Gen 5 : 28 & 29 : Dit is HY wat ons sal troos

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2011-12-04
Teks: 
Génesis 5 : 28-6 : 13 en 1 Petrus 3 : 18-22
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten.

 

Preek –
Genesis 5:28-29; lees Genesis 5:28-6:13, 1 Petrus 3:18-22

 

Geliefde gemeente van ons Trooster, Jesus Christus,

U ken miskien ook die bekende gesang wat sê: “Stil maar, wag maar,
alles word nuut, die hemel en die aarde.” Maar behalwe dat u dit ken, beleef u dit
ook soms? Het u ook soms daardie gevoel: “Wees maar net stil, alles sal nuut
word”?

As ‘n mens die ellende sien op televisie en in die koerant: die
moorde, die aanrandings en verkragtings, die besoedeling van die aarde, die
politieke gekonkel vir leierskap en mag, die armoede in Afrika en die dreigende
oorlog in Iran – dink jy dan nie soms nie: “Stil maar, wag maar…”? En as ‘n
mens na die ellende om jou heen kyk: die arm mense wat by kruispunte staan om
geld te bedel, gesinne waarin ‘n man op sy vrou skreeu, jongmense wie se lewens
deur dwelms verwoes word, en ouers wat hulle kinders verwaarloos omdat hulle
hul eie lewe wil lei – sê jy dan nie soms vir jouself nie: “Stil maar, wag
maar, alles word nuut…”? En as jy na die moeites en sorge in jou eie lewe kyk:
siekte, sielkundige moeites, huweliksprobleme, finansiële sorge, kinders wat
dreig om van die Here afvallig te raak, versteurde familieverhoudings, en die
sondes in jou lewe waaarvan niemand anders weet nie – sê jy dan nie soms tussen
die trane deur vir jouself nie: “Stil maar, wag maar, alles word nuut, die
hemel en die aarde”? Ja, gemeente, ons verlang na troos in ons soms ellendige
wêreld, en uiteindelik smag ons na vernuwing.

 

Maar is ons wêreld so uniek in sy ellende? Is ons verlange na troos
so besonders? Nie as ons na Lameg in Genesis 5 luister nie. Soms wonder ‘n mens
selfs of ons tyd nie opvallende ooreenkomste vertoon met die tyd van Lameg en
sy seun Noag nie – dus, die tyd voor die groot sondvloed van Genesis 7 en 8. Ons
lees byvoorbeeld in Genesis 6:5 dat die Here gesien het dat die boosheid van
die mens op die aarde groot was en dat al die versinsels wat hy in sy hart
bedink het, altyddeur net sleg was. En in vers 11 lees ons dat die aarde
verdorwe was voor die aangesig van God, en dat die aarde vol geweld was. En in
vers 12 lees ons van die aarde: “… dit was verdorwe, want alles vlees het sy
wandel op die aarde verderwe.” Nou, as iemand hierdie woorde as beskrywing vir
ons tyd sou gebruik, sou ons as christene heelhartig met hom saamgestem het. Dus,
die beskrywing van ‘n tyd, ses- of seweduisend jaar gelede, pas ook by ons tyd.
En daarom is ons tyd nie uniek nie, gemeente. Ook is ons verlange nie so besonders
nie. Immers, ook Lameg smag na troos. En daarom noem hy sy seun Noag, want dit
is hy wat ons sal troos!

Tema: Dit is Hy wat ons sal troos!

  1. Noag – ‘n nuwe begin wat smag na ‘n beter begin
  2. Lameg versus Lameg

 

1. Genesis 5 gee vir ons die stamboom – in Hebreeus die toledot – van Adam. Dit is ‘n
uitgebreide herhaling van name, almal ongeveer in dieselfde patroon: “Toe A soveel
jaar oud was, het hy die vader van B geword; en A het na die geboorte van B nog
x aantal jare gelewe; en hy het seuns
en dogters gehad. So was dan al die dae van A x aantal jare, en hy het gesterwe.” Veral hierdie laaste woorde is
‘n terugkerende refrein: en hy het gesterwe.

Ja, gemeente, die dood het in die wêreld gekom; die dood is ‘n
realiteit, ook in die geslag van die vrou. Ons sou hierdie refrein eintlik
verwag het in Genesis 4, by die afstammelinge van Kain; immers, hy was mos die
een wat deur die Here verwerp is. Is dit dan nie eerder sy geslag wat moet
sterwe nie? Maar, interessant genoeg, ons lees in Genesis 4 niks daarvan nie. Nee,
by die geslag van Adam via sy seun Set, dus by die uitverkore geslag, spesifiek
dáár vind ons die byna eentonige herhaling: en hy het gesterwe. Elke mens,
selfs die uitverkorenes van die Here, verdien dus die dood; as sondige mense is
elke lewende ‘n sterwende.

