Nie reïnkarnasie nie, maar die inkarnasie (vleeswording) van God bring redding…

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-08-14
Teks: 
NGB 18
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – NGB artikel 18; lees Mattheus 1 en Mattheus 13:53-58

 

Geliefde gemeente,

U het waarskynlik al gehoor van reïnkarnasie. Die geloof in reïnkarnasie bestaan al vir duisende jare in die boeddhisme en hindoeïsme, maar is veral in vandag se tyd baie gewild in die New Age beweging. Reïnkarnasie is die geloof dat die siel na die dood nie verdwyn nie, maar opnuut gebore word in ‘n ander lewende wese. Die siel bestaan dus vir ewig en kom elke keer in ‘n ander vorm terug. En dikwels het die vorm waarin die siel terugkeer, te make met die manier waarop jy in jou vorige lewe opgetree het. Dus, hoe jy nou lewe, bepaal wat jy in jou volgende lewe sal wees. So vind die siel altyd maar weer ‘n nuwe blyplek… ‘n Baie aanloklike gedagte, wat selfs onder christene meer en meer aftrek kry.

Die bybel, egter, bring ‘n totaal ander boodskap… Die bybel praat naamlik nie van reïnkarnasie nie, maar van inkarnasie, vleeswording; nie van die menslike siel wat elke keer weer in ‘n nuwe vorm terugkeer nie, maar van die vleeswording van God; nie van die menslike siel wat ewig lewe nie, maar van die mens wat homself in die liggaamlike en geestelike dood gewerp het. Dit is baie minder aantreklik, nie waar nie? As jy kan glo in die ewige siel, wie wil nou glo in ‘n siel wat dood is deur die sonde? As die mens homself deur reïnkarnasie kan opwerk tot God, wie stel dan belang in ‘n God wat Homself verneder tot op die vlak van die mens?

 

Maar, gemeente, hoe aanloklik die reïnkarnasie ook al mag lyk, uiteindelik bly daar van reïnkarnasie net die eerste letters oor, net die ‘re-‘, net die herhaling – weer en weer en weer probeer die mens om onsterflikheid te bereik. Weer en weer reik ons na die sterre, maar al wat ons vang is verskietende sterre. Weer en weer vra ons saam met die bekende Queen-treffer: ‘who wants to live forever?’, sonder dat iemand vir ons die weg na die ewige lewe kan wys. Weer en weer sing ons ‘forever young’, net om elke keer te besef dat oud-word en doodgaan ‘n werklikheid is. En as die laaste klanke van hierdie treffers weggesterf het, dan is dit steeds net ek en hierdie ellendige bestaan. Hoe ek ook al strewe na vergoddeliking en onsterflikheid, die werklikheid van hierdie lewe gaan maar net nie weg nie. En dan sê God in sy Woord: “Maar jy hoef nie na My toe op te klim nie, want Ek kom na jou toe.” Geen ewige siklus van reïnkarnasie om aan hierdie jammerdal te ontkom nie, maar God wat mens word en onder ons kom woon. Nie reïnkarnasie nie, maar inkarnasie, vleeswording – dáárin lê ons redding.

Tema: Nie reïnkarnasie nie, maar die inkarnasie (vleeswording) van God bring redding…

  1. Dit gebeur in die lyn van die belofte
  2. Dit gebeur in die werklikheid van my daaglikse lewe

 

1. Guido de Bres doen in artikel 18 baie moeite om, veral teenoor die Wederdopers, te bewys dat Jesus Christus werklik mens geword het, werklik as mens van vlees en bloed op hierdie aarde gelewe het. En wat is die beste manier om dit te bewys? Wel, gee vir die skeptici ‘n geslagsregister, gaan haal die familie-stamboom onder die stof uit, en wys vir hulle swart op wit uit watter lyn hierdie man gebore is. Nou, met dié doel haal Guido de Bres verskeie tekste aan waaruit bewys word dat Jesus Christus nie sommer uit die lug geval het nie, maar dat Hy afkomstig is uit die geslag van Dawid, en nog verder terug uit die geslag van Juda, en voor dít nog uit die geslag van Abraham.

