Bring jou dankbare lofoffer aan die Here!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2011-11-06
Teks: 
Psalm 100
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Psalm 100

 

Geliefde gemeente,

Dikwels as ons een van die psalms lees, dan slaan ons sommer maklik die opskrif oor, nie waar nie? In die geval van Psalm 100 is daardie eerste woorde – “’n Psalm. By die lofoffer” – vir ons nie werklik deel van die inhoud nie. Ons beskou dit meer as die administratiewe deel van die psalm. Natuurlik, ons lees dit – want só het God dit immers laat opteken – maar vir ons begin die psalm eers werklik wanneer ons daardie administratiewe aspek agter die rug het. “’n Psalm. By die lofoffer” – ja, goed en wel. Maar nóú: “juig voor die HERE” – dís mos die ware Jakob! Maar, gemeente, dit sou – in besonder in die geval van Psalm 100 – tot ons eie nadeel wees as ons vanoggend nie mooi na hierdie opskrif sou kyk nie. En die teendeel is ook waar: as jy hierdie opskrif verstaan, dan verstaan jy waarskynlik ook hoekom hierdie psalm so gepas is vir vanoggend se erediens. Hierdie psalm is nie net mooi en geliefd nie; nee, dit is ook presies op maat gesny vir ‘n erediens waarin jongmense belydenis van hulle geloof aflê. Kom ons kyk…

 

Psalm 100 is ‘n psalm vir by die lofoffer. Nou, die lofoffer het, volgens die wetgewing in Levitikus 7, geval onder die kategorie van ‘dankoffers’ (daar was drie soorte dankoffers: die lofoffer, die gelofte-offer en die vrywillige offer). Dus, as die Israeliet ‘n lofoffer aan die Here gebring het, dan was dit ‘n daad van dankbaarheid vir iets wat die Here aan hom gedoen of gegee het – Moses praat in Levitikus 7:15 selfs van ‘n lofdankoffer (een woord). Dus, om sy dankbaarheid te wys, het die Israeliet met ‘n dier (wat geoffer sou word) en met ander eetgoed na die heiligdom gegaan en daar, saam met sy familie en ander mense uit die samelewing, ‘n feesmaal voor die aangesig van die Here gehou.

Nou goed, as gelowiges offer ons vandag uiteraard nie meer diere om daarmee ons dankbaarheid aan die Here te betoon nie – Christus het sy bloed eenmaal gestort en dit het ‘n einde gemaak aan alle bloedstorting. Maar dit beteken nie dat die lofoffer onder ons geen betekenis meer het nie. Inteendeel, die Hebreërskrywer beskryf in pragtige taal vir ons die betekenis van die lofoffer vir die Nuwe Testamentiese volk van die Here; ons lees naamlik in Hebreërs 13:15: “Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ‘n lofoffer bring – daar het u dit, die lofoffer. Maar wat het dit behels? Wel, sê die Hebreërskrywer, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.” A ha, Psalm 100 is dus perfek gepas vir hierdie belydenisdiens, want dit is ‘n psalm by die lofoffer; of anders gestel: dit is ‘n psalm by die geloofsbelydenis. Julle kom bring vandag in die openbaar aan God julle lofoffer, die vrug van julle lippe wat sy Naam bely; jy kom bring uit dankbaarheid jou ‘ja’ wanneer jy belydenis van jou geloof aflê – dankbaarheid vir God se verbond met jou en vir sy beloftes aan jou, dankbaarheid vir sy onderrig in jou lewe, dankbaarheid omdat Hy jou tot hier toe gebring het, dankbaarheid vir die kerk waarvan jy deel mag wees, dankbaarheid vir al sy goeie gawes. Geloofsbelydenis is ‘n daad van dankbaarheid!

