Verhoog of neergestoot?

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-07-31
Teks: 
NGB 16
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – NGB artikel 16; lees

 

Geliefde gemeente,

Ons lees in Dordtse Leerreëls, 1,9 die volgende oor die uitverkiesing: “Hierdie uitverkiesing het nie op grond van die vooruitgesiene geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid of enige ander goeie hoedanigheid of geskiktheid van die mens tot stand gekom nie. Dit alles kan nooit vooraf as rede of voorwaarde vir die uitverkiesing van die mens vereis word nie. Die uitverkiesing is immers die oorsaak van geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid, ens. Daarom is die uitverkiesing die fontein van alle saligheid waaruit geloof, heiligheid en al die ander saligmakende gawes spruit…”

Uitverkiesing is die fontein – het ons nie verlede week ook alreeds van ‘n fontein gehoor nie? Dis reg, ons het mos in artikel 15 gelees dat die sonde aanhoudend uit ons verdorwenheid opborrel soos water uit ‘n giftige fontein. Ons belydenis praat dus op twee verskillende plekke van fonteine – die fontein van die erfsonde en die fontein van die uitverkiesing; ‘n fontein waaruit alle slegte dinge opborrel, en ‘n fontein waaruit alle goeie dinge opborrel. En hoewel hierdie twee fonteine teenoorgesteldes van mekaar is en die water wat uit beide kom, nooit kan of mag meng nie, moet ons hulle nogtans bymekaar hou in ons behandeling van die uitverkiesing. Ons belydenis doen dit ook in artikel 16. In hierdie artikel, wat gaan oor die uitverkiesing, is die vertrekpunt die verdorwenheid van die menslike geslag: “Ons glo dat God, toe die hele geslag van Adam deur die sonde van die eerste mens in die verderf en ondergang gestort is, Hom betoon het soos Hy is…” Wanneer dit dus oor die uitverkiesing gaan, kom onmiddellik ook die erfsonde ter sprake.

 

En, roers en susters, ons sal wys wees wanneer ons, in ons spreke en nadenke oor die uitverkiesing, dieselfde metode volg. Wanneer dit gaan oor die uitverkiesing, dan móét ons uitgaan van ons selfveroorsaakte verdorwenheid; wie artikel 16 wil verstaan, kan nie sonder artikel 15 klaarkom nie. En wie weier om dít te doen, wie weier om sy eie verdorwenheid te erken, sal uiteindelik nie anders kan nie as om ook die belydenis oor die uitverkiesing te verwerp. Immers, wie het nodig om uitverkies te word, as hy nie verlore is nie? Jy kan maar na enige sportspan kyk om iets hiervan te verstaan: vir die topspelers in ‘n betrokke span is die spankeuse nie eens ‘n kwessie nie – hulle is mos in elk geval in; hulle kies as’t ware hulleself. Maar dit is die swak spelers vir wie spankeuse ‘n groot ding is – immers, hulle plek in die span is onseker. Hulle wonder: sal ek gekies word? Sal ek dit maak?

Is jy ‘n topspeler of ‘n swak speler? Dit is ‘n retoriese vraag, gemeente, en die ware selfondersoek, waartoe die nagmaalsformulier ons oproep, sal dit sommer gou-gou vir jou uitwys. Jy’s ‘n sondaar, totaal verdorwe! En wie dít leer raaksien, leer sien ons ook die belang van die leer van die uitverkiesing.

Tema: verhoog of neergestoot?

  1. God is regverdig
  2. God is barmhartig
  3. Ek ontvang ruimte om te lewe

 

1. Dit is ‘n skreiende prentjie wat Dawid in die eerste verse van Psalm 36 vir ons skets (verse 2-5); hy teken vir ons die goddelose in al sy goddeloosheid. Die mag van die sonde is skrikwekkend. In die hart van die goddelose het die sonde die laaste woord; dit beheers hom volledig: “daar is geen vrees van God voor sy oë nie” (vers 2). Dit beheers hom 24 uur per dag; selfs in die nag lê en bedink hy onreg, broei hy verkeerde planne uit (vers 5). By die goddelose is die sonde nie maar net ‘n misstap hier en daar nie; nee, die sonde word die reël, dit word gewoon. Die sonde is sy lewenspatroon. Hy praat die sonde goed, en met verloop van tyd weet hy ook nie meer van beter nie: “hy gaan staan op ‘n weg wat nie goed is nie” (vers 5). ‘n Weg – ja, dit dui op die lewensrigting van die goddelose. Die goddelose het afgedraai in Sonde Straat en daar is geen plek om weer om te draai nie. “Daar is geen vrees van God voor sy oë nie” – die goddelose skrik nie meer van die manier waarop hy leef en van die dinge wat hy doen nie. Inteendeel, hy dink dat daar geen probleem in sy lewe is nie; hy vind eintlik behae en genot in sy lewenswandel: “want dit vlei hom in sy oë in verband met die uitvind en haat van sy skuld” (vers 3). Sowel sy woorde as sy dade is vuil en goddeloos: “die woorde van sy mond is onreg en bedrog; hy laat ná om verstandig te wees, om goed te doen” (vers 4). 

