NGB Art 30 en Art 31 : Ampsdraers mag met die betroubare Woord 'n voortreflike werk verrig.

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2011-12-12
Teks: 
I Timótheüs 3
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten

 

Preek – NGB,
artikel 30 en 31; lees 1 Timotheus 3

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

As iemand na ‘n opsienersamp verlang, begeer hy ‘n voortreflike werk
– só sê Paulus in 1 Timotheus 3:1. Ja, as…! Ek kan u verseker, broers en
susters, dat daar heelwat ampsdraers is wat hierdie werk nie begeer nie. O ja, hulle doen dit van harte omdat God hulle
roep, maar begeer…? Nee. Maar gelukkig word dit ook nie as eis gestel nie;
Paulus sê nie dat iemand na ‘n opsienersamp moet
verlang nie. Hy sê net dat, as daar persone is wat na ‘n opsienersamp verlang,
hulle na iets verlang wat die moeite werd is; hulle verlange is op iets goeds
gerig. En as hulle nie daarna verlang nie? Wel – en dit is die mooi! – dan bly
dit steeds ‘n voortreflike werk! Om ampsdraer te wees is mooi werk, of jy nou
daarna verlang of nie.

Maar wat is dan so besonders aan hierdie werk, gemeente? Immers, die
eise is hoog, die verpligtinge is swaar, die geestelike slaggate is baie – ons
het saam die voorskrifte gelees wat in verse 2-7 aan ouderlinge, en in verse
8-13 aan diakens gestel word (en waarna artikel 30 verwys). As ons hierdie voorskrifte
lees, dan is dit beslis nie aanloklik nie. Maar wat maak hierdie werk dan so
voortreflik?

 

Wel, gemeente, die voortreflike van die ampsdiens is dat die
ampsdraer met ‘n betroubare woord werk, die ampsdraer het ‘n boodskap waarop ‘n
mens voluit kan staatmaak! Dit is dan ook presies waarmee Paulus hierdie
hoofstuk begin het; sy eerste woorde in vers 1 lui: “Dit is ‘n betroubare
woord…” Ons vertaling skep hier ‘n bietjie verwarring, want daar staan: “Dit is
‘n betroubare woord…”, gevolg deur ‘n dubbelpunt. Dit skep die indruk asof die woorde
wat na die dubbelpunt volg die eintlike inhoud van die betroubare woord is. Die
betroubare woord sou dan wees dat, as iemand na die opsienersamp verlang, hy ‘n
voortreflike werk begeer. Maar dit is nie wat daar staan nie. In die Grieks
staan daar ‘n baie eenvoudig volsin: “Die woord is betroubaar” – punt. Of dalk
eerder: uitroepteken! 

En dit is goed om te weet dat 1 Timotheus 3:1 nie die enigste plek
is waar ons hierdie volsin aantref nie – u kan dieselfde ook lees in 1
Timotheus 1:15, 4:9, 2 Timotheus 2:11 en Titus 3:8. En op al hierdie plekke
gaan dit oor ‘n op sigselfstaande uitroep: “Die woord is betroubaar!” Watter
woord? Wel, die woord van die evangelie, die woord van die verlossing deur
Jesus Christus. Van dáárdie verlossende woord mag die ampsdraers onder mekaar
uitroep: “Dit is betroubaar! Daarmee kan ons werk; ons het vaste grond onder
ons voete in die feit en in die inhoud van God se openbaring!” En omdat die wóórd
betroubaar is, dáárom is ampsdiens ‘n voortreflike werk!

Tema: Ampsdraers mag met die betroubare woord ‘n voortreflike werk
verrig!
Deur hulle arbeid:

  1. word die kerk indrukwekkender as die afgodstempel
  2. kry God groter eer as Diana

 

1. Paulus was van plan om kort voor lank die gemeente in Efese, waar hy
Timotheus agtergelaat het, te besoek. Maar Paulus het ook uit persoonlike ervaring
geweet dat sy planne nie noodwendig die Here se planne is nie. En vir die geval
dat die Here anders sou besluit, wou hy hê dat Timotheus moes weet hoe hy en
die ander ampsdraers intussen hulle werk in die gemeente moes verrig.

