Ons leef nie vóór Christus nie, maar ná Christus!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-10-23
Teks: 
NGB 25
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – NGB, artikel 25; lees Kolossense 2:4-23

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die seremoniële wet – waar kom dit nou skielik vandaan? Dit is asof artikel 25 uit die bloute hier in die middel van die NGB ingeplak word; vir ons gevoel pas dit eenvoudig nie by die voorafgaande óf die daaropvolgende artikels nie. En tog is dit nét die geval wanneer ons oppervlakkig daarna kyk. Wanneer ons ‘n bietjie dieper delf, dan sien ons ‘n duidelike verbinding met die omringende artikels. En die verbinding lê veral in die agtergrond wat ons in gedagte moet hou: ons belydenis het naamlik in die voorafgaande artikels deurgaans die stryd gevoer het teen die verloëning van Christus in die Roomse leer.

In artikel 17-21 het dit veral gegaan oor Christus en sy eksklusiewe Middelaarswerk vir ons; daarna, in artikel 22-24, het dit gegaan oor die vrugte van daardie werk en hoe ons deur die geloof daaraan deel kry. En sentraal in al hierdie artikels, was die tema: Christus alléén (solus Christus – een van die solas van die Reformasie). Nou, dít word in artikel 25 op ‘n baie konkrete punt nogmaals bevestig. Hierdie artikel bevestig naamlik aan ons dat in Christus die hele Ou Testamentiese erediens sy vervulling vind. Met die koms van Christus kom daar gevolglik verandering in die manier waarop God gedien wil word.

 

En dit is baie relevant teen die agtergrond van die Roomse erediens, waar dit tot vandag toe nog wemel van allerhande elemente wat ontleen is aan die Ou Testamentiese erediens. Net soos in die Ou Testament staan in die Roomse erediens die altaar, die priester en die offer sentraal. En daarby kom ook nog allerhande wassinge, vasdae, feesdae, brandende kerse, wierook ensovoorts. Ten spyte daarvan dat Christus die Ou Testamentiese erediens vervul het, hou Rome dit nog steeds in stand. Of soos Calvyn gesê het: God het die voorhangsel van die tempel geskeur, maar Rome vervang dit met honderd nuwes.

Nou, broers en susters, dit is natuurlik maklik om oor Rome te praat… Maar die Woord van die Here praat nie in die eerste plek óór iemand nie, maar met iemand – met ons, met jou en my! En die Woord van die Here wil ons leer om die rykdom in Christus nie te verag deur terug te val in ‘n Ou Testamentiese Godsdiens nie. Ons leef immers nie vóór Christus nie, maar ná Christus! En dit bring ons by die tema:

Tema: Ons leef nie vóór Christus nie, maar ná Christus!

  1. Die vervulling van die Ou Testament
  2. Die erns van die Nuwe Testament

 

1. Is Abraham en Moses en Dawid op ‘n ander manier gered as jy en ek? Het Henog en Simson en Ester die verlossing op ‘n ander verkry as ons? Nee, gemeente. Tussen die Ou en die Nuwe Testament is daar geen teenstelling nie. Beide openbaar vir ons die geregtigheid van God deur die geloof! Beide verkondig Jesus Christus en ons verlossing deur Hom (Joh. 5:39, Luk. 24:27 en 44). Dus, die Skrif is ‘n eenheid! En tog kan ons nie eenvoudig ‘n is-gelyk-aan teken plaas tussen die Ou en die Nuwe Testament nie; ten spyte van die eenheid, is daar steeds duidelike verskille. En die kern van daardie verskille lê in die koms en die werk van Jesus Christus op aarde. Vóórdat Hy gekom het was dit anders as nádat Hy gekom het. Dit klink dalk vanselfsprekend vir baie van ons, en tog móét ons daarmee rekening hou wanneer ons onderskeidelik die Ou en die Nuwe Testament lees en na die toepassing daarvan vir ons lewens soek.

En dit is waar, dikwels doen ons dit alreeds… miskien bewustelik, maar dikwels ook onbewustelik. As ons, byvoorbeeld, in Levitikus die voorskrifte lees vir die sondoffer en vervolgens nadink oor ons eie sondes, dan is daar niemand van ons wat ‘n bul gaan slag en dit op die kole gaan sit om as offer gebraai te word nie. Of as ons lees hoe die tabernakel en die tempel ingerig moes word, dan is daar niemand wat ‘n brief aan die kerkraad sal skryf met voorstelle om gerubs hier op die kerkmure te laat verf of ‘n koperwaskom by die ingang van die kerk te plaas nie. En as ons lees van die voorskrifte vir die verskillende feeste in Israel, dan sal niemand daaraan dink om in sy agtertuin ‘n hut van blare en takke te bou met die doel om saam met sy gesin daarin die loofhuttefees te vier nie.

