Lukas 18 : 8b Sal Hy die geloof op die aarde vind ?

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2011-12-12
Teks: 
Lukas 17 : 20-18 : 8 en Lukas 1 : 5-17
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Lukas
18:8b; lees Lukas 17:20-18:8, Lukas 1:5-17

 

Geliefde gemeente,

Dit was stil in die huis van Sagaria en Elisabet. Nie rustig-stil
nie; nee, eerder hartseer-stil. En die stilte is nie iets van gister of
eergister nie; nee, die stilte hang al daar vir baie jare. Want toe Sagaria en
Elisabet nog jonk was, het daar nooit kinderstemmetjies in hulle huis weerklink
nie. En noudat hulle oud is, is daar nooit ‘n seun of ‘n dogter wat kom kuier
nie. Ag, hulle het so lank en so dikwels gebid vir ‘n kind – immers, kinders is
mos ‘n gawe van die Here; Hy moet dit gee. Maar helaas… Hulle het gebid, maar
daar het niks van gekom nie. So het hulle jeug verby gegaan, en hulle het ouer
en ouer geword. Uiteindelik was die vrugbare jare agter hulle; nou was dit nie
meer sinvol om vir ‘n kind te bid nie.

Broers en susters, hoe dink u het Sagaria en Elisabet hierop
gereageer? Hulle kon natuurlik maklik verbitterd geword het: “Wat beteken God
eintlik as Hy tog nie na jou gebede luister nie?” En tog is dit nie hoe hulle
reageer nie. Inteendeel, Sagaria en Elisabet is eerder deur hierdie beproewing
gelouter. Hulle het gegroei in geloof en in liefde. Hulle het nie van God af
weggegroei omdat hulle nie hulle sin gekry het nie. Nee, ondanks alles het
hulle God bly vertrou. Hulle het geweet dat ‘n lewe sonder God nog baie erger
sou wees as hulle huidige lewe sonder kinders. En daarom het hulle hartseer
hulle juis nader na God toe gedryf. Want as hulle die Here nie gehad het nie… As
hulle die belóftes van die Here nie gehad het nie…

En só het God in Sagaria en Elisabet se lewens gewerk, en het Hy
hulle lewens gebrei en gevorm – sodanig dat Lukas in hoofstuk 1:6 van albei kan
getuig dat hulle regverdig was en volgens al die gebooie van die Here gewandel
het. Dis waar, die lewe het nie opgelewer wat húlle daarvan verwag het nie – soos
wat maar dikwels die geval is. En tog het Sagaria en Elisabet nie die spoor
byster geraak nie. Terwyl hulle lewe stadig maar seker agteruit gegaan het, terwyl
hulle liggame stadig maar seker deur ouderdom afgetakel is, het God daarvoor
gesorg dat die geloof steeds soos ‘n kers in hulle lewens bly brand het. En daagliks
het die rokie van hulle gelowige gebede na die hemel toe opgestyg. Nee, vir ‘n eie
kind het hulle nie meer gebid nie, maar vir daardie ander Kind het hulle bly
bid!

---------------

Toe, op ‘n dag, moes Sagaria weer gaan diens doen in die tempel. Ja,
sowel Sagaria as Elisabet was afkomstig uit die geslag van die priesters, en
daarom moes Sagaria gereeld tempel toe gaan vir sy ampswerk. Hierdie keer is
dit egter nie ‘n gewone diensbeurt nie, want Sagaria word deur die lot aangewys
om tydens die uur van die gebed in die heilige van die tempel in te gaan en
daar wierook op die reukofferaltaar te gaan brand. Normaalweg het dit tweemaal
‘n dag gebeur – tydens die uur van die oggendgebed, en tydens die uur van die
middaggebed. Op daardie oomblik het die volk dan in gebed in die voorhof
neergekniel, terwyl die priester namens hulle binnetoe gegaan het met die
brandende wierook, wat ‘n simbool was van die gebede wat na God in die hemel
opstyg. En hierdie keer was dit Sagaria se beurt… Dit was ‘n baie spesiale
oomblik in die lewe van enige priester, want hierdie geleentheid het jy
hoogstens een keer in jou lewe gekry. Nog nooit voorheen het Sagaria die
voorreg gehad om in die heilige deel van die tempel in te gaan nie. Maar vandag
mag hy die voorhangsel, wat die voorhof en die heilige van mekaar geskei het, versigtig
wegskuif en ingaan.

