Wie moet na die nagmaalstafel van die Here kom?

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-08-08
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 30
Verwysing: 
HK 30-2
Preek Inhoud: 

Kopieregword voorbehou. Indienu die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

HK Sondag 30; lees Psalm 26

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus, 

Ja, wie moet na die nagmaalstafel van die Here kom? Wie kry die goddelike groenlig om hier te kom aansit? Hierdie vraag uit die Kategismus roep om selfondersoek – presies die gedeelte wat ons sopas uit die nagmaalsformulier voorgelees het. Selfondersoek – hoe presies moet dit gebeur?

Wel, stel jouself voor ons sou met elke nagmaalsviering, wanneer ons vanaf ons onderskeie huise hier by die kerk aankom, nie sommer net een-een by die kerk instap en in die banke gaan sit nie, maar almal saam by die trappies voor die ingang gaan staan en wag. Stel jouself verder voor daar kom vervolgens ‘n ouderling by die voordeur uit, wat aan die bo-punt van die trappies gaan staan en aan die gemeente verskillende vrae begin stel. Vrae waarop die gemeente dan almal saam – hoewel tog diep persoonlik – ‘n antwoord gee. En stel jouself ten slotte voor dat die ouderling op grond van hierdie antwoorde ‘n bepaalde uitspraak maak en die gemeente toelaat om die kerk binne te gaan en die nagmaal te vier. Hy verleen die gemeente as’t ware toegang tot die huis en die maaltyd van die Here. 

Sou dit vreemd wees? Ja, dit sou vir ons inderdaad ongewoon wees. Maar, gemeente, dit is hoogswaarskynlik die agtergrond van Psalm 26. Psalm 26 weerspieël ‘n soort voorbereiding vir die toegang tot die tempel; die volk wat graag wil toetree tot die woning van die Here en tot die vergadering van gelowiges, word net buitekant die tempel deur die priester ontmoet. Daar vind ‘n soort voorbereiding en toetsing plaas, ‘n soort vraag- en antwoordgesprek tussen die priester en die volk, op grond waarvan die volk ten slotte deur die priester toegelaat word om aan die erediens deel te neem. Psalm 26 weerspieël dus ‘n soort toegangsliturgie! Nou goed, hoe het hierdie toegangsliturgie gelyk? En belangriker nog: wat het die toegang bepaal? Ek wil u op twee aspekte wys. 

Die eerste waarop ek u wil wys, is die bede van die digter in vers 2 om deur die Hére ondersoek te word: “Toets my, HERE, en beproef my, keur my niere en my hart.” Die digter gebruik hier drie verskillende woorde (toets, beproef, keur), wat al drie geassosieer kan word met die proses om metaal te smelt en te veredel. God word hier dus voorgestel as ‘n suiweraar van metale, iemand wat die staal toets van diegene wat sy huis wil betree. Nou moet ons onthou, broers en susters, dat in die bybelse tyd metaal slegs na behore getoets kon word, wanneer dit gesmelt is, want dan kon die egte metaal van die vuil, onedele dele geskei word. Eers uit die resultaat van die smeltingsproses kon jy sien hoe kosbaar ‘n metaal is. So skryf een van die Babiloniese konings op ‘n stadium ‘n brief aan ‘n ander koning waarin hy sê: “Aangaande die besending wat jy vir my gestuur het: die twintig goue muntstukke wat jy gestuur het, was nie suiwer nie, want toe dit in die oond geplaas is, het dit slegs vyf opgelewer.” Dus, deur die metaal te smelt, kon jy bepaal hoe kosbaar dit is. En dit is in feite wat die digter van Psalm 26 van die Here vra: “Smelt my in u vuuroond, sodat U kan bepaal hoe kosbaar ek is.” Sjoe, hierdie bede van die digter spreek van geweldige vertroue; die digter is nie bang om deur die vuur van die Here heen te gaan nie. Hoekom nie? Wel, daar is veral twee redes:

