God werk self die getuienis van sy Drie-eenheid in ons harte!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-05-08
Teks: 
NGB 09
Verwysing: 
NGB 09
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – NGB artikel 9; lees 1 Petrus 1:1-21

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Hoekom nóg ‘n artikel oor die Drie-eenheid? Artikel 8 het die Drie-eenheid immers met groot duidelikheid uiteengesit. Dit is waar, broers en susters, maar wat artikel 9 doen, is om nou die bewyse aan te dra vir wat ons in artikel 8 bely. Artikel 9 bied die gronde vir artikel 8. Ja, maar… kan die Drie-eenheid dan bewys word? Nee, nie in die sin dat ons God aan een of ander wetenskaplike proef kan onderwerp, en uiteindelik harde bewyse op die tafel kan plaas nie. Daarvoor is Hy God, ver verhewe bo ons wetenskap. Maar ons mag wel werk met die getuienisse, die bewyse, wat God self op verskillende maniere vir ons gee. En dit is waarop ons vandag wil let…

Tema: God werk self die getuienis van sy Drie-eenheid in ons harte!

  1. Die getuienis van die Skrif
  2. Die getuienis van die geskiedenis
  3. Die getuienis van die daaglikse ervaring

 

1. Gemeente, wat opmerklik is van artikel 9 is dat die heel eerste sinnetjie (“ons weet dit alles sowel uit die getuienisse van die Heilige Skrif as uit hulle werkinge, veral uit werkinge wat ons in onsself voel”), dat daardie sinnetjie nie deur Guido de Bres neergeskryf is nie, maar amper 60 jaar later deur die sinode van Dordt toegevoeg is. By hierdie sinode – in 1618/19 – is die drie formuliere van eenheid (dus, die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls) deur die kerke in Nederland vasgestel en aanvaar as hulle gemeenskaplike belydenis. En by die vasstelling daarvan is daar uiteraard ook gekyk na die teks van elkeen van hierdie belydenisgeskrifte. En toe het die sinode, ter wille van die duidelikheid, besluit om hierdie eerste sinnetjie aan die begin van artikel 9 toe te voeg: “ons weet dit alles – dus, alles wat artikel 8 net hiervoor vir ons oor die Drie-eenheid geleer het – uit die getuienisse van die Heilige Skrif…” Dit is die eerste, en mees belangrike, getuienis wat God vir ons bied oor sy Drie-enigheid, naamlik sy selfopenbaring in die Skrif. Dit is daarom ook die belangrikste bron waarop ons sal moet let vir hierdie sentrale leerstuk van ons geloof. Die ander twee punte van die preek – naamlik, die getuienis van die geskiedenis en die daaglikse ervaring – is eintlik maar net uitvloeisels van die getuienis wat in die Skrif vir ons aangereik word.

 

Nou, as ons al die Skrifplekke moes opnoem wat vir ons die leer van die Drie-eenheid bevestig, dan sou ons baie lank besig gebly het, en daarom kyk ons vandag net na die belangrikstes. Ons begin, net soos artikel 9, in die Ou Testament. Kom ons blaai saam na die heel eerste bladsy van die bybel – Genesis 1:1. Daar lees ons: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape” [hier het ons God die Vader, die Skepper]. Ons lees verder: “En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters” [hier het ons God die Heilige Gees]. Vers 3: “En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig” [hier het ons God die Seun, want Hy is die Woord van God, waarvan Johannes 1:3 sê, dat alle dinge deur Hom ontstaan het]. Dus, gemeente, God die Vader het die wêreld geskape deur die Woord en in die krag van die Heilige Gees. Die drie Persone van die Drie-eenheid is reeds aanwesig in die eerste drie verse van die Bybel.

Ons sien iets van die Drie-eenheid ook in Genesis 1:26: “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis…” Let daarop dat daar één God is, maar nogtans sê Hy: “Laat Ons mense maak na ons beeld” – meervoud! Dit is as’t ware asof die een God, in die drie Persone, in konsultasie gaan met Homself en saam tot die besluit kom om mense te maak. Vervolgens lees ons dan in vers 27: “En God het die mens geskape na sy beeld” – enkelvoud. Vers 26 fokus dus op die verskillende Persone, terwyl vers 27 die klem lê op die een Wese.