 

Nee, gemeente, almal van ons weet dat ons dit nie meer doen nie. Maar weet ons ook hoekom ons dit nie meer doen nie? Nou, dit is waar artikel 25 relevant is. Artikel 25 leer ons dat al hierdie dinge “seremonies en heenwysings van die Wet” was. ‘Seremonies’: dit dui op die erediens van die Ou Testament, al die godsdienstige rituele en handelinge wat die priesters en die volk op bevel van die Here moes uitvoer. En wat van ‘heenwysings’? Wel, die woord wat in die Latyn van die oorspronklike NGB gebruik word, is figurae – figure, simbole, prentjies. Dus, die Ou Testamentiese erediens en seremonies was een wat gekenmerk is deur figure en prentjies. Ons kan sê die Ou Testamentiese erediens was soos ‘n kinderboek. Jy lees mos boekies vir jou kinders? En u, oupas en oumas, lees u nog boekies vir u kleinkinders? Diegene wat dit nog wel doen, sal weet dat dit boekies is met baie prente en min woorde. Daardie kleurvolle prente hou ons jong kinders se aandag gevange sodat hulle na die storie bly luister, sodat hulle end-uit bly sit totdat die storie sy hoogtepunt bereik het. En die woorde in sulke kinderboekies is dikwels min, eenvoudig en groot gedruk. Ons kinders moet immers nog leer lees, en daarom: baie prentjies, eenvoudige woordjies. Hier vind ons die abc van lees! Nou, presies op dieselfde manier was die Ou Testamentiese erediens vir die volk Israel ook soos die abc. Op dié manier het God sy kind, Israel, die abc van die geloof geleer…

 

Maar nou sê Paulus vir die Kolossense: “Julle kan nie by die abc blý nie!” Ja, dit is presies die betekenis van die woorde ‘eerste beginsels’ in verse 8 en 20. Die eerste beginsels, die abc, is vir die kinders. En vroeër – sê Paulus vir die Galasiërs in hoofstuk 4 wat ons ook saam gelees het – vroeër was ons kinders (en dan bedoel hy homself en die volk Israel). Toe was ons nog in diensbaarheid onder die eerste beginsels van die wêreld (Gal. 4:3) – bedoelende: toe moes ons nog soos kinders skooltoe gaan om die abc van die geloof te leer; toe moes ons nog leer lees. Ja, gemeente, as onmondige was die volk Israel onderworpe aan die abc van die geloof, het die volk God gedien met die rituele en simbole wat pas by kinders.

Maar daardie tyd het verander! Want intussen het God sy Seun uitgestuur (Gal. 4:4), en Paulus sê so pragtig van Hom in Kolossense 2:9 en 10: “in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag.” Dus, die kinders het intussen mondig geword! God se volk het volwassenheid bereik, nie deur haarself nie, maar deur die koms van Jesus Christus. En daarom kan die volwasse volk van God nie meer teruggaan na die stadium van onmondigheid nie; as mondige volk kan ons nie meer die dinge van ‘n kind wil doen nie. Hoekom sou ons dit ooit wou doen? Immers, deur die geloof in Jesus Christus het ons alles ontvang, in Hom het ons die volheid van die Godheid! Wat wil jy meer hê?! Wat wil jy meer hê as Jesus Christus?!

 

Paulus spits hierdie belangrike beginsel in Kolossense 2 vervolgens toe op die vraagstuk oor die besnydenis – ons weet almal dat die besnydenis in daardie eerste fase van die kerkgeskiedenis voortdurend ‘n twispunt was: moet die gelowiges uit die heidendom nou besny word of nie? En ons weet dat die kerk in Handelinge 15 ‘n duidelike besluit oor hierdie saak geneem het: nee, dit is nie nodig nie!

