My geloof: ‘n wonder!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-06-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 25
Verwysing: 
HK 25-0 (2010)
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Preek – HK, Sondag 25; lees Genesis 15:1-6, 2 Timotheus 3:14-4:5

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Die Kategismus het in Sondag 23 tot die konklusie gekom dat ons slegs deur die geloof geregverdig word. Maar – was die vraag in Sondag 24 – wat dan van ons goeie werke? Ons goeie werke dra tog sekerlik ‘n deel by aan ons verlossing? Maar nee, geen bydrae van ons goeie werke nie, want selfs ons beste werke is in hierdie lewe onvolmaak en met sondes besmet. Dus, ons word enkel en alleen deur die geloof in Jesus Christus geregverdig. Maar goed, waar kom so ‘n geloof dan vandaan? Dit is asof die opstellers van die Kategismus sê: “Maar as dít is wat ons nodig het, waar kry ons dit dan? Wys ons die pad daarheen, hoe bekom ons dit?” En dan is die antwoord: die Heilige Gees werk dit in ons harte. “O, dit moet dus van bo-af kom… Maar, dan is daar werklik niks wat ek kan bydra nie.” Inderdaad gemeente, en dit sal nie die eerste keer wees dat die Kategismus ons daaraan herinner nie. 

Kom, ek lees vir u voor uit die Dordtse Leerreëls, hoofstuk 3/4 paragraaf 12, waar presies hierdie punt nog duideliker vir ons uitgespel word. Luister mooi hoe aangrypend die vaders hierdie werking van die Gees verwoord het: “Dit is die wedergeboorte, die nuwe skepping, die opwekking uit die dood en die lewendmaking, waarvan die Skrif so heerlik spreek, wat God sonder ons in ons werk… Dit is ‘n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God. Volgens die getuienis van die Skrif … is dit in sy krag nie minder of geringer as die skepping of as die opwekking van die dooies is nie. Die gevolg is dat almal in wie se harte God op hierdie wonderbaarlike wyse werk, sekerlik, onfeilbaar en kragdadig weergebore word en daadwerklik gló.”

Erken ons hierdie bonatuurlike werking, broers en susters? Ervaar ons dit ook so in ons lewens? Nee, ek vra nie of almal van ons een of ander ingrypende en emosionele bekeringservaring gehad het nie – hoewel dit natuurlik nie onmoontlik is nie. Maar ek vra wel: beleef jy die feit dat jy glo ook werklik as ‘n Godswonder? Of het die geloof vir jou al so ‘n gewone ding geword – so normaal, jy ken niks anders nie – dat die buitengewone, die bonatuurlike krag wat nodig was om dit te bewerk, verdwyn het? Wel, gaan lees dan maar weer ‘n slag hierdie paragraaf uit die Dordtse Leerreëls. Want waarmee vergelyk die Leerreëls jou en my geloof? Ons lees daar: dit is nie minder of geringer as die skepping of die opwekking van die dooies nie. Die Dordtse Leerreëls vergelyk die wedergeboorte en geloof dus met die skepping en die opwekking van dooie mense! 

Jou en my geloof hoef dus niks terug te staan vir enige van hierdie wonders nie! My geloof staan in krag op gelyke vlak met die skepping van die hoogste berge en die diepste see; dit staan in krag op gelyke vlak met die opwekking van Lasarus, wat al vier dae lank in die graf gelê het. Jou en my geloof is voorwaar ongelooflik… Maar erken ons dit nog? Beleef ons dit nog op dié manier? Beleef ons nog wat die Skrifte ons leer: “Die HEER se woord is skeppingsmagtig, wat lewe uit die dood gebied” (Ps. 33), en Psalm 104: “… as u Gees weer oor hul sweef, dan leef hul en die aarde herleef”, en Skrifberyming 14: “Nuwe harte gee Ek aan julle, en Ek gee ‘n nuwe gees; Ek sal die hart van klip verwyder, aan jul gee ‘n hart van vlees” (Eseg. 36). Broers en susters, sien ons nog die wonder van geloof wat deur die Gees van God gewerk word? Bid die Here dat Hy aan jou die kleinheid sal gee om elke dag opnuut sy grootheid in jou geloof raak te sien. 