Terwyl Sagaria egter besig is om die wierook op die altaar neer te
lê, word hy skielik verskrik deur die aanwesigheid van iemand anders in die
heiligdom. Daar staan ‘n engel, die engel Gabriël. Hoewel die gelowige Sagaria
geensins aan die bestaan van engele getwyfel het nie, is hy nogtans verskrik. En
wie sou nie wees nie?! Maar die engel stel hom dadelik gerus – hy het immers
nie gekom om skrik te maak nie, maar om verrassende en wonderlike nuus te
bring. Want die groot uur van verlossing het aangebreek! Die gebede is verhoor!
Ja, vir eeue lank alreeds buig die volk hulleself op die tempelplein neer om te
bid – elke oggend en elke middag. Vir eeue lank alreeds styg die gebedsrook op
na God – elke oggend en elke middag. En dit gebeur te midde van alle sonde en
ellende om hulle heen; dit gebeur terwyl vyande die volk se vrede bedreig; dit gebeur
te midde van ‘n sekulêre Griekse kultuur wat kinders en ouers van die Here af
wegtrek; dit gebeur terwyl kinderloosheid en siekte en dood voortwoeker, en
terwyl besetenheid hoogty vier in Israel.

 

Ja, gemeente, die toestand van God se volk op daardie oomblik is só
ellendig, só stukkend! Êrens in Betesda lê daar nou al vier jaar lank ‘n siek
man, en dit is maar goed dat hy op daardie oomblik nie geweet het dat hy nóg
vier-en-dertig jaar daar sou lê nie (Joh. 5). Êrens anders in Israel word daar
‘n seuntjie gebore wat blind is – gelukkig weet sy ouers op daardie stadium nog
nie dat hy later in sy lewe as bedelaar by die tempelpoort sou moes sit nie
(Joh. 9). Êrens in Galilea loop ‘n seun van sy ouerhuis af weg om sy geld met
slegte vriende deur te bring – om maar Jesus se gelykenis te gebruik. En te
midde van al hierdie ellende en gebrokenheid het daar daagliks gebedsrook vanaf
die altaar opgestyg. Hoekom?! Het dit enige sin gehad? Het daardie gebede enige
verandering gebring? Getuig Sagaria en Elisabet se lewe van enige werklike verandering
as gevolg van hulle daaglikse gebede? Was hulle lewe nie eerder ‘n aaneenskakeling
van onverhoorde gebede nie?

Gemeente, dit is hoe dit moontlik met die eerste oogopslag mag lyk.
Maar dan kom bring Gabriël die goeie nuus dat God  oppad is om in hierdie versteurde en
stukkende lewe van sy volk in te kom. En weet jy wat is nou die wonder? God kom
na sy volk toe via die poort van die
gebed
! Wanneer God die eerste teken aankondig van sy naderende koms in en
deur Jesus Christus, wanneer God die adventstyd bekendmaak, dan sluit Hy doelbewus
aan by die gebede van die gelowiges! Die gelowige gebede van sy volk vorm die
aanknopingspunt vir die adventsaankondiging!

Is dit nie opmerklik nie? Moes Gabriël nie eerder na die Sanhedrin
of die Joodse Raad toe gegaan het nie? Hulle was mos die hoogste gesagsliggaam
in Israel in daardie dae. Of moes hy nie dalk na die Fariseërs toe gegaan het
nie? Hulle was immers die mees noukeurige gelowiges van daardie tyd. Maar nee,
die engel kom basuin die goeie nuus nie uit voor die leiers van die volk nie,
hy kom verkondig dit nie op die strate van Jerusalem nie.