 

Maar, gemeente, behalwe die doodse refrein vind ons in Genesis 5 ook
twee ligpunte. Die eerste, waarby ons nie lank sal stilstaan nie, is die kort
verwysing na Henog (vers 24) – Henog, die man wat met God gewandel het, en wat
deur God weggeneem is sodat hy die dood nie gesien het nie (Hebr. 11:5). Daarin
skuil vir ons die pragtige boodskap dat die dood nie die laaste sê het nie; die
dood heers nie absoluut oor die mens nie! God, wat sterker is as die dood, kan
Henog wegneem sonder dat hy sterwe. Die ander ligpunt in hierdie doodse refrein
vind ons in ons teks, Lameg se profesie oor Noag: “Dit is hy wat ons sal
troos.”

Nou, broers en susters, Noag is die laaste persoon in die stamboom
van Genesis 5 – u sal sien dat Genesis 5 oor tien geslagte heen strek, en dat
Noag die afsluiting van hierdie tien geslagte vorm. En as laaste in hierdie
stamboom word nou van Noag gesê dat hy troos sal bring oor ons werk en oor die
moeitevolle arbeid van ons hande wat voortkom uit die aarde wat die HERE
vervloek het. Hoor u in hierdie woorde van Lameg oor ons werk, en oor die
moeitevolle arbeid van ons hande, en oor die aarde wat die Here vervloek het –
hoor u daarin die verwysing na Genesis 3:16-19? In hierdie verse in Genesis 3
vind ons die aankondiging van die straf van die Here oor die ongehoorsaamheid
van die mens; ons vind hier die aankondiging van die ellendige gevolge van die
sondeval. Dus, wanneer Lameg in ons teks na hierdie straf en ellende terugverwys,
dan verwoord hy wat hyself en die geslagte voor hom eerstehands ervaar het; want
die geslagte van Genesis 5 het presies daardie straf oor die sonde gevoel.

Hulle het in hul eie lewens ervaar dat vrouens met smart kinders
baar, hulle het in hul eie lewens ervaar dat die aarde vervloek is en dat die
man in die sweet van sy aangesig sy brood verdien, hulle het in hul eie lewens
ervaar dat die mens stof is en tot stof terugkeer. Tien geslagte lank het hulle
dit pynlik eerstehands ervaar. Noag kom dus aan die einde van ‘n era waarin
sélfs die lyn van die vrouesaad moet erken: dit is alles ‘n gejaag na wind, dit
bring slegs ellende. En dán, in reaksie hierop, Lameg se profetiese versugting:
dit is hy wat ons sal troos! Lameg profeteer deur die werking van die Gees:
hierdie seun Noag, hy sal ons troos, deur hom sal daar uitkoms wees uit hierdie
ellende! Maar hoe is dit moontlik?

 

Wel, broers en susters, dit is moontlik omdat daar by Noag ‘n duidelike
wending in die geskiedenis van die wêreld kom. Die geskiedenis wat so mooi by
Adam begin het – onthou u die pragtige refrein van Genesis 1: en dit was baie goed!
– daardie geskiedenis het in Genesis 3 vanweë die sondeval gruwelik skeefgeloop,
sodat die mooi refrein van Genesis 1 plek moes maak vir die hartseer refrein
van Genesis 5. “En hy het gesterwe” het die plek ingeneem van “en dit was baie
goed”. Maar daardie geskiedenis kry nou by Noag ‘n nuwe begin … deur middel van
die sondvloed. Die water van die vloed kom maak die skepping van ná die
sondeval skoon vir ‘n nuwe begin. Dit is asof die Here met een swaai van sy arm
alle gemors en vuilheid van die aarde kom afvee, alle boosheid van daardie tyd
kom uitwis, en slegs met Noag en sy nageslag ‘n nuwe begin maak. Die Here soek
daarna om terug te keer na die toestand van voor die sondeval, die tyd toe
alles nog goed en mooi was, die tyd toe Hy nog saam met Adam in die tuin
gewandel het.

