Ek het ‘n Hoëpriester… in die orde van Melgisedek!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-09-04
Teks: 
NGB 21
Verwysing: 
NGB 21
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – NGB artikel 21; lees Genesis 14:18-20, Hebreërs 7

 

[Hebreërs 7 vorm deel van ‘n seksie van die Hebreërboek wat gaan oor Jesus se Hoëpriesterskap (hierdie seksie begin in 4:14; sien die opskrif daar). En wat in hierdie gedeelte herhaaldelik na vore kom, is dat Jesus ‘n Hoëpriester is in die orde van Melgisedek. En dit is ook die tema vir die prediking vandag: my Hoëpriester is in die orde van Melgisedek. Nou, wanneer jy dit hoor, dan dink jy miskien: “Ag nee, dit klink só tegnies; dit is weer een van daai moeilike en droë preke.” Interessant genoeg, dit lyk asof die Hebreërskrywer dieselfde reaksie by sy lesers verwag het. Hy begin naamlik om hierdie orde van Melgisedek te verduidelik, en wanneer hy skaars begin het, dan onderbreek hy sy betoog, want hy weet nie of sy lesers reg is hiervoor nie. Kyk maar na Hebreërs 5:10: “[die Seun] is deur God genoem ‘n hoëpriester volgens die orde van Melgisedek; waaroor ons veel te sê het wat swaar is om te verklaar, omdat julle traag geword het om te hoor. Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie.” Die skrywer vermaan dus sy lesers omdat hulle hardhorend is, en omdat hulle nie in staat is om die dieper dinge van God se Woord te kan hanteer nie. Hy sê vir sy lesers: julle behoort teen dié tyd leraars te wees, julle behoort volwasse in die geloof te wees, julle behoort opgewonde te wees om te kan leer oor Jesus se Hoëpriesterskap in die orde van Melgisedek. En as julle dit nie is nie, is dit omdat julle geestelike babatjies is.

En dan gee hy hierdie ernstige waarskuwing in hoofstuk 6: as julle nie voortgang maak en in julle kennis en geloof verdiep nie, dan behoort julle nie aan Christus nie. As daar geen groei is nie, is daar ook geen lewe nie. Dus, reg in die middel van die behandeling van Jesus Christus as Hoëpriester in die orde van Melgisedek, wys die skrywer: hierdie onderwerp is lewensnoodsaaklik! Christene wat nie soek na die dieper dinge van die leer nie, wat net oppervlakkige preke soek… - hulle kan nie groei nie. En voor die Here móét ons groei! Hooplik kan ons dit vanaand doen wanneer ons Christus se Hoëpriesterskap ondersoek. [kom ons lees nou saam Hebreërs 7]

Geliefde gemeente, geroepe heiliges,

As ek na enige gemiddelde persoon in die straat sou gaan en vir hom sou sê: “Ek het goeie nuus! Jesus Christus is ‘n Hoëpriester!”, dan sou die meeste mense waarskynlik reageer: “Só… wat is so besonders daaraan!? Ek het in elk geval nie ‘n hoëpriester nodig nie – wie gee om!?” Voordat ons daarom verder kan gaan, gemeente, moet elkeen van ons besef: ek het ‘n hoëpriester nodig. Hoekom? Want jy is ‘n sondaar! As jy en ek eerlik na ons lewens kyk, dan weet ons wat die waarheid is: ek is ‘n leuenaar, ek is ‘n egbreker, ek is ‘n moordenaar; ek onteer my ouers, ek ontheilig die sabbat, ek begeer die verkeerde. Ek breek die wet van ‘n heilige en asemrowende God. Ek breek ‘n wet wat goed is, en plaas myself op dié manier aan die kant van die kwade. Daar is geen verskoning daarvoor nie.

