Een vir almal, en almal deur een!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-06-20
Teks: 
Eségiël 3:17
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Preek – Esegiël 3:17; lees Esegiël 2 en 3, 33 en 34, Johannes 10:11-15, 11:47-52, Hebr 13:17

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Is ek my broer se wagter? – dit was Kain se arrogante vraag toe die Here by hom wou weet waar sy broer, Abel, is. Is ek my broer se wagter? – dít nadat hy hom sopas vermoor het. Ja, gemeente, in ‘n wêreld waar God mense op allerhande maniere aan mekaar verbind, maar waar die mens telkens weer daarna streef om hierdie Godgegewe bande af te gooi en stukkend te breek, is dit ‘n steeds terugkerende vraag: is ek my broer se wagter? Is ek verantwoordelik vir die ander een? En is die ander een verantwoordelik vir my? In ‘n selfgesentreerde, individualistiese samelewing is die antwoord op hierdie vrae deurgaans: “Nee! Ek is nie my broer se wagter nie”. In ‘n wêreld wat glo in die teorie van ewolusie en in die oorlewing van die sterkste is dit uiteindelik elkeen vir homself. 

Maar wat dan van die nuwe gesin, die nuwe familie, waaraan God nou alreeds vir eeue bou? Wat van die familie van gelowiges, waar ons – of ons nou daarvan hou of nie – mekaar se broers en susters is? Is daar in die kerk nog so iets soos ‘broeder-hoeders’ en ‘suster-versorgers’? Of kan ons ook in die kerk met vrymoedigheid Kain se woorde aanhaal om ons eie ongeïnteresseerdheid en nonchalantheid teenoor mekaar te verdedig? Is die kerk maar net die somtotaal van ‘n klomp individue waar elkeen vir homself lewe? Of is dit die Here se bedoeling dat sy gemeente juis deur die waaksaamheid van wagters beskerm en gebou moet word? Kom ons ondersoek ons Skrifgedeelte vir vandag.

Tema: Een vir almal, en almal deur een!

Gemeente, wat was die stand van die broedersorg in Israel in die dae van Esegiël? Was daar goeie wagters van die siele van die broers en susters van God se volk? Wel, dit wil voorkom asof daar in elk geval geen gebrek aan wagters was nie. Ons vind naamlik ‘n oorvloed aan profete sowel as profetesse in Israel (skynbaar was daar geen probleem met die vrou in die amp nie..). Ongelukkig blyk uit verskillende dele van Esegiël (en gaan lees in dié verband maar gerus hoofstuk 13 by die huis, en hou hierdie hoofstuk ook maar oop voor u) dat hierdie profete nie deur die Here geroep is nie, maar dat hulle hulleself aangestel het – volgens hoofstuk 13:2 was hulle profete uit hulle eie hart wat agter hulle eie gees aan gewandel het. Daarby het hulle ook nie die woord van die Here gebring nie, maar hulle eie woorde; lees maar hoofstuk 13:6: “hulle sê: Die HERE het gespreek – terwyl die HERE hulle nie gestuur het nie; en dan wag hulle op vervulling van die woord.” Hierdie laaste wys vir ons dat die valse profete hulle eie versinsels ook nog vas geglo het! En hierdie versinsels was konkreet om te sê dat God vrede vir sy volk bestem het. Kyk maar na hoofstuk 13:10: “Omdat, ja, omdat hulle my volk verlei het deur te sê: Vrede! terwyl daar geen vrede is nie.” Hierdie profete moes eintlik – en dit is waarvoor Esegiël dan ook aangestel word – hulle moes eintlik die volk gewaarsku het vir die oordeel van die Here wat aan die kom was, sodat die volk hulle kon bekeer. Maar hulle het die volk eerder met ‘n vals boodskap aan die slaap gesus. Hulle moes eintlik ‘n sterk muur rondom die volk gebou het, maar hulle het eerder ‘n muur van los klippe gebou en dit met kalk toegesmeer (sien hoofstuk 13:10-14). So ‘n muur is lewensgevaarlik, want wanneer die storm van God se oordeel kom, dan val dit om, en die bouers daarvan word verpletter. Eerlikheid gebied ons vervolgens om hier by te voeg dat die profetesse in Israel nie veel beter was as hulle manlike kollegas nie. Hulle profesieë was net so onbetroubaar, en hulle was ook maar net daarop uit om geld te verdien. 

