hom terug te roep van sy verkeerde weg, en jy
verkondig aan hom vergifnis in die sterwe en opstanding van Jesus Christus. Jy
sluit vir hom die koninkryk oop, jy verbind hom aan Christus! Dis waar die tug
begin. Natuurlik, wanneer die sondaar onbekeerlik is, dan word die geestelike
dissipline toegepas. En as hy hom op lang termyn daarteen verset, dan word hy
uiteindelik uit die koninkryk uitgesluit. Maar dit is die laaste stap. Eers
wanneer ons nie verder met die onbekeerlike sondaar kan gaan nie, eers dán
sluit ons toe. Terloops, ons sluit
ook nie finaal toe nie; ons gooi nie die sleutel weg nie. Want wie hom van
harte bekeer, wie weer tot Christus vlug en aan Christus verbind word, daardie
persoon word ook weer deel van sy kerk.

 

Gemeente, laat ons die tug – sowel die onderlinge tug as die
amptelike tug – nie verwaarloos nie. Tug is immers nie ‘n koue meganisme nie,
maar dit is die beveiliging van daardie kosbaarste van alle vryhede! Dit bewaar
ons by Jesus Christus.

En is dit nie die wese van ons kerk-wees nie, naamlik om aan Jesus
Christus verbonde te bly? Hou die oog gerig op Hom – Hy gee die reëls en die
orde vir sy kerk (die eerste punt van die preek), en Hy stel die grense van sy
kerk (die tweede punt van die preek). By Hom en in Hom sal dit met hierdie
gemeente goed gaan, sal daar vrede wees. Gaan daarom hierna huistoe en
ondersoek jouself en ondersoek die gemeente: volg ons nog Christus se orde, of
het ek dalk my eie orde bindend opgelê? Het ek dalk ons tradisie die norm gemaak
waaraan ek ander meet? Gaan huistoe en vra jouself af: het ek dalk ‘n sonde by
my broeder raakgesien, maar niks daaraan gedoen nie? Weet ek dalk van dwaalleer
by my suster, maar intussen draai ek myself weg? Ja, die innige band met
Christus laat my hierdie soort vrae oor die kerk stel; ja, om vriende en broers
soek ek jou vrede; en om Gods huis, my hoogste skat, soek ek vir jou die goeie,
o stad, wat skoonste is van alle stede.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie
(oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 24:2-5

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en
aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here
Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 108:1 en 4

  • Voor wet sing Skr. 26:1
  • Wetslesing
  • Sing Skr. 26:10 en 11

Gebed

Teks: NGB artikel 32

Lees:    Kolossense 2:4-7,
20-23

            Lukas 8:26-39

            Mattheus 18:11-18
(nie op die bord)

Sing in voorbereiding op Woordverkondiging Ps. 89:6

Preek

  • Ná 1ste punt Ps. 124:3 en 4
  • Amenlied Ps. 141:3-5

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 122

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy
aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor
jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)