Christus se Hemelvaart is wins vir die kerk

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2010-05-13
Teks: 
Efésiërs 1
Preek Inhoud: 

Efesiërs 1:20-23

 

Johannesburg, 13 Mei 2010 – Hemelvaartsdag

Lees: Hand. 1:1-11; Ef. 1:15-23

Sing: Ps 47:1,2; Ps 47:3,4; Ps 110:1,2,6; Ps 2:4,6; SB 24:3,4

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

 

Hemelvaartsdag, wat beteken dit vir ons?  Is dit ’n verlies of wins?  Die Here Jesus gaan weg.  ’n Wolk onttrek Hom aan die oog van sy dissipels.  Hulle sien Hom nie meer nie.  Hy is nie meer hier nie. 

 

Op die eerste gesig sou jy sê: Hemelvaartsdag is ’n verlies.  Dit beteken ’n definitiewe afskeid.  Die dissipels sal Hom tydens hierdie aardse lewe nooit weer sien nie.

 

Gemeente. om ’n regte antwoord te gee op die vraag of dit nou verlies of wins is, sal ons nie kan staatmaak op ons eie gevoelens of insigte nie.  Ons sal na die Skrif moet gaan.  Wat sê die Skrif daaroor?  Neem die teks vir vanaand se preek.  Die teks plaas Christus se Hemelvaart in ’n totaal ander lig.  Dit wys jou dat die Hemelvaart baie meer behels as wat jy met jou oog kan sien.  Hemelvaart beteken blykbaar ’n groot wins vir die kerk op aarde.

 

Ek verkondig vir julle: Christus se Hemelvaart is wins vir die kerk

  1. Christus word die allerhoogste Koning
  2. Tot heil van sy kerk.

 

In die skrifgedeelte wat ons gelees het, praat Paulus oor die krag van God.  Hierdie krag is besonder groot.  En God wys daardie groot krag in ons wat glo.   Die geloof is ’n groot wonderwerk.  Groot krag is nodig om dit tot stand te bring.  Ek, wat dood was deur my misdade en sondes moes lewend gemaak word.  Dit is werklik iets groots: om dooies lewend te maak.  Net God kan dit doen.  Efesiërs 2 sal verder daaroor praat.

 

Nou, dat God se krag besonder groot is, is ook duidelik bewys in wat met ons Here Jesus gebeur het.  God het sy krag op ’n ongelooflike manier gedemonstreer.  Paulus verwys na twee gebeurtenisse in die lewe van ons Here Jesus.  Die eerste is sy opstanding uit die dood.  Die tweede is sy Hemelvaart.  Beide toon God se almagtige krag.  Hierdie almagtige dade gee jou des te meer vertroue dat God jou altyd by die geloof sal kan bewaar, onder alle omstandighede.  Daar is geen twyfel daaraan nie: Hy kan sy plan met jou volbring.

 

Ja, sy werke is ongelooflik groot.  Dink terug aan Goeie Vrydag.  Die vyande van die Here Jesus het hul wens verkry.  Hulle het daarin geslaag om deur Pilatus Jesus aan die kruis te kry.  Jesus het gesterf en is begrawe.  God het dit nie verhoed nie.  Hy het nie weerlig uit die hemel gestuur om sy vyande te verslind, toe hulle hul wrede hande aan sy Seun geslaan het nie.  Hy het dit laat gebeur.  Dit het gelyk asof dit die einde van Jesus was.  Asof sy lewe en werk doodgeloop het. 

 

So het dit gelyk.  Maar toe het dit Pase geword.  Dieselfde Jesus wat in die graf gelê was, het daar weer uitgekom.  God het Hom uit die dood opgewek deur sy groot krag.  Daar was Hy weer, in lewende lywe hier op aarde.  Onvoorstelbaar, maar waar.  Baie mense het dit gesien en daarvan getuig.  Wat ’n wonderwerk.  God het Hom uit die dood opgewek.

