Jes : 6 : 8 : ' Hier is ek, stuur my ! '

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2011-11-20
Teks: 
Jesaja 6
Preek Inhoud: 

U is welkom om hierdie preek te gebruik. 

Vir my eie rekords, laat weet my asseblief
deur ‘n epos te stuur aan ds HH van Alten.

 

Preek
(belydenisdiens) – Jesaja 6:8; lees Jesaja 6

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Wie deur die geloof deel het aan Jesus Christus, het ook deel aan
die liggaam van Christus. Dit is eenvoudig nie moontlik om die Hoof (Christus)
van sy liggaam (die kerk) los te maak nie. Nou, julle bely vandag julle geloof
in Jesus Christus as julle Here en Saligmaker. En wanneer julle dít doen, dan sê
julle daarmee vanselfsprekend ook iets oor julle deel-wéés en julle deelnáme in
sy liggaam, die kerk. Terloops, een
van die vrae waarop julle gaan antwoord, het presies hiermee te make: “Belowe
jy, terwyl die volle gemeenskap met die kerk van Christus nou vir jou ontsluit
word, om as ‘n lewende lid van die kerk die bediening van Woord en sakramente ywerig
te soek, [en] jou gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die
ander lede en tot uitbouing van die koninkryk van God aan te wend…?” En my
vermoede is dat jy op hierdie vraag ‘ja’ gaan antwoord; anders sou jy nie vandag
hier gestaan  het nie.

Maar maak dit nou vir jouself konkreet… Het jy al gedink hoe jy dit gaan
doen? Hoe jy jou gawes tot nut en saligheid van die ander lidmate gaan gebruik?
Hoe jy gaan saamwerk aan die uitbouing van God se Koninkryk? Hoe doen ‘n mens
dit? Wag jy vir ‘n aanstellingsbrief van die kerkraad? Wag jy tot jy oud genoeg
is om in die amp verkies te word? Wag jy tot een of ander kommissie jou vra? Ek
weet, dit is nie maklik om jou plekkie in die gemeente van Christus in te neem
nie. ‘n Mens is nog jonk, jy voel nog onervare, jou kennis van die Skrifte is
beperk… En moontlik dat ons gemeentelike lewe so vergroei het dat ons ook nog
niks van hierdie jongmense verwag nie. Ja, húlle wag maar, en intussen verwag die
gemeente niks nie. Maar wat dan van die Here? Wat verwag Hy? Aan die hand van
Jesaja se roeping in hoofstuk 6 wil ons vandag hieroor nadink.

 

Tema: “Hier is ek, stuur my!”

  1. Klein gemaak
  2. Skoon gemaak
  3. Gereed gemaak

 

1. Jesaja ontvang ‘n visioen, ‘n gesig. Wanneer? In die sterfjaar van
koning Ussia (vers 1). Dit is ‘n opmerklike datum – wanneer die áárdse koning van
Israel doodgaan, kry Jesaja die geleentheid om die hémelse Koning te aanskou! Hy
sien naamlik die Here op sy troon in die tempel. Jesaja mag dus iets sien wat
totaal ongehoord was. Normaalweg was die deur na die heilige ruimte in die
tempel gesluit, en verder het daar ‘n dik voorhangsel voor die allerheiligste
gehang. Want dáár in die allerheiligste was God se troon, bo-op die verbondsark,
tussen die beskermende vlerke van die cherubs en omring met die rook van die reukwerk.
Geen mens het daar gekom nie, behalwe die hoëpriester, eenmaal in ‘n jaar.

Maar nou mag Jesaja sommer so regstreeks in die allerheiligste van
die tempel inkyk en God in sy troonsaal sien sit. Wat ‘n geleentheid, nie waar
nie? Maar, broers en susters, wat Jesaja daar sien, is vir hom een te veel… Want
God is dan so ontsagwekkend groot! Veel groter as die tempel. Net die some van
sy koninklike mantel vul alreeds daardie massiewe tempel wat Salomo destyds gebou
het. En as net die some van sy mantel hierdie indrukwekkende gebou vul, hoe
groot is die mantel dan nie? En hoe groot is die draer van hierdie mantel nie? Maar
Jesaja sien nog meer in die troonsaal…

Hy sien serafs (vers 2). Nou, ‘n seraf was ‘n soort engel, en die Hebreeuse
woord ‘seraf’ beteken ‘vuur’. Vuurvlam. Serafs is dus engele vol van vuur en
lig. En nou sien Jesaja hoe hierdie vlammende serafs bo die Here staan (vers
2a). Met hulle vuurvlam en ligglans omring hulle as’t ware die Here, sodat enige
iets wat vuil of sondig is deur daardie vuur verteer word. Geen vuilheid of
sonde mag immers naby die Here kom nie, want
die Here is heilig! “Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare” –
dit is wat die serafs mekaar toeroep – “die hele aarde is van sy heerlikheid
vol!” (vers 3) En dan moet Jesaja vashou, want die geluid van die serafs se geroep
is só hard en só kragtig dat die tempel daardeur geskud word en begin bewe. Die
tempeldeure skud in hulle skarniere, en die hele tempel word gevul met rook
(vers 4).