 

Maar daar is nog iets anders wat die gepastheid van hierdie psalm vir vandag bevestig. Psalm 100 is naamlik ook deel van die sogenaamde ingangspsalms of toegangspsalms, dié psalms wat gesing is voordat die gelowige of die volk in die heiligdom ingegaan het. Dink byvoorbeeld aan Psalm 15: “Here, wie mag vertoef in u tent?” Dink ook aan Psalm 24: “Wie mag klim op die berg van die Here? En wie mag staan in sy heilige plek?” Nou, in daardie selfde lyn vind ons ook Psalm 100: “… kom voor sy aangesig met gejubel… gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang” (verse 2 en 4). Dus, die lofoffer wat julle vandag bring – julle openbare geloofsbelydenis – is tegelykertyd ook ‘n daad van ingang en toegang! Julle geloofsbelydenis is as’t ware die laaste fase van julle ingaan in die huis van die Here; dít is wat vir julle die deurgang en die toegang bied tot die volle gemeenskap met die kerk van Christus (soos wat die laaste vraag van die formulier dit stel). Net soos die Israeliet wat sy lofoffer gebring het en daarna ‘n heerlike feesmaaltyd gehou het, só mag jy hierna ook deel wees van die feesmaal saam met die Here en saam met jou broers en susters. Jy mag van vandag af nagmaal vier!

 

Dus, broers en susters, as ek kan saamvat: Psalm 100 is die psalm wat jou oproep om in dankbaarheid jou lofoffer te bring, om in dankbaarheid jou geloof te bely, sodat jy ook toegang mag verkry tot die volle gemeenskap, en deel mag wees van die fees van die nagmaal. Wat ons in die res van die preek wil doen, is om te kyk wat hierdie belydenis, hierdie lofoffer, presies inhou…

Die oproep van die psalm is: bring jou dankbare lofoffer aan die Here!

  1. 3 oproepe en ‘n begronding vanuit God se werke (verse 2 en 3)
  2. 3 oproepe en ‘n begronding vanuit God se karakter (vers 4 en 5)

 

1. Gemeente, ons laat vir ‘n oomblik die tweede helfte van vers 1 met rus. Ek sal aan die einde weer daarna toe terugkom. Kom ons kyk eers na verse 2 en 3. In hierdie verse vind ons naamlik drie duidelike oproepe: dien die Here met blydskap, kom voor sy aangesig met gejubel, erken dat die HERE God is. Wat die digter – en uiteindelik die Here! – met hierdie oproepe doen, is om aan die lofoffer – aan ons belydenis – ‘n duidelike inhoud te gee. Belydenis is immers nooit leeg nie – jy kan nie sê: “ek glo in iets”, terwyl jy verder nie kan sê wat daardie iets is nie. Nee, belydenis is vol met inhoud! Nou goed, dít is die inhoud waartoe alle belyers geroep word:

 

In die eerste plek, dien die Here met blydskap – hier word nog nie gepraat van die eredienste op Sondae nie. Nee, dien die Here, dit is iets van ons hele lewe. Die christen se hele lewe is diens! Om in diens van die Here te staan is nie iets wat ekstra by jou lewe bykom nie, nee, dit is ‘n lewenswyse, iets wat elke aspek van jou lewe beïnvloed. ‘n Lewenswyse wat in besonder tot uiting kom in ons diens aan ons naaste. ‘Dien die Here’ beteken om jou naaste te dien. Dit is presies wat die Here Jesus in sy profetiese rede in Mattheus 25 duidelik maak, wanneer Hy vertel van die skeiding wat die Koning eendag tussen die skape en die bokke sal maak. Vir die skape sal dan die koninkryk as erfporsie gegee word, omdat hulle die Koning versorg het toe Hy honger en dors was, omdat hulle vir Hom blyplek gebied het toe Hy ‘n vreemdeling was, omdat hulle Hom geklee het toe Hy naak was, omdat hulle Hom besoek het toe Hy siek en in die gevangenis was. En dan sal die regverdiges sê: “Maar Here, ons weet dan niks van hierdie dinge nie…” En dan sal die Koning se antwoord wees: “vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” Hoe kan ons die Hére met blydskap dien, broers en susters? Wanneer ons omsien na die behoeftes en die nood van ons naaste! Só kry ons lofoffer – ons belydenis – konkrete en aktiewe inhoud. En die teendeel is net so waar: ons belydenis word leeg wanneer ons hier vandag ‘ja’ sê, en wanneer ons elke week hier in die kerk sê “ek glo in God die Vader, en in sy Seun, en in die Heilige Gees”, maar in die res van ons lewens bly hierdie belydenis passief teenoor die naaste hierbinne en daarbuite. “Ek glo…” kan daarom nooit werkeloos bly nie; “ek glo” kan nooit harteloos verby die honger naaste stap nie; “ek glo” kyk nooit anderpad wanneer die naaste in nood is nie. Dien daarom die Hére, deurdat jy in jou hele lewe jou nááste met blydskap dien!

