Soek ywerig na die kerk van Christus!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-11-27
Teks: 
NGB 29
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – NGB artikel 29; lees Op. 2:8-11, Eseg. 34:11-24

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Artikel 27-29 van die Nederlandse geloofsbelydenis is nie verniet geplaas in die volgorde waarin ons dit in die afgelope weke behandel het nie. Om dus aan hierdie gedeelte van ons belydenis reg te doen, moet ons getrou die gedagtegang daarvan volg – stap vir stap – sonder om ‘n gedeelte te wil oorslaan of om die volgorde daarvan te wil omruil.

Ons belydenis leer ons heel eerste wat die kerk is (art. 27) – die kerk is die vergadering van dié wat na die stem van die goeie Herder luister; hulle word deur Hom vergader, en hulle kom gevolglik ook as sy kudde bymekaar. Daarna volg in artikel 28 die oproep aan elke gelowige om hom by daardie vergadering te voeg. Ons het enkele weke gelede hierby stilgestaan: elkeen is verplig om hom by die kerk te voeg; niemand, wat sy stand en status ook al is, mag hom van die kerk afsydig hou nie.

 

Goed, nou weet ons wat die kerk is, en ons het ook die oproep gehoor om onsself daarby te voeg, maar wáár vind ons daardie kerk? Dit is die logiese vraag wat uit die voorafgaande volg, en hierop wil artikel 29 dan nou vir ons ‘n antwoord gee. Artikel 29 help ons waar om die kerk van Christus te vind; artikel 29 help ons om die regte kerkadres te identifiseer om onsself daarby te kan voeg.

Gemeente, dit is ‘n baie gesonde en heilsame volgorde wat ons belydenis hier aan ons voorhou. Hierdie volgorde verhinder ons om by “ons” kerk te begin; dit verhinder ons om onmiddellik met die kenmerke van artikel 29 in die hand die VGK aan te wys as die ware kerk, en vervolgens te sê dat dít daarom die kerk van Christus is waarby almal hulle moet voeg. Die belydenis beskerm ons teen ‘n blindekol in ons soeke na die kerk; ons word beskerm om eenvoudig op grond van ons bekende nesgeur die eerlike soeke na die kerk van Christus af te las en terug te sak in ons gemaksone. Nee, die volgorde van die belydenis lei enersyds tot ‘n gesonde selfondersoek, en andersyds tot ‘n heilsame ondersoek daarbuite van dié wat hulleself kerk noem.

 

Tema: Soek ywerig na die kerk van Christus!

  1. Eien jouself die oordeel van Christus toe
  2. Voeg jouself waar Christus aktief is
  3. Bewaar jouself van passiwiteit

 

1. U ken miskien die opvallende uitspraak van Maarten Luther waar hy sê dat selfs ‘n sewe-jarige kind weet wat die kerk is. Inderdaad opvallend… maar nie uniek nie. Want ook volgens Calvyn hoef daar geen twyfel te bestaan oor die adres van die kerk nie. En artikel 29 van die NGB is ewe duidelik daaroor dat ons aan die hand van die kenmerke “met sekerheid die ware kerk kan uitken”. Die oortuiging in die tyd van die Reformasie en kort daarna was dus duidelik dat die kerk met gemak ontdek kan word – artikel 29 sluit daarom ook af met: “Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.”

Maklik uitgeken en van mekaar onderskei… – is dit hoe ons dit ervaar? Nee, miskien was dit in die tyd van die Reformasie maklik, maar ons vind dit dikwels maar baie moeilik. Ons sukkel dikwels om die ware kerk te ontdek tussen al die verskillende kerkgroepe wat daar vandag bestaan. Maar was hierdie uitspraak van Luther dan ‘n tipiese 16de-eeuse uitspraak, een wat sy vervaldatum bereik het?

 

Gemeente, ons moet verstaan dat Luther sy uitspraak nie gemaak het op grond van die konkrete situasie waarin hy homself bevind het nie. Die 16de eeuse situasie was nie ‘kinderlik eenvoudig’ in vergelyking met ons tyd nie. Nee, Luther maak sy uitspraak nie op grond van die situasie nie, maar hy sê dit omdat selfs die kinders weet dat die kerk die skapies is wat na die stem van die herder luister. Dit wys duidelik na die Skriftuurlike beeld uit Johannes 10, oor die goeie Herder. ‘n Kind ken die kerk dus vanuit die Skrif! Dit gaan dus nie oor die eenvoudigheid van die 16de-eeuse kerklike situasie nie, maar dit gaan oor die eenvoudigheid van die gelóóf!

