Die Here is vrede vir sy volk

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-10-30
Teks: 
Rigters 6:24
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Rigters 6:24; lees Rigters 6

 

Geliefde gemeente van Jesus Christus, ons Here,

Dit is alweer veertig jaar sedert die optrede van die laaste rigters, Debora en Barak. Veertig jaar lank het die land rus gehad. Rus – dus, geen oorlog nie, geen vyande wat die lewe van God se volk moeilik gemaak het nie. Rus – dit beteken natuurlik nog nie dat alles goed gegaan het nie. Want in hierdie veertig jaar het die volk weer geleidelik van die Here af weggedwaal; hulle het weereens teruggeval in hulle ou lewe, die diens aan die afgode. Met die gevolg dat die Here hulle oorgegee het in die hande van die Midianiete, sewe jaar lank.

Elke keer wanneer die Israeliete gewasse geplant het, het die Midianiete gekom en die opbrings verwoes – waarskynlik deur hulle eie koskaste daarmee te vul en daarna hulle vee toe te laat om die res op te vreet. Tegelykertyd het hulle ook al Israel se skape, beeste en donkies vir hulleself toegeëien. Elke jaar was dit dieselfde storie, sewe jaar lank. Klokslag het die Midianiete daar opgedaag. Ná sewe sulke maer jare was die volk vanselfsprekend honger en arm. Hulle was moeg daarvoor om elke jaar, wanneer die Midianiete hulle opwagting gemaak het, met hulle familie, met hulle vee (of wat daarvan oor was) en met hulle graan (as dit gered kon word) na die berge te vlug en daar ‘n grotman-bestaan te voer totdat die Midianiete weer verdwyn het.

 

En dit is dan dat die volk tot die Here roep. Die bekende rigter-siklus herhaal homself: die volk sondig, die Here straf, die volk roep tot die Here… Máár hierdie keer stuur die Here nie dadelik ‘n rigter nie. Nee, hierdie keer stuur Hy eers ‘n profeet (verse 8-10). En hierdie profeet druk Israel se neuse op die feite! Feit: Ek het julle uit Egipteland verlos en julle ‘n nuwe land gegee. Feit: Ek het julle gewaarsku vir die gode van Kanaan. Feit: julle het nie geluister nie. Feit: dít wat julle tans beleef, is presies wat Ek gesê het gaan gebeur. Die Here praat duidelike taal: die skuld vir julle nood lê nie by My nie, maar by júlle! Dis tyd vir selfondersoek, Israel!

En tog is die Here ook wonderlik-genadig. Let maar net op die abrupte oorgang van vers 10 na vers 11. In vers 10 is die profeet nog besig om die Here se woord aan die volk oor te bring (“julle het nie na My stem geluister nie”), maar hy kry nie eens kans om klaar te praat nie, want die Engel van die Here het alreeds by sy volk opgedaag (vers 11). Die ongehoorsaamheid van die volk is nog springlewendig, maar God soek alreeds weer sy volk op. Die sonde is nog nie eens bely nie, maar die Here is alreeds aktief om orde op sake te stel in sy kerk. En Gideon leer verstaan: deur hierdie optrede bring die Here vrede! Dit is dan ook die tema vir die preek…

Tema: Die Here is vrede vir sy volk! (vers 24) Maar hierdie vrede roep op tot:

  1. Skoonmaak (verse 25-32)
  2. Stryd (verse 33-40)

 

1. Gemeente, daar is iets anders aan die rigter Gideon… Die vorige rigters het, toe hulle geroep is, dadelik die swaard opgeneem en gaan veg. Van Otniël, byvoorbeeld, lees ons: “En die Gees van die Here het op hom gekom, en hy het Israel gerig en uitgetrek om oorlog te voer” (3:10). En van Ehud lees ons dat hy sy swaard vasgegord en Eglon, die koning van Moab, gaan doodmaak het deur die swaard in sy maag te steek (3:21-22). En dit is eintlik wat ‘n mens van Gideon ook sou verwag: hy moet dadelik ‘n leër versamel, hy moet wapens vervaardig en dan so gou as moontlik uittrek in die geveg! Immers, die Midianiete is alweer besig om die land te besteel, en Gideon moet vinnig wees voordat hulle die hele oes saamvat. Hy moet red wat daar nog te redde is!