 

Ken jy sulke slegte mense? Ek ken een… Myself! Ek sien myself in hierdie beskrywing. “Ja maar, hoe kan jy dit sê? Jy’s mos ‘n gelowige?! En in hierdie psalm word die gelowiges mos teenoor die goddelose gestel?” Wag, broer en suster, nie te vinnig nie. Jy’s gedeeltelik reg, en ons sal in die laaste punt weer daarop terugkom. Maar intusen moet jy die Skrif wel in sy geheel lees. Want kyk na die teksverwysing in vers 2: “Daar is geen vrees van God voor sy oë nie” – hierdie woorde word, volgens die teksverwysing, deur Paulus in Romeine 3:18 aangehaal. En dan moet ons verstaan dat, wanneer die Nuwe Testamentiese skrywers sekere woorde aanhaal, hulle nie net na dáárdie spesifieke woorde verwys nie, maar na die volledige konteks van die aanhaling. Dus, Paulus haal nie maar net die laaste woorde van vers 2 aan nie, nee, hy verwys in werklikheid na die hele beskrywing van die godelose in verse 2-5. “Goed, sê jy miskien, ek aanvaar dit, maar dit sê nog nie dat dit oor my gaan nie…” O nee? Sal ek dan vir jou die spieël van Romeine 3 voorhou? Kyk mooi in hierdie spieël van selfondersoek, kyk mooi na hierdie selfportret: “Daar is niemand regverdig, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie… Daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie een nie…” En tussen al hierdie verdoemende beskrywings vind ons dan Paulus se aanhaling uit Psalm 36: “Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie.” En dan is sy konklusie: “Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees…”

Ek vra weer: ken jy sulke slegte mense? Ken jy iemand wat so goddeloos is soos die goddelose van Psalm 36? En beantwoord hierdie vraag binne die geheel van die Skrif! Ken jy so iemand? My mond is gestop… en joune? Die hele wêreld is voor God doemwaardig… ek ook! “Ja, maar ons het mos al oor die erfsonde gepraat; ons weet mos nou al dat ons in sonde ontvang en gebore word.” Goed, maar aanvaar ons ook die konklusie? Erken ons vervolgens dan ook dat die hele wêreld doemwaardig is, werd is om verdoem te word tot die ewige hel? Erken jy dat jy die hel verdien? Erken jy dat die Indiaan in Noord-Amerika, wat nog nooit van die Here Jesus gehoor het nie, die hel verdien? Erken jy dat die president van Amerika en die koningin van Nederland die hel verdien? Erken jy dat daardie pasgebore babatjie die hel verdien? Is God regverdig wanneer Hy aan elke mens gee wat hom of haar toekom? En is God steeds regverdig wanneer Hy, nadat Hy sekeres uitverkies het, die ander in hulle val en verderf laat bly waarin hulle hulleself gewerp het?

 

Dawid dink so: “U is regverdig as U spreek, rein as U gerig hou” (Ps. 51:6). Die digter van Psalm 130 dink so: “As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?” Die digter van Psalm 143 dink so: “Gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie.” Maar hoekom dink ons dikwels nie so nie? Omdat ons doen waarteen ek in die begin gewaarsku het: ons haal verdorwenheid en uitverkiesing uitmekaar, ons wil die uitverkiesing verstaan sónder die verdorwenheid. En ja, dan kry ons probleme met God se spankeuse… Dan kom God, net soos die Springbok-keurders hier in Suid-Afrika, onder die spervuur van die hele wêreld. Want hoekom kies Hy hierdie een en nie daardie een nie? Wat maak hom beter as haar?