 

Dan die tweede oproep: kom voor sy aangesig met gejubel – ja, dit is die ander kant van dieselfde muntstuk. Ons kan natuurlik nie bly vassteek in ‘n sosiale evangelie, waar ons diens aan die Here volledig opgeslurp word deur ons diens aan die naaste nie. Daar is immers ook daardie belangrike tye wanneer die naaste maar kan wag, sodat jy en ek met gejubel voor die aangesig van die Here kan kom. Dit is die tye van stilword in persoonlike bybelstudie, die tye van huisgodsdiens, die tye wanneer ons as gemeente saam bybelstudie doen, en in besonder die tye van die eredienste. Dit is die tye wanneer ons bly word wanneer ons vir mekaar kan sê: “Kom, laat ons na die huis van die Here gaan” (Ps. 122:1). Dit is die tye wanneer ons die dinge van elke dag kan laat lê om eenvoudig ons ore te spits en ons harte ontvanklik te maak vir die stem en die Gees van die Here. Dit is die tye wanneer die liggaam van Christus saamkom, en Hy nie een lid daarvan wil mis nie. Ook dít gee inhoud aan ons lofoffer, aan ons belydenis. Want daar bestaan nie so iets soos ‘n eredienslose christen nie; daar bestaan nie so iets soos ‘n kerklose christen nie. Nee, ‘n christen sien met opgewondenheid daarna uit dat dit weer Sondag word, ‘n christen jubel dit uit: “Wie sou die Heer nie prys nie, as weer met nuwe gloed ‘n rusdag ons begroet?” Gee daarom aan jou belydenis gestalte deur Sondae met gejubel jou plek hier in te neem.

En dan nog die derde oproep: erken dat die HERE God is – broers en susters, hierdie is amper die belangrikste oproep. Want ‘erken’ is nie maar net ‘n verstandelike ‘weet van’ nie; nee, die Hebreeuse woord wat hier gebruik word, word ook gebruik om die gemeenskap tussen ‘n man en ‘n vrou te beskryf; daardie intieme omgang tussen twee mense wat mekaar innig liefhet. Om dus in jou lewe die Here en jou naaste te dien en om in die eredienste die Here te ontmoet, het alles te make met ‘n intieme verhouding met jou God. Om jou lofoffer aan die Here te bring, kan nooit net ‘n uiterlike daad wees nie. Nee, die lofoffer word gebore vanuit die hartlike liefde vir die Here. Wie met die mond bely, moet ook met die hart glo. Daardie christen bely vanuit ‘n lewende verhouding met Jesus Christus: die Here, Hy is my God.

 

Broers en susters, hier het ons drie duidelike oproepe, aansporings: dien die Here, kom voor sy aangesig, erken dat Hy God is. Jou belydenis – jou lofoffer – kry gestalte wanneer jy hierdie oproepe konkreet maak, wanneer jy dít gaan dóén. Maar hoekom moet jy dit eintlik doen? Is daar enige rede daarvoor? Wel, kyk bietjie na vers 3: u sien daar ‘n dubbelpunt. Vul nou in jou gedagte in die plek van die dubbelpunt ‘n ‘want’ in. Dan staan daar in feite: dien die Here, kom voor sy aangesig, erken dat Hy God is, want Hy het ons gemaak, en ons is syne, sy volk en die skape van sy weide. Die digter gee hier duidelike redes vir sy voorafgaande drie oproepe, redes vanuit God se werke van skepping en verlossing.