En daarteenoor is God goed! God is goed, en daarom haat Hy die sonde. En as jy nie ‘n Hoëpriester het om vir jou sondes versoening te doen nie, dan haat Hy jou ook. Dit is wat Psalm 11:5 sê: God haat die goddelose. En as God jou haat met sy heilige en regverdige haat, dan sál Hy jou straf met die ewige straf aan liggaam en siel. Hel is dus ‘n realiteit, broers en susters, en dit is wat ons almal verdien. Ek verdien die hel, want ek het God se wet gebreek, ek het God se majesteit vertrap en ek doen dit nog elke dag. As jy dus eerlik na jouself kyk in die lig van God se Woord, dan besef jy hoe dringend jy ‘n Hoëpriester nodig het. En dit is die goeie nuus van die verkondiging vanaand:

Tema: ek het ‘n Hoëpriester… in die orde van Melgisedek!

  1. Hy is ‘n beter hoëpriester
  2. Hy bied ‘n beter lewe

 

1. Gemeente, wat is ‘n Hoëpriester? Wat doen ‘n Hoëpriester? Wel, die hooftaak van ‘n priester is om aan sondaars toegang tot God te gee, sodat hulle vrede met God kan hê. Sy taak is om die hemel vir ons oop te sluit, sodat ons weer in ‘n goeie verhouding met God kan staan. En jy en ek het so ‘n priester nodig, want ons is sondaars en ons kan nie aan onsself vrede met God gee nie; aan my persoonlike sleutelbos hang daar geen sleutel na die hemel nie. Al ons goeie werke en ons hele ordentlike lewe, al ons gebede, al ons trane, al ons kerkgang bereik absoluut niks voor God nie. Ek het ‘n priester nodig om vir my toegang tot God en vrede met God te bewerk.

Nou, in die Ou Testament het die Levitiese priesters hierdie werk gedoen deur diere – skape en bokke – op die altaar te offer. Die priester het ‘n onskuldige dier vir die sonde geslag, waarna hy die stukke vleis op die altaar verbrand het. En die rook wat van die altaar af opgetrek het, was vir die Here ‘n lieflike geur. Wanneer daardie geur, menslike gesproke, in die Here se neusgate opgetrek het, het Hy daardie offer aanvaar as ‘n betaling vir die sonde. So is die sondes vergewe, en het God na die sondaar gekyk asof hy regverdig is.

Maar natuurlik weet ons (en die volk Israel het dit ook geweet): om ‘n dier dood te maak kan nie werklik jou sondes vergewe nie, en om ‘n dier te offer kan jou nie werklik regverdig voor God maak nie. Dit is wat die Hebreërskrywer in hoofstuk 10 sê: “die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem.” Die Ou Testamentiese offers was maar net simbole, die Ou Testamentiese priesters was maar net simbole – hulle het vorentoe gewys na die ware Hoëpriester wat sou kom en na die enigste offer wat Hy sou bring. Moet dus nie vasgevang raak in die Ou Testamentiese offerdiens nie, maar kyk verder na daardie spesiale Hoëpriester.

 

Maar, gemeente, wanneer ons dit doen, dan vind ons iets wat moeilik is om te verstaan. Van hierdie Hoëpriester word naamlik gesê dat Hy Hoëpriester is volgens die orde van Melgisedek. Wat is hierdie orde van Melgisedek? En wie was Melgisedek? Wel, broers en susters, ons het van hom gelees in Genesis 14. Abraham het die inwoners van Sodom, insluitende Lot, uit die hande van Kedor-Laomer verlos. En ná sy terugkoms van hierdie oorwinning, ontmoet Abraham hierdie figuur, Melgisedek. Al wat ons van hom weet, is dat hy koning van Salem (Jerusalem) was, en priester van die Allerhoogste God. Hierdie koning-priester kom uit die bloute om Abraham te seën, en in reaksie daarop gee Abraham aan hom ‘n tiende van dít wat hy sopas buitgemaak het. En dan verdwyn Melgisedek. Jy lees nooit weer van hom in die Ou Testament nie, behalwe in Psalm 110 – omtrent ‘n duisend jaar later – waar God sweer dat ‘n nuwe priester sal kom, in die orde van Melgisedek. En dan word dit wéér vir ongeveer ‘n duisend jaar stil, totdat ons Melgisedek weer teëkom in die boek Hebreërs, waar van Jesus gesê word dat Hý daardie nuwe priester is in die orde van Melgisedek.