 

Inteendeel, stil-stil kom God via die engel Gabriël na Sagaria, en Hy
kom fluister die boodskap as’t ware in sy oor. In die stilte van die heiligdom
kom vertel hy dit aan daardie een gelowige priester. Hoekom juis daar? Hoekom
in daardie stilte waar die volk in elk geval nooit gekom het of mag gekom het nie?
Wel, gemeente, die engel kom vertoon homself in die heilige van die tempel,
omdat juis dáár die reukofferaltaar – die altaar van die gebede – gestaan het. Só
beskryf  Lukas dit ook vir ons in vers 11:
“hy het aan die regterkant van die reukofferaltaar gestaan.” Dít is waaroor dit
gaan, op hierdie plek moet dit plaasvind. Langs die altaar van die gebedsoffer,
met hierdie heerlike en bemoedigende woorde: “Moenie vrees nie, Sagaria, want jou
gebed is verhoor
” (Luk. 1:13). Advent – die naderende koms van Jesus
Christus – is werklik gebedsverhoring! Kersfees is God se direkte verhoring van
eeue se voortdurende gebede van die gelowiges.  

------------

Máár, broers en susters, as die Seun van die mens kom, sal Hy nog steeds
híérdie geloof op die aarde vind? So
klink Jesus se dringende vraag in Lukas 18. Sal Hy steeds hierdie biddende
geloof en hierdie gelowige gebed aantref, soos wat ons dit by Sagaria en
Elisabet aangetref het? Sien u hoe die Here Jesus baie jare later – in Lukas 18
– as’t ware teruggryp op hierdie gebeure rondom die reukofferaltaar? En sien u
hoe Hy hierdie gebeure, deur middel van sy vraag in ons teks, aktueel maak vir óns
vandag? Vir ons – want Jesus stel hierdie vraag ná sy geboorte, ná sy koms in
die krip. Hy stel dit vir almal wat ná Kersfees lewe, Hy stel dit vir óns! So
maklik kan ons tydens die Kerstyd terugkyk, en onsself verwonder oor die Here
se verhoring van eeue se gebede, sonder om werklik in ons eie lewe geraak te
word; so maklik loer ons oor ons skouer en verheug onsself oor die aankondiging
van Christus se advent in Betlehem, sonder om te besef dat ons vandag weer voor
‘n núwe advent staan, ‘n nuwe aankoms. ‘n Advent wat net so ingrypend, indien
nie nog ingrypender, is nie!

Ja, Sagaria en Elisabet en ontelbare ander gelowiges het biddend
gewag op die koms van die Messias, en God het hulle op sy tyd verhoor met die
geboorte in Betlehem. Maar hoe gaan ons om met die koms – met die advent – van
Christus op die wolke? Ons vandag, ons is verbý
die eerste advent, ons wag en ons bid nie meer vir die geboorte van ‘n kind nie.
Ons bid nie meer vir die koms van die Christus-kind nie; inteendeel, ons vier
die féés van die Christus-Koning! “Al was ek nie daar nie, ek weet dit is waar,
die krip en Maria met die kindjie by haar… Al kan ek Hom nie sien nie, tog weet
ek Hy’s daar, omdat ek God se liefde in my lewe ervaar.” So sing ons vandag.
Maar, broers en susters, tog staan ook óns, net soos die gelowiges van die ou
verbond, voor ‘n advent, die volgende advent, die volgende koms van Jesus
Christus… En hoe gaan ons daarmee om? Hoe gaan ons om met die wederkoms van
Jesus Christus op die wolke – dít is die erns van Jesus se vraag in die lig van
Sagaria en Elisabet se gebede.

--------------

Wel, gemeente, die verhaal voorafgaande aan Jesus se vraag, wys vir ons
die weg. Dit is ‘n eenvoudige verhaal, ‘n gelykenis wat ons sonder groot moeite
kan verstaan. Daar was eendag ‘n regter. Hy was nie ‘n aangename man nie. In sy
lewe en in sy regspraak het hy geen rekening met God gehou nie. Ook met die
mense om hom heen het hy vrede gehad, hulle kon hom nie traak nie. As hy hulle
sake behandel het, dan was hulle vir hom maar net nommers, gevalle. En dit het
hom min geskeel wat hulle van hom gedink het.

