Die Here maak reg(verdig)!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-09-25
Teks: 
NGB 23
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – NGB Artikel 23 ; lees Sagaria 3

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

My vraag, so ‘n rukkie gelede, aan iemand wat op die punt gestaan het om ‘n operasie te ondergaan wat hom sy lewe kon kos, was: “Is jou saak met die Here reg?” Dit is seker ‘n logiese vraag van ‘n predikant aan ‘n persoon wat die dood in die gesig staar, of aan ‘n bejaarde vir wie die einde nader kom. Met hierdie vraag wil ‘n mens eintlik uitvind: is daar vrede tussen God en jou? Is julle verhouding reg?

Maar wat sou jou reaksie wees wanneer jou ouderling op huisbesoek kom, en hierdie selfde vraag vir jóú stel? Is dit ook ‘n logiese vraag om te stel aan iemand wat in die volle bloei van die lewe staan? Ja, gemeente, dit is net so logies en net so nodig. Want die verhouding met die Here is nie iets wat ons regmaak net voordat ons doodgaan nie. Die Here is nie soos SARS – die belastingdiens – wat ‘n afsnydatum vir jou belastingopgawe stel, maar wat verder nie eintlik omgee of jy dit nou ses maande of ses minute voor die afsnydatum ingee nie, solank dit maar net voor daardie tyd gedoen is. Nee, so werk dit nie by die Here nie. Van nature is ons almal se verhouding met die Here ‘n gebroke verhouding, ‘n verskeurde verhouding. En niemand kan die herstel van daardie verhouding maar net uitstel tot die laaste oomblik nie. Nee, “vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie…” (Hebr. 3:7, 15, 4:7)

 

Nou, gemeente, dit is waaroor artikel 23 gaan; dit gaan in hierdie artikel oor hoe die verhouding tussen die Here en myself reggemaak word.

Die kerk van Rome het gesê daar is drie dinge hiervoor nodig: ek moet ‘n gebroke hart hê vanweë die sondes, ek moet my sondes met die mond bely, en ek moet vir die sondes genoegdoening doen deur goeie werke. Natuurlik, sê Rome, is jy nie in staat om dit self te doen nie, maar die genade wat deur die sakramente in jou uitgestort word, maak jou hiertoe bekwaam. Ag, Rome, so naby, maar tog so ver! Want wanneer is die gebrokenheid van my hart ooit genoeg? Wanneer het ek ooit álle sondes bely? Wanneer het ek ooit vólle genoegdoening gebring? Geen wonder dat Maarten Luther as jong priester so ‘n wrak was nie, sodanig dat hy in angs uitgeroep het: “My sonde, my sonde!” Want die heilsweg wat Rome aanwys, is ‘n baie, baie lang weg; ‘n weg waarmee ons nooit klaarkom nie. Niemand kom ooit tot rus op hierdie weg nie.

Daarteenoor staan die kort heilsweg, waarvan die kerk van die Reformasie in ons artikel belydenis doen. Die kort heilsweg wat sê dat my geregtigheid voor God bestaan in die vergewing van my sondes om Jesus Christus ontwil. Dit is al! So eenvoudig is dit…

Tema: die Here maak reg(verdig)!

  1. Die toerekening van die regverdigheid
  2. Die uitwerking daarvan
    1. Die vrymoedigheid
    2. Die lof

 

1. In Sagaria se derde naggesig, hoofstuk 2, belowe die Here dat Hy Jerusalem gaan uitbrei so ver as wat die wêreld wyd is. Hy self sal ‘n vurige muur rondom Jerusalem wees, en Hy sal met sy heerlikheid in haar kom woon. Is dit nie ‘n ongelooflike vooruitsig vir die volk wat sopas uit ballingskap teruggekeer het nie? Daar is werklik rede vir groot blydskap: immers, volgens hierdie naggesig sal die kerk op ‘n ongekende wyse uitgebrei word. Maar wag eers … daar is ‘n probleem: want kan dit sommer so gebeur? Kan dit sommer so gebeur dat daar ‘n toekoms is vir ‘n kerk met wie dit, deur eie toedoen, glad nie so goed gaan nie, met ‘n volk wat dit glad nie verdien nie? As die Here werklik hierdie belofte gaan vervul, moet Hy dan nie baie sondes en gebreke onder die mat invee nie?

