In die doop word jy Christus s’n, en Christus en sy verdienste word joune!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-07-04
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 26
Verwysing: 
HK 26-0 (2010)
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

HK, Sondag 26; lees Genesis 15:1-6, 2 Timotheus 3:14-4:5

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Die doop van ‘n verbondskind hier voor in die kerk is ‘n groot gebeurtenis. By so ‘n doopsbediening vind ‘n wonderwerk plaas. Maar as ‘n mens so dikwels sien hoe hierdie sakrament bedien word – soos wat in ons gemeente tog die geval is – dan dreig beslis die gevaar van sleur en vervlakking, dan dreig die gevaar dat ons die rykdom en die wonder van hierdie teken nie meer raaksien nie. Dan word die moontlikheid groot dat ons hierdie sakrament “uit gewoonte of bygelowigheid” begin gebruik – en dit is presies waarvoor die doopsformulier ons waarsku. 

As ons egter mooi oor die doop nadink, is ek eintlik veronderstel om by elke doopsbediening – terwyl ek uiteraard dankbaarheid ervaar vir die genade van God aan hierdie klein kindjie – om by elke doopsbediening ook dankbaarheid te ervaar vir die genade van God aan my. Elke doopsbediening is veronderstel om my weer aan my eie doop te herinner; elke keer as die doop bedien word, moet die vraag by my opkom: wat doen ek met my doop? Is my doop vir my ‘n lewende werklikheid vanwaaruit ek elke dag lewe? Om dit nog meer konkreet te maak: wat beteken my doop vir my wanneer die geld aan die einde van die maand skraps is? Wat beteken my doop vir my wanneer ek skielik ‘n operasie moet ondergaan? Wat beteken my doop vir my wanneer ek gevra word om in die gemeente ‘n bejaarde of eensame persoon te besoek? Klink dit vir jou na vreemde kombinasies? Wel, miskien het ons dan vergeet waaroor die doop werklik gaan. Kom ons luister vandag, aan die hand van Sondag 26, na God se stem oor die rykdom van ons doop. 

Tema: in die doop word jy Christus s’n, en Christus en sy verdienste word joune! Ons let op:
1. die Naam van Jesus Christus, waarin ons gedoop word;
2. die vergewing van sondes as eerste rykdom van daardie doop;
3. die gawe van die Heilige Gees as tweede rykdom van daardie doop.

1. In die gedeelte wat ons gelees het in Handelinge 2 is Petrus aan die einde van sy toespraak op die Pinksterdag. En duidelik het hy sy doel getref; hy het sy luisteraars daarvan oortuig dat Jesus die Gesalfde is wat deur God belowe is. En sy luisteraars het besef: as dít die geval is, dan staan die kruisiging in ‘n totaal ander lig… Wat bedoel was as straf vir die Godslasteraar Jesus, blyk nou ‘n daad teen God self en teen sy Gesalfde te wees. Hierdie besef tref die luisteraars diep in hulle harte, sodanig dat hulle in verbystering vra: “Wat moet ons doen, broeders?” Hierdie vraag wys die bereidwilligheid van die luisteraars om onderrig te word; gevolglik beantwoord Petrus hulle vraag dan ook met ‘n beknopte doopkategese: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle doop in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” 

Gemeente, hierdie doopkategese van Petrus is volledig in lyn met wat Jesus die apostels opgedra het in Lukas 24:46-47, waar Hy sê: “So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en – let op! – bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder.” Al die elemente in Lukas 24:47 vind ons weer terug in Petrus se doopkategese in Handelinge 2:38. Petrus verkondig dus eenvoudig wat Christus hom opgedra het – bekering, vergewing van sondes, in sy Naam – en dít nie uitsluitlik vir die luisteraars in Jerusalem nie, maar vir alle nasies, van Jerusalem af en verder. Dus, ook vir ons…

Nou, gemeente, die eerste en belangrikste element in Petrus se doopkategese, is dat dit ‘n doop in die Naam van Jesus Christus is. Terloops, ons hoef in hierdie doopformule geen teenstelling te sien met die doop in die Naam van die Vader, en die Seun en die Heilige Gees, soos wat Jesus sy dissipels in Mattheus 28 opgedra het nie. Die doop in die Naam van die Drie-enige God staan nie teenoor die doop in die Naam van Jesus nie. 