In dieselfde stad was daar ook ‘n weduwee, een van die swakkeres in
die samelewing. Wanneer ‘n weduwee, op watter manier dan ook, onreg aangedoen is,
dan was sy aangewese op die regter in haar stad. Hy moes aan haar reg verskaf,
hy was eintlik haar enigste beroepingsinstansie. Nou, dit is presies wat met
hierdie weduwee gebeur het – wát die onreg was wat haar aangedoen is, weet ons
nie. Maak ook nie saak nie, sy gaan na die regter. Wat egter wel van groot
belang is, is dat hierdie regter weier om haar saak in behandeling te neem, hy
weier om reg te spreek – hy gaan nie sy tyd mors op haar onbenullige saak nie.

Maar hierdie weduwee laat haar nie so maklik afskrik nie. Die
volgende dag staan sy weer op sy voorstoep, en die dag daarna weer. Sy hou aan!
O nee, dit is nie so dat sy voorbarig of brutaal is nie; moontlik is sy selfs
bang vir hierdie regter. Sy probeer hom ook nie met geld omkoop nie, en sy
skakel ook nie vriende in om hom van gedagte te laat verander nie. Moedig gaan
sy self, elke keer weer. Sy hou nie op nie: “Doen reg aan my teenoor my
teëparty.” Met verloop van tyd groei daar by hierdie onbeskofte regter vrees en
frustrasie; hy is bang dat die weduwee hom eendag te lyf sal gaan en hom blou-oog
sal slaan (die woord wat die regter hier gebruik, is ‘n term uit die
boks-wêreld). En daarom gee hy uiteindelik toe: “Al vrees ek God ook nie en al
ontsien ek geen mens nie, tog sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, aan
haar reg doen…” (vers 4 en 5). Is die uitkoms van hierdie gelykenis nie pragtig
nie, gemeente? Hierdie weerlose weduwee is uiteindelik tog sterker as die
onbeskofte regter! Sy het geen wapens om hom te dwing om haar saak in behandeling
te neem nie, maar sy het een ding: sy het geduld, sy het volharding. En dít
gebruik sy! En op dié manier dwing sy die onregverdige regter om ten einde
laaste aan haar reg te verskaf.

 

Ja, gemeente, ons is as gelowiges, as kerk, soos hierdie weduwee. As
volgelinge van die verwerpte Christus word daar vir ons geen plek hier op aarde
gegun nie. Ons is die swakkes in hierdie wêreld, ons is die vervolgdes, die
verwerptes. Ons is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie
edeles nie (1 Kor. 1:26). En verder het ons ook geen wapens om in hierdie
ellendige toestand verandering te bring en reg te verkry nie. Al wat ons het,
is die onophoudelike gebed tot God dat Hy aan ons reg moet verskaf. Laat ons
daarvan gebruik maak! Laat ons, net soos die weduwee, nie ophou bid vir reg
nie. Moenie ophou nie! Nee, dit beteken nie dat ons brutaal en voorbarig moet
wees nie, maar ons mag knaend wees! Op julle mond, eis van My vrymoedig!

En onthou: by God bid ons nooit tevergeefs nie.

En presies hier vind ons dan ook die kontras van die gelykenis…

Want die aardse regter was ‘n sondige, ellendige mens wat homself
gedra het asof hy ‘n god is. Die hemelse regter, daarenteen, is
die heilige God, maar wat nogtans nooit Hy onverskillig omgaan met mense en
hulle reg nie. Vir die aardse regter was die hulpbehoewende weduwee
onbelangrik, maar voor God is biddende gelowiges werklike persone wat sy volle
aandag kry. Vir lank was die weduwee se versoek onontvanklik by die aardse
regter, maar God bekommer Hom oor elkeen wat Hom dag en nag aanroep in hulle
gebede. As die onregverdige regter uiteindelik tog maar moes toegee, sou die
liefdevolle God dan nie vinnig optree ten behoewe van sy kinders nie? Ja,
broers en susters, Hy sal verseker hoor, Hy word nie moeg om ons aan te hoor
nie en Hy sal ons nooit verbied om Hom aan te spreek nie. Waar die onregverdige
regter kort van draad en ongeduldig was, het God altyd tyd vir ons. Sal God dan
nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie? Wat vir die
weduwee ‘n bekommernis was (“sal hy ooit aan my reg doen?”), is vir die
gelowiges nie eens ‘n kwessie nie: God sal verseker en spoedig aan ons reg
doen. Bly net gedurig bid en moenie moedeloos word nie – dit was, volgens vers
1, die doel van hierdie gelykenis. Moenie ophou bid nie!