En daarom, gemeente, is dit so opmerklik om die ooreenkomste raak te
sien tussen Adam en Noag; die ooreenkomste tussen die skepping van voor die sondeval,
en dié van ná die vloed: 1) beide wêrelde word uit water geskape – in Genesis 1
is dit die wêreldvloed, by Noag is dit die water van die sondvloed; 2) sowel van
Adam as van Noag word gesê dat hulle met God gewandel het; 3) beide heers oor
die diere: Adam deur hulle te benoem, Noag deur hulle in die ark te bewaar; 4)
God gee byna woordeliks dieselfde opdrag aan Adam en Noag om vrugbaar te wees
en te vermeerder en oor die aarde te heers; 5) sowel Adam as Noag bewerk die
grond; 6) beide het drie seuns gehad wat by name genoem word – vir Adam is
Kain, Abel en Set gebore, en vir Noag is Sem, Gam en Jafet gebore; 7) by beide
se seuns is daar verdeeldheid tussen dié wat deur die Here uitverkies is, en dié
wat verwerp is.

 

Ons sou hierdie ooreenkomste nog met ‘n aantal kon vermeerder, maar
dié wat ek hierbo genoem het, is voldoende om aan te toon dat daar duidelike parallelle
is tussen Adam en Noag. By Adam skep God die aarde, by Noag hérskep Hy daardie
aarde met die water van die sondvloed – as gevolg van die afval en boosheid van
die mensdom van daardie tyd. Die profetiese versugting van Lameg word vervul in
die water van die vloed; deur middel van daardie vloedwaters word Noag ‘n troos
vir die gelowiges: God maak ‘n nuwe begin wanneer hy die verdorwe aarde met die
water van die vloed skoonmaak, en Noag met sy gesin op ‘n skoon aarde uit die
ark laat klim! Dit is hy wat ons sal troos – ja, broers en susters, deur die
Here se genade word Noag tot ‘n troos op ‘n skoongemaakte aarde!

 

Maar gemeente, daar is ook nog ‘n paar ander ooreenkomste tussen
Adam en Noag wat ons moet aantoon, minder positiewe ooreenkomste. Byvoorbeeld
dat beide dieselfde patroon van sonde gevolg het: Adam deur te eet van die vrug
in die paradys, Noag deur te drink en dronk te word van die vrug van die
wingerdstok wat hy ná die sondvloed op die verskoonde aarde geplant het. En
verder dat beide Adam en Noag naaktheid as die gevolg van hulle sonde beleef
het, ‘n naaktheid wat deur ander bedek moes word – Adam se naaktheid is deur
die Here bedek, Noag s’n deur sy seuns Sem en Jafet. Ja, deur die Here se
verskonende genade het Noag die troos geword waarna Lameg gesmag het, maar
uiteindelik was Noag nie in staat om blywende troos te bring nie. Noag het
skaars voet aan wal gesit op die verskoonde aarde, of hy bevuil dit weer met
die sonde wat steeds deel was van hom. Hoewel Noag dus ‘n regverdige, opregte
man onder sy tydgenote was, en hoewel hy met God gewandel het, kon hy nogtans
nie die egte troos bring nie. Hoewel God met Noag ‘n nuwe begin gemaak het, het
hy ten slotte tog in die ou lyn gestaan van die sondige mensdom wat moes
sterwe. Nee, Noag was uiteindelik nie die antwoord nie. Hierdie nuwe begin het
gesmag na ‘n beter begin.

 

Maar gemeente, daardie beter begin sou uiteindelik tog via Noag gaan.
Gaan lees maar die geslagsregister in Lukas 3. In die lyn van Noag sou
uiteindelik – baie generasies later – die Christus gebore word. Ja, Kersfees is
die uiteindelike doel van God se vertroostingsprogram waarna Lameg in Genesis 5
alreeds verlang het. Daar, in die krip in Betlehem, neem die geskiedenis sy
beslissende wending, dáár vind ons God se ware troos vir die mensdom wat
homself in sonde en ellende gedompel het. Hy is ons troos, broers en susters,
omdat Hy die rede vir ons ewige honger en kommer, naamlik die sonde, weggeneem
het deur sy lyding en sterwe. Hy is ons troos omdat Hy deur die krag van God
uit die dode opgestaan het, sodat die refrein van Genesis 5 – “en hy het
gesterwe” – deurbreek kon word. Hy is ons troos omdat Hy nou vanuit die hemel
regeer sodat niks ons van God se liefde kan skei nie. Hy is ons troos omdat Hy
binnekort terugkom om ons tot in ewigheid by Hom te neem. En, gemeente, daarom
glo ons in Jesus Christus, God se eniggebore Seun, ons Here, die Woord wat
vlees geword het: dit is Hy wat ons sal troos!