Maar terug na Petrus se woorde… Want daar is iets opmerkliks in hierdie woorde, naamlik die manier waarop Petrus die oproep aan sy luisteraars om hulleself te laat doop, verwoord. Letterlik vanuit die Grieks vertaal, sê Petrus: “… laat elkeen van julle gedoop word op die Naam van Jesus Christus…” Luister mooi: op die Naam van Jesus Christus. Maar hoekom nie eenvoudig “in die Naam” soos byvoorbeeld in Mattheus 28 nie? 

Wel, gemeente, hierdie formulering verwys na ‘n manier van praat in die ekonomiese wêreld van daardie tyd wat beteken “op rekening van…” En in die konteks waarin Petrus dit hier gebruik, is dit uiters gepas. Ons moet naamlik onthou dat Petrus hier mense oproep om hulleself te laat doop wat sopas tot die skokkende besef gekom het dat hulle die Heiland vermoor het… Niemand hoef hierdie mense te oortuig van hulle onwaardigheid om die doop te ontvang nie. En dit blyk ook duidelik uit hulle vraag: Wat moet ons doen, broeders? – dit is geen optimistiese vraag nie; nee, dit is ‘n vraag uit desperaatheid; dit is ‘n vraag waarvan hulle die antwoord maar al te goed ken: “Ons kan niks doen nie…!” 

En tog roep Petrus sy luisteraars op om hulleself te laat doop, maar hy doen dit op so ‘n manier waardeur dit vir hulle duidelik is dat nie húlle waardigheid hulle tot die doop bring nie, maar die verdienste van Jesus Christus! Laat julle doop op die Naam van Jesus Christus – plaas dit op sy rekening, laat toe dat Hy vir jou betaal, laat jouself doop op rekening van die Naam van Jesus Christus! Gemeente, watter wonderlike boodskap moes dit nie vir Petrus se luisteraars gewees het nie – hulle het Jesus laat kruisig, en toe Pilatus homself onskuldig verklaar het in hierdie aangeleentheid, het hulle ook nog geskreeu: “Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!” (Matt. 27:25). En nou sê Petrus: “Presies, laat sy bloed oor julle en julle kinders kom! Laat Hy julle sondes afwas, laat Hy vir julle betaal. Laat julleself doop op rekening van sy Naam, sy bloed, sy werk aan die kruis!”

En gemeente, wie dít doen, wie homself laat doop op rekening van die Naam van Jesus Christus, hy word die eiendom van Jesus Christus. Almal wat hulleself laat doop op die Naam van Jesus Christus, word sy eiendomsvolk – soos wat ons in Titus 2 gelees het. Ja, gemeente, ons was eers die eiendom van iemand anders, ons was eers die eiendom van die satan – en hy is ‘n slegte eienaar! Hy mishandel en verwaarloos sy eiendom, hy soek daarna om sy eiendom te verwoes, af te breek, stukkend te maak. Hy maak van ons slawe, en hy is self die slawedrywer… Maar om eiendom van Jesus Christus te wees, bring vryheid, dit maak ‘n nuwe wêreld oop van geleenthede en moontlikhede, dit gee lewe en blydskap en uitsig. 

Broers en susters, elkeen wat homself dus laat doop op rekening van die Naam van Jesus Christus, elkeen wat toelaat dat Hy met sy bloed vir jou betaal, word verlos uit die ryk van die duisternis en word oorgebring in die Koninkryk van die Seun van God (lees maar Kol. 1:13 en 14). Elkeen van ons wat gedoop is, is nou sy volgelinge, ons veg nou in sy leër! Ja, ons dra nou sy naam en merkteken in die stryd teen die bose – ons word immers ‘christene’ genoem! Elkeen van ons wat gedoop is in die Naam van Jesus Christus, word as’t ware omring deur daardie Naam. Die Naam van Jesus Christus het die atmosfeer geword waarbinne elke gedoopte mag lewe en asemhaal. Ons hele bestaan word deur daardie Naam in beslag geneem, omdat Hy ons in beslag geneem het deur sy bloed! 

