1 Kor 11 : 24 & 25 : Doen dit tot my gedagtenis

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2011-12-04
Teks: 
I Korinthiërs 11 : 23-26 ; Exodus 12 : 12-14 ; Deut 16 : 1-3
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – lees
Exodus 12:12-14, Deuteronomium 16:1-3, 1 Korinthiërs 11:23-26

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Kenmerkend van die tyd waarin ons lewe is ‘n sekere weerstand teen
geskiedenis. En dit geld vir die vák geskiedenis soos dit in skole en
universiteite gedoseer word, maar dit geld ook vir geskiedenis in die algemeen;
die verlede kan nie reken op ‘n geweldige belangstelling nie. Die hier
en die nou trek baie groter aandag – carpe
diem
, pluk die dag, gister is verby en niks wat jy daaraan kan verander
nie.

Hierdie negatiewe kyk op die geskiedenis lê enersyds in die feit dat
mense van mening is dat die geskiedenis – spesifiek die geskiedenis van die
laaste 100 jaar – nie werklik vooruitgang beteken het nie; inteendeel, dit het
groot pyn en leed veroorsaak. En andersyds lê dit in die feit dat mense die
geskiedenis beskou as dooie feite waarmee ons eintlik niks kan doen nie.
Geskiedenis is uit, die verlede laat ons agter ons…

 

Nodeloos om te sê dat die ‘gedagtenis’ waartoe Christus ons in 1
Korinthiërs 11 oproep in sulke omstandighede onder druk kom. Want waarom wil
ons nog terugdink aan feite van 2000 gelede, as dit oor vandag gaan? Steek ons
dan nie vas in ‘n verlede wat vir vandag niks meer te sê het nie? En een van
die gevolge is dat ongelowiges, maar ook soms mense wat hulleself christene
noem, na die nagmaal begin kyk as een of ander dodemaaltyd.

U weet miskien dat daar in die Griekse kultuur die gebruik was van
dodemaaltye. Dit het behels dat daar op ‘n gereelde basis vir ‘n gestorwene ‘n
maaltyd gehou is, ter herinnering aan daardie geliefde persoon. Op soortgelyke
wyse, word gesê, is christene tydens die nagmaal eenvoudig besig om die
gemeenskaplike herinneringe aan hulle vriend Jesus met mekaar te deel. Sien u,
ons is eintlik ‘n bietjie agterlik, ons loop met ons kop in die verlede, ons
hou herinneringe van 2000 jaar gelede lewendig…

 

Maar, gemeente, is dít wat die bybelse woord ‘gedagtenis’ beteken?
Beteken dit net om terug te dink, in herinnering te roep? Wel, as dit die geval
is, dan is ons inderdaad ‘n bietjie agter die tyd. Maar, broers en susters, die
woord ‘gedagtenis’ het ‘n baie dieper betekenis as net om te onthou, in
herinnering te bring. Deur gedagtenis dink jy nie slegs terug nie, maar word
die feite van die verlede aktueel vir die hede. Deur in geloof te gedenk
wat Christus amper 2000 jaar gelede gely en gedoen het, maak jy daardie verlede
aktueel vir jou lewe vandag, maak jy dit van toepassing op jou lewe! Sien u,
gedagtenis is nie net om te sê: “Ek onthou dat Jesus Christus gely het, ek
onthou dat Hy gekruisig is, en ja, ek herinner my nog dat Hy deur God verlaat
is” nie. Nee, gedagtenis beteken om te sê: “Jesus het gely vir my,
Jesus is gekruisig vir my, Hy is deur God verlaat ter wille
van my
!” Gedagtenis beteken om aktief en persoonlik betrókke te wees
by die heilsfeite, en om dan te weet: hierdie feite is nog steeds net so waardevol…
vir my!

En dit is presies wat die Here ook bedoel het toe Hy in Deut. 16:3
vir die volk Israel gesê het dat hulle al die dae van hulle lewe die dag van
die uittog uit Egipteland in gedagtenis moes hou. Nie om te kan sê: “O
ja, onthou julle nog hoe die Here lank gelede ons voorvaders verlos het” nie.
Maar om te kan sê: “Deur daardie feite mag ek weet dat my Verlosser leef, en
dat Hy my vandag nog steeds verlos!”