 

Maar, gemeente, dáár lê nou presies Jesus se bekommernis, en daarom
sluit Hy ook sy gelykenis af met hierdie baie persoonlike en dringende vraag: wie
sal bly glo? Wie sal aanhou bid? Wie sal volhard in gelowige gebed vir die
wederkoms van die Seun van die mens? Ja, dit is die spesifieke konteks van Jesus
se gelykenis en die daaropvolgende vraag in ons teks: in die laaste gedeelte
van hoofstuk 17 het dit immers gegaan oor die koms van die Koninkryk. Daar wys
Jesus vir sy dissipels hoe dit sal gaan by die koms van sy Koninkryk – Hy wys
vir hulle dat sy Koninkryk nie met groot vertoon sal verskyn nie, maar skielik
en onberekenbaar sal aanbreek. En die tyd wat die koms van die Koninkryk sal
voorafgaan, sal wees soos die tyd van Noag voor die sondvloed, vol dreiging en
ondergang. In hierdie krisistyd is die kerk soos die weduwee van die gelykenis
– ‘n verdrukte weduwee wat smeek om reg. Die kinders van God honger en dors na
die geregtigheid, hulle hunker na die volkome verlossing, wanneer die druk
verwissel word met geluk.

Maar ons sien nog so min daarvan. Dit duur so lank. Ons is ‘n
verdrukte kerk wat van alle kante bedreig word deur die voortwoekerende kanker
van die sonde in hierdie wêreld. As kerk moet ons van die kant van die wêreld
geen reg verwag nie. En dan kan dit ontsaglik moeilik word om te bly bid; hoe
langer ons in die swaarkry van ons tyd vasgevang word, hoe moeiliker word dit
om te bly bid. Dit is so maklik om moedeloos te word; dit is so maklik om
onsself maar saam met die wêreld oor te gee aan eet en drink en trou. En die
Here Jesus verstaan dit! Hy ken ons gebede om verlossing van siekte en sorge,
van moedeloosheid, van swakheid, van onreg wat ons aangedoen word, van
eensaamheid, van sondes in die kerk. Hy weet hoe ons soms verslap in ons
gebede; Hy weet hoe ons dalk aanvanklik aanhoudend gebid het, maar hoe daar met
verloop van tyd ‘n soort verslaenheid en gebedsmoegheid oor ons gekom het. Hy
sien ook ons luiheid – ons het dit dalk so goed in die wêreld, dat ons nie eens
meer weet hoekom ons moet bly bid vir die reg van die kerk nie. Ons het ophou
bid vir die wederkoms van Christus, want ons het geword soos die mense in die
dae van Lot: ons eet en drink, ons koop en verkoop, ons plant en bou… en ons
het dit goed (17:28).  Jesus weet van dit
alles…

 

En daarom sy dringende vraag aan elkeen van ons vanmôre: Sal Ek, by
my wederkoms, geloof op die aarde vind? Ken jy die weduwee se roep om reg, dag
en nag? Is dit ook jou roep tot God? Roep jy dit uit tot God wanneer jy die
wêreldnuus gesien het, of wanneer jy berigte van siekte of dood ontvang het? En
snags, wanneer die nood van die kerk en die wêreld jou wakker hou – stuur jy
jou gebede op tot God? Ken jy die gebedsworsteling van die kerk? Hoor dan die
woord van die Here Jesus: “Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat
dag en nag tot Hom roep nie…? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal
doen.” Christus verseker ons: God hoor! En met hierdie versekering wek Hy ons
op om te volhard in die gebed.