En dít bepaal dan ook ons identiteit as gelowiges en as kerk in die 21ste eeu! Ons sien om ons heen hoe baie daar gepraat word oor identiteit en identiteitskrisis: wie is ons? Wie is ons, want die wêreld waarin ons leef het so geweldig baie verander? Ons herken onsself nie meer in hierdie postmoderne wêreld nie… Wie is ons, want skielik kom daar allerhande veranderinge in die kerk in? Wie is ons, want skielik begin mense die kerk die een na die ander verlaat? Wie is ons? Ja, daardie vraag raak knellend wanneer die strukture en vorme waarin ons ons identiteit gesoek het, skielik begin verander en nie so vasstaan as wat ek altyd gedink het nie; oor daardie vraag begin ek wonder wanneer die Skrif en die belydenis geleidelik aan ‘n ander invulling kry. Ja, dan word my identiteit aangetas… Wat nou?!

Soek daarom ook nie u identiteit dáárin nie, “wie ek is” word nie in die eerste plek dáárdeur bepaal nie. My identiteit – wie ek is – vind ek slegs wanneer ek dit in Christus vind. Ek is ‘n christen, volgeling van Christus – dít is wie ek is! Ek is iemand wat Hy uit genade vir sy rekening geneem het, en daarom wil ek vir Hom stry – dít is wie ek is! Ek is gedoop in sy Naam – dít is wie ek is!

Gemeente, besef dit wanneer u môre weer werk toe gaan of êrens met vriende of familie gaan ontspan: u het by u doop van eienaar verwissel; u dra nou ‘n Ander se Naam, u staan nou in ‘n Ander se diens. Hierdie nuwe Eienaar het duur betaal om jou uit die slawediens van jou vorige eienaar te verlos. Laat dit ons daartoe bring om baie meer bewustelik met ons doop om te gaan. Ons behoort nou aan Jesus Christus! Daar is geen deel van jou lewe wat nie onder sy heerskappy val nie; van elke deeltjie van jou lewe sê Hy: “Myne!” Myne – nie omdat Hy jou opnuut in slawerny wil bring nie, maar omdat Hy jou gekoop het en omdat Hy weet dat jou lewe slegs by Hom veilig is. Gemeente, hang hierdie nuwe Eienaar in wie se Naam jy gedoop is, aan met jou hele lewe! 

Kom ons sing nou van die feit dat ons Christus se eiendom is, uit Skr. 24:7. Kom ons kyk nou in die volgende twee punte na die ryk skatte wat die doop meebring: ons let nou eers op die vergewing van sondes, en dan ten slotte nog op die gawe van die Heilige Gees.

2. Die eerste van die twee rykdomme wat, volgens Petrus, uit die doop voortspruit, is die vergewing van sondes: “… laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes…” Dit is ook die eerste waarop die Kategismus in Sondag 26 fokus; ons lees in antwoord 69: “… Christus het die uitwendige waterbad ingestel. Daarby het Hy beloof dat ek net so seker met sy bloed en Gees van die onreinheid van my siel, dit is van al my sondes, gewas is as wat ek uitwendig met die water gewas is wat die vuilheid van die liggaam wegneem.” Maar ook in antwoord 70 is dit die eerste aspek wat aan die orde kom: “Wat beteken dit om met die bloed en Gees van Christus gewas te wees? Dit beteken om van God vergewing van sonde uit genade te ontvang ter wille van die bloed van Christus wat Hy in sy offer aan die kruis vir ons gestort het.” 