• Die eerste rede is eenvoudig dat hy God se werk in sy lewe raaksien! Sonder hoogmoed kan hy deur die loop van psalm 26 onder andere sê: ek wandel in my opregtheid en vertrou op die Here (vers 1), ek wandel in u waarheid (vers 3), ek was my hande in onskuld (vers 6), en weereens in vers 12: ek wandel in my opregtheid. Die digter weet verseker dat, as God sy lewe wil toets, dan sal God sy eie wonderlike werk daarin teëkom. Die digter se lewe is nie volmaak suiwer nie, nee, maar dit is wel kosbaar deur God se eie werk in sy lewe. En daarom is hy nie bang om getoets te word nie, want wat God in sy lewe sal aantref, is werke van goddelike alvermoë! 

• Maar daar is nog ‘n tweede rede waarom die digter nie bang is om deur die vuur van die Here heen te gaan nie. En dit is dat die smeltingsproses nie net toetsing impliseer nie, maar ook suiwering en reiniging. Wanneer ons deur die vuur van die Here gaan, dan is die Here nie maar net ‘n kwaliteitsbeheerder nie; die Here staan nie maar net daar met sy ‘checklist’ nie; nee, in die vuur van die Here maak Hy ons ook skoon, veredel Hy ons ook. Die digter, wat alreeds God se werk in sy lewe raaksien, begeer om nog verder daarin toe te neem; of soos die Kategismus dit stel: “dié wat begeer om hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en hulle lewe te verbeter”. En daarom kan die Here maar kom, sodat Hy die digter se lewe nog verder kan veredel. 

Nou, broers en susters, as gelowiges mag ons met dieselfde vertroue – let wel, nie selfvertroue nie! – maar met dieselfde vertroue die Here tegemoet tree. Nee, nie omdat ons volmaak suiwer is nie, maar omdat ons enersyds kan sien dat die Here in ons lewens werk – ek bemerk in my lewe die groei, ek sien die heiliging en gehoorsaamheid toeneem. Én andersyds omdat ons begeer dat die Here die werke van sy hande in ons lewens nie sal laat vaar nie, maar verder sal laat toeneem. Inderdaad, ons het vanweë ons sondes ‘n afkeer van onsself, en daarom bid die digter ook in vers 11: “Verlos my en wees my genadig.” En tóg mag ons vas glo dat die metaal van ons lewens deur God se genade tuishoort in die werkswinkel van die goddelike Metaalbewerker! Mag ek daarom ingaan in die huis en aan die tafel van die Here? Wel, kom toets my maar, Here, want die skeiding wat dit oplewer is goed – dit lewer enersyds u werke op en ek wil u Naam daarvoor prys, maar dit haal andersyds ook die vuilheid uit my lewe weg, en daarna verlang ek van ganser harte. Kom smelt my maar!

Die tweede aspek waarop ek u wil wys in die toegangsliturgie – en wat bepalend was vir die toegang tot die tempel – is die absolute skeiding wat hierdie toegang meebring. Die digter van Psalm 26 praat van twee soorte vergaderings. Aan die een kant is daar die vergadering van kwaaddoeners. Ja, die kwaaddoeners, die goddelose, die valse mense, die slinkse mense, die sondaars, die manne van bloed – dit is alles name wat die digter gee aan hierdie verkeerde vergadering. Van hierdie vergadering sê die digter dat hy dit wil vermy, hy wil nie met hulle omgaan nie, hy haat hierdie vergadering. Hy wil niks te doen hê met hier mense in wie se hande daar skandelike dade is, en wie se regterhand vol is van omkopery nie. Die digter smeek die Here om sy siel nie saam met hierdie sondaars weg te ruk nie. Aan die ander kant is daar die vergaderings waarin die Here aanbid word. Dit is die plek wat die digter van harte liefhet, die woonplek van die Here se heerlikheid (vers 8). Dáárbinne wil die digter rondom die Here se altaar gaan (vers 6); dáár wil hy die stem van lof laat hoor en al die wonders van die Here vertel (vers 7). 