---------------

Broers en susters, hoe word dit advent in ons lewens? Deur ons christelike
aktiwiteite? Deur ons reformasie-pogings? Deur ons lewensheiliging? Nee, slegs
deur gebed. In gebed kniel ons neer voor die Heilige God. Wat anders is daar in
ons lewens wat ons voor God kan bring en die wederkoms kan bespoedig? Nie so
baie nie. Maar as daar uiteindelik niks anders oorbly nie as die gebed om
vergewing en verlossing, die smeking om herstel en vernuwing, dan is dit juis hierdie
swakheid van die mens waaroor God Hom wil ontferm. En dit is dan ook presies
die rede hoekom die Here Jesus die vraag stel of die Seun van die mens nog wel
geloof sal vind wanneer Hy terugkom – en dan bedoel Hy met geloof: biddende
geloof. Die Here vra nie of Hy ‘n bloeiende wêreldkerk sal aantref nie. Hy vra
ook nie of Hy suksesvolle en perfekte christene sal aantref nie. Maar Hy vra
wel of daar nog geloof sal wees, soos die geloof van die weduwee wat nie
opgehou het om by die regter aan te klop met die versoek om aan haar reg te
doen nie.

 

Ja, gemeente, namate die tyd van die ou verbond verbygegaan het, het
dit al hoe duideliker geword dat Israel nooit in hierdie wêreld sou oorleef
nie. Die volk het weggesink in betekenisloosheid. En dieselfde was die geval in
Sagaria en Elisabet se persoonlike lewens – soos wat hulle lewe verbygegaan
het, het dit hoe langer hoe leër vir hulle geword. En so is dit vandag nog
steeds. Namate die tyd van die nuwe verbond verbygaan, raak die chistendom meer
en meer verswak deur verdeeldheid en ongeloof. En hoeveel kinders van God is
daar nie wat gebuk gaan onder aanvegting, kinderloosheid, seerkry en dood nie?
Ons word oud daarmee – net soos Sagaria en Elisabet.

Maar God gebruik hierdie beproewinge om ons te louter, sodat daar
uiteindelik niks anders oorbly nie as opgehewe hande en die aanhoudende gebed.
Wat oorbly, is net geloof. Wanneer daardie klein vlammetjie bly brand in lewens
wat vir die res heeltemal afbrand soos ‘n kers, dan sal God ons nie verniet
laat lewe nie. Hy sal daarvoor sorg dat alle onvrugbaarheid, alle seerkry en
hartseer, alle verlies en dood – dat dit alles nie die laaste woord in ons
lewens het nie. Hy ontferm Hom oor sy biddende kinders deur sy Seun te stuur – aanvanklik
om Homself te verneder vir ons sondes, maar binnekort om hemel en aarde te
vernuwe tot een groot fees van vrede, vrugbaarheid, volmaakte verhoudings en
blydskap.

Dit is wat Gabriël aan Sagaria belowe: “Hy sal blydskap en
verheuging vir jou wees!” Volhard in die gebed, broers en susters, want by God
is dit die moeite werd. Ook al kom dinge hier op aarde nooit meer reg nie, in
God se toekoms sal alles regkom. Die onvrugbare Elisabet wat, na jare se
gebede, tóg ‘n kindjie mag ontvang, is ‘n teken in die nag. God kan woestyne in
bloeiende tuine verander. Hy sal ‘n gevalle en sterwende wêreld verander in ‘n
heerlike paradys. Want – só sê Jesaja in hoofstuk 9 van sy profesie – ‘n kind
is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee. En die heerskappy is op sy skouer.
En ons noem Hom: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot
vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van
Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en
deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van Gabriël se God sal
dit doen! Wat soos ‘n droom van Jesaja gelyk het, word die werklikheid van
Jesus! Moenie ophou om daarvoor te bid nie! Amen

Liturgie
(oggend)

 

  • VOORPSALM Skr. 20:1-3

Votum Ps. 124:4

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en
wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus,
die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die
konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 92:1 en 2

Wetslesing

Sing Skr. 20:4, 5, 7 en 8

Gebed

Lees:    Lukas 1:5-17

            Lukas 17:20-18:8

Sing Ps. 141:1 en 2

Teks: Lukas 18:8b

Preek

Amenlied Ps. 123

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 74:8, 15 en 16

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
/
Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn
en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy
vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)