Nou, gemeente, dit is presies wat Mattheus ook doen. Mattheus het natuurlik nog nie met die Wederdopers te make gehad nie, maar hy het wel skeptiese Jode as lesers gehad. En om hulle kritiek en vrae die hoof te bied, verskaf hy reg aan die begin van sy evangelie aan hulle ‘n geslagsregister om die koms en afkoms van Jesus Christus swart-op-wit te kan aantoon. Jesus Christus is ‘n ware mens, met ‘n aantoonbare geslagsregister. Maar, broers en susters, ons het hier nie met ‘n gewone geslagsregister te make nie. Dit is nie ‘n geslagsregister wat op ‘n strak manier elke moontlike naam in die geboortelyn aantoon nie (daar is immers verskeie name wat weggelaat word); nee, dit is eerder ‘n geslagsregister wat vir ons die lyn aantoon waarin God se belofte tot volle werklikheid sou kom – die belofte van ‘n Redder! Kom ons kyk saam na hierdie geslagsregister…

 

Ja, geslagsregister… dit is hoe dit in ons vertaling staan. Maar letterlik praat Mattheus van “die boek van die begin [die genesis] van Jesus Christus”. Daarmee toon hy onmiddellik aan wat sy fokus is. Al die name in verse 2-16, die eintlike geslagsregister dus, is nie die fokus nie; nee, die begín van die mens Jesus Christus – dáároor gaan dit. Maar – en daarom dat Mattheus tog ook al die ander name noem – hierdie begin, hierdie áánvangsgeskiedenis van Jesus Christus het natuurlik ‘n vóórgeskiedenis van baie eeue; hierdie mens Jesus is immers die seun van Dawid, en nog verder terug, die seun van Abraham.

Maar… hoekom gaan Mattheus terug tot by Abraham? Wel gemeente, dit is belangrik om raak te sien dat hierdie geslagsregister deel is van die breër konteks van die aankondiging van Jesus se geboorte aan Josef net hierna. Josef word naamlik in vers 21 deur die engel beveel om die seun, wat gebore sal word, Jesus te noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos. Sy vólk! Dit is dus diegene wat uit Abraham gebore is – immers, by Abraham het God ‘n begin gemaak met die volksbestaan van Israel; diegene wat uit Abraham gebore is, hulle is die volk van God. Dit is mos wat ons in Psalm 105:4 saam gesing het: “O, volk uit Abraham gebore…” En juis om dié rede begin Mattheus sy voorgeskiedenis in vers 2 by Abraham, die vader van die volk Israel, en uiteindelik die vader van alle gelowiges. Want juis vir húlle het Jesus mens geword! Vir sy vólk het Hy sy bloed gestort!

 

Nou goed, van daardie volk gee Mattheus ‘n oorsig in verse 2-16; hy bou die hele geslagregister op vanaf Abraham. En vanaf Abraham werk hy via Dawid en via die Babiloniese ballingskap sy pad terug na Jesus Christus. En dan, in vers 17, gee Mattheus samevattend ‘n driedeling van hierdie hele voorgeskiedenis: van Abraham tot Dawid veertien geslagte, van Dawid tot die Babiloniese ballingskap veertien geslagte, en van die Babiloniese ballingskap tot Jesus Christus veertien geslagte.