 

Broers en susters, waarmee Jesaja in hierdie visioen gekonfronteer
word, is die majesteit van die Koning van hemel en aarde! Jesaja beleef iets
van die Here se glorie, sy heerlikheid! Letterlik word daar gepraat van ‘die
gewig’ van die Here – dít is die letterlike betekenis van die woord
‘heerlikheid’ in vers 3 (in die Hebreeus: ‘kabood’). Deur hierdie visioen leer
Jesaja dus iets ken van God se gewig, die geweldige realiteit van God. God is
nie maar net ‘n idee nie, Hy is nie maar net ‘n konsep in ons verstand nie; Hy
is nie maar net iemand oor wie ‘n mens kan oplees of oor wie jy kan praat nie. Nee,
Hy is ‘n werklikheid! En daarby is Hy ‘n gewigtige werklikheid – dít is wat Jesaja
hier sien en beleef.

As God maar net ‘n idee of ‘n konsep is waaroor ‘n mens kan praat of
dink, ja, dan is God in feite ligter as jy, dan máák jy Hom ligter as jouself.
Dan kan jy sê wat jy van God dink, en
jy kan in boeke gaan lees wat ánder mense van God dink. God staan dan onder jóú
beoordeling. En hoekom sou jy vir Hom beef – Hy is immers ligter as wat jy is.
Ja, jy bely miskien met die mond dat daar ‘n skepper is, en jy dink dat jy ná
jou dood hemel toe gaan, en jy’s gedoop en gaan kerk toe. Maar uiteindelik is
God nie ‘n werklikheid in jou lewe nie. So ‘n liggewig God kan jou gevolglik
ook nooit teregwys of jou met jou eie sondigheid konfronteer nie. Want Hy is jóú
konsep, jóú breinkind. Jy vorm Hóm, en jy pas Hom aan volgens jou lewe. Jy het
meer heerlikheid en meer gewig as hierdie God. In jou lewe is jy die een wat op
die troon sit, nie Hy nie. Dit is wat ongeloof doen, gemeente – dit ontneem God
sy heerlikheid, dit maak van Hom ‘n liggewig.

 

Totdat jy, soos Jesaja, ‘n kykie gegun word in Wie Hy werklik is! Só
heerlik, só verhewe, só heilig! Die God met Wie ons te doen het, gemeente, is allesbehalwe
‘n liggewig God; inteendeel, Hy is ‘n swaargewig! Hy is verstommend in sy
majesteit en glorie! Selfs die vlammende, verterende hemelwesens staan in
verwondering oor hierdie God! Heilig, heilig, heilig is die Here van die
leërskare.

“Ja, maar hoe kan ek dit beleef, want ek het die Here nog nooit
gesien soos wat Jesaja Hom gesien het nie” – só dink jy miskien. Maar luister
weer na die serafs: “Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare. Die
hele aarde is van sy heerlikheid vol.
” Gemeente, die hele aarde is vol
van die Here se glorie; sy gewigtigheid blyk uit alles om ons heen. Kyk na die
berge, kyk na die sterre, kyk na die diere. Kyk na jouself. Sien God se hand in
die wêreldgebeure en in die kragte van die natuur. O Here, onse Here, hoe
heerlik is u Naam op die ganse aarde! Hoe gewigtig is U!

Dit bring ons by ons tweede
gedagte: skoon gemaak.

 

2. Ja – en dit bring ons by ons tweede gedagte: skoon gemaak – die
Here is so gewigtig dat Jesaja dit nie langer kan dra nie. Die gewig is vir hom
te swaar. Die heerlikheid van die driemaal Heilige is eenvoudig te veel. En
daarom skreeu hy dit uit van angs: “Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man
onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het
die koning, die HERE van die leërskare, gesien.” Wee my – dis nie sommer net ‘n
uitroep nie, maar dit is eerder ‘n soort selfvervloeking. Jesaja besef dat hy
verlore is, onrein. En hy is dit saam met die hele volk waaronder hy homself
bevind. In die hele eerste vyf hoofstukke moes Jesaja juis die boodskap van die
sondigheid van die volk verkondig. Hoe kan ‘n sondige mens bly lewe in die
teenwoordigheid van so ‘n God!? Dit is beter om te sterwe as om onder sy gewig,
sy heerlikheid, verpletter te word!