Dus, die Kategismus staan hier heeltemal in lyn met dit wat Petrus verkondig. Natuurlik, in die konkrete situasie van Handelinge 2 kan ons heel eerste dink aan die sonde waarmee Petrus sy luisteraars sopas gekonfronteer het. Petrus se toespraak het daartoe gelei dat die mense van Jerusalem raakgesien en erken het dat hulle die Messias van die wêreld doodgemaak het. En daarom word vir hulle allereers vergifnis van hierdie sonde in die vooruitsig gestel. Maar vervolgens gaan dit ook oor alle ander sondes wat begaan is, en die formulering in vers 38 maak dit duidelik: “… tot vergewing van sondes” – in die meervoud en sonder lidwoord. Die gedoopte mag verseker weet dat God die sondes kwytskeld, die gedoopte mag weet dat God nie meer terugkom op die sondes nie, dat Hy daaraan nie meer wil dink nie. 

Broers en susters, nou moet ons egter nie die fout maak om te dink dat die vergifnis van sondes in die dóóp lê nie. Dit is hoe daar in die Rooms Katolieke kerk na die doop gekyk word – volgens die Rooms Katolieke kerk neem die dóóp alle sondes weg; alle sondes wat jy vóór jou doop in jou lewe begaan het, word deur die water van die doop weggewas. Gevolglik sien ons dat, in die verlede, mense dikwels die doop so lank as moontlik uitgestel het om soveel as moontlik sondes te kan dek. Sommige wou selfs net voor hulle dood gedoop word, want dan kon hulle met so min as moontlik sondes voor die Here in die hemel verskyn. Maar, gemeente, die dóóp het nie een of ander magiese krag tot vergewing van sondes nie. Daarom dat daar in die gereformeerde kerke – en gaan lees maar NGB, art. 34 – soveel klem daarop gelê word dat ons met gewone water doop. Die doopwater besit nie enige krag nie – dis nie gewyde water nie, dis gewone kraanwater… Vergifnis van sondes lê dus nie in die doop nie.

Maar, gemeente, in die doop ontvang ons wel die belofte van God dat jy deur hierdie teken en seël seker mag weet dat jy Jesus Christus se eiendom is en daarom in sy verdienste mag deel. Dit wat Hy aan die kruis verdien het, is nou ook joune! Hy het die vergifnis van jou sondes verdien. Die doop sélf gee dus nie vergifnis nie, maar die doop gee wel volle sekerheid van daardie vergifnis in die Naam van Christus!

Wie daarom gedoop is mag elke dag opnuut uit die bron van God se vergifnis gaan delf. Vir wie gedoop is, is die bede “vergeef ons ons skulde” ‘n daaglikse bede wat ons met vrymoedigheid kan bid. 

En, broers en susters, hier kom die praktiese krag en waarde van die doop na vore – almal van ons worstel met die sonde, almal van ons het sondes in ons lewens waarin ons elke keer maar weer struikel, sondes waarvan niemand anders weet nie; sommige mag moontlik selfs wonder of hulle ooit nog vergifnis kán ontvang vir sondes wat hulle begaan het. Maar, broer en suster, dan mag jy terugval – 10 jaar gelede, 30 jaar gelede, 85 jaar gelede – na die dag toe jy gedoop is, toe God gesê: Jy is die eiendom van Jesus Christus, en sy verdienste is nou joune! Hy het vergifnis van sondes verdien, gaan kry dit dan ook, gaan haal dit, gaan eis dit! – moenie daaraan twyfel dat dit joune is nie: so seker as wat jy uitwendig met die water gewas is – lank terug toe jy nog ‘n pap babatjie was – net so seker wil Christus die onreinheid van jou siel afwas. Dit is die krag van die doop – ontvang dit elke dag weer as ‘n gawe uit God se hand.

Kom ons sing hiervan uit die Lofsang van Sagaria, Skr. 2:4 en 5

Ons let nou nog op die tweede skat van die doop, naamlik die gawe van die Heilige Gees.