Dit lyk dus, gemeente, asof die figuur van Melgisedek jou en my op een of ander manier moet help om te verstaan wie Jesus is. Melgisedek is bedoel as ‘n prentjie van Jesus. En weereens, as jy nie ‘n Hoëpriester nodig het nie, dan is dit vervelig en droog. Maar as jy besef dat jy ‘n Hoëpriester nodig het, en as die Bybel jou leer dat Jésus daardie Hoëpriester is, dan word hierdie verhaal boeiend. Dan wil jy graag soveel as moontlik van Hom weet, dan wil jy weet wat dit presies is wat Melgisedek en Jesus aan mekaar verbind. En dit is hoekom die Hebreërskrywer in hoofstuk 7 so uitgebreid die vergelyking tussen hierdie twee tref. En kom ons kyk nou saam wat presies die ooreenkomste tussen Jesus en Melgisedek is…

  • Om mee te begin dra Melgisedek en Jesus dieselfde name. Melgisedek beteken, volgens Hebreërs 7:2, ‘koning van geregtigheid’ (Hebreeus: melek = koning, tsedek = geregtigheid), en hy was daarby ook die koning van Salem, wat beteken ‘koning van vrede’ (Hebreeus: sjaloom = vrede). Koning van geregtigheid en koning van vrede! Nou, is dit nie presies wie Jesus vir ons is nie? Jeremia noem die komende Verlosser op twee plekke “DIE HERE ONS GEREGTIGHEID” (Jer. 23:6, 33:16). Jesus Christus is in Homself volmaak regverdig, en deur sy Hoëpriesterlike werk het Hy ook vir óns die geregtigheid verdien. Deur sy werk is ek regverdig voor God – Hy is voorwaar my Koning van geregtigheid! Sodoende kan ek ook weer in ‘n lewende verhouding met God staan, ‘n verhouding waarin daar ware vrede is! Jesus Christus is dus ook my Koning van vrede! Prys die Here vir hierdie koning van geregtigheid wat vrede vir sy volk berei!
  • ‘n Volgende ooreenkoms, is dat by sowel Melgisedek as Jesus Christus ‘n priesterlike stamboom ontbreek. Hulle is beide priesters, maar nie een van hulle kom uit ‘n geslag van priesters nie. Die Hebreërskrywer sê in hoofstuk 7:3 van Melgisedek: “sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister…” Die één kwalifikasie in die Ou Testament om as priester te kon dien, was dat jy uit die geslag van Aaron moes kom; jy moes ‘n Leviet wees. Nóg Melgisedek, nóg Jesus kon dit sê. Luister maar na Hebreërs 7:13 en 14, waar daar van Jesus gesê word: “omdat Hy … aan ‘n ander stam behoort het waaruit niemand die altaar bedien het nie. Want dit is volkome duidelik dat onse Here uit Juda voortgespruit het, en met betrekking tot hierdie stam het Moses niks gesê van die priesterskap nie.” Volgens die wet van Moses kon Jesus nooit ‘n priester word nie. Die rede waarom Hy uiteindelik wél een geword het, is nie omdat Hy as een gebore is nie, maar omdat God Hom gekies het as die groot Hoëpriester. God het dit met ‘n eed gesweer, en God het Hom die ware en enigste Hoëpriester gemáák! Die priesters van die Ou Testament was uit die geslag van Levi, maar hulle was slegs ‘n skaduwee van die ware Hoëpriester. Vir jou en my verlossing is uiteindelik nie ‘n stamboom van belang nie, maar die feit dat God vir Homself ‘n Hoëpriester uitverkies het – gaan na Hom toe!