En dit is presies waarop artikel 29 ook dui. Wanneer ons aan die slot van hierdie artikel lees dat hierdie twee kerke “maklik uitgeken en van mekaar onderskei” kan word, dan verwys dit terug na die begin van die artikel. Daar staan dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is. Sorgvuldig en met groot oplettendheid – dit is dus alles behalwe maklik, veral nie in ons tyd nie. En tog bely ons dat die ware kerk maklik herkenbaar is, omdat God daardie kerk vir ons herkenbaar maak – deur sy Woord, deur wat Christus vir ons oor die kerk sê!

 

Ons sien dit baie mooi in die gedeelte wat ons saam gelees het uit Openbaring 2. Dit is die brief van Christus aan die gemeente van Smirna. Skynbaar was daar in hierdie stad ‘n groot groepering van Jode wat die lewe vir die gemeente moeilik gemaak het. Altans, hulle het gesê dat hulle Jode is; hulle het die pretensie gevoer dat hulle die ou volk van God is. Hulle het ontken dat die Christene die volk van God is, en het beweer dat húlle dit is. Maar die verhoogde Christus oordeel anders, radikaal anders. Hy noem hulle die sinagoge van die satan. Sy oordeel is baie skerp.

En tog, broers en susters, dit is nie ‘n skelwoord wat in die hitte van die kerklike stryd deur Christus aan sy teenstanders toegevoeg word nie. Dit is geen onbesonne tipering nie. Nee, Christus gee ‘n gééstelike tipering van dít wat die Jode doen. Deur hulle laster en verdrukking van die gemeente, bedreig hulle die lewe van die gemeente. En daarin betoon hulle hulself as kinders van die duiwel.

 

Maar hoekom so ‘n skerp tipering? Wat is Christus se doel daarmee? Wel, sy doel is om sy gemeente, wat onder verdrukking en lastering moet ly, te troos! En hy doen dit deur sy geestelike oordeel oor die sogenaamde ‘kerk’ van die Jode tot háár eiendom te maak. Ja, Christus beoordeel die ‘kerk’ van die Jode daar in Smirna. En omdat Hy God is, is sy oordeel volmaak soos Hyself. En dáárdie oordeel mag die gemeente van Smirna nou haarself toeëien om sodoende rus te vind in haar benarde posisie as kerk van Christus. Sy mag in geloof haar Heer naspreek in sy Goddelike beoordeling van dié wat pretendeer om die ware volk van God te wees, van dié wat – in die woorde van die belydenis – beweer dat hulle die kerk is, maar dit nie is nie. Chrístus se oordeel word op háár lippe geplaas om haar te troos en te bemoedig, sodat – selfs al word die verdrukking nog swaarder – sy mag uitsien na die kroon van die lewe!

En, gemeente, dit is nou presies wat ons ook mag doen. In ons belydenis doen ons niks anders nie as om onsself, teenoor die veelvormige vervalsing van die kerk, te plaas onder die oordeel van Christus. Sy Woord ontmasker alle vorme van vervalsing. Slegs deur sy Woord kan ons die verwarring, wat deur die vervalsing veroorsaak word, te bowe kom. Slegs deur sy Woord kan ons werklik onderskei.

 

Maar wat moet ons dan onderskei? Dit is mos maklik, dink ons: die ware en die valse kerk – so staan dit immers ook bo artikel 29 (die kenmerke van die ware en die valse kerk). Terloops, ons moet onthou dat die opskrifte eers later aan die artikels toegevoeg is, en dus nie altyd ‘n getroue weerspieëling van die inhoud daarvan gee nie. Ook by artikel 29 is dit die geval; dit is naamlik nie heeltemal so swart-wit dat ons eenvoudig kan onderskei tussen waar en vals nie. Wat sê ons belydenis presies? Ons belydenis sê: ons moet sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God onderskei watter kerk die ware kerk is, aangesien al die sektes wat daar vandag in die wêreld is, hulle ten onregte die naam kerk toe-eien. Al die sektes – ons belydenis konstateer dus ‘n veelvuldige misbruik van die kerknaam; daar is ‘n breë spektrum van vervalsing.