Sjjt, laat ons monde gestop word, want die hele wêreld is voor God doemwaardig. God is regverdig wanneer Hy goddelose mense in hulle val en verderf laat bly. Hy is regverdig met ‘n goddelike geregtigheid! Kan ons dit verstaan? Nee, dit is te hoog vir ons: “U geregtigheid is soos die berge van God.” Dit is te uitgestrek vir ons: “u oordele is ‘n groot watervloed” (vers 7). Moet dit nie probeer verstaan nie, maar glo dit wel: God is regverdig! En in daardie geregtigheid het die werkers van ongeregtigheid geval; in daardie geregtigheid is hulle neergestoot en kan nie weer opstaan nie – so eindig Dawid sy psalm (vers 13). En dit is geen selfvoldane Dawid wat hier spreek nie; nee, dit is ‘n ootmoedige Dawid. Hy weet wie hy is; hy weet dat hy, net soos alle mense, dieselfde verdien; hy ken die giftige fontein wat in homself opborrel. En hy buig hom voor sy Pottebakker wat mag oor die klei het, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak (Rom. 9:21). Hoe ondeurgrondelik is God se oordele en hoe onnaspeurlik is sy weë (Rom. 11:33).

Kom ons let vervolgens op God se barmhartigheid.

 

2. Ná die beskrywing van die goddelose in verse 2-5 kom daar in Psalm 36:6 ‘n skielike verandering. Al lesende ervaar ons hoe die lig deur die donker wolke van goddeloosheid breek. En tog is dit nie die lig wat ons moontlik verwag het nie, want Dawid gaan nie oor van ‘n beskrywing van die goddelose na ‘n beskrywing van die gelowiges nie. Dit is nie soos in Psalm 1 waar die weg van die goddelose teenoor die weg van die regverdiges geplaas word nie. Dawid klop nie homself op die skouer asof hy die regverdige is, in teenstelling tot daardie slegte goddelose nie. En dit versterk die gedagte dat Dawid in die eerste verse ook homself raaksien. Want ná hierdie donker beskrywing van die mens – van elke mens! – breek Dawid uit in ‘n loflied op God!

Hoor sy uitbundige woorde: “o Here, u goedertierenheid is tot in die hemele, u trou tot in die wolke. U geregtigheid is soos die berge van God; u oordele is ‘n groot watervloed.” Dit is alles ruimtelike begrippe wat Dawid hier gebruik; dit laat ‘n mens dink aan Paulus se kragtige woorde in Efesiërs 3:18: om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is van die liefde van Christus. Hemele, wolke, berge, watervloed; breedte, lengte, diepte, hoogte – God gee aan mense ruimte! Ruimte om te lewe. Want – vers 10 – by U is die fontein van die lewe!

 

Gemeente, hier het ons nou die kern van Dawid se loflied, die bron van sy lof. Dawid mag sing, Dawid mag uitbundig sy God se goedertierenheid en trou en geregtigheid prys, want sy God beskik oor die fontein van die lewe. By God is die oorsprong van ewige lewe! En wat is uitverkiesing anders as dit? Wat is uitverkiesing anders as dat God mense laat deel in die fontein van die lewe, dat Hy mense verniet laat drink uit die stroom van sy genietinge (vers 9). Wat is uitverkiesing anders as dat God die giftige fontein van ons verdorwenheid teengaan en oorwin met die fontein van die lewe? Mense wat in die duisternis van hulle eie verdorwenheid rondgeploeter het, mag nou deel in God se lig: “In u lig sien ons die lig” (vers 10).

Uitverkiesing is dus nie een of ander koue en kliniese leerstuk van ‘n God wat voor die skepping ‘n speletjie Russiese roulette gespeel het om te bepaal wie die hel gaan vryspring nie. Uitverkiesing is nie ‘n blinde noodlot wat my ewige toekoms bepaal nie, sonder dat ek iets daaraan kan verander nie. Uitverkiesing is genade, uitverkiesing is barmhartigheid. Of soos artikel 16 dit stel: “God is barmhartig, aangesien Hy dié wat Hy uitverkies het, uit hierdie verderf trek en verlos.” Mense wat dood was, mag drink uit die fontein van die lewe. Waar God se regverdigheid oor sondaars ons monde toegestop het – nie gewilliglik nie, maar eenvoudig omdat ons nie anders kan nie – daar laat sy barmhartigheid oor sondaars ons totaal stom. O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!