 

Maar dit het nie daar geëindig nie.  Ons gaan weer terug na Goeie Vrydag.  Weet julle nog op watter punt hulle Jesus veral bespot het?  Dit was sy bewering dat Hy ’n koning was.  Hy het dikwels oor sy koninkryk gepraat.  Veral teen die einde van sy bediening op aarde, het Hy die feit dat Hy die beloofde Koning was nie weggesteek nie.  Dink aan sy triomfantlike intog in Jerusalem op ’n donkie.  Dit het gebeur presies soos die profeet Sagaria die voorspel het.  Die koning uit die huis van Dawid – wat die koninkryk sou kom herstel – sou Jerusalem op ’n jong donkie binnegaan. 

 

Wel, die hoon het gefokus op daardie koningskap van Jesus Christus.  Veral die hoon van die ongelowiges: “Wees gegroet, Koning van die Jode.”  “Daar is julle Koning.”  ’n Mooi koning.  ’n Koning aan die kruis.  Met twee boewe langs Hom.

 

Tog het die bespotting van Jesus se koningskap God nie in aksie gebring nie.  Hy het dit laat gebeur.  Hy het dit alles oor sy gesalfde koning laat kom.

 

Maar kyk nou, 43 dae later.  ’n Groep manne verlaat Jerusalem op pad na die Olyfberg.  Jesus word daar voor hul oë opgeneem na die hemel, op ’n wolk wat Hom aan hul oë onttrek.  Wat gebeur nou?  Ps 47 is besig om vervul te word.  “God vaar voor die oog, met gejuig omhoog.” God in die vlees.  Die Seun van God wat ons menslike natuur aangeneem het, vaar omhoog na die hemel.  Hy doen dit in ons menslike natuur.  Die hemelpoort gaan vir Hom oop.  Die Vader verwelkom Hom en laat Hom sit op die troon.  Van nou af aan is dit sy wettige plek.  Op die troon.  Dis waar hy tuishoort as Koning.

 

Wat ’n verskil in net 43 dae.  Van kruis en graf na die troon in die hemel.  Die Vader laat hierdie Seun van Dawid aan sy regterhand sit.  Nie op ’n aardse troon in die aardse Jerusalem nie.  Nee, op die troon in die hemel.  ’n Ereplek.  Maar ook meer as dit.  Om op die troon te sit beteken vir Jesus: volmag ontvang om te regeer.  Dis hoe Hy dit self ook verwoord het: “Aan my is gegee alle mag in die hemel en op die aarde.”  Daar op die troon gaan Hy daardie mag, gesag ook uitoefen.

 

So styg Hy ver uit bo sy voorvaders Dawid en Salomo, om net twee van die magtigste konings in Jerusalem te noem.  Hulle het Israel geregeer tydens sy bloei tyd.  In daardie tyd was God se volk werklik in tel in die wêreld.  Maar hierdie konings was tog altyd konings naas ander konings/regeerdes.  Farao het in Egipte geregeer.  Daar was die koningin van Skeba.  Ander het weer in Mesopotamië geregeer.  Daar was meer konings met magtige koninkryke tydens Dawid se regering.  Hy was een onder baie ander.

 

Maar kyk wat nou van sy groot Seun Jesus Christus gesê word.  Deur sy Hemelvaart ontvang Hy ’n posisie “bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige.”  Hy is nie ’n belangrike koning onder ander belangrike konings nie.  Hy is nie die eerste onder sy gelykes nie.  Nee, niemand is aan Hom gelyk nie.  Sy troon is anders as alle ander trone, wat oor die hele wêreld kom en gaan.  ’n Mens kan sy gesag en mag nie vergelyk met die van die Romeinse keiser nie.  Jy kan Hom vergelyk met die president van Amerika nie.  Nee, Hy styg ver uit bo al sulke maghebbers.  Maak nie saak watter mag op aarde jy ook bedink. 