3. Die tweede rykdom wat, volgens Petrus, uit die doop voortspruit, is die gawe van die Heilige Gees. Ook in hierdie geval sê die Kategismus presies dieselfde. Ons lees in die tweede deel van antwoord 70: “Dit beteken verder om deur die Heilige Gees vernuwe en as lede van Christus geheilig te wees, sodat ons die sonde hoe langer hoe meer afsterwe en godvresend en onbesproke lewe.” Uit die doop vloei dus hierdie twee heilsdade voort, naamlik vergifnis van sondes en die gawe van die Heilige Gees; of in die woorde van die Kategismus: bloed en Gees; of nog anders gestel: regverdiging en heiliging.

En gemeente, laat ons hierdie tweede gawe nie verontagsaam nie. God belowe ons in die doop beide, en daarom mag ons nie tevrede wees met net die vergifnis van sondes nie. Christus vergéwe nie slegs die sondaar nie, Hy heilig en vernuwe hom ook. Deur sy bloed was Hy nie slegs die sondes weg nie, maar deur sy Gees sorg Hy ook daarvoor dat gedooptes nuwe mense word! Of in die woorde van Titus 2:15: Christus verlos ons van alle ongeregtigheid (dit is dus die vergifnis van sondes), om vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke (dit is die gawe van die Heilige Gees). Onlosmaaklik verbonde! 

Maar so dikwels skei ons vergifnis en vernuwing van mekaar. Ons haal hulle uit mekaar en stel hulle teenoor mekaar. Sommige doen dit omdat hulle die vergifnis wil hê, maar nie die vernuwing nie; hulle wil vrygespreek word van skuld en straf, maar hulle soek nie die vernuwing nie, omdat dit die pynlike afsterwe van die ou mens beteken. Dit beteken dat hulle nie meer al daardie aangename, sondige dinge kan doen soos vroeër nie, dit beteken dat hulle baie plesier in hul lewens sal moet inboet. 

Ander, weer, skei vergifnis en vernuwing van mekaar omdat hulle meen dat die vernuwing van ons kant af moet kom; ons moet immers goeie werke doen, ons moet immers heilig wees, soos wat God heilig is. 

Maar, gemeente, dan wys Petrus en die Kategismus ons hier op ons doop: vergifnis en heiliging is beide deel van Christus se totale verdienste wat in die doop vir jou belowe word! 

Vir dié wat nie geheilig en vernuwe wil word nie, sê ek: jou doop gee jou nie ‘n halwe Christus nie. Vernuwing is déél van christen-wees, dit is deel daarvan om gedoop te wees en aan Christus te behoort. Wie met water gedoop is, word daarna ook met vuur gedoop – die vuur van die Gees wat die sondige mag in ons lewens wegbrand. 

Vir dié wat dink dat hulle deur hulleself geheilig en vernuwe moet word, mag ek sê: gaan terug na jou doop en omhels die hele Christus. Hy wil vir jou sowel vergifnis as vernuwing gee. Deur die geloof is jy vergewe en deur die geloof is jy heilig! 

En, gemeente, as die vergifnis en vernuwing jou deel is omdat jy aan Christus behoort, wees dit dan ook! Laat ons dan nou ook lewe soos mense wat vergewe en geheilig is, laat dit sigbaar word. Jou doop is geen sertifikaat waarmee jy kan spog nie; dis geen vrybrief om maar voort te gaan met die sonde nie. Nee, jou doop is God se werkende krag in jou; jou doop is die daaglikse oproep om Christus aan te hang en na te volg. Ja, die water op jou kop was lank gelede, maar die bloed en die Gees van Christus is nou, en dit vra om geglo en geleef te word. 

Amen

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings

Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 69:12 en 14

Lees: Handelinge 2:37-47

Titus 2:11-15

Sing Ps. 110:1, 2 en 4 (een van die psalms wat Petrus in sy Pinkstertoespraak aanhaal)

Teks: HK, Sondag 26

Gebed (seën oor die prediking)

Preek

• Na 1ste punt: Skr. 24:7

• Na 2de punt: Skr. 2:4 en 5

• Amenlied Ps. 51:4, 5 en 7

Gebed

Belydenis van geloof (staande en singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 105:2, 22 en 23

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)