 

En ons mag in daardie troos deel! Daardie troos is vir u wat verlang
na troos, wat uitsien na vernuwing. Daardie troos is vir ons bedoel. En ons mag
daarvan verseker wees… deur die water van die doop. Soos wat die skepping
voortgekom het uit die aanvanklike wêreldvloed, en soos wat die herskepping
plaasgevind het deur die water van die sondvloed, só mag ons vandag deel in die
vertroosting van ons Here, Jesus Christus, deur die belofte wat in die water
van die doop verseël word. Ons het daarvan gelees in 1 Petrus 3 waar Petrus die
water van die sondvloed deurtrek na die water van die doop; hy sê in verse
20-21: “waarin weinig, dit is agt siele, deur water heen gered is, waarvan die
teëbeeld, die doop, ons nou ook red…”

Soos wat God Noag en sy gesin deur water heen gered het, en Noag op
dié manier die troos geword het waarop Lameg gehoop het, só is die doop vandag die
sekerheid van vertroosting vir al God se kinders, deur die werk van Jesus
Christus. Nou moet ons nie dink dat die doop outomaties ook alle sondes en
onreinheid vir goed uit ons lewens wegwas nie. Petrus sê immers: “die doop … is
nie ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie.” ‘n Gedoopte kan dus nie
sy hande in onskuld was nie. Met die doop het daar geen definitiewe einde gekom
aan die invloed van die vervuiling deur die sonde nie. Nee, Petrus tipeer die
doop as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete. En met gewete bedoel Petrus ‘n
houding, ‘n mentaliteit, wat op God gerig is. Die dopeling wil, ten spyte van
die sonde wat hy nog daagliks doen, tog vir die res van sy lewe op God gerig
bly, op Christus, sy vertroosting!

 

En daarom mag elkeen van ons wat gedoop is seker wees van God se
vertroosting deur Jesus Christus. Watter ellende daar ook al in die wêreld mag
wees, watter sorge en hartseer daar ook al in ons persoonlike lewens mag wees,
watter sonde jou ook al agtervolg – jy mag seker wees dat daar deur Jesus
Christus ware troos is. Kersfees – Christusfees – bring die ware vertroosting
waarna die mensdom smag. En dan praat ons nie van die soetsappige en romantiese
prentjie van die kersnag wat ons in die winkels sien en hoor nie. Nee, ons
praat van die opregte geloof in die kind van Betlehem, Hy wat deur God gestuur
is om ons van al ons sondes en van die gevolge van die sonde te verlos: stil
maar, wag maar, alles word nuut!

Vervolgens: Lameg versus
Lameg

 

2. Broers en susters, die Lameg van Genesis 5:28 is nie die enigste
Lameg van daardie tyd nie. Nee, daar is nog ‘n ander Lameg. Dit is die Lameg
wat staan in die lyn van Kain, die Kainitiese Lameg. Ons lees van hom in
Genesis 4 – daar word vir ons vertel dat hy vir homself twee vroue geneem het,
Ada en Silla. En dan sê hy vir hulle in verse 23 en 24: “Ada en Silla, hoor na
my stem! Vroue van Lameg, luister na my woord! Voorwaar, ek slaan ‘n man dood
wat my wond en ‘n seun wat my kwes. Want Kain sal sewe maal gewreek word, maar
Lameg sewen-en-sewentig maal.” Gemeente, dít is die Lameg van die wêreld. Dít
is die Lameg wat daarna soek om die ellende wat daar as gevolg van die sonde in
die wêreld is, met wraak en geweld reg te maak, wat sy vertroosting in sy eie
krag soek!

Daarteenoor staan dan die Lameg in die lyn van Sem, die Semitiese
Lameg van ons teks. Wat is sy houding? Hoe hanteer hy die sonde en die ellende
in die wêreld? Waar soek hy sy vertroosting? U sien waarskynlik al dat daar ‘n
radikale verskil is tussen die Kainitiese Lameg en die Semitiese Lameg. Die
Semitiese Lameg, die Lameg in die lyn van God se verkiesende genade, soek nie
sy vertroosting in sy eie krag nie, maar hy soek dit in die woord en beloftes
van die Here. Hierdie Lameg soek nie daarna om die goddelose wêreld waarin hy
gelewe het, kaalvuis aan te pak nie, maar hy stel sy hoop en vertroue op die
God wat hy in die lyn van die geslagte leer ken het.

