Joh 3 : 30 Ampsdraers is strooijonkers op Christus se bruilof

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2011-11-27
Teks: 
Johannes 3 : 22-36
Preek Inhoud: 

U is welkom om hierdie preek te gebruik. 

Vir my eie rekords, laat weet my asseblief
deur ‘n epos te stuur aan ds HH van Alten.

 

Preek (bevestigingsdiens)
– Johannes 3:30; lees Johannes 3:22-36

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Was jy al ooit by ‘n bruilof of ‘n huweliksherdenking of ‘n 21ste
verjaarsdag-partytjie waar nie die eregas of eregaste sentraal gestaan het nie,
maar iemand ánders die kollig probeer steel het? By die bruilof gaan dit
eintlik oor die bruidspaar, maar hier is ‘n pa wat die hele tyd die aandag op homself
probeer rig. Dit is eintlik dáárdie egpaar wat vyftig jaar getroud is, maar ‘n
sogenaamde vriend kan homself nie inhou nie, en trek alle aandag van die egpaar
af. En die partytjie gaan eintlik oor die persoon wat 21 word, maar ma probeer
die kollig steel met haar opmerkings en optrede. Lastig, nie waar nie?

Wel, gemeente, dieselfde gevaar bestaan ook in die kerk wanneer dit
gaan oor die ampsdraers. Want dink ‘n bietjie hieroor na: wat is presies die
rol van die ampsdraers in die gemeente? Watter plek behoort hulle in ons midde
in te neem? Natuurlik leer die Skrif ons dat ons aan hierdie manne die nodige
eer moet betoon: “bewys hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hulle
werk” – só sê Paulus in 1 Thessalonicense 5:13. Maar… dreig daar nie soms die
gevaar dat ons ‘n ‘kerkraads’-kerk word nie? Alle fokus in die gemeente kom dan
op die kerkraad – wat is die besluit van die kerkraad oor hierdie of daardie
saak? Of: ons kan nog nie dit of dat doen nie, want die kerkraad moet eers die
inisiatief neem… Wanneer dít gebeur, dan steel die kerkraad die kollig, of moontlik
laat die gemeente toe dat hulle die kollig steel. Op die fees van Christus en sy
kerk verkry die ampsdraers dan ‘n posisie wat hulle nie toekom nie. En dit is
presies waaroor Johannes die Doper in hoofstuk 3 van die evangelie volgens
Johannes met sy dissipels in gesprek is… Kom ons luister vanoggend saam na hierdie
gesprek.

 

Tema: ampsdraers is strooijonkers op Christus se bruilof

  1. Hulle bring bruidegom en bruid bymekaar
  2. Hulle verheug hulle wanneer dié twee sentraal staan

 

1. Johannes die Doper was die voorloper en wegbereider vir die
Messias. Hy moes die volk gereed maak vir die koms van Jesus Christus; daarna
was sy werk klaar. Máár ons vind dat daar tog ‘n kort periode van oorvleueling
was – ‘n periode waarin Johannes nog nie heeltemal verdwyn het nie en waarin
Jesus nog nie heeltemal op die voorgrond getree het nie, ‘n periode waarin
beide gelyktydig in Israel aan die werk was. Ons kan dit ‘n oordragsfase noem,
en dit eindig met die arrestasie van Johannes deur koning Herodes (vers 24).
Nou, ons Skrifgedeelte vir vandag speel af in hierdie oordragsfase…

Nadat Jesus en sy dissipels die feesdae in Jerusalem deurgebring
het, vertrek hulle uit die hoofstad en kom in die wyer streek van Judea. Daar
het hulle ‘n geruime tyd deurgebring en gedoop. Wanneer u hoofstuk 4:2 lees,
dan word dit duidelik dat Jesus nie sélf gedoop het nie, maar dat dit sy
dissipels was wat die mense ondergedompel het. Jesus het dus via sy dissipels
gedoop, waarvan die meeste trouens oud-leerlinge van Johannes was. Nadat hulle
Jesus begin volg het, het hulle eenvoudig voortgegaan om te doen wat hulle
voorheen onder leiding van Johannes ook alreeds gedoen het: hulle het die mense
opgeroep tot bekering en reiniging met die oog op die komende koninkryk van
God. En wie aan hierdie oproep gehoor gegee het, is in die Jordaan gedoop. Dus,
wat ons hier sien, gemeente, is dat Jesus selfstandig in Israel aan die werk
gaan.