Maar wat gebeur dan?

Gemeente, ons sien hoe een van die serafs, een van daardie vlammende
engele met ‘n gloeiende kool na Jesaja toe aangevlieg kom. Dit moes vir Jesaja nog
‘n verdere skok gewees het. Want die vlammende engele was op sigself al
verterend vir alle onreinheid en sonde wat in hulle nabyheid gekom het; hoeveel
te meer noudat een van hierdie engele met ‘n gloeiende kool na Jesaja gekom
het? Die vlammende engel kom met vuur na Jesaja – dit voorspel niks goeds nie.
In die hele bybel dui vuur naamlik op gerig, op God se oordeel. Vuur wat die
sondaar en die sonde verteer. Jesaja gaan sterf! Máár wat gebeur vervolgens? Met hierdie gloeiende kool raak die
seraf Jesaja se lippe aan, en só word sy lippe rein gemaak. Die lippe waarmee
hy sopas sy sondes bely het, word gereinig van sondes: jou skuld is weg en jou
sondes versoen. Die vuur brand die sondes weg, en die sondaar mag bly lewe!

 

Hoe is dit moonlik? Hoe kan dit wees dat vuur, dat God se
heiligheid, nie meer bedreigend vir  mense
is nie, maar eerder reinigend? Versterkend selfs? Wel, gemeente, dit is
moontlik omdat hierdie gloeiende kool vanaf die áltaar geneem is! Die altaar wat in daardie selfde tempel gestaan
het waar God se troon ook gestaan het, die altaar waarop daar geoffer is,
waarop die lammetjies verbrand is. Dáár op die altaar het die diens van die
versoening plaasgevind – wanneer die lámmetjie verbrand word, dan mag die méns
bly lewe! Dit is die evangelie, dit is die goeie nuus!

Die Lam van God het op die altaar van Golgota gebuk gegaan onder die
vuurgloed van God se ondraaglike toorn; Hy het die verterende vlam van God se
oordeel oor ons sondes gedra. En gebukkend onder daardie geweldige swaar las –
só lees ons in Mattheus 27:50 – het Hy toe met ‘n groot stem uitgeroep. En op
daardie oomblik toe Hy uitgeroep het, het die aarde begin bewe (vers 51) – net soos
in Jesaja se visioen. Die aarde het sodanig geskud dat die grafte oopgegaan en
die ontslape heiliges uit die dood uit opgestaan het. Hierdie aardbewing het
selfs die tempel laat skud, en die voorhangsel het in twee geskeur, van bo na
onder. Skielik kon priesters sommerso in die allerheiligste van die tempel
inkyk. Die vuur van God se toorn het homself uitgewoed oor Jesus Christus daar
aan die kruis op Golgota, en danksy daardie altaar het daar vir sondige mense
‘n opening gekom na God toe. Deur daardie offer het daar lewe gekom vir
sondaars! Sondaars kry toegang tot die hemelse troonsaal. Ja, vir elkeen wat werklik
in Jesus Christus glo, is God se vuurgloed nie meer vernietigend nie, maar eerder
reinigend. Elkeen wat in Christus glo, hoef God se toorn nie meer te vrees nie.
Nee, God se vuurgloed maak die gelowige nou eerder skoon van sy sonde, dit maak
hom nuut, dit maak hom gereed en geskik tot diensbaarheid aan die Koning van
die wêreld!

En dit is ons laaste
gedagte: gereed gemaak…

 

3. Jesaja hoor vervolgens die stem van die Here: “Wie sal Ek stuur? En
wie sal vir ons gaan?” Die Here is dus besig om by Homself te beraadslaag wie
Hy kan gebruik om die profetiese woord aan sy sondige volk te gaan oordra. En dit
is nie ‘n maklike boodskap wat hierdie persoon gaan moet oordra nie; dit is nie
‘n boodskap wat die volk gaan verbly nie. Inteendeel, dit is eerder een wat die
volk tot verdere verharding gaan bring. Wie moet hierdie boodskap gaan oordra? “Wel,
met alle respek, maar moet in elk nie verwag dat Jesaja voor in die ry sal
staan nie; die arme man het hom sopas morsdood geskrik vir die heerlikheid van
die Here, en sy eie besef van onwaardigheid het hom in doodsweet laat uitslaan.
Ek weet nie wie die Here gaan gebruik nie, maar verseker nie Jesaja nie.” Maar
dan hoor ons tot ons verbasing Jesaja se eenvoudige en gelowige antwoord: “Hier
is ek, stuur my.” Is dit nie wonderlik nie, gemeente? God se heerlikheid en God
se genade het duidelik iets in Jesaja se lewe uitgewerk. Na aanleiding van die
visioen van die heerlikheid van die Here en die daaropvolgende vergifnis van sy
sondes, verklaar Jesaja homself nou bereid tot diens. Sy “wee my” het verander
in “stuur my”!