 

En dit is presies wat die nagmaalsformulier so pragtig verwoord. Die
nagmaalsformulier herhaal nie net ter wille van die interessantheid die feite
nie: dit en dit en dit is wat gebeur het… Nee, die nagmaalsformulier sê: “Ons
behoort Hom soos volg te gedenk…”, en vervolgens verwoord die formulier dan die
feite in hulle ryk betekenis vir óns, vir elke gelowige! “Hy het ons
vlees en bloed aangeneem. Hy het die toorn van God waaronder ons
ewig moes versink … vir ons gedra. So het Hy in alle
gehoorsaamheid aan die Goddelike wet die geregtigheid vir ons
volbring. In Getsemane het Hy Hom laat boei om ons vry te maak.
Daarna het Hy ontelbare smaadhede gely sodat ons nooit meer in
skande sou raak nie. Hy is onskuldig tot die dood veroordeel, sodat ons
voor die gerig van God vrygespreek kon word. Ja, Hy het sy geseënde liggaam aan
die kruis laat spyker om die skuldbrief van ons sonde daaraan vas
te heg. Hy het die vervloeking wat op ons was op Hom gelaai om ons
met sy seën te vervul. Aan die kruishout het Hy uitgeroep: My God, my God, waarom
het U My verlaat? sodat ons deur God aangeneem en nooit meer deur
Hom verlaat sou word nie.

 

Sien u, dit is iets anders as dooie historiese feite, dit is iets
anders as om ‘n geskiedenishandboek te lees. Ons kom sit daarom ook nie hier
aan die tafel met somber gesigte en probeer onsself indink hoe swaar Jesus 2000
jaar gelede moes gekry het, en hoe seer die spykers Hom moes gemaak het nie.
Nee, ons is christene in 2011! Ons soek na die betekenis van daardie heilsfeite
vir vandag! Dít is wat dit beteken om te gedenk! Broers en
susters, wanneer jy daarom van die brood eet, en van die wyn drink, wanneer jy
hierdie daad van gedagtenis in geloof verrig, dan word die wins
van die heilsfeite joune! Geloof eien toe wat Christus vir jou
gedoen het! Neem, eet, gedenk … en glo! Neem, drink almal daaruit, gedenk … en
glo! En daarom vra ons ook in die gebed net voor die viering: “Ons bid U dat U
deur u Heilige Gees ‘n opregte vertroue in ons harte sal bewerk om ons al meer
aan u Seun Jesus Christus oor te gee.” Ons bid vir geloof, want só kry ek deel
aan die wonderlike werk van Christus!

En, wanneer jy dit hier aan die nagmaalstafel leer doen het, gaan
doen dit dan ook in jou lewe van elke dag. Natuurlik is die nagmaal – die
stukkie brood tussen jou vingers, en die slukkie wyn in jou mond – natuurlik is
dit in besonder deur Christus ingestel om ons te help met die daad van gedenk;
tasbaar en voelbaar kou jy en sluk jy – ja, dis vir my! Maar gaan lei dan ook
‘n lewe van gedagtenis! Bid en ywer daarvoor om in jou héle lewe, van soggens
vroeg tot saans laat, in gedagtenis te bring wat Christus vir jou gedoen
het.

So gou word dít wat Christus gedoen het maar net die feite
van die christendom, maar sukkel ons om iets daarmee te doen wanneer ek ‘n
werker moet afdank, of wanneer ek my skripsie moet klaarkry, of wanneer my kind
hom nie aan my steur nie. Ons sukkel so om Christus se heilswerk vir my
te gedenk wanneer ek en my meisie verlei word om onrein met mekaar te lewe, ek
sukkel so om te gedenk wat Christus se werk vir my beteken
wanneer iemand in die verkeer voor my inry of wanneer ek vinnig moet maak om by
die volgende vergadering uit te kom. Maar dít is uiteindelik die doel! Nie net
om elke twee maande tydens die nagmaal te gedenk nie, maar om vanaf die nagmaal
‘n lewe van gedagtenis te gaan lei, om in geloof die aktualiteit van Christus
se verlossingswerk deel van jou alledaagse lewe te maak! Slaag u daarin, broer
en suster? Om christen te wees in die alledaagse? In die doodgewone? Laat die
gedagtenis van vandag deurwerk na môre en oormôre; deur die geloof is die
heilsfeite dan myne op maandag en dinsdag en al die dae van my
lewe.

