Rigters 11 : Jefta, stryder vir die bedreigde erfenis.

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-01-15
Teks: 
Rigters 10 en 11
Preek Inhoud: 

Kopiereg word
voorbehou.

Indien u die preek
wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Rigters 11

 

Geliefde gemeente,

Verlede week Sondagmiddag het dit in die
prediking vanuit Hebreërs 11 gegaan oor Abel; hy was die eerste in die lys van
geloofsvoorgangers. Nou, Abel is inderdaad die eerste, broers en susters,  maar hy is beslis nie die laaste nie. Hebreërs
11 het nog baie ander name. Ja, daar is so baie dat die skrywer later nie eens
meer die moeite doen om besonderhede by elke naam te voeg nie. Hy sê in vers 32:
“Die tyd sal my ontbreek as ek moet vertel van al die mense wat deur die geloof
koninkryke oorweldig het, geregtigheid uitgeoefen het en beloftes verkry het…”,
en dan volg daar ‘n hele lys met name. En in daardie lys, half weggesteek
tussen ou bekendes soos Simson en Dawid, vind ons die naam van die rigter Jefta.
Jefta – in ere gehou deur die Gees van die geloof.

Maar dit is nie die enigste plek waar Jefta
in ere gehou word nie. Nee, selfs ín die rigtertyd alreeds word daar in positiewe
sin na hom verwys, naamlik deur Samuel, die laaste rigter. In 1 Samuel 12 gee
Samuel verslag van sy werksaamhede, en dan sê hy in vers 11: “En die Here het
Jerubbaal (dit is Gideon) en Bedan (‘n onbekende vir ons) en Jefta en Samuel gestuur en julle uit die hand van julle vyande
rondom gered, sodat julle veilig gewoon het.” Jefta se opname in die lys van
Hebreërs 11 is dus nie ‘n geval van iemand wat eeue later veridealiseer word
nie; nee, selfs Samuel, ‘n jonger tydgenoot, het al geweet van die belang van
Jefta se plek in die heilsgeskiedenis. Genoeg rede vir ons dus om, in ons
behandeling van die boek Rigters, vandag vir ‘n oomblik by hierdie rigter stil
te staan…

Tema: Jefta, stryder vir ‘n bedreigde erfenis!

  1. Geknelde
    land
  2. Bedoelde
    land
  3. Gelofteland

 

Lees Rigters 10:6-18

1. Gemeente, as u gedink het dat dit in die boek Rigters op ‘n stadium
beter sal gaan, dat daar in hierdie boek een of ander opwaartse kurwe of
positiewe ontwikkeling gaan wees, dan moet ek u helaas teleurstel. Die boek
Rigters vertel ‘n geskiedenis van voortgaande agteruitgang en deformasie. Dit word
net erger. En die konteks waarbinne Jefta as rigter moes optree, is ‘n besonder
hartseer fase in Israel se geskiedenis. ‘n Mens sou dit nie regtig sê wanneer
jy vers 6 van hoofstuk 10 begin lees nie: “En die kinders van Israel het weer
gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here…” Want teen dié tyd ken ons al
hierdie refrein – dis maar weer dieselfde ou verhaal. Maar wanneer ons vervolgens
verder lees, dan besef ons hoe diep Israel in werklikheid in daardie tyd gesink
het.

Dis reg, vroeër het die volk ook alreeds die
Baals en Astartes gedien, maar nou het hulle buiten hierdie twee nóg vyf gode
van die omringende nasies begin dien. In totaal dus sewe afgode. En interessant,
wanneer die Here in verse 11 en 12 op Israel se hulpgeroep reageer, dan noem Hy
teenoor die sewe afgode sewe groepe onderdrukkers waarvan Hy Israel in die
verlede bevry het. Dit herinner ‘n mens aan die bekende lys van sewe nasies uit
Deuteronomium 7:1 (die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaaniete, Feresiete,
Hewiete en Jebusiete). Kyk maar na die papiertjie wat voor die
diens uitgedeel is.
Sewe vreemde gode, sewe onderdrukkende nasies, en
tot op daardie stadium was daar ook presies sewe rigters. Sewe, die getal van
volheid – hier nie in ‘n positiewe sin nie, maar as ‘n aanduiding van Israel se
totale geestelike korrupsie.