Tegelykertyd was Johannes egter óók besig om te doop. In Enon, naby
Salim (vers 23) – waar dit presies was, ons weet nie meer nie. Maar uit vers 26
blyk dit in elk geval dat dit aan die westekant van die Jordaan-rivier was. Dus,
Johannes en Jesus is op presies dieselfde tyd besig om onder die volk te werk –
Jesus in die suide van die Jordaanvallei onder die mense van Judea, en Johannes
effens meer noord op die hoogte van Samaria. Twee selfstandige goddelike
getuies verkondig gelyktydig die evangelie van God se koninkryk en bedien die
doop tot bekering en reiniging.

 

Maar dan ontstaan daar ‘n konflik vanuit die kring van Johannes se
dissipels. Hulle raak betrokke in ‘n woordewisseling met ‘n sekere Jood (in ons
vertaling staan daar ‘met die Jode’ [meervoud], maar die Grieks is baie
duidelik enkelvoud, sonder enige lidwoord). En hierdie woordewisseling gaan oor
die reiniging (vers 25) – nie oor die reinigingsgebruike van die Jode in die
algemeen nie, maar spesifiek oor die reiniging van Johannes en Jesus. Dus, die
woordestryd gaan oor Johannes en Jesus se praktyk van onderdompeling in die
Jordaan as simbool van reinheid voor God. Vervolgens blyk dit dat Johannes se
leerlinge die saak nie tot ‘n bevredigende oplossing kan bring nie, en daarom
kom hulle daarmee na hulle leermeester: “Rabbi, Hy wat saam met u oorkant die
Jordaan was, van wie u getuig het, kyk, Hy doop, en almal gaan na Hom toe”
(vers 26).

Die punt van diskussie is dus hierdie anonieme persoon – óns weet
dat dit Jesus is, maar dit lyk asof Johannes se dissipels nie eens sy Naam wil
noem nie – wat so ‘n rukkie gelede saam met Johannes aan die oorkant van die
Jordaan was en oor wie Johannes so ‘n positiewe getuienis gegee het (dit verwys
na die geleentheid by Jesus se doop in die Jordaan). Hierdie man is sowaar
besig om te doop, en almal gaan na Hom toe! Ja, gemeente, Jesus het ‘n
massabeweging aan die gang gesit, en waar die meeste mense aanvanklik na
Johannes en sy leerlinge toe gegaan het, hou hulle nou by Johannes verby en
gaan hulle na Jesus toe. Dit lyk asof dít die punt van diskussie met daardie
Jood was – moontlik het hierdie Jood selfs sy voorkeur uitgespreek vir Jesus se
reiniging. En die dissipels van Johannes hou nie daarvan nie; hulle is bevrees vir
hierdie ongewenste konkurrensie.

 

En dan antwoord Johannes sy dissipels soos volg: “’n Mens kan niks
aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie” (vers 27). Wat sou hy presies
hiermee bedoel? Wel, gemeente, ons kan dit die beste verstaan as ons dit in
samehang lees met vers 28: “Julle is self my getuies dat ek gesê het: Ek is nie
die Christus nie, maar dat ek voor Hom uitgestuur is.” Dit gaan hier dus nie
oor die feit dat Johannes uit die hemel ‘n kleiner skare ontvang het as wat Jesus
ontvang het nie; dit is nie so dat Johannes maar tevrede moet wees met die klein
hoeveelheid dopelinge wat God hom uit die hemel gegee het nie. Nee, dit gaan
dáároor dat Johannes slegs die táák kon nakom wat God hom uit die hemel gegee
het – en sy taak was om van die Christus te getuig. Meer as dit het hy nie
ontvang nie: hy moes slegs die weg voorberei.

En sy leerlinge was self getuies daarvan dat dít Johannes se taak
was; hy het naamlik verskeie kere vir hulle gesê: “Ek is nie die Christus nie,
maar ek is voor Hom uitgestuur.” Sy pa, Sagaria, het alreeds daarvan gespreek net
ná Johannes se geboorte, en ons het daarvan gesing voor die preek (Skr. 2): “Jy
sal, o kind, vooruit moet gaan om voor die Heer se aangesig die weë voor sy
voet te baan: jy sal sy volk eers moet verlig met kennis van die saligheid.” Dus,
die feit dat die massas nou na Jesus in Judea gestroom het, en daarmee saam die
belangstelling vir Johannes die Doper afgeneem het, is niks anders nie as die
vervulling van Johannes se eie getuienis; dít is die gevolg van sy
voorbereidingswerk. Dit is presies wat moet gebeur. Vir Johannes se taak was
dit die begin van die einde…

 