Maar dit is nie wat gebeur nie. Gideon kry aanvanklik van die Here geen instruksies vir die oorlog nie; inteendeel, hy kry instruksies vir die erediens. Sy eerste taak is ‘n priestertaak; hy moet die kerkhuis skoonmaak deur die altaar vir Baal daaruit te verwyder en ‘n altaar vir die Here te bou. En intussen bly sy swaard in die skede. “Maar asseblief tog, Gideon, dit is alles dinge waaraan jy later kan dink. Kom, vinnig, jy moet nou eers die vyand verdryf! Die nood is só groot! Sorg dat die hongersnood weggeneem word, daarna kan jy die erediens reël. Hoe kan die volk die Here dien op ‘n leë maag? Is die volk se grootste nood nie dat hulle honger ly vanweë die onderdrukking van die Midianiete nie?”  

 

Nee!

Want dáár, op die heuwel, pryk daar ‘n altaar vir Baal. En langs daardie altaar staan daar ‘n heilige boomstam vir Asjera. Dáár lê die oorsaak van die volk se nood! Nou, gemeente, ons weet dat Baal en sy vroulike ampsgenoot, Asjera, die god en die godin van vrugbaarheid was. Vrugbaarheid op die land, maar ook vrugbaarheid vir mens en dier. Baal en Asjera was tradisioneel die god en die godin van Kanaan. En toe Israel die land Kanaan binnegetrek het, het die Here hulle gewaarsku teen hierdie afgode. Hulle moes die Kanaaniete met hulle afgode uitroei. Want as die Kanaaniete sou bly, dan sou hulle gode ook bly. En dan was die gevaar groot dat Israel daardie gode sou oorneem en hulle eie sou maak. En ons weet wat gebeur het: aanvanklik het Israel vol ywer die heidennasies verdryf en ‘n paar goeie oorwinnings behaal (lees maar Rigters 1), maar dit is helaas waarby dit gebly het. Soos ‘n doodsklok klink dit teen die einde van hoofstuk 1: dié en dié is nie verdryf nie, nie verdryf nie, nie verdryf nie… En saam met die volke het ook hulle gode agtergebly, en so het Baal heer en meester geword van ‘n land wat eintlik in vryheid moes gewoon het!

Israel het niks daaraan gedoen nie… En hoe langer hoe meer is God se liefdesvuur gesmoor in nalatigheid en onverskilligheid. Ook in Gideon se familie het hierdie afgodery ‘n plek gevind; daar was selfs ‘n altaar vir Baal in Gideon se tuisdorp Ofra. En niemand het iets daaraan gedoen nie. En niemand het eens daaraan gedink dat die onderdrukking deur die Midianiete en die gepaardgaande hongersnood dalk iets hiermee te doen sou kon hê nie. Hulle het nie daaraan gedink dat hulle verwronge erediens dalk iets te make kon hê met die graan- en vee-diefstal waaronder hulle gebuk gegaan het nie. Nee, hoe is dit moontlik dat ‘n volk, wat ‘n vrugbaarheidsgod vereer, honger ly? Maar die volk het nie verder gedink as wat hulle neuse lank was nie. Hulle het nie gedink aan wat Moses gesê het oor die Hére se verbondsoordeel wanneer hulle ander gode sou begin dien nie. Baal se altaar het eenvoudig ‘n standaard deel geword van Israel se erediens, en oor die Here se verlossing is daar nie meer gepraat nie.

 

En wat gebeur dan?