Tema: my geloof: ‘n wonder!
1. Skeppingsmiddele word genademiddele
2. Genademiddele wil gebruik word

1. Ons het nou vanuit die Dordtse Leerreëls gehoor dat ons geloof deur bonatuurlike krag bewerk word. Die besef hiervan hou ons klein en nederig – die geloof is nie iets wat ek self kan bewerk nie; nee, dit moet aan my gegee word. God die Gees werk dit vanuit die hemel. Maar, gemeente, nou moet ons oppas om te sê dat die manier waarop (die weg waarlangs) die Gees hierdie wonder werk, ook bonatuurlik moet wees. Dit is dikwels hoe mense hieroor redeneer: die Gees is God, Hy werk goddelike dinge, en daarom is dit benede sy stand en waardigheid om van aardse, natuurlike middele gebruik te maak om die geloof te bewerk. Die Gees, as God, staan bo die skepping, en daarom is dit oneerbiedig om te dink dat Hy van ons geskape werklikheid gebruik sou maak. Die Gees kan – wannneer Hy die wonder van wedergeboorte en geloof werk – nie van middele gebruik maak wat minder as Hyself is nie. 

En wat sien ons dan dikwels by mense en groepe wat só redeneer? Wel, ons sien hoe hulle begin om die eenvoudige aardse/geskape middele waarmee die Gees gekies het – dit is nie óns keuse nie, nee, dit is sy keuse! – waarmee die Gees gekies het om die geloof te werk, naamlik die Woord en die sakramente, ‘n minder prominente plek in hulle persoonlike en kerklike lewe te verleen; hierdie middele word deur sommige selfs minderwaardig geag. Volgens hierdie mense werk die Gees nie middellik (dus: deur middele) nie, maar onmiddellik (sonder middele); die Gees werk dus regstreeks die goddelike wonder van geloof in mense. En dan kry ons ‘n skeiding tussen die direkte werk van die Gees in my, én die Woordverkondiging en die gebruik van die sakramente in die erediens – en laasgenoemde neem dan sommer maklik ‘n afskeep-posisie in. Geweldige ‘geestelike’ belewenisse, wat na vore kom in allerhande klanke en tale, is nie vreemd aan sulke groepe nie, maar dikwels sonder die middele, sonder Woordverkondiging, sonder die bediening van die sakramente. Want dit sou mos benede die Gees se stand wees om aan hierdie aardse dinge gebind te wees…

Nou, gemeente, natuurlik is die Gees God, en uiteraard moet daar by ons groot eerbied wees vir hierdie derde Persoon van die Drie-eenheid. Maar dit beteken nog nie dat Hy nie van aardse middele gebruik kan maak nie. Juis omdat die Gees van God Gód is, daarom is Hy magtig om deur sy eie keuse en beskikking uit sy eie skepping middele te neem om my tot geloof te bring en my in daardie geloof te versterk. 

Hoe weet ek dit? Hoe kan ek dit sê? Wel, broers en susters, ek kan dit sê, omdat ek weet dat God méns geword het, die Woord het werklik vlees geword; die Seun van God het nie êrens bo die menslike en die vleeslike werklikheid van ons wêreld gesweef nie, nee, Hy het werklik daarin ingegaan. Die Seun van God – God self, wat deel is van die enkelvoudige gééstelike Wese, waarvan NGB artikel 1 praat – het vlees geword; jy kon aan Hom vat, Hy kon ook sy toon stamp, daar het ook trane oor sy wange gerol, Hy het ook ‘n maag gehad wat met kos gevul moes word. 

Nou, net soos wat die Seun in sy barmhartigheid werklik mens geword het, werklik in ons wêreld en bestaan ingekom het, dit nie roof geag het om aan ons gelyk te word nie, net so kom ook sy Gees ná Hom en sê: “Die aarde en sy volheid behoort aan die Here, en daarom sal Ek ook in hierdie wêreld ingaan, en daarvan gebruik maak en dit aanwend tot geloof en bekering van vele!” En dit is presies wat Hy gedoen het – die Heilige Gees het gewone aardse middele gekies om die goddelike wonder van geloof in mense te werk. Hy gebruik gewone skeppingsmiddele, en daardeur word hierdie skeppingsmiddele genademiddele vir jou en my! En dit is hoe God dwarsdeur die geskiedenis gewerk het…