 

Jesaja wil dus diensbaar wees hier op aarde, net soos wat die serafs
diensbaar is in die hemel. Dit is mos presies wat ons bid in die derde bede,
nie waar nie: laat U wil geskied, soos in die hemel, net so ook op die aarde. En
dan gee die Kategismus in Sondag 49 die volgende verklaring by hierdie bede: “gee
dat elkeen sy amp en beroep net so gewillig en getrou sal uitvoer soos die
engele in die hemel.” Dus, net soos in die derde bede, ontvang Jesaja die
engele se hemelse voorbeeld van diensbaarheid. ‘n Voorbeeld wat na hom toe kom in
die optrede en die houding van die serafs in vers 2.

Elke seraf het naamlik ses vlerke gehad (vers 2). Met twee daarvan
het hy gevlieg. Eintlik staan daar: gesweef. Ja, die serafs het voor God se
troon gesweef – dit beteken hulle was gereed om uit te gaan vir diens die oomblik
wanneer God hulle daartoe sou opdra. Die oomblik wanneer God se opdrag sou
klink, dan was hulle gereed om tot aksie oor te gaan. Die swewende serafs is daarmee
die beeld van die voortdurende aandag en opmerksaamheid, die gewilligheid en
gereedheid van God se diensknegte. Maar by hierdie bewegende vlerke, is daar
ook nog die vlerke-sonder-beweging; dit is die vlerke van selfbedekking. Met
twee vlerke bedek elke seraf sy aangesig – want hy kan nie God se skitterende majesteit
aanskou nie; selfs in die hemel is God se majesteit te heerlik om te aanskou.
En met die laaste twee vlerke bedek hy sy voete – want behalwe dat hy nie God
kan aanskou nie, kan hy ook nie verduur dat God hom, ‘n blote skepsel, aanskou
nie.

Dus, enersyds die diensbaarheid (met die vlerke wat sweef), en
andersyds die ootmoed (met die vlerke van selfbedekking). Sowel die
diensbaarheid as die ootmoed het elkeen sy eie vlerke, maar sonder om teen
mekaar in te werk. Die bewegende vlerke is nooit sonder die bedekkende vlerke
nie, en die bedekkende vlerke is nooit ‘n verhindering vir die bewegende vlerke
nie. Hierdie twee stelle vlerke werk saam om elke seraf te bring tot ware
diensbaarheid aan die Koning op sy troon.

 

En wat vir die serafs geld, geld ook vir mense; die hemel is die
voorbeeld vir die gelowiges op aarde. En dit is presies wat Jesaja geleer het:
deur die Here se heerlikheid klein gemaak (“ek is ‘n man onrein van lippe”), en
deur die Here se genade skoon gemaak (“jou skuld is weg en jou sonde versoen”),
is Jesaja tot diens gereed gemaak (“hier is ek, stuur my”). Die ootmoed en die
diensbaarheid vind mekaar in die ontmoeting met die lewende God! Hierdie
ontmoeting maak jou baie klein: wie is ek, Here? Maar hierdie ontmoeting bring
jou ook in beweging: hier is ek, Here, stuur my!

En dit is waar ons moet kom, broers en susters. Dit is waar julle,
wat vandag julle geloof bely, moet kom. Ons kom nie tot diensbaarheid uit
onsself nie, ons kom nie tot diensbaarheid deur ‘n aanstellingsbrief van die
kerkraad nie. En die praktyk bewys dit oor en oor. Jy kan mense hoeveel keer
vra om betrokke te raak, jy kan hulle smeek en hulle trek, jy kan hulle in
kommissies benoem tot jy blou is – maar as mense nie voor die lewende God gekom
het nie, as hulle nie eerstehands sy heerlikheid én sy genade
leer ken het nie, sal hulle nooit tot diensbaarheid beweeg kan word nie. En as
hulle wel tekens daarvan toon, dan sal dit nooit vrywillige diensbaarheid wees
nie, maar altyd slawediens: “ek wil dit nie doen nie, maar ek doen dit omdat ek
moet…”