Die volk doen niks nie, maar die Here wél! Hy stuur die Midianiete, Hy bring hongersnood oor die land, Hy stuur profete. Hy kom selfs persoonlik na die land toe. Ons lees dat die Engel van die Here Ofra besoek het, en Gideon hartlik begroet het: “Die Here is met jou, dapper held!” “Wat!? Met ons? Verstaan jy dan nie waardeur ons gaan nie? As die Here met ons is, waarom het al hierdie dinge ons dan oorgekom? En waar is al die wonders van die Here? Nee, die Here steur Hom nie meer aan ons nie!” Sien u, Gideon draai die sake om: die Here steur Hom nie meer aan ons nie! Maar dit is eintlik andersom: die volk steur hom nie meer aan die Here nie! Dít is die groot nood van die volk, en dáárvan moet daar bekering kom! En dít is dan ook die nood wat Gideon aan die volk moet gaan oordra. Gideon moet die altaar van Baal gaan afbreek en ‘n altaar vir die Here bou. En op daardie altaar moet hy ‘n bul uit die stal van sy pa voor die Here offer. Die erediens moet herstel word! Die volk moet besef: dáár druk die skoen! En só gebeur dit dan ook. Daardie nag word daar vir die eerste keer in ‘n lang tyd in Ofra ‘n offer gebring aan die Here.

Die volgende môre word die inwoners van Ofra wakker, en sommer gou-gou ontdek hulle dat die altaar van Baal afgebreek is. En die paal van Asjera ook. En daar staan nou ‘n nuwe, vreemde altaar, en op die altaar lê daar nog die oorblyfsels van ‘n offerdier. Die nuus versprei vinnig in Ofra, en al spoedig is daar die vraag: wie het dit gedoen? Steeds meer mense kom uit hulle huise uit, sien die stukkende altaar, en vra dieselfde vraag: wie het dit gedoen? Dis nou ‘n goeie vraag: wie het dit gedoen? Gelukkig, uiteindelik het iemand iets gedoen! Die HERE self! Hy kom breek in in die lewe en hart van sy volk. Maar intussen loop sy kinders angstig rond: wie het dit gedoen? En hulle vra dit, want hulle is bang vir Baal, hulle is bang vir sy toorn en sy bliksemstrale. Dit was al klaar so moeilik om hierdie god tevrede te stel, en nou ook nog dít! Wie het dit gedoen? Daardie man moet sterf!

 

As hulle maar net geweet het wie dit gedoen het. Dit is die God wat ware vrede gee. Dit is die God wat sy volk verlos het van die afgode in Egipte. Dit is die God wat vol liefde na sy volk omsien, ook al kyk hulle nie na Hom nie. Dit is Hy wat weer besig is om die hart van sy volk te verower, Hy soek weer na die liefde van sy bruid. Israel, het jy regtig gedink dat jy sonder my kan lewe? Ek het jou leer loop, Ek het jou gedra deur die woestyn, Ek het vir jou kos gegee en jou trane droog gemaak. Kom, neem my hand en lewe in my vrede!

Maar al wat die mense van Ofra wil weet, is: wie het dit gedoen? En sommer gou word dit bekend: Gideon! Gideon het dit gedoen! En die volk haas hulle na die huis van Joas, sy pa. Hulle eis sy seun op, want hy moet sterf. Dit is beter dat hy sterf as dat die hele dorp deur die toorn van Baal getref word. Hy moet sterf! Dit laat ‘n mens dink aan baie eeue later, toe die volk voor Pilatus gestaan en skreeu het: “Jesus moet sterf! Kruisig Hom! Dit is beter dat een man vir die volk sterf as dat die hele volk verlore gaan.” Maar Joas gee nie toe nie: as Baal werklik ‘n god is, laat hy vir homself veg! Laat Baal bewys dat hy god is. Die mense van Ofra gee in, en Gideon mag bly lewe. Van daardie dag af dra hy die bynaam: Jerubbaal (“laat Baal teen hom veg”). Gideon word die lewende bewys van Baal se onmag…

 