 

En daarom is die toorn van die Here hierdie
keer ook besonder swaar: “Daarom het die toorn van die Here ontvlam teen
Israel, en Hy het hulle verkoop in die hand van die Filistyne en in die hand
van die kinders van Ammon” (10:7). ‘n Dubbele onderdrukking dus – dit is die
eerste keer dat dit in die boek Rigters gebeur! Israel het as’t ware in die
middel van ‘n knyptang beland – vanuit die weste het die Filistyne gekom, en
vanuit die ooste die Ammoniete. En dit is dan ook presies waaroor die volgende
hoofstukke in die boek Rigters gaan – hoofstukke 11 en 12 gaan spesifiek oor
Jefta se stryd teen die Ammoniete uit die ooste, en hoofstukke 13 tot 16 gaan
oor Simson se stryd teen die Filistyne uit die weste. En dit was nie ‘n kwessie
van éérs die Ammoniete en daarná, ná ‘n hele aantal jare van vrede, die
Filistyne nie; nee, chronologies oorvleuel hierdie twee geskiedenisse mekaar.
Gelyktydig en van weerskante word die volk van die Here deur vyande bedreig.

Dus, die sonde was swaar, die toorn was hewig,
en die straf was verskriklik. Israel was voorwaar in die knel, ‘n geknelde
land. Wat sou daar nog oorbly van die erfenis, die land, wat die Here aan sy
volk gegee het? Sou hulle in hierdie knyptang, ingedruk tussen Ammoniete en
Filistyne, fyngedruk word, verpletter word? Dít, gemeente, is die benarde toestand
van Israel in die tyd van Jefta. Maar ook in sy persoonlike lewe moes Jefta intussen
‘n soortgelyke beknelling deurmaak; immers, sy eie (stief)broers het hom uit
Gilead weggejaag omdat hy die seun van ‘n hoer was; hy was ‘n basterkind, en hulle
wou hom daarom nie saam met hulle laat erf nie. Jefta moet vlug; hy word ‘n
bendeleier in die land Tob. Sy eie, Godgegewe erfenis was, net soos die erfenis
van die volk, onder ernstige bedreiging!

 

Broers en susters, só kan dit gaan in die
lewe van God se volk. God se kinders, jy en ek, kan in die knel kom, ons kan in
geweldige verdrukking kom vanweë die Here se straf oor ons ongehoorsaamheid en
sonde. En hierdie beknelling kan so erg word, dat ons erfenis, ons kindskap, daardeur
in gedrang kom. Die lewende verhouding met God word bedreig wanneer jy en ek
die sonde in ons lewens ophoop asof dit die gewoonste ding in die wêreld is. Wanneer
die Here Christus nie meer ons eksklusiewe en heelhartige aanbidding kry nie,
wanneer ons naas God of in die plek van God ook nog ander gode het, dan word ons
erfenis ernstig bedreig. En dan gaan dit nie net oor die erfenis van die ewige
lewe eendag nie; nee, dan gaan dit oor die heerlike en onvervangbare lewe met
die Here nou, vandag! Dan gaan dit oor die troos en die vreugde van kind-wees! Dis
ons erfenis, dit is wat Christus vir ons verdien het. En dít kom onder geweldige
druk vanweë ons sonde. ‘n Geknelde land, ‘n geknelde erfenis – dit is wat ons
volharding in die sonde meebring. Moenie ligtelik daarmee omgaan nie!

Dit
bring ons by ons tweede gedagte: bedoelde land.

 

Lees Rigters 11:1-27

2. Gemeente, daar is oorlog in die lug – die Ammoniete het laer
opgeslaan in Gilead. Maar intussen het daar ook ‘n verandering by die volk
gekom – hulle het hul skuld teenoor die Here bely en die afgode onder hulle uit
verwyder. Vervolgens neem hulle met vertroue stelling in teen die Ammoniete. Ja,
die erfenis word dalk bedreig, maar Israel gaan dit nie net weggee nie, hulle
gaan daarvoor veg. En tog het Israel ‘n probleem, hulle is leierloos… Wie moet
in hierdie oorlog die leiding neem? Eintlik was dit nie ‘n werklike vraag nie,
want almal het geweet dat Jefta ‘n dapper held was, die mees geskikte persoon
om hulle in die oorlog te lei. Maar ja, dis ‘n lastige situasie: nie te lank
terug nie het hulle Jefta nog weggejaag, en nou het hulle hom weer nodig om
hulle te help!? Jefta willig daarom ook nie sommer voetstoots in wanneer die
leiers hom kom vra om hulle te lei nie – nee, eers is daar iets uit die verlede
wat reggemaak moet word. Hy is nie daar om die kastaiings uit die vuur te krap,
net om daarna weer verdryf te word nie. “As julle my laat terugkom om teen die
kinders van Ammon te veg en die Here hulle aan my oorgee, dan moet ek julle
hoof word”, sê hy in hoofstuk 11:9. Jefta was moontlik ‘n baster, maar hy was nogtans
deel van die volk van God, hy het deel gehad aan die erfenis wat die Here aan
sy volk gegee het. Daardie plek wou hy gelowig inneem. Plegtig en onder eed
belowe die leiers dat Jefta hulle hoof sal word.