 

En daarom is dit so belangrik – so lewensnoodsaaklik! – dat ons met God
se heerlikheid gekonfronteer word, én dat ons vervolgens ook sy genade leer
ken. En hierdie twee – God se heerlikheid en sy genade – leer ons slegs ken in ons
Here, Jesus Christus: “Die sondelose Lam, vir sondeskuld geslag, is waardig om
te ontvang die rykdom, wysheid, krag, en eer en heerlikheid, en dankb’re seëninge”
(Skr. 8:4). Jesus Christus, soos wat Hy in die Woord vir ons geteken word, is
God se heerlikheid én God se genade in een Persoon. Jesus Christus, wat – soos
die Hebreërskrywer ons leer – die afskynsel is van God se heerlikheid en die
afdruksel van sy wese, het nadat Hy die reiniging van ons sondes bewerk het,
gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte, terwyl Hy soveel
uitnemender geword het as die engele (Hebr. 1:3-4)! Soek Hom op, gemeente!
Ontdek Hom in sy heerlikheid en in sy genade, deur gereeld jou Bybel oop te
maak en daarin te lees en te studeer. Ontdek Hom in die gesamentlike eredienste,
ontdek Hom by die gesamentlike bybelstudie. En omhels Hom in die geloof,
vertrou jou lewe aan Hom toe!

En as jy dán die Here hoor vra: wie sal Ek stuur?, dan kom die
antwoord as’t ware vanself: Hier is ek, stuur my! Dan antwoord ons, soos wat die
jong Samuel ons voorgegaan het: “Spreek Here, want u kneg hoor!” Dan is dit nie
meer ‘n kwessie van: ek is te jonk, of: nog niemand het my gevra nie, of: die
kerkraad het nog nie my aanstellingsbrief gestuur nie. Want ons diensbaarheid
word nie gebore uit ons omgang met mense nie, maar uit ons ontmoeting met die
lewende God! En wie op dié manier God ontmoet het, leer vervolgens ook in
konkrete situasies God se roepstem verstaan.

As ek dán sien dat iets in die gemeente nie goed funksioneer nie,
dan wag ek nie tot iemand dit oplos nie; nee, dan gaan bied ek myself aan: hier
is ek, gebruik my. En as ek dan sien dat daar nood in iemand se lewe is, dan
skuif ek dit nie af op die ouderling of diaken nie; nee, dan gaan ek na daardie
persoon toe en sê: hier is ek, waarmee kan ek help. En as ek sien dat daar ‘n
opening in ‘n kommissie is, dan wag ek nie tot die kerkraad iemand aanwys nie,
maar dan gaan ek na die kerkraad toe en sê: hier is ek, gereed tot diens met
die gawes wat God aan my gegee het.

 

Julle is nie te jonk vir diensbaarheid nie. Moenie wag tot eendag
nie. Ook al is die verwagting in die gemeente dalk nog laag, onthou dan: die
verwagting in die hemel is hoog! Nie omdat julle sulke besondere kragte of
gawes het nie, maar omdat Christus Homself aan julle geopenbaar het, omdat
julle Hóm leer ken het in sy heerlikheid en in sy genade. En dit geld vir almal
van ons, broers en susters. Die liggaam van die kerk funksioneer nie omdat die hand vir die voet sê dat
hy moet loop, of omdat die knie vir die arm sê dat hy homself moet oplig nie.
Nee, die liggaam funksioneer omdat die Hóóf die opdragte gee! Die Hoof,
Christus, is ons Opdraggewer! Kom ons luister na Hom. En hoe wonderlik sal die
liggaam dan nie werk nie; hoe wonderlik sal die gemeente dan nie funksioneer
nie. Ons gemeentelike lewe word nie vanuit die konsistorie gereël nie, maar
vanuit die hemel: wie sal Ek stuur? Hier is ek, stuur my!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie
(oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 72:1,
    8, 10 en 11

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en
wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus,
die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die
konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 100 (wysie in die boek)

Wetslesing

Sing Skr. 14

Kollekte (met nuwe harte wat die HG gee, mag ons nou ook ons gawes aan
die Here gee)

Lees: Jesaja 6

Teks: Jesaja 6:8

Gebed

Preek

Amenlied Ps. 45:1, 6, 9 en 10

  • Formulier vir aflegging van geloofsbelydenis
  • Sing Ps. 63:3 en 6

Gebed

Slotsang Ps. 40:4 en 5

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
/
Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn
en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy
vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)