 

Nog ‘n bewys van die Drie-eenheid is die merkwaardige verskynsel van ‘die Engel van die HERE’ op verskeie plekke in die Ou Testament. Hierdie Engel – hierdie Boodskapper van Jahwe – praat byvoorbeeld met Hagar in Genesis 16, Hy verskyn aan Abraham in Genesis 22, Hy veg met Jakob in Genesis 32, Hy verskyn aan Moses, Bileam, Josua, Gideon, Simson se ouers, die profeet Sagaria. En in elkeen van hierdie verskynings is twee dinge duidelik: 1) die Engel van die HERE is ‘n onderskeie persoon; Hy praat oor die HERE asof die HERE ‘n ander Persoon is as Hyself, en tog, 2) is Hy ook sélf die HERE. Immers, in die Bybel word ‘HERE’ en ‘die Engel van die HERE’ as uitruilbare Name gebruik. Blaai saam met my na Exodus 3:2 (by die huis kan u gerus al die ander verse naslaan waar daar van die Engel van die HERE gepraat word). In Exodus 3:2 lees ons: “Daarop verskyn die Engel van die HERE aan hom in ‘n vuurvlam uit ‘n doringbos.” En kyk nou vervolgens na vers 4: “Toe die HERE sien dat hy nuuskierig nader kom, roep God na Hom…” En nog duideliker word dit in vers 6: “Verder sê Hy: Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.” In vers 2 word Hy ‘die Engel van die HERE’ genoem, en in verse 4 en 6 net HERE of God. Dit is dus duidelik dat die Engel van die HERE self die HERE is, en nogtans word Hy die Engel van die HERE genoem. Hoe is dit moontlik? Dit is slegs moontlik as daar één God is, in drie Persone. Dit is slegs moontlik as die Engel van die HERE die Seun van God is – self God, maar nogtans onderskei van die Vader. Die enigste manier waarop jy die Engel van die HERE in die Ou Testament reg kan verstaan, is as jy die Drie-eenheid ken.

 

Gemeente, daar is nog talle ander Ou Testamentiese verwysings, en artikel 9 noem byvoorbeeld nog Genesis 3:22. Ek kan ook nog verwys na onder andere Psalm 33:6 en Jesaja 63:9 en 10. Maar ten spyte van al hierdie verwysings, moet ons belydenis in artikel 9 nogtans erken dat die Ou Testament in terme van die Drie-eenheid enigsins duister is. Gelukkig is die Nuwe Testament baie duidelik! Ja, gelukkig, maar… wat is die rede hoekom die Ou Testament enigsins duister is? Wel, gemeente, dit het te make met die feit dat God in sy wysheid daarvoor gekies het om sy selfopenbaring al hoe duideliker te ontvou soos wat die tyd gevorder het. Soos wat die heilsgeskiedenis vorder, so maak die Drie-enige God Homself meer en meer bekend. Dit is soos ‘n kamer vol met meubels wat slegs vaagweg verlig is. Al die meubels is daar, en niks wesenliks verander wanneer ons die lig aanskakel nie, behalwe dat ons nou duidelik kan sien wat nog die hele tyd daar was.

Op God se vasgestelde tyd in die heilsgeskiedenis skakel Hy die ligte aan in die Persoon van sy Seun, Jesus Christus, wat mens geword het om ons te red. Wanneer Jesus uit die skaduwees van die Ou Testament tree, dan word die lig van groter openbaring aangeskakel, en kan ons die bewyse van die Drie-eenheid met nog groter helderheid in die Nuwe Testament sien. Dit is presies Paulus se punt in Galasiërs 4:4-6: “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang. En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!” Hier word nie slegs na die koms van die Seun verwys nie, maar al drie Persone in die Drie-eenheid word genoem. Dus, deur die koms van Jesus Christus, word dít wat in die Ou Testament enigsins duister is, verlig en opgehelder. En in daardie helder lig kan ons nou ook terugkyk, en die ietwat duistere verwysings in die Ou Testament verstaan.