 

Paulus stapel die woorde op.  Hy doen dit gereeld wanneer hy oor die heerlikheid en grootheid van God en sy Seun Jesus Christus praat.  Alle owerheid, mag, krag, heerskappy, watter leier jy ook kan noem.  Jy kan hulle langs mekaar sit.  Al daardie persone wat deur hul regering ’n naam vir hulleself gemaak het.  Regeerders wat so ’n indruk op die mense gemaak het dat hul name eeue voortleef.  Ook regeerders wie se name sal voortleef in die toekomstige eeu, wat dan nog met eer genoem sal word.  Dink net aan ’n man soos koning Dawid.  Plaas hulle langs mekaar.  Die leiers wat mense gevrees het en die konings wie se regering as ’n seën beleef is.  Jesus Christus, jou koning in die hemel, styg ver bo hulle almal uit in mag en heerlikheid.  God het immers alles onder sy voete gesit.  Sy heerskappy gaan werklik oor alles en almal.  Dit omvat hemel en aarde.

 

Dis dan die einde van ’n triomftog wat 43 dae geduur het.  Aan die begin het almal gesê: hier kan nooit iets van kom nie.  Dis ’n totale mislukking.  Dit het immers begin by Golgota.  Daar het hierdie koning aan ’n kruis gehang, doodgegaan.  Geen vooruitsigte nie, het mense gedink en gesê.  Inklusief sy eie dissipels.

 

Maar Hy het uitgeroep: Dit is volbring.  Ek het die duiwel, die sonde en die dood oorwin.  Die oorwinning is in beginsel reeds behaal.  My triomftog na die hemelse troon kan begin.  Dit is volbring.  Daarom kan God sy Seun uit die dood opwek en Hom aan sy regterhand te laat sit, in die hemele.  Sodat Hy daar groot gesag kan uitoefen.  Hemelvaart, dis die heerlike einde Christus se triomftog wat op Golgota begin het.  Daar is geen rede om te huil nie.  Geen rede vir droefheid vanweë sy vertrek nie.  Geen rede om te sê: jammer dat die Here Jesus nie meer hier op aarde is nie, dat ons Hom nie meer kan ontmoet nie, dat ons nie meer met Hom kan praat nie soos sy dissipels dit gedoen het.  Nee, Hemelvaartsdag is ’n dag van vreugde.  ’n Dag vol troos.  ’n Troos wat jy egter net kan geniet wanneer jy glo, deur die geloof.

 

Immers, ’n aardse koning is iemand wat jy kan sien.  Jy lees oor aardse heersers in die koerante.  Maar die koerante noem nie hierdie Koning in die hemel nie.  Mense sien Hom nie.  Net deur die geloof besef jy dat Hy die Koning van die konings is, diegene wat oor alles en almal regeer.  Deur die geloof weet jy dat Hy diegene is wat die geskiedenis van de kerk en van die wêreld bepaal.  Jy kom dit nie aan die weet deur net die feite, die ontwikkelinge te observeer nie.  In die nuus word die feite dalk genoem, maar sy Naam word nie genoem nie.  Ook al staan sy naam sentraal in al daardie feite of ontwikkelinge.  Jy mag dit deur die geloof weet.  Deur om die evangelie van Hemelvaart te glo, Hemelvaart, wat die heerlike einde van Christus se triomftog aankondig.  Hy het inderdaad alle dinge in sy hand.  God die Vader het immers alle dinge aan Hom onderwerp.