 

Maar dan die klassieke teenvraag: “Hoe weet ek dis vir my?” Ja, hoe weet ek? Want ek het nog nie my naam in die Bybel raakgelees nie; ek het ongelukkig ook nie insae in die boek van die lewe nie. Hoe oortuig gelowiges ook al kan wees van die wonder van die uitverkiesing, dikwels bly daar die onsekerheid knaag: wie sê dis vir my bedoel? En jy is gedeeltelik reg: ons kry nie ‘n lys met name van die uitverkorenes nie. Jy kan nie eenvoudig die lidmate-register van die kerk vat, en meen dat jy daarmee ‘n getroue weergawe van die getal uitverkorenes het, kompleet met telefoonnommer en adres nie. Nee! Maar dit beteken nie dat ons intussen onseker hoef te wees nie. Want God het aan ons ‘n ander Naam gegee – die Naam van Jesus Christus. Daardie Naam is ons redding, ook al vind ek nêrens my eie naam nie. Immers, so leer Paulus ons in Efesiërs 1:4, in Hom het God ons voor die grondlegging van die wêreld uitverkies. Dit beteken dat, by die uitverkiesing voor die grondlegging van die wêreld, Jesus Christus deel was van God se plan. Nadat God gekies het, moes Christus kom om aan daardie keuse uitvoering te kom gee; Hy moes vir die uitverkorenes kom sterf om daarmee die giftige fontein van sondes in die gelowiges te laat opdroog, Hy moes opstaan sodat die uitverkorenes ook in ‘n nuwe lewe kon opstaan. En Hy het daardie werk op ‘n volmaakte wyse verrig, soos wat Hy self getuig in Johannes 10:28: “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” Moet daarom nie in die ewigheid probeer kyk nie, want God het die ewigheid in die tyd ingebring; die Seun van God, wat voor die skepping deel was van die besluitneming, het mens geword en het onder ons kom woon. As iemand dors het, laat hom na Hom toe gaan om te drink, want Hy gee die lewende water. As jy wil weet of jy mag drink van die fontein van die lewe, gaan dan na Hom toe. As jy seker wil wees van jou uitverkiesing, glo dan in Jesus Christus!   

As ons tydens katkisasies by hierdie onderwerp kom, dan vra ek eintlik altyd vir die katkisante: glo jy in Jesus Christus? Sonder twyfel word die koppe geknik – hulle glo almal in Jesus Christus. En die vraag wat daarop volg, is altyd: glo jy dat jy uitverkies is? En dan word dit stil, dan is hulle nie meer so seker nie. Maar, broers en susters, dit is nie moontlik nie. Dit is nie moontlik om te sê: ek glo in Christus, maar ek weet nie of ek uitverkies is nie. Dan sê jy daarmee iets oor Jesus Christus, dan sê jy dat Hy vir jou nie volle sekerheid van jou verlossing kan bied nie. Dan sê jy eintlik dat jy tog nog dieper wil deurdring, dat jy tog nog graag jou eie naam wil sien. Maar dan sê God: Ek gee vir jou net een Naam. Of jy glo in Hom tot redding, of jy verwerp Hom, tot jou eie ondergang.

 

Jesus Christus!

En waar vind ek Hom? In die kerk! Wie versadig wil word uit die fontein van die lewe, moet in die kerk kom: “Hulle verkwik hul aan die vettigheid van u huis, en U laat hulle drink uit die stroom van u genietinge.” Ja, gemeente, hier word Jesus Christus verkondig, hier stroom die water van die lewe. Kan u daarom verstaan dat die reformatore en ons belydenisgeskrifte kan sê dat daar buite die kerk geen saligheid is nie? Ons sê dit nie vanuit ‘n eksklusiewe kerkbegrip nie, en ons sê dit nie omdat God nie in staat sou wees om los van die kerk mense tot saligheid te bring nie, maar ons sê dit omdat hier, deur middel van die Woordverkondiging, die water van die lewe vloei. En daarom dat die Dordtse Leerreëls ook op ‘n rustige, pastorale wyse die aanmoediging kan gee: as jy nog nie seker is van jou uitverkiesing nie, gaan eenvoudig voort om die middele te gebruik. Die middele – prediking, doop, nagmaal. Dis hoekom jy hier moet wees, dis hoekom jy in besonder volgende week hier moet wees wanneer ons die nagmaal saam sal vier. Ja, ek weet, dis langnaweek. En jy kan vir die langnaweek weggaan na een of ander warmwaterbron, maar onthou: hier is die fontein van alle lewe. Aan die nagmaal sien en proe ons God se barmhartigheid om mense uit die verderf te red!