Die eerste rede is: God het jou gemaak – dis mos ons belydenis, nie waar nie? Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde. Dit is ‘n kern-aspek van ons belydenis, gemeente. Soos wat ek vandag bestaan, is ek ‘n wonderwerk van God se skepping. Sonder sy wil om my te maak, en sonder sy vermoë om my te maak, sou ek nie bestaan het nie, sou ek nie nou ‘ja’ kon antwoord op sy beloftes nie, sou ek nie my naaste kon dien nie. Daarom móét ons die Skepper en sy daad van skepping erken. Ek kan en ek moet die Here dien, ek kan en ek moet voor sy aangesig kom, en kan en ek moet Hom erken, want só het Hy my gemáák, só sit ek in mekaar, só is sy doel vir my lewe! As ons die skepping as deel van ons belydenis verloor, dan verloor ons elke rede om met en vir die Here te lewe. Slegs as ek God as Skepper ken, slegs dan ken ek myself as skepsel en is daar rede om uit dankbaarheid vir Hom te lewe.

Maar die digter gaan nog verder: ons is syne, sy volk en die skape van sy weide. Dit is ‘n belangrike toevoeging: God is nie maar net ‘n afstandelike Skepper wat, ná die sondeval, sy skepping aan die noodlot oorgee nie. Nee, Hy is besig om sy skepping te verlos. Hy is besig om sy volk te versamel, ‘n kudde vol met verloste skape. Jesus Christus, die Offerlam, is ook die goeie Herder van hierdie kudde. Hy lei dit na waters waar rus is en na groen weivelde. En as gelowige, as skaap wat onder sy versorging staan, mag ek seker weet dat net goedheid en guns my sal volg al die dae van my lewe, en dat ek in die huis van Here sal bly in lengte van dae. Want ek is syne!

 

Gemeente, God se skeppingswerk en sy verlossingswerk omvat die hele geskiedenis, dit omvat ons hele bestaan. Daarsonder was lewe hier op aarde nie moontlik nie, en dan praat ons nog nie eens van ewige lewe nie. Nou, watter gronde wil jy meer hê om die Here en jou naaste te dien? Watter rede het jy nog méér nodig om Sondae hier voor sy aangesig te verskyn, en om in ‘n intieme verhouding met Hom te lewe? Julle in besonder word daarom vandag opgeroep om julle belydenis – julle ‘ja’ – konkreet te maak. En die rede daarvoor? Hoekom? Want God het jou gemaak. En God het jou verlos. Bring aan Hom die offer van dankbaarheid in jou hele lewe.

In die tweede plek: drie oproepe en ‘n begronding vanuit God se karakter.

 

2. Die tweede helfte van Psalm 100 (verse 4 en 5) vertoon ‘n soortgelyke struktuur as die eerste helfte (verse 2 en 3). Weereens is daar drie oproepe: Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam. Gemeente, sien raak dat in hierdie vers die lofoffer van die gelowige sy hoogtepunt vind. Hier kom die ware aard van die lofoffer na vore – naamlik, lof op die Here! Tot viermaal toe word woorde gebruik wat val binne die sfeer van lof: gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam. Belydenis is, in sy diepste wese, lof. Om die Here te prys, is die hoogste vorm van belydenis doen. Die vrug van die lippe wat die Naam van die Here bely – dit is die offer van lof wat die Here by sy kinders soek. Julle ‘ja’ vanoggend is daarom nie maar net ‘n klein woordjie van bevestiging nie; nee, dit is veronderstel om ‘n wêreld van lof en prys te omvat. Met ons monde en met ons lewens is ons, as gelowiges, veronderstel om die Here groot te maak. Dit is waarvoor God ons gemaak het; ons bely mos in Sondag 3 van die Kategismus: “God het die mens goed en na sy ewebeeld geskep. Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God, sy Skepper, reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam met Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys.” Dit is die doel van my en jou lewe. Elke woord, elke daad, elke gedagte het as doel om die Here groot te maak!