Dus, nou is almal reg vir die geveg…

 

Nee, tog nie heeltemal nie. Jefta was inderdaad
‘n dapper man, maar hy gryp nie onmiddellik na die swaard nie. Eers tree hy in
onderhandeling met die Ammoniete; hy vra die voor die handliggende vraag:
hoekom val julle ons eintlik aan? Wel, sê die koning van Ammon, omdat julle by
die uittog uit Egipte my land gevat het, van die Arnon af tot by die Jabbok en
tot by die Jordaan; gee dit dan nou in vrede terug (vers 13). Dit is ‘n
ernstige beskuldiging… maar Jefta word nie so maklik geïntimideer nie; hy ken
sy kerkgeskiedenis. “In die eerste plek, o koning, het ons nie jou land gevat
nie – inteendeel, ons het die Ammoniete en Moabiete juis as broedervolke
behandel; nadat hulle geweier het dat ons deur hulle land trek, het ons rondom
hulle verbygetrek. In die tweede plek, o koning, die land wat ons in besit
geneem het, was nie van die Ammoniete nie, maar van die Amoriete. En daarby was
dit nie deur ons toedoen nie, maar ons het dit in besit geneem nadat hulle óns
aangeval en ons hulle oorwin het. In die derde plek, liewe koning, het Gód ons
hierdie land gegee. Dit is Hy wat ons dit toebedeel het. As jy nie tevrede is
met jou land nie, dan moet jy maar met jou god, Kamos, daaroor praat. En ten
slotte, dit is nou al driehonderd jaar ná die inname van die land, hoekom bring
julle hierdie saak nou eers op?”

 

Sien u, gemeente, Jefta maak baie duidelik
dat Israel se oorwinning en inname van dié betrokke gebied oos van die Jordaan
die Here se werk is. Jefta ken sy heilsgeskiedenis, ook hierdie hoofstuk, uit
sy kop uit. En selfs al het sy eie broers hom uit hierdie einste land verjaag,
bly hy nogtans bely dat die Here dit aan Israel geskenk het. Dít is Israel se bedoelde land. So word
dit ook pragtig in Psalm 136 besing: “Hy het koninge gedood wat geweldig was en
groot; want sy goedertierenheid sal bestaan in ewigheid. Hy het voor sy volk
gegaan – Og en Sihon neergeslaan; want sy goedertierenheid sal bestaan in
ewigheid. En hul land is toe geheel aan sy Isr’el toegedeel; want sy
goedertierenheid sal bestaan in ewigheid (Ps. 136:15-17 ber.). Hierop beroep Jefta
hom, om daarmee aan die Ammoniete die boodskap te gee: julle het geen reg om
ons aan te val nie. Hierdie stukkie heilsgeskiedenis is Jefta se weerwoord in
die onderhandelingsproses met Ammon. Dit is ‘n weerwoord wat die historiese feite
weerspieël, maar dit is ook ‘n weerwoord wat geloof weerspieël. Met hierdie
woorde eis Jefta gelowig die erfenis op wat die Here uit genade aan sy volk
gegee het. Dis waar, hierdie erfenis staan onder ernstige bedreiging, dit is ‘n
geknelde land vanweë die sonde van die volk, maar by Jefta is daar geen twyfel oor
die besitreg van hierdie erfenis nie. In geloof sê hy daarom vir die vyand:
“Hou julle hande tuis, hierdie is ons land! Mag die Here, die Regter, vandag oordeel
tussen die kinders van Israel en die kinders van Ammon” (vers 27).