Paulus gebruik hier vir die gemeente die beeld van ‘n huisgesin of
‘n huishouding, ‘n beeld wat ons verskeie kere in die Skrif aantref. Dink maar
aan wat ons lees in Efesiërs 2:19-22 oor die gelowiges wat huisgenote van God
is – terloops, die boek Efesiërs is ‘n vroeëre brief aan dieselfde gemeente as
waar Timotheus tans werksaam was; dink ook aan die eerste brief van Petrus waar
Petrus op twee plekke oor die gemeente praat as die huis van God. En ‘n laaste
voorbeeld, nader aan die konteks van ons teksgedeelte, is in 1 Timotheus 3:4 en
5 – hier word as eis vir ouderlinge gestel dat hulle hul eie huis goed moet
regeer. Want, sê Paulus vervolgens, “as iemand nie weet om sy eie huis te
regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra?” Hier word dus ‘n
direkte verband gelê tussen die ouderling se regering as man en as vader oor sy
eie huisgesin én die regering oor die huis van God, die gemeente.

 

Broers en susters, dit is ‘n besondere gepaste beeld wat Paulus hier
gebruik. Immers, die lede van die kerk – u en ek – is aangenome seuns en dogter
van God die Vader. Nadat ons weergebore is deur geloof in God se eie Seun, is
ons in sy gesin opgeneem deur die Heilige Gees. Daarom is ons mekaar se broers
en susters in Christus. Elkeen van ons het ‘n plek en ‘n taak in die gemeenskap
van God se huisgesin. Die beeld van die huisgesin, wat Paulus hier gebruik, gee
iets weer van die geborgenheid, die veiligheid en die huislikheid wat elkeen
mag beleef wat in Jesus Christus glo. Wat ons ook al daarbuite mag meemaak,
watter hartseer ons ook al ken in die daaglikse bestaan, hier mag ons tuiskom in
‘n eie gesin. ‘n Gesin waar ons weet wat ons aan mekaar het, ‘n gesin waar
woorde betekenis het, en waar ons mekaar ook sónder woorde verstaan. Altans, so
behoort dit te wees…

 

Maar, gemeente, daar is meer.  Want behalwe dat óns in hierdie huisgesin
woon, woon God self ook hier. Christus is immers, volgens artikel 31, die
enigste Opsiener en Hoof van hierdie gesin. Behalwe dat die gemeente die huis
van God is, is ons tegelykertyd ook die gemeente van die lewende God. Die kerk
is dus nie maar net die versamelplek van sy kinders nie, terwyl Hy self die
groot Afwesige is nie. Nee, hierdie is ook sy huis. Hy wóón hier, Hy verkeer hier
in ons midde. Geborgenheid in ‘n gesin is natuurlik mooi, maar dit is van
weinig waarde as pa en ma nie daar is om orde en leiding, versorging en
struktuur, troos en bystand te bied nie. Wel, sê Paulus, die Pa van hierdie
huisgesin is hier!

Vir die kwesbare gesinnetjie daar in Efese moes dit ‘n besondere
bemoediging gewees het. Immers, hulle samekomste – waarskynlik in ‘n huis van
een van die gemeentlede – het plaasgevind in die skaduwee van die magtige tempel
van die godin Diana wat daar in Efese gestaan het. Diana se tempel was een van
die sewe wonders van die antieke wêreld; ‘n indrukwekkende gebou, wat die
huisgemeente in Efese maar klein en nietig moes laat voel het – wie kan nou daarmee
kompeteer? Wat is ons in vergelyking met daardie magtige struktuur? Maar hoe
indrukwekkend hierdie tempel van Diana uiterlik ook al gelyk het, dit was morsdood
van binne; die godin in hierdie tempel was niks meer nie as ‘n lewelose afgod. Met
tempels van steen kan jy miskien die afgode gelukkig hou, maar nie die lewende
God nie. Nee, Hy woon tussen sy mense. Elke keer wanneer die christene saamgekom
het vir gebed en lofprysing, vir Woord en sakramente, dan was God daar. Maar
ook in die daaglikse lewe, wanneer die gelowiges ná die eredienste weer
uitmekaar gegaan het, dan was hulle steeds die huisgesin van God.

 

Gemeente, dit is ‘n geweldige troos om op só ‘n manier as kerk in
die wêreld te mag staan. Klein soos wat die gemeentetjie in Efese was, kon hulle
opstaan teen die magtige Diana-kultus – soos ‘n Dawid van ouds kon hulle
opstaan teen die reus Goliat en sê: “Ons kom in die Naam van die Here.” Klein
soos wat ons vandag mag wees, is ons groter as alle valse godsdienste, is ons
groter as alles wat die wêreld het om te bied, is ons groter as alles wat die
mensdom opbou. As kerk hoef ons in niemand se skaduwee te lewe nie, want die
lewende God woon by óns! Hy het besluit om híér in te trek. Alles wat nodig is
vir lewe en sterwe, die volle waarheid van die betroubare woord, is híér
aanwesig en mag deur ons vertoon word! En dit is presies wat Paulus aan die
einde van vers 15 bedoel: die gemeente is ‘n pilaar en grondslag van die
waarheid!