En in lyn met hierdie besluit, wys Paulus vir die gelowiges in Kolosse: onthou, julle is alreeds besny! Op ‘n baie wonderliker en op ‘n baie werkliker manier as wat die prentjie van vroeër (die fisiese besnydenis) dit ooit kon doen! Want julle is besny in Christus, julle het die sondige vlees afgelê toe julle saam met Christus gesterwe het, toe julle saam met Hom begrawe is en toe julle saam met Hom in ‘n nuwe lewe opgestaan het. Hoe kan jy verlang na die wegsny van ‘n stukkie vlees, as jy die werklikheid wat deur daardie handeling uitgebeeld word, volledig in Christus ontvang het? Hy kom sny mos die sondes uit jou lewe weg, Hy het mos jou sondes vergewe! Hy doen iets wat die besnydenis van die voorhuid nooit kon doen of sal kan doen nie. Die besnydenis van die voorhuid was maar net ‘n prentjie… Christus bring die werklikheid!

 

En dan is Paulus se gevolgtrekking in vers 16: “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie…” Hooplik hoor jy dat die dinge wat hier genoem word, tipies die seremonies en heenwysings is waarvan artikel 25 praat, dat dit tipies die prentjies van die Ou Testamentiese erediens is – spyswette, wette oor feeste en wette oor sekere spesiale dae. En daarvan sê Paulus nou: moenie toelaat dat hierdie prentjies aan julle opgedring word nie, moenie dat mense se beoordeling julle forseer om julleself aan hierdie wette te onderwerp nie, ook al kom hulle uit God se eie wet! Want God self het hierdie wet aan die kruis vasgenael en die veroordeling wat daarin was, uitgedelg en weggeruim (vers 14). Hierdie dinge was, volgens vers 17, maar net ‘n skaduwee van wat moes kom. Maar die skaduwee is nie die werklikheid  nie.

Gemeente, ons weet almal hoe ‘n skaduwee werk – as jy by die hoek van ‘n gebou vir iemand staan en wag, dan sien jy op ‘n stadium die skaduwee van daardie persoon aankom. En dan weet jy dat die persoon self net daarna om die hoek gaan kom. Die skaduwee laat jou hoop en uitsien, maar as die persoon self gekom het, dan vergeet jy mos van die skaduwee. Of om ‘n ander voorbeeld te gebruik: ‘n meisie kyk graag na die foto van haar kêrel wat ver weg is, maar as hy op ‘n dag in lewende lywe voor haar staan, dan kyk sy mos na hom en nie meer na die foto nie. En so was al die Ou Testamentiese wette met betrekking tot spys en drank en feeste en nuwemaan en sabbat – dit was alles skaduwees! Maar, sê Paulus, die liggaam behoort aan Christus! En daarmee bedoel Paulus: Christus is die werklikheid! In al die skaduwees van die Ou Testamentiese erediens moes die volk Israel Jesus Christus sien aankom het! Die skaduwees moes hulle na Hóm laat verlang het. Maar intussen hét Hy gekom! Wie wil daarom vandag nog na die skaduwees kyk? Watter meisie sal verkies om eerder na die foto te bly kyk as haar kêrel by haar is?

 

Broers en susters, Christus getuig self daarvan dat Hy gekom het om die wet en die profete te vervul (Mt. 5:17). Nie te ontbind nie, nie af te skaf nie – Christus skaf nie al die seremonies en prentjies af as waardeloos nie. Nee, Hy vervul dit! Hy kom gee Homself as die werklikheid waarheen al daardie seremonies en prentjies gewys het. En daarin lê vir ons vandag 1) ‘n leesles sowel as 2) ‘n lewensles.

‘n Leesles in dié sin dat Christus ons help om die Skrif reg te lees. Ons sal die Ou Testament nooit reg verstaan as ons dit nie lees deur die bril van Jesus Christus nie. Die hele skaduwee van die Ou Testamentiese erediens wys na Christus en kom in Christus tot volle verwerkliking. Christus is die eintlike tempel in wie God wil woon (Joh. 2:19-22); Christus is die werklike priester en die enigste offer (Heb. 10:11-14); met Christus se koms het die jubeljaar werklik begin (Luk. 4:21) en Christus is die ware paaslam (1 Kor. 5:7), om maar net ‘n paar voorbeelde te noem. Op dié manier moet ons leer om, wanneer ons die bybel lees, die verbindingslyn te trek tussen die Ou en die Nuwe Testament. Nee, ons gooi nie die Ou Testament weg, soos so baie mense vandag doen nie. Ons bely steeds dat die waarheid en die inhoud van die Ou Testamentiese erediens in Christus bestaan; ons gebruik steeds die getuienisse van die wet en die profete vir ons geloof en ons lewenswandel – maar ons kyk daarna en ons lees dit deur die prisma van die dood en opstanding van Jesus Christus! Oefen jouself daarin, broer en suster – en ek weet, aanvanklik is dit moeilik, ‘n mens sukkel soms om die lyn raak te sien. Maar bid vir die Heilige Gees – Christus het immers belowe dat Hy ons in die hele waarheid sal lei. En leer deur sy leiding om die Ou Testament te lees as die skaduwee wat deur Christus vervul is.