En al hierdie geslagte word aanmekaar verbind deur die steeds terugkerende refrein: “en hy was die vader van hom, en hy was die vader van hom, en hy was die vader van hom…” Amper tot vervelens toe hoor ons hierdie refrein! Totdat – opmerklik! – totdat ons by vers 16 kom… dan verander die refrein skielik. Jakob word in vers 16 nog die vader van Josef genoem, maar – let op – Josef word genoem die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word. Die refrein word onderbreek! En in vers 18 keer Mattheus weer terug na waarmee hy in vers 16 geëindig het. Dus, hy eindig in vers 16 met die woorde: “… Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word” – en dan volg daar letterlik in vers 18: “die geboorte van hierdie Jesus Christus was dan so…”

Maar gemeente, hoekom sou Mattheus by Jesus Christus die refrein verbreek? Hoekom sou hy nou Christus se geboorte apart vertel? Was Jesus Christus se geboorte dan anders as dié van al sy voorvaders? Ja, Mattheus formuleer doelbewus op hierdie manier om sodoende ‘n kontras te skep tussen die geboorte van Jesus Christus en die geboortes van die persone wat in die voorafgaande geskiedenis genoem word. Mattheus wil doelbewus sê dat die geboorte van Jesus nie was soos die voorafgaande geboortes nie. En daar is ‘n rede hiervoor…

 

Want gaan kyk maar ‘n bietjie na die inhoud van die voorgeskiedenis, gemeente. Ek noem sommer ‘n paar dinge uit hierdie voorgeskiedenis.

Kyk byvoorbeeld na verse 2 en 3: “Jakob die vader van Juda en sy broers” – Juda word dus tussen al sy broers uitgekies as dié een in wie se lyn die Christus gebore sou word. Maar die vervolg maak sommer gou-gou duidelik dat die Here ‘n sondige mens gekies het; ons lees in vers 3: “en Juda was die vader van Peres en Serag by Tamar.” Tamar, die vrou wat haar as hoer voorgestel het, en wat deur Juda in sy wellus gebruik word – in dáárdie lyn werk God na die Christus toe. En dan gaan dit nie in die eerste plek oor Tamar, asof sy model staan vir die slegte vrou nie. Nee, dit gaan oor Júda; die swart bladsye in Júda se lewe word in die openbaar hier vertoon, sy verkiesing uit al sy broers roep om genade!

Kyk ook na vers 6: “Isai die vader van koning Dawid, en koning Dawid die vader van Salomo by die vrou van Uria…” Hier het ons ‘n swart bladsy in die lewe van God se uitverkore koning, ‘n swart bladsy in die lewe van God se volk – hierdie egbreuk en moord van Dawid roep om genade!

En kyk ook nog na vers 11: “Josia die vader van Jegonia en sy broers in die tyd van die Babiloniese ballingskap.” Jegonia was die laaste Dawidiese koning, en tydens sy regering het die maat van die sonde van die volk vol geloop, en laat die Here die volk in ballingskap gaan. Die Dawidiese koningskap se dae was getel – hierdie verlore koningskap roep om genade!

 

Gemeente, sien u die sonde van die volk van God? Sien u die magteloosheid van die nageslag van Abraham om daardie sonde te oorkom? Drie ewe lang periodes – drie periodes van veertien geslagte – het bewys dat die redding nie van mensekant kán kom nie. En dít is die rede waarom die refrein onderbreek word; as daar enigsins kans is op verlossing, dan moet die refrein onderbreek word, dan moet die oordrag van die vader na die seun gestop word, dan moet daar ‘n nuwe begin gemaak word.

‘n Nuwe begin, nie uit die mense nie, maar uit God. En daarom dat Mattheus in vers 16 nie sê: “Josef die vader van Jesus wat Christus genoem word nie”; nee, hy sê: “Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word.” Dit is die eerste teken van ‘n nuwe begin; die sondige voorgeskiedenis word hier onderbreek. Josef, die man wat in die lyn van hierdie hele voorgeskiedenis gestaan het, wat net so sondig was soos al die geslagte voor hom, word uitgeskakel wanneer dit gaan oor die koms van die Verlosser. Stop! Dit kan nie so voortgaan nie! Jesus Christus kan nie uit Josef gebore word nie! Nee – en so lees ons in vers 18 – “die geboorte van hierdie Jesus Christus was dan só: Toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, is sy swanger bevind uit die Heilige Gees.”