En ten slotte: ek mag in God se barmhartigheid ook gaan lewe…

 

3. Gemeente, dit is baie belangrik dat ons ook nog kortliks na hierdie laaste punt kyk. Want die uitverkiesing is nie net ‘n leerstuk nie, dit is ook ‘n lewenswyse. Dit is nie net iets vir die katkisasieklas nie, dit is iets vir die daaglikse lewe. En Psalm 36 wys dit ook vir ons. Ons het reeds vasgestel dat Dawid homsélf in die beskrywing van die goddelose sien. Maar uit die geheel van hierdie psalm blyk dit dat hy ook spesifieke goddelose mense op die oog het. Mense wat die lewe vir hom moeilik maak, mense wat hom bedreig. Hy word onregverdig beskuldig van iets, of hy word deur vyande aangeval, of hy word verraai. Hoe dit ook al sy, vir een of ander rede word hy gedryf om tot God te roep om hulp. En dan vlug hy ook tot God, hy gaan skuil onder God se vleuels. God se verkiesende liefde, God se goedertierenheid gee aan Dawid die vrymoedigheid om daar te gaan skuil, dit gee hom ‘n vaste vertroue, dit gee hom geloof.

Terloops, dit is ook waarom die Dordtse Leerreëls die uitverkiesing ook die fontein van alle saligheid kan noem, waaruit geloof, heiligheid en al die ander saligmakende gawes spruit. Ons word nie verkies omdat ons in God glo en op Hom vertrou nie; nee, ons word verkies sodat ons kan glo en vertrou. Geloof en vertroue en alle ander gawes is nie die fontein waaruit die uitverkiesing spuit nie. Nee, dit is andersom! Uitverkiesing is die fontein, en daaruit spuit alle gawes van geloof, vertroue en heiligheid. Of soos Paulus in Efesiërs 1:4 sê: “soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees…”; daar staan nie: omdat ons heilig en sonder gebrek was nie. Baie belangrik, gemeente: uitverkiesing is die fontein! En vanuit daardie verkiesende liefde van God kan Dawid met alle vrymoedigheid en vertroue tot sy God vlug!

 

En dít wys vir ons die krag van die leer van die uitverkiesing in die daaglikse lewe. Dit gee vir ons die troos van Sondag 1 van die Kategismus – “dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort… Hy bewaar my op so ‘n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien.” My saligheid – dít is wat God op die oog het, wat ook al in my lewe gebeur. Hy het my gekies (voor die grondlegging van die wêreld), gevolglik sál Hy my salig maak (by die wederkoms van Jesus Christus), en in die middel van dié twee punte mag ek gaan lewe. As dit met my moeilik gaan, as ek swaarkry, deur ‘n rowwe tyd in my lewe gaan, dan mag ek met vrymoedigheid gaan skuil onder die vlerke van my God. Wanneer daar goddelose mense is, mense wat jou van God af wil wegtrek, dan mag jy bid: “Laat die voet van die trotsaard nie oor my kom nie, en laat die hand van die goddelose mense my nie verdryf nie” (vers 12). Wanneer jy twyfel oor jou verhouding met God, dan mag jy pleit: “Laat u goedertierenheid voortduur vir die wat U ken, en u geregtigheid vir die opregtes van hart” (vers 11).

Ja, gemeente, die uitverkiesing gee vaste grond onder die voete vir elke dag. My lewe is nie gebou op sandgrond nie, my lewe is gebou op die stewige fondament van God se verkiesende liefde in Jesus Christus. En daar is niks wat my van daardie liefde kan skei nie. Gaan lewe in die komende week met hierdie sekerheid. Doen jou daaglikse werk as uitverkorene, ook al is jy nie gekies vir daardie bevordering nie. Gaan skool toe as God se gunsgenoot, ook al is jy nie die gunsteling onder jou mede-leerlinge nie. Drink uit die fontein van die lewe, ook al is daar niks anders om te drink nie. Die leer van die uitverkiesing is geen bron van onsekerheid en vrees nie, maar dit is die fontein van lewe, sekerheid en geloof. En dit alles in Jesus Christus, ons Here!

Amen

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Skr. 24:1-3

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. / Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 30:3 en 7

Lees eerste deel van die nagmaalsformulier

Wetslesing

Sing Ps. 141:4, 7 en 8

Gebed

Lees: Psalm 36

Teks: NGB, artikel 16

Preek

Amenlied Ps. 36

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 65:2 en 3

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)