En tog is Johannes nie hartseer daaroor nie. Want om te doop is nie
sy monopolie nie. Nee, vir Johannes voel dit eerder asof hy besig is om ‘n
bruilof mee te maak (dit is die beeld wat hy self in vers 29 gebruik). Hy sien
voor sy oë hoe die bruidegom en die bruid bymekaar kom. Nou is dit dalk goed,
gemeente, om op hierdie punt iets te verstaan van die huweliksgebruike van
daardie tyd. In Israel het die bruidegom naamlik altyd ‘n goeie vriend gehad
wat ‘n baie spesifieke taak gehad het. Hierdie vertrouenspersoon het die taak
gehad om bruidegom en bruid bymekaar te bring; hy het ‘n sleutelrol gespeel om
die bruid by haar bruidegom te bring, maar hy het vervolgens ook ‘n belangrike
rol gespeel by die feestelike maaltyd wat daarna gevolg het, en selfs by die
huweliksnag. Selfs by die huweliksnag – ja, dit was die gewoonte dat die pasgetroudes
ná die fees hulleself sou terugtrek na ‘n spesiale bruidsvertrek om daar die
nag deur te bring. En terwyl die bruidegom besit geneem het van sy bruid, het sy
beste vriend buite staan en wag. Die volgende môre is die bruidegom dan deur sy
vriend begroet. Dit is ‘n soortgelyke rol as wat die strooijonker (of die ‘best
man’ soos wat ons hom gewoonlik noem) by ons huweliksluitings vandag vervul.

Nou, op dieselfde manier beskou Johannes homself as die strooijonker
van bruidegom Jesus. Hy het die taak gekry om die bruid vir hierdie Bruidegom
gereed te maak, om haar voor te berei op die Bruidegom se koms. En daarin het
hy, as laaste profeet van die ou verbond, ‘n baie spesiale plek ingeneem.
Johannes die Doper het naamlik op die grens gestaan tussen twee periodes in die
heilsgeskiedenis. En dit was sy taak om in hierdie besondere fase van die heilsgeskiedenis
die bruid na die Bruidegom toe te bring. Só het God dit beskik: Jesus moes
groei, Jesus moes toeneem, Jesus moes in die kollig staan saam met sy bruid, maar
Johannes self moes minder word, Johannes moes na die agtergrond terugtree. En,
broers en susters, hierdie groeiproses en hierdie afslankingsoperasie – die
meer-word van Jesus en die minder-word van Johannes – het nie pas begin toe Johannes
se dissipels vir hom kom wys het dat almal nou skielik na Jesus toe gaan nie;
nee, dit het eintlik al reg aan die begin van Jesus se openbare optrede sigbaar
geword: toe enkele van Johannes se eie dissipels as’t ware na Jesus toe
oorgeplaas is; hierdie eerste dissipels is oorgedra vanaf die strooijonker na
die Bruidegom. En wat nou gebeur, is dat hierdie beweging voortgesit word deurdat
talle nuwe aspirant-dopelinge nie na Johannes toe kom nie, maar na Jesus toe
gaan. Johannes se aanhang verminder by die dag, terwyl die belangstelling vir
Jesus sienderoë toeneem.

 

Maar dit is hoe dit moet
wees, gemeente! Strooijonkers se werk is nie om die bruid vir hulleself te vat
nie, maar om bruid en bruidegom bymekaar te bring – en dít was Johannes se
taak. En alhoewel ampsdraers nie dieselfde posisie in die heilsgeskiedenis
inneem as Johannes die Doper nie, is dit ook vandag nog húlle taak. Nêrens kry
ampsdraers die taak om volgelinge om hulle heen te versamel nie, nêrens word
hulle opgedra om die kerk aan hulleself te verbind nie. Paulus toorn juis daarteen
dat gelowiges sê dat hulle van Paulus, of van Apollos, of van Cefas is (1 Kor.
1:12-13). As ‘n ampsdraer dit doen, dan bedryf hy owerspel met die kerk, dan
vat hy in feite Christus se bruid vir homself, dan wil hy die kollig steel,
terwyl dit nie oor hom gaan nie. Waak dus daarteen om, as ampsdraers en as
kerkraad, die middelpunt in die gemeente te wil wees. Ons is nie hier om almal
na ons te laat kyk nie; ons is hier om almal na Christus te laat kyk. Die
dienskneg van Psalm 123 se oog is immers nie op die kerkraad gerig nie, maar sy
oog is op die hand van sy heer!