Gemeente, God het ingegryp in die menslike geskiedenis deur Josef uit te skakel. Wanneer dit gaan oor ons verlossing, dan word ons uitgeskakel. Ék word gesystap, sodat ék verlos kan word – ja, dit is die misterie van God se verlossingsplan. Deur sy Gees sorg God daarvoor dat Maria swanger geword het. En laat ons Hom daarvoor eer, broers en susters! Eer aan God in die hoogste hemele, want slegs deur sy ingrype – sonder die toedoen van ‘n man! – het dit moontlik geword dat daar vrede op aarde kan kom. Slegs deur sy ingrype in die sondige, menslike geslagslyn is dit vir u en my moonlik om vergifnis van sondes te kan vra, is dit vir u en my moontlik om met God versoen te kan word.

 

Ja, dit is voorwaar ‘n unieke geslagsregister waarmee ons hier te make het. Jesus Christus was waarlik mens, uit die geslag van Dawid, uit die geslag van Abraham. Dank God daarvoor dat die Seun bereid was om Homself te ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk te word (Fil. 2:7). En tog moet ons fyn onderskei: die Seun het mens geword, maar Hy het nie uit die menslike geslagslyn uit ópgekom nie, Hy was nie onderhewig aan die noodsaak van die sonde en die gebrokenheid wat vanaf die sondeval in daardie lyn voortgewoeker het nie. Nee, dit het anders verloop: die Seun het nie uit hierdie geslagslyn opgekom nie, maar Hy het vrywillig in hierdie lyn íngegaan.

Uit die Heilige Gees gebore, het Hy gekom om die refrein van die sonde en die dood te breek. En gaan luister maar na daardie refrein in ‘n hoofstuk soos Genesis 5, want dit is ook die refrein van my en jou lewens; daar hoor ons voortdurend die doodsklokke lui: en hy het gesterwe, en hy het gesterwe, en hy het gesterwe! Maar God maak die doodsklokke stil, en maak hier ‘n nuwe begin – ja, nog steeds in dieselfde geslagslyn, want die verbond is ‘n eenheid – maar nogtans ‘n nuwe begin, ‘n nuwe genesis: dit is die boek van die genesis van Jesus Christus! En wie deur die geloof uit Hom gebore word, ontvang die lewe! Wie deur die geloof uit Hom gebore word, hy het Abraham as vader en hy mag deel in God se beloftes. En so kom daar ‘n vernuwing in die eeue-oue geslagslyn, ‘n vernuwing wat sedert Pinkster alle volke insluit, ‘n vernuwing wat bewerk word deur Jesus Christus en wat voortgesit word deur geloof in Hom. En as dit enigsins moontlik was, dan sou ons die name van hierdie geslagslyn kon invul. Die name van al die gelowiges sedert Jesus se koms. Dan sou ons saam met Psalm 87 kon jubel: dié en dié is daar gebore! Here, dankie dat Jesus Christus die kern is van daardie geslagsregister – die Een na wie alle geslagte in die Ou Testament uitgesien het, en die Een uit wie alle geslagte sedert Pinkster lewe! En ek kan hulle aantoon… Ek kan hulle in my eie familie sien, in my eie gesin. En ek kan hulle hier in die gemeente sien – die gelowiges en hulle gesinne. ‘n Geheiligde geslagsregister, die geslagsregister van Christus, die stamboom van alle christene!

Nie reïnkarnasie nie, maar die inkarnasie/vleeswording van God bring redding… Dit gebeur, in die tweede plek, in die werklikheid van my daaglikse lewe.

