Die Heilige Gees – misterie van God se asem…

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-05-29
Teks: 
NGB 11
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – NGB artikel 11; lees Johannes 14:15-18, 15:26-16:15

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Om te verstaan Wie en wat met die Vader bedoel word, is vir ons mense redelik verstaanbaar. Ons het almal pa’s, jy is dalk self ‘n pa, en ons almal weet wat ‘n pa doen of veronderstel is om te doen. Dit is nie vreemd vir ons nie. Dieselfde geld vir die Seun – ons verstaan dat die Seun in ‘n verhouding tot die Vader staan. En onmiddellik het ons iets waarmee ons kan assosieer, want almal van staan in ‘n verhouding tot ‘n pa. Ons kan onsself waarskynlik ook iets indink van die lyding van die Seun in sy mensheid. Dus, ook die Persoon van die Seun is vir ons op ‘n manier begryplik.

Maar vervolgens kom ons by die Heilige Gees. En dan word dit skielik vaag. Hoe moet ons die Gees verstaan? Is Hy ‘n ‘Hy’, of is Hy ‘n ‘dit’? Jesus vergelyk die Gees in Johannes 3 met die wind – waar kom die wind vandaan en waarheen gaan dit? Waar vind ons dit? Hoe sien ons dit? Ja, ons kan dit voel, en tog is dit nie iets wat ons kan sien nie. Ons weet dat dit daar is, en tog kan ons dit nie vasgryp nie, ons kan nie daaraan vashou nie. En so is die Gees ook – ons kan Hom nie vashou of vasgryp nie, ons weet nie waarvandaan Hy kom of waarheen Hy gaan nie. Hy is ‘n misterie. En daarom is dit so ‘n voorreg, broers en susters, dat ons vanaand iets van die Persoon van die Gees mag bestudeer.

Tema: die Heilige Gees – misterie van God se asem…

  1. Hy is die derde Persoon van die Godheid
  2. Hy gaan van die Vader en Seun uit
  3. Hy het lewegewende krag

 

1. Die Heilige Gees is self God! Hy is nie maar net ‘n gees wat deur God geskape is, soos ‘n magtige engel nie; Hy is nie maar net die onpersoonlike krag van God nie; Hy is nie maar net ‘n geskape gees wat vol is van God nie. Nee, Hy is God. Só leer die Skrif ons. En ons kan veral vier soorte Skrifbewyse aanvoer.  

 

In die eerste plek gee die Skrif aan die Heilige Gees Goddelike name – blaai saam met my na Handelinge 5. In hierdie gedeelte vind ons die verhaal van Ananias en Saffira. U onthou hoe hierdie twee persone ‘n leuen vertel het oor die geld wat hulle ontvang het uit die verkoop van hulle stuk grond. En dan lees ons Petrus se woorde in vers 3: “Ananias, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg…” En kyk nou na die einde van vers 4: “Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.” Toe Ananias vir die Gees gelieg het (vers 3), het hy vir God gelieg (vers 4). Hieruit blyk dus duidelik: die Heilige Gees is God! Petrus is nie bekommerd oor die feit dat Ananias vir hóm gelieg het nie; nee, vir Petrus lê die gewig van hierdie sonde in die feit dat Ananias vir die Heilige Gees gelieg het; Ananias se hart, waarin die Gees eintlik moes gewoon het, is deur die Satan vervul.  

Trek dit nou vir ‘n oomblik deur na jou eie lewe… As jy ‘n christen is, dan woon die Heilige Gees in jou, dan woon God self in jou. En as jy dit op jouself laat inwerk, dan besef jy waarskynlik ook hoekom jou en my sonde so boos is. Want wanneer jy en ek sondig, dan sondig ons in die direkte teenwoordigheid van God. Dit is asof jy reg voor sy troon in die hemel sondig. Alles wat jy as gelowige doen – dit is asof jy dit reg voor die troon van God doen, want sy troon is in jou. Luister maar na 1 Korinthiërs 3:16: “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie.” En weer in hoofstuk 6:19: “weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is nie?” Die Heilige Gees woon in jou; jou liggaam is die woonplek van God self. In daardie sin is jou sonde amper nog boser as dié van ‘n ongelowige. Die ongelowiges sondig teen God in die hemel, jy sondig teen God wat in jou is. En daarom het jy en ek die bloed van Christus so nodig – prys die Here dat Christus se bloed vir ons beskikbaar is, soos wat ons vandag weer aan die nagmaal kon sien. Só word ons elke keer weer gereinig om heilige tempels vir God die Heilige Gees te kan wees.