 

Nou, die woord wat hier in vers 15 met ‘grondslag’ vertaal is, moet
ons nie verstaan asof dit op die fondament van die gebou dui nie. Daarvoor word
in die Grieks ‘n ander woord gebruik. Die gevaar is anders dat die kerk sou begin
dink dat sy die fondament van die
waarheid is, dat die waarheid op die kerk rus, en nie andersom nie. Dit is
inderdaad wat in Rome gebeur het – in die Roomse Kerk is die kerk die fondament
van die waarheid, en daarom moet ons, volgens hulle, nie net na die Skrif
luister nie, maar ook na die kerklike tradisie en na die uitsprake van die kerk
deur middel van die pous. Maar die woord wat Paulus hier gebruik, verwys nie na
die gebou se fondament nie, maar na ‘n deel van die ondersteuningstruktuur. Ons
kan dit dalk die beste met ‘stutmuur’ vertaal. So ‘n stutmuur het gehelp om die
mure en pilare van ‘n groot gebou te ondersteun. Só is die kerk van Jesus
Christus daar om die waarheid van die Skrif vas te hou. In teenstelling tot
elke wind van lering in hierdie wêreld (Ef. 4:14), wat ons heen en weer slinger
en onstabiel in ons geloof maak, staan die kerk standvastig by die enigste waarheid.

Die ander woord wat Paulus gebruik, is die woord ‘pilaar’. Ons almal
verstaan waarskynlik wat die funksie van ‘n pilaar is, naamlik om die dak in
die lug te hou. Die pilare lig die dak in die lug op, hoog in die lug op, sodat
dit duidelik vanaf ‘n afstand gesien kan word. Só hou die kerk die waarheid
omhoog sodat dit deur die wêreld gesien kan word – kyk, daar is ons krag! Soos
wat pilare die dak oplig terwyl dit self onsigbaar bly, so is dit nie die taak
van die kerk om haarsélf te adverteer nie, maar om die waarheid te vertoon. Die
kerk verhef as pilaar die waarheid en as stutmuur staan sy vas by daardie
waarheid.

En dit geld vir elke gemeente, broers en susters; elke gemeente is
een van die pilare van die waarheid. En die Efesiërs het hierdie beeld goed verstaan,
hulle is daaraan herinner elke keer wanneer hulle verby die tempel van Diana
gestap het. Hierdie tempel het naamlik meer as honderd kolossale en pragtige
pilare gehad, elkeen ses verdiepings hoog – so baie pilare was nodig om die dak
van marmer omhoog te hou. Sonder al hierdie pilare sou die tempel verseker inmekaar
geval het, in plaas daarvan dat dit vir kilometers ver sigbaar was. Op
soortgelyke wyse is elke ware gemeente van Jesus Christus ‘n pilaar wat help om
die waarheid van sy reddende werk te ondersteun deur dit in hierdie wêreld
omhoog te hou.

 

En nou is dit die taak van die ampsdraers om hierdie huishouding op
so ‘n wyse te bestuur dat die dak nie inmekaar tuimel nie, maar hoog bo die
gebou opgelig word. Dit is deel van hulle taak om te sorg dat die waarheid nie
onder die banke van die kerk weggesteek word nie, maar openlik gehandhaaf en
vrymoedig uitgedra word. En onmiddellik dink ons dan aan evangelisasie – ja,
dit natuurlik ook. Maar dit gaan hier oor meer as net om evangelisasie te bevorder.
Dit gaan daaroor dat hulle die voortreflike werk, wat die Here hulle gee, sal
nakom met die betroubare Woord in hulle hand. Dit gaan daaroor dat hulle die
gemeente ingaan met die waarheid in hul harte en op hul lippe. Broeders
ampsdraers, laat die Woord van die waarheid in hierdie gemeente heers, wérk met
daardie Woord, drúk dit op die harte van al die lidmate. En dan sal ons sien –
sonder dat daar ‘n woord oor evangelisasie gesê is – hoe hierdie gemeente ‘n
pilaar en stutmuur van die waarheid word.