Broers en susters, ons het gedink Gideon is dalk bietjie anders as die ander rigters omdat hy nie dadelik oorlog gaan voer het nie. Maar dit is nie so nie. Gideon moet uiteindelik ook gaan veg, hy moet uiteindelik ook die swaard aangord. Maar vóór alles moet hy vir die volk wys waar hulle werklike probleem gelê het: die liefde vir God het uit Israel verdwyn; hulle het hulle liefde aan ‘n afgod verkwansel! En juis daarom begin Gideon by die kern van die probleem: hy gaan maak eers huis skoon! Hy herstel eers die erediens! Hy sorg dat die offervuur van God se liefde weer in die beloofde land brand. Die vuur van God se liefde vir sy bruid, die brandende verlange van die Here om by sy bruid te wees. En daardie brandende altaar is ‘n heenwysing na die groot offer wat God vir sy bruid sou bring: sy eie Seun sterf op die altaar Golgota om mense te bevry uit die verstikkende greep van die afgode en die dood. Joas se seun, Gideon, mag bly lewe; God se Seun moet sterf. Jesus, ons Jerubbaal, ons Baal-bestryder! In sy sterwe en opstanding vind ons die bewys van die onmag van die afgode. By Hom en in Hom lê die herstel van die erediens waarsonder ons nooit van die afgode sal loskom nie.

Want, broers en susters, die afgode is in ons lewens nie minder sterk as in Gideon se tyd nie. Die afgode wat vir ons ‘n loopbaan belowe, en liefde, en onmiddellike bevrediging. Die afgode wat versagting van die pyn in jou hart belowe deur middel van drank en dwelms. Die afgode wat rykdom, roem en eer belowe, wat invloed en vryheid belowe, wat kits-geluk belowe. Die afgode van sport en pornografie, van uiterlike skoonheid en geld. Dit is daardie afgode wat ons vir onsself skep, maar wat dikwels van persoon tot persoon verskil. Hoe ongelooflik sterk is hierdie afgode nie. Hulle is hier om ons, hulle kom deur die televisie na ons toe, hulle kom deur ander mense na ons toe, hulle kom deur middel van die internet na jou toe. Voordat jy weer kyk, is jy ‘n slaaf van een van daardie gode.

 

En daarom, gemeente, is die erediens van die Here so geweldig belangrik; voor enige ander ding moet die erediens in ons lewens herstel word – die diens van eer aan die Here wat hier in die kerk begin. Want hier in die erediens klink die woorde van die lewende God, die God van vrede, die ware bron van geluk. Dít is die God wat sy volk verlos het van die afgode van Egipte en hulle na ‘n nuwe land gebring het, dít is die God wat sy Seun gegee het en in Hom sy liefde aan ons bewys het. Gemeente, hier in die erediens word al ons afgode ontmasker vir wat hulle werklik is – afgode, selfgemaakte skeppinge van mense, onmagtig om enige iets te doen. En hier word ons van hulle bevry!

En daarom moet ons ook werklik hier wees om Gód te soek! En dis soms so moeilik, want die kerkdiens wat ons hier het, weeg eenvoudig nie op teen gisteraand se popkonsert of Vrydagaand se dansvloer nie. Dit wat ons hier doen, kom nie naby die film of die rugby van gister nie. Ja, ook Baal het so baie gehad om te bied; Baal het vrugbaarheid belowe op alle terreine – op die terrein van die landbou, op die terrein van die veeteelt, op die terrein van die huwelik en die gesin. Wat meer wil jy hê! Die kerk van die Ou Testament kon eenvoudig nie daarteen kompeteer nie. Ook die erediens van die Nuwe Testament weeg nie op teen die glans en skoonheid van die afgode daarbuite nie. Maar, gemeente, prik asseblief deur hierdie lugborrels; stel hierdie afgode op die proef en kyk waarmee jy oorbly – leegheid, niks.

 

Maar hier in die erediens – ook al steek dit uiterlik maar vaal af teen die afgode van die wêreld – hier ontmoet ons geen lugborrel-god nie; hier ontmoet ons die God van vrede in en deur Jesus Christus. Hier ontvang ons in die Woordverkondiging ons groot Jerubbaal, wat die onmag en die nietigheid van die 21ste eeuse Baals ontmasker het; hier staan die kruis sentraal, daardie hemelse altaar waarop Christus vir ons die vrede verdien het. Laat ons daarom voortdurend besig bly om huis skoon te maak, deur die ware erediens te herstel na die vorm soos God dit wil hê – en dit geld vir die erediens hier op Sondae, maar dit geld ook vir die erediens van ons lewens. Verwyder, in gehoorsaamheid aan die Here en deur die krag van sy Gees, daardie afgode uit jou lewe; moet daaraan geen plek meer gee nie. En herstel die ware erediens: die erediens hier in die kerk waar Christus sentraal staan, asook die erediens van jou lewe waar jy jou liggaam stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer. (Rom. 12:1).