 

Wat ’n troos gee hierdie boodskap aan ons.  Jou lewe, die geskiedenis van hierdie chaotiese land en wêreld met al sy ellende en onsekerhede is heeltemal onder sy beheer.  Stel jou voor dat jy dit nie sou weet nie.  Dat jy nie meer sou weet as wat jy in die koerante lees of op die nuus hoor nie, van al die ellende waarmee jy daagliks gekonfronteer word.  Gestel dat jy nie sou weet van hierdie koning in die hemel, wat alle dinge in sy hand het.  Wat prakties in beheer is.  Dit beteken: Hy het ’n vaste doel voor oë.  Dis immers waaroor dit gaan wanneer jy werklik regeer.  Hy sal sy doel bereik.  Want sy troon is verhewe ver bo alle owerheid en mag en heerskappy, sê die Bybel.  Hy is so magtig dat sy koningskap nooit in ’n mislukking kan eindig nie.

 

Geliefdes, juis omdat jy dit van benede uit nie te sien kry nie en omdat baie mense dit nie raaksien nie, is dit so wonderlik dat jy dit as evangelie mag glo: die koninkryk van ons Here Jesus sal in sy volkomenheid kom.

 

Vandag lyk dit vir die natuurlike oog asof die koning van Goeie Vrydag en Pase niks beteken nie en niks kan bereik nie.  Daarom is dit ’n groot seën en voorreg om te mag weet: Jesus Christus het werklik alle mag in hemel en op aarde.  Dis waar en seker.  Alle magte wat daar vandag is, wat soveel seggenskap lyk te hê, het nie die laaste sê nie.  Hulle kan saam beraad teen die Here en sy gesalfde.  Hulle kan dink dat die evangelie van Hemelvaart irrelevant is.  Maar Jesus Christus regeer en Hy sal eendag sy koningskap in volle heerlikheid wys. 

 

Brs en srs, gelukgewens dat julle nou reeds – ook al het julle die skyn van die dinge teen julle – hierdie Koning ken en julle julle aan Hom wil onderwerp.  So mag julle geniet van die troos en seën van sy koningskap.  Julle mag hier op aarde soos vreemdelinge wees, maar julle is erfgename van ’n ewige koninkryk.  Wat ’n weelde!

 

Dit kan lyk asof die kerk ’n verdwynende minderheid is in ’n wêreld vol goddeloosheid en sedeloosheid.  Mense lag oor jul koning in die hemel.  Die verhaal van sy Hemelvaart word as ’n fabel beskou.  Maar jy mag weet dat dit geen fabel is nie.  Dis volle werklikheid.  Jesus Christus regeer.  Hy het die hoogste mag en gesag.  Die Vader het Hom laat sit aan sy regterhand ver bo alle owerheid of mag of naam.  En Hy het alle dinge onder sy voete geplaas.  Sal Hy dan nie almal wat aan Hom behoort in sy ewige koninkryk bring nie.

 

So kom ons by die tweede gedagte: Christus het die allerhoogste koning geword tot heil van sy kerk.

 

Christus bestyg op Hemelvaartsdag sy troon.  God die Vader maak Hom Hoof bo alle dinge.  Wat ook al in hemel of op aarde bestaan, daaroor regeer Hy.  Hy bepaal die rigting.  Die uitdrukking “Hoof bo alle dinge” vat dus saam wat reeds in die eerste helfte van die teks oor Christus genoem word.

 

Dalk dink jy: nou Christus so ’n verhewe plek in die hemel ontvang het, moet dit Hom wel op ’n groot afstand van ons skepsels op aarde plaas.  Beteken Hemelvaart nie dat daar ’n geweldige afstand kom tussen Christus in die hemel en sy kerk hier op aarde nie?  Dit sou dan die negatiewe kant van Hemelvaart wees.  Terwyl Christus nog op aarde was, kon jy geniet van sy nabyheid.  Sy troonsbestyging in die hemel maak daar ’n end aan.  Maak sy hoog verhewe posisie Hom nie vir ons ontoeganklik nie?  