 

Maar, daar is nog iets anders…

Die nagmaal is naamlik nie slegs bedoel om by ons in
gedagtenis te bring wat Christus vir ons gedoen het nie, maar ook om dit by Gód
in gedagtenis te bring. Die tekens van brood en wyn dien as’t ware ook as
herinnering vir God! Klink dit vreemd? Ja, op ons ore klink dit nie reg nie,
God het mos geen herinnering nodig nie?! En tog praat die Bybel wel op dié
manier daaroor. Dink byvoorbeeld aan wat die Here in Genesis 9 vir Noag sê
nadat Hy die reënboog as teken gegee het; ons lees in vers 16: “As die boog dan
in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan
die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op die
aarde is” – en dan word hier dieselfde werkwoord gebruik as wat die Here in
Deut 16:3 gebruik het (“in gedagtenis hou”). Iets soortgelyks vind ons ook in
Exodus 12 wat ons saam gelees het.

In hierdie hoofstuk gaan dit, net soos in Deuteronomium 16, oor die
pasga, spesifiek oor die instelling van die pasga. En dan dra die Here die volk
op om die bloed van die geslagte rammetjie aan die deurposte en die bo-drumpel
van hulle huise te smeer. En dan sê Hy dat Hy al die eersgeborenes in
Egipteland gaan tref, “maar die bloed sal vir julle ‘n teken wees aan die huise
waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal
geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie”(vers
13). As Ek die bloed sien – die bloed dien as’t ware as herinnering vir die
Here: “Here, U moet hierdie Israeliete oorslaan; Here, onthou dat hierdie
Israeliete nie onder u toorn staan nie.”

 

Interessant genoeg was dit die eerste en enigste Pasga wat die volk
in hulle eie huise gevier het. Daarna moes hulle altyd na die tabernakel of die
tempel gaan om daar die paaslam by die priesters te bring. Op dié manier is die
bloed vergiet daar waar God self gewoon het, daar waar Hy dit kon sien en
daarop kon reageer, naamlik op die altaar by sy woonplek! Elke Pasga was dus ‘n
belydenis, nie net dat God Israel uit Egipte verlos hét nie, maar ook
dat Hy Israel nog steeds verlos. Maar elke jaar is die bloed ook voor
God se aangesig vergiet om Hom te herinner aan sy verbondsbeloftes sodat Hy
weer tot verlossing van sy volk sou optree!

 

En só, broers en susters, is die brood wat ons eet en die wyn wat
ons drink ook ‘n gedagtenis vir die Here. Nie dat die Here herinnering nodig
het nie, Hy vergeet immers niks nie. Maar as teken vir ons! Deur die geloof eet
en drink ons van die brood en die wyn, en deur die geloof is dít wat deur die
brood en wyn gesimboliseer word ook werklik ons s’n. En daaraan mag ons, soos
die Israeliete in Egipteland, die Here as’t ware herinner: “Here, kyk na die bloed
van Christus; Here, sien alles wat Hy gedoen het, vir ons!” Die brood en die
wyn is die teken vir ons dat God sal sien en sal onthou wat Christus vir ons
gedoen het. Die nagmaal is ‘n teken vir ons dat God sal onthou dat die
verhouding met Hom weer herstel is. Ons hoef nie onder die toorn van die Here
te vergaan nie, ons hoef nie meer bang te wees vir die oordeel nie. Die Here
het nie vergeet nie! Kom eet daarom van die brood en kom drink van die wyn,
gemeente, want die werk van Christus in die volheid van die tyd is vir u
bedoel! God weet dit, die hemel weet dit en juig, want nog ‘n sondaar is gered.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie
(oggend)

 

Groet en afkondigings

Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde
gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus
Christus. Amen.

Sing Ps. 100

Gebed

Nagmaalsformulier:

  • Lees wet by “die volgende sondaars
    word genoem:”
  • Sing Ps. 99:3-5
  • Lees by “Gedagtenis”: Exodus
    12:12-14, Deut. 16:1-3, 1 Korinthiërs 11:23-26
  • Teks: 1 Kor. 11:24 en 25: “Doen
    dit tot my gedagtenis.”
  • Preek
  • Amenlied Ps. 119:15, 18, 19

Verder nagmaalsformulier

Sing:

  • Terwyl tafel in gereedheid Ps.
    116:1-2
  • 1ste tafel Ps. 116:5 en 8
  • 2de tafel Ps. 116:9-10

Voltooi nagmaalsformulier + gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 106:2, 18 en 20

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)