Nee, die ampsdraers is nie die pilaar nie. Die ampsdraers is
diensbaar aan ‘n geméénte wat dit moet wees. Hierdie gemeente moet die waarheid
verhef, hierdie gemeente moet standvastig wees in die waarheid. En die ampsdraers
mag dit begelei met die betroubare Woord. Op die fondament van die Woord groei ‘n kerk wat daardie einste woord haar
eie maak en hoog ophef, wat die ware leer oral versprei (soos artikel 30 sê). Vanaf
die onderste fondament trek die waarheid deur alles heen, totdat dit bo uitkom,
vir almal om te sien. Dít is kerk-wees: die Woord as vaste basis onder ons
voete, die Woord deur elke kamer van hierdie huisgesin heen, die Woord as dak
bo-op die huis – ‘n teken van onoorwinbare krag!

In die tweede plek: deur
die ampsdraers se arbeid kry God groter eer as Diana.

 

2. Gemeente, in vers 15 het dit veral gegaan oor die hooghou van die
waarheid, dus die handhawing en vertoning van die ware léér. Maar volgens
Paulus in vers 16 moet hierdie funksie van die kerk ook lei tot ‘n sekere
lewensstyl. Hy praat daar van die godsaligheid, of soos artikel 30 dit noem:
die ware godsdiens – dit dui op die lewe van die gelowige, op sy Godsvrug, sy
vroomheid; dit verwys na die houding van die gelowige wat deur middel van sy
manier van lewe aan God die eer gee. Ja, sal u miskien sê, Paulus praat inderdaad
van die godsaligheid, maar hy sê daarmee saam dat hierdie godsaligheid ‘n groot
verborgenheid is. Hoe moet ons ‘n
Godvrugtige lewe lei, wanneer daardie lewe verborge is?

Gemeente, wanneer die bybel van ‘n verborgenheid – of: ‘n misterie –
praat, dan word daarmee nie verwys na iets waarvan ons niks kan weet nie. Nee,
dit verwys dan na iets wat vir lank verborge was, maar wat nou geopenbaar is.
In die bybel verwys die misterie na God se geheime plan van verlossing, wat tans
nie meer ‘n geheim is nie omdat God dit immers reeds onthul het. Maar wat is dan
onthul? Wel, sê Paulus vervolgens, “God is geopenbaar in die vlees, is
geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene,
is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid.”

 

Dit wil voorkom asof hierdie woorde deel gevorm het van ‘n vroeë
belydenis, miskien selfs van een of ander Christelike gesang. En ons kan dit
waarskynlik die beste verstaan wanneer ons dit chronologies lees; dus, die
verskillende dele van hierdie belydenis of gesang volg mekaar in tyd op. Heel
eerste: God is geopenbaar in die vlees. Dit verwys na die vleeswording van
Jesus Christus – in ‘n ware menslike liggaam is Hy gebore, het Hy gelewe, en is
Hy uiteindelik gekruisig en begrawe. Vervolgens, sê Paulus, is Hy geregverdig
in die Gees. Dit verwys na Jesus se opstanding; Jesus is wel gedood na die
vlees, maar lewend gemaak deur die Gees. En so het die Gees bevestig dat Jesus inderdaad
die Seun van God en die redder van die wêreld is. Vervolgens, sê Paulus, het Hy
verskyn aan engele – ons kan dalk beter vertaal dat Hy verskyn het aan
boodskappers, en dan verwys dit na sy dissipels. Hulle ooggetuienis van sy
opstanding was van die grootste belang sodat hy vervolgens ook verkondig kon
word onder die heidene. En dit is presies wat gebeur het: Jesus is verkondig in
Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die
aarde. En waar Jesus ookal verkondig is, daar is Hy geglo in die wêreld – die
wêreldwye sending om mense tot Jesus Christus te bring, was en is vandag nog
steeds ‘n wêreldwye sukses. En ten slotte, sê Paulus, is Hy opgeneem in
heerlikheid. Dit verwys na Jesus se verheerliking, nie slegs by sy hemelvaart nie,
maar meer nog by sy wederkoms.

 

Dus, gemeente, die waarheid wat die kerk hooghou in hierdie wêreld
is die geheimenis van die vleeswording, opstanding, verskyning, uitsending, aanneming
en verheerliking van Jesus Christus. En dit is, volgens Paulus, onteenseglik ‘n
groot
geheimenis! O ja, die inwoners van Efese wou dit ontken; u onthou moes
hoe hulle in hulle oproerigheid geroep het: Groot is die Diana van
die Efesiërs. Maar met hierdie geroep wat nog in sy ore weerklink, skryf
Paulus: Nee, nie Diana is groot nie, maar groot is die geopenbaarde geheim van
Jesus Christus! En dit is hierdie geheimenis wat mense bring tot Godsaligheid,
tot Godsvrug, tot ‘n vroom lewenswandel. Met ander woorde, die evangelie van
Jesus Christus bevat praktiese waarheid. Hierdie waarheid bevorder die
aanbidding van God en die uitlewing van die ware godsdiens. Die gelowiges – u
en ek – moet dus lewe in ooreenstemming met hierdie misterie. Die geheimenis
van Jesus Christus, wat deur God geopenbaar is, roep ons op tot ‘n antwoord in
ons daaglikse lewe. En wat behels dit?