 

En daarom, broeders, verstaan u taak: u het die taak gekry om
strooijonkers vir die hemelse Bruidegom te wees. Dit is ‘n baie besondere taak.
En die Here gee vandag vir u hierdie taak in die teenwoordigheid van die bruid.
Sy hoor dit, sy verstaan dat u die taak kry om haar aan Jesus Christus te
verbind. En ons kom hierdie taak as ampsdraers slegs na deur die gemeente
voortdurend te herinner aan Christus se liefde vir haar, deur vir haar elke
keer weer die bewys van hierdie liefde voor te hou, die bewys van die kruis op
Golgota. Daar aan die kruis het Jesus Christus Homself vir die gemeente
oorgegee met die doel om haar te heilig, nadat Hy haar gereinig het met die
waterbad deur die woord, sodat Hy haar uiteindelik voor Hom kan stel,
verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks – só leer Paulus ons in
Efesiërs 5:25-27, waar dit juis oor die wonder van die huwelik gaan. Verbind
hierdie gemeente aan Bruidegom Jesus deur haar voortdurend op te roep tot ware geloof
in Hom, sodat Hy en sy een mag wees, net soos wat ‘n man en ‘n vrou mekaar
aankleef en een vlees word. Verbind hierdie gemeente aan haar Bruidegom deur
haar sonder ophou aan te spoor tot ‘n lewe saam met Hom – ‘n lewe van
heiligmaking, van gehoorsaamheid, van liefde, blydskap, vrede en al die ander
vrugte van die Gees.

 

En om dit goed te kan doen, moet ampsdraers self vol wees van
Christus en sy Gees, moet ons self deurdronge wees van sy Woord. Nee, ampsdraers
hoef nie antwoorde op elke vraag of situasie te hê nie, maar hulle moet wel ons
gemeenskaplike geloof vanuit die Skrif kan verwoord. Hulle moet wel in staat
wees om onderrig te kan gee oor die leer van die Skrif. Rus uself daarom toe,
broeders. Lees en bestudeer die Skrif, en maak dit u eie in persoonlike gebed.
Weet goed wat daar van u as strooijonker verwag word – dit is ‘n groot
verantwoordelikheid. En ook al kom daar kritiek, ook al kry u soms seer deur
die ongehoorsaamheid van lidmate, ook al word daar nie altyd na u Skriftuurlike
onderrig geluister nie, onthou dan dat dieselfde met die Bruidegom gebeur het:
“wat Hy gesien en gehoor het, dit getuig Hy; en niemand neem sy getuienis aan
nie” (vers 32). Maar ten spyte daarvan, sorg altyd dat die Bruidegom meer word,
en die strooijonker minder; dat die Bruidegom in die kollig staan en die
strooijonker na die agtergrond verdwyn. Sorg dat Jesus in alles wat u sê en
doen, in al u besluitnemings, alle eer kry! Hy moet groot gemaak word!

En bruid, onthou dat jou Bruidegom jou hierdie strooijonkers gegee
het. Hierdie is sy vriende-met-‘n-opdrag. Wanneer dit hulle hartlike begeerte
is om jou aan Christus te verbind, wanneer hulle met harte vol liefde onderrig
en vermaan en bemoedig, luister dan na hulle. En moet dan nie húlle volg nie,
moenie aanhangers van ‘n predikant of ‘n ouderling word nie, maar wees wat u
is: Christus se bruid. Versier jouself met die fynste klere, die klere van
goeie werke. En wees gereed om jou Bruidegom te ontmoet – vandag alreeds, en in
besonder volgende week aan die nagmaalstafel, maar veral ook by die wederkoms
wanneer ons die bruilofsfees saam met Christus sal vier.

En dan ons tweede gedagte: strooijonkers
verheug hulle wanneer dié twee sentraal staan.

 

2. As mense is elkeen van ons van nature egoïste, selfgesentreerd. Ons
hou daarvan om aandag te kry, om in die middelpunt te staan. En dit geld vir
elkeen van ons, selfs al is ek skaam of ook al is ek ‘n introvert. Dit is
eenvoudig deel van ons sondige aard. En ons sukkel om van harte bly te wees
wanneer iemand anders al die aandag kry. Maar by Johannes die Doper is dit
anders. Wat deur sy leerlinge as ‘n klag aangedra word (“hierdie Jesus doop nou
ook, en almal gaan na Hom toe”), dit bring Johannes juis in ‘n feestelike
stemming. Want hy is bly om die stem van die Bruidegom te kan hoor (vers 29). Ook
al weet Johannes nie wat daar presies in die hemel afgespeel het nie (onthou:
Jesus kom van bo-af, en Hy getuig van alles wat Hy daar gesien en gehoor het –
verse 31 en 32), nogtans vervul Jesus se stem hom met groot vreugde, want Hy
spreek die woorde van God (vers 34). So is dan hierdie blydskap van my volkome,
sê Johannes aan die einde van vers 29. Soos wat Johannes se aanhang afneem, so
neem sy blydskap en entoesiasme toe. Want wat hy tans sien gebeur, is die
bekroning van sy werk as wegbereider, dit is die afsluiting van sy loopbaan as
voorloper van die Christus. Wát Johannes ook al moet inboet – en hy moet baie
inboet, want binnekort gaan sy lewe beëindig word deur Herodes – nooit hoef hy
sy vreugde in te boet nie. Want Hy is die vriend van die Bruidegom! En hy sien
hoe langer hoe meer hoe die bruid aan die Bruidegom verbind word. Dit verskaf
aan Johannes die hoogste vreugde!