 

In die tweede plek ken die Skrif aan die Gees Goddelike eienskappe toe. Dit gaan hier dus oor dinge wat eie is aan God, dinge wat Hom as God kenmerk, en wat Hy nie met enige geskape wese deel nie. So byvoorbeeld sê die Skrif dat die Gees alomteenwoordig is. Psalm 139:7-8: “waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar.” Die Heilige Gees is oral teenwoordig; geen ander gees het hierdie eienskap nie. Jy kan net op een plek op ‘n slag wees; engele kan net op een plek op ‘n slag wees; selfs Satan kan slegs op een plek op ‘n slag wees. Maar die Heilige Gees is altyd en oral, want Hy is God!

‘n Ander Goddelike eienskap wat die Gees het, is dat Hy ewig is – Hebreërs 9:14 praat van die ‘ewige Gees van God’. Die Gees het dus nie ‘n begin of ‘n einde nie. En so sou ons nog talle ander Goddelike eienskappe kon opnoem. Al hierdie eienskappe is waar van die Heilige Gees, omdat Hy saam met die Vader en die Seun ware en ewige God is.

 

In die derde plek beskryf die Skrif ook die Goddelike werke van die Heilige Gees. Om maar net een voorbeeld hiervan te noem: die Gees was betrokke by die skepping en is steeds betrokke by die onderhouding van die wêreld. Dink aan Psalm 33:6: “Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër.” En wat van Psalm 104:30: “U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut.” Geen skepsel was betrokke toe God die skepsele gemaak het nie. Geen skepsel kan skep nie. Daar is ook geen skepsel wat die onpeilbare dieptes van die heelal kan onderhou nie. Net God kan dit doen, en dit is presies wat die Gees doen… want Hy is God.

En in die vierde plek gee die Skrif aan die Gees ook Goddelike eer. Dink maar net aan die bekende doopformule in Mattheus 28:19: “… en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.” In die doop word die Gees op dieselfde vlak geplaas as die Vader en die Seun, en ontvang Hy dieselfde eer as hulle.

 

Dus, gemeente, uit die Goddelike name, die Goddelike eienskappe, die Goddelike werke en die Goddelike eer blyk baie duidelik dat die Gees self God is. Maar ons moet nog meer sê… Want iets wat deur die geskiedenis moeite by gelowiges veroorsaak het, is of hierdie Goddelike Gees nou ook ‘n Persóón is. Vir baie mense deur die eeue was die Gees ‘n soort mag of krag; iets soos die woorde uit die film ‘Starwars’: “May the force be with you”; iets soos adrenalien vir die siel of spirituele hormone, een of ander naamlose, onpersoonlike invloed – soos wat ons sal praat van die gees van Kersfees, of die gees van versoening, wat hierdie vae aanduidings ook al mag beteken.

Maar, gemeente, ons moet vashou dat die Heilige Gees ‘n Persoon is.  Hy is ‘n ‘Hy’ en nie ‘n ‘dit’ nie. Hy is nie ‘n iets nie, maar ‘n Persoon. ‘n Persoon met intelligensie, liefde, begeertes; die Gees is net so veel ‘n Persoon soos die Vader en die Seun, en soos jy en ek. Hoe weet ons dit? Wel, dit is hoe die Bybel Hom beskryf. Die Bybel praat byvoorbeeld van die Gees as ‘n Wese met intelligensie en kennis. Lees maar 1 Korinthiërs 2:10: “die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God… Niemand weet wat in God is nie, behalwe die Gees van God.” Die Gees doen dus navorsing oor die dieptes van God. ‘n Ander voorbeeld – Efesiërs 4:30 sê: “… bedroef nie die Heilige Gees van God nie.” Die Gees kan dus bedroef word, Hy kan kwaad word met ‘n heilige toorn, Hy kan hartseer wees. Romeine 8:26 sê dat die Gees vir ons intree met onuitspreeklike sugtinge – die Gees bid dus saam met ons en namens ons. En as die Gees ‘n Persoon is, moet Hy ook kan praat – luister maar net na Handelinge 13:2: “En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Barnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het.” Al hierdie dinge kan slegs gesê word van iemand wat ‘n Persoon is, wat ‘n Persoonlikheid het.