Nou, te midde van hierdie breë spektrum van vervalsing help die belydenis ons in die eerste plek om die ware kerk van Christus te vind, en dit word gedoen deur vir ons die kenmerke te gee. Maar vervolgens spits die belydenis aan die einde van artikel 29 hierdie breë spektrum van vervalsing ook nog toe op een vorm van vervalsing, naamlik die valse kerk met die kenmerke wat daarby hoort. Dus, die valse kerk is maar net een vorm – die uiterste vorm – binne die breë spektrum van vervalsing. Alle sektes is daarom nog nie valse kerk nie; die valse kerk, egter, is wel ‘n sekte…

 

Gemeente, dit is goed om hierdie nuansering binne artikel 29 raak te sien. Dit bewaar ons daarvan om alle kerke binne die skema waar-vals te wil indruk. Want ja, dan word dit moeilik om die werklikheid in die belydenis te herken. Hierdie nuansering bewaar ons van die te eenvoudige konklusie: alles wat nie waar is nie, moet dús vals wees. Want dit skep baie maklik ‘n karikatuur waarby óns kerke die ware kerk is, en dús die res valse kerke moet wees. Aan die ander kant bewaar hierdie nuansering ons ook van die te eenvoudige konklusie: alles wat nie val onder die kenmerke van die valse kerk nie, moet dus per definisie waar wees. Dit is die ander gevaar van die skema waar-vals, en daartoe hoef ons ook nie gedwing te word nie. Ten slotte, gemeente, gaan dit oor ‘n genuanseerde luisterhouding na Christus se oordeel oor almal wat hulleself in hierdie wêreld kerk noem. En daardie oordeel van Christus mag ons onsself toe-eien. Daardie oordeel mag ons uitspreek, nie as ons siening van ‘n kerk nie, maar as Christus se Goddelike uitspraak.

Ja, die beoordeling van kerke, waartoe die Skrif en ons belydenis ons roep, is geensins ‘n gewilde saak in ons tyd nie. Ons moet immers ruimte laat vir mekaar, word daar gesê. Ons moet die goeie by mekaar raaksien, ons moet aanvaar dat alle kerkgroepe iets van die waarheid het. Nee, gemeente, ons moet beoordeel; ons moet weet waar die stem van die goeie Herder klink, ons moet weet waar die Woord van die lewe is – dít is die groot belang daarvan om te weet waar die kerk van Christus is. En ons kan dit doen, want dit is die oordeel van Christus wat ons onsself mag toeëien. En dit geld nie slegs die beoordeling van ander nie, dit geld heel eerste onsself – selfondersoek. Wat is Christus se beoordeling van hierdie gemeente? Is dit dalk die positiewe beoordeling van die gemeente in Smirna? Of het ons dalk lou geword, soos die gemeente van Laodicea? Selfondersoek is nodig, broers en susters. Ook Christus se oordeel oor hierdie gemeente moet ons onsself toeëien, sodat óns gesuiwer mag word, sodat óns sy kerk mag wees. Dit vra daarom beskeidenheid, dit vra soberheid. Laat ons baie deeglik na Christus in sy Woord luister – oor onsself en oor ander.

[Sing Skr. 39:2-4] In die tweede plek: voeg jouself waar Christus aktief is.

 

2. Christus se oordeel wat ons onsself mag toeëien moet vervolgens ook lei tot ‘n kerkkeuse. Jy moet beoordeel op grond van die Woord, en daarna jouself ook gaan voeg waar Christus se oordeel positief is. En dit is daarom geensins vanselfsprekend dat jy jouself dáár sal voeg waar jy opgegroei het nie. Ook die kerk van jou jeug moet beoordeel word; ook wat betref dáárdie kerk moet jy luister na Christus se oordeel. Dit is daarom nie verniet dat die katkisante wat geloofsbelydenis wil aflê, gevra word hoekom hulle dit juis hier wil doen nie; ons kerkkeuse moet bewustelik wees! Maar, broers en susters, waarna moet ons dan kyk? Die meeste van ons ken die antwoord: soek net na die kenmerke. En die kenmerke word dan sommer so vinnig opgenoem: die Woord, die sakramente en die tug. Maklik, die gereformeerde suksesresep vir die ware kerk.