 

Hierdie gesindheid moet onder julle ook wees, broeders! Vreugde
wanneer die stem van die Bruidegom klink, en vreugde wanneer die bruid daarop
reageer. Moenie u daaroor bekommer as u nooit van iemand hoor dat u u ampswerk
goed gedoen het nie, moenie teleurgesteld en afgehaal voel as u nie ‘n dankie
kry vir ‘n goeie besoek wat u gebring het nie, moenie in die kollig gaan staan
wanneer u, deur die Here se genade, ‘n belangrike rol in ‘n lidmaat se lewe
gespeel het nie. Want dit gaan nie oor ons nie! Ons teleustelling en hartseer,
maar ook ons vreugde en blydskap, mag nie bepaal word deur die erkenning wat
ons kry nie, maar dit word alleenlik bepaal deur die ongehoorsaamheid óf
gehoorsaamheid, deur die ongeloof óf geloof van die skape wat die Herder aan ons
sorg toevertrou het. Wees daarom bly op die manier wat die hemel bly is! En die
hemel is bly wanneer sondaars hulle bekeer (soos wat Jesus ons leer in Lukas
15)! Die engele juig wanneer die bruid van Christus groei in haar skoonheid! Só
moet ons blydskap ook wees – gaan soek daarom daardie verlore skaap, en as jy
hom gevind het, sit hom met blydskap op jou skouers. Soek die skape op, bring
hulle by Christus, verbind hulle aan Hom, en gaan juigend huistoe!

 

En as gemeente mag u deel in hierdie blydskap! As gemeente mag ons
saam bly wees wanneer die stem van die Bruidegom hier in ons midde klink. Laat
sy stem vreugde in ons harte wek! En ons mag ons vervolgens ook verheug oor die
antwoord van die bruid, blydskap wanneer daar bekering is in die lewens van
sondaars. Het ons dit nog, broers en susters? Blydskap oor die stem van die
Bruidegom? Verheug ons onsself nog oor die weeklikse prediking waarin die stem
van Christus klink? Of het die mag van gewoonte ons oormeester? En is ons nog
bly wanneer daar antwoord kom op daardie stem – wanneer mense hulle bekeer van
hulle sondige weë, wanneer ontroue kerkgangers getroue luisteraars word,
wanneer lidmate getuig dat hulle gegroei het in hulle geloof? Is ons bly met
die werk van Christus in die gemeente, of sien ons net die donker kant van ons
gemeentelike lewe? Deel ons nog genoeg ons geloof met mekaar, sodat ons op dié
manier die geluidsterkte van die bruid se antwoord kan peil? Sing ons nog op só
‘n manier in die eredienste dat daaruit ons liefde vir ons Bruidegom blyk?

Waar die bruid aan die Bruidegom verbonde is, waar die gemeente aan
Christus verbind word, dáár is, te midde van alle gebreke, altyd ook die
blydskap. Verskaf aan hierdie broeders vreugde deur van harte te glo in die
Seun van God en deur daagliks vanuit daardie geloof te lewe. En wees self bly,
want hy wat in die Seun glo, het – volgens vers 36 – die ewige lewe.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie
(oggend)

 

  • VOORPSALM Skr. 2:1-3

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en
wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus,
die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die
konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 43:3 en 4 (sing van ons vreugde om in die Here se huis te
mag ingaan)

  • Kort nagmaalsformulier (selfbeproewing)
  • Wetslesing
  • Kort nagmaalsformulier (uitnodiging)
  • Sing Ps. 32:1 en 3

Gebed

Lees:    Johannes 3:22-36

            Lukas 15:1-10

Sing Skr. 2:4 en 5

Teks: Johannes 3:30

Preek

Amenlied Skr. 6:3

  • Bevestigingsformulier
  • Opdragte (gemeente gaan staan)
  • Sing: Ps. 134:2 (gemeente) en 3 (ampsdraers) – staande, daarna weer sit
  • Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 133

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy
aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor
jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)