 

Nou goed, kom ons kyk saam na enkele Nuwe Testamentiese verwysings. Blaai saam met my na Mattheus 28:19: “Gaan dan heen, maak dissipels van alle nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.” Let daarop dat die woord ‘Naam’ in die enkelvoud staan. Daar staan nie ‘Name’ nie, maar slegs een ‘Naam’. En nogtans is daar drie name: Vader, Seun en Heilige Gees. Hierdie drie name is een Naam! Drie Persone, maar tog net een God. Kyk ook na Lukas 1:35, waar die engel Gabriël sê: “Die Heilige Gees sal oor jou kom [God die Heilige Gees] en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu [God die Vader]. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word [God die Seun].” En as ons ‘n paar bladsye verder blaai na Lukas 3:22, dan lees ons: “En die Heilige Gees het in liggaamlike gedaante soos ‘n duif op Hom neergedaal; en ‘n stem het uit die hemel gekom wat sê: U is my geliefde Seun; in U het Ek ‘n welbehae.” Die Vader, die Seun en die Heilige Gees is aldrie hier aan die werk. En kyk ook na Johannes 15:26, waar Jesus sê: “Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig.” Hier word die Vader, die Seun en die Heilige Gees almal twee keer in een vers genoem. Die laaste gedeelte waarna ons kan kyk is Efesiërs 2:18: “want deur Hom [dit is Jesus Christus, God die Seun] het ons albei die toegang deur een Gees (God die Heilige Gees] tot die Vader [God die Vader].”

 

Hooplik is duidelik, broers en susters, dat die leer van die Drie-eenheid oral in die Bybel aanwesig is. Ons sou selfs kon sê dat die aanwesigheid van die Drie-eenheid as vanselfsprekend in die Bybel aanvaar word. Dit is die rots en die fondament onder die hele Bybel. En ware christene bely hierdie God – drie Persone in een Wese. Dit is die enigste manier om eerlik weer te gee wat God van Homself in die Skrif openbaar. En daarom moet u dit glo, broers en susters. Want God leer dit in die Bybel! Moenie in die Drie-enige God glo omdat die kerk dit leer nie – dit sou dom wees, en dit sou daartoe lei dat gelowiges iets glo en bely wat hulle waarskynlik self nie aan ander kan verantwoord en begrond nie. Nee, bestudeer self die Bybel, en sien hoe God Homself daarin openbaar.

Maar, vra jy miskien, hoekom is dit belangrik?! Wel, gemeente, as jy op hierdie punt afwyk, dan sal jy uiteindelik ‘n afgod, ‘n valse god, dien. God het aan jou en my sy Woord gegee, juis sodat ons Hóm kan ken en verstaan! En as jy verwaarloos wat Hy oor Homself sê, dan kan jy nie gered word nie. So duidelik word dit in die Geloofsbelydenis van Athanasius, wat spesifiek oor die Drie-eenheid gaan, gestel: “Dit is die algemene geloof; en as iemand dit nie getrou en vas glo nie, sal hy nie salig kan word nie.”

En dít bring ons by ons volgende gedagte: die getuienis van die geskiedenis.

 

2. Die laaste paragraaf van artikel 9 wys vir ons dat daar regdeur die geskiedenis van die kerk ‘n duidelike skeidslyn loop tussen gelowige aanvaarding van die leer van die Drie-eenheid, en die verwerping daarvan. Tussen regsinnigheid en kettery. Kettery beteken ‘n valse leer wat so ernstig van aard is dat, as jy dít aanhang, dan kan jy nie gered word nie. En dan vra jy miskien: maar is ons nie te dogmaties nie? Is die leer (die dogma) regtig so belangrik? Ja, dit is! Luister wat sê Paulus in 1 Timotheus 4:16 vir Timotheus: “Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.” Paulus sê dus: “Die suiwer leer is ‘n saak van redding, van verlossing!” En wat kan dan belangriker wees as die leer oor Wie God is – dit is ‘n saak van lewe of dood.

Maar helaas, broers en susters, was daar dwarsdeur die geskiedenis en is daar vandag steeds baie ketterye met betrekking tot die leer van die Drie-eenheid. Daar was – en is vandag steeds – baie groepe mense wat daarop aanspraak maak dat hulle God dien, en nogtans dien hulle die valse gode van hulle eie verbeelding. En dit is belangrik vir ons, as mense wat die ware God ken, om bedag te wees op hierdie ketterye en om te soek na die redding van mense wat daarin vasgevang is.