 

Dit is wat die geloof doen, broers en
susters. Dit eien homself die erfenis toe; dit mág en dit móét homself
die erfenis toeëien! Ja, die Here gee aan sy kinders hulle erfenis, hulle deel.
Ook ons het ons deel, ons bedoelde land
– nog beter as Israel van ouds. Ons het naamlik ons erfenis in Christus, ons is
kinders van die Vader en daardeur erfgename van die ewige lewe. Die Here géé
dit vir ons! Maar leer by Jefta en kén jou erfenis – wéét wat God jou skenk in Christus,
ken dit uit sy Woord. Ken die heilsgeskiedenis, die geskiedenis van die kruis
en die opstanding van Jesus Christus. Moenie daaraan twyfel nie. En lê dan ook beslag
daarop, eien dit jouself toe, maak dit deur die geloof jou eie. En spreek
daarvan met oortuiging wanneer die vyand jou anders wil laat glo, wanneer mense
jou wil laat twyfel aan jou kindskap, aan jou deelgenootskap aan Christus. Sê
vir elkeen wat dít doen: “Ek weet verseker dat Jesus leef, Hy het my sonde uit
liefde vergeef – dit is my erfenis, my kindsdeel!” Laat niemand, soos Paulus
vir die Kolossense sê, laat niemand julle van hierdie prys beroof nie. Hou vas
wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie (Openb. 3:11).

Gemeente, ongehoorsaamheid en afval maak
mense onverskillig met die Godgegewe erfenis, maar ware geloof maak mense
heilig-jaloers oor die erfenis. Wanneer die ongelowige wêreld ons daarom na die
rant van die samelewing wil skuif, wanneer hulle sê dat ons geen bestaansreg en
geen plek hier het nie, wys hulle op die Regter wat sal oordeel. “Hy, die
sterkte God, kies vir ons ons lot: Jakobs pronkjuweel, Kanaan word ons deel.
Dit is aan sy kneg gunstig toegeseg” (Ps. 47:2 ber.).

En dan
ons laaste gedagte: Gelofteland

 

Lees Rigters 11:28-40

3. Wanneer die onderhandelings met die Ammoniete misluk, word dit uiteindelik
tyd vir oorlog. Dat die Here hieraan sy goedkeuring verleen het, blyk uit die
feit dat die Gees van die Here op Jefta gekom het (vers 29). En dit is die Gees
wat Jefta in beweging bring vir die stryd. Maar dan, net voordat die oorlog
uitbreek, doen Jefta eers ‘n gelofte aan die Here: “As U werklik die kinders
van Ammon in my hand gee, dan sal wat uitkom, wat uit die deur van my huis
uitkom my tegemoet, as ek in vrede terugkom van die kinders van Ammon, aan die
Here behoort, en ek sal dit as ‘n brandoffer bring.”

Nou, gemeente, baie is oor hierdie gelofte
van Jefta geskryf, baie verwarrende dinge. Dit ís ook nie ‘n maklike gedeelte
om te verstaan nie. En die kern van die verwarring lê waarskynlik by die
misverstaan van die woord ‘brandoffer’. Het dit hier werklik gegaan oor ‘n
offer wat met vuur verbrand moes word? Was dit werklik Jefta se intensie om die
eerste persoon wat uit sy huis uitkom, op ‘n altaar te verbrand? En dit nogal
teen die Here se uitdruklike verbod teen enige vorm van menseoffers (Lev.
18:21, 20:1-5, Deut. 12:31, 18:10)? Nee, gemeente, die kenmerkende van die
brandoffer – in Hebreeus olah – is
nie die aspek van verbranding nie, want dit het by die ander offers ook gebeur.
Dit is nie wat uitgestaan het by die brandoffer nie. Die kenmerkende van die olah is eerder die aspek van algehele
toewyding aan die Here. Want dit is wat by die olah gebeur het: by hierdie offer is elke denkbare deel van die
offerdier op die altaar geplaas en in sy geheel verbrand. Hierdie aspek van die
‘totale’ kry ons by geeneen van die ander offers nie.

 

En op hierdie totale toewyding lê Jefta dan
ook die klem. Vir hom gaan dit daaroor dat as die Here die Ammoniete volledig in sy hand oorgee – terloops,
let op hoe Jefta se dogter in vers 36 hierna terugverwys wanneer sy sê dat die
Here volkome wraak verskaf het op die
kinders van Ammon – dus, as die Here die Ammoniete volledig in sy hand oorgee, dan gee hy die eerste van sy huisgenote
wat uit sy huis uitkom volledig, as blywende besit, aan die Here. En dit is
duidelik dat Jefta hierby aan ‘n mens gedink het, want wat anders sou hom
tegemoetgaan na ‘n oorwinning? Nee, dit was ‘n persoon, en daardie persoon sou
hy aan die Here skenk as ‘n olah
totaal aan God gewy!