 

Maar, gemeente, ons ontvang nie net ‘n leesles nie; ons ontvang vandag ook ‘n belangrike lewensles. Dit is waar, niemand van ons sal dit vir een oomblik oorweeg om soos ‘n priester aan te trek, of offerdiere te slag, of ‘n tabernakel te bou nie. Ook in ons eredienste het ons nie meer ‘n altaar of ‘n priester of ‘n tafel met toonbrode nie. Maar ook vandag is die gevaar nog net so werklik dat ons, soos Israel vanouds en Rome vandag, eerder na die skaduwees bly kyk as na die werklikheid; dat ons eerder vasklou aan sekere vorme as wat ons in geloof vasklou aan Jesus Christus. Ons vind baie maklik ons sekerheid in ‘n sekere formaat van die erediens en in ‘n sekere vorm van lewenswandel.

Die Jode het presies dieselfde gedoen – en hoe moeilik was dit vir hulle om daarvan af te sien, selfs nadat God aan hulle ‘n baie duidelik teken gegee het deur die voorhangsel van bo na onder te laat skeur. Hoe moeilik was dit vir Petrus om rein te ag wat nog altyd vir hom onrein was. Tot drie keer toe moes God die visioen van die laken met die onrein diere herhaal voor Petrus homself by hierdie nuwe boodskap kon neerlê (Hand. 10). En hoe moeilik was dit vir die Joodse christene om te aanvaar dat heidene deel van God se volk kon word sónder besnydenis – dit het selfs ‘n sinode gevat om daaroor ‘n uitspraak te maak (Hand. 15).

 

En ons sit vandag dikwels met dieselfde worsteling, die worsteling om God nie volgens ons vasgestelde vorm te dien nie, maar om Hom in gees en in waarheid te aanbid, soos wat Jesus in Johannes 4 vir die Samaritaanse vrou geleer het. Daarmee sê ons nie dat die vorm onbelangrik geword het nie – o nee, ons moet baie noukeurig wees in ons eredienste, ons moet baie presies wees in hoe ons die doop bedien en die nagmaal saam vier. Maar al hierdie dinge is nog nie die werklikheid nie! Die werklikheid vind ons slegs in Jesus Christus. Laat ons daarom nie solus Christus (Christus alléén!) met die mond bely, maar in die praktyk ‘n “Christus+” aanhang nie – Christus + (byvoorbeeld) die Ou vertaling, of Christus + die Vrymaking, of Christus + ‘n sekere kleredrag vir ampsdraers. Nee, Christus alleen! Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik, en deur die geloof is daardie volheid ons s’n. Ons het niks méér nodig waarop ons ons saligheid moet fundeer nie. Laat niemand ons daarom van ons prys beroof deur van ons allerhande bysake te vereis nie, soos raak nie, smaak nie, roer nie aan nie – dit is waarvoor Paulus die Kolossense waarsku. Onthou: as ons saam met Christus die abc van die geloof afgesterf het (vers 20), dan moet ons nie weer deur mense daarin teruggedwing word nie, en ons mag ook mekaar nie daarin terugdwing nie. Waak daarteen dat ons mekaar bo die Skrif gaan bind, gemeente! Dit het ‘n skyn van wysheid, maar dit het uiteindelik geen waarde nie en strek net tot versadiging van die vlees (vers 23). Hou vas aan Christus alleen!

[Kom ons sing van ons Lam wat die vervulling van die Ou Testamentiese seremonies en heenwysings is, uit Skr. 8:1 en 2]. Ons let nou nog kortliks op die erns van die Nuwe Testament.