Ja, gemeente, as ons deur die eerste helfte van die boek Esegiël werk, dan moet ons tot die konklusie kom dat die sorg vir die volk van die Here in daardie dae in ‘n haglike situasie was. En dit was beslis nie slegs die profete en profetesse wat hieraan skuldig was nie. Nee, die Here se oordeel oor die oudstes en oor die priesters en oor die leiers was net so vernietigend. In sy geheel was die herders van Israel – dié wat verantwoordelik was om wagters op Sion se mure te wees – in sy geheel was hierdie herders slegte herders. Volgens hoofstuk 34 het hulle slegs aan hulleself gedink en nie aan die skape wat die Here aan hulle toevertrou het nie. Hulle het nie die swakkes versterk en die siekes nie gesond gemaak nie; hulle het die gewondes nie verbind en diegene, wat  weggedryf het, nie teruggebring nie; hulle het die verlorenes nie opgesoek nie, maar met hardheid en met strengheid oor hulle geheers. Die verantwoordelike persone in Israel het nie na hulle broers en susters omgesien nie… 

En dit is dan, gemeente, dat die Here sy eie wagter aanstel – Esegiël. “Mensekind – sê die Here in hoofstuk 3:17 vir Esegiël – Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel.” Nou, seuns en dogters, wat was ‘n wag / wagter in daardie dae presies? Wat was die taak en funksie van die wagter?

Wel, stel jouself in jou verbeelding die volgende voor: daar is ‘n stad met ‘n muur reg rondom, en dit is in die middel van die nag. Alles in die stad is rustig, almal slaap. En weet jy wat? Hulle kán ook maar slaap, want daar bo-op die dik muur, wat reg rondom die stad geloop het, daar waak die wagters; hulle loop heen en weer en is voortdurend op die uitkyk vir enige teken van die vyand. Solank daar niks gebeur nie, bly hulle stil – verfris en versterk mag die stadsbewoners by die eerste rooi van die dag opstaan. Maar sodra die wagters iets sien, dan moet hulle die basuin kliphard blaas om op só ‘n manier die stad wakker te maak en te waarsku. Hier het ons dus in ‘n neutedop die wagter se taak – hy reageer slegs wanneer daar iets gebeur; solank as wat daar niks gebeur nie, kom niemand eens agter dat daar ‘n wagter is nie. Die wagter waak wagtend; hy staan op die uitkyk, dit is al. Eers wanneer hy iets verdags opmerk, eers wanneer daar gevaar dreig, ja, dan kom hy in aksie. 

Nou, só moes Esegiël ook wees: Esegiël moes waak, Hy moes wag vir die eerste teken van die woord van die Here. As die Here geswyg het, dan het Esegiël niks gehad om te sê nie, net soos wat die wagter op die muur niks het om aan die stad te meld solank as wat daar geen vyand aankom nie. Maar as die Here gespreek het, dan moes Esegiël onmiddellik die basuin blaas, dan moes hy sonder versuim spreek, dan moes hy die volk dadelik waarsku. Seuns en dogters, julle kan self dink watter geweldige verantwoordelike taak dit was. Want veronderstel die wagter raak in die nag aan die slaap, en veronderstel die vyand val presies op daardie oomblik die stad aan… Die gevolge kan rampspoedig wees, sowel vir die stad en sy inwoners as vir die wagter self. Nee, die wagter moes altyd wakker wees, die wagter moes altyd waaksaam wees vir die eerste tekens van gevaar. 

En dít is nou presies die taak wat Esegiël gekry het. Teenoor die baie slegte wagters en herders wat die volk aan die slaap gesus het deur slegs vrede te verkondig, terwyl die Here in werklikheid oppad was om die oordeel oor sy volk te bring, word Esegiël as enkeling aangestel as hoeder van sy broeders. Een vir almal, met ‘n baie ongewilde boodskap! Die slegte herders het gesê dat daar niks sou gebeur met diegene wat nog in Jerusalem oorgebly het nie, hulle sou rustig daar kon bly woon, geen rede tot onrus nie. Maar die Here het ‘n ander boodskap vir sy volk, ‘n boodskap van oordeel en straf. En sodra Esegiël daardie oordeelsboodskap uit die mond van die Here aangehoor het, op daardie einste oomblik moes hy dit sonder aarseling aan die volk uitbasuin. Op die oomblik dat die Here gespreek het, moet Esegiël waarsku, net soos wat die wagter op die muur die volk moes waarsku die oomblik as hy die vyand sien aankom het.