  • Die volgende ooreenkoms is dat sowel Melgisedek as Jesus Christus ‘n ewige priesterskap ontvang het. Kyk weer na vers 3: “… sonder begin van dae of lewenseinde, maar gelykgestel aan die Seun van God, bly hy priester altyddeur.” Dit beteken nie dat Melgisedek nooit gebore is of nooit gesterf het nie; dit beteken wel dat ons nie daarvan weet nie, en dat die bybel verder ook niks daaroor sê nie. Doelbewus – jy’s nie veronderstel om te weet nie. Want Melgisedek is ‘n prentjie van Jesus Christus, die Seun van God wat van ewigheid af bestaan, en tot in ewigheid sal voortleef. En hoekom is dit belangrik? Want jy en ek het ‘n ewige Hoëpriester nodig om gered te kan word! Jy en ek het ‘n priester nodig wat nooit sal sterf nie. Kyk na vers 16: Jesus het Hoëpriester geword, “nie kragtens die wet van ‘n vleeslike gebod nie, maar uit die krag van die onvernietigbare lewe.” Jesus Christus het die onvernietigbare lewe in Homself – dit is hoekom Hy op die Paasoggend uit die dood uit opgestaan het, dit is hoekom Hy lewend aan die regterhand van die Vader sit, en dit is hoekom Hy jou en my kan red! Kyk ook na vers 23: “En hulle het wel priesters geword in ‘n groot aantal, omdat hulle deur die dood verhinder is om aan te bly, maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit ‘n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.” Jy het geen ander Verlosser nodig nie, want Hy is ‘n ewige Verlosser! Hy lewe ook vandag om vir jou die pad na die Vader oop te maak!
  • En dan die laaste ooreenkoms: beide Melgisedek en Jesus Christus is groter as Abraham. Kyk na vers 4: “Let nou op hoe groot hierdie man was, aan wie selfs Abraham, die aartsvader, ‘n tiende van die buit gegee het.” In die Ou Testament was Levi, Abraham se agter-kleinseun, veronderstel om die tiendes te ontvang. Maar, sê vers 9, ook Levi wat tiendes ontvang, het deur Abraham tiendes gegee; want hy was nog in die lendene van sy vader toe Melgisedek hom tegemoetgegaan het.” Melgisedek was dus groter as Abraham, en om dit te bewys sê vers 6 ook nog vir ons dat Melgisedek vir Abraham geseën het. Abraham, dié aartsvader, die vader van alle gelowiges, die besitter van die beloftes… hy is die mindere van Melgisedek. En die mindere word deur die meerdere geseën (vers 7). En as Melgisedek die meerdere van Abraham is, dan is hy ook die meerdere van Isak en Jakob, die meerdere van Moses, van Levi, van Aaron, van al die profete, van koning Dawid… Ons kan sê dat Melgisedek die grootste mens was wat in die Ou Testament geleef het.

En wat is die punt hiervan, broers en susters? God wil wys dat Jesus Christus groter is as enige mens! Hy is die grootste mens wat ooit geleef het, maar Hy is selfs nog groter as dit: Hy is ook God. Jesus Christus is God se uitverkore Hoëpriester, ‘n ewige Hoëpriester wat nooit sterf nie, die enigste Een wat geregtigheid en vrede vir ons voor God bewerk, die enigste Een wat jou waarlik kan seën. ‘n Hoëpriester in die orde van Melgisedek. En as jy God se toorn en straf op die sonde ken, dan het jy Jesus Christus as jou priester nodig! Erken Hom as jou meerdere, en buig jou voor Hom neer.