In die tweede plek roep die vrede op tot stryd.

 

2. Nou is dit sover. Gideon moet tot die oorlog toetree. Deur die Here se genade en deur sy instrument, Gideon, is die erediens herstel. Die altaar van die Here het weer sy regmatige plek ontvang. Die vrede van die Here staan weer in die midde van sy volk. Maar vrede met die Here is in hierdie bedeling nooit agteroor sit en rus nie. Dis waar, die land het veertig jaar lank rus gehad, maar kyk waar dit hulle gebring het. Van agteroor sit en rus, kom uiteindelik net terugval in die ou lewe. Nee, gemeente, vrede met die Here beteken altyd stryd. Herstel van die erediens roep altyd weerstand op.

En ons sien dit in Rigters 6. Skaars het Gideon die altaardiens aan die Here herstel, of ons lees in vers 33: “Toe het al die Midianiete en Amalekiete en die kinders van die Ooste aanmekaargesluit en deurgestrek en in die laagte van Jisreël laer opgeslaan.” Dit is nie sommer ‘n nuwe deeltjie van die verhaal nie; nee, dit staan in verbinding met die vorige gedeelte: toe – toe Gideon Jerubbaal geword het, toe Gideon ‘n bestryder van Baal geword het – toe maak die vyand homself reg vir die stryd. En só sal dit altyd in die lewe van God se volk wees. Solank as wat ons die afgode bly dien, het die vyand verder nie ‘n saak nie, laat hy ons met rus. Maar sodra ons die afgode in ons lewens begin bestry, sodra ons in God se vrede die afgode uit ons lewens begin verwyder, dan kan jy jou maar reg maak vir ‘n bloedige oorlog. Toe het die Midianiete laer opgeslaan…

 

Maar hierdie keer is daar iets nuuts aan die verhaal: ons lees naamlik dat die Gees van die Here Gideon vervul het (vers 34), en in die krag van daardie Gees roep Gideon vervolgens die volk op om saam met hom die stryd teen die onderdrukkers aan te gaan (verse 34-35). Dis wonderlik, nie waar nie? Daar waar die vrede met die Here herstel word, daar kom altyd stryd. Dit is ‘n gegewe! Maar die vrede met die Here rus die volk vervolgens ook toe vir daardie stryd. God se Gees is met Gideon! Gideon is nie dapper in homself nie – lees maar weer ‘n slag vers 15: “Ag, Here, waarmee sou ek Israel verlos? Kyk, my geslag is die swakste in Manasse, en ek self die geringste in my familie.” Nee, nie Gideon nie. Die Hére rus hom toe; kyk maar na die Engel se belofte in vers 16: “Ek sal met jou wees…” En daardie belofte vind vervulling in die vervulling met die Heilige Gees. Die Engel het sy woord waargemaak!

Dus, broers en susters, die vrede met die Here is nie ‘n gemaklike lewe nie, dit is nie dat alles goed gaan nie, dit is nie dat jy nooit weer hartseer of bekommernisse of swaarkry gaan hê nie. Allesbehalwe! Dit is nie so dat as jy huis skoongemaak het, daar verder niks is om te doen nie. Nee, die vrede met God bring jou juis in konflik met die magte van die duisternis; die vrede in die kerkhuis, roep weerstand van buite-af op. En waarskynlik beleef jy ook daardie stryd in jou binneste; waarskynlik beleef ons daardie stryd as kerk.

En Jesus Christus moes dié stryd by uitstek deurgaan; Hy het namens ons die helse stryd teen die duiwel en sy hele leërmag aangegaan. Die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom. Maar daardeur, gemeente, het Hy ook die Gees vir ons verdien. Ná sy hemelvaart het Hy op die Pinksterdag vir ons die krag uit die hoogte gegee, sodat óns vandag kragtig kan wees in die krag van sy sterkte, sodat óns vandag die volle wapenrusting kan aantrek en staande kan bly in ons worstelstryd teen die bose geeste in die lug. Vrede met die Here bring dus altyd stryd, wees maar voorbereid daarop, berei julle dogter daarop voor. Maar die Here sê: “Ek is met jou, deur my Heilige Gees! Moenie hierdie stryd ontwyk nie, moenie daarvan wegvlug nie. Nee, voer die stryd in my krag; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie.” Dit is die sekerheid van elke Christen-stryder!