Ons sien dit so pragtig by Abraham in Genesis 15. Ons lees in vers 6 dat Abraham in God geglo het; die bonatuurlike wonder het dus in Abraham se lewe plaasgevind. Maar hoe? Soos ‘n bliksemstraal uit die hemel? Nee, eers sien ons dat God met Abraham gepraat het: “Vrees nie, Abram, Ek is vir jou ‘n skild en jou loon is baie groot.” En dan antwoord Abraham – ja, soos in ‘n goeie verhouding vind hier kommunikasie plaas, hier word gepraat. En dan hoor ons in sy woorde dat Abraham moeite het met die Here se belofte: “Here HERE, wat sal U my gee, aangesien ek sonder kinders heengaan en die erfgenaam van my huis die Damaskener Eliëser is?” En dan reageer die Here weer: “Hierdie een sal jou erfgenaam nie wees nie, maar die een wat uit jou liggaam sal voortkom, hy sal jou erfgenaam wees.” Sien u, die Here gebruik eenvoudige woorde in die taal wat Abraham verstaan het, beloftes in gewone mensetaal – dít is die skeppingsmiddel wat die Gees hier gebruik om geloof in die hart van Abraham te laat ontvlam. 

Maar daar is nog meer: die Here wil Abraham ook nog in sy geloof versterk, en daarom lei Hy hom in die nag buitentoe en Hy wys vir hom die sterre: “Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. So sal jou nageslag wees.” Sterre, gewone sterre soos wat ons hulle in ons tyd nog in die nag aan die hemelruim kan sien vonkel, word deur die Gees gebruik tot versterking van Abraham se geloof.

Gemeente, woorde en sterre – gewone skeppingsmiddele word genademiddele…! En dit sien ons op ander plekke in die Skrif ook terug: dink byvoorbeeld aan Moses – hy ontvang die woorde van die Here, en daarby ontvang hy ook nog ‘n staf wat ‘n slang word (Exodus 4); dink aan Gideon – hy ontvang die woorde van die Here, en daarby ontvang hy ook ‘n wolvlies (Rigters 6); dink aan Jesus se volgelinge – hulle ontvang sy woorde, en wanneer hulle dit uitdra, gaan dit gepaard met wonders en genesings. 

Nou, op soortgelyke wyse het die Gees vir die kerk van die Nuwe Testament ook skeppingsmiddele gegee waardeur Hý die geloof wil bewerk. Hy het gekies vir ‘n boek in gewone mensetaal, Hy het gekies vir gewone water uit die kraan, Hy het besluit op eenvoudige brood en wyn wat by die winkel gekoop kan word; en verder het Hy besluit om gebruik te maak van eenvoudige menslike handelinge soos prediking, nagmaalsbediening en doopsbediening. Só – en nie anders nie – wil Hy u en my en nog soveel duisende ander mense tot geloof bring en in die geloof versterk. 

Beteken dit dan die Gees kan nie op ander maniere mense tot geloof bring nie? Niemand van ons sal dit wil beweer nie. Natuurlik is die Gees by magte om in ‘n oogwink die geloof in mense in te stort. Hy is dan God – alle dinge is vir Hom moontlik! En die Skrif bewys dit ook vir ons. Maar dit is nogtans nie die gewone manier wat Hy gekies het nie, dit is nie die gewone manier waaraan Hy óns gebind het nie – die Gees bind óns aan die bybel, aan die doop, aan die nagmaal. Die vraag is dus nie: kan die Gees dit nie op ‘n ander manier doen nie? Nee, die vraag is eerder: hoe het die Gees dit in sy wysheid vir ons bepaal? Só, en nie anders nie, en daarom wil ons gehoorsaam hierdie skeppingsmiddele as genademiddele tot geloof en versterking van die geloof gebruik.

En gemeente, ons sien hier ‘n baie besondere aspek van die geloof, naamlik dat die geloof  nie onnatuurlik is nie. Inteendeel, dit is natuurlik om te glo, en daarteenoor is dit onnatuurlik – selfs teennatuurlik – om nie te glo nie. Wanneer die Gees uit die skepping middele kan gebruik – ‘n boek, water, brood en wyn – dan is die geloof die natuurlikste ding op aarde. En dit terwyl die wêreld ons so dikwels wil laat glo dat dit vreemd is om te glo, dat gelowiges eintlik maar vreemde verskynsels is. Seuns en dogters, jongmense op universiteit, miskien voel julle soms so, en daarom bly julle ook maar liewer stil oor die geloof. Maar dan wys die Gees hier dat gelowiges die normale mense in hierdie wêreld is, terwyl ongelowiges eintlik abnormaal is, onnatuurlik is. Geloof is werklik natuurlik! In God se skepping val jy nie uit die bus as jy ‘n gelowige is nie! 