 

Gemeente, die Heilige Gees is dus God, maar Hy is ook ‘n Persoon. Hy is die derde Persoon in die Drie-eenheid. En dit is ‘n wonderlike troos vir gelowiges. God woon nie net in jou as ‘n krag of ‘n mag nie; daar is nie net iets in jou nie, maar Iemand! God woon in jou as ‘n Persoon. Dit beteken Hy het ‘n persoonlike verhouding met jou. Hy woon in jou as ‘n God wat jou liefhet, wat begeer dat jy heilig moet wees, wat jou troos en jou onderhou, wat jou vermaan wanneer jy verkeerd optree. Dit is die Heilige Gees – ware God, maar ook ‘n selfstandige Persoon binne die Godheid! Koester hierdie rykdom.  

In die tweede plek: Hy gaan van die Vader en die Seun uit.

 

2. Artikel 11 sê van die Heilige Gees dat Hy nie gemaak of geskep is nie. Dit hang saam met ons vorige punt, naamlik dat die Gees God is; Hy is nie ‘n skepsel nie. Maar ons belydenis sê nog meer: dit sê ook dat die Gees nie gebore is nie. Nou, as jy terugblaai na artikel 10, dan sal jy sien dat dit wel van die Seun gesê word: “Hy is van ewigheid af uit die Vader gebore…” Hierdie ewige geboorte of generasie geld nie van die Gees nie. Oor die Gees word anders gepraat, naamlik dat Hy van ewigheid van die Vader en die Seun uitgaan. Moeilik, nie waar nie? En bietjie tegnies. Ja, maar alhoewel die kerk altyd vasgehou het dat daar ‘n verskil is tussen die ewige geboorte/generasie van die Seun uit die Vader, en die ewige uitgang van die Gees uit die Vader en die Seun, het die kerk nooit hierdie onderskeid probeer beskryf nie. Want die Skrif openbaar ons daaroor niks nie.

Maar nogtans, ook al kan ons dit nie beskryf nie, het ons steeds goeie gronde om saam met ons belydenis te sê dat die Gees van die Vader en die Seun uitgaan. Luister maar na Johannes 15:26: “Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig.” Sien jy, die Gees word deur die Seun gestuur, maar tegelykertyd gaan Hy ook van die Vader uit. Hierdie ‘uitgaan’ kan ons miskien die beste vergelyk met asemhaal. Die Heilige Gees word ook dikwels die asem van die Here genoem. Die woord vir Gees in sowel Hebreeus as Grieks beteken ook ‘asem’ of ‘wind’. Op die Pinksterdag, byvoorbeeld, was daar die geluid soos van ‘n geweldige rukwind. In sy gesprek met Nikodemus in Johannes 3 vergelyk Jesus die Gees ook met die wind. Job sê in hoofstuk 33:4: “Die Gees van God het my geskape, en die asem van die Almagtige maak my lewend.” En in Johannes 20:22 het Jesus op sy dissipels geblaas en gesê: “Ontvang die Heilige Gees.” Die Gees is dus die asem van die Here. Net soos wat jou asem uit jou liggaam uitgaan, so gaan die Gees van die Vader en die Seun uit.