 

En weereens gee die digter vir ons die redes vir sy oproep tot lof; ons kry nie maar net ‘n oproep sonder gronde nie. En hierdie keer word die redes wél uitdruklik met die woordjie ‘want’ ingelui: “Want die HERE is goed, sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag” (vers 5). Waar vers 3 God se werke van skepping en verlossing as rede aangevoer het, word hierdie keer God se karakter as rede gegee. In vers 3 het dit gegaan oor wat God gedoen het, nou gaan dit oor wie God is.

In die eerste plek: want die Here is goed – gemeente, die afgode van die nasies is nie goed nie; die afgode van die nasies is selfsugtig en wispelturig. Jy het nooit geweet wanneer hulle teen jou sou draai en jou kwaad sou aandoen nie. Maar die Here is goed! En omdat Hy in sy wese goed is, is al sy werke goed. Toe Hy die wêreld gemaak het, was die deurlopende refrein: en dit was goed. En die wet wat Hy aan sy volk gegee het, is volgens Romeine 7 ‘n goeie wet. En God laat, volgens Romeine 8, alles in ons lewe ten goede meewerk. En die woord evangelie sélf beteken ‘goeie nuus’. Geen wonder nie dat die psalmdigter in Psalm 34:9 uitroep: “Smaak en sien dat die Here goed is…” Ons het alle rede om die Here te loof, want Hy is goed vir my en jou.

Vervolgens, sy goedertierenheid is tot in ewigheid – goedertierenheid dui op God se verbondsliefde. Sy liefde wat Hy op alle moontlike maniere vir ons wys, sy liefde wat in Jesus Christus in sy hoogste vorm tot uiting gekom het.

En ten slotte, sy trou is van geslag tot geslag – in ‘n wêreld waar alles aan die verander is, is dit ‘n wonderlik troos om te weet dat ons God onveranderlik is in sy trou. Vandag is Hy dieselfde God as wat Hy was vir my pa en my ma, en is Hy dieselfde God as wat Hy was vir Paulus en Maria, vir Dawid en Abraham, en vir Adam. En jy kan op Hom staatmaak om in die toekoms altyd dieselfde te bly.

 

Broer en suster, was God goed vir jou in die verlede? Natuurlik was Hy! Maar dan hoef jy ook nooit te twyfel dat Hy daarmee sal ophou nie. Was God goedertieren, liefdevol teenoor jou? Natuurlik! Dan sal Hy dit altyd wees. In sy diepste wese is God liefde. Jy hoef nie bekommerd te wees dat Hy ooit sal ophou om jou lief te hê nie. Was God getrou, ook in moeilike tye? Elkeen wat al deur moeilike tye gegaan het, kan daarvan getuig dat God hulle vasgehou het. Wel, dan sal God dit bly doen, wat ook al gebeur. Laat ons Hom dan prys vir sy goedheid en goedertierenheid en trou! Daar is alle rede om jou belydenis, jou lofoffer, te vul met die hoogste lofprysing. Dit behoort eie aan die christen se belydenis te wees, om te kan sê: “Die Here is goed vir ons!” of “Ons kan maar net die Here prys vir wat Hy hier gedoen het” of “Aan God kom alle lof toe vir wat hier gebeur het!” Moenie julle daaroor skaam nie. Bid die Here dat Hy jou belydenis tot daardie hoogtes sal voer; bid vir sy Gees om jou hele lewe een groot lofoffer te maak. Want dán bereik jy – in gebrokenheid, en met val en opstaan – maar dan bereik jy nogtans die doel van jou lewe.