Immers, wanneer die Heilige Gees geloof in ons werk en dit versterk dan doen Hy nie iets nuuts nie, Hy kom bewerk nie ‘n nuwe uitvindsel hier op aarde nie; nee, Hy kom herstel eenvoudig wat van die begin af normaal was! Deur die gewone skeppingsmiddele kom maak die Heilige Gees van my weer die mens wat ek oorspronklik was – ek word weer die paradysmens wanneer ek ‘n goeie preek gehoor het, ek word weer normaal wanneer ek die brood en die wyn aan die nagmaalstafel van die Here geniet het. Broers en susters, moet daarom nie die middele wat die Gees gekies het om u en my weer normaal te maak, verag nie. Hy het in sy wysheid besluit op ‘n bybel om te lees, Hy het gekies vir water om oor die koppies van ons kinders uit te giet, Hy het gekies vir brood en wyn om geëet en gedrink te word. Moet nie wyser as God wil wees en hierdie middele verwaarloos nie. Dít is hoe Hy ons tot geloof bring en by die geloof behou! Laat ons Hom vir sy wysheid prys!

Hierop let ons vervolgens: genademiddele wil gebruik word

2. Gemeente, as ons in die geloof wil volhard, as ons in die geloof wil vasstaan tot die einde toe, dan moet ons bly by die middele wat die Géés gekies het om aan ons die geloof te gee, en ons in daardie geloof te versterk. Te dikwels sien ons dat mense die Woord en die sakramente as ‘n stasie sien waarby hulle verby is, en waarna hulle ook nie hoef terug te kyk nie. Hierdie mense sal sê: “Kindertjies in die geloof, ja hulle het nog die Woord en sakramente nodig, maar ons wat al volwasse is…? Nee, ons is verby daardie begintyd…” Maar, broers en susters, Paulus, die groot apostel van Christus, die man van die regverdiging deur die geloof alleen, dink egter anders hieroor. Hy roep vir Timotheus baie ernstig op met die woorde: “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is…” Bly daarin – Woord en sakramente, die genademiddele van die Gees kan ons nie agter ons laat as onbelangrik nie. Ons het altyd weer hierdie middele nodig.

Immers, die Skrif is en bly nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid. En die uiteindelike doel? “Sodat die mens van God volkome kan wees…” (vers 17). Die mens van God – dit is die mens soos hy in die paradys was, goed en aan God toegewy. Ons het hierbo ook al daarvan gehoor. Wie dus so ‘n mens van God wil wees, normaal en natuurlik, hy het die Woord en die sakramente nodig, hy het die genademiddele nodig om volkome te kan wees. 

En gemeente, daarom dat Paulus vervolgens vir Timotheus met soveel nadruk beveel om nie op te hou om daardie genademiddele te bedien nie: “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus…: verkondig die woord!” 

Gemeente, hierdie oproep geld uiteraard vir die bedienaar van die Woord en die ander ampsdraers – hulle moet aanhou, of dit nou geleë is of nie, om God se Woord te bring, dié middel by uitstek waardeur die Gees geloof in ons wil bewerk en versterk. En u kan maar gerus weet dat nie almal dit altyd geleë vind nie, veral nie wanneer daardie woord sonde in mense se lewens uitwys en wil wegsny nie. Dan probeer mense om daarvan weg te vlug, hulle daarvan te onttrek. Paulus roep egter elke Woordbedienaar, elke ampsdraer op om hom nie daarby aan te pas nie, maar om aan te hou om te verkondig: “weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering…”

Maar, gemeente, elke gelowige word daarmee sáám opgeroep om, of dit nou geleë is of nie, ook daarna te luister, daaraan gehoor te gee, werklik jou lewe onder daardie woord te stel. Waar die ampsdraers besweer word om nie ontrou in hulle bediening te wees nie, só word die gemeente besweer om haarself getrou onder daardie Woord te stel, getrou die middele te bly gebruik. Wie ophou om die genademiddele te gebruik waaraan die Gees ons gebind het, hoe gebrekkig dit ook al is, moet nie verwag om die genade in sy lewe te ervaar nie. Wie die eredienste versuim sonder om daarvoor gegronde redes te hê, wie sonder goeie rede die nagmaal mis, wie deur ‘n onbewustelike lewe sy doop verwaarloos, hy bedroef die Gees, hy staan die werking van die Gees teen. Wie die genademiddele verwaarloos, veragter in die genade. Om te sê: “Ek is ‘n christen, maar ek gaan nie gereeld kerk toe nie” is ‘n onmoontlikheid; om te sê: “Ek is ‘n kind van God, maar ek gebruik nie eintlik die nagmaal nie” kan nie wees nie. Gemeente, as ons die Here wil vind in geloof en bekering, dan moet ons Hom soek waar Hy te vinde is. Dit is so eenvoudig.