Wel, broers en susters, dit is hierdie soort vrae wat ons in die middel van Sagaria se vierde naggesig plaas – hoofstuk 3 wat ons saam gelees het. Ons word saamgeneem na die hemel, waar daar ‘n soort hofgeding aan die gang is. Josua, die hoëpriester, staan voor die Engel van die HERE (die Engel van die HERE is die Seun van God, soos Hy Homself in die Ou Testament geopenbaar het). En Josua, die beskuldigde, is bekleed met vuil klere. Hy pas nie in by die res van die geselskap daar in die hemel nie. Sy besoedelde klere staan in skreiende kontras met die reinheid van die hemelse sfeer. Teenoor die reinheid van die hemel is Josua vuil van die sonde – vuil van sy eie sonde, en vuil van die sonde van die volk wat hy as hoëpriester verteenwoordig het.

 

En wanneer ons vervolgens hoor hoe die satan vir Josua aankla, dan moet ons nie dink dat die satan jok of oordryf nie. Nee, hy is heeltemal reg. Só het die volk inderdaad voor God gestaan, ook al het sy sopas nog uit ballingskap teruggekeer. Skaars was sy terug uit Babel of daar was al weer baie te sê oor die kerk – dink maar net aan die huwelike met die heidense vroue, dink aan die laksheid om die tempel te bou, dink aan die gerigtheid op eie rykdom en versorging. Ja, broers en susters, Josua se klere was so geweldig vuil met die sondes van die volk – en die satan sien dit raak en hy lag in sy mou. Maar dit is nie al nie: die Engel van HERE het dit natuurlik ook gesien, want met sy vuil klere het Josua reg voor hierdie Engel gestaan. Met die sondes van die volk het Josua in die volle lig van die Seun van God gestaan; daar was geen wegkruipplek nie, daar was nêrens waarheen hy kon vlug nie.

 

Gemeente, só staan die kerk voor God, só staan óns voor God – met vuil klere, met al ons baie sondes, met al ons onheiligheid en al ons liefdeloosheid, al daardie sondes waarvan net jy weet. Nee, daar is vandag nie meer ‘n satan wat ons in die hemel kan aankla nie; sedert Christus se sterwe en hemelvaart is die satan uit die hemel uitgewerp, geen plek meer vir hom nie. Maar die aanklag bly, die aanklag van my eie gewete dat ek, dat ons, teen al die gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie, en dat ons nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is – dit bely ons in antwoord 60 van die Kategismus. So staan ons met die vuilheid van ons sondes oop en bloot voor God. En wanneer ons hierdie werklikheid behoorlik tot ons laat deurdring, goed daaroor nadink, ja, dan kan dit ons benoud maak: watter toekoms het die kerk werklik? Watter toekoms het ék? Sal die Here ooit saam met ons gaan? Hierdie vrae moes sekerlik ook in Josua se hart geleef het: sal die teruggekeerde deel van die volk bly bestaan? Is daar vir hierdie oorblyfsel werklik ‘n toekoms?

 

En dan gee die Here die antwoord, ‘n onverwagse antwoord. Hy rig Hom, opmerklik genoeg, nie tot Josua nie, maar tot die satan: “Mag die HERE jou bestraf, o Satan! Ja, mag die HERE, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf! Is hierdie een nie ‘n brandhout wat uit die vuur geruk is nie?” Dus, ook al is die satan se beskuldiging nie sonder grond nie, laat die Here Homself nogtans nie daardeur ophits nie. Laat die satan maar beskuldig soos wat hy wil, uiteindelik is dit nie waar nie! Dit is nie waar dat die toekoms van die volk aan ‘n draadjie hang nie, dit is nie waar dat die toekoms van die kerk onseker is nie. Hoekom nie? Want die Hére het Jerusalem verkies – ‘n Jerusalem oor wie se sondes daar baie te sê is, ‘n Jerusalem wat deur eie toedoen soos ‘n brandhout in die Babiloniese vuur gelê het en besig was om daar tot as te verbrand. Maar die Here gryp in, Hy ruk Jerusalem uit die vuur, Hy verkies Jerusalem – nie vanweë Jerusalem nie, maar vanweë sy genade! Wanneer almal dink dat dit met die volk gedaan is, wanneer almal dink dat daar vir die kerk geen toekoms meer is nie, dan gee die Here self ‘n nuwe toekoms aan die kerk.