En met daardie gelofte nog vars in die ore
het Jefta gaan veg. Hierdie keer word daar nie, soos by van die ander verhale
in die boek Rigters, enige bloedige besonderhede van die geveg gegee nie. Net
‘n baie kort weergawe: die Here het die vyand in Jefta se hand gegee, sodat die
kinders van Ammon verneder is voor die kinders van Israel. En dan gaan Jefta
huistoe… Maar by sy huis gebeur daar iets waarop hy nie gereken het nie. Want
die eerste van sy huisgenote wat hom tegemoetkom, is sy dogter. Met tamboeryn
en koordanse het sy haar pa tegemoetgegaan om sy oorwinning te vier – wie kan haar
dit kwalik neem? Maar in plaas daarvan dat hy saam met haar bly is, het Jefta
sy klere geskeur uit droefheid. Want hy was nou verplig om sy dogter as olah, as offer aan die Here te wy –
volledig, lewenslank, totaal. In ooreenstemming met die totale oorwinning wat
die Here hom geskenk het.

En die rede waarom Jefta so bedroef was, was
omdat hy geen seun of dogter buiten haar gehad het nie (só sê die skrywe met
nadruk in vers 34). Hierdie dogter was dus sy enigste kind, en nou sou hy haar nooit
kon uithuwelik om vir hom ‘n erfgenaam te verwek nie. En daardeur sou die plek,
die eervolle plek, wat Jefta sopas nog onder God se volk en in God se land
teruggekry het, weer verlore gaan. As dit nie gebeur het nie, dan sou die
kinders van Jefta se dogter volgens die reël die erfgename wees, dan sou Jefta
se naam en sy erfbesitting kon voortgaan, maar daardie hoop was nou verlore. Omdraai
was vir Jefta nie moontlik nie. Hy moes sy gelofte uitvoer – daaroor was die
Here in sy wet baie duidelik. Gelukkig het sy dogter dit nie vir hom moeilik
gemaak nie; nadat sy haar pa se gelofte gehoor het, het sy haarself gehoorsaam
aan die Here gegee. ‘n Geloofsdaad wat bewondering oproep – nie net vandag nie,
maar ook in haar eie tyd. Immers, vanaf daardie tyd is sy elke jaar, vier dae
lank, deur die dogters van Israel besing oor haar gelowige toewyding.

 

Gemeente, Jefta was so ernstig oor die totale
onderwerping van die vyande van God se volk, dat hy bereid was om die eerste
persoon uit sy huis op soortgelyke wyse totaal aan die Here te wy. En dit het
hom baie pyn veroorsaak, dit het hom baie gekos, dit het meegebring dat sy nuutverworwe
erfenis onder God se volk by sy dood óók sou uitsterf. Die lewe van Jefta,
stryder vir ‘n bedreigde erfenis, kom tot ‘n hartseer einde… Die bedreigde
spesie het uitgesterf… Of nie?

Gemeente, hartseer is die verhaal inderdaad,
maar die einde is dit beslis nie… Want hoewel Jefta sy dogter aan God gewy het en
daardeur sy tydelike erfenis in die beloofde land verloor het, was hy
tegelykertyd draer van die belofte dat God sy Seun sou gee sodat Jefta die
ewige erfenis sou ontvang. Jefta word in Hebreërs 11 genoem as een van diegene
wat deur die geloof beloftes verkry het – beloftes van ‘n vaderland en ‘n beter
opstanding. Jefta het deur die geloof die gelofteland ontvang! Inderdaad, Jefta
se gelofte het nie die resultaat gehad wat hy gehoop het nie, sy aardse erfenis
was inderdaad in ernstige gevaar, maar daarmee het Jefta se lewe nie uitsigloos
geword nie. Hy het geglo in dinge wat hy nie kon sien nie (Hebr. 11:1), en
daarvoor was hy bereid om alles op te gee, hoe pynlik ook al!

 

En wat óns hieruit moet leer, broers en
susters, is nie wat baie predikers vandag hiervan maak nie; hulle sê dat ons
uit Jefta se gelofte moet leer om nie onbesonne geloftes te doen nie, om nie te
vinnig te belowe nie. Tel jou woorde, oppas wat jy sê! Nee, dis nie wat ons
hieruit moet leer nie. Dit gaan hier nie oor ‘n ondeurdagte gelofte nie, dit
gaan hier oor toewyding, totale toewyding. Jefta het opgegroei in ‘n land wat
deur die sonde geknel was, maar hy was nogtans deur die geloof oortuig dat dít
Israel se bedoelde land was, en dáárom sy gelofte, sy volledige oorgawe aan die
Here. En dít is die oproep aan ons!