 

 

Gemeente, ons het in die eerste deel van Psalm 100 drie oproepe gekry, met ‘n begronding vanuit God se werke van skepping en verlossing. Daarna het ons in die tweede deel van die psalm nog drie oproepe gekry, met ‘n begronding vanuit God se karakter van goedheid, goedertierenheid en trou. In totaal dus ses oproepe. En nou, om die sakkie toe te knoop, nog ‘n sewende en laaste oproep. Sewe, die getal van die volheid, om ons belydenis vol te maak met die mooiste inhoud. En dit bring ons terug by die oproep in vers 1: “Juig voor die HERE, o ganse aarde!” Dit voel bietjie vreemd, nie waar nie? Hierdie psalm is immers ‘n ingangspsalm, ‘n psalm wat die volk uitbeeld waar hulle in die huis van die Here saamkom. Inderdaad, maar ‘n volk wat saamkom, is nooit ‘n volk wat na binne gerig is nie. ‘n Ingangspsalm is duidelik nie ‘n toesluit-psalm nie. Wanneer die kerk saamkom, gaan die deure nie agter die gemeente toe nie! Nee, die volk wat saamkom, doen dit met die oog op die ganse aarde. Die volk wat saamkom, ontmoet immers haar Koning, en daardie Koning heers oor die hele aarde. En daarom word die hele aarde opgeroep om saam te juig! Ons belydenis moet uitgaan, broers en susters. Wanneer die kerk uitgaan, dan moet daar inderdaad ook iets van die kerk uitgaan – ons belydenis! Kyk maar hoe pragtig verwoord Psalm 150 dit: “Halleluja! Loof God in sy heiligdom…” Maar dit is nie waarby dit bly nie; nee, onmiddellik vervolg die psalm: “loof Hom in sy sterk uitspansel.” En dan bereik die psalm sy hoogtepunt: “Laat alles wat asem het, die HERE loof!”

 

Dit wat julle vandag hier doen, julle ‘ja’ voor die Here en sy gemeente, is ‘n wonderwerk van God se genade. Ons dank Hom daarvoor! Maar hierdie skamerige ‘ja’ moet groei in vrymoedigheid, dit moet toeneem in skaamteloosheid in die wêreld waarbinne julle daagliks lewe. Dit moet groei in volume – dit moet die volume kry van basuingeklank en tamboeryn en klinkende simbale. Die wêreld, broers en susters, moet die kerk hoor! My mede-student moet my lof hoor, sodat hy ook saam kan loof. Die kassier by die winkel moet my lof hoor, sodat sy ook die Here kan prys. Die boemelaar langs die pad moet my lof hoor, sodat hy ook kan sê: “Die Here is goed.” Belydenis – die lofoffer van ons lippe – is in sy wese na buite gerig. Ja, ons bring ons lofoffer aan die Here, maar die wêreld mag en moet dit hoor. Want deur ons belydenis wil die Here die tyd tot volheid bring, sodat wat vandag nog ‘n opdrag is – “juig voor die Here, o ganse aarde” – binnekort ‘n werklikheid sal wees: “en kyk, daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; … en hulle het met ‘n groot stem geroep en gesê: “Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam! … Die lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte aan onse God tot in alle ewigheid!” Mag ons almal se belydenis só groei in diepte en in breedte, in oortuiging en in volume. En vandag in besonder kry julle geleentheid daartoe…

Amen

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Psalm 107:1, 3, 10 en 21

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 108:1 (kom ons wy aan die Here ons môrelied, uit dankbaarheid vir sy trou en

goedertierenheid)

Wetslesing + genadeverkondiging

Sing Ps. 86:3, 6 en 8

Gebed

Kollekte (as daad van dankbaarheid)

Lees: Psalm 100

Sing Ps. 15:1 (in voorbereiding op die prediking)

Preek

Amenlied Skr. 24:6 en 7

Formulier vir belydenisaflegging

Sing Ps. 63:1, 3 en 6

Gebed

Slotsang Ps. 100 (ons sing dit op die wysie soos dit in die psalmboek aangedui word!)

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)