 

Maar dan stel ek weer die vraag wat ek vroeër gestel het: kan die Here dit sommer so doen? Kan daar sommer so ‘n toekoms wees vir ‘n volk wat dit nie verdien nie? Nee, die Here doen dit nie sommer so nie. Hierdie wonder gebeur slegs omdat die Engel van die Here die reg het om in vers 4 vir Josua te sê: “Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere.” Agter die hoëpriester Josua staan daardie ander Hoëpriester, die een met dieselfde Naam – Jesus! Hy het op Golgota alle aanklagte teen ons stil gemaak; Hy, wat enkel en alleen rein en heilig en skitterend wit is, Hy het die vuil klere van ons sondes aangetrek. God het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat óns kan word geregtigheid van God in Hom – soos wat ons lees in 2 Korinthiërs 5:21.

Ja, gemeente, geregtigheid, regverdiging – deur die werk van Jesus Christus word dít my toegereken, verniet! God maak die verhouding tussen my en Hom reg – gratis! Dit is die groot ‘nogtans’ van God se genade, die ‘nogtans’ van antwoord 60 van die Kategismus: “dat God nogtans aan my sonder enige verdienste van my kant uit louter genade die volkome genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus skenk.” Dit skenk Hy aan Josua met sy vuil klere, dit skenk Hy aan jou en my, sy kerk van vandag. Dit skenk Hy aan sondaars, aan die vuiles van hierdie wêreld!

 

Broers en susters, laat ons daarom baie goed besef hoe ons voor God staan. Laat ons nie vergeet nie dat ons van nature vuil is. Waar jy jouself, waar ons as gemeente onsself in die lig van die hemelse heerlikheid plaas, word elke hoekie en gaatjie van ons donker harte na vore gebring. Oop en bloot staan ons voor God. Soos wat ons sing uit Psalm 139: Waar sou ek heengaan van u Gees, of vlug om van u weg te wees? Geen uitkomkans nie!

Maar, gemeente, dit is ook hoe dit moet wees, dit is die opstelling wat God by ons wil sien. Want God maak sóndaars regverdig; Christus, ons Geneesheer, het nie gekom vir dié wat gesond is nie, maar vir die siekes. Laat die Here ons daarom maar ontdek aan ons siekte, aan ons vuilheid. En ja, dit maak ons skaam, ons hou nie daarvan om as’t ware ontklee te word en in al ons vuilheid voor God te staan nie. Maar slegs wanneer ons dít doen, mag ons voorwerpe word van sy genadige regverdiging. Die voorwerpe van God se regverdiging is nie die regverdiges nie, maar die onregverdiges, die sondaars, die vuiles. Geluksalig is jy – dit is die woord wat die NGB in artikel 23 gebruik – geluksalig is jy wanneer jy so voor die Engel van die HERE kan staan; welgeluksalig is die gemeente, die kerk, wat weet dat dit sy is wat soos Josua lyk, sodat Jesus kan red!

Ons let vervolgens op die uitwerking van die regverdiging: ons vrymoedigheid…

 

2a. Gemeente, wat is ons natuurlike reaksie op ons sondige toestand, soos wat ons dit hierbo beskryf het? Wel, artikel 23 verwoord dit baie treffend met ‘n verwysing na ons eerste vader, Adam. Hy het al bewende homself met vyeblare probeer bedek. Dit is wat ons almal doen, nie waar nie? Dalk nie met vyeblare nie, maar ons probeer onsself op verskeie ander maniere bedek. Ons natuurlike reaksie is om die naaktheid en vuilheid van ons sondige lewe te wil toemaak en, net soos Adam en Eva, van God af weg te vlug. Maar nou is die wonderlik nuus: die vryspraak deur Jesus Christus bring juis die omgekeerde beweging op gang – ons hoef nie meer van God af weg te vlug nie. Nee, ons mag nou juis na God toegaan!