 

 

Maar, gemeente, hoe presies is Christus nou ons Hoëpriester? Hoe presies het Hy sy taak as Hoëpriester verrig? Wel, in teenstelling tot die aardse priesters het Jesus nie ‘n dier geoffer nie. Nee, Hy het Homself geoffer. Kyk maar saam met my na vers 27: “wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het.” Sy eie liggaam, sy eie bloed. In die Ou Testament sien ons priesters wat die keel van ‘n offerdier afgesny het, die dier op die altaar geplaas het en geoffer het. Maar kan jy dit voor jou geestesoog sien: ‘n priester wat sy eie keel afsny, wat self op die altaar klim, en in jou plek sterf? Dit is presies wat Christus vir jou en my gedoen het. En daarom dat Johannes die Doper die volk se aandag juis op Jesus Christus kan rig, wanneer hy sê: “Dáár is die Lam van God, wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh. 1:29).

 

Die Lam – dit beteken: Hy is die Een wat gedood word; Hy bring nie maar net ‘n offer nie, Hy is ook die offer. Hy het Homself vir ons oorgegee as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur (Ef. 5:2). In die christelike geloof staan dus ‘n mense-offer sentraal! En dit is die struikelblok en die dwaasheid van die kruis. Dit is wat mense afsit, dit is waarvoor mense wegskram, dit is wat mense nie verstaan nie. Maar dit is wel wat ons sondes verdien het! Daardie lammetjie van die Ou Testament… dit moes ék gewees het! Ek moes daar gelê het! Maar wat ‘n wonderlike Hoëpriester het ons nie, Een wat sê: “Ek sal in jou plek die offer wees!” “Hy het óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte – dié het Hy gedra… Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom (Jes. 53:4-5).

 

Is ons nederig genoeg om te erken dat ons hierdie offer nodig het? Kan ons Hom in die geloof omhels? Vir ‘n persoon wat nie glo in die realiteit van sy eie sondigheid, en in die realiteit van die hel nie, is dit vervelig. Maar as jy hierdie realiteite ken, dan is dit die lewe!

Dit is ons tweede gedagte: Jesus Christus bied ‘n beter lewe.

 

2. Sien jy hoe kosbaar Jesus Christus is? Sien jy hoe broodnodig jy Hom het? Sien jy dat niks anders in hierdie lewe saakmaak nie, as slegs Jesus Christus en die verlossing deur Hom?

Kom ons ‘n gebruik ‘n voorbeeld: as jy in ‘n vliegtuig sit wat besig is om te val, wat oppad is na ‘n verwoestende ongeluk, dan maak dit nie saak of hulle rooiwyn of witwyn bedien nie, dan maak dit regtig nie saak of jou sitplek gemaklik is of nie, dit maak nie saak of jy hou van wat hulle op die televisie wys of nie, en dit maak nie saak hoe ander mense jou op die vliegtuig hanteer nie. Wat wel saakmaak, is of jy gered gaan word. Het jy ‘n valskerm, want die vliegtuig is besig om te val!?

Nou, gemeente, in verhouding tot die ewige verdoemenis en die ewige lewe, maak die dinge van hierdie lewe nie saak nie. Wat wel saakmaak, is: ken jy Christus? Dit was Paulus se houding. In Filippense 3:8 sê hy baie duidelik: “Ja, waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry.” Alles prysgee – hoe kan Paulus dit sê?! Wat van my geld, my huis, my plaas, my besigheid, my familie, my gewildheid? Ek het gewerk vir hierdie dinge, ek lewe daarvoor, ek vind my vreugde in hierdie dinge. Paulus sê: laat dit alles gaan. Laat dit vervang word met Jesus Christus. Laat Christus die son in jou lewe wees, wat so helder skyn dat alle ander sterre in die niet verdwyn. Soek Christus, verlang na Hom, soek sy Koninkryk; sy eer in my lewe, sy heerlikheid in my lewe!