En tog is dit nie heeltemal so eenvoudig nie, gemeente. Ons moet ‘n bietjie meer presies wees in ons taalgebruik. In feite is daar net een kenmerk van die ware kerk, naamlik die regering van Christus deur sy Woord; Christus se heerskappy – dit is die een en alles waarby die kerk staan of val. En daardie een kenmerk werk homself vervolgens uit in verskillende aktiwiteite waardeur die gemeente van Christus herken kan word. Ja, presies, aktiwiteite! Christus is aktief in sy gemeente werksaam. Hy wérk daar, Hy is daar bésig! Ons sien dit pragtig in die gedeelte wat ons gelees het uit Esegiël 34. Daar sien ons die goeie Herder – en Hy lê nie onder ‘n boom en slaap nie. Nee, Hy is besig, Hy is werksaam; gaan lees maar wat Hy alles doen – Hy versorg, Hy red, Hy lei sy skape uit, Hy laat hulle wei, Hy pas hulle op, laat hulle lê en rus, soek dié wat verlore is, verbind dié wat gewond is, versterk die siekes, en oordeel tussen skape en bokke. Hierdie Herder is aktief werksaam in sy kudde.

 

En dit geld presies so vir die gemeente van vandag ook. Christus se regering deur sy Woord en Gees word sigbaar in verskillende aktiwiteite. Dit wat ons as die kenmerke van die kerk ken, is in werklikheid aktiwiteite, werksaamhede van die Koning van die kerk. So tipeer artikel 29 dit ook. Die eerste kenmerk van die kerk is immers nie dat ons die Woord van God besít nie, maar dat die evangelie suiwer gepreek word – dit is ‘n aktiwiteit. Die tweede kenmerk is nie dat ons die doop en die nagmaal hét nie, maar dat die sakramente suiwer bedien word soos Christus dit ingestel het – dit is ‘n aktiwiteit. En die derde kenmerk is nie dat ons die tug hét nie, maar dat daardie tug gebruik word om die sondes te straf – dit is ‘n aktiwiteit. Dit gaan in die kenmerke dus nie oor die statiese besit daarvan nie, maar oor die aktiewe werksaamheid daarvan. Die kenmerke is middele waardeur die Gees aan ons die genade skenk, ons in daardie genade versterk, en ons by daardie genade bewaar.

Gemeente, ons kry die opdrag om onsself daar te voeg waar Christus aktief is, waar Christus toegelaat word om te werk, om besig te wees. Dit is nie genoeg om maar net in naam sy lewegewende aktiwiteite te hê, terwyl dit verder nie funksioneer nie. Dit is nie genoeg om maar net te sê: ons het die Woord en die sakramente en die tug nie. Nee, ons moet in alle diensbaarheid Christus toelaat om deur daardie middele aktief in ons midde te wees. U lewe hang immers af van daardie aktiwiteite, u lewe hang af van Christus se werksaamhede tot geloof.

 

En daarom, broers en susters, moet ons ontsag hê vir die orde wat God gekies het om die ewige lewe aan sy kinders te gee. Al die aktiwiteite van die herder, wat ons hierbo uit Esegiël 34 gehaal het, kom ten slotte neer op die regering van Christus deur sy Woord en Gees. En dít moet ons respekteer as die wysheid van God om aan ons die lewe te gee. Hierdie respek, hierdie ontsag vir God se orde, trek ten diepste die grens tussen die ware kerk en die talle vervalsings. In die valse kerk word God se orde nie gerespekteer nie; daar skep die mens sy eie orde en word Christus nie toegelaat om aktief besig te wees nie; in die valse kerk vind ons presies die teenoorgestelde van die kenmerke van die ware kerk – gaan lees maar weer die kenmerke van die valse kerk in art. 29.

Let wel, broers en susters, dit gaan hier nie oor ‘n skema nie. ‘n Skema wat sê: “Hier is kerk A, ons beoordeel hierdie kerk aan 1, 2 en 3 – regmerkie vir ‘n ware kerk, kruisie vir ‘n valse kerk” nie. Nee, die ware geloof hanteer nie skemas nie. Die ware geloof buig in groot eerbied voor die lewende God en erken die manier waarop Hy in hierdie wêreld sy werk verrig. In hierdie drie aktiwiteite of kenmerke vind ons die werk van Christus deur sy Gees tot redding van menselewens. Gemeente, dáár moet u wees! Hoor hoe roep Hy ons: “o Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk!” (Jes. 55:1) Kom ons raak ontslae van die skema van die kenmerke wat kunsmatige beoodelings gee en tot kunsmatige selfondersoek lei. Voeg jouself in geloof daar waar Christus aktief werk; dít is tot jou redding.