 

“Maar hoe nou, Gideon?” Ons verstaan nie mooi nie – Gideon is vervul met die Gees van die Here, in die Here se krag het hy die volk opgeroep om saam met hom die stryd aan te gaan, maar dan…  die twyfel, die innerlike onsekerheid: “As U werklik deur my hand Israel wil verlos soos U gespreek het…” As – Gideon weet nie meer so mooi nie. Hy soek nog ekstra versekering, Hy soek ‘n teken. Ja, die Here het gespreek, die Here het belowe, maar Gideon wil hê dat die Here sy Woord aan hom moet bevestig. En dan volg daar die bekende verhaal van die wolvlies. Eers wil Gideon hê dat die grond droog moet wees en die wolvlies nat, en vervolgens wil hy hê dat die grond nat moet wees en die wolvlies droog. “Komaan, Gideon, die Here het dan tot jou gespreek! Hy het sy Gees aan jou gegee! Wat meer wil jy hê!? Glo net!?”

Maar die Here reageer nie so; baie geduldig voldoen Hy aan Gideon se wense. En glo dit of nie, Hy is met ons net so geduldig as met Gideon. God skaam Hom nie om na ons toe neer te daal en ons twyfelagtige geloof te bemoedig nie, God het geen probleem daarmee om ons greep op sy Woord te kom versterk nie. Hy is so gretig om dit te doen dat Hy vir ons ‘n tafel gegee het in plaas van ‘n dorsvloer, en brood en wyn in plaas van ‘n wolvlies. Ja, gemeente, in die doop en in die nagmaal kom verseker die Here ons vandag van sy Woord, want Hy ken “ons stompsinnigheid en swakheid” – só sê artikel 34 van die NGB in verband met die sakramente. Ons is niks beter as Gideon nie, ons is nie van nature sterker as hy nie. Vir ons om in die vrede met die Here te kan bly lewe en in die stryd te kan volhard, het God daarom vir ons die tekens gegee van die doopwater, van die brood en van die wyn. Maak gebruik daarvan, broers en susters! Word voortdurend herinner aan die Here se beloftes wanneer die doop bedien word, word verseker van die Here se werk in Christus wanneer jy van die brood eet en uit die beker drink. Mag jy daardeur versterk word vir die stryd van die geloof, daardie daaglikse stryd om werklik vir die Here te lewe en om nie toe te gee aan die afgode in jou lewe nie.

 

Stry die stryd van die geloof, broers en susters. Moenie verslap nie. Doen dit, nie omdat die oorwinning onseker is nie of omdat ons nog die oorwinning moet behaal nie. Die oorwinning is reeds behaal! “Voorwaarts, Christen-stryders, voorwaarts om te stry. Laat die kruis van Jesus, in die strydperk lei. Hy, die Heer en Koning, voer sy leër aan. Laat sy vaandel vooraan op die slagveld gaan.” En hou in hierdie stryd heeltyd voor oë die altaar van die Here, waarop staan: die Here is vrede! Die Here sal sy aangesig oor jou verhef, en aan jou vrede gee!

Amen

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Psalm 60

Votum Ps. 124:4

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 36:2 en 3

  • Lees Markus 12:28-31 (liefde)
  • Wetslesing

Sing Skr. 21:4-6

Sing van God se liefde uit Skr. 33:1

  • Doopsformulier + -bediening
  • Dankgebed
  • Sing Skr. 14:1 en 2

Lees: Rigters 6 (ek hoop om, as die Here wil, oor twee weke te kyk na Rigters 7 en 8; u kan dit

daarom in die komende weke op u eie deurlees, sodat ons dit nie alles in die erediens hoef te doen nie)

Teks: Rigters 6:24

Preek

Amenlied Ps. 125:1-3, 6 en 7

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 68:6 en 13

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)