 

Kom ons kyk na enkele van die ketterye rondom die leer van die Drie-eenheid. Artikel 9 noem agt verskillende name: Jode, Mohammedane, Marcion, Mani, Praxeas, Sabellius, Samosatenus en Arius. Nou, al hierdie name kan in hooftrekke in twee verskillende groepe verdeel word. Die eerste groep is diegene wat slegs die Vader as God erken. Die Seun en die Gees val, volgens hulle, streng gesproke buite die goddelike Wese. Daarmee verbreek hulle duidelik die eenheid in God. Hulle maak ‘n kloof tussen die Vader aan die een kant, en die Seun en die Gees aan die ander kant. Hulle handhaaf wel die getal drie, maar ten koste van die eenheid. Groepe en persone wat hierdie kettery aangehang het, of steeds aanhang, is die Jode, die Mohammedane, Arius, Marcion, Mani en vandag ook die Jehova Getuies.

Die tweede groep is diegene wat beweer dat God as’t ware beurtelings die rol speel van die Vader, die Seun of die Heilige Gees. In die Ou Testament sou ons dan te make kry met die Vader, in die Nuwe Testament met die Seun, en ná Pinkster met die Heilige Gees. Maar in geen geval is daar, volgens hierdie mense, drie onderskeie goddelike Persone nie. Hulle handhaaf dus wel die eenheid, maar ten koste van die drieheid. Persone wat hierdie kettery aangehang het, is Sabellius, Praxeas, en Samosatenus.

 

Gemeente, in al hierdie ketterye word God ontken vir Wie Hy werklik is – een God in drie Persone. Dit is Satan se bose pogings om die waarheid te verdraai, en hy gee nie om of die eenheid ten koste van die drieheid, of die drieheid ten koste van die eenheid benadruk word nie. Dit kan hom nie ‘n duit skeel nie, solank as wat die Drie-enige God – drie Persone in een Wese – maar net nie die erkenning kry wat Hom toekom nie. Maar daarteenoor staan die kerk van alle eeue. Die ware kerk wat, soos artikel 9 sê, die leer van die Drie-eenheid onderhou en handhaaf vanaf die tyd van die apostels tot nou toe. Die ware kerk wat die drie ekumeniese belydenisgeskrifte – dié van die Apostels, Nicea en Athanasius – aanvaar, asook wat die ou vaders in ooreenstemming hiermee besluit het. Die ware kerk waarvan jy en ek lewende lede mag wees! As ons sê dat ons deel is van die kerk van Christus, dan behoort ons met die leer van die Drie-eenheid die grootste erns te maak.

En hoe moet ons op die valse leer reageer? Hoe moet jy reageer wanneer Jehova Getuies by jou deur kom aanklop? Jy behoort hierdie valse leer te haat. Dawid sê in Psalm 119:128: “elke leuenpad haat ek.” Net so moet ons hierdie ketterye ook haat, omdat dit mense weglei van God af, en omdat dit God van sy eer beroof. En nie net moet ons hierdie valse leer haat nie, maar ons moet die mense wat daarin vasgevang is, van harte liefhê. Wees bewoë oor hierdie mense en wys vir hulle die weg. En as hulle bereid is om te luister, gaan sit dan langs hulle en wys vir hulle Wie God werklik is. En bid dat God hulle oë sal oopmaak. Dit is ‘n saak van lewe en dood. Daarom moet ons hulle liefhê en vir hulle die goeie nuus bring, sodat hulle tot bekering mag kom, en kan begin glo… nee, nie in ‘n dooie leerstuk (‘n dogma) nie, maar in die enigste ware God.

In die laaste plek let ons op die daaglikse ervaring.

 

3. Jy mag miskien dink: maar hoekom praat ons eintlik oor hierdie goed? Dit klink soos droë, stowwerige, vervelige dogma. Maar, gemeente, dogma is maar net so droog, stowwerig en vervelig soos die persoon wat dit bestudeer. Dogma is droog, stowwerig en vervelig as dit nie in jou hart leef nie. Maar as dit in jou hart leef, dan is dit allesbehalwe droog en vervelig. Vir die gelowige is die leer van die Drie-eenheid kosbaar, want dit is jou God. Dit is die God wat jy liefhet, met wie jy gemeenskap het, wat jy ervaar met groter vreugde as enige maaltyd of film of sportgebeurtenis. Daardie eerste sinnetjie van artikel 9, wat deur die sinode van Dordt toegevoeg is, beskryf dit op ‘n besondere wyse: “Ons weet dit alles sowel uit die getuienisse van die Heilige Skrif as uit hulle werkinge, veral uit werkinge wat ons in onsself voel.” Ons ken dus die Drie-eenheid vanuit die Skrif, maar ons ken Hom ook omdat Hy in ons is! Ons voel Hom, ons ervaar Hom! Dit beteken dat jy ‘n lewende verhouding het met die een God in die drie Persone, Vader, Seun en Heilige Gees.