 

En nou is dit baie belangrik, gemeente, dat ons net soos artikel 11 sal bely dat Hy nie net van die Vader nie, maar van die Vader én die Seun uitgaan. Hoekom? Wel, kom ek gee vir u ‘n kort stukkie kerkgeskiedenis… In die jaar 1054 het daar ‘n skeuring plaasgevind tussen die westerse kerk en die oosterse kerk, juis oor hierdie saak. Die westerse kerk het bely dat die Gees van die Vader én die Seun uitgaan, die oosterse kerk het bely dat die Gees slegs van die Vader uitgaan. En? Is dit nou so belangrik om te weet? Ja, want wat was die gevolg daarvan in die oosterse kerk? Die gevolg was én is vandag steeds dat daar in die oosterse kerk twee weë is waarlangs God na die mens toe kom. Die eerste weg gaan via die Seun, en kom tot uiting in die kerk met haar Woordverkondiging en Sakramentsbediening. Maar dan is daar ook nog ‘n tweede weg: die direkte weg van God deur die Gees, los van Christus, los van Woord en sakramente, direk in ons innerlike. En jy kan jouself waarskynlik voorstel dat dit die deur oopgemaak het vir allerhande vorms van geesdrywery.

Maar, gemeente, nooit was dit die doel van die Gees om los van Christus in ons innerlike te kom werk nie. Nooit was dit God se doel om langs twee weë in ons harte te kom werk nie. Die gedeelte wat ons uit Johannes 15 en 16 gelees het, is daaroor baie duidelik. Weereens Johannes 15:26: “as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur… sal Hy van My getuig.” En hoofstuk 16:14: “Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort en aan julle verkondig.” Die doel van die Gees is daarom om Christus te verheerlik, deur oor Hom te praat, deur jou oë op Christus te rig. Die Gees is soos ‘n skynwerper wat sy volle lig op Christus rig. Ek het nog nooit ‘n skynwerper gesien wat op homself skyn nie; nee, weg van homself, na iemand anders. En dit is wat die Gees doen. Die Gees soek Christus! Hy skyn alle lig op Christus! Só word my geloof op Jesus Christus, my enigste Saligmaker, gerig. Wees dankbaar vir daardie onbaatsugtige, liefdevolle werk van die Gees.

 

Maar aan die ander kant verheerlik die Vader en die Seun ook weer die Gees. Want ons verlossingsweg is so uitgewerk dat dit slegs deur die krag van die Gees in ons lewe kan wortel skiet. As ons slegs die Vader en die Seun gehad het, sou ons nooit gered kon word nie, want die heil sou buite ons gebly het. Maar die Gees wat van beide uitgaan, kom pas dit toe in jou hart. God die Vader beplan jou verlossing, Hy verkies jou van voor die grondlegging van die wêreld; God die Seun verwerf jou verlossing deur vir jou te sterf en op te staan. Maar dit is God die Heilige Gees wat die verlossing in jou lewe kom toepas – Hy skenk aan jou geloof, Hy gee jou ‘n nuwe lewe. Ja, Christus het vir jou gesterf, maar die Gees maak dit ‘n werklikheid in jou hart, die Gees laat jou weergebore word!

Die Gees gaan dus van die Vader en die Seun uit, en dit is sy werk as die derde Persoon van die Godheid om die verlossingswerk op ons harte in te beitel, om die verlossingswerk effektief te maak. En Hy doen dit deur alle aandag te plaas op Jesus Christus. Christus is die weg, die waarheid en die lewe, maar die Gees is die Een wat ons in die volle waarheid lei. Só werk die Drie-enige God saam tot ons verlossing.

Dit bring ons by ons laaste gedagte: die Gees het lewegewende krag.

 

3. Gemeente, hooplik het u alreeds raakgesien dat die Godheid van die Gees nie net ‘n stuk teologie is nie. Maar om seker te maak dat ons almal die waarde van God die Heilige Gees verstaan, kom ons bring dit nog nader aan ons eie lewe. As gelowiges woon die Gees in ons harte; God woon hier binne-in ons. En watter uitwerking het dit, broers en susters? Wel, ek noem vanaand vir u veral twee uitwerkings.

 

In die eerste plek gee die inwoning van die Gees in jou hart aan jou die versekering van jou verlossing. Want wie die Gees in hom het, het God in homself; wie die Gees in hom het, het Christus in hom. “Almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God”, só lees ons in Romeine 8:14. En vers 16 sê dat die Gees saam met ons gees getuig dat ons kinders van God is. Dus, die Gees in jou verseker jou van jou kindskap. En meer nog: Hy verseker jou ook van die opstanding van die liggaam en die ewige lewe. Dit is wat Paulus in Romeine 8:11 sê: “As die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewerk het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterwende liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.”  