 

2. Ons is ryk, broers en susters, om ná Christus te kan lewe. Ons is bevoorreg! Nee, ons is niks beter as die kind (Israel) nie, maar in en deur Christus is ons wel verder as Israel van die Ou Testament; ons het beslis meer gekry as hulle. In hoofstuk 12 vanaf vers 18 begin die Hebreërskrywer om hierdie ‘méér’ van die nuwe verbond te verduidelik deur die ou en nuwe verbond met mekaar te vergelyk. Die gelowiges van die Ou Testament het geleef onder die wet van Moses; hulle het gestaan by die voet van die berg Sinai, met ‘n brandende vuur, omhul deur dreigende duiternis, met gepaardgaande basuingeklank en donderstemme. Dit het hulle verskrik en laat sidder! Die gelowiges van die Nuwe Testament se uitsig is miskien nie so angsaanjaend nie, maar daarom nog nie minder indrukwekkend nie. Ons staan vandag by die berg Sion, by die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes. En die punt van vergelyking is die toeganklikheid van God – by die Sinai was die volk te bang om nader te kom, was hulle ook nie toegelaat om nader te kom nie. By die stad Sion, egter, mag ons met vrymoedigheid binnegaan danksy Jesus Christus.

 

Maar juis hierdie rykdom, juis die feit dat ons verby die skaduwees is en by die werklikheid uitgekom het, moet ons soveel te meer op ons pasoppens plaas dat ons hierdie vryheid nie misbruik nie, dat ons die sprekende God nie afwys nie (vers 25). Vandag spreek God nie meer deur ‘n Moses en deur die profete nie; nee, vandag spreek God vanuit die hemel met die stem van Jesus Christus (vers 25)! Dit is steeds dieselfde God wat spreek, maar vandag spreek Hy deur sy geliefde Seun. Teenoor die skaduagtige erediens van die ou verbond staan nou die onwankelbare koninkryk waarin ons God mag dien! In die ou verbond het skrik die volk op ‘n afstand gehou, maar om na Jesus Christus te luister, bring ons naby God. Hy gee aan ons toegang tot God!

Maar dit kan nie sonder eerbied en ontsag gaan nie. Dis waar, in die nuwe verbond het ons nou toegang tot die hemel, maar die heiligheid van God het nog nie verminder nie. Dis waar, die skrikwekkende struikelblokke van die ou verbond het weggeval deur die werk van Jesus Christus, maar daar is nog steeds net soveel rede tot ontsag as by die Sinai. Dis waar, hierdie ontsag word nie meer afgedwing met vuur en basuingeklank nie; nee, hierdie ontsag word opgewek omdat ons dankbaar is vir die toegang wat Jesus ontsluit het.

 

Gemeente, dit plaas ‘n groot verantwoordelikheid op ons. Dit is die punt wat die Hebreërskrywer wil oordra: die groter verantwoordelikheid van die gelowiges van die nuwe verbond. Ons gelowige voorgangers van die ou verbond het God geëer, hoewel hulle minder ontvang het as ons. Soveel te meer rede het óns om aan God alle eerbied te betoon. Die feit dat Christus intussen gekom het, beteken dus nie dat ons dit maar rustiger kan vat as ons Ou Testamentiese voorvaders nie. Inteendeel! Die toenemende rykdom van die nuwe verbond in Jesus Christus verplig ons om des te meer vol ontsag te wees voor die God wat ook vandag nog ‘n verterende vuur is (Heb. 12:29). Adeldom verplig!

Moet daarom nie toelaat dat die kerk se mondigwording in en deur Jesus Christus jou te groot vir jou skoene maak nie. Moenie dat die vrymoedigheid oorslaan in oormoedigheid nie. Die vryheid in Christus beteken nie ongebondenheid nie, maar dit roep tot dankbare diensbaarheid! Die skaduwees is verby; Christus het gekom – en dit vra jou geloofskeuse, dit vra jou geloofserns. Ons hoef nie meer die seremonies en prentjies van die ou verbond te volg nie, maar dit beteken nie dat ons godsdiens minder sigbaar hoef te wees nie. Leef daarom prakties uit dat jy in Jesus Christus glo, rig jou lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil (soos wat artikel 25 sê). Want die Here het geen behae in duisende ramme en tienduisende strome van olie nie; die Here soek nie jou vormgodsdiens nie. Nee, wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God? (Miga 6:6-8) Geen vormgodsdiens nie, maar lewende, sigbare geloof. Want Jesus Christus het gekom!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Skr. 24:3-7

 

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 104:1-3 (op die wysie van Ps. 134)

Gebed

Lees:    Kolossense 2:4-23

            Galasiërs 4:1-5

Sing Ps. 50:3, 7 en 11

Teks: NGB, artikel 25

Preek

  • Ná die 1ste punt Skr. 8:1 en 2
  • Amenlied Skr. 43:2 en 4

Gebed

Belydenis van geloof (singende)

Kollekte

Slotsang Skr. 2:1, 4 en 5

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)