 

2. Gemeente, van die nuwe begin wat God in die eeue-oue geslagslyn gemaak het, het die Jode in Nasaret klaarblyklik nie veel verstaan nie; hulle gee in elk geval nie blyk dat hulle iets verstaan van God se onderbreking in die geslagslyn nie. Want wanneer Jesus in Mattheus 13 ‘n slag in sy vaderstad kom en daar met goddelike gesag in die sinagoge onderwys gee, dan kyk hulle na Hom as die seuntjie om die hoek wat intussen groot geword het: “Is Hy nie die seun van die timmerman nie? Is die naam van sy moeder nie Maria en dié van sy broers Jakobus en Joses en Simon en Judas nie? En sy susters, is hulle nie almal by ons nie?” Die mense is goed bekend met die besonderhede van Jesus se gewone menslike afkoms; hulle ken sy agtergrond, sy familie-geskiedenis, sy stamboom. Hulle ken dit so goed, dat hulle nie verder kan kyk om sodoende sy besondere krag en wysheid te verklaar nie. ‘n Stadsgenoot is eenvoudig te gewoon om sulke kragte en wysheid te besit.

Maar, gemeente, lê daar nou nie juis die geheim van Christus se koms op aarde nie? Natuurlik, ons Here Jesus is God; by sy geboorte is sy Godheid nie in mensheid verander nie; Hy het gebly wat Hy was (nl. God), en Hy het geword wat Hy nie was nie (nl. ‘n mens). En die geheim van sy besondere krag en wysheid het nie in sy menslike natuur gelê nie; nee, dit het in sy goddelike natuur gelê. En die Jode moes dit leer glo (ons hoop om volgende week verder te leer van die twee nature van die Here Jesus). Maar is Hy intussen na sy mensheid te gewoon om die Verlosser te kan wees? Is dit onmoontlik vir die Messias, die Seun van God, om intussen ook die seun van die timmerman te kan wees? Is dit te gewoon vir my Verlosser om ook my stadsgenoot te wees?

 

Nee, broers en susters, daarin lê juis die wonder van die inkarnasie, die vleeswording van Jesus Christus. By reïnkarnasie is daar altyd ‘n strewe-in-eie-krag om by God uit te kom, en hierdie strewe is altyd sonder sukses. Maar by die inkarnasie kom God by ons – die Woord het vlees geword en het onder ons kom woon (Joh. 1:14). Die seun van die timmerman het mens geword vir die sondes en gebreke van die timmerman, en vir die sondes van sy moeder Maria, en vir die sondes van sy broers en susters, swaers en skoonsusters, nefies en niggies wat in Nasaret gebly het. Die Seun van God het mens geword in die gewone lewe van elke dag. Die Seun van God het mens geword vir gewone mense.

En dit is presies wat die Hebreërskrywer ook vir ons sê in die gedeelte wat ons saam gelees het. Ja, ons het ‘n groot Hoëpriester, een wat deur die hemele deurgegaan het – verstommend, ‘n bo-menslike wonder! Maar daarmee saam het ons ook ‘n hoëpriester wat met ons swakhede medelye kan hê omdat Hy in alle opsigte versoek is net soos ons, hoewel sonder sonde. Hy ken ons gewone omstandighede, Hy weet wat ons in die daaglikse gang van sake deurmaak. Hy ken jou frustrasies by die werk, die etiese vrae waarmee jy worstel in die uitoefening van jou dagtaak; Hy weet hoe jy by die skool geterg word; Hy weet hoe jy sukkel om jouself te motiveer om te gaan leer; Hy ken jou verlange na ‘n lewensmaat; Hy weet dat jy soms in jou bed aan die slaap raak terwyl jy bid (ons het afgelope Woensdag by die katkisasie daaroor gepraat); Hy weet dat u eensaam is en wonder of daar vandag uiteindelik iemand gaan kom kuier; Hy verstaan jou vermoeidheid wanneer jy sopas huis skoongemaak het en die kinders net daarna weer vuilmaak; Hy ken jou seer wanneer die verhouding met jou kinders nie so goed is nie, of wanneer iemand jou te na gekom het. Hy weet ook alles van jou worsteling met die sonde, en met die gebrokenheid van die lewe.