Ons hoef nie ons kinders te wy tot ‘n
selibate lewe, sonder huwelik en sonder kinders nie. Nee, ons word geroep om onssélf,
met alles wat ons is en het, in algehele diens aan die Here te wy. Stel jul
liggame as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is Paulus se
oproep in Romeine 12. En ons doen dit omdat ons Godgegewe erfenis – ons
verlossing deur Christus en ons kindskap van die Vader – vir ons vas en seker
en baie kosbaar is. Juis daarom stry ons die goeie stryd van die geloof, en
juis daarom dien ons God met hoof, hart en hande.

 

Gemeente, in die geknelde land sien ons die
ellende van die sonde, in die bedoelde land sien ons die verlossing deur
Christus wat ons onsself deur die geloof mag toeëien, en in die gelofteland
sien ons die dankbaarheid van die gelowige. En daardie dankbaarheid gee nie net
‘n deel nie, daardie dankbaarheid kan nie maar net ‘n aspek van die lewe aan die Here wy nie. Nee, daardie
dankbaarheid gee alles! Broers en susters, moenie daarvan wegskram, moenie bang
wees om jou hele lewe aan God te wy nie. Neem my lewe, laat dit Heer, U gewy
wees, meer en meer. Laat dit sigbaar word in jou lewe deurdat jy die afgode wat
daar nog in jou lewe oorgebly het, daaruit verwyder. Of soos Paulus oproep in
Kolossense 3:5: “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery,
onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is.” Dit
is die toewyding waartoe die Here ons roep.

En dit kos stryd en dit kos pyn – Jefta se
geskiedenis bewys dit. Maar nogtans is Jefta ryk! Hy is ‘n erfgenaam van die
lewe. Voeg jou daarom by Jefta en die ander lede van die geloofsgeselskap in
Hebreërs 11. Die Hebreërskrywer sê immers in vers 40 dat hulle nie sonder ons
volmaak kan word nie. Voeg jou daarom by hulle, en word ‘n erfgenaam van God se
gelofteland.

Amen.

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 18:1-4

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van
Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is,
en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en
die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 117

Wetslesing + v/a 94 en 95 (fokus op 1ste
gebod)

Sing Ps. 81:10 en 11

Gebed

Preek

  • Lees Rigters
    10:6-18
  • Lees Rigters
    11:1-27
  • Lees Rigters
    11:28-40

Amenlied Ps. 116:7-9

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 18:11, 16 en 19

Seën: Die genade van ons Here Jesus
Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met
julle almal. Amen.
/ Die Here sal jou seën en jou behoed,
die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy
aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

7 VREEMDE GODE

(RIGT. 10:6)

7 ONDERDRUKKERS

(RIGT. 1O:11-12)

LYS VAN 7 NASIES

(DEUT. 7:1, SIEN RIGT. 3:5)

Baals

Egiptenaars

Hetiete

Astartes

Amoriete

Girgasiete

gode van Aram

Ammoniete

Amoriete

gode van Sidon

Filistyne

Kanaaniete

gode van Moab

Sidoniërs

Ferisiete

gode van Ammon

Amalekiete

Hewiete

gode van die Filistyne

Maoniete

Jebusiete

 

7 VREEMDE GODE

(RIGT. 10:6)

7 ONDERDRUKKERS

(RIGT. 10:11-12)

LYS VAN 7 NASIES

(DEUT. 7:1, SIEN RIGT. 3:5)

Baals

Egiptenaars

Hetiete

Astartes

Amoriete

Girgasiete

gode van Aram

Ammoniete

Amoriete

gode van Sidon

Filistyne

Kanaaniete

gode van Moab

Sidoniërs

Ferisiete

gode van Ammon

Amalekiete

Hewiete

gode van die Filistyne

Maoniete

Jebusiete

 

7 VREEMDE GODE

(RIGT. 10:6)

7 ONDERDRUKKERS

(RIGT. 10:11-12)

LYS VAN 7 NASIES

(DEUT. 7:1, SIEN RIGT. 3:5)

Baals

Egiptenaars

Hetiete

Astartes

Amoriete

Girgasiete

gode van Aram

Ammoniete

Amoriete

gode van Sidon

Filistyne

Kanaaniete

gode van Moab

Sidoniërs

Ferisiete

gode van Ammon

Amalekiete

Hewiete

gode van die Filistyne

Maoniete

Jebusiete

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)