Maar hoe erg is dit nou om maar een keer ‘n Sondag die eredienste by te woon? Dit is mos nie so erg as ek die res van die Sondag vir my reise gebruik nie? Wat is nou so erg daaraan as ek hierdie keer die nagmaal mis, of as ek hierdie Sondagoggend laat slaap. Broers en susters, dit is soos om te sê: wat is so erg daaraan as ek vir die volgende week besluit om glad nie te eet nie? Dit behoort mos nie ‘n probleem te wees nie… Of: wat is so erg daaraan om vir die volgende halfuur my kop onder die water in te druk? Dit kan mos nie te veel skade aanrig nie? Laat ons nie dwaas wees nie! Almal van ons weet dat jy sonder kos en sonder asem doodgaan. Nou, die Woordverkondiging en die sakramentsbediening is jou geestelike voedsel en suurstof. Dit is die weg wat die Gees in sy wysheid gekies het om jou siel te voed. En natuurlik, die Gees waai waar Hy wil, maar vir óns het Hy gesê: “Dít is die manier hoe Ek in jóú wil waai – deur die prediking, deur gewone water, deur die brood en die wyn.” 

Laat ons daarom getrou wees in ons gebruik van die middele! Bid tot die Here dat Hy in ons mag werk sodat die gebruik van die gewone middele al hoe meer ons hartsbegeerte sal wees. Bid tot die Here dat Hy mag bewerk dat niemand van ons meer die eredienste of die sakramentsbediening wíl mis nie. Ja, natuurlik gaan ons dit vanweë aanvaarbare omstandighede soms moet mis, maar laat dit dan so wees dat dit met pyn is. Laat ons ook nie in ‘n gemaksone beland met die oppasdiens hieronder nie, kom ons oorweeg maar weer in ons gesin of dit nog regtig nodig is dat een van ons saans by die huis bly. Kom ons vra onsself af of dit werklik die Here bly maak as ek elke langnaweek weg is, in plaas daarvan om in die kerk te wees. Ja, laat ‘n dag in die voorhowe van die Here vir ons beter wees as duisend waar ons sonder Hom moet klaarkom (Ps. 84). 

Gebruik die middele, gemeente, en ervaar dan dat die Here goed is. Mag die Here ons daarvan bewaar dat die getroue verkondiging van die evangelie en die suiwer bediening van die sakramente in hierdie gemeente ooit verwaarloos sal word. Mag Hy gee dat ons sal voortgaan met die dwaasheid van die prediking, want dit het God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red. Is dit vir u dwaasheid om elke week twee keer na ‘n preek te luister, om rondom ‘n tafel te sit en brood te eet en wyn te drink, om water op ‘n pap babatjie se kop te gooi? Waarskynlik is u nie die enigste nie… Maar ons gaan voort, want só het dit die Here behaag om aan jou geloof te gee! Geloof om môre te gaan lewe in ‘n wêreld waar daar so baie uitdagings en verleidings op jou afkom, geloof om daardie uitdagings met vertroue die hoof te bied, geloof om te weet dat daar agter die gejaag van ons tyd ‘n ander en beter werklikheid is, geloof om te weet dat al my sondes vergewe is, geloof om te kan uitsien na die tyd van volmaaktheid, geloof om te weet dat God daar is vir my, en dat Hy my ken in al my moeites en sorge. Geloof – die hand wat Jesus Christus aangryp, en in Hom alles vind wat ons vir hierdie en die toekomstige lewe nodig het. Geloof – dit begin hier. En ter wille daarvan – ter wille van jou en my geloof – is daar vanaand weer ‘n diens, om half ses.

Amen

 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 34:1, 2 en 4

Wetslesing

Sing Ps 5:4-7

Gebed

Lees: Genesis 15:1-6

2 Timotheus 3:14-4:5

Sing Ps. 111:1, 2 en 5

Teks: HK, Sondag 25

Preek

Amenlied Skr. 14

Gebe

Kollekte

Slotsang Ps. 33:1, 5 en 11

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)