 

Wel, gemeente, aangesien Jesus Christus geopenbaar is in die vléés,
laat ons Hom daarom konkreet verheerlik met ons liggame; laat ons ons hande
gebruik om mekaar te help, ons lippe om goeie woorde teenoor mekaar te spreek,
en ons verstand om God en die kerk te dien. Aangesien Jesus geregverdig is deur
die Gees, laat ons dan deur die Gees wandel, sodat ons self ook op die dag van
oordeel geregverdig sal word. Laat ons God vra om vir ons te bewys dat ons aan
Hom behoort deur aan ons verheerlikte liggame te gee. Aangesien Jesus verskyn
het aan boodskappers, laat ons saam met die apostels Hom aanbid rondom sy
troon. Aangesien Jesus verkondig is onder die heidene, laat ook ons ook die
evangelie uitdra en getuig aan almal dat Jesus Christus die Here is – en dit
begin baie konkreet hier in Waverley, by ons huise, by ons werk. Aangesien
Jesus in die wêreld geglo is, laat ons ook met ons hele hart in Hom glo vir
verlossing en vir alles wat ons elke dag nodig het. Aangesien Jesus verheerlik
is, laat ons uitsien na die dag van sy wederkoms wanneer die groot geheimenis
finaal aan ons geopenbaar sal word, en laat dit in ons houding sigbaar wees.

 

Dít, broers en susters, is die baie praktiese, baie konkrete
uitwerking van die geopenbaarde geheimenis in die lewens van die gelowiges. Hierdie
geheimenis is nie meer stil nie, soos wat ons net hierna uit Skrifberyming 24:4
sal sing, hierdie geheimenis is geopenbaar, die ewigheid is nie meer stil nie.
Maar wat is, volgens vers 5 van dieselfde skrifberyming dan die vrug van hierdie
geheimenis. Wat werk dit uit? Het ons, soos vers 6 dit stel, toebereide harte
en ore? Want ja, gemeente, die geopenbaarde geheim wil in my lewe openbaar
word! Maar soms, as ‘n mens na jou eie lewe en na die lewe van die gemeente
kyk, en jy sien die lewenswandel, dan wonder jy: maar wat het geword van die
uitwerking van die ware leer? Ja, dan kan ons hoe hard roep dat ons
gereformeerd is omdat ons die ware leer het, maar as die ware leer nie prakties
sigbaar word in die lewe nie…. ja, dalk het daar dan iets fout gegaan by die
leer, en by die aanneming van die leer, en by die hooghou van die leer!

Broeders ampsdraers, dít is dan ook deel van u taak, naamlik om met
die betroubare Woord in die hand die gelowiges op te wek tot ‘n Godvrugtige
lewe, ‘n lewe gewy aan die lewende God, en nie aan die afgode nie. En vra dan
maar tydens huisbesoek hoe die betrokke lidmaat lewe, vra maar hoe dit in die
huwelik gaan, vra maar hoe die gesin hulle vrye tyd invul, vra maar wat hulle
op televisie kyk. En, broers en susters, wees eerlik in jou antwoord; moenie die
ampsdraer probeer bluf nie. Jy gaan dit moontlik regkry, maar daarmee het jy
jouself, die gemeente, maar ook die eer van God nie bevorder nie.

 

Kom ons werk saam daaraan dat ons nie, soos die tempel van die
Diana, ‘n skitterende struktuur is, maar wat binne-in geen lewe meer het nie. Laat
ons die waarheid hooghou en laat daardeur ook die godsaligheid blom! En so mag
ons weet dat die Here by ons woon, dat Hy in ons woon. Daar is immers niks
beter nie as om te kan sê: Die Here is by en in ons! God met ons, Immanuel! Dit
is ‘n betroubare woord!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • Voorpsalm Skr. 38

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die
Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 98:2 en 3

Gebed

Lees: 1 Timotheus 3

Sing Ps. 132:5, 6, 9 en 10

Teks: NGB, artikel 30 en 31

Preek

Amenlied Skr. 24:4-6

Gebed

Geloofsbelydenis (singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 135:9-11

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy
aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor
jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)