Artikel 9 kom in die voorlaaste paragraaf terug op hierdie werkinge wat ons in onsself voel; daar lees ons: “Verder moet ons ook let op die besondere ampte en op die werkinge van die drie Persone met betrekking tot ons: die Vader word ons Skepper deur sy krag genoem; die Seun is ons Saligmaker en Verlosser deur sy bloed; die Heilige Gees is ons Heiligmaker deur sy inwoning in ons hart.” Dit is hoe jy die Drie-eenheid beleef. Jy beleef God die Vader as die Een wat jou en alles om jou heen gemaak en dit nog steeds onderhou. Jy beleef God die Seun as die Een wat jou verlos en bevry deur sy bloed. Jy beleef God die Heilige Gees as die Een wat in jou hart woon, en jou deur sy krag heilig maak.

 

Petrus praat ook hieroor in 1 Petrus 1:2; hier beskryf Petrus die gelowiges in terme van hulle verhouding tot die Drie-enige God. Dit is wie jy is! Luister wat sê hy: “[julle is] uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus.” God die Vader is die Een wat jou van ewigheid af liefhet en uitverkies het, God die Seun het vir jou gesterf en jou met sy bloed besprinkel, God die Heilige Gees maak jou heilig. Dit is hoe jy die Drie-enige God ervaar, elke dag.

Petrus maak die Drie-eenheid selfs nog meer konkreet vir ons lewe wanneer hy praat oor ‘n heilige lewenswandel. Kyk maar na 1 Petrus 1:15 en 16: “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” Weet jy hoe God heilig is? Die Bybel sê: heilig, heilig, heilig! Drie heiligs vir ‘n Drie-enige God! En nou gebruik Petrus elkeen van die drie Persone van die Drie-eenheid om hierdie heiligheid konkreet vir jou en my lewe uit te werk. Eerstens die Vader in vers 17: “En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap…” Met ander woorde: as jy God as jou Vader ken, vrees Hom dan met eerbied! En leef ‘n lewe wat daarby pas, ‘n heilige lewe. Vervolgens gaan Petrus oor na God die Seun, verse 18 en 19: “… omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus”. Dus, as jy weet dat jy deur die bloed van Christus verlos is, maak dan seker dat jy heilig is, uit dankbaarheid vir wat Christus vir jou gedoen het. En dan gaan Petrus ook nog oor na God die Heilige Gees, vers 22: “As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart…” As jy die Heilige Gees in jou is, maar seker dat julle mekaar liefhet. Wees heilig!

Sien jy wat Petrus doen? Petrus wys na elkeen van die drie Persone in die Drie-eenheid, en hy roep jou om heilig te wees, gebaseer op jou unieke verhouding met daardie Persoon – die Vader as jou Vader, die Seun as jou Verlosser, en die Heilige Gees as die krag van heiligheid in jou hart.

 

In elke aspek van jou lewe ervaar jy die Drie-eenheid. In elke aspek van jou lewe het jy gemeenskap met die Drie-eenheid. Dit is nie net ‘n leerstuk nie, dit is jou lewe! Sien jy die rykdom hiervan? Ervaar jy die troos om met hierdie God in ‘n verhouding te kan staan? Geen ander godsdiens kom naby aan die rykdom om in ‘n verhouding te kan staan met ‘n persoonlike God, wat die Drie-enige God is nie. Ons dien die enigste, ware God! Staan daarom stewig op die leer van die Drie-eenheid. Dit is belangriker as die lewe self. Dit word geleer in die Skrif, dit word bevestig in die geskiedenis, en dit word ervaar in die daaglikse lewe. Eer en aanbid hierdie God vir Wie Hy is – een God in drie Persone.

Amen

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 147:1, 5, 6 en 7

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 145:6, 7 en 9 (kom ons sing die lof van die Here, ‘n lof wat selfs sterker klink as die lied

van die skepping)

Lees:    Galasiërs 4:4-6

            1 Petrus 1:1-2, 13-25  

Teks: NGB, art. 9

Kollekte (lees 2 Kor. 9:7-9 – nie op die bord)

Sing Ps. 50:5, 6 en 11

Gebed

Preek

Amenlied Skr. 25

Gebed

Belydenis van geloof (ek sal opsê)

Slotsang Skr. 24:1 en 7

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)