En, broers en susters, dít het Esegiël se taak so ekstra swaar gemaak – want die vyand teen wie hy die volk moes waarsku, was nie die Babiloniërs of ‘n ander volk nie. Die vyand was nie mense nie. Nee, die vyand was die HERE self! Die vyand was Jahwe! Ons lees naamlik in hoofstuk 3:17: “jy moet hulle van my kant waarsku” – maar dit is beter om dit te vertaal met: “jy moet hulle teen my waarsku.” Die Hére was die aanvaller wat met sy oordeel oor sy volk gekom het. Die tradisionele gedagte van die Here as Beskermer van sy volk word hier heeltemal omgedraai. Die Here is nou die vyand. En Esegiël is die wagter op die muur wat die volk moes waarsku die oomblik as hy die Here sien aankom het. Dít was die ongewilde boodskap wat Esegiël aan die volk sou moes oordra – nie vrede nie, maar oordeel.

Ek kan myself goed voorstel dat Esegiël moontlik gedink het: “Ag Here, stuur asseblief iemand anders. Dát die oordeel kom, goed, maar dat ék die oordeelsboodskap moet bring… Ek vra ontheffing uit die amp.” Maar Esegiël kry nie tyd om hierdie moontlike gedagtes uit te spreek nie. Die Here sny elke moontlikheid af om vir hierdie taak te bedank. Want behalwe dat Esegiël die onheilsboodskap moet bring, moet hy ook nog hoor dat sy eie lewe hier op die spel staan. Hier is vir Esegiël geen uitkomkans nie. As hy stilbly, sal nie slegs die goddelose of die afgedwaalde regverdige sterf nie, maar hyself sal sterf! As hy sy werk wel doen en daar word nie na hom geluister nie, dan is die wins ten minste dat hy sy eie siel gered het. Wat ‘n taak! Dink goed na oor die implikasies hiervan, gemeente: as die Here vir jou ‘n taak gee, as Hy jou roep tot ‘n taak, dan het jy ‘n taak. God het Esegiël nie maar net vriendelik versoek nie. Nee, God het hom voor die vuurpeleton geplaas: spreek, of jy sterf. Esegiël het werklik geen ander keuse gehad nie. Só ernstig was sy aanstelling. 

Nou, gemeente, uiteraard kom die vraag by ons op: maar wat is die boodskap uit hierdie gedeelte vir ons vandag? Wat moet ons met hierdie gedeelte maak wanneer ons uit die kerk uitgaan? Wel, broers en susters, die Here roep vandag nog steeds sy wagters, hulle wat waak op die mure van die kerkstad. Die Here roep steeds sy profete, hulle wat moet spreek wanneer Hy spreek. In hierdie gemeente is daar ook wagters, mense wat in besonder deur die Here geroep is tot ‘n leidinggewende taak. En dan gaan dit nie slegs oor die ampsdraers nie; nee, dit gaan oor almal wat ‘n besondere verantwoordelikheid in die gemeente het – leiers en leidsters by ‘n bybelstudie en jeugvereniging, voorsitters en lede van kommissies, diakens en ouderlinge. Maar wanneer ons die kring nog wyer trek, kan ons ook wys op pa’s en ma’s in hulle gesin, oupas en oumas teenoor hulle kleinkinders, die ouer generasie in die gemeente teenoor die jonger geslag, en uiteindelik elkeen wat dalk op ‘n spesifieke oomblik geroep word om ‘n boodskap te bring – ook al is dit die mees onbelangrike lidmaat van die gemeente. Vir al hierdie persone geld die boodskap uit hierdie deel van Esegiël, dat ons slegs goeie wagters kan wees as ons spreek wanneer en waartoe die Here ons opdra. Slegs as Hy roep, en dan ook slegs sy Woord, en nie ons eie versinsels nie. Luister na wat Petrus ons leer in 1 Petrus 4:11: “As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God…” 

En hierin lê dan ook die swaar verantwoordelikheid van die wagter: die wagter moet, wanneer hy geroep word, slegs die Woord van God spreek – te pas en te onpas, of dit nou ‘n aangename boodskap is of nie. Die hele Skrif is, volgens Paulus in 1 Timotheus 3, nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid. En dít moet die wagter dan ook spreek om waarlik wagter te wees. En wanneer ons in die gemeente hierdie swaar verantwoordelikheid besef, dan sal ook bid vir dié mense wat in besonder hierdie verantwoordelikheid ontvang het, en dan sal ons ook in gedagte hou wat die Hebreërskrywer in hoofstuk 13:17 van sy brief sê: “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee…” Dit is woorde wat so reg uit Esegiël kon gekom het. Die wagters van die gemeente waak oor die siele van die broeders en susters – dit is geen eenvoudige taak nie, dit is ‘n taak waarvoor ons maar liewer bedank, waarvoor ons maar liewer ontheffing vra. Maar alle wagters moet weet: jou eie lewe is ook hier op die spel. Jy moet spreek, of sterf… Hiervan kan ek my nie afmaak met ‘n ongeïnteresseerde “is ek my broeder se wagter?” nie. Nee, wie in die gemeente geroep word om te spreek, kan nie anders as om te spreek nie.