 

Gemeente, dit alles ken Hy deur en deur, want die Seun van God is die seun van die timmerman. En Hy het gekom om die timmerman te verlos… en die bouer, en die rekenmeester, en die piloot, en die prokureur, en die alleenstaande bejaarde, en die werkende pa, en die huisvrou-ma, en die opstandige tiener, en die pasgebore babatjie. Ons Hoëpriester staan nie ver weg nie, maar Hy is baie naby aan ons. Hy het in sy lewe en sterwe baie naby aan ons gekom, en Hy is vandag in ons met sy Heilige Gees. Is dit te gewoon vir jou? Te alledaags? Verstaan my goed, ons mag die vleeswording van Jesus Christus nie só gewoon maak dat dit plat en oneerbiedig word nie. Maar ons mag, in ons verwondering oor die Godheid van die Seun, net so goed verwonderd wees oor die mensheid van Jesus Christus. Sy gewoonheid is ‘n wonder. Hy is my Verlosser in my alledaagse lewe.

Die mense van Nasaret kon dit nie aanvaar nie. ‘n Profeet is immers nêrens meer ongeëerd as in sy eie vaderstad en binne sy eie huis nie (Matt. 13:57). En hierdie houding van Jesus se vaderstad was nie maar net ‘n insidentele geval nie; nee, dit was simptomaties vir die hele Israel. Vanweë hierdie ongeloof doen Jesus in Nasaret gevolglik ook nie baie kragtige dade nie (Matt. 13:58). Want hulle wat weier om te glo dat dit God behaag het om sy hemelryk te laat kom deur die menswording van Jesus van Nasaret, sluit hulleself ook af van die weldade van daardie ryk. Hierin is Nasaret vir ons ‘n waarskuwing. Glo ons in hierdie Jesus wat, soms ook in ons oë, eenvoudig te gewoon is? Glo ons in Hom, juis in sy gewoonheid? Vir wie glo is daar die wonder van verlossing in die gewone daaglikse lewe.

 

Want, broers en susters, die lewe van die gelowige is nie die permanente ‘high’ wat sommige christene ons wil laat glo nie; ek is beslis nie elke dag in die wolke daarbo nie. Nee, ek gaan maar deur die hoog en die laag van die lewe; ek gaan maar deur dieselfde ervaring as waardeur Paulus gegaan het, waar ek die een oomblik kreun: “ek, ellendige mens”, en die volgende oomblik jubel: “wie kan my skei van die liefde van God?” Op berge en in dale, ja, dit is die ervaring van die gelowige. Op berge en in dale… maar oral is my God! Oral is my God, wat in Christus mens geword het.

Gee jouself oor aan hierdie Christus, lê jou lewe voor Hom neer. Volg die stem van hierdie goeie Herder, ook al gaan jy deur ‘n dal van doodskaduwee. Reïnkarnasie wil jou laat vlieg sonder vlerke, maar die inkarnasie gee jou uitsig op die vleeswording van die Seun. Hy gee nuwe krag, Hy laat jou opvaar met vleuels soos die arende. Hy is waarlik ons Emmanuel, God met ons!

Amen

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 132:7-11

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Geloofsbelydenis (ons mag die groet van die Drie-enige beantwoord deur ons geloof te bely

in die Drie-enige; kom ons doen dit nou met die woorde van die Apost. Geloofsbel.)

Gebed

Sing Ps. 105:4-6

Lees:    Mattheus 1:1-2, 16-23

Mattheus 13:53-58

Hebreërs 4:14-16

Sing Ps. 89:1, 14 en 17

Teks: NGB, art. 18

Preek

Amenlied Skr. 1:1, 5 en 6

Gebed

Sing Skr. 2

Kollekte

Slotsang Skr. 3

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)