 

En as Hy sentraal staan, as Hy alles is in jou lewe, dán gaan jy uit en jy bestuur jou geld tot verheerliking van Christus, en jy gaan boer tot eer van God, en jy bou ‘n gesin op tot eer van Jesus Christus, en jy gaan uit en jy wys jou diepe liefde vir ander mense vir die saak van God se eer. Dan gaan jy, en jy voel en jy praat en jy huil en jy skreeu dit uit – alles vir die eer van Jesus Christus! Want Hy is jou Koning; Hy is jou Hoëpriester! Dit, broers en susters, is die christelike lewe. Die christelike lewe is nie in die eerste plek die gehoorsaamheid van ‘n stel reëls nie; dit is nie dat jy hier by die kerk opdaag en wys dat jy ‘n goeie persoon is nie; dit is nie dat jy probeer om nie te sondig nie. Nee, dit is Jesus Christus in die sentrum van alle dinge. Hy is jou Hoëpriester wat vir jou sondes gesterf het, wat jou verlos het van die ewige hel, en daarom lewe jy vir Hom – van uur tot uur, van dag tot dag. As Christus jou Hoëpriester is, dan is Hy alles in jou lewe.

Wat antwoord jy wanneer jy iemand raakloop en die persoon vra vir jou: hoe gaan dit? Sou ons nie soos volg kon antwoord nie? “Jy wil weet hoe dit met my gaan? My sondes is vergewe deur die kruis van Christus; ek is geregverdig! Ek het ‘n Verlosser, wat my liefhet. Sonder Hom sou ek verlore gewees het. Dit gaan wonderlik-goed met my!” Maar nie saak of ek ‘n suksesvolle dag gehad het of nie. Hoeveel geld ek gemaak het, is onbelangrik. Hoeveel ek vir my toets gekry het, of hoeveel vriende ek by die skool het, maak uiteindelik nie so baie saak nie. Of ek ‘n meisie het of nie, hoe goed ek is met my sport, watter vakansie daar vir my wag of nie wag nie, maak eintlik nie saak nie. Wat saak maak, is dit: “Ek ken Christus, en ek beskou die res van die lewe as drek. Want sonder Christus sou ek verlore gewees het, maar nou sal ek vreugde ken tot in alle ewigheid. Prys die Here daarvoor! Dit is hoe dit met my gaan… en hoe was jou dag?”

 

Ek weet, ons sou mekaar vreemd aankyk as ons mekaar raakloop, vra hoe dit gaan, en die antwoord is: “Ek is geregverdig, prys die Here!”, en ons loop weer verder. En tog, broers en susters, moet daar iets van hierdie houding in ons daaglikse lewe sigbaar word. Want waar vind ons die hartklop van ons lewe? Dit moet mos Christus, en Hom as die gekruisigde, wees? En daarom dat Abraham, nadat hy teruggekom het van die oorwinning, nie homself op die skouer geklop het nie, maar aan Melgisedek ‘n tiende van die buit gegee het. Want dit het nie oor Abraham gegaan nie. En daarom dat Paulus sê dat hy oor niks anders praat nie as oor Jesus Christus, en oor Hom as die gekruisigde (1 Kor. 2:2). Dit was Paulus se enigste boodskap, dit was sy lewe. Nee, nie een of ander droë leerstuk nie, nie een of ander storie nie. Jou sondes is immers nie ‘n storie nie, dit is ‘n werklikheid. God se oordeel is ook nie ‘n storie nie; dit is ‘n werklikheid. Laat Christus, jou Hoëpriester, dan net so ‘n groot werklikheid vir jou wees. In Hom, die Hoëpriester in die orde van Melgisedek, vind jy vergifnis van al jou sondes. In Hom, die Hoëpriester in die orde van Melgisedek, vind jy rus en troos in al jou sorge en probleme. Jy hoef nêrens anders heen te gaan nie!

Amen

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Skr. 7:1-5

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 133

Gebed

Teks: NGB, art. 21

Sing Ps. 110:5

Lees:    Hebreërs 7 (skets die konteks van hierdie gedeelte)

            Genesis 14:18-20

Preek

Amenlied Skr. 8:1 en 2

Kollekte

Belydenis van geloof (singende)

Gebed

Voor die seën, sing Ps. 134:1 en 2

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)