Maar, gemeente, vir dié wat hierdie verantwoordelikheid dra, is daar ook nog die bemoediging van die begin van Esegiël 3. Dáár word Esegiël naamlik opgedra om die boekrol, wat aan hom gegee is, op te eet. Hierdie boekrol was, volgens hoofstuk 2:10, vol geskryf met klaagliedere en gesug en wee – wat dui op die oordeel wat Esegiël moet verkondig. Maar wanneer Esegiël dit opeet, dan lees ons dat die smaak daarvan soet soos heuning was. Soet soos heuning? Ook wanneer dit gaan oor klaagliedere en gesug en wee? Ja, gemeente, want dit is die woord van die Here. Ook al is dit ‘n pynlike woord wat jy moet bring, ook al gaan daardie woord weerstand en vyandigheid oproep, ook al gaan daardie woord vermanend van aard wees, nogtans is dit soet. Want die woord van die Here is altyd goed! 

Elkeen wat daarom ‘n woord van die Here moet spreek, kan hieruit bemoediging haal. Of jy nou ‘n leidster of leier by die jeugvereniging is, wat sukkel om by die jongmense aandag vir die evangelie te kry; en of jy ‘n diaken is wat iemand moet vermaan oor sy finansiële bydraes; en of jy ‘n ouderling is wat iemand onder die tug moet plaas; en of jy eenvoudig ‘n gemeentelid is wat iemand anders moet vermaan oor sy of haar leer of lewenswandel: moet jou nie bekommer of jou woorde mense teen die bors stuit nie. As dit woorde van God is, dan weet jy dat daardie woorde soet smaak. Laat ons hier in die gemeente wagters sonder vrees wees – as die Here spreek, dan moet elkeen wat Hy roep, ook spreek! Die lewe van die gemeente hang hiervan af; en ook: jou eie lewe hang hiervan af. Wie dit durf waag om nie te spreek nie, sal met die toorn van die Here self te make kry!

Maar broers en susters, is hierdie taak nie veels te swaar nie? Is dit nie te veel gevra van ons as mense nie? Rus daar nie te veel gewig op die skours van die wagters nie? Dink aan Esegiël – tussen al die valse profete was hy ‘n enkeling, was hy die enigste profeet wat tot die volk die ware woord gespreek het, was hy die enigste ware hoeder van die broeders. Dit lyk sowaar soos een vir almal…

Maar gemeente, om as wagter die Woord van die Here te spreek – om te sê wat gesê moet word op grond van die Skrif – beteken nooit dat jy alleen staan nie, jy is nooit ‘n eenling nie. Ook al staan jy met jou boodskap teenoor die hele gemeente, is jy nog nie alleen nie. Ook Esegiël was nie alleen nie, want agter hom het die Een gestaan wat hom gestuur het; agter die klein mensie met die massiewe oordeelsboodskap, het die grote God gestaan. Immers, teenoor die valse herders verklaar hierdie God in hoofstuk 34:11: “Kyk, hier is Ek, en Ek sal na my skape vra en vir hulle sorg.” Ondanks Esegiël se swaar taak, neem die Here self eindverantwoordelikheid vir sy skape. En Hy doen dit deur, volgens hoofstuk 34:23, een enkele herder oor sy kudde te verwek, een enkele herder wat sy skape sal laat wei – en die Here noem Hom ‘my kneg Dawid’. Esegiël is nie eindverantwoordelik vir die kudde nie; nee, God is, deur sy kneg Dawid. En daarop moet ons bly fokus wanneer ons wag hou oor die siele van ons broeders en susters. Ons is slegs instrumente; daar is iemand anders wat waak!