Sien u, broers en susters, dit is ‘n totale kontras. Dieselfde kontras wat ons reg aan die begin van die Psalmboek ook alreeds teëkom, in Psalm 1. Die Psalm van die twee weë – die weg van die sondaars en die weg van die regverdiges. Dit is nie een weg waarop daar twee verskillende soorte mense loop nie; dit is ook nie twee weë wat mekaar elke nou en dan kruis nie. Nee, twee weë wat radikaal uit mekaar gaan. En dit is presies wat in die nagmaal ook gebeur – hier gaan die weë uitmekaar. Radikaal. Mag dié mense ook aan die nagmaal toegelaat word wat met hulle belydenis en lewe wys dat hulle ongelowig en goddeloos is? (vraag 82) Nee! Die kerk – die gelowiges – moet hulle met die sleutels van die koninkryk van die hemel uitsluit, todat hulle verbetering van hulle lewe bewys. In die toegangsliturgie van Psalm 26 sien ons dus dat daar ‘n radikale skeiding gemaak word tussen geloof en ongeloof, tussen regverdiges en onregverdiges. En in die toegangsliturgie van Sondag 30 sien ons dieselfde onderskeid. En in jou lewe? Hoe staan dit daar? Is daar in jou lewe dieselfde radikale skeiding? Maak jy in jou lewe duidelike keuses ten opsigte van vriende, ten opsigte van ‘n meisie en ‘n kêrel (‘n toekomstige lewensmaat), ten opsigte van vryetydsbesteding, ten opsigte van dít wat jy kyk of wat jy lees, ten opsigte van die plekke wat jy besoek? Ek haat die vergadering van die goddelose / ek het lief die woning van u huis – dit is ‘n teenstelling wat vra vir duidelike keuses, nie net hier aan die nagmaalstafel nie, maar ook in jou hele lewe. Laat ook in dié opsig jou lewe deur die vuur van die hemelse Smelter gaan. Laat Hy jou toets, jou beproef, jou keur. 

Gemeente, ons staan nie hier buite voor die trappies om vrae te beantwoord voordat ons tot die nagmaal toegelaat word nie. Maar nogtans is die toegangsliturgie vandag nog net so van toepassing op ons. Stel jouself voor die Here. En wanneer jy dit doen, kan jy dan saam met die digter in vers 6 sê: “Ek was my hande in onskuld en wil gaan rondom u altaar, o HERE.” Ja, dit is die twee kante van ons lewe – ek is ‘n regverdige / ek is onskuldig, en tog is daar nog baie gebreke sodat ek die altaar nodig het. Skuldig, en tog onskuldig. Skuldig, en tog regverdig verklaar. Onskuldig, en tog het ek die offer van Jesus Christus nog so bitter hard nodig. 

En daarom die oproep: onregverdiges, bly weg van die nagmaal. Maar geregverdigde sondaars, kom met vertroue. En laat ons saam die Here loof. 

Amen

 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. 

Sing Ps. 138:1 en 2

Doopsformulier + bediening

Dankgebed

Sing Ps. 146:1 en 8 (wysie in Psalmboek, indien moontlik)

Kort nagmaalsformulier tot ná selfondersoek

Lees: Psalm 26

Teks: HK, Sondag 30b

Preek

Amenlied Ps. 15:1 en 2

Vervolg nagmaalsformulier + wetslesing

Terwyl tafel in gereedheid, sing Geloofsbelydenis (staande)

• Tafel 1 – Ps. 26:1 en 2

• Tafel 2 – Ps. 26:4 en 5

• Tafel 3 – Ps. 26:6 en 7

Voltooi nagmaalsformulier + dankgebed

Kollekte

Slotsang Ps. 24:2, 3 en 5

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)