[Sing Ps. 100:2 en 3] Ten slotte: bewaar jouself van passiwiteit.

 

3. Artikel 29 het ook nog iets te sê oor die lidmate van die kerk. Maar… is dit dan ‘n vierde kenmerk van die kerk? Dikwels in die verlede het mense so daaroor gedink, veral binne groepe waarin daar ‘n oormatige klem op die heiligheid van die Christen geplaas word. Maar ook binne gereformeerde kringe kom ons dit soms teë. Mense beoordeel dan die kerk op grond van die lidmate – waar ek tuis en op my gemak voel, dáár is vir my die ware kerk; of andersom: as ek by ‘n sekere kerk nie goed ontvang is nie en nie tuis voel nie, verlaat ek daardie kerk met die verwyt dat hierdie kerk nie ‘n ware kerk kan wees nie.

Gemeente, ons het egter al verskeie kere gesê dat die kwaliteit van die lidmate nie die kerk maak nie; Christene is nie die kerk nie. Ja, Christus vergader sy kerk tot behoud van dié wat na sy stem luister, maar dit is iets anders as dat kerk-wees bepaal word deur jou en my. Ons mag die kenmerke van die kerk en die kenmerke van die Christen daarom nie laat saamval nie; hulle is nie dieselfde nie. Immers, in die kerk is daar ook heelwat huigelaars, soos wat ons belydenis sê; mense wat uiterlik Christene is, maar nie van harte nie. Ja, in ons gebroke bestaan groei die onkruid nog altyd tussen die koring. En dit sal so bly totdat Christus terugkom. Maar dit beteken nie dat ons intussen nie die kerk kan herken en opsoek nie; Christus se aktiwiteite is duidelik herkenbaar.

 

En tog, broers en susters, is die Christen nie betekenisloos in die kerk nie. Gelowiges is nie maar net ‘n aanhangsel tot die kerk nie. Nee, wanneer Christus aktief in sy gemeente werksaam is, dan bewerk dit ook lewende Christene, aktiewe Christene. Nie Christene wat noodwendig allerhande aktiwiteite reël en uitvoer nie, maar Christene wat – soos artikel 29 sê – die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het. En dan is dit nie iets wat uit hulleself kom nie. Nee, hierdie Christene is uit God gebore. En in hulle hele lewenswandel blyk dat die sonde nie meer bepalend in hulle lewens is nie, die sonde is nie meer hulle lewenselement nie. Nie dat hulle volmaak is nie, maar hulle jaag wel daarna. Hulle soek daarna om Christus te gryp, deur Wie hulle ook gegryp is. Hierdie Christene word gekenmerk deur liefde tot God, en gevolglik ook deur liefde tot mede-gelowiges. Daagliks stry hulle daarvoor om die ou mens meer en meer te kruisig, ‘n stryd wat hulle voer in die krag van die Gees.

Dus, die kerk word nie bepaal deur die gelowiges nie. Maar daar behoort wel ‘n duidelike verband tussen die twee te wees. ‘n Kerk waar in alles gestreef word om die stem van die goeie Herder te laat klink, kan onmoontlik ‘n kerk vol lou Christene wees. Dit kan nie wees dat as u week na week die ware Woord hoor, daar geen reaksie in u lewe kom nie. Waar Christus aktief is, kom sy Christene tot lewe. Dit is enersyds ‘n troos, want Christus werk geloof en bekering. Maar dit is andersyds ook ‘n dringende oproep aan ons, broers en susters, om die uitnodiging van Christus nie in die wind te slaan nie, om nie ons harte vir sy werk te verhard nie. Laat ons in geloof na Hom toe gaan, sodat ons nie eendag as huigelaars ontdek sal word nie.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • Voorpsalm Ps. 87

Votum en seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 36:2 en 3

  • Doopsformulier
  • Bediening + dankgebed
  • Sing Skr. 15:1-3

Lees:    Op. 2:8-11

            Eseg. 34:11-24

Sing Ps. 23:1-2

Teks: NGB, art. 29

Kort gebed

Preek

  • Na 1ste punt Skr. 39:2-4
  • Na 2de punt Ps. 100:2 en 3
  • Amenlied Ps. 101:2 en 4

Gebed

Geloofsbelydenis (staande en singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 100:1 en 4

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)