Gemeente, dit is hooplik vir ons almal duidelik dat die herder wat ‘my kneg Dawid’ genoem word, hier verwys na ons Here, Jesus Christus. Hy is waarlik die goeie Herder oor die kudde van God, en so noem Hy Homself ook in Johannes 10:11. En by Hom word werklikheid wat in Esegiël se dae maar net skyn was. In Esegiël se dae het dit gelyk asof dit een vir almal was – Esegiël, die enigste ware profeet wat vir die hele volk die oordeelsboodskap van die Here moes bring. Maar dit was nie werklik so nie. Esegiël was nie werklik een vir almal nie, want hy het nog steeds sy God agter hom gehad. Nee, een vir almal – dit het slegs gegeld vir die goeie Herder, wat as eenling sy lewe afgelê het vir almal, vir al sy skape, vir sy hele kudde. Dit is Hy wat as enigste wagter op Sion se mure die oordeel sien aankom het en dit eiehandig afgeweer het; dit is Hy wat God se regverdige oordeel alléén gedra en sodoende die volk daarvan gespaar het. En toe Hy daar aan die kruis op Golgota gehang het, toe die goeie Herder Homself die Paaslam gemaak het, toe het Hy niemand agter Hom gehad nie. Nee, toe het Hy slegs iemand teenoor Hom gehad. Hy was selfs verlate van Hom deur wie Hy gestuur is. Hierdie wagter kon nie die ramshoring blaas om die stad te waarsku nie, nee, Hy moes self uitgaan en sy lewe aflê om die vyand – God se vernietigende oordeel – te dra. Buite die poorte moes Hy ly, sodat Jerusalem, die kerkstad, gered kon word. Terwyl die stad geslaap het, het Hy gewaak en geveg en gesterf. By Hom was dit werklik ‘een vir almal’. Die hoëpriester Kajafas was salig onbewus hoe profeties sy woorde was toe hy in Johannes 11:50 vir die Joodse Raad gesê het: “Julle weet niks nie en dink nie daaraan dat dit vir ons voordelig is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie.” Inderdaad, Jesus het as enigste gesterf! Een vir almal, en almal deur daardie Een! 

Watter beter wagter wil jy hê om oor jou siel te waak? Die huurling en hy wat nie ‘n herder is nie, van wie die skape nie die eiendom is nie, sien die wolf kom en laat die skape staan en vlug. Die huurling vlug, omdat hy ‘n huurling is en niks vir die skape omgee nie. Maar die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. Jou lewe word teen die oordeel van God beskerm deur Jesus Christus. Nêrens anders is jou lewe veilig nie, deur niemand anders word daar só oor jou siel gewaak soos deur die goeie herder nie. Dit is daarom nie verniet dat Petrus Hom in 1 Petrus 2:25 ‘die Herder en Opsiener van julle siele’ noem nie. Dag en nag, uur na uur, waak Hy. Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie. Die Here sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar. Die Here sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid (Ps. 121:4, 7 en 8).

En daarom, broers en susters – omdat Hy gesterf het sodat die volk kan lewe, omdat Hy sy lewe afgelê het vir die siele van die gelowiges – daarom mag ek met vrymoedigheid wagter wees in sy Naam. Omdat Hy so beslissend die stryd vir die behoud van ons siele gewen het, daarom kan ek na jou toe kom om jou te waarsku, en kan jy na my toe kom om my te vermaan. Ons is nie alleen wanneer ons dit doen nie. In die Naam van die Herder en Opsiener van ons siele, kan ek – wanneer ek geroep word – ook wagter wees. Dan kan, en dan moet, maar dan wil ek ook, my broeder se hoeder en my suster se versorger wees. Dan spreek ek woorde van God wat daarop uit is om my broeder of suster se siel te beskerm.

Hier in die gemeente is dit dus nie elkeen vir homself nie, hier gaan dit nie oor die oorlewing van die sterkste nie. Ons los dit vir die wêreld daarbuite. Nee, hier gaan dit oor die één liggaam van die Hoof, Jesus Christus. As ek aan Hom verbonde is, dan is ek vanselfsprekend ook verbonde aan jou en jy aan my. En as Christus die Herder en Opsiener van ons siele is, dan is ek dit ook oor jou siel, en jy oor myne. En bewaar my siel as ek nie oor joune waak nie. Laat ons daarom na mekaar omsien – let op die een wat dreig om af te dwaal, soek die een op wat amper nooit meer in die kerk kom nie, waak oor die een wie se lewenswyse wêrelds geword het. Bel mekaar, besoek mekaar, bid vir mekaar, waak oor mekaar. En moenie skroom om dit te doen nie, moenie bang wees om dit te doen nie. Laat die wonderlike wete van die verlossing deur Christus ons dryf om die ander op te roep met die woorde van Paulus in 2 Korinthiërs 5: “Ek bid jou om Christus ontwil: Laat jou met God versoen.” En die uitslag van hierdie oproep laat ons dan in die Herder en Opsiener se hande…

Amen

 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 147:1 en 5

Wetslesing

Sing Ps. 124

Gebed

Lees: Esegiël 3:16-27

Esegiël 33:1-9

Esegiël 34

Johannes 10:11-18

Sing Ps. 127:1

Teks: Esegiël 3:17-21

Preek

Amenlied Ps. 23

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 8:1 en 2

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)