Dit is die wonderlike gevolg wat die Here verbind aan die vryspraak van Josua. Ons lees naamlik in vers 7 dat die Here die belofte skenk dat Josua, en deur hom die hele volk, vrye toegang sal hê onder diegene wat daar by hom in die hemel aanwesig is. Dit is ‘n besondere werklikheid wat hier vir die gelowiges ontsluit word. Deur die geloof in Jesus Christus, ons groot Hoëpriester, is die weg na die hemel weer vir ons oop. Dit is ook wat ons bely in artikel 23: “Christus se gehoorsaamheid is ons eie as ons in Hom glo; dit is ook genoegsaam om al ons ongeregtighede te bedek en die gewete van vrees, verbystering en skrik te bevry en om ons vrymoedigheid te gee om na God te gaan…” Waar ons voorheen slegs in vuil klere moes beef voor die regterstoel van God, waar ons gewetens ons voorheen gekwel het met vrees en verbystering en skrik, mag ons nou met vrymoedigheid na die troon van genade gaan (Hebr. 4:16). Deur die geloof is daar niks wat ons keer om in die hemelse geweste binne te gaan en daar baie persoonlik met God te kommunikeer nie. Besef u watter werklikheid hier vir ons oopgemaak word, broers en susters? Ware geloof bring ons te midde van ‘n leërskare van engele, maar meer nog: dit bring ons in ‘n nuwe verhouding met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. Ons lewe vandag onder ‘n oop hemel! Wat ‘n voorreg!

 

En gemeente, is dit nie waaroor die lewe uiteindelik gaan nie? In ons lewens is ons huwelike en ons gesinne, die ekonomie en die misdaad, ons werk en ons ontspanning vir ons dikwels ‘n baie groter werklikheid as God en Christus. En dit is verstaanbaar, want daardie dinge is tasbaar, dit is waarmee ons onsself elke dag besig hou, dit is vir ons die werklikheid. Maar as dit die grootste werklikheid is wat daar vir ons bestaan, dan moet ons wel besef dat dit ‘n werklikheid onder ‘n geslote hemel is – dan is my huwelik een sonder God, dan is my gesin een sonder die teenwoordigheid van Christus, dan is die ekonomie en die misdaad probleme wat ek self moet hanteer, dan is my werk iets wat ek doen vir ‘n verganklike loon en my ontspanning word dan ‘n leë aktiwiteit.

Hierdie is alles dinge waarvan daar ‘n geweldige groepsdruk in ons tyd en wêreld uitgaan; ons staan onder groot druk om in hierdie dinge te doen en te wees soos wat die wêreld dit verwag. Sagaria 3 – die oop hemel – speel geen rol in die wêreldse bepaling van sin en betekenis nie. Maar laat jou nie daardeur mislei nie. Sagaria 3 spreek van ‘n groter voorreg as wat die wêreld homself dit ooit kan voorstel: ‘n oop hemel, vrye toegang tot die Skepper en Verlosser van hierdie wêreld, ‘n gesonde en bloeiende verhouding met Hom wat alles in sy hand hou. Broers en susters, geniet deur die geloof van hierdie voorreg van die regverdiging. Moenie soos ons eerste vader, Adam, jouself met vyeblare probeer bedek en van God af wegvlug nie. Want dit is in feite wat die wêreld doen. Nee, gaan met vrymoedigheid na God toe – jou regverdiging deur Jesus Christus gee jou daardie reg!

 

Maar Sagaria sien ook nog ‘n verdere gevolg van Josua en die volk se vryspraak, een wat spesifiek vir die toekoms weggelê is; ons lees dit in vers 10: “In dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal julle mekaar uitnooi onder die wingerdstok en onder die vyeboom.” Ons weet dat in Palestina, wanneer die ryp vrugte bewaak moes word, die boer en sy gesin hulle intrek in eenvoudige hutte in die landerye geneem het. Dit was die tyd van rypheid, die tyd van oes en pluk. Dit was die tyd van vrede en welvaart en aangename rus.