 

Dink julle so?  Sou Christus se Hemelvaart dan tog ’n verlies wees?  Lees net wat die teks sê.  God het “Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee”.  God het Hom aan die gemeente gegee.  Die gemeente wat sy liggaam genoem word.  Hy is die Hoof, die kerk is sy liggaam.  Wat ’n intieme verhouding, band.  Onverbreeklik.  Jy kan die twee nie van mekaar skei nie.  Praat jy oor afstand wat deur die Hemelvaart geskep is?  Kom nou.  Jy behoort juis te praat van God se ongelooflike geskenk aan jou.  Hy gee daardie hemelse Koning aan jou sy gemeente. 

 

Mbt aardse konings, regeerders kan jy dikwels praat van afstand.  Hulle kan so ontoeganklik wees.  Dit was seker in die ou dae die geval.  Maar dit kan jy nie sê van hierdie hemelse Koning nie.  Ondanks die feit dat sy  troon ver weg is en jy nie by Hom kan uitkom nie.  Sy mag is onvoorstelbaar groot.  Maar God het Hom op so ’n manier aan ons sy volk gegee dat ons as Hoof en liggaam nou aan mekaar verbind is.

 

Wat dit beteken, word in die laaste woorde van die teks genoem.  Die kerk, Christus se liggaam, word genoem die volheid van Hom wat alles in almal vervul.  Christus is so naby dat die kerk vol van Hom is.  Hy is immers deur sy Gees aanwesig.  Hemelvaart is deur Pinkster gevolg.  Dan begin dinge op ’n grootse manier in beweging te kom.  Baie wat dood in hul sondes was, word lewend gemaak, saam met Christus.  God laat hulle saam sit in die hemele in Christus Jesus (Ef. 2:5,6).  Dis hoe werklik die band tussen Hoof en liggaam is.  Christus en sy gemeente behoort by mekaar.  Die Gees bind hulle saam en hou hulle by mekaar.  Die Gees sorg ook daarvoor dat almal wat aan Christus behoort, volwassenheid en volmaaktheid sal bereik.  Die gemeente is immers die volheid van Hom wat alles in almal vervul.  Christus vervul almal sodat almal met alles vol sal wees.

 

Brs en srs, sien julle hoe heerlik Hemelvaart is?  Nee, dan moet jy nie net kyk na wat jy daar in Hand 1 sien gebeur nie: Jesus word opgeneem en ’n wolk onttrek Hom aan die oog van sy dissipels.  Hulle is sonder Christus agtergelaat.  Nee, jy moet na die Skrif toe.  Uit die Skrif leer jy wat ’n groot troos Hemelvaart feitelik is.  Hemelvaartsdag is die dag waarop God jou ’n Koning gee, ’n Hoof bo alle dinge.  En die Hoof bo alle dinge het voortdurend die welsyn en toekoms van sy kerk op die oog.  Hy doen alles om daardie gemeente tot volmaaktheid te bring.  Hy is daarmee besig hier en nou.  Deur sy Gees.

 

Deur die geloof sien jy die dinge in ’n heerlike lig.  As jy nie die Koning sien nie, dan lyk alles maar armoedig.  Die kerk is ’n klein minderheid.  Die kerkdienste, wat is dit in vergelyking met die groot sportbyeenkomste?  En wat dra die kerklike lewe werklik by in die samelewing?  Ja, ons is almal besig as ouderlinge, diakens, lidmate, ouers en jeug.  Maar watter impak het dit?  Wat is dit toekoms van die kerk? Nou, as jy nie die Koning in die hemel sien nie, wat alle dinge ter wille van sy kerk regeer, dan lyk alles inderdaad sinloos en hopeloos.  Maar wanneer jy die evangelie van Hemelvaart glo, dan ontvang jy nuwe perspektiewe, ewige perspektiewe.  Ons groot Koning sal sy planne voltooi.  Hy sal sy volk van alle tye en plekke tot heerlikheid bring.  Sy koninkryk sal kom.  Daaroor bestaan geen twyfel nie.  Jesus Christus is immers Hoof van alle dinge tot heil van sy kerk.

AMEN  
Net ’n herinnering: Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief C Kleijn  

Liturgie: 

(kyk in preek)