 

En, gemeente, hierdie twee Lamegs staan vandag nog steeds teenoor
mekaar; ons sien dit in die verskillende maniere waarop mense die sonde en
ellende in hierdie wêreld hanteer. Daar is diegene wat hulle krag en troos in
hulleself soek, diegene wat sterk voel in hulleself en dink dat hulle ‘n
oplossing vir elke probleem het. Dit is die mense van die innerlike krag en van
die menslike troos. Dit is die mense wat hulleself deur niks en niemand laat
onderkry nie; mense wat meen dat hulle aangestel is om hulleself te verdedig,
ook al moet dit met geweld gebeur. By hierdie mense kom die redding en die
vertroosting van binne-af; niemand kan hulle help nie, behalwe hulleself. En
hoeveel keer hulle hulself ook al bloedneus loop teen die realiteit dat hulle
nie in staat is om hulleself te help en vir hulleself troos te bied nie,
nogtans gaan hulle voort om die krag in hulleself te soek: ek! Ek sal dit doen!

 

Maar, broers en susters, die wonder van die gelóóf is juis dat dit
wys na iets buite homself; die krag van die gelowige is dat hy weg van homself kan
en mag wys. Soos wat Lameg gedoen het: dit is hy wat ons sal troos. En
dit is presies wat onder andere Johannes die Doper ook gedoen het toe hy besig
was om by die Jordaan te doop en die volk gewonder het of Johannes nie miskien
self die Messias is nie. Dan lees ons in Johannes 1:29: “Die volgende dag sien
Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die
sonde van die wêreld wegneem.” Dáár, nie hier binne nie! Hy,
nie ek nie!

Dít is die uitspraak van die gelowige wat weet dat daar nie krag en
troos in homself te vinde is nie; dit is die geloofsbelydenis van die Lameg wat
in die lyn staan van die eentonige refrein: “en hy het gesterwe… en hy het
gesterwe… ” Daardie Lameg weet eerstehands dat dit nie die moeite werd is om
hier binne te soek nie, omdat hy ‘n sterflike mens is; hy weet dat dit nie sin
het om in die wêreld van sy tyd te soek nie, aangesien dit ‘n goddelose wêreld
is. Maar God laat hom deur die geloof verder en hoër kyk, en hy mag met
geloofsoë sien en sê: “Dit is hy! Hy sal ons troos.”

 

Gemeente, Lameg staan lynreg teenoor Lameg, en dit is belangrik om
te besluit in watter lyn ons gaan staan. Ek het in die inleiding van die preek
die ellende in die wêreld, en die ellende in ons eie omgewing en die moontlike moeites
in ons persoonlike lewens opgenoem. En nou is die vraag: hoe wil jy daarmee
omgaan? Waar wil jy jou troos vind? Wil jy in die lyn van die Kainitiese Lameg sê:
“Wee die man wat aan my vat; ek slaan hom dood”? Of gaan staan jy in die lyn van
die Semitiese Lameg wat alles verwag van die troos wat die Here gee, wat glo in
die vertroosting van Betlehem?

Broers en susters, soek na die ware troos. Gryp die vertroosting van
Israel aan. Moenie wees soos die wêreldse Lameg wat in sy eie vertroosting
getroos wil word nie. Elkeen wat dit probeer doen, kom vroeër of later agter
dat hierin geen heil lê nie – dink daaraan as daar more weer werk wag, onthou
dit wanneer u met vakansie gaan. Wees daarom soos die Lameg van die geloof wat
gryp na die vertroosting wat God ons bied in Jesus Christus. God verseker u
vandag dat geen ellende of hartseer te groot is om deur Christus getroos te
word nie. Immers, Christus gee nie slegs troos nie, Hy gee Homself. Hy is
die Troos! Kom ons gaan die adventstyd binne met daardie geloof. En bely dan in
u hart: stil maar, wag maar, alles word nuut, die hemel en die aarde.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie
(oggend)

 

Groet en afkondigings

Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde
gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus
Christus. Amen.

Sing Ps. 48:4 en 5

Wetslesing

Sing as gebed Ps. 141:1-5

Doopsbediening en dankgebed

Sing Ps. 105:5

Lees:    Genesis 5:28-6:13

            1 Petrus 3:18-22

Sing Skr. 22:1, 2, 4 en 5

Teks: Genesis 5:28-29

Preek

Amenlied Ps. 71:4, 13 en 14

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 22:9-11

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)