Hierin, gemeente, vind ons ‘n aanduiding van die toekomstige wêreldvrede wat die uiteindelike doel van Christus se verlossingswerk is. Die vrede, nie net van elkeen se eie hart en lewe nie, maar universeel, ‘n vrede wat die hele aarde raak. Want Christus is die ewige Vredevors, wie se koninkryk geen einde sal ken nie. So kom vir ons die nuwe hemel en die nuwe aarde in sig. Ja, daar kom ‘n tyd waarin die een vir die ander sal sê: kom geniet saam met my in die gemeenskap van die heiliges van die groot geskenk van die vrede wat alle verstand te bowe gaan: vrede, deur die bloed aan die kruis. Vrede met God, vrede met mekaar, en vrede met die aarde.

Ten slotte let ons nog op die tweede uitwerking van die regverdiging: die lof.

 

2b. Wanneer God die verhouding met ons regmaak, dan lewe ons onder ‘n oop hemel en het ons vrymoedigheid om na die troon van die genade te gaan – dit is die eerste gevolg van die geregtigheid voor God, soos wat ons hierbo gesien het. Maar daar is ook nog ‘n tweede gevolg wanneer God die verhouding met ons regmaak, wanneer Hy ons regverdig, en daarvan praat ons belydenis ook. Ons lees naamlik daar: “ons hou daarom hierdie grondslag altyd vas: ons gee aan God al die eer, verneder ons voor Hom, erken dat ons is wat ons is, en roem glad nie in onsself of in ons verdienste nie, maar maak staat en steun op die gehoorsaamheid van die gekruisigde Christus alleen.”

Calvyn begin sy bekende Institusie deur te sê: die volle som van alle godsdiens bestaan uit twee dele: kennis van God en kennis van onsself. Nou dit is presies wat ons in hierdie sinnetjie van die NGB ook vind. Kennis van myself – dit beteken dat ek weet wie ek is as sondaar, dat ek myself gevolglik voor God verneder, en dat ek niks in myself of in my verdienste het waarin ek kan roem nie. Daarmee saam kom die kennis van God, soos wat Hy Homself in die gekruisigde Christus aan ons openbaar. Dus, kennis van myself (sondige mens) én kennis van God (‘n genadige Verlosser deur Christus wat die verhouding met my kom regmaak). En as hierdie dubbele kennis my hart raak, as hierdie dubbele kennis in die geloof bymekaar kom, dan bestaan daar net een moontlike uitkoms: dan gee ons aan God al die eer! Voorwaar, my geregtigheid voor die Here kan net op een manier na waarde geskat en verwoord word: Halleluja! Prys die Here!

 

Ja, met ons monde en met ons lewens is ons, as geregverdigdes, veronderstel om die Here groot te maak. Dit is waarvoor God ons gemaak het; ons bely mos in Sondag 3 van die Kategismus: “God het die mens goed en na sy ewebeeld geskep. Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God, sy Skepper, reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam met Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys.” Dit is die doel van my en jou lewe. Elke woord, elke daad, elke gedagte het as doel om die Here groot te maak vir die feit dat Hy verniet (gratis) die verhouding met ons kom herstel het. Laat ons daarom met vrymoedigheid na die troon van God gaan met hierdie uitsluitlike doel: om God te loof. En laat ons hele lewe onder die oop hemel daarop gerig wees om God se Naam groot te maak. Groot te maak by die werk, by die skool, by die huis. Dink daarby na wanneer jy oppad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan. Dink daaraan, elke oomblik: ek lewe om God te loof! Want Hy maak reg, Hy maak regverdig. Welgeluksalig is elkeen wat die Here het as sy God!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Skr. 10

Votum Ps. 124:4

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 71:9, 12 en 14

Gebed

Lees:    Sagaria 3

Sing Ps. 130:2 en 4 (2de beryming)

Teks: NGB, artikel 23

Preek

Amenlied Skr. 7:1, 5 en 8

Gebed

Belydenis van geloof (staande en singende)

Kollekte

Slotsang Ps.   84:3 en 6

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)