Wonderlik, nie waar nie! Maar hoe weet ek dat ek die Gees in my het? Soms twyfel ‘n mens daaraan, soms wonder ‘n mens: het ek regtig die Gees? Maar wanneer jy twyfel, soek dan na die vrugte in jou lewe. As die Gees in jou is, dan behoort ten minste die begin van die vrugte van die Gees in jou lewe sigbaar te word; dan word sigbaar dinge soos liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, sagmoedigheid, selfbeheersing (Gal. 5:22). Jy sien in jouself dan ook dít waarvan die Dordtse Leerreëls praat: die kinderlike vrees van God, die droefheid oor die sonde volgens die wil van God, die honger en dors na die geregtigheid (1:12). Dit is alles bewyse van die teenwoordigheid van die Gees. As jy dit sien, kan jy weet die Gees is in jou. Dit is Hy wat hierdie verlangens en begeertes werk. En as jy dit nie beleef nie, as jy dit nie ken nie, roep dan uit na Jesus Christus vir jou verlossing, vlug na Hom, en vra Hom om aan jou sy Gees te gee. ‘n Lewe sonder die Gees is ‘n woestyn, ‘n lewendige dood. Maar ‘n lewe vervul met die Gees is ware lewe en redding. Wanneer die Gees jou lewe eenmaal vul, gaan Hy nooit meer van jou weg nie; Hy verseker jou van jou verlossing. Ons glo immers in die volharding van die heiliges!

 

Die tweede uitwerking van die inwoning van God die Heilige Gees waarop ek u wil wys, is dat Hy al die krag het om jou heilig te maak. Die Gees help jou om sonde in jou lewe te oorkom en te oorwin. As christen is daar dus altyd hoop; daar is geen sonde wat nie oorwin kan word nie. Ook al het ‘n betrokke sonde jou al ‘n duisend keer in jou lewe oorwin, oor en oor en oor, dan nog is die Gees kragtig genoeg in jou om daardie sonde vir altyd dood te maak en te begrawe. Want die Gees is God, en Hy is in jou! Moet daarom nie sê: “O, daardie persoon sal nooit verander nie.” Of: “Ag, dis nou eenmaal wie ek is, ek het al vrede gemaak daarmee.” Nee, so ‘n houding is disrespekvol teenoor die Heilige Gees. Want as jy glo dat die Heilige Gees God is, dan het Hy die mag om enige iemand te verander – enige iemand! Hy het Paulus verander van ‘n vervolger na ‘n sendeling. Wees bemoedig, gemeente, deur die feit dat die Gees nog steeds dieselfde is. Hy kan enige verslawing in jou lewe oorkom. Bid daarom saam met Paulus dat jy met krag versterk kan word deur die Gees in die innerlike mens (Ef. 3:16). Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die beheerlikheid van die vlees volbring nie (Gal. 5:16).

 

En ja, dit vra gebed, want God belowe dat Hy sy Gees nie sal weerhou van enige iemand wat Hom daarvoor vra nie. Opregte, deurdringende gebed! En dit vra bestudering van die Woord, want die Woord is die swaard van die Gees – daarom is die eredienste, die sakramente en bybelstudie onontbeerlik. Woord en gebed – dit is die middele waardeur God ons geleidelik aan volmaak met sy Gees. Kom ons maak werk daarvan, broers en susters. Nader tot God, en Hy sal tot jou nader – in die wonderlike misterie van sy asem.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Skr. 13:1-4

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 85:3 en 4

Gebed

  • Kort formulier
  • Terwyl tafel in gereedheid sing Geloofsbelydenis (staande)
  • Voltooi formulier + gebed aan tafel
  • Sing Ps. 37:18, 19, 21 en 23

Lees:    Johannes 15:26-16:15

            Romeine 8:8-17

Teks: NGB, art. 11

Preek

Amenlied Skr. 14

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 104:17, 18 en 21

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)